Opkoms van ‘n Valse Jesus

Teenoor die koninkryk van die lig staan die koninkryk van die duisternis. Daar heers ’n groot stryd tussen dié twee koninkryke omdat Satan steeds daarna streef om homself met God gelyk te stel en sy koninkryk ten koste van God se koninkryk op aarde te vestig. Dit is die groot rede vir al die godsdienstige misleiding in die wêreld.

Die einddoel met misleiding is dat die mensdom nie die Drie-enige God van die Bybel moet aanbid nie, maar die god van hierdie wêreld, Satan (2 Kor. 4:4), wat homself as die universele god van alle gelowe voordoen. In sy ryk het hy ‘n universele christus vir alle gelowe, wat in die Bybel die Antichris genoem word (1 Joh. 2:18), asook ‘n gees van dwaling wat oral op aarde die Heilige Gees se werk teëstaan en probeer weerlê (1 Joh. 4:6).

Die duiwel is ‘n nabootser van God en ‘n vervalser van die waarheid, en het die kuns al byna vervolmaak om homself as ‘n engel van die lig voor te doen (2 Kor. 11:14) en mense te laat dink dat sy godsdienstige idees van die Here af kom. Dit is duidelik dat sy planne nou in ‘n gevorderde stadium is om sy verborge koninkryk op aarde in ‘n sigbare wêreldryk te openbaar. Hy beplan dit op só ‘n manier dat in die teken van wêreldeenheid en -vrede sal wees, en onder die leiding van ‘n persoon sal staan wat as “die Christus van alle gelowe” bekend sal wees. Op dié manier, meen hy, sal ‘n wêreld wat reeds erg mislei is, nie agterkom dat dit in werklikheid Satan se ryk is wat geopenbaar is nie. Hulle sal dink dit kom van die ware God af en sal dit as ‘n oplossing vir hulle ernstige verdeeldheid en probleme aangryp.

Koning van ‘n wêreldryk

Satan is terdeë daarvan bewus dat God se koninkryk, wat tans nog ’n verborge, geestelike koninkryk op aarde is, tydens die wederkoms van Jesus Christus geopenbaar gaan word. Die Here Jesus sal as Koning van die konings kom (Op. 19:16) en hier op aarde as Koning heers (Op. 11:15). Met sy wederkoms sal Hy sy voete op die Olyfberg sit wat oos van die Ou Stad in Jerusalem is (Sag. 14:4). Daarna sal hy die troon van Dawid herstel (Hand. 15:16-17) en die hele wêreld tydens die vrederyk van Jerusalem af regeer (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Sag. 8:22). Satan weet ook dat Jesus God is. Johannes sê: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20).

In nabootsing hiervan beplan Satan om sy valse, universele christus voor die wederkoms van die ware Christus te openbaar en sy koninkryk sigbaar op aarde te vestig. Hy sal homself aanvanklik as ‘n vredevors voordoen en hom in Jerusalem, in die herboude tempel, tot God en hoof van al die wêreldgodsdienste verklaar (2 Thess. 2:4). Soos wat die Here Jesus in ‘n verheerlikte menslike liggaam in God se geopenbaarde koninkryk op aarde sal regeer, sal die Antichris ‘n mens wees wat deur Satan self bemagtig sal word om oor die aarde te regeer: “En die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2).

Letterlike profesieë

Bybelse profesieë oor die Antichris moet letterlik verklaar word. Net soos wat Jesus as ’n letterlike Persoon op aarde gebore is, en met sy wederkoms sal terugkom om hier te regeer, sal die Antichris ook ’n letterlike persoon wees wat aan die hoof van ’n sataniese wêreldryk sal staan. Daar moet ’n duidelike keuse tussen hierdie twee messiasse gemaak word: die ware en die valse. Die Here Jesus het vir die Jode gesê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ’n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43).

Die implikasie van hierdie stelling is baie duidelik – elke persoon of volk wat Jesus Christus en sy koninkryk verwerp, slaan uit eie keuse ’n antichristelike rigting in en sal die Antichris ook as persoon aanvaar wanneer hy kom. Die groot meerderheid van die huidige geslag Jode verwerp nog steeds vir Jesus as Messias, daarom is ’n verbond met die Antichris hulle voorland.

Profesieë oor die groot geestelike afvalligheid van die laaste dae dui daarop dat nie net Israel nie, maar alle nasies op aarde, die Antichris van harte sal aanvaar en navolg. Volgens Openbaring 13:3-4 sal die hele wêreld verwonderd agter die dier aangaan en hom ook aanbid.

Afvalligheid van ’n wêreldwye omvang is nou al oral waarneembaar. Mense keer onbeskaamd die rug op die Here Jesus deur sy Godheid en maagdelike geboorte te verloën, sy Woord te minag deur dit uit skole en ander openbare plekke te verban, en openlik in sonde te leef asof daar geen God is nie. Die valse godsdienste word al hoe meer populêr onder die jeug, en daardeur word die klimaat vir die verskyning van die valse christus van alle gelowe geskep. Veral Islam, wat homself as ’n alternatiewe monoteïstiese godsdiens teenoor die Christendom stel, geniet sterk aanhang in die Weste.

Groot verval in Europa

’n Italiaanse joernalis sê in haar boek, The Force of Reason, dat Europa toenemend besig is om ’n provinsie of kolonie van Islam te word. Sy is heeltemal reg, want die eens kragtige vesting van die Christendom in Europa is besig om vir Islam terug te staan. Daar is twee faktore wat hiervoor verantwoordelik is.

Die eerste is die verval van die Christendom, wat as ‘n hol boomstam beskryf word. Moderne Europa word as ‘n ná-Christelike samelewing beskou omdat die band met sy tradisionele Bybelse waardes só verswak het dat dit amper nie meer bestaan nie. In die afgelope twee geslagte het die aantal belydende Christene só skerp afgeneem dat Europa, geestelik gesproke, nou die donker kontinent genoem word. Daar gaan in Brittanje reeds meer mense na moskees toe as die totale aantal persone wat Sondae die Anglikaanse Kerk besoek.

Een van die lesers van Die Basuin het onlangs die volgende oor Holland in ‘n brief aan ons geskryf: “Toe ek verlede jaar in Nederland was, was dit vir my bitter hartseer om weer te beleef hoe donker dit in Europa is. Islam is ooglopend, met ‘n universiteit in Rotterdam en moskees oral. Die rede vir die duisternis is dat dit goed gaan met die mense, daarom het hulle God nie nodig nie. Ek bid dat die Nederlanders se oë en harte weer sal oopgaan, maar hulle is ‘n koppige nasie...”

In die res van Europa is dit maar dieselfde storie. Die Christendom word meesal nog net deur morsdooie, misleide en vormgodsdienstige kerke verteenwoordig. Dit lei enersyds tot agnostisisme en andersyds tot ‘n openheid vir en belangstelling in ander gelowe. Die multi-godsdienstige Parlement vir Wêreldgodsdienste het van 7 tot 13 Julie vanjaar sy vierde konferensie in Barcelona, Spanje, gehou. Omtrent alle gelowe op aarde was daar verteenwoordig, en dit weerspieël die godsdienstige ingesteldheid van die verenigde Europa van die toekoms. Dit is hierdie soort denkklimaat wat die Antichris nodig het om geopenbaar en algemeen aanvaar te kan word.

Engeland word deur verskeie waarnemers as die mees goddelose land in Europa beskryf. ‘n Reeks van tien Engelse boekies wat deur Die Basuin uitgegee en onder andere ook in Engeland versprei sal word, is deur Bernard Reeves van Londen geredigeer. In sy kommentaar het hy gesê dat die gemiddelde Brit nie meer belang stel wat in die Bybel staan nie, en in elk geval ook nie hom- of haarself as ‘n sondaar beskou nie. Hy sê:

“In jou een boekie, Uit die duisternis tot die lig,” spreek jy diegene aan wat tans in geestelike duisternis is, soos wat die meeste mense in heidense Engeland inderdaad is. Daar is egter té veel Skrifaanhalings in die boekie, want die Britte wil nie hê dat ‘n mens die Bybel in hulle kele moet afdruk nie. Hulle haat dit as jy vir hulle preek. Selfs al is jy baie taktvol wanneer jy met hulle oor geestelike sake praat, neem hulle steeds aanstoot. Die Britse kultuur is veel meer goddeloos en dekadent as dié in Suid-Afrika. Die meeste mense hier het nie slegs op ‘n groot skaal die rug op God gedraai nie, maar het Hom totaal afgeskryf; hulle dink nie eers aan Hom nie en leef asof Hy glad nie bestaan nie. Dit is so ver as wat hulle reeds verval het. Ek hou die televisie en die leer oor evolusie grootliks hiervoor verantwoordelik. Hier in Engeland moet mense eers oortuig word dat daar regtig ‘n God is. As gevolg van die evolusieleer glo hulle dat dit wetenskaplik bewys is dat daar nie ‘n God is nie – die bestaan van alle dinge kan binne die raamwerk van evolusie verklaar word. As jy dus vir hulle ‘n boekie gee waarin beweer word dat hulle in geestelike duisternis is en gered moet word, sal hulle dit nie eers lees nie, maar dit weggooi. In hulle eie oë lei hulle goeie lewens, daarom sien hulle nie hulself as sondaars nie.”

Opkoms van die valse Jesus

Omdat die mensdom die rug op die ware Jesus draai, sal hulle in die arms van die duiwel se valse Jesus beland. “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Mense wat nie deur die Gees van die waarheid gelei word nie, val onder die mag van die sataniese gees van dwaling.

Hulle sal enige denkbare leuens glo omdat hulle God én die Bybel verwerp het en dus nie ‘n verwysingsraamwerk vir die waarheid het nie. Volgens evolusionistiese en humanistiese denke is die mens inherent goed en besig om na hoër hoogtes te vorder. Hy is sy eie god en kan self besluit wat hy wil doen. Hy sien die verskillende gelowe as mensgemaakte hulpmiddels om innerlike vrede deur metodes soos meditasie en ritmiese sang te verkry. Uit ‘n Bybelse oogpunt is dit egter nie geloof nie, maar selfmisleiding wat hulle beoefen.

Dit is juis wanneer geloof in die Drie-enige God verval, dat daar satanies-geïnspireerde misleiding van dié aard intree. Jesus het gesê: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18: 8). Daar kom dus ‘n tyd dat die Here Jesus nie meer deur baie mense gedien en aanbid sal word nie. In die plek daarvan sal ‘n “ander Jesus” (2 Kor. 11:3-4), die Antichris, gedien en aanbid word: “En die hele wêreld het... die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk?” (Op. 13: 3-4). Hulle sal totaal mislei wees omdat hulle die waarheid van die Bybel verwerp het, “daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:11-12). Hulle bring dié ellende oor hulleself.

Die mensdom het teen dié tyd al só ver van die Here en sy Woord af verwyderd geraak dat feitlik enige valse “engel van die lig” (2 Kor. 11:14) in die naam van God óf in die naam van sy Seun, Jesus Christus, na hulle toe kan kom, en heelwaarskynlik aanvaar sal word. Feitlik enige profesieë kan ook in die Naam van die Here uitgespreek word, al bots dit ook met die Bybel, dan aanvaar die meeste mense dit. In dié tyd floreer waarsêende geeste van Satan met al die geheimenisse wat hulle deur hulle mediums (valse profete) aan misleide gehore opdis.

Die tyd vir die openbaring van Satan se eindtydse driemanskap, Lucifer as die god van hierdie bose wêreld (2 Kor 4:4), die Antichris as die kosmiese christus van alle gelowe (Op. 3:3-4), en die valse profeet as die een wat almal mislei (Op. 13:11-18), het baie naby gekom.