Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Opsomming: Die aanslag op die Bybel as die geïnspireerde Woord van God het ook na ‘n openlike aanval op die Persoon, Messiasskap en Godheid van Jesus Christus uitgekring.
Die Persoon van Jesus Christus – sy identiteit en posisie as ‘n historiese figuur, sy Godheid en die wyse waarop Hy deur Christene aanbid word – is vir die soveelste keer in die kerkgeskiedenis ‘n erg omstrede saak waaroor daar in baie kringe, ook in teologiese fakulteite en seminariums, hewige debat gevoer word. ‘n Sterk beweging is rondom die misleidende idee gebou dat die historiese Jesus (die sg. ware Jesus) duidelik onderskei moet word van die mitiese Jesus of die kultiese Jesus wat in die Christelike kerk vereer en aanbid word.
Een van die mees skokkende feite omtrent die huidige veldtog teen die Jesus van die Bybel is dat so baie van die leidende teoloë aan universiteitsfakulteite van teologie dit aktief ondersteun. Hulle bevraagteken openlik die gevestigde dogmatiese beskouinge oor Jesus as Christus (die beloofde Messias) en Seun van God. In die proses van die ‘ontdekking’ van die historiese Jesus, stroop hulle die verkondigde Jesus van sy Godheid in ‘n poging om die twee voorstellings van Hom te versoen.
‘n Evangeliese Christen wat ‘n sterk standpunt teen hierdie veldtog inneem, is die Dr. Douglas Groothuis van die VSA. In sy boek Searching for the real Jesus (1996) sê hy die volgende in Hoofstuk 2:
Teoloë van Suid-Afrikaanse universiteite, veral aan die Universiteit van Suid-Afrika, het met mening tot die debat oor Jesus toegetree. Hulle volg hoofsaaklik die benadering van die Jesus Seminaar in die VSA in hulle pogings om ‘n beeld van die historiese Jesus te skep. In die proses word die Bybel óf bevraagteken óf verdraai, en sodoende as ‘n betroubare bron van inligting verwerp. In die meeste gevalle word ander bronne van inligting oor Jesus geraadpleeg.
Navorsing oor hierdie onderwerp deur Unisa se Instituut vir Teologie en Religie het in September 1997 op ‘n konferensie oor Jesus uitgeloop. Die referate wat gelewer is, is kort daarna in ‘n boek gepubliseer onder die titel Images of Jesus. Die boek het onder redaksie van prof. C.W. du Toit verskyn, wat die direkteur van die Instituut is. Die volgende is ‘n kort oorsig oor sommige van die hoofstukke in die boek:
· Op soek na die historiese Jesus, deur prof. A.G. van Aarde, NT, Univ. van Pretoria (Hervormde Kerk)
Die outeur verwys na die [onwerklike] Jesus tot wie die Christene bid asof hulle tot God bid. Hy sê dat hierdie gebruik deur kerkvaders soos Clement en Ignatius gevestig is, maar dat die Nuwe Testament (NT) meesal reserverings het om Jesus God te noem (bl. 1). Volgens prof. Van Aarde is dit ook problematies om Jesus ‘Christus’ te noem. In dié verband verwys hy na Den Heyer se boek, Opnieuw: Wie is Jezuz? (1996:78-80), waarin hy Jesus beskryf as “’n Messias wat nie ‘n Messias wou wees nie.”
Die professor beweer dat daar ‘n verskil is tussen die historiese Jesus (die sogenaamde ‘werklike Jesus’) en die Jesus van geloof (die gepredikte Jesus, soos die kerk voorgestel):
· Die fiktiewe transfigurasie van Jesus: Beelde van Jesus in die literatuur, deur prof. C.W. du Toit van Unisa
In stryd met tekste soos Filippense 3:10 en 2 Petrus 3:18 verklaar prof. Du Toit soos volg:
‘n Sterk saak word dan uitgemaak om die ware Jesus beter d.m.v. literêre voorstellings te leer ken:
Die teologie en die literatuurwetenskap is nou aan mekaar verwant; hulle beïnvloed mekaar wedersyds en oorvleuel ook. Die tradisionele Christelike teologie word egter tot ‘n groot mate deur die Bybel, dogma en belydenisskrifte beperk. Die verhaal is egter vry en kan kritiese en uitdagende vrae stel wat van onskatbare waarde vir die teologie is, maar wat ongemaklik vir die God van dogma en belydenisskrifte is. Die verhaal kan ook die verbeelding kreatief gebruik. Die verbeelding is van groot waarde in ‘n eeu waarin die mensdom voel dat hy geen objektiewe basis vir die waarheid het nie, en met ‘n god wat homself onttrek het (deus absconditus). (bl. 68).
Fiktiewe transfigurasies van Jesus wat in novelles, poësie en drama gevind word, help ons om uit ‘n nuwe perspektief na die Evangelies te kyk. Waardevolle vrae word oor die historiese betroubaarheid en genoegsaamheid van teologiese interpretasies van die Evangelies gevra. (bl. 69). Onder ‘goeie’ voorbeelde van sulke voorstellings van Jesus word Nikos Kazantzakis se novelle The last temptation genoem. (bl. 71).
‘n Ander voorbeeld is The brook Kerith deur George Moore. Hierin word Jesus geïnterpreteer soos beskou uit die oogpunt van ‘n marginale Bybelse figuur, Josef van Arimathéa. Jesus word aan die einde van sy lewe as ‘n bittere apokaliptikus uitgebeeld wat slegs gedeeltelik by sy sinne is. Hy word onbeheerbaar kwaad en tot die dood veroordeel. Josef kry Jesus se liggaam ná sy kruisiging, vind dat hy nie dood is nie, help hom om by te kom en neem hom na ‘n nabygeleë Esseense klooster by die spruit Kerith.
Josef word kort hierna om die lewe gebring en Jesus verlaat die klooster om vier jaar lank ‘n skaapwagter te word. Hy dink terug aan die verlede en verwerk die trauma van sy kruisiging. Hy het bittere berou oor sy messiaanse pretensies, sy apokaliptiese, wêreld-hatende pessimisme, en sy taal van verdoeming en haat.
In hierdie voorstelling ontmoet Jesus later vir Paulus maar verberg aanvanklik sy identiteit. Hy hoor vir die eerste keer by Paulus van die Christendom. Nadat Jesus sy volle verhaal aan Paulus vertel het, vlug Paulus verwilderd weg. Jesus volg hom en sê vir hom dat sy evangelie op ‘n leuen gebaseer is. Paulus verwerp dié verhaal as ‘n leuen en beskou Jesus as van sy sinne beroof. Jesus sê dan aan hom: “Alle dinge is God, Paulus: jy is God en ek is God. As ek sou sê dat jy ‘n mens is en ek is God, dan sou ek die kranksinnige persoon wees wat jy dink dat ek is.” (bl. 74).
Oor hierdie godslasterlike wanvoorstelling van Jesus deur George Moore sê prof. Du Toit: “Moore se Jesus het waarlik opgestaan – hy het opgestaan om ‘n volkome mens te wees met ‘n innige meegevoel en liefde vir die wêreld.” (bl. 74).
Daar word ook na die ‘waarde’ van verskeie ander lasterlike voorstellings van Jesus gekyk, bv. die politieke rol van Comrade Jesus en Breyten Breytenbach se Zen-Boeddhistiese beskouings dat die mens sy eie verlosser is, dat God magteloos is en Jesus ‘n mite. Prof. Du Toit sluit sy relaas dan só af:
· From Galilee to Hollywood: Jesus on the screen, deur prof. J. Engelbrecht, NT Unisa
Die lewe van Jesus as ‘n filmster word in hierdie hoofstuk beskryf. Melding word van verskillende (meesal lasterlike) Jesus-films gemaak, soos bv. King of kings, Godspell, Jesus Christ Superstar, The last temptation of Christ, en Jesus of Montreal. Die sterk openbare reaksie teen die onbybelse en godslasterlike aard van sommige van hierdie films, word só deur Prof. Engelbrecht verantwoord:
· Jesus in the world of religions, deur G.A. van den Heever, NT Unisa
Die outeur sê dat die ‘gekonstrueerde’ beeld van Jesus Christus heeltemal tuis in die wêreld van godsdienste is, omdat dit met die middelaarsmites van ander religieë ooreenstem. Jesus word in dié hoofstuk met Boeddha, Zoroaster en Krishna vergelyk. Die gevolgtrekking word gemaak dat sy ondervindings en aansprake ‘n herhaling is van dit wat in ander godsdienste voorgekom het. Die volgende is een van die paragrawe in hierdie vergelykende studie:
Van den Heever eindig sy betoog met ‘n sterk pleidooi vir ‘n multigodsdienstige beskouing van die posisie en rol van Jesus. Dit blyk ‘n logiese konklusie vir ‘n boek van hierdie aard te wees:
Die ware Jesus is nie die historiese Jesus van die moderne teologiese wetenskap en letterkunde wat van al die aspekte van sy goddelike wese gestroop en tot ‘n profeet sonder ‘n kruis of evangelieboodskap gereduseer is nie. Jesus het nie ontken dat Hy die Seun van God is nie, en dit nie aan sy latere volgelinge oorgelaat om Hom as sodanig te verkondig nie (kyk Matt. 26:63-64; Joh. 5: 17-18 en 10:36). Deur die Jesus van geloof te degradeer tot ‘n sterflike mens wat sy roeping as Verlosser en Lam van God probeer ontwyk het, skaar die moderne skrifgeleerdes hulle by hul eerste eeuse eweknieë wat feitlik eendragtig die aanspraak verwerp het dat Jesus die Messias van Israel, die Seun van God en die Verlosser van die wêreld is.
Die ware Jesus het dit nie aan die latere kerkvaders oorgelaat om Hom tot Christus en God te verklaar nie. Hy en sy onmiddellike volgelinge het dit self gedoen:
· “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God… In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense… En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid” (Joh. 1:1-4, 14).
· “En Simon Petrus antwoord en sê: U is die Christus, die Seun van die lewende God. Toe antwoord Jesus en sê vir hom: Salig is jy, Simon Bar-Jona, want vlees en bloed het dit nie aan jou geopenbaar nie, maar my Vader wat in die hemele is” (Matt. 16:16-17).
· Jesus het ronduit verklaar: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). “Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien… Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My nie?” (Joh. 14:9-10).
· “En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!” (Joh. 20:28).
· Petrus het het van Jesus Christus gesê: “Hy is die Here van almal” (Hand. 10:36). In groot eerbied verwys hy in sy sendbrief na “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1).
· Johannes beskryf die grondslag van ons geloof as hy van ons verhouding met die Here Jesus sê: “Ons is in die Waaragtige, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20).
· Paulus het gesê dat Christus na die vlees “oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid” (Rom. 9:5). “In Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik” (Kol. 2:9).
Die ware Jesus is ook nie die kosmiese Jesus van alle gelowe nie, daarom is daar geen band of ooreenkoms tussen hom en Boeddha, Krishna, Zoroaster, of watter ander heidense godsdienstige figuur ook al nie. Hy staan nie in die diens van ‘n verwarde en misleide mensdom om die weg tot die vereniging van alle godsdienste aan te dui nie. Jesus is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem as ons bereid is om dit teenoor Hom, as die enigste Verlosser, te bely en te laat staan. Dit sluit ook enige verbintenis met afgodediens in.
Oor al die vervalsings van Jesus sê Douglas Groothuis in sy boek Searching for the real Jesus:
Die prys vir geestelike misleiding en bedrog is onberekenbaar hoog. Om die ware Jesus te verwerp, lei tot die ewige val van die mens omdat hy die enigste weg tot die opstanding en die lewe versmaai. Simeon het gesê:
Die Bybel stel dit duidelik dat enige vervalsing van Jesus onder die direkte inwerking van Satan geskied, omdat dit sy doel is om die mens van die ware Verlosser af weg te hou:
Alle karikature en vervalsings van Jesus vorm deel van Satan se eeue oue plan om die wêreld voor die wederkoms van die ware Jesus onder die beheer van ‘n valse Jesus – die Antichris – te plaas. Die ander Jesusse waarteen Paulus die Korinthiërs waarsku is dus almal verdraaiings van die ware Jesus waarmee Satan die Christelike kerk binnedring om mense te mislei en hulle uiteindelik aan die Antichris uit te lewer.
Alle mense skakel, geestelik gesproke, met net een van twee koninkryke in: die koninkryk van God of die koninkryk van Satan. Vir wêreldlinge is dit egter baie moeilik om tussen hierdie twee koninkryke te onderskei, omdat Satan daarin spesialiseer om mense godsdienstig te mislei. Hy weet dat die meeste mense godsdienstig is, en bied dan aan hulle valle godsdienste aan om hulle in sy mag te kry. In die Christelike wêreld kom hy met valse voorstellings van Jesus wat in assosiasie met ‘n dooie vormgodsdiens of ander vorms van misleiding aan mense gebied word.
U moet die feit duidelik begryp dat daar ‘n valse vorm van Christenskap is wat onder Satan se beheer staan, en waardeur hy mense mislei. Hierdie mense gaan eendag hel toe, al beroem hulle hulself ook op die naam van “Jesus” (Matt. 7:21-23). Hulle is nie weergebore nie en dien ‘n ander Jesus.
Net so ook was daar in die tyd van Jesus ‘n meerderheid van die godsdiensleiers in Israel wat, hoewel hulle die God van Israel met die mond bely het, in werklikheid kinders van die duiwel was (Joh. 8:41-44). Dit is ‘n onvermydelike feit dat mens óf ‘n kind van God óf ‘n kind van die duiwel is. Jy aanbid óf die ware Christus óf jy staan onder die misleiding van die Antichris.
Die Jode wat die ware Jesus verwerp het, is duidelik gekonfronteer met die feit dat hulle geestelike verblinding daartoe gaan lei dat hulle ‘n verbond met die valse messias sal sluit:
Dieselfde beginsel geld ook vir mense in ons tyd wat die ware, Bybelse Jesus, vervals deur sy openbarings en uitsprake te verwerp, evangeliese dogma as ‘n hindernis te beskou en lasterlike wanvoorstellings van Hom te maak. Hulle sal ‘n verbond met die valse Christus sluit as hulle hul nie bekeer nie.
‘n Groot bron van kommer is dat talle teoloë hulle eie wetenskap ondermyn deur die geloofwaardigheid van die Bybel as die geïnspireerde Woord van God in diskrediet te bring. Die gevolg is dat baie van hulle dit nie meer toegewyd ondersoek nie, maar hulle tot die onsekerheid en misleiding van buite-Bybelse bronne (bv. fiksie, die filmbedryf en die nie-Christelike godsdienste) wend om iets oor Jesus te leer. Deur hierdie kanale word ‘n dik stroom leuens en valse voorstellings die wêreld ingestuur en word die mensdom van sy enigste betroubare en vaste grondslag van die waarheid ontneem.
In teenstelling met wat die Jesus Seminaar en die Unisa konferensie doen om Jesus beter te leer ken, kry elke mens die beproefde raad om “die heilige Skrifte te ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus” (2 Tim. 3:15).
Die Here Jesus openbaar Homself as Verlosser aan die wêreld deur die verkondiging van sy Woord (Joh. 17:20). In assosiasie met die Woord van God oortuig die Heilige Gees mense ook van Christus en sy evangelieboodskap (Joh. 16:13-14). Hierbenewens is daar deur byna tweeduisend jaar van kerkgeskiedenis ‘n groot wolk van getuies oor die liefde van God wat aan ‘n gevalle mensdom bewys word deur die enigste Redder en Leidsman, Jesus Christus (Heb. 12:1-2).
Ek wil graag weer, soos ‘n aantal jare gelede per brief aan sowat tagtig teoloë by Unisa gedoen is, ‘n vriendelike uitnodiging aan teoloë en godsdienswetenskaplikes in ons land rig om hulle standpunte ten opsigte van Jesus Christus opnuut in die lig van Bybelse uitsprake te evalueer en biddend in heroorweging te neem. Daar is geweldig baie op die spel: eerstens u eie sieleheil, daarna dié van u studente wat deur u opgelei word, en uiteindelik ook die kerke en die breër gemeenskap wat deur u bedien word.
Ons leef in tye van groot veranderings in ons land én in die wêreld. Akademici het ‘n groot invloed om die toekomstige koers van onderwys, godsdiensbeoefening en verwante dissiplines te help bepaal. Die populêre stroom van denke is in die rigting van holisme, sintese en eenwording as boustene vir ‘n nuwe wêreldorde. Die godsdienstige sinkretisme wat hieruit vloei, is absoluut skrikwekkend. Dit spel die einde van ‘n fundamenteel Christelike benadering in verskeie openbare strukture uit, insluitende Christelike onderwys in staatskole.
Dit is juis op hierdie terrein van botsende ideologieë dat die uitspraak van die ware [Bybelse] Jesus duidelik gehoor moet word: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh. 14:6). “Hy wat nie met My is nie, is teen My” (Matt. 12:30). “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28).
As ons Jesus Christus nie erken, bely en aanbid vir wie en wat Hy is nie, is ons gedoem. ‘n Lewe wat nie op die Rots, Jesus Christus, gebou is nie, sal sekerlik in die storm van God se oordele omkom. Dieselfde geld ook vir ‘n land wat nie Christelike standaarde wil aanvaar en toepas nie. Die dae van só ‘n koninkryk is getel.
Moet dus nie populariteit soek deur in die huidige klimaat van openlike kompromie en samegroeiing met ‘n antichristelike bestel die ware Jesus te verloën en met vreemde godsdienste hande te vat nie. Die uitwissing van grense (ook dogmatiese grense) berei die weg vir die universele wêreldmessias van alle gelowe voor. Hy sal die groot teëstander van die ware Jesus wees, en die verpersoonliking van al die valse voorstellings wat nou van Hom gemaak word.
In hierdie laat uur, terwyl ‘n misleide mensdom openlik met God en sy Seun die spot dryf, die gesag van sy Woord verwerp en die evangelieboodskap minag, word genade steeds aan die misleides gebied:
‘n Onlangs gepubliseerde boek, Jesus, deur prof. David Flusser, bevat inligting en beskouings wat tans ‘n groot reaksie in Christelike én Joodse kringe uitlok. Flusser is ‘n afgetrede professor van die Hebreeuse Universiteit in Jerusalem. Hy word as die voorste Israeli navorser oor die Tweede Tempel periode (die tempel van Herodes), die lewe van Jesus en die geskiedenis van die vroeë kerk beskou. Die nuwe uitgawe van sy boek is die produk van ‘n leeftyd se navorsing in die Evangelies, Joodse, Christelike en ander klassieke bronne, asook argeologiese navorsing oor die betrokke tydperk.
Een van die besprekings in Flusser se boek is gebaseer op die vraag wat Jesus aan sy dissipels gevra het:
Oor Jesus se tweede vraag: “Maar julle, wie sê julle is Ek?” sê Flusser die volgende:
Flusser se gevolgtrekkings moet gesien word in die konteks van die teologiese debat oor Jesus se beskouing oor Homself – wie het Hy gedink en gesê dat Hy was? In die beskermde akademiese wêreld het liberale teoloë vir dekades die siening gehuldig dat Christologie (die geloof dat Christus die ewige Seun van God is wat vlees geword het om te ly en te sterwe vir ons sonde, en wat na sy troon teruggekeer om te regeer en oor almal te oordeel) die produk van die nie-Joodse kerk rondom die derde eeu is.
Flusser weerlê hierdie siening en bied getuienis van die geloof in ‘n Messias aan wat o.a. in die laaste dae as regter sal optree (om die koring en onkruid van mekaar te skei, of die skape en die bokke, soos Jesus dit gestel het). Dié idees was nie tot Jesus en sy dissipels beperk nie. Daar was ook ‘n algemene Messiaanse verwagting in die tyd van die Tweede Tempel. Die prediking van die apostels dat Jesus die Messias is, was sterk op Jesus se eie onderrig oor sy sending op aarde gefundeer.
Die volgende is deel van ‘n onderhoud wat jare gelede met die wêreldberoemde wetenskaplike, Albert Einstein, gevoer en in die Saturday Evening Post gepubliseer is:
Vraag: Tot watter mate is u deur die Christendom beïnvloed?
Antwoord: As kind het ek onderrig in sowel die Bybel as die Talmoed ontvang. Ek is ‘n Jood, maar ek is bekoor deur die skitterende Persoon van die Nasaréner.
Vraag: Het u Emil Ludwig se boek oor Jesus gelees?
Antwoord: Emil Ludwig se Jesus is vlak. Jesus is té majestueus vir die pen van praatjiesmakers, hoe kunstig hulle ook al mag wees. Niemand kan die Christendom met ‘n kwinkslag (Fr. bon mot) afskryf nie.
Vraag: Aanvaar u die historiese bestaan van Jesus?
Antwoord: Ongetwyfeld! Niemand kan die Evangelies lees sonder om die werklike teenwoordigheid van Jesus te ervaar nie. Sy persoonlikheid is die polsslag van elke woord. Geen mite is met sulke lewe gevul nie.
Die verskerpte aanslag wat daar die afgelope tyd uit die akademiese (teologiese) wêreld op die Jesus van geloof gemaak word, onderstreep een feit baie duidelik, nl. die rol van geloof in die mens se begrip van en verhouding tot Jesus Christus as Here en Seun van God. Sonder geloof kan Hy nie ten volle geken word nie.
Die hele wêreld word geestelik gesproke in net twee groepe verdeel, nl. gelowiges en ongelowiges. Onder die groep ongelowiges is daar ook baie kerkmense wat die Here met hulle lippe dien, maar hulle harte is ver van Hom af. Hulle assosieer breedweg op ‘n verstandelike vlak (op grond van familie- of volkstradisies) met die Christendom, maar hulle harte is nog nie deur die wedergeboorte nuut gemaak nie. Sulke mense word skynheiliges of vormgodsdienstiges genoem omdat hulle net ‘n uiterlike gedaante van godsaligheid het. Hulle het nog nie ‘n geloofsverhouding met Jesus nie en hou hulle met opinies oor Jesus besig. Hulle kan dus nie in genade én kennis van Jesus toeneem nie.
Geloof is nie ‘n funksie van die menslike brein nie, maar ‘n gawe wat God deur die Heilige Gees aan mense verleen. Die sintuie en brein van die mens speel wél ‘n belangrike rol in die verkryging van geloof, maar dit kan nie geloof genereer nie:
Dit is dus duidelik dat die mens eers op ‘n verstandelike vlak van die basiese feite omtrent sy sondigheid en verlore toestand, asook van die genade van God en die versoeningswerk van Jesus Christus aan die kruis, moet kennis neem voordat hy gered kan word. Hy moet aan evangeliese prediking blootgestel word. Die woord van God moet in gesproke (of geskrewe) vorm aan hom geopenbaar word. Dit is eers op hierdie punt dat ware geloof ter sprake kom.
Die feite omtrent die evangelieboodskap word nie net tot die verstand van die mens gerig nie maar ook tot sy hart [of gees]. Die verstand kan enigiets aanvaar wat binne sy raamwerk van logika redelik klink. Die hart funksioneer egter op ‘n dieper geestelike vlak en is van geloof afhanklik om die waarheid te aanvaar. Daar moet dus ‘n geloofsaanvaarding van bepaalde feite gedoen word. Wanneer die evangelie só aanvaar word, word ‘n ongelowige tot ‘n gelowige herskep; doodsheid verander in lewe en die duisternis gaan oor in lig.
Die vraag is: hoe kan die mens iets in die geloof aanvaar as hy van nature ‘n ongelowige is wat geestelik dood is? Hoe kan hy in ‘n Bybelse sin glo as hy met sy verstand net sekere aannames kan maak wat nie op die vlak van ‘n ware geloof is nie? Die antwoord is in die dinamiese krag van die Woord van God geleë: “Die geloof is… deur die woord van God.” (Rom. 10:17). Watter unieke attribute het hierdie woord dan?
Proff. Walvoord en Zuck (The Bible knowledge commentary, bl. 789-790) sê die volgende oor bg. vers:
Die Woord van God wat gelees of verkondig word, word deur die werking van die Heilige Gees lewendig gemaak sodat die stem daarvan diep in ons harte gehoor kan word; daarom is dit ‘n lewende Woord. Jesus het gesê: “Die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en lewe.” (Joh. 6:63). Dit oortuig ons van ons sonde as die oorsaak van ons geestelike doodsheid, maar bring ook die blye tyding van sondevergifnis en ‘n nuwe lewe in Christus tot ons kennis.
Só ‘n persoon is ‘n ontwaakte sondaar en moet op grond van die feite waarvan hy nou verstandelik én geestelik bewus geword het, ‘n besluit neem. Die Heilige Gees wat hom van sy sonde oortuig het, asook van die Here Jesus wat gekom het om te soek en te red wat verlore is, verleen aan hom die vermoë om te kan glo (bekeringsgenade). Hy kán hom dus nou bekeer en ‘n saligmakende geloof in die Here Jesus beoefen. Mense reageer egter verskillend op die evangelieboodskap:
· Sommiges verwerp die Woord deur dit te betwyfel, nie as die geïnspireerde Woord van God te erken nie, as irrelevant vir die 20ste eeu te beskou, as ‘n harde woord van hulle af weg te stoot, of deur die eise daarvan (bv. wedergeboorte) af te maak en as onnodig vir gedoopte kerklidmate te beskou. Deur dit te doen, weerstaan hulle ook die pleitende stem van die Heilige Gees wat deur die Woord spreek, en blus Hom in hulle lewens uit. Hierdeur beperk hulle hulself tot die kategorie van ongelowiges, al probeer hulle ook hóé godsdienstig voorkom. Sulke mense se godsdiens is nie op Jesus Christus se versoening gebaseer nie maar op eiegeregtigheid (goeie werke). Hulle ken nie die Jesus van geloof nie, en verwerp Hom maklik as die kultiese Jesus wat aanbid word.
· Sommiges hoor net die Woord, en op grond van die goeie nuus-element daarin neem hulle dit met blydskap aan. Blydskap dui op ‘n emosionele reaksie en nie op geloof nie, daarom hou sulke valse bekerings nie lank nie (Matt. 13:20-21). Baie van hierdie mense hou ‘n geestelike front voor deur by ‘n kerk aan te sluit en aan sekere aktiwiteite deel te neem. Hulle prys ook die Here met hulle lippe, hande en voete, maar gee daardeur net uiting aan godsdienstige sentimente en emosies (omtrent soos wat Saul na die harpmusiek geluister het). Hulle harte is egter, geestelik gesproke, koud en donker. Daar is ook baie donker kolle in hul lewens as broeiplekke vir sonde.
· Diegene wat hulle harte oopstel en die evangelieboodskap aanvaar, ontvang die genade om Jesus in die geloof as Verlosser te erken en te aanvaar. Die Heilige Gees herskep hulle donker, sondige harte tot tempels van God. Hy gee aan hulle geestelike insig (verligte oë van die verstand) en die motivering om die gekruisigde en verrese Here Jesus as die Verlosser van die wêreld aan andere te verkondig.
Dit is ongelukkig so dat ‘n ware geloof nie een van die uitstaande kenmerke van die eindtydse wêreldgemeenskap sal wees nie: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8). Hy sal baie godsdiens aantref – selfs ‘n hele wêreld wat verwonderd agter ‘n valse Christus aangaan en hom aanbid (Op. 13:3-4, 8) – maar geloof in die ware Christus sal tot ‘n klein minderheid beperk wees.
Ons leef in ‘n tyd waarin die ware Jesus van geloof ten gunste van populêre vervalsings verwerp word. Sodoende word die weg vir die verskyning van die kosmiese Christus voorberei, wat deur die Bybel die mens van sonde en teëstander van God genoem word. (2 Thess. 2)
Die vraag is: “Aan watter Jesus se kant is jy – die ware Jesus van geloof wat Homself deur sy onfeilbare Woord, sy Gees en deur baie getuies geopenbaar het, of die valse Jesus wat deur demoniese beïnvloeding geskep is om by die gevalle mens se verwronge sienings, sy ongeloof en sy humanistiese strukture in te pas?”
Deur dr. Andrew Murray
Neem tyd om die Woord in jou hart te oordink en te bewaar, terwyl jy voortdurend jou vertroue in die Here Jesus stel. Dit is geloof in Christus wat red, nie geloof in ‘n onpersoonlike woord nie. Die beloftes in die Bybel moet in gebed na die Here Jesus geneem en in sy Naam toegeëien word voor dit in jou lewe van krag sal word.
“Laat ons toetree… die harte deur besprenkeling gereinig van ‘n slegte gewete”. Die hart is die sentrum van die menslike lewe, en die gewete is weer die sentrum van die hart. Deur ‘n mens se gewete ken jy jou verhouding met God. ‘n Slegte gewete sê vir jou dat alles nie reg is tussen jou en die Here nie – nie alleen die feit dat jy sonde doen nie, maar dat jy sondig is en vervreem van God. ‘n Goeie of skoon gewete getuig van ‘n lewe wat vir God aanvaarbaar is (vgl. Heb. 11:5). As jy die heiligdom wil betree, moet jou hart van ‘n slegte gewete gereinig word. Besprenkeling met die bloed van Christus sal jou gewete en hart reinig sodat jy God kan dien sonder om oor onbelyde sonde aangekla te word.
Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb. 11:6). Ons moet die heiligdom met volle geloofsversekerdheid betree. Die krag van die bloed van die Lam het die sonde só volkome oorwin dat niks ons van gemeenskap met God kan weerhou nie. Ons het ‘n Hoëpriester wat volkome kan red dié wat deur Hom tot God gaan. Ons moet in die geloof ten volle hiervan versekerd wees. Hy help ons om hierdie waarhede in die geloof toe te eien. Deur Hom aan te sien, sy wonderlike liefde, sy volmaakte versoeningswerk, sy kosbare bloed waarin krag tot redding en reiniging is, word geloof in ons opgewek en versterk. Hy wek nie alleen geloof deur sy Heilige Gees in ons harte op nie, maar hou dit ook in stand en versterk dit. Onthou dat geloof deur die Woord van God kom; nie die letter van die Woord nie, maar die Woord as die stem van die Here Jesus. In Hom is elke belofte in die Woord ja en amen.
‘n Gebrek aan geloof is die een ding waaroor Christus sy volgelinge verkwalik het. Hy het hulle nooit verwyt oor ‘n gebrek aan intellek, kulturele gesofistikeerdheid of materiële besittings nie. Die afwesigheid van geloof, of ‘n swak geloof, was die basiese rede vir hulle vrese, probleme en wanopvattings.
Die eerste goeie werk wat jy ooit kan doen is om in die Here Jesus Christus te glo. Totdat jy dit gedoen het, is al jou werke, gebede en goeie voornemens tevergeefs.
Die geloof wat jy het, sal getoets word. Die Here bou nie ‘n skip sonder om dit die see in te stuur nie.
Die enigste kroon wat ‘n gelowige en getroue persoon ooit van die wêreld of van ‘n wêreldse (vleeslike) kerk sal kry, is ‘n doringkroon.
Die eenvoud van ‘n lewe van geloof het ‘n bekoring wat net deur diegene geken word wat dit deelagtig is.
“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag.” (Heb. 11:6).