Die mens het nog altyd daartoe geneig om die gesag van God te verwerp en alleenbeheer oor sy lewe uit te oefen. Ook sy godsdiens moet só aangebied word dat dit aan sy eie belange en begeertes dienstig is. Dit moenie die lewe vir hom moeilik maak nie. T.A McMahon (The Berean Call, Maart 2005) sê: “’n Verbruikersvriendelike godsdiens is ‘n benadering wat daarop ingestel is om die Christendom materieel én geestelik te verryk, en ook nuwe bekeerlinge te lok, deur metodes te gebruik wat nie aan die Bybel of die Heilige Gees getrou is nie. Dit is op die bevrediging van die mens se gevalle natuur ingestel, en verheerlik dus die mens eerder as vir God.” Die gevalle mens is ‘n liefhebber van homself, ‘n geldgierige en ‘n trotsaard, maar terselfdertyd ook iemand wat van ‘n gedaante van godsaligheid hou (2 Tim. 3:1-5)
‘n Verbruikersvriendelike godsdiens, waarin die belange en begeertes van die verbruiker vooropgestel word, is so oud soos die mensdom self. Dit het onder die direkte aanstigting van Satan in die paradys begin. God het aan Adam en Eva groot regte en voorregte gegee, wat beheer oor die hele natuurlike skepping ingesluit het, maar hulle verbied om vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad te eet. Hulle sou sekerlik sterwe indien hulle hierdie gebod sou oortree.
Satan het God se woorde heeltemal verdraai en ook die feit ten sterkste ontken dat Hy die mens sou oordeel. Inteendeel, het hy gesê, Adam en Eva sou soos God word as hulle van die vrugte eet – hulle geestelike oë sou oopgaan en hulle sou gode word. Hierdie valse raad was vir hulle heel aanvaarbaar en hulle het dit in stryd met God se duidelike waarskuwings aanvaar. Sodoende het hulle die sondeval en hulle uitwerping uit die tuin van Eden bewerk. Hulle het geestelik dadelik gesterf omdat hulle van God as die bron van die lewe vervreem geraak het. Hulle het ook fisies sterflike mense geword. Dit was die gevolg van die mensgerigte, verbruikersvriendelike godsdiens wat die duiwel aan hulle opgedis het.
Deur offers, skuldbelydenis en verootmoediging sou Adam en sy nakomelinge weer met God versoen kon word, maar dit sou onder moeilike omstandighede wees – beslis nie op ‘n verbruikersvriendelike manier nie. Die meeste mense het egter hulle harte teen God verhard en die pad van godsdienstige leuens en sonde bó die geregtigheid van God verkies. Dit het na wêreldwye rebellie teen God gelei.
Nadat ‘n totaal verdorwe menslik geslag as gevolg van hulle boosheid in die sondvloed verdelg is, het die Here eers deur Noag en toe deur Abraham, Isak en Jakob met ‘n nuwe werk begin om ‘n volk te versamel wat getrou aan Hom en sy Woord sou wees. Hierdie volk is Israel genoem, en deur Moses het die Here sy wette aan hulle gegee en hulle na die Beloofde Land laat optrek. Die Here sou hulle lei en help, ook in hulle oorloë teen vyandige volke, en hulle moes Hom oor al hulle behoeftes raadpleeg.
Onder die beïnvloeding van die duiwel het Israel egter ook van die Here afvallig geraak. Hulle het Hom as hulle regeringshoof verwerp en, soos die heidense nasies rondom hulle, op ‘n menslike regering onder die beheer van ‘n koning aangedring. Dit, het hulle gemeen, sou meer verbruikersvriendelik wees omdat die Here se wette té streng en sy strawwe té swaar was. Die Here het aan hulle die begeerte van hulle harte gee, maar in hulle siele ‘n maerte gestuur omdat hulle Hom verwerp het (Ps. 106:15). Hulle het later ook die goeie profete verwerp en vir hulle valse profete aangestel wat godsdienstige leuens aan hulle verkondig het. Dit het die weg na kompromie met die heidense gelowe gebaan, en later na afgodediens.
Uiteindelik het die Here geen verdere profete na Israel gestuur nie, en het hulle ná Maleagi vir 400 jaar lank in geestelike duisternis verkeer. In hierdie tyd het hulle verbruikersvriendelike, valse profete hulle net verder mislei (vgl. Jer. 6:13-14; 14:13-14). Aan die einde van hierdie lang tyd is die Messias, Jesus, in Israel gebore.
In die eerste drie eeue ná Christus is die vroeë kerk erg vervolg – aanvanklik deur die Jode wat Jesus as Messias verwerp het, en later ook in die hele Romeinse ryk. Hoewel daar groot groepe kompromiemakers, afvalliges en naamchristene in gemeentes was, was daar ook ‘n gesonde kerngroep wat aan die Here Jesus en sy Woord getrou gebly het.
Vroeg in die vierde eeu het keiser Konstantyn egter die Christelike geloof erken en self ook aanvaar. Christenvervolging is beëindig, die kerk het baie geld en aansien by die Romeinse owerheid verkry, en as gevolg daarvan ‘n verbruikersvriendelike houding ingeneem. Die eise van die evangelie is afgewater om dit vir die groot groepe amptenare en ander mense wat, soos die Keiser, tot die Chirstendom toegetree het, meer aanvaarbaar te maak. Dit het die grondslag vir die Roomse Kerk gelê, wat oor tyd heen in totale goddeloosheid verval het omdat die mens ten koste van Christus verheerlik en nagevolg is. Godsdienstige dwalings het die oorhand gekry en tot geestelike en morele stagnasie gelei. Die Donker Middeleeue het gevolg, waarna dikwels as Satan se millennium verwys word.
Alle persone wat van hierdie misleide, menslik-beplande en -beheerde kerk af weggebreek het, het ‘n duur prys daarvoor betaal. Miljoene Christene het só hulle lewe verloor en as martelare vir hulle geloof gesterf. Baie van die Protestantse Christene wat vir hulle lewe uit Frankryk na Holland gevlug het, het uiteindelik as Franse Hugenote in die Kaap beland.
In die groot herlewings van die 18de en 19de eeue het die weg terug na die Here en sy Woord aangewys. Die evangelie-boodskap is weer verkondig, siele is gered en baie Christene het ook ‘n oorgawe gemaak om met die Heilige Gees vervul te word. Wêreldwye sendingaksies is onderneem, miljoene mense is gered en duisende gemeentes is gestig. Dit het egter met groot opofferings gepaard gegaan. Geestelike standaarde was in die algemeen hoog, en aan lidmate is die smal weg van die kruis voorgehou om te bewandel.
‘n Uitstaande kenmerk van hierdie tyd was dat sonde duidelik uitgespel en by die naam genoem is, asook die straf vir sonde in die ewige poel van vuur. Uit hierdie dilemma vir alle mense, want almal is sondaars, is die geregtigheid van God deur die plaasvervangende dood van Jesus Christus verkondig. Dit is in die lig van God se oordele gedoen, want die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op die Lam van God wat in ons plek gesterf het (Jes. 53:4-5; 1 Pet. 2:24). Dit is ook die wyse waarop die Heilige Gees steeds alle sondaars lei, want Hy oortuig hulle eers van hulle sonde en verlorenheid, dan van die geregtigheid van God deur Jesus Christus, en dan van die oordele wat nie net oor die duiwel en sy engele uitgespreek is nie, maar oor almal wat hulle nie wil bekeer nie.
‘n Besliste stap van bekering is van almal verwag wat die evangelie aanvaar het, omdat alle sondaars op ‘n verkeerde pad is waarop hulle moet omdraai (Hand. 17:30). Hierna was ‘n oorgawe tot heiligmaking nodig, sodat Christene met die Heilige Gees vervul kon word om die nuwe lewe tot sy volle verwerkliking te laat kom. Hierdeur is ook goddelike krag en vrymoedigheid verkry om die evangelie te verkondig, asook krag tot oorwinning oor sonde, versoekings en al die aanslae van die sielevyand.
Dit was duidelik nie die maklike weg van die mens wat verkondig is nie, maar die weg van God. Hiervoor was ‘n kosteberekening nodig, asook die bereidwilligheid om die kruis van selfverloëning op te neem en die Here Jesus op die smal pad na die hemel te volg. Gewoonlik is daar min mense wat bereid is om hierdie weg te volg (Luk. 13:24), maar in die herlewingstyd het God se Gees kragtig gewerk in antwoord op die vurige gebede van gelowiges, en ‘n groot oes is vir die koninkryk van die hemel ingesamel.
Die 20ste eeu was die eeu van die mens, waarin humanisme, materialisme en roem in die prestasies van die mens die botoon gevoer het – ook in sy godsdiensbelewenis. God is nie uitdruklik wegverklaar nie (behalwe in ekstreme gevalle) maar die Here en sy liefde vir die mensdom word as gegewe aanvaar – soos ‘n skildery wat teen die muur hang of ‘n beeld wat iewers in die huis of die tuin opgerig is. Hierdie “prentjie” van die Here bestaan net in mense se gedagtes, omdat ‘n aktiewe verhouding met Hom ontbreek.
Die mensgemaakte beeld van God is baie positivisties omdat Hy net daar is om die mens, soos hy is, te seën. Almal word na die kerk genooi en op ‘n maklike manier salig gespreek. Negatiewe onderwerpe soos sonde, die duiwel en die hel word feitlik glad nie genoem nie. In antwoord op die behoeftes van die moderne mens het geestelike standaarde oor ‘n breë front afgeneem. Kerke wat nie hierdie benadering volg nie, verloor vinnig lidmate en voer ‘n sukkelbestaan. Die verbruikersvriendelike godsdiens van die groot kerke het ‘n aansienlike toeloop na hulle veroorsaak, maar geestelike bankrotskap is die uiteinde van hierdie pad wat vir die mens reg lyk, maar uit God se oogpunt na die dood lei (Spr. 14:12).
Die volgende ses eienskappe is kenmerkend van die mensgerigte godsdiens van ons tyd:
Menslike saligspreking. ‘n Tradisie wat uit die Nikolaïete ontwikkel het (Op. 2:6), deur die Roomse Kerk nagevolg en later ook deur baie Protestantse kerke oorgeneem is, is saligsprekings deur menslike ampsdraers (‘n verhewe priesterlike orde), gekoppel aan “sakramente.” Die “sakramenteur” wat die doop of Nagmaal bedien, word dan die instrument waardeur saligheid en sondevergifnis aan mense verleen word. Dit word daarna as die onvervreembare reg van elke gedoopte lidmaat beskou, op wie die hemelpoorte wag – al gebeur wat ook al. Dit is die rede waarom wedergeboorte en heiligmaking nie regtig deur sulke lidmate as belangrik beskou word nie, omdat hulle van kort ná hulle geboorte af al vir tyd en ewigheid salig gespreek is. Hulle “uitverkiesing” is reeds deur hulle “verbondsdoop” bevestig. Dit is duidelik die gebooie van mense hierdie (Matt. 15:8-9), omdat dit nie op die Here se eis van wedergeboorte (Joh. 33:3) en heiligmaking (Heb. 12:14) gebaseer is nie. Dit is waarom dit so ‘n maklike en sosiaal aanvaarbare godsdiens is.
Uitfasering van die duiwel en die hel. In die mensgemaakte teologie, wat op positiewe denke gebaseer is, is daar op verskillende maniere van die duiwel ontslae geraak. Augustinus, wat deur die Katolieke én die meeste Protestantse kerke as die grootste kerkvader aangehang word, het gesê dat ons nou in die vrederyk leef waarin die duiwel gebind is. Die koninkryksbedeling is vir hom tussen die eerste en tweede koms van Christus, waartydens die kerk as ‘n staatskerk die wêreld moet regeer. Calvyn het ook hierdie idee aangegryp. Dit maak die kerk baie meer verbruikersvriendelik, want ons het nie regtig ‘n sielevyand met wie ons in ‘n stryd gewikkel is nie. ‘n Verdere gevolg van hierdie valse teologie is dat daar volgens sekere teoloë gladnie ‘n duiwel of ‘n hel is nie. Daar ís groepe wat erken dat die duiwel en sy invloed baie werklik is, maar hulle raak op ander, onbybelse maniere van hom ontslae. Hy en sy demone word deur middel van strategiese geestelike oorlogvoering uit hulle vestings bokant stede en lande uitgewerp, waarna die koninkryk van God glo sal floreer en herlewing sal uitbreek. Dit is die siening in die Transformasie-beweging.
Voorspoed. Die groot doel met die verbruikersvriendelike kerk is dat mense ‘n lekker lewe van aardse rykdom en seëninge wil geniet. ‘n Voorspoedsevangelie word dus verkondig, waarin die mens sonder ‘n grondige selfondersoek en bekering van alle geestelike én tydelike seëninge verseker word. Die omvang van jou rykdom en voorspoed word dan die maatstaf van die krag van jou geloof. Jou einddoel is om soos die gemeente in Laodicea te kan sê: “Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie.” Die Here Jesus se beoordeling van hierdie “gelowiges” is egter presies die teenoorgestelde as wat hulle dink: “Jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:17). Hulle is geestelik totaal blind vir die waarheid en ook gladnie in die geloof met Christus beklee nie, al meen hulle ook so. Hulle waardebepaling is humanisties, verdorwe en wêrelds. Nogtans is hulle ‘n voorspoedige gemeente wat in die Naam van Jesus byeenkom! Hulle erken die Christelike leerstelling egter net in naam, en dan ook net sekere aspekte daarvan. Die kruis en die bloed speel nie ‘n rol daarin nie, ook nie die oordele van God oor sondaars nie.
Tekens en wonders. Omdat die mensdom se eie kerke weens sy eie teologie geestelik morsdood is, word daar dikwels na ‘n sintuiglike belewenis van God se teenwoordigheid gesoek. In baie van die kerke vind dit deur sigbare manifestasies plaas, bv. aangeleerde klanke wat as vreemde tale beskryf word, val in die Gees, lag in die Gees, dans in die Gees, profeteer in die Gees, goudstof wat op mense neerdaal, dramatiese genesings, en selfs dooies wat opgewek word. Juis omdat mense so hoogs beïndruk met hierdie soort verskynsels is, sal die Antichris, die valse profeet en duisende van hulle voorlopers dit ook gebruik om die valse wêreldgodsdiens van die Antichris te bevorder (Matt. 24:24; 2 Thess. 2:8-9; Op. 13:11-13; 19:20). Die groot gevaar verbonde aan die soek van tekens en wonders is dat dit die deur na mistiese (okkultiese) manifestasies oopmaak wat van die duiwel af kom. Hierdie vreemde kragte word algemeen in die Nuwe Era Beweging beoefen en onder oningeligtes bevorder. Hoe weet mense watter kragte in beweging kom as hulle snaakse geluide begin maak, op die vloer val, in transtoestande beland en ‘n alternatiewe bewussynstoestand beleef, al word hulle ook deur gevoelens van liefde en vrede oormeester? Dit is die krag van die dwaling wat aan die werk is, om beheer oor hulle liggaam, gees én siel te verkry. Dit is egter wat naïewe en misleide mense soek, en dit is ook wat hulle kry – maar nie van die Here af nie.
‘n Alternatiewe spiritualiteit. In kerke waarin lidmate reeds salig gespreek is en onder die indruk verkeer dat niemand hulle uit die hand van die Here kan ruk nie, het gebed gaandeweg ook sy noodsaaklikheid verloor. Ander maniere word nou gesoek om met God te kommunikeer om een of ander geestelike ervaring te hê. Dit het die weg na die aanvaarding van Oosterse meditasie geopen, wat die hart van die Nuwe Era Beweging is. Transendentale meditasie wat op ‘n veranderde bewussynstoestand gebaseer is, is “gekersten” en as Christelike meditasie aanvaar. Dié woordelose gebede word ook “kontemplasie” genoem. Hierdie misleide vorm van spiritualiteit word al lankal in die Roomse en Anglikaanse kerke beoefen, en raak nou ook in baie Protestantse kerke populêr. Dit is egter nie ‘n teken van geestelikheid nie, maar van geestelike bankrotskap en die gevolglike soektog na “ander” geestelike belewenisse om die leegheid in mense se harte te vul. Hierdie gebruik lei ook na ‘n vorm van innerlike genesing waarin vreemde geestelike gidse ‘n persoon na sy verlede terugvoer om sondes te bely en probleme reg te stel. Dit vind nie onder die leiding van die Heilige Gees plaas nie, en die “regstelling” het ook niks met die versoeningswerk aan die kruis te doen nie.
Eenheid en vrede. Daar is ‘n sterk neiging in die misleide Christelike wêreld om te glo dat God se liefde en genade só groot is dat Hy niemand hel toe sal stuur nie. Hierdie idee het die weg na ‘n multigodsdienstige siening geopen, waarin die beoefenaars van alle gelowe salig gespreek word. Dit beteken dat Jesus Christus nie meer die enigste Middelaar is nie, en dat God Homself deur alle kulture en gelowe openbaar. ‘n Nuwe, multigodsdienstige eenheid kan dus in die wêreld geskep word, en as ‘n instrument vir wêreldvrede uitgebou word. Daar is inderdaad reeds verskeie multigodsdienstige organisasies in die wêreld om uitdrukking aan die nuutgevonde eenheid in die wêreld te gee. Hierdie visie gee aan die moderne, misleide mensdom ‘n positiewe toekomsverwagting, daarom vind hulle geen aanklank by ‘n siening dat daar ‘n Antichris en ‘n groot verdrukking kom nie. Wanneer die Antichris wél kom, sal hy vir hulle die universele messias van alle gelowe wees, en dus baie aanvaarbaar.
Is jy in ‘n misleide, verbruikersvriendelike kerk waarin halwe waarhede en mites verkondig word om die vleeslike mens se gehoor te streel (2 Tim. 4:3-4), of is jy in ‘n evangeliese kerk waarin die boodskap van die kruis in sy volle betekenis verkondig word? Die ontstellende neiging van ons tyd is dat kerke wat vroeër as evangelies beskou is, nou ook hulle siening verander het en ter wille van finansiële oorlewing en die vinnige groei van hulle gemeentes by die kerkgroeibeweging inskakel. Hulle bestudeer boeke wat deur mense soos Robert Schuller en Rick Warren geskryf is, intensief.
Die tragiese gevolg hiervan is dat hulle geestelik só verblind word deur hierdie menslike visie van die Woord van God, dat hulle gladnie die dwalings in hierdie boeke kan raaksien nie. Hoewel daar probleme is met dit wat Rick Warren sê, is die grootste probleem met dit wat hy nié sê nie. Dave Hunt merk op: “Niks word gesê om die sondaar van sy rebellie teen God en van die komende oordeel te oortuig nie... Daar is ook geen verduideliking van Christus se betaling aan die kruis vir ons sonde nie.” Hoewel die kruis genoem word, word die volle betekenis van Christus se plaasvervangende dood nie verduidelik nie.
Wat het van die evangeliese Christene se onderskeidingsvermoë geword as hulle hierdie groot probleem nie kan raaksien nie? Is die pot lensiesop van meer lidmate, meer geld en groter aansien in die samelewing só aanloklik? Ek haal uit ‘n brief aan wat deur ‘n persoon geskryf is wat ‘n Rick Warren-kursus oor die doelgerigte lewe in ‘n NG Kerk bygewoon het:
“Nadat ek die boek, The Purpose Driven Life, gelees het, is ek daarvan oortuig dat dit ‘n baie gevaarlike boek is, veral vir oningeligte Christene wat nog in die melkstadium van die geloof is. In ons selgroep het ons ook na die video’s van Rick Warren gekyk, sonder dat daar ooit enige kritiek teen sy leer was. Ek kan bevestig dat daar geen bekering in hierdie leermateriaal verkondig word nie, niks oor die bloed van die Lam gesê word nie, en dat die ware betekenis van die kruis ook nie bespreek word nie.”
Daar is baie ander geestelike dwalings in die verbruikersvriendelike kerk van die eindtyd, want die vors van die duisternis het ‘n namaaksel wat in elke gier en gril van wêreldsgesinde mense kan voorsien. Hy is baie bedrewe in die kuns om sy dwalings aan die Bybel te koppel, sodat mense sal dink dat hulle met die Here en sý werke besig is. Sodoende word miljoene mense met net ‘n gedaante van godsaligheid déúr kerke na die ewige verderf voortgesleep. Wat sal hierdie predikers en hulle lidmate se verbasing nie groot wees as die Here hulle “Christelike” lewe voor sy troon heeltemal verwerp en vir hulle sal sê dat Hy hulle nie eers ken nie! (Matt. 7:21-23). Die Living Bible parafraseer hierdie gedeelte in Mattheus só:
“Not all who sound religious are really godly people. They may refer to Me as Lord, but still won’t get to heaven. For the decisive question is whether they obey My Father in heaven. At the Judgement many will tell Me, Lord, Lord, we told others about You and used Your Name to cast out demons and to do many other great miracles. But I will reply, You have never been Mine. Go away, for your deeds are evil.”
Godsdiens wat in die Naam van die Here Jesus beoefen word, maar nie uitdruklik op die kruisevangelie gebaseer is nie, is ‘n ernstige vorm van godsdienstige bedrog en verraad teen die Lam van God. Hy noem sulke mense werkers van ongeregtigheid (Matt. 7:23). Hulle stel die sekondêre seëninge van die Christendom voorop, terwyl hulle die primêre boodskap van Christus wat ter wille van alle sondaars sy bloed gestort en gesterf het, op die agtergrond skuif en uiteindelik heeltemal verswyg.
Dit is opvallend dat die groot meerderheid van die mensdom altyd die verkeerde keuse maak en hulle steun aan die populêre boodskap van valse profete en valse leraars gee. In Israel was dit in die Ou Testament al so: “Die profete profeteer vals, en aan hulle sy oefen die priesters mag uit, en my volk wil dit graag so hê. Maar wat sal julle doen aan die einde daarvan?” (Jer. 5:31). Sal hulle die rampspoedige gevolge van hulle algemeen aanvaarde, valse godsdiens kan dra? In die Nuwe Testament word ook gesê dat baie mense die valse leraars sal navolg en ondersteun (2 Pet. 2:2; Matt. 24:5; 2 Tim. 4:3).
McMahon (ibid) verduidelik die einddoel met hierdie mensgemaakte godsdiens só: “Die ware aard van die verbruikersvriendelike godsdiens, van die vroeë kerk af tot vandag toe (van mega-gemeentes af tot by huiskerke) is om dinge op die mens se manier te doen en nie op God se manier nie. Die kerkgeskiedenis van die eerste eeu af is ‘n ontstellende verhaal van ware en valse Christene wat van die Woord van God afgedwaal en gedoen het wat reg was in hulle eie oë, terwyl hulle bely dat hulle alles in die Naam van Christus en vir sy eer doen. Dit het dikwels verwoestende gevolge in mense se geestelike lewe gehad. Soos wat ons nader aan die wederkoms van die Here Jesus kom, sal die belydende kerk só getransformeer word dat dit absoluut skokkend vir ware gelowiges sal wees – tensy hulle sensitiwiteit vir die waarheid al heeltemal afgestomp geraak het. Ná die wegraping wanneer die bruid van Christus by Hom sal wees (1 Thess. 4:16-18), sal die belydende kerk wat daarop voorberei is om die Antichris te aanvaar, nog hier wees. Hierdie afvallige kerk ontstaan nie oornag nie, maar is die afgelope tweeduisend jaar al voorberei en sal kort voor die wegraping van weergebore Christene sy ergste fase van geestelike dwaling betree.”
Kerke wat nie die sondeprobleem van die mens, die oordele van God oor sondaars, die genadewerk van die Here aan die kruis, die opkoms van die Antichris en die aanbreek van ‘n wêreldwye verdrukking tydens sy bewind verkondig nie, is met ‘n ander Jesus, ‘n ander gees en ‘n ander evangelie besig (2 Kor. 11:4), wat baie duidelik vervalsings is wat uit die koninkryk van die duisternis kom. Valse leraars (2 Pet. 2:1-2) het Christelike kerke byna ongesiens as “engele van die lig” binnedring (2 Kor. 11:13-15). Dit is hulle wat sê dat ons nie veroordelend teenoor ander gelowiges moet wees nie, want daar is ‘n groot diversiteit in die Christelike kerk. Wanneer hierdie diversiteit egter só groot word dat dit alle vorms van onbybelse dwalings kan insluit, dan is dit nie meer die ware Christendom waarmee ons te doen het nie, maar ‘n vervalste ekumeniese liggaam wat inderdaad ‘n wegbereider vir ‘n valse christus is.