Verootmoediging, Herlewing en Angus Buchan

Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Oktober 2010)

“Geregtigheid verhoog ‘n volk, maar die sonde is ‘n skandvlek vir die nasies” (Spr. 14:34).

Daar is die afgelope paar jaar verskeie oproepe tot verootmoediging in Suid-Afrika gedoen, sodat ons as ‘n Christenvolk aan die Here se standaard van geregtigheid kan voldoen. Daar is selfs aansprake gemaak dat ons op die punt van ‘n magtige herlewing staan wat na die res van Afrika én die hele wêreld sal uitbrei. Wat moet ons houding hieroor wees? Alle Christene behoort tog ten gunste van ‘n groot geestelike deurbraak in ons land en sy kerke te wees, maar dan moet ons baie seker maak dat die motiewe wat ons koester én die benadering wat ons volg, suiwer op die Bybel gebaseer is. Dit moenie net ter wille van ons eie oorlewing in ‘n misdadige en sukkelende land gaan nie, en ons moenie in die proses Bybelse standaarde verlaag soos dit óns pas nie.

Kom ons kyk eers wat die Bybel oor geestelike ontwaking en groei sê. Op die mens se geestelike reis uit die duisternis van verlorenheid tot in die wonderbare lig van God se koninkryk is daar twee duidelike stappe wat geneem moet word. Die eerste een is bekering tot redding, en die tweede ‘n volle oorgawe tot heiligmaking. Ná die eerste stap volg daar ‘n korter of langer sukkelbestaan van geestelike vrugteloosheid, kragteloosheid en neerlae teen versoekings, omdat die jong bekeerling se lewe nog nie onder die volle beheer van die Heilige Gees is nie. Ná die tweede stap van heiligmaking, of vervulling met die Heilige Gees, volg daar ‘n lewenslange proses van geestelike groei en toenemende diens aan die Here.

Met verootmoediging kan twee dinge bedoel word. Dit kan eerstens ‘n oproep aan sondaars wees om hulle voor die Here Jesus te verootmoedig, hulle sondes te bely en Hom as Verlosser aan te neem. Die ongeredde tollenaar het gesê: “O God, wees my, sondaar, genadig!” (Luk. 18:13). Tweedens, en meer algemeen, is verootmoediging ‘n oproep aan lou en wêreldgesinde Christene om hulleself te ondersoek sodat hulle kan breek met alle sondes, verkeerde gesindhede en vleeslikheid waardeur hulle die Heilige Gees bedroef.

Hierdie tweede toepassing van verootmoediging is wesenlik ‘n oproep tot herlewing, want dit is gerig op die verkryging van nuwe lewe waar daar reeds lewe is. Dit is presies wat herleef beteken – jy lewe reeds, maar het ‘n nuwe toerusting met krag uit die hoogte nodig. Vleeslike en teruggevalle Christene moet die Here vertrou om hulle geestelik te laat herleef, opnuut te vervul en volle beheer oor hulle lewe te neem. Voordat herlewing ‘n werklikheid sal word, moet daar eers volle begrip vir die leerstelling oor heiligmaking wees. Dit gaan nie net oor die belydenis van individuele sondes nie, maar ook oor die belydenis van ‘n persoon se vleeslike toestand van selfsugtigheid, hoogmoed en wêreldgesindheid. Hy moet van homself ontledig word, m.a.w. van sy ou, verdorwe natuur wat hom van die Here af wegtrek (Ef. 4:22-24).

Terselfdertyd moet die persoon van sy onkunde en skewe en krom sienings oor die Bybel verlos word, want dit lei daartoe dat hy homself as regverdig en heilig beskou terwyl dit dalk glad nie die geval is nie. ‘n Volle oorgawe moet gemaak word, sodat daar ‘n volkome reiniging deur die bloed van Christus kan plaasvind en die persoon ‘n rein hart kan verkry. Daarna moet sy rein hart deur die Heilige Gees vervul word, sodat hy die nodige motivering en krag sal hê om teen alle versoekings en hernude neigings tot vleeslikheid te kan oorwin, en die evangelie met vrymoedigheid aan almal te verkondig (Hand. 1:8).

Saam met die krag van die Heilige Gees gaan verligte oë van die verstand om die Bybel reg te kan verstaan, asook ‘n ywer vir Bybelstudie soos nog nooit tevore in sy lewe nie. Die persoon kry só ‘n liefde vir die Woord dat hy alle moontlike geleenthede gebruik om homself verder in ‘n studie daarvan te verdiep. Dit sluit ook ‘n liefde vir die leer oor die wederkoms van Christus in, want hy verlang om by Christus te wees. Wanneer hy hierdie kennis verkry, dan besef hy dat die wêreld én ook baie van die kerke op ‘n gevaarlike afdraandepad van geestelike misleiding is wat op die openbaring en aanvaarding van die Antichris gaan uitloop. In ons tyd van groot verval is dit nodig dat ‘n diepgaande kennis van die eskatologie, asook wederkomsprediking, ‘n inherente deel van ‘n herlewingsbeweging sal uitmaak.

Wanneer ons uit die oogpunt van die volle omvang van die leer oor heiligmaking na die huidige veldtog van verootmoediging in Suid-Afrika kyk, asook na pogings om herlewing te bevorder, dan is daar duidelike rede tot kommer. Ons voldoen nie eers naastenby aan Bybelse standaarde nie, want verootmoediging word meesal net tot die belydenis van sekere sondes beperk, in die hoop dat die Here ons volk in guns sal aansien en ons van ondergang in donker Afrika sal bewaar. Van ware heiligmaking, ‘n daaglikse lewe onder die leiding van die Heilige Gees, en ook ‘n terugkeer na al die belangrike Bybelse leerstellings, insluitend die wederkoms, is daar weinig of geen sprake nie.

Wat herlewing betref, word daar in baie gevalle ook verkeerde metodes gebruik en selfsugtige motiewe gekoester. Transformasiebyeenkomste en ekumeniese saamtrekke word gebruik om Christelike eenheid te skep en daardeur ‘n groot sigbare impak op die samelewing te maak. Daar word gehoop dat dit na die vestiging van Christelike regerings in Suid-Afrika én die res van die wêreld sal lei. Die eise van geestelike verdieping en heiligmaking kom egter nie tot hulle reg in hierdie beweging nie, daarom het hulle geen kans op sukses nie.

Kom ons kyk nou in meer besonderhede na dit wat tans landswyd in Suid-Afrika gebeur, en stel vas hoedanig die metodes en aansprake wat kenmerkend van groot Christelike saamtrekke is, aan die beginsels van ‘n ware herlewingsbeweging voldoen. Indien ons nie streng by Bybelse standaarde bly nie, sal ons ‘n ontwykende droom najaag.

Angus Buchan

Daar word die afgelope paar jaar ‘n groot ophef van Angus Buchan gemaak as ‘n man wat spesiaal gestuur is om Suid-Afrikaners na God terug te lei. Angus is egter ‘n evangelis en nie ‘n herlewingsprediker nie. ‘n Evangelis doen basiese, of eerste fase, evangelisasiewerk wat op die redding van sondaars ingestel is, en het nie altyd baie kennis van ander Christelike leerstellings nie. Hy laat hom nie uit oor die geestelike louheid en misleiding van die kerke en sekere geestelike leiers nie en roep hulle nie tot hertoewyding aan die Here op nie. Hy is hoofsaaklik op die redding van verlorenes toegespits, en spreek ‘n bepaalde groep mense gewoonlik net eenmalig toe – of dalk ‘n paar keer tydens ‘n naweekbyeenkoms. Wanneer sy hoorders aandui dat hulle Christus as Saligmaker aangeneem het, beskou hy sy taak as afgehandel en beweeg dan verder om sy volgende afspraak na te kom.

‘n Herlewingsprediker, daarenteen, doen veral tweede fase evangelisasiewerk omdat sy boodskappe op verdere stappe van toewyding en diensbaarheid gerig is in die lewens van mense wat reeds ‘n getuienis van bekering het. Christene word tot selfondersoek en ‘n nuwe toewyding aan die Here opgeroep, en ook duidelik gewys wat hulle verantwoordelikheid in die proses van heiligmaking is. Wanneer hulle hieraan voldoen, word lou, biddelose, kragtelose en geestelik onvrugbare gelowiges in brandende getuies vir Christus omskep. Hulle vervul dan hulle roeping om self ook getuies van Jesus Christus se reddende genade te wees, en daardeur word baie sondaars gered. Aktiewe evangelisasie is dus die vrug van herlewing.

Ten einde Angus se werkswyse en sy aanspraak van ‘n herlewing reg te kan beoordeel, sal ons moet let op wat ware herlewingspredikers gedoen het om hulle doel te bereik. Hulle het beslis nie bekeerlinge aan hulle lot in geestelik lou en misleide kerke oorgelaat, en dan voortbeweeg om op ‘n ander plek weer soveel as moontlik nuwe bekeerlinge te maak nie. Hulle het dissipels gemaak wat informeel opgelei is om hulle geestelik bruikbaar te maak om verder met hierdie taak voort te gaan. Herlewing is ‘n lewende en groeiende beweging.

Andrew Murray het meer as ‘n eeu gelede aan die spits van ‘n werklike herlewingsbediening in Suid-Afrika gestaan. Sy boeke oor heiligmaking as ‘n verdere genadewerk ná bekering, word vandag nog wêreldwyd gelees. Hy het meer as 200 boeke en artikels geskryf. Ek het selfs ‘n Russiese prediker in Estland ontmoet wat een van Andrew Murray se boeke in Helsinki in Finland gekoop het. Daar is nog steeds ‘n groot behoefte aan ‘n dieper werk van die Heilige Gees in mense se lewens. Murray verbind heiligmaking nie aan ekstatiese ondervindings en tekens en wonders nie, maar aan hartsreiniging en geestelike toerusting met krag uit die hoogte. Dit was die hooftema van sy prediking en geskrifte. Andrew Murray het natuurlik ook basiese evangelisasiewerk gedoen, maar dit is altyd opgevolg met duidelike prediking oor vervulling met die Heilige Gees. Dit het die grondslag van ‘n ware, Bybelse herlewing gevorm.

Ander bekende herlewingspredikers uit die 18de en 19de eeue het dieselfde benadering gevolg. John Wesley se bekeerlinge het aanvanklik in hulle kerke van oorsprong aangebly, maar Metodiste-verenigings is gestig en mense het in gehuurde sale bymekaargekom waar hulle deur lekepredikers oor hoër vlakke van geestelike toewyding onderrig is. Daar was later meer as 500 van hierdie groepe, en ná John Wesley se dood het hulle die Metodiste-kerk gestig.

In Amerika was DL Moody ook ‘n evangelis en herlewingsprediker. Nadat hy evangelisasiedienste op ‘n plek gehou het waar baie mense tot bekering gekom het, het hy dit opgevolg met ‘n reeks dienste oor heiligmaking. Dr. R.A. Torrey is gewoonlik genooi om vir ‘n week lank sy reeks van agt boodskappe oor heiligmaking te bring. Daardie besondere boodskappe van hom is ook in Afrikaans vertaal en uitgegee onder die titel: Die Heilige Gees: Wie Hy is en wat Hy Doen. Dit het ‘n baie groot verskil in jong gelowiges se lewens gebring, deurdat hulle geloof en toewyding baie sterk bevestig is. Charles Finney het weer met ‘n tydskrif begin om verdere onderrig aan sy bekeerlinge te gee. Sommige van hulle het nagelaat om ‘n volle oorgawe te doen en die Here van harte te dien. Hy het hulle ‘n verleentheid vir die Christendom genoem. Sy spesifieke woorde was: “You are a disgrace to Christianity.” Heiligmaking en geestelike groei is baie duidelik aan hulle verkondig, maar nie almal het dit ter harte geneem en die Here met ‘n onverdeelde gesindheid gedien nie.

Wanneer ‘n prediker net bekering verkondig en nie heiligmaking nie, is hy ‘n evangelis – niks meer en niks minder nie. Só ‘n persoon kan homself nie ‘n herlewingsprediker noem nie, en ook nie die bekering van groot getalle mense as ‘n herlewing beskryf nie. Daar móét eers duidelike aandag aan heiligmaking gegee word, én ook ‘n oproep na teruggevallenes uitgaan om weer hulle saak met die Here reg te maak, voordat daar van herlewing gepraat kan word. Die redes vir geestelike doodsheid in ‘n gemeenskap moet duidelik uitgewys word, en die oplossing van heiligmaking ondubbelsinnig verkondig word.

Angus se bediening maak nie vir hierdie tweede fase van dieper geestelike onderrig voorsiening nie, daarom is dit ietwat voorbarig van hom om telkens te sê: “We are in revival.” Die afwesigheid van hierdie belangrike aspek van herlewing verklaar die verskynsel waarom daar nie ‘n noemenswaardige verandering in die lae geestelike standaarde van die meeste kerke in Suid-Afrika plaasvind nie. Angus is blykbaar nie baie besorg oor die probleem van opvolgwerk nie, want Hy het in ‘n onderhoud gesê dat die Here maar daarvoor moet sorg. Die Here het sy diensknegte egter beveel om van alle bekeerlinge ook dissipels te maak, en dit behels intensiewe onderrig uit die Woord ná bekering. Indien ‘n evangelis dit nie self kan doen nie, moet hy met ‘n ander bediening saamwerk wat in hierdie behoefte kan voorsien.

Die geestelike standaard in die meeste kerke is beslis ‘n bron tot kommer. Die feit dat Angus in Suid-Afrika meesal Afrikaanssprekende mense na sy byeenkomste trek en baie van hulle daar tot bekering kom, is ‘n aanduiding dat prediking hieroor in die meeste van die Afrikaanse kerke nie duidelik en oorredend genoeg gedoen word nie, en daarom nie resultate oplewer nie. Indien bekering nie uitdruklik verkondig word en kerkgangers hiertoe opgeroep word nie, is dit vanselfsprekend dat die leer oor heiligmaking ook verwaarloos sal word.

Selfs al gaan Angus nie verder as bekering in sy uitreike nie, moet hy nogtans geëer word vir dit wat hy wel doen. Dit is verblydend dat ‘n hoë profiel persoon wat in die media-kollig is, nederig én moedig genoeg is om na Jesus Christus as die enigste Verlosser van die wêreld te verwys. Hy noem ook dikwels sondes by die naam wat tussen mense en die Here staan. Daarsonder sal mense nie ten volle van hulle sondige en verlore toestand bewus raak nie.

Die feit bly nietemin staan dat evangelisasiewerk wat nie deur verdere intensiewe onderrig uit die Bybel opgevolg word nie, in baie gevalle na ‘n oppervlakkige verandering lei wat nie standhoudend is nie. Dit is soos saad wat in vlak grond gesaai word. Dit kom gou op, maar kan nie die druk van negatiewe omstandighede weerstaan en oorleef nie. Dit is waarom baie van die bekeerlinge tydens veldtogte ná ‘n tyd weer na hulle ou lewenspatrone terugkeer.

Daar is in die verlede al gevallestudies gedoen oor bekeerlinge tydens evangelisasiedienste. Op plekke waar daar nie evangeliese gemeentes of Bybelstudiegroepe met hoë standaarde  was waarin die bekeerlinge geestelike onderrig kon kry nie, het tot meer as 90% van hulle nie by hulle aanvanklike oorgawe gebly nie. Angus sal terdeë van hierdie ernstige feit moet kennis neem. In moderne prediking word redding dikwels aan predestinasie en doopsaligheid gekoppel, sonder ‘n persoonlike keuse, terwyl die opdrag tot heiligheid deur moralisering en goeie menseverhoudings vervang word. Die mens-God-verhouding, soos gesien kan word in gebed, persoonlike heiligheid en ‘n Christelike getuienis, ontvang baie min beklemtoning.

Indien Angus meer sukses wil hê, sal iets konkreet gedoen moet word om vir tweede fase evangelisasie voorsiening te maak. In sy sendingopdrag het Christus nie net gesê dat die evangelie na alle nasies uitgedra moet word nie, maar ook dat die bekeerlinge geleer moet word om alles te onderhou wat Hy aan sy dissipels beveel het (Matt. 28:19). Dit is ‘n intensiewe en langdurige taak wat gewoonlik meer suksesvol in kleingroepverbande gedoen kan word, of dan ten minste deur die verskaffing van goeie leesstof, insluitend materiaal oor Bybelstudie en dissipelskap. Bystand moet deur besoekende predikers gelewer word.

Daar is ook verskeie ander sake in verband met Angus se prediking wat kommer wek. Hy verwys soms na hoogs twyfelagtige moderne predikers in Amerika wat sterk op wonderwerke en uiterlike tekens ingestel is, as rolmodelle. Verder toon hy nie genoeg begrip vir die Bybelse eskatologie nie. Hiervolgens stuur die wêreld aan die einde van die kerkdispensasie op ‘n donker tyd van geestelike verval, verdrukking en antichristelike misleiding af. Dit lei na ‘n polarisasieproses waarin dié wat vuil is, vuiler sal word, en dié wat heilig is, heiliger moet word. Bekeerlinge moet op hierdie situasie voorberei word, omdat dit groot eise aan hulle toewyding aan die Here gaan stel.

In plaas van hierdie boodskap gee Angus sy ondersteuning aan koninkrykshervormings, in terme waarvan die hoop gekoester word dat indien die meeste mense tot bekering kom, toestande in lande soos Suid-Afrika en Zimbabwe geestelik, moreel, polities en ekonomies weer sal regkom. Hierdie verwagting is in stryd met die Bybelse scenario dat die meeste mense tot in die eindtyd bewandelaars van die breë weg sal wees, en dat ons in die wêreld daarbuite eerder groot afvalligheid en wetteloosheid te wagte kan wees. Die Here Jesus het gesê dat die eindtydse wêreld op ‘n groot verdrukking afstuur (Matt. 24:21).

‘n Ander probleem wat beslis nadelige gevolge inhou, is dat Angus só op goeie verhoudings en ekumeniese byeenkomste ingestel is, dat hy die onderwerp van geestelike dwalings heeltemal vermy en dus nie ‘n apologetiese element in sy prediking het nie. Daardeur doen hy ‘n groot onguns aan jong bekeerlinge, want hulle kry by hom geen riglyne oor die identifisering van misleidende leerstellings nie. Dit is goed en wel om van morele sondes verlos te word, maar daar is ook geestelike dwalings waarteen gelowiges gewaarsku moet word. By een van Angus se saamtrekke in Port Elizabeth is dvd’s gratis by die hekke uitgedeel waarin ‘n valse eskatologie verkondig word, asook ‘n wettiese leefwyse wat die onderhouding van die Ou Testamentiese sabbat op Saterdae insluit. Die ontvangers het nie geweet of die geskenk van Walter Veith se dvd met Angus se medewete en goedkeuring uitgedeel is nie.

Die onderliggende rede waarom daar nie teen dwalings, geestelike louheid en vormgodsdiens gewaarsku word nie, is om nie aanstoot te gee nie en daardeur goeie verhoudings met kerke te bevorder. Baie van Angus se steun kom van kerke af, omdat hulle belang daarby het as groot getalle mense na die kerk teruggeroep word. Omdat hy nie leerstellig enige van hulle konfronteer nie, voel hulle nie deur sy bediening bedreig nie – hy verkondig net bekering. Die afwesigheid van leerstellige diepte is juis deel van Angus se uiterlike sukses.

Met die herlewingspredikers was dit egter heel anders gesteld, want hulle het vir hulleself geweldige kritiek deur vormgodsdienstiges op die hals gehaal. Andrew Murray is sterk deur sekere groepe in die NG Kerk teëgestaan toe hy die gebrek aan heiligmaking as ‘n tweede genadewerk uitgewys het. Hy het ook ‘n groot opskudding veroorsaak toe hy in 1864 in Kaapstad ‘n preek gelewer het waarin hy gesê het dat ‘n mens gered word of verlore gaan op grond van sy vrye wil. Volgens hom het die Here nie net sekere mense vir redding uitverkies nie, omdat Hy wil hê dat almal gered moet word. Nogtans het die meerderheid lidmate en predikante in die kerk van daardie tyd hom gesteun. Vandag wil baie van hulle nie eers sy boeke lees nie. Om basies dieselfde redes is John Wesley deur ‘n groot aantal predikers in die Anglikaanse Kerk in Engeland verwerp, terwyl ander weer hulle deure vir hom oopgegooi het. Op plekke waar hy verwerp is, het hy sale gehuur of in die opelug gepreek. Charles Finney is in Amerika deur verskeie leraars van die Presbiteriaanse Kerk waaraan hy behoort het, weerstaan. Opposisie het die herlewingspredikers egter nie van koers af gedwing nie, en hulle prediking het soos ligte geskyn te midde van ‘n krom en verdraaide geslag.

Die feit dat Angus Buchan as evangelis nie op dieselfde vlak as die herlewingspredikers geplaas kan word nie, doen nie afbreek aan die feit dat hy ‘n belangrike boodskap verkondig nie. Die waarde van een siel wat gered word, is meer as al die skatte van die wêreld. Hoewel hierdie belowende aksie nie deur ‘n duidelike strategie vir tweede fase werk gerugsteun word nie, en baie van die goeie werk as gevolg daarvan weer ongedaan gemaak word, was en is sy prediking vir baie ander mense nogtans ‘n groot seën. Daaroor moet ons bly wees.

Beginsels van toewyding

As ‘n slotgedagte moet ons kortliks kennis neem van die manier waarop mense geleef het wat uit ‘n ware herlewingsbeweging kom. John Wesley was ‘n baie praktiese teoloog wat altyd sterk klem op die mens se verantwoordelikheid in sy toewyding aan die Here gelê het. Dit was glad nie ‘n vorm van werkeheiligheid nie, maar heiligmaking in die praktyk. Volgens 2 Korinthiërs 7:1 moet elke Christen “die heiligmaking in die vrees van God volbring”. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op ons om gedissiplineerde, ordelike lewens te lei. Wesley het gesê dat elkeen van ons ‘n vaste besluit moet neem om niks meer tyd of geld op sinnelose dinge te verkwis nie.  As ‘n riglyn vir só ‘n lewe het hy die volgende reëls oor die gebruik van tyd aan die hand gedoen:

1.    Begin elke dag met God.

2.    Wees ywerig in jou roeping.

3.    Gebruik alle spaartyd vir godsdiens.

4.    Maak alle vakansiedae heilige dae.

5.    Vermy dronkaards en bemoeisieke mense.

6.    Vermy nuuskierigheid en alle sinnelose toepassings van kennis.

7.    Ondersoek jouself elke nag.

8.    Laat nooit ‘n dag verbygaan sonder dat jy ten minste ‘n uur aan stiltetyd gewy het nie.

9.    Vermy alle vorms van passie – dit is moeilik beheerbare of onbeheerbare emosies, bv. woede-uitbarstings, oordrewe seksuele gevoelens, ‘n oormatige liefde vir vermaak, sport, ens.

Hierbenewens het hy ook ‘n aantal algemene reëls vir die Christen se ingesteldheid tot die lewe geformuleer:

1.    Verantwoord alle dade van jou in terme van jou einddoel. Wat wil jy daarmee bereik?

2.    Begin alle ondernemings in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees.

3.    Begin alle belangrike take met gebed.

4.    Moenie jou pligte by die werk versuim omdat dit probleme of versoekings vir jou meebring nie. Een daad van selfverloëning wat jy vir die Here doen, beteken meer as baie roetinetake.

Werke moet altyd in hulle korrekte plek as die vrug van geloof geplaas word. Omdat geloof sonder werke dood is (Jak. 2:26), moet almal van ons toesien dat ons vrugte dra wat by die bekering pas. Menslike werke sonder geloof is humanisties gemotiveerd en het geen geestelike waarde nie. Ons moet in die geloof tot God nader om gered te kan word, en ons daarna diensbaar maak tot geregtigheid. Dit is net dié werke wat uit ‘n ware geloof voortspruit, wat ewigheidswaarde het.