Prof. Johan Malan, Middelburg (Mei 2008)
Soos wat die einde van die kerkbedeling elke dag nader kom, ontstaan daar groter spanning tussen die ou, Christelike bedeling wat aan die verdwyn is en die antichristelike nuwe wêreldorde waardeur dit besig is om vervang te word. Die stygende spanning vloei voort uit groter druk vir die beëindiging van die ou orde met sy beginsels, denkwyse en tradisies, sodat dit vir die paradigmas en gebruike van die nuwe orde kan plek maak.
Dit is onmoontlik om wêreldgebeure reg te kan verstaan sonder om die dieper geestelike motivering daarvoor in ag te neem. Sedert die skepping en sondeval was daar twee geestelike koninkryke wat vir die beheer oor die mensdom in kompetisie met mekaar was – dit is die koninkryk van God en die koninkryk van Satan. In die kerkbedeling, ná die eerste koms van Christus, het dié stryd aansienlik verskerp.
Almal wat weergebore is, behoort aan Christus se onsigbare koninkryk wat nie van hierdie wêreld is nie (Joh. 3:3; 18:36). Hulle word deur die Here Jesus uit “die teenwoordige bose wêreld” uitgered (Gal. 1:4). Deur sy genade het God ons “verlos uit die mag van die duisternis en oorgebring in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kol. 1:13). Die verstand en harte van alle ongeredde mense word deur die god van hierdie wêreld (Satan) verblind sodat hulle die evangelie van Christus nie moet verstaan en aanvaar nie (2 Kor. 4:4). Hulle is sy handlangers om ook baie ander mense te mislei en van Christus se koninkryk af weg te hou. Beide hierdie koninkryke maak nou gereed om sigbaar op aarde geopenbaar te word en alleenbeheer oor alle mense te beoefen.
Slegs ‘n klein minderheid evangeliese Christene tree as kampvegters vir die ‘ou’ Bybelse leefwyse op wat vinnig besig is om in postmoderne samelewings te verdwyn. Hierdie getuies vir Christus word toenemend daarvan bewus dat hulle vreemdelinge en bywoners in ‘n snel veranderende wêreld is wat tot ‘n groot mate in die mag van die Bose lê (1 Pet. 2:11; 1 Joh. 5:19). Die finale oorskakeling sal plaasvind wanneer die Here die evangeliese Christene, wat die lig van die wêreld is, deur die wegraping weggevoer het sodat die Antichris geopenbaar kan word om die koninkryk van die duisternis met al sy veragtelike kenmerke in te stel.
Ons leef in ‘n tyd van verskerpte misleiding met die oog op die spoedige openbaring van die koninkryk van Satan onder die leiding van die Antichris. Die belangrikste doelstellings met geestelike misleiding deur die eeue heen was die geestelike ontsporing van ware gelowiges, die verdere verblinding van Satan se eie volgelinge en die eindtydse verskyning van die Antichris as die mens van sonde. Onder sy leiding sal daar ‘n internasionale sonde-kultuur gevestig word:
“Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is... En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:3-12).
Die groot afvalligheid van die laaste dae gaan op die openbaring en internasionale aanvaarding van die Antichris as wêreldleier én wêreldmessias uitloop. Hy sal sonde en ongeregtigheid aanmoedig en, wanneer sy leierskap goed gevestig is, homself in uiterste arrogansie tot God verklaar. Wanneer Christus verskyn, sal Hy hierdie misleier op aarde aantref en hom, sy regering én sy volgelinge onmiddellik verdelg.
Die feit dat die Antichris kort voor die wederkoms van die Here Jesus op aarde gaan verskyn en ‘n magsposisie verkry, is ‘n duidelike bewys daarvan dat die sigbare openbaring van God en Satan se koninkryke op aarde vinnig opmekaar gaan volg. Eers kom die hemelse Bruidegom sy bruidsgemeente haal, daarna word die mens van sonde sonder teëstand geopenbaar, en sewe jaar later word hy tydens Christus se wederkoms verdelg.
Wat die oorskakeling van die kerkbedeling na die bedeling van die Antichris se regering betref, volg Satan se koninkryk ‘n baie misleidende strategie om dit so glad en aanvaarbaar as moontlik te laat verloop. Dit bly Satan én die Antichris se groot doel om uiteindelik in God se plek as God aanbid te word, daarom gaan die Antichris só geopenbaar word dat mense aanvanklik moet dink dat hy die ware Christus is. Dit sal groot openbare steun vir hom in die tradisioneel Christelike wêreld verseker.
Omdat hy egter die universele messias van alle gelowe wil wees, moet daar vooraf ‘n baie sterk intergeloofs- of multigodsdienstige beweging op aarde gevestig word. As vertrekpunt hiervoor moet God as die God van alle gelowe voorgehou word. Mense moet dus glo dat Jahweh, Allah en Brahma dieselfde God is. Wanneer dit gedoen word, sal dit maklik wees om in samehang daarmee ‘n intergeloofsmessias aan die wêreld voor te hou.
Met die oog hierop het Satan reeds die meeste groot kerke en hulle kweekskole met hierdie leuens binnegedring. Hulle glo nou die leuen dat die God van die Bybel die God van alle gelowe is, en het reeds ver gevorder om Jesus van sy uniekheid en goddelike attribute te stroop, sodat die universele messias van alle gelowe maklik in sy naam geopenbaar kan word.
Satan se medewerkers het die Christenwêreld en sy kerke reeds só ver van die Bybel as die letterlik geïnspireerde en onfeilbare Woord van God laat afwyk dat hy nou maklik verdere misleidingswerk onder hulle kan doen. Baie van hulle is reeds só ver mislei dat hulle nie eers meer in die bestaan van die duiwel of die Antichris glo nie. Dit, saam met die aftakeling van die ware Christus se beeld en eienskappe, sal veroorsaak dat die Antichris soveel makliker deur die misleides as “die Christus” aanvaar sal word.
Satan se agente vermom hulleself baie goed: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ‘n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Kor. 11:13-15). Die Here Jesus het ons teen hulle gewaarsku: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5).
Die misleiding sal voortduur totdat die wegraping plaasvind en die valse messias direk daarna sonder weerstand geopenbaar sal kan word. Hy sal feitlik onmiddellik wêreldwye ondersteuning geniet en spoedig alle gelowe by sy alliansie van wêreldgodsdienste betrek.
Die Here Jesus gaan die eerste stap in die implementering van sy profetiese program vir die laaste sewe jaar voor sy wederkoms neem deur sy bruid weg te voer hemel toe (Joh. 14:2-3). Op die oomblik wanneer God se basuin vir hulle blaas, sal al die ontslape gelowiges uit hulle grafte opstaan, verheerlikte liggame ontvang en saam met die lewende gelowiges weggevoer word, die Here tegemoet in die lug:
“Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees” (1 Thess. 4:16-17).
Paulus beskryf hierdie gebeurtenis ook vir die Korinthiërs:
“Kyk, ek deel julle ‘n verborgenheid mee: Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word” (1 Kor. 15:51-52).
By hierdie geleentheid is dit net die regverdige dode wat uit hulle grafte opstaan: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6). Die ongeredde dooies sal in hulle grafte bly totdat die duisendjarige vrederyk verby is, wanneer die eindoordeel sal plaasvind (Op. 20:5,11-15).
Die wegraping word ook uit die oogpunt van die laaste geslag Christene se aardse bestaan as ‘n ontvlugting beskryf: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Dit sal vir hulle ‘n ontvlugting uit die sewe jaar lange verdrukking wees wat ná hulle wegvoering op aarde sal aanbreek.
Die kinders van die Here is die tempel van die Heilige Gees (1 Kor. 6:19), en as sodanig die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde (Matt. 5:13-14). Eers wanneer hulle weggeneem is, kan die uur van geestelike duisternis op aarde aanbreek, die Antichris sonder teëstand geopenbaar word, en alle verharde sondaars deur God gestraf word omdat hulle nie waardig was om die verdrukking te ontvlug nie. Soos in die tyd van Noag en Lot móét die gelowiges eers uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder word voordat die Here se oordele oor ‘n bose geslag mense uitgestort kan word (Luk. 17:26-36).
Die wegraping sal die formele einde van die kerkdispensasie wees, waarna God se raadsplan met Israel verder ten uitvoer gebring sal word. In die eerste geslag ná Christus se kruisiging is Israel as God se spesiale getuies uit hulle eie land uitgefaseer en onder die nasies verstrooi. In daardie tyd is die kerk van Christus as God se spesiale getuies en gesante onder die nasies ingefaseer. Nou, in die laaste geslag voor Christus se wederkoms, word Israel na hulle land teruggebring in afwagting op hulle geestelike herstel as God se spesiale getuies, terwyl die kerk gereed moet maak om deur middel van die wegraping uitgefaseer te word.
Die komende verdrukking van sewe jaar, wat net ná die wegraping sal begin, kan net reg verstaan word as dit binne die raamwerk van Israel se jaarweke beoordeel word. Israel se heilsgeskiedenis vanaf die einde van die Babiloniese ballingskap tot met die aanbreek van die Messiasryk, word in Daniël 9:24-27 binne die raamwerk van 70 jaarweke geplaas. In hierdie tydperk sal twee messiasse ‘n prominente rol vervul – die ware Messias en die valse messias:
“Sewentig sewetalle is oor jou volk [Israel] en jou heilige stad [Jerusalem] bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die 62 sewetalle [m.a.w. ná 7 plus 62 sewetalle] sal ‘n Gesalfde [die Messias] uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom [die valse messias], sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy [die valse messias] sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week [ná 3½ jaar] sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Dan. 9:24-27).
Die 70 jaarweke staan met die volgende belangrike gebeurtenisse in verband:
· Aan die begin van die 70 jaarweke, in 445 v.C., is opdrag deur koning Artasásta aan die Jode in die ballingskap gegee om Jerusalem en die tempel te gaan herbou (Neh. 2:1-9).
· Die aanvanklike bouwerk aan die stad en tempel is ná 7 jaarweke voltooi.
· In die daaropvolgende 62 jaarweke is Jerusalem in tye van benoudheid verder uitgebrei en bewoon.
· Aan die einde van 69 (7+62) jaarweke, in April 32 n.C., is die Messias in Jerusalem verwerp en gekruisig.
· Omdat Israel die Messias verwerp het, is God se heilsplan met hulle as volk tydelik ter syde geskuif en is die evangelie na die ganse nie-Joodse wêreld uitgedra. In hierdie tyd was Israel in ‘n internasionale ballingskap onder die nasies (Luk. 21:24).
· Die eindtydse herstel van Israel in hulle land het in 1948 begin, terwyl die verklaring van Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel in 1980 plaasgevind het.
· Die toneel is nou gereed vir die begin van die 70ste jaarweek van Daniël, wanneer die valse Messias met Israel en die nasies ‘n verbond sal sluit.
· In die middel van die 70ste jaarweek sal die Antichris die offerdiens in die herboude tempel opskort en homself in die Allerheiligste tot God verklaar. Hy sal ook ‘n afgodsbeeld van homself daar laat oprig en almal dwing om dit te aanbid. As gevolg hiervan sal Israel hulle verbond met hom verbreek en dan vinnig vir oorlewing uit Jerusalem moet vlug.
· Aan die einde van die 70ste jaarweek sal die ware Messias kom, die valse messias en sy magte verdelg en die hele oorblyfsel van Israel fisies uitred én ook geestelik lewend maak. Hierna sal die Messiasryk aanbreek en ewige geregtigheid sal in Israel heers, soos in Daniël 9:24 in die vooruitsig gestel is. Almal in Israel sal die Messias van harte dien en sy spesiale getuies op aarde wees (vgl. Jer. 31:33-34; Sag. 8:23).
Die sewentig jaarweke verwys nie na seisoensjare of maanjare nie, maar na 490 profetiese jare van 360 dae elk (vgl. Op. 11:2-3, 12:6 en 13:5 waarin daar na die twee helftes van die 70ste jaarweek as 42 maande en ook as 1260 dae verwys word, m.a.w. maande van 30 dae elk). Profetiese jare sny oor seisoens- en maanjare en word gebruik om by drie presiese datums uit te kom. Die eerste een is die kruisiging van die Messias ná 69 jaarweke, die tweede een is die ontheiliging van die tempel deur die Antichris in die middel van die 70ste jaarweek wanneer hy homself tot God sal verklaar, en die derde een die einde van die 70ste jaarweek wanneer Christus sal terugkom om die Antichris en sy regering te vernietig.
Geen konkrete aanduiding word gegee oor hoe lank die tydsgaping tussen die 69ste en 70ste jaarweke sal wees nie, daarom kan ons nie die datum van die wegraping wiskundig bereken nie. Die oomblik wanneer die 70ste jaarweek egter met die verbond tussen die Antichris en Israel begin, sal daar ‘n vaste grondslag vir die aftelling van eindtydse gebeure binne die raamwerk van een jaarweek wees. Aan die einde daarvan sal die hele Israel gered word en die ewige geregtigheid van Christus se koninkryk aanbreek.
Daar het presies 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-9), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van die Randse Afrikaanse Universiteit het in ‘n artikel in 1984 (Die kruisigingsdatum van Jesus eeue tevore geprofeteer) daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ‘n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op ons Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die dag waarop Jesus gekruisig is. Al wat hierna in die heilsgeskiedenis van Israel as volk oorbly totdat die Messiasryk aanbreek, is sewe jaar – die 70ste jaarweek van Daniël, wat deur die volk se verbond met die valse messias ingelui sal word.
Die verwerping en kruisiging van die Messias het ‘n onderbreking van ‘n ongespesifiseerde lengte in Israel se heilsgeskiedenis tot gevolg gehad. Die King James vertaling sê: “Messiah shall be cut off” (Dan. 9:26). Volgens Jesaja 53:8 is die Messias tydens sy kruisiging “afgesny” uit die land van die lewendes. Hiermee is God se heilsplan vir Israel as volk weens hulle verwerping van die Messias onderbreek. Jesus het vir die Jode gesê dat hulle huis (Jerusalem) verwoes sou word omdat hulle Hom as Messias en Koning verwerp het (Matt. 23:37-38), en dat Hy as gevolg daarvan sou weggaan totdat hulle Hom tydens ‘n toekomstige ontmoeting as die beloofde Messias sal aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).
In die tussentyd sou Israel onder die nasies verstrooi wees. Jesus het gesê: “[Julle sal] as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Dit impliseer baie duidelik dat Israel in die laaste dae as volk in die land wat die Here aan hulle vaders gegee het, herstel sal word: “So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land” (Eseg. 37:21).
Israel sal aan die begin van die 70ste jaarweek van Daniël, wat direk voor die ware Messias se wederkoms sal verloop, ‘n verbond met die valse messias sluit. Jesus het hulle hierteen gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Dit is dus duidelik dat die onderbreking in die 70 jaarweke op die verwerping van die ware Messias gevolg het, en sal strek tot op die dag wanneer Israel ‘n verbond met die valse messias sluit. Dan sal die aftelling van die laaste jaarweek voor die koms van die Messias begin.
Die Sanhedrin, ‘n tradisionele Joodse Raad van godsdiensleiers wat die hoogste regsplegende liggaam binne die raamwerk van die Torah in Israel was, is op 13 Oktober 2004, nadat dit eeue lank in onbruik was, weer in Israel in die lewe geroep. Hulle geniet egter nie amptelike status in die land nie, en word net deur ortodokse Jode erken. Die nuwe Sanhedrin bestaan uit 71 vooraanstaande rabbi’s en ander Joodse geleerdes. Gedurende die tyd van die tweede tempel (die tempel van Herodes in die eerste eeu) was daar ‘n Sanhedrin wat ook uit 71 lede bestaan het. Hulle het in ‘n spesiale vertrek op die tempelterrein in die vorm van ‘n halwe sirkel gesit.
Op byeenkomste van die Sanhedrin word die moontlikheid van die herbouing van die tempel in Jerusalem bespreek. Hulle probeer om die presiese plek vir die bou van die derde tempel te bepaal. Dit is baie moeilik omdat daar nie op dié terrein argeologiese opgrawings gedoen mag word nie, aangesien die Tempelberg onder die beheer van ‘n Moslem-komitee is.
Nadat Israel die Tempelberg in 1967 van Jordanië herower het, het hulle dié terrein aan Moslem-beheer afgestaan weens die teenwoordigheid van moskees wat druk besoek word. Vir Moslems is dit die derde heiligste plek ná Mekka en Medina. Jerusalem word egter nie in die Koran genoem nie, en Moslems gebruik die teenwoordigheid van die Palestyne in Israel net om die Joodse volk te ondermyn en van hulle regte op die land en die stad Jerusalem te beroof. Dit is die rede vir die sterk weerstand van die Moslems teen die herbouing van die Joodse tempel, asook opgrawings op die Tempelberg om die fondasies van die vorige tempel bloot te lê. Die nuwe Sanhedrin het ‘n komitee bestaande uit professore, argeoloë en geestelikes gevorm om die saak van die tempel se ligging en toekomstige herbouing te ondersoek en aan die volle Raad verslag te doen.
Rabbi Chaim Richman, een van die uitvoerende raadslede, het gesê dit is paslik dat die nuwe Sanhedrin met besinning oor die tempel begin, omdat die tempel van groot belang in die kulturele en godsdienstige identiteit van die Joodse volk is. Hy het dit betreur dat die Joodse regering uit sekere gedeeltes van Israel se grondgebied onttrek en sodoende van Israel se droom van volle herstel afgesien het. Die Sanhedrin soek egter na maniere om die wortels van die Joodse geloof te versterk en Israel weer as die uitverkore volk rondom die tempeldiens en die Torah te verenig.
Die Sanhedrin erken glad nie die huidige demokratiese regering van Israel nie, en het dit vir hulleself ten doel gestel om vir die land ‘n koning te kies. Dit plaas hierdie ortodokse leiers op ‘n gevaarlike pad, omdat die valse messias homself as ‘n afstammeling van koning Dawid sal voordoen en op Israel se koninklike troon aanspraak sal maak. Hulle terugkeer na die eise van die Torah het die Raad vroeg in 2007 daartoe gelei om briewe aan alle regerings te skryf waarin hulle aandui dat die wêreld op ‘n rampspoedige koers is. Hulle stel voor dat die tempel in Jerusalem herbou word sodat God se teenwoordigheid weer ervaar kan word om vrede op aarde te verseker. As Bybelse regverdiging vir hierdie standpunt haal hulle Jesaja 2:1-4 aan, wat dit duidelik stel dat die Here se wet uit Jerusalem oor die hele aarde sal uitgaan.
Rabbi Chaim Richman van die Sanhedrin is ook hoof van die Tempelinstituut in Jerusalem. Hierdie Instituut is met die versameling en vervaardiging van meubelstukke, altare, spesiale toerusting en kledingstukke vir priesters besig, wat vir die hervatting van die tempeldiens nodig is. Hulle het reeds ‘n goue kandelaar en koper waskom laat maak, asook ‘n goue kroon vir die hoëpriester. Die kleed en mus van die hoëpriester is gereed, en tans word daar uitrustings vir 120 van die gewone priesters gemaak.
Verskeie persone uit die stam van Levi word as priesters in spesiale priesterskole in Jerusalem en New York opgelei. Daar is 613 Ou Testamentiese wette waarvan hulle kennis moet dra. Van 15 tot 19 Julie 2007 is daar ook ‘n groot konferensie vir priesters en Leviete in Jerusalem gehou. Jode met die van Cohen stam almal van die heel eerste priester, Aäron, af en mag dus as priesters opgelei word.
Om begryplike redes sal die Sanhedrin baie bly wees wanneer die valse messias op die toneel verskyn, want hy sal homself as die ware Messias en ‘n afstammeling van koning Dawid voordoen. Hy sal tot alle ortodokse Jode se harte spreek deur aan Israel die reg te gee om die tempel langs die moskee te bou. Groot ontnugtering sal egter hierop volg.
‘n Belangrike dispensasionele verandering sal met die openbaring van die Antichris kort ná die wegraping intree. Om hierdie oorskakeling uit die oogpunt van die koninkryk van die duisternis suksesvol te kan doen, moet daar vooraf grootskaalse geestelike misleiding plaasvind. Intergeloofsdenke (godsdienstige globalisme) moet só sterk gevestig wees dat alle gelowe op aarde ‘n selfverklaarde wêreldmessias wat skielik op die toneel sal verskyn, as die vervulling van hulle eie messiaanse verwagtings sal aanvaar:
· Nominale Christene sal in daardie stadium weens die postmoderne dekonstruksie van die beeld, persoon, goddelike attribute en verlossingswerk van Jesus Christus reeds só erg mislei wees dat hulle Hom as ‘n blote profeet sal beskou en op ‘n gelyke vlak met die messiasse van ander gelowe sal stel. Hy sal as ‘n lid van ‘n geestelike hiërargie beskryf word waaruit die leiers van alle gelowe kom, en dus as een van baie wegbereiders vir die koms van die kosmiese Christus van alle gelowe. Wanneer die valse Christus van alle gelowe (die Antichris) verskyn, sal hulle hom as “die Christus” aanvaar en navolg (Matt. 24:4-5). Hulle sal werklik dink dat dit Jesus Christus is wat net in ‘n effens ander gedaante teruggekeer het.
· Jode sal die komende Christus (Messias in Hebreeus) heelhartig aanvaar omdat Hy Joods in afkoms sal wees, met hulle ‘n verbond sal sluit en aan hulle die reg sal gee om die tempel in Jerusalem te herbou. Dit sal ‘n baie groot fout wees, maar hulle sal beslis die verkeerde messias aanvaar omdat hulle graag die tempel wil herbou (Dan. 9:27; Joh. 5:43). As gevolg van die sterk invloed van multigodsdienstige denke in die wêreld sal dit hulle nie pla dat hulle “Messias” ook met Islam en ander gelowe verbonde sluit nie.
· Moslems verwag die terugkeer van Jesus Christus, seun van Maria, wat 97 keer in die Koran genoem word. Hulle beskou hom nie as God of die seun van God nie, maar as ‘n slaaf van Allah en ‘n wegbereider vir sy broeder, profeet Mohammed. Volgens hulle sal hy Islam tot die enigste wêreldgodsdiens verhef en almal verdelg wat dit nie wil aanvaar nie. Hy sal in samewerking met die Imam Mahdi van Islam optree en sewe jaar lank regeer voordat die wêreld geoordeel sal word.
· Hindoes sal die komende Christus as ‘n inkarnasie van Krishna aanvaar, wat op sy beurt ‘n inkarnasie van hulle god Vishnu was. Hulle sal hom ook die Kalki Avatar noem – die Wit Perd Avatar. Hy sal die finale oorwinning oor boosheid op aarde behaal en ook die apokaliptiese slang vernietig. Die verwagting van alle gelowe sal in hom vervul word, omdat hy vir alle mense die wêreldmessias sal wees wat die duisternis van lyding en boosheid finaal sal laat opklaar. Onder sy bewind sal daar vrede en eenheid op aarde wees.
· Boeddhiste verwag die verskyning van die vyfde Boeddha, wat as die Maitreya Boeddha bekend staan. In die Boeddhistiese eskatologie word daar aan Maitreya Boeddha ook ander titels gegee, waarvan die Christus een van die belangrikste is. Die leier van ‘n Boeddhistiese organisasie in Engeland, Bejamin Creme, het ‘n boek geskryf met die titel: The Reappearance of the Christ and the Masters of Wisdom. Hierin sê hy dat daar spoedig ‘n wêreldmessias op die toneel sal verskyn in wie die messiaanse verwagtings van al die groot godsdienste vervul sal word. Hy sal tegelyk ‘n inkarnasie van Maitreya Boeddha en Krishna wees, en verder ook ‘n medewerker van Mohammed en die komende Islamitiese Imam Mahdi, asook die Joodse Messias en die hoof van die Christendom.
In die lig hiervan is dit duidelik dat die hele wêreld geestelik agter dieselfde leier verenig sal word om hom in verwondering te dien (Op. 13:3). Satan sal hom bemagtig om groot wonderwerke te kan doen (2 Thess. 2:8-10; Op. 13:2). Sy verskyning sal as ‘n engel van die lig wees (2 Kor. 11:14-15), en ook as die ruiter op ‘n wit vredesperd (Op. 6:2). Hy sal tydens ‘n dreigende derde wêreldoorlog in die Midde-Ooste op die toneel verskyn. Saam met sy mede-regeerder, die valse profeet, sal hy die krediet vir die oorwinning opeis nadat God die vyandelike magte op die berge van Israel verdelg het (vgl. Eseg. 39:2-6; Op. 13:11-13).
Die wêreldmessias sal die volgelinge van alle gelowe erken, prys en onder sy naam verenig. Godsdiensvryheid sal aan almal belowe word, op voorwaarde dat hulle hom as hulle gemeenskaplike messias erken. Die misleides sal dit graag doen, omdat dit vir hulle die mees verhewe uitdrukking van globalisme en vreedsame naasbestaan in die wêreld sal wees. Israel sal veral oor hulle nuutgevonde messias in vervoering wees, omdat hy hulle oënskynlik van ‘n dreigende uitwissingsoorlog verlos het waaraan Rusland, Iran en verskeie ander Moslemlande deelgeneem het (Eseg. 38-39). Die Jode sal in groot haas die tempel in Jerusalem herbou en ook die Ou Testamentiese offerdiens herstel. Hierdeur sal hulle opnuut uitdrukking aan hulle nasionale verwerping van Jesus se Messiasskap en sy offer aan die kruis gee. Dit sal die Antichris goed pas. Israel sal die komende Christus nie as die wederkoms van Jesus van Nasaret sien nie, maar as die eerste koms van die ware Messias. Hiermee sal hulle hulself grootliks misreken en tot hulle eie nadeel ‘n verbond met Satan se koninkryk sluit.
Die tyd wanneer die Antichris geopenbaar word, sal die ware kerk as die tempel van die Heilige Gees weg wees – dan sal daar niemand wees wat Israel en die nasies teen die Antichris se oorname en oorheersing kan waarsku nie. Vroeg in die verdrukking, kort ná die Antichris se openbaring, sal die Here egter met die geestelike herstel van Israel begin en sy Gees oor ‘n verteenwoordigende groep van 144 000 Jode uit al twaalf die stamme van Israel uitstort (Op. 7:1-8). Dit sal die eerste groep Jode wees wat ná die kerkbedeling binne volksverband gered sal word.
Hierdie herlewing sal die begin van die geestelike ontwaking van Israel wees, wat eers sewe jaar later met die koms van die ware Messias afgehandel sal wees. Dit sal die vervulling van die volgende profesie wees: “Oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10).
Voordat die uiteindelike redding van Israel plaasgevind het, sal die meerderheid van hulle in die groot verdrukking (die tweede helfte van die 7 jaar) omkom, dan sal die oorblyfsel swaar gelouter word: “In die ganse land, spreek die Here – twee-derdes sal daarin uitgeroei word, sal sterwe, maar een-derde daarin oorbly. Dan sal Ek die derde deel in die vuur bring en hulle smelt soos ‘n mens silwer smelt en hulle toets soos ‘n mens goud toets. Hulle sal my Naam aanroep, en Ek sal hulle verhoor. Ek sê: Dit is my volk! En hulle sal sê: Die Here, my God!” (Sag. 13:8-9).
Die 144 000 Jode wat kort ná die begin van die verdrukking gered sal word deur Jesus Christus as die ware Messias aan te neem, sal teen die stroom van moderne denke ingaan. Dit sal hulle onmiddellik in opposisie teen die valse messias (die Antichris) bring, en ook teen hulle volksgenote wat met hom ‘n verbond gesluit het. Dit sal tot die vervolging van hulle én hul bekeerlinge lei, wat almal die Antichris sal verwerp.
In die eerste helfte van die verdrukking sal die Here twee baie spesiale getuies opwek wat kragtig deur Hom gebruik sal word om die waarheid te verkondig en die vyande van die Here sterk aan te spreek (Op. 11:3-12). Hierdie twee profete sal in die gees en krag van Elia optree (vgl. Luk. 1:17). Hulle boodskap en werke sal wêreldwyd ‘n invloed laat geld. Die Antichris en sy volgelinge sal briesend oor hulle optrede wees omdat hierdie manne van God die boosheid van die valse messias en sy bewind sal uitwys. In daardie tyd sal sonde en ongeregtigheid uiterste afmetings in die wêreld aanneem – ook in Israel. Jerusalem sal geestelik Sodom en Egipte genoem word (Op. 11:8). Die gay-beweging sal, soos in Sodom van ouds, groot aftrek kry, terwyl afgodediens, soos in ou Egipte, weer sterk deur die aanbidding van die Antichris se beeld sal herleef. Dit sal die sigbare gevolge van die verwerping van Christus se kruisiging wees.
Wanneer die Antichris sy groot magsoorname in die middel van die verdrukking doen, sal hy teen die twee getuies oorlog voer en hulle doodmaak. Hulle bediening sal egter dan afgehandel wees, en die Here sal hulle ná 3½ dae opwek en laat opvaar hemel toe.
Omdat daar in die eerste 3½ jaar van die Antichris se regering ‘n groot mate van valse vrede en eenheid op aarde sal heers, sal daar in dié tyd hoofsaaklik geestelike intimidasie en misleiding voorkom – geweld sal nie algemeen gebruik word nie. In die middel van die verdrukking sal die grootste fisiese vervolging van alle tye egter uitbreek. Dit sal wees nadat die Antichris homself in die tempel in Jerusalem tot God verklaar het. Die Here Jesus het Israel hieroor gewaarsku, omdat Hy geweet het dat die ortodokse Jode dán eers sal agterkom dat hulle ‘n valse messias aanbid en nagevolg het. Hulle sal hulle verbond met hom verbreek, waarna hulle vinnig na die berge sal moet vlug omdat die Antichris woedend oor hulle optrede sal wees. Die Here sal egter sorg dat hy nie daarin sal slaag om alle Jode dood te maak nie:
“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matt. 24:15-22).
Daniël het oor die optrede van die Antichris in die middel van die week van 7 jaar gesê: “Gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan. 9:27). “Deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel... En dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek; en hy sal voorspoedig wees totdat die grimmigheid ten einde is” (Dan. 11:31,36). “Dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk [Israel] bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word” (Dan. 12:1).
Dit is na hierdie magsoorname van die Antichris in die middel van die verdrukking, wanneer hy die tempel deur ‘n gruwelike afgodsbeeld sal ontheilig, dat die Here Jesus verwys het. Dit sal vir Israel die groot teken wees om haastig uit die Joodse gebiede weg te vlug, omdat alles moontlik gedoen sal word om hulle uit te wis.
Die belangrikste oorsaak vir die begin van die groot verdrukking ná 3½ jaar van die Antichris se bewind, sal ‘n verskerpte stryd tussen die koninkryke van God en Satan wees, soos wat in Openbaring 12:6-17 beskryf word. Die duiwel sal uit die hemel neergewerp word, waar hy tot in daardie stadium nog steeds toegang tot God se troon gehad het om Christene aan te kla nadat hy hulle tot sonde verlei het – hy is die aanklaer van ons broeders. Openbaring 12:6-17 beskryf gebeurtenisse wat in die middel van die verdrukking plaasvind, tussen die 3½ jaar van valse vrede en die 3½ jaar van groot verdrukking. Die eerste vyf verse van hierdie hoofstuk verskaf agtergrondinligting oor wat vroeër gebeur het, omdat die komende oorlog tussen God en Satan ‘n voortsetting sal wees van ‘n stryd wat begin het toe Lucifer saam met ‘n derde van die engele uit die hemel gewerp is omdat hulle teen God in opstand gekom het en in sy plek wou regeer. ‘n Volgende groot krisispunt in hierdie stryd was toe die duiwel in Herodes gevaar en hom gebruik het om Jesus kort ná sy geboorte te probeer doodmaak. In die komende verdrukking sal daar weer ‘n poging aangewend word om Jesus dood te maak en in sy plek te regeer. Dit sal alles begin by ‘n oorlog wat in hemelse plekke sal ontstaan:
“En daar het oorlog in die hemel gekom: Mígael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag. En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:7-12).
Van hierdie oomblik af sal die duiwel met dubbele woede op die mense op aarde toeslaan. Hy sal hulle dwing om homself én die Antichris te aanbid en ook die God van die hemel te belaster. ‘n Militêre skrikbewind sal ingestel word wat vinnig en genadeloos sal optree om almal dood te maak wat sal weier om die Antichris en sy geestelike vader, Lucifer, te aanbid (Op. 13:4,15). Die Antichris sal vir hierdie groot magsoorname op ‘n buitengewone wyse deur Satan bemagtig word: “...en die draak het hom sy krag gegee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2).
Hierdie nuwe wending sal die Antichris daartoe beweeg om homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God te verklaar. Paulus sê hy sal homself “verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4). Daar sal ook ‘n beeld van hom in die Allerheiligste van die tempel opgerig en almal gedwing word om dit te aanbid. Enigeen wat sou weier om dit te doen, sal summier tereggestel word (Op. 13:15).
Die Jode sal weier om die valse messias in sy nuwe hoedanigheid as selfverklaarde God te aanvaar en te aanbid, en sal hulle verbond met hom verbreek. ‘n Joodse volksmoord sal as gevolg hiervan verklaar word, en dan sal die Jode vinnig vir oorlewing uit Jerusalem moet vlug – waarskynlik na Petra suid van die Dooie See. Hulle sal moet bid dat hulle vlug nie in die winter is, en ook dat die vrouens nie suiglinge sal hê om te versorg nie, want sulke omstandighede sal hulle reis vertraag en aan die Antichris se magte die geleentheid bied om hulle in te haal en dood te maak. Hulle sal ook moet bid dat die vlug nie op die sabbat is nie, wanneer ortodokse Jode minder as twee kilometer ver mag stap. Dit sal kritieke tye vir oorlewing wees.
Ware Christene oral in die wêreld – dit is diegene wat ná die wegraping gered word – sal weier om die Antichris as God te aanbid en ook aan intensiewe vervolging en summiere doodstraf onderhewig wees. Die feit dat hulle die dier deur die bloed van die Lam sal oorwin, beteken nie dat hulle hom fisies sal oorwin nie, maar dat hy hulle nie sal kan dwing om hom te aanbid nie. Hulle sal hulle eie lewe tot die dood toe nie lief moet hê nie, wat vereis dat hulle ‘n marteldood sal sterf eerder as om die Antichris te aanbid. “Dit is aan hom [die Antichris] gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin” (Op. 13:7).
Verder sal die Antichris in die middel van die verdrukking deur bemiddeling van die valse profeet ook sy nommerstelsel op alle mense afdwing, waarsonder hulle nie sal kan koop of verkoop nie (Op. 13:16-18). Die reg om hierdie nommer te kan ontvang, sal ook met die onderneming gepaard gaan om die Antichris en sy beeld te aanbid. Dit sal behels dat die ware God en sy Seun, Jesus Christus, verwerp en belaster word. Mense wat dít vir oorlewing doen, sal hulle siele aan die duiwel verkoop en deelgenote van sy ewige oordeel in die poel van vuur wees:
“As iemand die dier en sy beeld aanbid en ‘n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang” (Op. 14:9-11).
Die Antichris sal met alle geweld die koninkryk van Satan op aarde vestig en meedoënloos voortgaan om alles en almal wat aan God se koninkryk verbind kan word, uit te wis. Die uitdelging van alle Christene en Jode sal dus hoog op sy agenda wees. Dit alles sal egter net ‘n middel tot ‘n groter doel wees, want hy sal alle moontlike magte ontplooi om teen die ware Christus en sy hemelse leër te veg wanneer Hy aan die einde van Daniël se 70ste jaarweek sy voete op die Olyfberg in Jerusalem sal sit (Sag. 14:4-5). Die Antichris sal in terme van Bybelse profesieë weet dat Christus aan die einde van die week sal terugkom om Satan se wêreldryk te verdelg en dan in die plek daarvan sy eie koninkryk op aarde te vestig.
Die Antichris gaan alles moontlik doen om hierdie oorname deur Christus te voorkom, en dit sal die belangrikste motivering vir die mobilisering van ‘n wêreldmag in die Midde-Ooste wees. Spesiale demone sal afgesonder word om die konings en regeringsleiers van die aarde aan te hits om hulle nuwe wêreldorde teen die koms en oorname deur die ware Christus te beskerm. Johannes sê:
“En ek het uit die bek van die draak en uit die bek van die dier en uit die mond van die valse profeet drie onreine geeste soos paddas sien kom. Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Op. 16:13-16).
In die daaropvolgende konfrontasie sal dit baie sleg met hierdie bose magte gaan, omdat hulle só dwaas was om dié Een uit te daag wat alle mag in die hemel en op aarde het:
“Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ‘n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid [dit is Christus]. En sy oë was soos ‘n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ‘n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self. En Hy was bekleed met ‘n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ‘n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ‘n ysterstaf regeer... En ek het een engel sien staan in die son; en hy het met ‘n groot stem uitgeroep en vir al die voëls gesê wat in die middel van die lug vlieg: Kom hierheen en versamel julle tot die maaltyd van die grote God, dat julle kan eet die vlees van konings en die vlees van owerstes oor duisend en die vlees van sterkes en die vlees van perde en van die wat daarop sit, en die vlees van almal, vrymense sowel as slawe, klein sowel as groot. En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees” (Op. 19:11-15,17-21).
Die goddelike verdelging van die magte wat in Israel en rondom Jerusalem sal optrek om teen die ware Messias te veg, word ook deur Sagaria beskryf: “En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:12-13).
Dit is die uiteinde van die Antichris en al sy misleide volgelinge. Vir hulle wag die ewige poel van vuur waaruit hulle nooit sal kom nie.
In die lig van Satan en die Antichris se einddoel van ‘n oorlog teen Christus, waardeur hulle sal probeer om hulle eie, bose regering vir altyd te laat voortbestaan, moet ons nou reeds die aard van godsdienstige misleiding in die wêreld reg verstaan. Onder die leiding van ‘n Sataniese gees van dwaling is daar ‘n wêreldwye veldtog aan die gang om die Here Jesus te diskrediteer deur sy godheid en goddelike attribute te ontken, die betekenis van sy kruisdood in twyfel te trek, sy opstanding, hemelvaart en wederkoms te bevraagteken, en dit sodoende vir die Antichris maklik te maak om in hierdie vervalste Jesus se naam te kom en die hele wêreld verder te mislei.
Die eindtydse misleiers ontken ook die bestaan van die duiwel en die hel, asook die idee van ‘n persoonlike Antichris. Die gevolg hiervan is dat daar nie ‘n Antichris of ‘n groot verdrukking verwag word nie, en derhalwe ook nie ‘n letterlike slag van Armageddon nie. Hierdeur word die pad vir die Antichris oopgemaak om homself as die Christus van alle gelowe voor te doen, die wêreld onder die vaandel van sy nuwe wêreldorde te verenig en sodoende vrede, voorspoed en harmonie aan alle mense op aarde te belowe.
Mense wat nie Bybelse profesieë letterlik opneem nie, en ook nie onwrikbaar in die Here Jesus se maagdelike geboorte, godheid, kruisdood en opstanding uit die dood glo nie, sal tydens die wegraping agterbly en daarna slagoffers van die komende valse Christus se misleiding wees. Nog ‘n kenmerk van sulke mense is dat hulle nie ‘n duidelike getuienis van redding het nie – hulle glo dat die uitverkiesing, kinderdoop, kerklidmaatskap en ‘n goeie lewe hulle red, en daardeur bewys hulle dat hulle nie regtig die kruisevangelie ken en in die geloof aanvaar het nie. Hulle twyfel maklik oor hulle geestelike lewe én ook oor die Bybel as God se Woord, omdat hulle nie die getuienis van die Heilige Gees oor wedergeboorte het nie (vgl. Rom. 8:16).
Sulke mense sal die leuens van die Antichris vir die waarheid aansien, en as gevolg van volgehoue misleiding later die krag van die dwaling ontvang om hierdie leuens te glo (2 Thess. 2:7-12). Hulle sal onder die groot massa mense wees wat verwonderd agter die dier sal aangaan en hom ook sal aanbid (Op. 13:3-4). Hulle sal sy nommer ontvang, sonder om te besef dat die eed van getrouheid wat hulle hiervoor sal moet aflê, onder meer die aanbidding van die Antichris sal vereis. Dit sal hulle lot in die poel van vuur verseël (Op. 14:9-11).
In hierdie tyd van groot aanvalle op die Persoon en werk van die Here Jesus, is dit nodig dat evangeliese Christene opnuut hulle geloof in Hom bely. In die lig van die uitspraak: “...die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10), sluit ons hierdie artikel af met ‘n Bybelse belydenis oor wie Jesus Christus werklik is. Die toekoms van alle mense op aarde gaan bepaal word op grond van hulle verhouding met Hom – hulle is of vír Hom of téén Hom. Almal wat nie die waarhede oor Hom bely nie, loop gevaar om ‘n valse Jesus na te volg (2 Kor. 11:3-4) en die oordele van die ware Jesus oor hulleself te bring. Dit is belangrik dat elkeen van ons in hierdie tyd van groot afvalligheid die Here Jesus opnuut in sy uniekheid, godheid en heerlikheid sal ken en voor mense bely:
· Ek glo dat Jesus Christus as mens deur die Heilige Gees in die maagd Maria verwek is (Matt. 1:20) en dat Hy daarom die Seun van God én die Seun van die mens is. Die engel Gabriël het vir Maria gesê dat die Kind wat gebore sou word, groot sou wees en die Seun van die Allerhoogste genoem sou word (Luk. 1:32). Tydens sy geboorte uit die geslag van Dawid het Hy net tydelik sy hemelse heerlikheid afgelê (Fil. 2:7), maar nie van sy essensiële godheid afstand gedoen nie (Kol. 2:9). Met sy hemelvaart is Hy uitermate verhoog en het ‘n Naam gekry wat bo elke naam is (Fil. 2:9-11). Tydens sy wederkoms sal Hy in mag en majesteit as Koning van die konings en Here van die here geopenbaar en erken word (Op. 19:16).
· Ek glo dat Jesus Here en God is. Elke tong sal bely dat Hy die Here is (Fil. 2:11). Johannes sê: “Hy is die waaragtige God en die ewige lewe” (1 Joh. 5:20). Paulus sê: “Hy is die grote God en ons Verlosser (Tit. 2:13), en Thomas het in verwondering uitgeroep: “My Here en my God” (Joh. 20:28). Hy is waarlik Emmánuel – God met ons.
· Ek glo dat die Here Jesus ‘n ewige selfbestaan as God het. Eers toe Hy as mens gebore is, het Hy Homself ontledig en die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem (Fil. 2:7-8). As God bestaan Hy van alle ewigheid af, daarom kon Hy sê: “Voordat Abraham was, is Ek” (Joh. 8:58). Hy is die ewige EK IS (Ex. 3:14), wat ook vir die Jode gesê het: “As julle nie glo dat dit Ek Is nie, sal julle in jul sondes sterwe” (Joh. 8:24).
· Ek glo dat Jesus Christus een met die Vader en die Heilige Gees is. Hy het self gesê: “Ek en die Vader is een” (Joh. 10:30). Johannes het gesê: “Daar is drie wat getuig in die hemel: Die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een” (1 Joh. 5:7). Ek glo dat Jesus die Woord is wat beide God én mens is. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God... En die Woord het vlees geword en onder ons gewoon” (Joh. 1:1,14).
· Ek glo dat die Here Jesus, saam met die Vader en die Heilige Gees, die Skepper van die wêreld is (Heb. 1:2): “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sê: “Hy is die Beeld van die onsienlike God... want in Hom is alle dinge geskape wat in die hemele en op aarde is... Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:15-17).
· Ek glo dat die Here Jesus ook die herskepper is omdat Hy verlore sondaars wat Hom as Verlosser aanneem, geestelik lewend maak deur hulle te wederbaar. Ons is lewend vir God deur Christus Jesus, onse Here (Rom. 6:11). By sy koms vir die gemeente sal Hy ook aan alle gelowiges onverganklike opstandingsliggame gee (1 Kor. 15:22; Fil. 3:20-21). Ná die eindoordeel sal Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep, daarom sê Hy: “Kyk, Ek maak alle dinge nuut” (Op. 21:5).
· Ek glo dat Jesus Christus se offer aan die kruis ‘n losprys vir die sondes van die hele mensdom was, m.a.w. alle stamme, tale, volke en nasies op aarde, en dat dit die enigste moontlikheid tot versoening met God bied (Joh. 1:29; 2 Kor. 5:19; Ef. 1:7). Die saligheid is in niemand anders nie, want daar is geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie (Hand. 4:12). Ek glo ook dat Jesus Christus ná sy kruisdood uit die dode opgestaan en na die hemel opgevaar het om vir ons in te tree (Heb. 7:25) en vir ons plek in sy Vaderhuis te gaan berei (Joh. 14:2-3).
· Ek glo dat die Here Jesus weer kom om ons te kom haal en die ewige heerlikheid van sy koninkryk deelagtig te maak. Dan sal ons by die bruilofsmaal van die Lam saam met Hom Nagmaal hou om opnuut sy kruisdood in herinnering te roep en lof en eer aan Hom te bring omdat Hy ons siele uit genade gered het. As ons nóú saam met Christus die kruisweg bewandel deur onsself te verloën, ons kruis daagliks op te neem en Hom in ‘n vyandige wêreld te volg, sal ons eendag as mede-erfgename van sy koninkryk saam met Hom regeer (Rom. 8:17; 2 Tim. 2:12). Dan sal die stryd verby wees en sal Christus se getroue getuies in sy triomfantelike openbaring deel (Kol. 3:4).
Indien ons sou nalaat om die Here Jesus só te ken en te bely, loop ons gevaar om van Hom net een van baie messiasse van menslike oorsprong te maak, sy godheid te verloën, die betekenis van sy kruisdood af te maak, en dan verder mislei te word om ‘n valse Christus in sy plek te aanvaar (Joh. 5:43). In die ontluikende nuwe wêreldorde waarin alle gelowe gelykgestel word, word die godheid en unieke posisie van die Here Jesus ontken. Hy word met Boeddha, Krishna en ander nie-Christelike messiasse gelykgestel, en dit baan die weg vir die Antichris om in die naam van Christus te kom en homself as die universele Christus van alle gelowe voor te doen.
Ons sal die tydgees van kompromie, wat oral in die wêreld sterk aan die werk is, moet teëstaan as ons aan die ware Christus getrou wil bly. Hy het belowe dat Hy diegene wat die opmars van die Antichris teëstaan, sal wegneem van die wêreld af (Luk. 21:36; 2 Thess. 2:6-8).
Baie mense het al die krag van die dwaling ontvang om Satan se leuens te glo, omdat hulle die kennis van die waarheid verwerp het. Daardeur het hulle aan die god van hierdie wêreld, Satan, die geleentheid gegee om hulle sinne te verblind, “sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Kor. 4:4). Wanneer Jesus Christus die ware kerk weggeneem het, sal die ongelowige wêreld in verwondering agter die universele messias van alle gelowe aangaan en ook bereid wees om sy nommer te ontvang en Hom as God te aanbid (2 Thess. 2:4; Op. 13:3-4). Dan sal Satan se multigodsdienstige nuwe wêreldorde ten volle geopenbaar wees.
Terwyl die gees van die dwaling ná die wegraping sonder weerstand op aarde werksaam sal wees, sal die ware gelowiges in die hemel die heerlikheid van die Here aanskou en sy lof besing, want “Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thess. 1:10). Maranata!