Groot betekenis van die Versoening

Alle mense is sondaars op wie die vloek van die doodstraf rus: “Want almal wat onder die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik... Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ‘n vloek te word – want daar is geskrywe: vervloek is elkeen wat aan ‘n hout hang – sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus” (Gal. 3:10-14).

Wetsverbrekers is sondaars. God se oordeel van die ewige dood rus op alle sondaars, ongeag of hulle die sonde onder die wet of sonder die wet gedoen het: “Ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is” (Rom. 3:9). Die doodstraf rus op hulle almal, want “die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eseg. 18:4). Dit geld ook in die Nuwe Testament: “Want die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23). “Daar is geen aanneming van die persoon by God nie. Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word” (Rom. 2:11-12).

Op watter gronde word die heidene wat nooit die wet van die Here gehoor het nie, geoordeel? “Wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself ‘n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig, in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel” (Rom. 2:14-16). Die heidene het almal ‘n godgegewe gewete wat vir hulle ‘n wet is. Hulle weet dat dit verkeerd is om te moor, te steel, te vloek, te lieg, owerspel te pleeg, ens. Hulle gewete veroordeel hulle wanneer hulle dit doen.

Dit is nodig dat ons die aard van die versoening goed sal verstaan, sodat ons enersyds nie die seën van die Here sal verbeur nie en aan die ander kant ook nie verkeerde verwagtings in die huidige bedeling sal koester nie. Die versoening wat Jesus Christus aan die kruis vir ons bewerk het, het ons van die doodstraf oor die sonde bevry. Ons word “deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as ‘n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is” (Rom. 3:24-25).

Dit is ‘n geestelike versoening met God – die straf vir ons sonde is betaal, en in Christus word ons tot nuwe mense herskep. Op grond van die Here Jesus se kruisdood én sy opstanding uit die dode, kan ons met die nuwe mens beklee word, en op grond van die uitstorting van die Heilige Gees ook die krag kry om oorwinnend en godvrugtig te kan leef. Die volle verlossing van ons liggaam sal ons egter eers by die wederkoms van Christus kry, wanneer ons met onverganklike nuwe liggame beklee sal word (Fil. 3:20-21).

Tans het ons nog verganklike liggame wat aan veroudering, siektes en die dood onderworpe is. Ons kan ook versoek word en sondig. Ons leef in ‘n gebroke wêreld wat self as gevolg van die sondeval ly, en reikhalsend op die openbaarmaking van die kinders van God wag (Rom. 8:19-23) wanneer ons nuwe liggame sal hê, onder ideale omstandighede sal leef en saam met Christus sal regeer. Dit sal ‘n tyd van oorvloed en vrede wees, wanneer Satan gebind sal wees.

Dit is egter nou nog nie so nie, daarom moet ons die goeie stryd van die geloof stry (1 Tim. 6:12), deur vele verdrukkinge in die koninkryk van God ingaan (Hand. 14:22), ook bereid wees om deur die wêreld verag te word (Joh. 15:19) en vir ons geloof te ly (Fil. 1:29; Rom. 8:17). Siektes is maar een van baie oorsake waarom gelowiges dikwels ly. Sommige kry in hierdie bedeling genesing en ander nie (2 Tim. 4:20). Selfs ook Paulus het onder siekte en swakhede gely sodat dit hom kon toets en nederig hou (2 Kor. 12:7-10).

In die tyd van die Here Jesus se aardse bediening, en ook tydens die apostels se bediening in die vroeë Christelike kerk, het daar baie genesings plaasgevind. Dit het egter ‘n bepaalde doel gedien om die Messiasskap van Jesus te bevestig (Luk. 7:20-23; vgl. Jes. 61:1-2) en ook aan ‘n agnostiese Joodse volk én ‘n agnostiese heidendom te bewys dat Jesus wat deur die apostels verkondig is, waarlik die Christus, die Seun van die lewende God is (Hand. 5:12; Rom. 15:18-19; 2 Kor. 12:12). Nadat hierdie getuienis op ‘n kragtige en sigbare manier gelewer is, het die klem verskuif na ‘n lewe van geloof wat nie op tekens en wonders gebaseer is nie. “Salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het” (Joh. 20:29).

Die Here het sedertdien steeds genesings gedoen, en doen dit vandag nog, maar dit geld nêrens as ‘n waarborg vir almal in die kerkbedeling nie. So onvolkome, geteister en verganklik as wat die natuurlike skepping daarbuite is, is die menslike liggaam ook. Saam met die skepping verlang ons na die volkomenheid, volmaaktheid en onverganklikheid wat die Here aan ons beloof het. “Al vergaan die uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag na dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles-oortreffende ewige gewig van heerlikheid... om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word” (2 Kor. 4:16-17; 5:2).

Daar is egter mense wat verkondig dat die kruisdood van Jesus Christus ons reeds in hierdie bedeling van alle moontlike vloeke, plae en teistering verlos, insluitende aanvalle deur vyande, siektes en ekonomiese rampe. Al die vloeke wat bv. in Deut. 28:15-68 genoem word, word tereg ingesluit by die vloek wat die Here Jesus volgens Gal. 3:13 aan die kruis vir ons gedra het, maar die misleidende bewering word gemaak dat al die seëninge en voorspoed nóú reeds aan ons toegereken word.

Indien dit die geval is, dan moet vloeke soos pes onder die vee en gesaaides, misoeste, droogtes, aanvalle deur vyande, oorheersing deur vreemde volke, asook siektes soos tering, koors, ontsteking, swere, skurfte, ‘n uitslag op die vel en blindheid, heeltemal van gelowiges geweer word. Dit is egter nie die geval nie. Behalwe die feit dat hierdie plae en vloeke oor die ongelowige Jode en nie-Jode gekom het, verduur gelowiges onder Israel en die nasies ook baie aanvegtinge en swaarkry. In laasgenoemde geval is dit egter nie die Here wat hulle straf nie, maar hulle ly as gelowiges omdat hulle in ‘n geestelik donker en sondige wêreld leef wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Baie van hulle het al as martelare vir hulle geloof gesterf, daarom wag hulle ook vir die dag wanneer die Here Jesus met sy wederkoms alles nuut sal maak. “En God sal al die trane van hulle oë afvee, daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Op. 21:4). Die nuwe aarde sal in onoortreflike skoonheid gehul wees, met groter heerlikheid as die Tuin van Eden, en ‘n tuiste van ewigdurende vreugde wees.

Diegene wat nóú aan Christene volkomenheid en dus siektevrye en rampvrye omstandighede beloof, is uit pas met die Bybel en die dispensasie waarin ons leef. Hulle gee nie net valse hoop aan mense nie, maar breek baie mense se geloof af omdat hulle nie altyd die genesing of finansiële uitkoms kry waarvoor hulle bid nie.

Ons kan nie nou omstandighede opeis wat ons eers in die komende koninkryksbedeling sal hê nie, want dan wil ons die koninkryk hier en nou instel. Dit kan nie gedoen word nie, omdat ons nou nog vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld is. In hierdie wêreld sal ons verdrukking en vervolging hê (Joh. 16:33).

Leef in die volle vryspraak wat die Here Jesus se versoening op Golgota vir jou bewerk het. Die straf vir jou sonde is betaal en die ewige lewe is uit genade aan jou geskenk. Hou egter rekening met die feit dat Satan soos ‘n brullende leeu rondloop om spesifiek die Christene aan te val. Trek die volle wapenrusting van God aan, dat jy staande kan bly teen die liste van die duiwel.

Dank die Here vir elke seën en elke gunsbewys wat jy uit sy hand ontvang. Leer egter ook om te berus by moeilike omstandighede wat steeds mag voortduur. Die Here se genade sal vir jou genoeg wees om met watter beproewinge ook al saam te leef. Soos die Here vir Paulus laat verstaan het dat hy moes ophou om oor sekere persoonlike probleme te bid, is baie van ons ook in dieselfde situasie. Hy moes uit sy beproewings leer om homself nie te verhef en op sy eie voortreflikhede te roem nie. Hy het uitgesien na die hoop wat in die hemel vir hom voorlê. Hoewel ons volle verlossing en vryspraak verkry het, en absolute sekerheid van ons saligheid kan hê, het ons nog nie alle seëninge ontvang wat die Here aan ons beloof het nie. Ons moet nog in die seën van die eerste opstanding deel (1 Kor. 15:51-54; 1 Thess. 4:16-18) wanneer ons onverganklike opstandingsliggame sal kry, asook ‘n hemelse woning wat Jesus Christus nog besig is om vir ons voor te berei  (Joh. 14:1-3).