Israel en die Kerk in Profesie: ‘n Verklaring van die Voor-verdrukking-wegraping

Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde

Om die Bybel, en veral ook profesieë oor die eindtyd, reg te kan verstaan, moet Israel en die kerk duidelik van mekaar onderskei word. Die profetiese toekoms van Israel as volk is radikaal anders as dié van die kerk. Israel word in ongeloof in hulle land herstel, waar hulle ‘n verbond met die valse messias sal sluit en onder sy bewind deur die tyd van benoudheid vir Jakob sal gaan, wat ook ‘n wêreldwye tyd van verdrukking en goddelike oordele oor alle ongelowiges sal wees. Uit die sewe jaar lange benoudheid sal ‘n oorblyfsel van Israel gered word wanneer hulle die ware Messias op die Olyfberg sal sien kom, en daarna sal hulle die leidende nasie in die Messias se duisendjarige vrederyk op aarde wees.

Die dissipels van die Here Jesus onder alle nasies, m.a.w. die ware kerk van Christus, is nie vir die tyd van antichristelike verdrukking en goddelike oordele oor die ongelowiges bestem nie, en sal dit deur middel van die wegraping ontvlug. Omdat hulle as ‘n verenigde groep na die hemel toe weggevoer sal word, sal die eerste opstanding, wat net vir gelowiges is, kort voor die wegraping plaasvind. Die lewende gelowiges sal nuwe liggame kry sonder om te sterf. Daarna sal al die Christene met verheerlikte liggame weggevoer word om voor die regterstoel van Christus te verskyn, genadeloon te ontvang, en as die bruid van die Lam met Hom verenig te word. In die daaropvolgende sewe jaar sal hulle rondom die troon wees terwyl die Lam die wêreld in geregtigheid oordeel. Aan die einde van die sewe jaar sal hulle saam met Christus terugkom aarde toe waar Hy die vyande van sy koninkryk sal verdelg, die oorblyfsel van Israel en die nasies sal red en sy vrederyk op aarde sal vestig.

Die doel van hierdie artikel is om die onderskeid tussen Israel en die kerk aan te toon. In die lig hiervan sal dit duidelik wees dat daar ‘n sewe jaar lange tydperk van Joodse heilsgeskiedenis moet aanbreek waarin die Here groot benoudheid oor Israel én die ewe ongelowige nasies sal beskik. Daar is nie ‘n enkele profesie wat aandui dat die kerk deur hierdie sewe jaar lange tydperk sal gaan nie, daarom sal Christus sy bruidsgemeente pas voor die aanbreek van hierdie donker uur in die wêreldgeskiedenis kom haal.

‘n Voorwaarde vir die regte beskouing oor die wegraping, asook die plek daarvan in God se raadsplan, is die nodige Bybelse kennis om ‘n duidelike onderskeid tussen Israel en die kerk te kan tref. Wanneer mense nie hierdie verskille reg verstaan nie, word die wegraping eers na ‘n verkeerde plek verskuif en later heeltemal ontken en verwerp. Sekere beloftes, bv. oor die eindtydse herstel in hulle eie land, is net aan Israel gegee, terwyl ander beloftes, bv. oor die wegraping, net aan die ware kerk van Jesus Christus gegee is.

Die dispensasie van Israel

Israel se heilsgeskiedenis het vierduisend jaar gelede by die roeping van Abraham begin. Hy was die eerste Hebreër (Gen. 14:13), daarom word sy nakomelinge deur Isak en Jakob Hebreërs genoem (Ex. 2:11) wat ook die Hebreeuse taal praat (Hand. 22:2). ‘n “Hebreër” beteken “Iemand wat oorgekom het.” Dit verwys na die feit dat die Hebreërs uit die heidendom na God se koninkryk “oorgekom” het. In ‘n letterlike sin het Abraham ná sy roeping oor die Eufraatrivier getrek na ‘n land wat die Here aan Hom sou gee.

Later, toe Jakob se naam na “Israel” verander is (Gen. 35:10), het sy nakomelinge in die twaalf stamme ook as “Israeliete” (“Stryders vir God”) bekend gestaan (Gen. 49:28). Dieselfde volk het verskeie eeue later ‘n derde naam bygekry, naamlik “Jode.” Een van die twaalf stamme van Israel, nl. Juda, het die koninklike stam geword. Die eerste koning in hierdie stam was Dawid, uit wie se nageslag die Messias, Jesus, gebore is. Ná die dood van Salomo is Israel in twee koninkryke verdeel, naamlik die suidelike tweestammeryk van Juda (die stamme van Juda en Benjamin) en die noordelike tienstammeryk van Israel. Mettertyd is daar na lede van die suidelike koninkryk as “Jode” verwys (2 Kon. 16:6).

Hierdie verdeling van Israel in twee koninkryke is egter deur die Assiriese ballingskap van Israel en die Babiloniese ballingskap van Juda beëindig. In die ballingskap het die lede van al twaalf die stamme weer vermeng geraak en is as ‘n verenigde volk wat uit twaalf stamme bestaan, in hulle land herstel. Van toe af is die hele volk sowel “Jode” as “Israeliete” genoem, tot vandag toe (vgl. Esra 6:8,16-17,21; Neh. 1:6; 4:1; Joh. 3:1,10). Hierdie volk het dus drie name, te wete Hebreërs, Israeliete en Jode. Paulus sê: “Ek is ‘n Jood (Hand. 22:3)... Ek is ook ‘n Israeliet uit die nageslag van Abraham (Rom. 11:1)... ‘n Hebreër uit die Hebreërs” (Fil. 3:5).

Nie een van hierdie name is op die Nuwe Testamentiese kerk oordraagbaar nie, daarom kan ons nie eers in ‘n geestelike sin onsself “Israel” noem nie. Die “ware Israel” of die “geestelike Israel” dui op die geredde Israeliete wie se harte ook besny is. Net hulle is in die ware (geestelike) sin van die woord “Israeliete” of “Jode” wat kwalifiseer om as lede van God se volk beskryf te kan word. Die Here het geen behae in die ongeredde lede van dié volk nie, daarom rus sy oordele oor hulle (1 Kor. 10:5). Om dié rede sê die Here: “Want hulle is nie almal Israel wat uit Israel is nie” (Rom. 9:6). Hoe word hierdie onderskeid getref? Geestelik: “Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dit is besnydenis wat in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God” (Rom. 2:28-29).

Daar is dus in Israel, soos in alle ander volke, net ‘n klein minderheid ware kinders van God wat op die smal weg is, terwyl die meerderheid geestelik dood en kinders van die duiwel is (Joh. 8:39-44). Hierdie meerderheid dra weens hulle afkoms nog steeds hulle volksnaam, maar dit het geen geestelike betekenis nie. Uiteindelik sal dit net die gelowige oorblyfsel in Israel wees wat waardig sal wees om die Here se beloftes aan hierdie volk te beërf (vgl. Rom. 9:27). Die beloftes aan Israel is binne die verband van verskeie verbonde tussen die Here en hulle bepaal.

Nooit in die totale geskiedenis van Israel was daar ooit die geringste twyfel oor die geldigheid van die beloftes wat die Here aan die vaders van hierdie volk gemaak het nie. God self is die waarborg van die Abrahamitiese (Gen. 15:18), Kanaänitiese (Num. 33:51–34:15) and Davidiese (2 Sam. 7:12-16; Ps. 89:3-4, 34-37) verbonde wat die ewige toesegging van die land Israel, asook die permanensie van die troon van Dawid, verseker. Israel se verstrooiing uit die land as gevolg van ongeloof kan nie hierdie verbonde vernietig nie.

Selfs al is Israel ontrou, bly God getrou en sal hulle na hul land terugbring om ‘n oorblyfsel te red. ‘n Belofte hieroor is lank voor die Babiloniese ballingskap en die internasionale verstrooiing van die volk gegee: “Maar ook dan, as hulle in die land van hul vyande is, verwerp Ek hulle nie en het Ek van hulle geen afsku, sodat Ek ‘n einde aan hulle sou maak en my verbond met hulle sou verbreek nie; want Ek is die HERE hulle God. Maar Ek sal tot hulle beswil dink aan die verbond van die voorvaders wat Ek uit Egipteland voor die oë van die nasies uitgelei het om vir hulle ‘n God te wees. Ek is die HERE” (Lev. 26:44-45).

Israel se heilsgeskiedenis vanaf die einde van die Babiloniese ballingskap tot met die aanbreek van die Messiasryk, word in Daniël 9:24-27 binne die raamwerk van 70 jaarweke beskryf. In hierdie tydperk sal twee messiasse ‘n prominente rol vervul – die ware Messias en die valse messias:

“Sewentig sewetalle is oor jou volk [Israel] en jou heilige stad [Jerusalem] bepaal, om die goddeloosheid te voleindig en om die maat van die sondes vol te maak en om die ongeregtigheid te versoen en om ewige geregtigheid aan te bring en om gesig en profeet te beseël en om wat hoogheilig is, te salf. Nou moet jy weet en verstaan: van die uitgang van die woord af om Jerusalem te herstel en op te bou tot op ‘n Gesalfde, ‘n Vors [die Messias] is sewe sewetalle; en 62 sewetalle lank sal dit herstel en opgebou word, met pleine en slote, maar in tye van benoudheid. En ná die 62 sewetalle [m.a.w. ná 7 plus 62 sewetalle] sal ‘n Gesalfde [die Messias] uitgeroei word, maar sonder iets vir Hom; en die volk van ‘n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes, maar sy einde sal met oorstroming wees, en tot die einde toe sal dit oorlog wees, vasbeslote verwoestings. En hy [die valse messias] sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees, en wel tot aan die einde; en wat vas besluit is, sal oor wat woes is, uitgestort word” (Dan. 9:24-27).

Die 70 jaarweke staan met die volgende gebeure in verband:

·       Aan die begin van die 70 jaarweke, in 445 v.C., is opdrag deur koning Artasasta aan die Jode in ballingskap gegee om Jerusalem en die tempel te herbou.

·       Die aanvanklike bouwerk is ná 7 jaarweke voltooi.

·       In die daaropvolgende 62 jaarweke is Jerusalem in tye van benoudheid verder uitgebrei en bewoon.

·       Aan die einde van 69 (7+62) jaarweke, in April 32 n.C., is die Messias in Jerusalem verwerp en gekruisig.

·       Omdat Israel die Messias verwerp het, is God se heilsplan met hulle tydelik ter syde geskuif en is die evangelie na die ganse nie-Joodse wêreld uitgedra. In hierdie tyd is Israel in ‘n internasionale ballingskap onder die nasies (Luk. 21:24).

·       Die eindtydse herstel van Israel na hulle land het formeel in 1948 begin en die verklaring van Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel in 1980.

·       Die toneel is nou gereed vir die begin van die 70ste jaarweek van Daniël, wanneer die valse Messias met Israel en die nasies ‘n verbond sal sluit.

·       Aan die einde van die 70ste jaarweek sal die ware Messias kom, die valse messias en sy magte verdelg en die hele oorblyfsel van Israel fisies uitred én ook geestelik lewend maak. Hierna sal die Messiasryk aanbreek en ewige geregtigheid in Israel heers. Almal van hulle sal die Messias van harte dien en sy spesiale getuies op aarde wees.

Hierdie is een van die duidelikste uitsprake in die Bybel oor Israel se dispensasionele posisie vanaf hulle herstel uit die Babiloniese ballingskap in die 5de eeu v.C. tot met die aanbreek van die Messiasryk. ‘n Eerste opmerking oor die 70 sewetalle (m.a.w. 70 jaarweke) is dat dit eksakte tydperke is. ‘n Jaarweek is ‘n periode van presies sewe jaar: “Ses jaar lank mag jy jou land saai... maar in die sewende jaar moet daar vir die land volkome rus wees, ‘n sabbat vir die Here” (Lev. 25:3-4). Ná elke sewe jaarweke word die 50ste jaar (wat ook die eerste jaar in die volgende jaarweek is) as ‘n jubeljaar gevier (Lev. 25:8-10).

Moderne Israel het hulle Bybelse jaarweke weer herstel, en in hierdie siklusse vier ortodokse Jode elke sewende jaar as ‘n sabbatsjaar. Hulle huidige jaarweek strek vanaf 1 Tisri 2001 (September 2001 op ons kalender) tot op 1 Tisri 2008. Israel volg ‘n maankalender waarin elke maand met die nuwemaan begin en elke jaar op die eerste dag van die maand Tisri (wat Rosh Hashanah genoem word). Tisri, wat die eerste maand op Israel se siviele kalender is, is die sewende maand op hulle godsdienstige kalender (Lev. 23:24) wat met die lentemaand, Nisan, begin toe hulle uit Egipte getrek het (Ex. 12:2). Omdat ‘n maanmaand net 29½ dae lank is, is ‘n maanjaar 354 dae lank – 11¼ dae korter as ‘n seisoensjaar. As gevolg hiervan het Israel soms skrikkeljare met 13 maande elk om weer in pas met die seisoensjare te kom, want Tisri moet altyd in die noordelike halfrond se herfs wees wanneer dit in Israel, wat ‘n winterreënvalgebied is, oestyd is.

Die sewentig jaarweke is egter nie seisoensjare of maanjare nie, maar 490 profetiese jare van 360 dae elk (vgl. Op. 11:2-3, 12:6 en 13:5 waarin daar na die twee helftes van die 70ste jaarweek as 42 maande en ook as 1260 dae verwys word, m.a.w. maande van 30 dae elk). In verband met hierdie profetiese tydperk van 70 jaarweke moet daar baie duidelik gelet word op:

·       die vertrekpunt van die 70 jaarweke wanneer die opdrag uitgaan om Jerusalem weer op te bou;

·       die onderbreking daarvan aan die einde van 69 jaarweke wanneer die Messias verwerp word;

·       die aanbreek van die 70ste week wanneer ‘n verbond met die valse messias gesluit sal word;

·       die verbreking van Israel se verbond met die valse messias in die middel van die in die 70ste week; en

·       die voleindiging van die 70 jaarweke wanneer die hele Israel gered sal wees.

Wanneer daar duidelikheid oor die begin en voleindiging van hierdie tydperk verkry is, verval alle onbybelse toepassings daarvan. Min mense redeneer oor die aanvang van die 70 jaarweke, naamlik Artasásta se toestemming aan die Joodse ballinge om hulle stad en die tempel te gaan herbou (Neh. 2:1). Daar word egter baie teenstrydige aansprake oor die einde van die 70 jaarweke gemaak. Sommige mense probeer om die hele tydperk van 490 profetiese jare by die kruisiging van Jesus af te sluit, en ander sluit dit by die verwoesting van Jerusalem in die jaar 70 n.C. af. Ons moet egter op die volgende twee belangrike toestande let wat tydens die vervulling van hierdie profesie sal heers, en dit sal duidelik eers ná die wederkoms van die Messias en Israel se nasionale versoening met Hom aanbreek:

1.    Aan die einde van die 70 jaarweke sal, wat Israel betref, die goddeloosheid voleindig, die maat van die volk se sondes vol en die ongeregtigheid versoen wees. Die werkwoord kala beteken om iets te beëindig en finaal af te sluit. Israel se sonde en ongehoorsaamheid as volk sal by die wederkoms van die Messias tot ‘n einde gebring word: “In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid” (Sag. 13:1). Die versoeningswerk wat in beginsel reeds op Gólgota gedoen is, sal dan eers in die praktyk deur die hele Israel in die geloof aanvaar word. Op daardie dag sal die oorblyfsel van Israel opsien na Hom vir wie hulle deurboor het en rouklaag oor Hom soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun (Sag. 12:10). “Die Verlosser sal uit Sion kom en die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:26). Ná hierdie gebeurtenis sal die volk volkome, en in sy geheel, met God versoen wees en Hom almal van harte dien (Jer. 32:38-40). Hierdie toestand het nog nooit eers naastenby in die geskiedenis aangebreek nie, daarom weet ons dat die 70 jaarweke nog nie verby is nie. Die huidige herstelde Israel verwerp Jesus nog net so uitdruklik as wat hulle voorvaders gedoen het. Daar moet dus nog ‘n groot nasionale versoening met die Messias plaasvind voordat die volgende profesie oor hulle in vervulling sal gaan: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit… Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jer. 31:31-34).

2.    Nadat Israel deur die Messias met God versoen is, sal ewige geregtigheid aangebring word, gesig en profeet sal beseël wees en wat hoogheilig is sal gesalf word. Die aanbring van ewige geregtigheid beteken letterlik dat “die geregtigheid van die eeue” ‘n aanvang sal neem. Dit beteken dat God met ‘n bedeling (dispensasie) sal begin wat deur geregtigheid gekenmerk sal word. Dit is duidelik ‘n verwysing na die duisendjarige vrederyk van Christus (Jes. 60:21; Jer. 23:5-6). Die beseëling van die profesieë beteken dat hulle ná die 70 jaarweke vervul, afgesluit en beëindig sal word. Israel moet dan almal gered en in hulle land herstel wees, en die Messias moet terug wees en van die herstelde troon van Dawid af oor Israel én die hele wêreld regeer. Sy vyande moet ook verdelg en die duisendjarige vrederyk ten volle gevestig wees. Hierdie toestand het duidelik nog nie aangebreek nie, want talle Bybelse profesieë, veral oor Israel en hulle land, is nog nie vervul nie en dus nog nie afgesluit en verseël nie. In die tyd wat kom, sal wat hoogheilig is, gesalf word. Dit sal eers gebeur wanneer die Gesalfde gekom het, sy diensknegte, die regeringsetel in Jerusalem en ook die tempel van die vrederyk as heilig aan die Here verklaar sal wees.

Omdat die jaarweke erkende tydseenhede in Israel se chronologie is, het ons hier met ‘n baie eksakte profesie te doen. Vandat die woord uitgegaan het om Jerusalem te herbou, het daar sewe jaarweke verloop totdat die stad, die tempel en die muur rondom die stad klaar gebou was. Daarna het nog 62 jaarweke verloop waarin Jerusalem in tye van benoudheid bewoon en verder uitgebrei is totdat die Messias gekom het. In totaal het daar dus 69 jaarweke verloop tot met die uitroeiing van ‘n Gesalfde (die kruisiging van die Messias).

Daar het inderdaad 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta op 1 Nisan 445 v.C. aan Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te gaan herbou (Neh. 2:1-8), tot met die kruisiging van die Messias op 14 Nisan 32 n.C. Prof. J.M. Schepers van RAU het in ‘n artikel (“Die kruisigingsdatum van Jesus eeue tevore geprofeteer”) daarop gewys dat 483 profetiese jare van 360 dae elk, ‘n totaal van 173 880 dae verteenwoordig. Wanneer dit deur 365¼ gedeel word, is dit gelyk aan 476,06 seisoensjare op ons Gregoriaanse kalender. Op hierdie kalender het die 69 jaarweke dus tussen 23 Maart 445 v.C. en Vrydag 11 April 32 n.C. verloop, en is beëindig op die dag waarop Jesus gekruisig is. Al wat hierna in die heilsgeskiedenis van Israel as volk oorbly totdat die Messiasryk aanbreek, is sewe jaar – die 70ste jaarweek van Daniël, wat deur die volk se verbond met die valse messias ingelui sal word.

Dit is vanselfsprekend dat die verwerping en kruisiging van die Messias ‘n onderbreking in Israel se heilsgeskiedenis tot gevolg sou hê. Jesus het vir die Jode gesê dat hulle huis (Jerusalem) verwoes sou word omdat hulle Hom as Messias en Koning verwerp het (Matt. 23:37-38), en dat Hy as gevolg daarvan sou weggaan totdat hulle Hom iewers in die toekoms as die beloofde Messias sou aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39).

Voordat Israel weer as volk in hulle land herstel sou wees, met ‘n eie regering wat ‘n besluit oor die herbouing van die tempel kan neem en namens die hele volk ‘n verbond met die Messias of die valse messias kan sluit, moes hulle eers vir ‘n lang tyd onder die nasies verstrooi wees terwyl die tye van die nasies sy loop neem. Jesus het vir Israel gesê: “[Julle sal] as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Dit impliseer baie duidelik dat Israel in die laaste dae as volk in die land wat Hy aan hulle vaders gegee het, herstel sal word: “So spreek die Here Here: Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land” (Eseg. 37:21). Die Joodse bevolking van Israel het reeds aangegroei tot 5,4 miljoen, wat omtrent dieselfde as die aantal Amerikaanse Jode is. Binne die volgende paar jaar sal Israel se Jode beslis meer as dié in die VSA wees. Dit sal ’n belangrike demografiese keerpunt wees, omdat Israel vir die eerste keer sedert die vernietiging van Jerusalem in 70 n.C. die grootste konsentrasie Jode in die wêreld sal hê. Volgens ortodokse rabbi’s sal Israel dán namens die hele Joodse volk op ’n godsdienstig wettige manier besluite kan neem en verbonde sluit.

In die sewe jaar direk voor die Messias se wederkoms sal Israel, tydens die 70ste jaarweek, ‘n verbond met die valse messias sluit. Jesus het hulle hierteen gewaarsku: “Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As ‘n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem” (Joh. 5:43). Dit is dus duidelik dat die onderbreking in die 70 jaarweke op die verwerping van die ware Messias gevolg het, en sal strek tot op die dag wanneer Israel ‘n verbond met die valse messias sluit. Dan sal die aftelling van die laaste jaarweek begin.

Ons leef nou in die tyd van die progressiewe herstel van Israel en Jerusalem, waarin die 70ste jaarweek van die volk se heilsgeskiedenis enige tyd kan begin. Volgens Daniël 9:26-27 sal dit ‘n aanvang neem wanneer die vors van ‘n volk wat sal kom (die Antichris, of valse messias) ‘n verbond met Israel én baie ander lande sluit. Sy toetrede tot die wêreldtoneel sal waarskynlik met ‘n ernstige oorlogsituasie verband hou (die Russies-Arabiese inval in Israel – Eseg. 38 en 39), en hy sal die krediet vir die oorwinning opeis. Hy sal dus op ‘n kritieke oomblik as ‘n vredevors tot Israel se redding kom, en ook deur al die nasies geloof word omdat hy ‘n moontlike derde wêreldoorlog afgeweer en ‘n internasionale ekonomiese ineenstorting voorkom het.

Hierdie hoogs dramatiese gebeure sal ‘n verreikende invloed op die Joodse volk, hulle regering en godsdiensleiers hê. Om die opgewondenheid nog verder te verhoog, sal dié selfverklaarde “verlosser” aanspraak op die troon van Dawid maak en op ‘n misleidende wyse bewys dat hy ‘n afstammeling van Dawid is. Israel sal ‘n verbond met hom sluit waarin hulle hom as die beloofde Messias aanvaar. Hy sal ook aan hulle die reg gee om die tempel te herbou en weer die offerdiens in te stel, omdat dit die voortgesette verwerping van Jesus se Messiasskap en sy eenmalige offer aan die kruis sal verseker.

Gedurende die feestelikhede wat met die inhuldiging van die valse messias gepaard sal gaan, sal ‘n geestelike herlewing plaasvind waarin 144 000 Jode hulle van hul regering se verbond met Satan se “engel van die lig” sal distansieer en vir Jesus Christus (Yeshua Ha Mashiach) as die ware Messias sal aanvaar (Op. 7:4). Hulle sal openlik standpunt teen die valse messias inneem, en dit sal tot hewige vervolging teen hulle aanleiding gee. Die valse vrede wat die Antichris sal bewerk, sal net 3½ jaar lank hou. In die middel van die jaarweek van sewe jaar sal hy in die herboude tempel se Allerheiligste ingaan en homself daar tot God verklaar (2 Thess. 2:4). ‘n Beeld van hom sal in die tempel geplaas word, en alle mense gedwing word om hom en sy beeld te aanbid (Op. 13:14-15). Dan sal hy Israel se nasionale godsdiens en offerdiens verbied: “…gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ‘n verwoester wees” (Dan. 9:27).

Israel sal as gevolg hiervan hulle verbond met die valse messias verbreek en hom as Messias verwerp. Hy sal in woede op hulle toeslaan en ‘n Joodse volksmoord gelas. Op daardie dag sal die Jode vir hulle lewens moet vlug en geen oomblik verloor in hulle poging om van die valse messias se magte af weg te kom nie (Matt. 24:15-22). Daniël verwys na hierdie tyd van verskrikking wat in al sy felheid oor Israel sal losbars. Paniek sal heers en baie mense sal nie weet wat om te doen nie. Sommige van die Jode sal die valse Messias erken in die hoop om vrede, sekuriteit en ekonomiese voordele van hom te verkry. Die ander sal hom egter verwerp en as gevolg daarvan hewig deur hom vervolg word:

“En deur hom [die valse messias] sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel [‘n beeld van die valse messias] opstel. En die wat goddeloos handel teen die verbond, sal hy met vleiery afvallig maak, maar die volk wat hulle God ken, sal vashou en optree. En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank. En terwyl hulle struikel, sal hulle met ‘n klein hulp ondersteun word; dan sal baie uit listigheid by hulle aansluit [spioene van die valse messias]. En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde – want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd. En die koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god” (Dan. 11:31-36).

Hierdie arrogante leier “sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie” (Dan. 11:45). Die ware Messias sal hom tydens sy wederkoms verdelg (2 Thess. 2:8; Op. 19:19-20). Dit sal die skielike einde van sy sewe jaar lange skrikbewind meebring, en dus ook die einde van die 70ste jaarweek van Daniël.

Uit die profesie oor die 70 jaarweke van Israel se geskiedenis voor die Messiasryk is dit duidelik dat hulle die ware Messias aan die einde van die 69ste jaarweek sou ombring, hulleself as gevolg daarvan uit God se raadsplan sou begewe, uit hulle land verdryf sou word, en dat hulle uiteindelik aan die begin van die 70ste jaarweek in groot getalle terug in hulle land sal wees en met die valse messias ‘n verbond sal sluit. Hierdie feite dui sonder enige twyfel daarop dat die hele 70ste jaarweek deel van Israel se heilsgeskiedenis is en derhalwe nie deel van die kerkdispensasie nie. Die tye van die nasies, wat met die kerkbedeling en die lang internasionale verstrooiing van Israel saamval, moet eers verby wees voordat die 70ste jaarweek ‘n aanvang kan neem.

Aan die einde van die 70ste jaarweek moet daar ‘n baie dramatiese ingryping van God in die Joodse volksgeskiedenis wees. Dit sal daartoe lei dat hulle van gepoogde uitwissing deur die valse messias gered sal word, en ook almal geestelik met die Messias versoen sal word. Dan sal ewige geregtigheid vir hierdie volk aanbreek, en sal almal van hulle die Here van harte deur die Messias dien. Die hoogtepunt van hulle heilsgeskiedenis as volk sal in die daaropvolgende duisendjarige vrederyk onder die heerskappy van die Messias aanbreek. Al die nasies sal Israel se guns soek omdat dit vir almal duidelik sal wees dat die Here met hulle is (Sag. 8:22-23).

Net so letterlik as wat die eerste 69 jaarweke tot met die verwerping en kruisiging van die Messias verloop het, sal die 70ste jaarweek ook in jare, maande én selfs in dae afgetel kan word. Die enigste onbekende faktor is wanneer die kerkbedeling deur die wegraping afgesluit, die Antichris geopenbaar en sy sewe jaar lange verbond met Israel en die nasies gesluit sal word. Die gevorderde stadium van Israel se herstel in hulle land (die bot van die vyeboom), asook Jerusalem se staatkundige herstel, is vaste aanduidings dat dié tyd baie naby is.

Die dispensasie van die kerk

Met die geboorte van Jesus hét die Messias gekom, en kon die Messiasryk in beginsel vir Israel aangebreek het indien hulle Hom as hulle Messias-Koning aanvaar het. Dit het egter nie gebeur nie, en die Gesalfde is “uitgeroei” sonder iets vir Hom (Dan. 9:26). Hy het na sy eie mense gekom en hulle het Hom nie aangeneem nie (Joh. 1:11). Deur hierdie daad van verwerping het God se horlosie vir Israel wat hulle heilsgeskiedenis as volk betref, gaan staan. Die gevolg was dat daar ‘n baie lang tydsgaping tussen die 69ste en 70ste jaarweke ingetree het, waarin die koninkryk van God op aarde hoofsaaklik onder die nie-Joodse volke gevestig is.

Ná sy opstanding het Jesus aan sy dissipels opdrag gegee om die evangelie aan die ganse mensdom op aarde te verkondig (Mark. 16:15). Dit is die tye van die nasies, nie die tyd van Israel nie, waarin die nie-Joodse nasies ‘n kans sou kry om gered te word. Individuele Jode sou ook in hierdie tyd gered word, maar Israel sou as volk in ‘n verworpe toestand bly voortbestaan. Dit sou so bly tot aan die einde van die kerkbedeling wanneer Jerusalem en Israel herstel is en die laaste geslag verloop het totdat die 70ste jaarweek ‘n aanvang neem: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24; vgl. ook Rom. 11:25). Hieruit is dit duidelik dat daar ‘n herstelfase vir Jerusalem en sy inwoners móét aanbreek, sodat die laaste jaarweek van hulle heilsgeskiedenis voor die koms van die Messias kan aanbreek.

Die kerkdispensasie was ‘n verborgenheid wat nie aan Daniël geopenbaar is nie, daarom het hy geen aanduiding daarvan gegee nie en die 70 jaarweke beskryf asof hulle oënskynlik ‘n aaneenlopende tydperk sou wees. Hierdie verborgenhede is aan Paulus bekend gemaak: “Want ek wil nie hê, broeders, dat julle hierdie verborgenheid nie moet weet nie, sodat julle nie eiewys mag wees nie: dat die verharding ten dele oor Israel gekom het totdat die volheid van die heidene [letterlik die etniese groepe, of nie-Joodse volke] ingegaan het; en so sal die hele Israel gered word, soos geskrywe is: Die Verlosser sal uit Sion kom en al die goddelooshede van Jakob afwend” (Rom. 11:25-26).

Hoewel individuele Jode gered kan word en sodoende lede van die liggaam van Christus kan word, sou die volk in sy verstrooide en geestelik verblinde toestand tot aan die eindtyd bly voortbestaan. In Romeine 16:25 sê Paulus dat die verborgenheid van die prediking van Jesus Christus aan alle nasies deur al die voorafgaande eeue lank verswyg is (kyk ook Kol. 1:26-27). Die Ou Testamentiese profete het dit nie geweet nie. Nog een van die kerkbedeling se verborgenhede is die belofte van die verheerliking en wegvoering van die kerk. Die geredde ontslapenes sal by die eerste opstanding opgewek en met verheerlikte liggame beklee word, terwyl die lewende gelowiges in ‘n oomblik met onverganklike liggame beklee sal word (1 Kor. 15:51-53). Direk daarna sal hulle in wolke weggevoer word, die Here tegemoet in die lug (1 Thess. 4:14-17).

Hierdie verborgenhede wat in Nuwe Testamentiese tye geopenbaar is, is slegs vir die kerkdispensasie bestem. Die formele begin van hierdie dispensasie was tydens die uitstorting van die Heilige Gees. Nadat die Here Jesus deur Israel verwerp en oorgelewer is om gekruisig te word, en Hy drie dae ná die kruisiging uit die graf opgestaan het, het die dissipels net voor sy hemelvaart opdrag gekry om die evangelie na alle nasies uit te dra (Matt. 28:19). Hulle is egter beveel om op die uitstorting van die Heilige Gees te wag voordat hulle met hierdie taak begin (Luk. 24:46-49). Hierna het Jode én nie-Jode lede van die vooraf verborge liggaam van Christus onder alle nasies geword, naamlik die gemeente, en sal die bedeling van die gemeente van Christus voortduur totdat Hy hulle kom haal (Joh. 14:2-3).

Wanneer die gemeente, wat die tempel van die Heilige Gees is, skielik weggeneem is, sal die lig van die wêreld verdwyn en sal groot geestelike duisternis neerdaal. Dan sal die valse messias onverhinderd geopenbaar word en ‘n verbond met Israel en die misleide nasies sluit. Paulus sê: “...net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:7-8).

Die kerkbedeling word dus deur die wegraping beëindig, en direk deur die openbaring van die valse messias en die aanbreek van sy sewe jaar lange bewind op aarde gevolg. Aan die einde van sy relatief kort skrikbewind sal die ware Messias kom en hom met ‘n enkele woord uit sy mond verdelg. Johannes sê: "En ek het die dier [die valse messias] en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees" (Op. 19:19-21).

Gedurende die 70ste jaarweek sal daar baie mense op aarde gered word, maar dit sal nie deel van die kerkdispensasie uitmaak nie. Hulle sal almal as martelare sterf (Op. 6:9-11), omdat hulle nie die volgende waarborg van die kerkbedeling sal geniet nie: “...op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Matt. 16:18). Wat die komende verdrukking onder die bewind van die Antichris betref, lees ons egter: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7).

Profetiese perspektief in die evangelies

Uit die besondere, aanvullende aanbieding van die evangelies volgens Mattheus en Lukas blyk die verskille tussen Israel en die kerk ook baie duidelik. Dit is opvallend dat Mattheus ‘n tipies Joodse scenario aan ons voorhou, daarom moet ons nie die fout maak om die profetiese toekoms van die kerk in dié boek te probeer sien nie. Hierdie Evangelie is hoofsaaklik onder die Jode versprei. Lukas volg ‘n veel breër benadering waaruit die rol van die kerk en die nasies baie duideliker blyk.

Die Evangelie volgens Mattheus is uit ‘n Joodse oogpunt geskryf, en dit is opvallend dat die eerste plek in die koninkryk van God dikwels aan Jode toegesê word. Uit die eerste sendingopdrag aan die twaalf apostels blyk dié voorkeurposisie duidelik. In die tyd voor die nasionale verwerping van Jesus deur die Jode, is die opdrag aan die dissipels gegee om nie na die Samaritane (heidene) met die evangelie te gaan nie, maar net na “die verlore skape van die huis van Israel” (10:5-6). Jesus het in noue aansluiting hierby gesê dat Hy net na die verlore skape van die huis van Israel gestuur is (15:24; vgl. ook 19:28).

In Mattheus word ‘n positiewe standpunt ten opsigte van die wet gestel en die toepaslikheid daarvan as goddelike riglyne vir geestelike en morele norme bevestig (5:18-19). Jesus sê dat Hy nie gekom het om die wet te ontbind nie, maar te vervul (5:17). Die wet is in die Messias se Nuwe Testamentiese wet van liefde teenoor God en liefde teenoor ons naaste vervul (22:36-40). “Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete” (22:40; vgl. ook Rom. 13:8-10).

Die skrywer van hierdie Evangelie is sterk daarop ingestel om die verband tussen die Ou- en die Nuwe Testament aan te toon, en veral die wyse waarop die oue in die nuwe vervul is. Om hierdie rede verwys Mattheus dikwels na die Ou Testament deur onder meer 43 woordelikse aanhalings, benewens nog 22 sinspelings, om sodoende aan ‘n ongelowige en skeptiese volk die bewyse te lewer dat die lewe en werk van Jesus in die fynste besonderhede die vervulling van Ou Testamentiese profesieë is.

Dit is die rede vir die besondere aanbieding van feite oor die maagdelike geboorte en naamgewing van Jesus, sy tydelike verblyf in Egipte en vestiging daarna in Nasaret, die feit dat Hy siekes gesond gemaak, in gelykenisse gespreek, Jerusalem op ‘n esel binnegery en uiteindelik deur sy dissipels verlaat is, “sodat vervul kon word wat God deur die profete gespreek het” (1:22; 2:15, 23; 8:17; 12:17; 13:35; 21:4; 26:54). Ander belangrike besonderhede soos sy geboorte in Betlehem, die ongeloof van die Joodse volk, die aanstoot wat mense aan Hom sou neem en die feit dat Hy vir 30 silwerstukke verkoop sou word, word telkens aan Ou Testamentiese profesieë gekoppel (2:5; 13:14-15; 26:31; 27:9). Hierdie aanhalings van bewysplase uit die Ou Testament is nie naastenby so prominent in die ander Evangelies nie.

As ‘n oorwegend Judaïstiese werk hou Mattheus vir Jesus baie duidelik as Messias van die Jode voor. Sy geslagsregister word aangehaal tot by Abraham wat die eerste Hebreër was, en nie tot by Adam soos wat Lukas dit doen nie. Sterk klem word op sy afkoms van Dawid gelê (1:1,20; 9:27; 12:23; 15:22; 20:30-31; 21:9,15; 22:42-45). Verder dien Jesus se geslagsregister as afdoende bewys daarvan dat Hy op die troon van Dawid aanspraak kan maak (kyk ook 2:2). In elk geval vervul Jesus as gevolg van sy wonderbaarlike verwekking deur die Heilige Gees in die maagd Maria die meer verhewe Ou Testamentiese verwagtings met betrekking tot die Messias, deurdat dit Hom in ‘n baie unieke sin die Seun van sy hemelse Vader maak. Omdat Hy God die Seun is (11:27) kan Hy regmatiglik die titel ‘Emmanuel’ (‘God met ons’) opeis (1:23). Hy is die bonatuurlike ‘Seun van die mens’ wie se koms baie duidelik deur die profeet Daniël voorspel is (Dan. 7:13-14), en wat in die tyd van die einde (Dan. 12:4) op sy heerlike troon sal sit om die nasies te oordeel (16:27; 24:30; 25:31; 26:64 e.v.).

Die Messias se koninkryk is ‘n baie algemene onderwerp in dié Evangelie. God die Vader vertrou die heerskappy oor sy koninkryk aan sy Seun, die Messias, toe wat met sy wederkoms op die troon sal sit (25:34,40). Dit word dus baie duidelik as ‘n eskatologiese koninkryk beskryf wat in die eindtyd geopenbaar sal word wanneer die Messias met groot krag en heerlikheid op die wolke van die hemel sal kom (24:30).

Ooreenkomstig die algemene benadering in die Evangelie van Mattheus word die profesieë só bespreek dat hulle primêr op die toekoms van die (ongeredde) Joodse volk betrekking het. Die tydsraamwerk wat vir hierdie profesieë gebruik word, is twee volwasse geslagte: die eerste is die geslag wat op die verwerping van Jesus as Messias gevolg het (23:34-36), en die ander een die geslag wat direk voor sy wederkoms sal verloop (24:32-34).

Die eerste geslag het begin met Jerusalem (die regeringsetel en kern van die Joodse volk) wat vir Jesus as Messias verwerp het, en hierdie geslag het met die vernietiging van Jerusalem geëindig (23:37-38). Profesieë wat in die eerste geslag vervul is, is die vernietiging van Jerusalem en die tempel deur Israel se vyande – tot só ‘n mate dat nie een klip op die ander gebly het wat nie afgebreek is nie (23:37; 24:1-2). Aan die einde van hierdie geslag sou Jerusalem verlate en sy inwoners óf dood óf verstrooid wees (23:38). Hierdie profesieë is letterlik in 70 n.C. met die beleg en inname van Jerusalem deur ‘n Romeinse mag vervul. Dit het byna 40 jaar ná die begin van die kerkbedeling gebeur, en dien as ‘n bewys dat God steeds met Israel as ‘n afsonderlike volk handel – hulle is nie deur die kerk vervang nie. Hoewel geredde Jode in hierdie bedeling lede van die kerk van Christus word (Rom. 1:16), verander dit geensins aan die feit van Israel se unieke profetiese toekoms as volk nie.

Die laaste geslag sou met die staatkundige herstel van Jerusalem as Joodse hoofstad in 1980 begin, in voorbereiding op nóg ‘n geleentheid wat Israel as volk sal hê om Jesus as Messias te aanvaar. Nadat Hy tydens sy eerste koms deur die Jode verwerp is, het Jesus gesê dat Hy sou weggaan, maar wanneer Hy weer terugkom, sal Israel Hom as hulle beloofde Messias-Koning aanvaar: “Want Ek sê vir julle: Julle sal My van nou af sekerlik nie sien nie totdat julle sal sê: Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (23:39). Die Jode haal elke jaar tydens die loofhuttefees Psalm 118:26 in ‘n gebed aan, wat verwys na die Een wat in die Naam van die Here sal kom, sonder om te besef dat dit in werklikheid op Jesus as Messias betrekking het.

Jesus het aan die ongelowige Jode gesê dat hulle voor sy wederkoms deur die groot verdrukking sou gaan (24:21). Hierdie tyd van verdrukking sal deur die opkoms van valse christusse (messiasse) en valse profete gekenmerk word (24:4-5,11,24) wanneer ‘n valse messias na hulle toe sal kom en voorgee dat hy die ware Messias is (24:23-27). Dit sal ook ‘n tyd van oorloë, hongersnode, pessiektes, aardbewings en die hewige vervolging van Israel wees (24:6-7,9).

Mattheus wy ‘n lang gedeelte aan die eindtydse vlug van die Jode uit Judéa na die berge (24:15-22). Hy koppel die vertrekpunt van hierdie gebeurtenis duidelik aan die ontheiliging van die tempel in Jerusalem deur die valse messias: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (24:15-16). Daniel (9:27; kyk ook 11:31-39) sê dat hierdie gebeurtenis in die middel van ‘n jaarweek (‘n periode van 7 jaar) sal plaasvind. Die valse messias sal dus ‘n sewe jaar lange verbond met Israel sluit, maar in die middel van hierdie tyd sal hy die tempel ontheilig deur homself daarin tot God te verklaar en ‘n afskuwelike beeld van hom in die Allerheiligste te laat oprig.

Die Jode wat sal weier om die valse messias in sy hoedanigheid as selfverklaarde God te aanbid, sal vinnig voor sy oprukkende leërs moet vlug. Volgens Jesus moet hulle bid dat hulle vlug nie in die winter of op die Sabbat is nie (hulle sal dus ortodokse Jode wees), “want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af… nie gewees het nie” (24:20-21). Die Joodse sabbatswette geld slegs in Israel wanneer ‘n persoon net omtrent ‘n kilometer ver mag loop – die kort afstand van Jerusalem af deur die Kidronvallei na die Olyfberg toe (Hand. 1:12). In dié geval sal die valse messias se leërs hulle maklik inhaal en doodmaak. Hulle moet ook bid dat hulle reis nie deur winterkoue of deur klein kindertjies vertraag sal word nie, want hulle sal te voet uit Judéa na die berge vlug (24:19-20).

Die Here sal hierdie vlug toelaat om die Jode van totale uitwissing deur die valse messias te red. Die voortvlugtendes sal steeds geweldige benoudheid en swaarkry ervaar omdat hulle in die “tyd van benoudheid vir Jakob” sal wees (Jer. 30:7). Aan die einde van hierdie jaarweek van verdrukking sal die Messias tydens sy wederkoms na Jerusalem terugkeer (24:29-30; uit Sag. 14:4 weet die Jode dat die Messias na Jerusalem kom). Die oorlewende Jode sal dan aan Hom sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (23:39).

Die Evangelie volgens Lukas wat aan Theofilus, ‘n hooggeplaaste amptenaar in Rome, opgedra en daarna ook in Antiochië versprei is, is hoofsaaklik vir ‘n nie-Joodse leserskring bedoel. Vir Lukas is die strekking van die evangelieboodskap opvallend meer universeel omdat dit vir alle mense ongeag hulle volksverband, klas of stand bedoel is. In hierdie wye perspektief misken hy nie die Joodse konnotasies van die evangelie nie, maar trek die lyne aansienlik breër om ook die wêreldwye doelstellings daarvan te beklemtoon.

So byvoorbeeld verstrek Lukas nie slegs ‘n Joodse geslagsregister vir Jesus, soos wat Mattheus doen nie, maar hy voer Jesus se afkoms terug tot by Adam. Christus spreek dus alle nasate van Adam aan – nie slegs dié van Abraham, Isak en Jakob nie – omdat Hy vir ons almal mens geword het “om te soek en te red wat verlore was” (19:10).

Hierdie benadering blyk duidelik uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan (10:25-37), asook uit die teregwysings aan die Jode vir hulle onverdraagsaamheid teenoor die Samaritane (9:51-56). In Lukas 17:11-19 word daarop gewys dat ná die genesing van die tien melaatses slegs een, ‘n Samaritaan, omgedraai het om God te verheerlik. In Lukas 10:1-24 word 70 dissipels uitgestuur om die evangelie nie net na die Joodse inwoners van die omliggende dorpe uit te dra nie, maar ook na die heidene.

In sy profetiese oorsig bespreek Lukas nie slegs die lotgevalle van die ongelowige Joodse volk nie, maar ook van die Messiaanse gelowiges, die nie-Joodse Christene en die nasies. Die Messiaanse gelowiges se beloofde ontvlugting voor die vernietiging van Jerusalem in die eerste geslag, word deur Lukas beskryf (21:20-22) maar nie deur Mattheus nie. Lukas gaan dan voort om “die tye van die nasies” te noem (21:24) wat vanaf die eerste geslag tot diep in die laaste geslag van die huidige dispensasie strek. Mattheus het nie hierdie lang tydperk genoem nie, omdat hy hom net met die heilsgeskiedenis van Israel bemoei het (dieselfde benadering word ook deur ander Joodse profete gevolg, bv. Daniël, wat geen aanduiding van die lang tydsgaping van nie-Joodse geskiedenis tussen die 69ste en 70ste jaarweke in sy profesie oor Israel gegee het nie – Dan. 9:24-27).

Die herstel van Jerusalem sou die einde van die tye van die nasies inlui omdat “Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (21:24). Lukas gaan hierna voort om ‘n tyd van wêreldwye benoudheid onder die nasies te beskryf, wat op die wederkoms van Christus sal uitloop (21:25-27). Die groot verdrukking word nie in enige detail deur Lukas beskryf nie – hy noem ook nie die vlug van die Jode ná die ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking, soos wat Mattheus uitdruklik doen nie. Lukas gee net ‘n kort opsomming van die groot benoudheid en kosmiese tekens van die verdrukking, en bied dan ‘n sekere manier aan om dit te ontvlug: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (21:36). Mattheus maak nie van die belofte van ontvlugting voor die verdrukking melding nie, omdat die Joodse volk as gevolg van hulle geestelike blindheid deur die tyd van die benoudheid van Jakob moet gaan.

Uit die verskillende perspektiewe van Lukas en Mattheus is dit baie duidelik dat die belofte van ontvlugting voor die verdrukking net aan Jesus se dissipels gemaak word (21:36). Dit is verder ook duidelik dat sy dissipels in die eindtyd hoofsaaklik nie-Jode sal wees (24:47). Hulle word aangemoedig om waaksaam en biddend te wees sodat hulle waardig sal wees om die tyd van oordele te ontvlug en in die geseënde teenwoordigheid van die Seun van die mens te wees!

Deur ‘n ontsnappingsroete aan eerste geslag- én laaste geslag-gelowiges te bied (21:20-21,36), bevestig Jesus die feit dat die gelowiges nooit saam met die ongelowiges geoordeel word nie. Soos in die dae van Noag en Lot, moet die gelowiges eers uit die rampgebied van goddelike oordele verwyder word voordat die toorn van God oor die ongelowiges uitgestort word.

‘n Finale vergelyking: ‘n Verdere opvallende kenmerk van die aanbieding van die profetiese boodskap in Mattheus is dat Jerusalem (waarvan die inwoners die kern van die ongelowige Joodse volk verteenwoordig) in die eerste persoon aangespreek word met ‘n boodskap wat direk op die Jode betrekking het. Terwyl Hy eerste geslag-profesieë uitgespreek het, het Jesus gesê: “Jerusalem, Jerusalem, jy wat die profete doodmaak en stenig dié wat na jou gestuur is, hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak net soos ‘n hen haar kuikens onder die vlerke bymekaarmaak, en julle wou nie! Kyk, julle huis word vir julle woes gelaat!” (Matt. 23:37-38). Dieselfde benadering word in laaste geslag-profesieë gevolg: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting sien (die valse messias wat die tempel ontheilig)… dan moet die wat in Judea is na die berge vlug… As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! (Messias) of: Daar! – moet dit nie glo nie” (Matt. 24:15-16,23). Gedurende die daaropvolgende koms van die Seun van die mens sal al die stamme (volke) van die aarde rou bedryf (Matt. 24:29-30). Op dié wyse word die Jode meegedeel dat nie net húlle rou sal bedryf oor Hom vir wie hulle deurboor het nie (Sag. 12:10), maar dat die oorblyfsel van die Christus-verwerpende nasies ook dieselfde sal doen. Die primêre boodskap in hierdie profesieë is egter aan Israel gerig.

In Lukas word die profetiese boodskap nie aan die Joodse volk in die eerste persoon gerig nie, maar aan die dissipels van Jesus (ongeag of hulle Jode of nie-Jode is). In verband met die eerste geslag-vernietiging van Jerusalem sê Jesus aan sy dissipels: “Wanneer julle Jerusalem deur leërs omsingeld sien, dan moet julle weet dat sy verwoesting naby is” (Luk. 21:20). Lukas doen alle verwysings na Jerusalem en sy inwoners in die derde persoon. Selfs die nie-Joodse nasies, wat uitdruklik in die profetiese scenario ingesluit word, word in die derde persoon genoem terwyl Jesus inligting oor hulle aan sy dissipels meedeel. Aan die Messiaanse (Joodse) gelowiges word gesê dat hulle vervolging deur die ortodokse Jode reeds voor die verdrukking sal begin: “Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in sinagoges en gevangenisse” (Luk. 21:12). Wanneer Lukas die tekens van die verdrukking noem, sonder hy nie vir Israel uit nie, maar verwys na alle nasies wat daardeur geraak sal word: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid… en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word” (Luk. 21:25-26). Aan die ware dissipels van Jesus wat waak en bid, word die versekering egter in die eerste persoon gegee dat “julle… al hierdie dinge wat kom, [sal] ontvlug en voor die Seun van die mens staan” (Luk. 21:36). Dit is beslis nie ‘n boodskap aan Israel nie, maar aan die eindtydse dissipels van Jesus Christus.

In Lukas word die eindtydse scenario duidelik aan die beëindiging van die vertrapping van Jerusalem deur die nie-Joodse nasies verbind (21:24). Dit dien hier vermeld te word dat Bybelse Jerusalem (die Ou Stad, wat ook as die Stad van Dawid bekend staan) in die Sesdaagse Oorlog in Junie 1967 fisies deur Israel herower is, terwyl die politieke herstel van die stad tot sy eertydse status as hoofstad van Israel eers in Augustus 1980 plaasgevind het. Dit het die laaste geslag voor die wederkoms van Christus ingelui (Matt. 24:34; Luk. 21:32).

In die lig van die profetiese perspektiewe in Mattheus en Lukas, is die begin- en eindpunte van die twee kritieke geslagte in die huidige bedeling tussen die eerste en tweede koms van Jesus soos volg:

Die eerste geslag: Hierdie geslag het met die verwerping en kruisiging van Jesus as Israel se Messias-Koning begin, en is deur die beleg en vernietiging van Jerusalem beëindig. Baie Jode is in die aanval deur ‘n groot Romeinse mag dood, terwyl die oorlewende inwoners van Jerusalem krygsgevange geneem is en na baie nasies verstrooid geraak het. Gedurende die eerste geslag het Israel en die kerk saam bestaan, maar Israel is weens die verwerping van die Messias as instrument vir wêreldevangelisasie uitgefaseer, terwyl die kerk van Christus onder alle nasies ingefaseer is om hierdie opdrag uit te voer.

Die tye van die nasies: Die lang tydperk tussen die eerste en laaste geslag word as “die tye van die nasies” beskryf (21:24). In hierdie tyd kry die ganse nie-Joodse wêreld (insluitende die verstrooide Jode) die geleentheid om lede van die koninkryk van God te word deur vir Jesus as Messias en Verlosser aan te neem en weergebore te word (Mt. 28:18-20; Lk.24:45-49).

Die laaste geslag: Hierdie geslag het met die staatkundige herstel van Jerusalem deur Israel in 1980 begin. Gedurende hierdie transisionele geslag bestaan Israel en die kerk aanvanklik saam, maar voor die finale sewe jaar van hierdie geslag (die 70ste jaarweek van Daniël) sal die kerk by wyse van die wegraping uitgefaseer word (Luk. 21:36) terwyl Israel verder as die herstelde volk van God ingefaseer sal word. Die eerste fase van hulle geestelike herstel sal die redding van 144 000 Jode vroeg in die verdrukking wees, terwyl die hele oorblyfsel van die volk aan die einde van die verdrukking gered sal word wanneer die Messias na die Olyfberg in Jerusalem terugkeer (kyk Sag. 14:4-5). Op daardie dag sal die oorblyfsel van Israel aan Hom sê: “Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here!” (Matt. 23:39; kyk ook Sag. 12:10; 13:1,9).

Wegraping voor die Antichris se verskyning

Die Bybel bevestig ook die feit dat die Antichris nie geopenbaar kan word totdat hy wat hom teëhou, uit die weg geruim is nie: “En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en met die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:6-8). “...hy wat hom teëhou” is die liggaam van Christus, wat die gemeente van die weergeborenes is. Die Gees van die waarheid wat in ons is, staan die gees van die dwaling teë wat in die kinders van die ongeregtigheid werk (1 Joh. 4:1-6). Hierdie teëhouding verklaar die feit waarom die koninkryk van die duisternis en sy groot eindtydse leier, die Antichris, nie beheer oor die wêreld kan oorneem solank as wat die koninkryk van God deur die kerk van Christus nog hier gevestig is nie. In hulle verborge vorm bestaan die twee koninkryke wél saam op aarde, soos koring en onkruid wat in dieselfde land groei, maar daar kan nie tegelyk twee opponerende, sigbaar geopenbaarde koninkryke op aarde bestaan nie. Die ware kerk móét eers uit die weg geruim word voordat die Antichris geopenbaar kan word en die wêreld oorneem. So ook móét die Antichris en sy magte aan die einde van die sewe jaar eers verdelg word voordat Jesus Christus se koninkryk op aarde sigbaar geopenbaar kan word.

Dit is ondenkbaar en in stryd met Bybelse beginsels dat die Antichris geopenbaar kan word en ‘n wêreldwye magsposisie verkry terwyl die kinders van die Here, as die tempel van die Heilige Gees, nog hier is. Dit is een van die belangrike redes waarom die wegraping nie in die middel van die verdrukking kan plaasvind nie, want dit sou beteken dat die liggaam van Christus, as die teëhouer van die Antichris, nie weggeneem hoef te word voordat hy verskyn nie. Dit is onbybels! Daar is dus geen ruimte vir die teorie dat die wegraping in die middel van die verdrukking sal plaasvind nie. In die middel van die sewe jaar lange verdrukking sal die Antichris sy verbond met Israel verbreek, die tempel ontheilig en homself tot God verklaar (Dan. 9:27, 11:36-37; Matt. 24:15-21; 2 Thess. 2:4). Direk hierna is dit nie die ontvlugting van die Christene wat sal plaasvind nie, maar die vlug van Israel na die woestyn (Matt. 24:16; Op. 12:14). Ons moenie hierdie twee gebeurtenisse met mekaar verwar nie.

Dwalings en onskriftuurlike verwagtings lei altyd na ‘n skewe perspektief en verkeerde prioriteite. Deur die beskouing van ‘n wegraping in die middel van die verdrukking word die Christus-verwagting van gelowiges deur ‘n Antichris-verwagting vervang. Hulle prioriteite word dan onmiddellik as gevolg hiervan anders bepaal. In plaas daarvan om heiligmaking en diensbaarheid in afwagting op die spoedige koms van die hemelse Bruidegom as hoofdoelwit na te streef, begin hulle nou planne te maak oor hoe om in die verdrukking te oorleef en uit die invloedsfeer en strukture van die Antichris weg te bly. Sulke aksies is onvanpas omdat die perspektief en visie waaruit dit voortspruit, nie die belofte van die ontvlugting uit “al hierdie dinge” in ag neem nie.

Ons opdrag is om vir die Here Jesus te wag en met sy werke besig te bly totdat Hy kom. Indien ons dit doen, sal ons nie hier wees wanneer die Antichris geopenbaar word nie. Mense wat dink dat hulle maar eers vir die Antichris kan wag en dan 3½ jaar aftel totdat die Here kom, kyk ‘n baie kardinale aspek van die profesieë mis, naamlik die verrassingselement in die hemelse Bruidegom se koms. Dit kan nie presies bereken word nie, want ons het net algemene tekens wat die nabyheid daarvan aantoon. Om gebeurlikheidsbeplanning vir ‘n tyd van groot rampe, oorloë en vervolging te doen, in plaas van voorbereidings om dit te ontvlug, kan tot ‘n groot ontnugtering lei.

Uit die oogpunt van omstandighede op aarde sal die wegraping vir Christene ‘n ontvlugting uit dreigende oordele van God tydens die bewind van die Antichris wees. Die finale aanloop na die sewe jaar lange verdrukking sal ‘n donker tyd van geweldige geestelike misleiding en valse eenheid in die wêreld wees. Die evangeliese Christene sal as onbybels en liefdeloos bestempel en geminag word. Hulle sal as doemprofete beskou word omdat hulle die naderende oordele van God verkondig, wat in die verdrukking oor die aarde sal kom. Hulle sal ook as rebelle beskou word omdat hulle nie die hervormings van die nuwe wêreldorde wil aanvaar nie.

Namate die dag vir die openbaring van die Antichris nader kom, sal die ware gelowiges wat vir koms van die Bruidegom gereed maak, aan geweldige druk, verwerping en bespotting onderwerp word. Indien hulle egter getrou bly, sal die Here Jesus hulle deur die wegraping kom haal en sodoende die verdrukking op aarde laat ontvlug: "Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan" (Luk. 21:36). Hulle sal die hele sewe jaar van die Antichris se bewind ontvlug, waarvan die eerste 3½ jaar uit ‘n valse vrede en die grootskaalse geestelike onderdrukking van die waarheid sal bestaan, en die laaste 3½ jaar uit openlike geestelike dwingelandy weens die verpligte aanbidding van die Antichris as God, asook ‘n fisiese verdrukking en natuurrampe soos daar nog nooit was nie.

Die aanhangers van die Nuwe Era Beweging se valse vrede sal nie die oordele van die verdrukking ontvlug nie: "Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle soos die barensnood van ‘n swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie" (1 Thess. 5:3).

Uit die bogenoemde twee tekste is dit duidelik dat daar in die eerste geval ‘n groep is wat die komende oordele sal ontvlug, en in die ander geval ‘n groep wat onverhoeds betrap gaan word en dit sekerlik nié sal ontvlug nie. Die woord ontvlug (Grieks ekfeugo) beteken beslis om buite die verdrukking te wees, en volgens die uitspraak in Lukas 21:36 in die teenwoordigheid van die Seun van die mens gestel te word. Die voorvoegsel ek beteken in die Grieks altyd buite, daarom is die Nuwe Vertaling heeltemal verkeerd as dit beweer dat ons deur die verdrukking moet gaan. Die King James vertaling is volkome korrek as dit hierdie aksie van “ontvlug” as “escape” vertaal. Ons sal nie hier wees nie.

‘n Dramatiese uitredding

Die wegraping sal ‘n baie besondere en hoogs dramatiese gebeurtenis wees omdat dit ‘n ingryping deur God vir die fisiese uitredding van die gelowiges onder uiters moeilike omstandighede op aarde sal wees. Hoewel die wegraping as gevolg van sy aard en omvang uniek sal wees, was daar al verskeie goddelike ingrypings vir die behoud van gelowiges in tye van oordeel.

In die dae van Noag het God sy oordele oor ‘n bose, gewelddadige en moreel verdorwe geslag mense aangekondig (Gen. 6:5-14). Pas voor die uitstorting van goddelike toorn is die gelowiges deur middel van die ark in ‘n plek van veiligheid gestel. Die Here het self die deur agter hulle toegesluit voordat Hy Homself in oordeel tot die sondaars gewend het (Gen. 7:16-23).

In die tyd van Lot het daar ook ‘n uitreddingsaksie plaasgevind. Hulle het in die nag voordat Sodom en Gomorra vernietig is, ‘n dringende opdrag gekry om die rampgebied te ontruim. Die twee engele het ook gesê dat hulle niks kon doen solank Lot en sy gesin nog daar was nie. Kort nadat hulle vertrek het, het vuur en swawel op die goddeloses gereën (Gen. 19:13-17,22-25).

Daar is ‘n duidelike korrelasie tussen hierdie gebeure en God se handelswyse met die eindtydse gelowiges nét voor die sewe jaar lange verdrukking: "En soos dit gebeur het in die dae van Noag, so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: hulle het geëet en gedrink, hulle het getrou en is in die huwelik gegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, en die sondvloed gekom en almal vernietig het. Net soos dit ook gebeur het in die dae van Lot: hulle het geëet en gedrink, gekoop en verkoop, hulle het geplant en gebou. Maar op die dag toe Lot van Sodom uitgaan, het vuur en swawel van die hemel af gereën en almal vernietig. Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word" (Luk. 17:26-30; vgl. Génesis 6 en 19).

Die duidelike Bybelse beginsel wat hieruit blyk, is dat gelowiges nooit aan God se oordele onderwerp word nie. Hulle word wél vervolg deur ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (Joh. 15:18-19; 16:33), maar dan is dit nie God wat hulle oordeel nie. Ons is nie vir goddelike toorn bestem nie (1 Thess. 5:9). Wanneer die Here oordeel, neem Hy, soos in die geval van die sondvloed en vernietiging van Sodom en Gomorra, eers die gelowiges weg – nie in die middel van die oordele nie, maar voordat dit begin. So sal dit ook wees wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.

Sommige mense beweer egter dat die Here die gelowiges in die verdrukking sal bewaar, soos wat Hy Israel in Egipte teen die plae bewaar het wat oor die Egiptenaars gekom het. Israel se uitredding uit Egipte word egter nêrens as ‘n tipe van die wegraping genoem nie. In hierdie geval het die Here die Egiptenaars geoordeel omdat hulle nie die Jode wou laat trek nie, daarom het die oordele net oor hulle gekom. Die Here sal ook in die komende groot verdrukking ‘n oorblyfsel van Israel op aarde beskerm wanneer die eindtydse Farao, die Antichris, sal probeer om hulle uit te wis. Dit het egter niks met die bruidsgemeente te doen, wat in daardie stadium ver van die planeet aarde af in die teenwoordigheid van die Seun van die mens sal wees nie.

Ons sal Hom in die lug ontmoet en dan verder na hemelse plekke weggevoer word: " Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees " (1 Thess. 4:15-18; vgl. Joh. 14:2-3).

Daar word ook soms verkeerdelik na Openbaring 3:10 verwys as ‘n “bewys” dat die Here ons tydens die verdrukking op aarde sal bewaar: “Ek sal jou... bewaar in die uur van beproewing wat oor die hele wêreld kom om die bewoners van die aarde op die proef te stel.” In die oorspronklike teks staan daar egter dat die Here ons “uit” die uur van beproewing sal bewaar wat oor die hele wêreld sal kom. Die Griekse woord “apo” beteken volgens Strong’s “away from something... it denotes separation, departure, etc.” Die King James-vertaling is korrek: “I will keep thee from the hour of temptation...” Ons sal duidelik nie hier wees nie.

Goeie nuus in die profesieë

Die wegraping is die goeie nuus in ‘n andersins donker toneel van eindtydse profesieë oor rampe en oordele wat met die dag van die Here gepaard sal gaan. Indien die belofte van die wegraping verswyg word, sou Christene net donker vooruitsigte oor die Antichris en die sewe jaar lange verdrukking gehad het. Só ‘n situasie sou vergelyk kon word met die sondvloed sonder die ark, of die vernietiging van Sodom en Gomorra sonder ‘n ontsnappingsroete vir Lot en sy gesin. Mense wat die belofte van die wegraping verwerp, openbaar ‘n baie onverskillige houding. Wat sou jy daarvan sê as Noag soos volg geredeneer het?: “God is ‘n liefdevolle God en ek kan nie glo dat Hy die mensdom deur ‘n watervloed sal ombring nie, daarom gaan ek nie ‘n ark bou om verdelging in die vloed te ontvlug nie.” Of wat sou van Lot en sy gesin geword as hy gesê het: “Ek dink dat die oordele oor Sodom en Gomorra simbolies opgeneem moet word, daarom hoef ek nie regtig vir my lewe te vlug nie. As die oordele wél kom, dan moet die Here ons maar in Sodom bewaar.”

‘n Situasie van hierdie aard sou nie alleen hoogs demoraliserend wees nie, maar ook in stryd met die duidelike Bybelse beginsel dat gelowiges nooit die voorwerpe van God se toorn is nie: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie” (Rom. 8:1). Die wegraping is deel van die goeie nuus van die evangelie van Jesus Christus. Hy het na die sonde-deurdrenkte wêreld gekom om die volle prys vir die redding van sondaars te betaal. Daarna is Hy terug hemel toe om ‘n plek vir ons te gaan berei. Hy het beloof om weer terug te kom en ons te kom haal en na ons hemelse tuiste te neem. As ons in Hom bly, sal ons waardig wees om die gruwels van die komende verdrukking deur middel van die wegraping te ontvlug. Ons hoef dus nie tot wanhoop gedryf te word deur die kennis van dit wat oor die wêreld gaan kom nie. Vir die ware gelowiges is daar ‘n wonderlike boodskap van goeie nuus in die profesieë!

Diegene wat nie hierdie goeie nuus ter harte neem en vir die wegraping gereed maak nie, sal alles verloor en vreesbevange in die groot verdrukking na die berge en rotse uitroep: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17). Hulle sal tevergeefs vir die toorn van God probeer wegvlug as hulle weier om tot bekering te kom.

‘n Korrekte toekomsverwagting

Die geloof in ‘n voor-verdrukking-wegraping gee aan jou die versekering dat jy ‘n korrekte, Bybelse toekomsverwagting het. Dit word deur geen ander Bybelse waarhede weerlê nie. Hierdie ingesteldheid eer die Here Jesus en erken Hom as die sleutelpersoon in die profesieë, “want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Christene se aandag moet op Hom gevestig bly. Hulle moet sý skielike verskyning verwag, en nie dié van die Antichris nie. Diegene wat Hom verloën, sal almal met die wegraping agterbly. Die enigste rede waarom hulle aan die diktatuur van die Antichris oorgelewer sal word, sal wees omdat hulle die verlossing wat die ware Christus aan hulle gebied het, geminag en verwerp het. Wat hulle op aarde sal beleef, sal die direkte gevolg wees van die seëls van God se oordele wat die Lam in die hemel sal breek. Moet dus nooit Jesus Christus se sentrale plek in die Bybelse profesieë misken nie. Om sy spoedige koms te verwag en jou lewe daarvolgens in te rig, is ‘n opdrag wat bedoel is om ‘n positiewe motivering aan Christene van alle eeue te verleen. Ek strek my na die koms van die Bruidegom uit, wanneer ek met ‘n verheerlikte, volmaakte en onsterflike liggaam beklee sal word. Watter heerlikheid wag daar nie op die bruidsgemeente nie!

Die regte bepaling van werke

Die verwagting van die koms van die Here Jesus voor die verdrukking, rig jou werke en optrede in die regte rigting. Jy berei vir sý koms voor, en nie vir dié van die Antichris nie. Die belofte van die wegraping konfronteer jou uitdruklik met die verantwoordelikheid om direk ná die wegvoering rekenskap van jouself voor die regterstoel van Christus in die hemel te gee (2 Kor. 5:10; Rom. 14:12). Indien jy die moontlikheid van Christus se spoedige koms uit die gesig verloor en nie meer daarvolgens leef nie, kan jy in oorgerustheid, geestelike passiwiteit en selfs in sonde verval (Matt. 24:48-51).

Die feit dat ons werke ná die wegraping beoordeel gaan word, en net dít met ewigheidswaarde beloon sal word, is ‘n belangrike feit om in gedagte te hou. Dit help ons om doelstellings na te streef wat hoër as die materialistiese en verganklike dinge van hierdie wêreld is. Paulus sê dat nadat die fondament van bekering in ons lewens gelê is, ons die vrug van die Heilige Gees moet dra en nie nuttelose, materialistiese werke moet doen nie (1 Kor. 3:10-15). Ons moet dus oppas dat ons nie met leë hande voor die Here verskyn nie.

Christene wat aan ‘n voor-verdrukking-wegraping glo, hou hulleself nie met oorlewingstrategieë besig in voorbereiding op die verdrukking onder die bewind van die Antichris nie. Hulle hou hulleself met die Groot Opdrag besig, soos wat die Here Jesus self gedoen het: “Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie” (Joh. 9:4). Genadetyd gaan verby en ons moet nou alles in die stryd werp.

‘n Motivering vir heiligheid

Een van die sterkste motiverings wat die belofte van die wegraping in ‘n Christen se lewe vestig is dié van heiligmaking. As lede van die bruidsgemeente moet ons onsself toewy aan die uitdaging om as rein maagde aan die hemelse Bruidegom voorgestel te word (2 Kor. 11:2-3). Dit plaas ‘n duidelike verantwoordelikheid van waaksaamheid op ons sodat die Bose nie toegelaat sal word om ons gedagtes en lewens te besoedel nie. Ons verkry nie die standaard van heiligmaking deur menslike pogings nie, want Christus is ons heiligmaking: “Christus het ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig… sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Ons moet onsself heelhartig hieraan oorgee en die heiligmaking in die vrees van God volbring (2 Kor. 7:1). Die Here Jesus het dit alles vir ons aan die kruis en deur die uitstorting van die Heilige Gees moontlik gemaak, maar ons moet dit aanvaar, daarin wandel, ons in die godsaligheid oefen, ten bloede toe teen die sonde weerstand bied en met volharding die wedloop loop wat voor ons is, die oog gevestig op Jesus wat die Leidsman en voleinder van ons geloof is. Dan sal ons nooit veragter in die genade, ons visie en roeping verloor en van die weë van die Here afvallig raak nie.

Terwyl ons ons plig as getuies van Christus uitvoer, moet ons voortdurend die blink môrester verwag wat nét voor die einde van die nag bokant die donker horison van ‘n troebel en onrus-geteisterde wêreld sal verskyn. Die boodskap van die môrester is dat die nag ver gevorder het en dat dit amper dag is. Voordat die Here Jesus met sy sigbare wederkoms as die Son van Geregtigheid sal kom wanneer elke oog Hom sal sien, sal Hy onopsigtelik as die Blink Môrester kom om sy bruidsgemeente in die lug te ontmoet.

Op daardie oomblik sal die kerkdispensasie verby wees en die uur van duisternis onder die bewind van die Antichris op aarde aanbreek. Dit sal deur die daaropvolgende sewe jaar strek, wat die 70ste jaarweek van Daniël sal wees. Aan die einde daarvan sal die wonderlike gebeurtenis van die hele Israel se redding plaasvind, wanneer hulle sondige verlede finaal afgesluit sal word en ewige geregtigheid vir hierdie volk sal aanbreek. Hulle sal ‘n seën vir die hele aarde wees (Rom. 11:12), almal sal hulle guns soek en die Messias sal uit Jerusalem regeer.