Prof. Johan Malan, Mosselbaai (Oktober 2010)
Daar is ‘n hele aantal Bybelse beloftes oor die wegraping van ware gelowiges voor die aanvang van die sewe jaar lange verdrukking wanneer die Antichris oor die aarde sal regeer. Sommige van hierdie beloftes blyk implisiet uit sekere Skrifgedeeltes, terwyl dit in ander gevalle eksplisiet as ‘n feit gestel word dat gelowiges die komende verdrukking sal ontvlug. Ons kan nie enige twyfel oor hierdie belangrike saak bekostig nie omdat dit ons geestelike ingesteldheid, asook die kwaliteit van ons verhouding met die Here, nadelig sal beïnvloed.
Die Here Jesus noem mense geveinsdes, of huigelaars, indien hulle nie Bybelse profesieë in ag neem en die tekens van die tye in die lig daarvan vertolk nie (Luk. 12:54-56; vgl. 1 Thess. 5:20). Sulke gelowiges is profeties in die duister en het nie ‘n duidelike toekomsverwagting nie. As gevolg hiervan maak hulle nie behoorlik gereed vir dit wat gaan gebeur nie. Die dwase maagde het ‘n duur prys betaal vir hulle onvoldoende voorbereidings vir die bruidegom se koms. Hulle het voorgegee om gereed te wees, maar was nie regtig gereed nie (Matt. 25:1-13). Ons word na aanleiding hiervan gewaarsku om waaksaam te wees en al die nodige voorbereidings te tref vir ons ontmoeting met die hemelse Bruidegom wanneer Hy kom.
Die begrip van ‘n voorverdrukking-wegraping word baie duidelik deur die Bybel by ons ingeskerp. Dit is volkome in ooreenstemming met God se handelswyse deur die eeue heen, daarom het ons geen verskoning om hierdie belangrike belofte mis te kyk nie. Die volgende feite in verband hiermee moet in ag geneem word:
“Die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18). Die woord “wegvoer” beteken om skielik weggeraap of weggeruk te word. In hierdie geval sal die bruid van die aarde af weggevoer word die Here tegemoet in die lug. Om met die hemelse Bruidegom verenig te word, is ’n wonderlike belofte om na uit te sien, daarom noem Paulus Christus se koms ons “salige hoop” (Titus 2:13).
Die Here Jesus het ook in sy profetiese rede duidelik daarop gewys dat ingeligte Christene wat die profesieë verstaan en na aanleiding daarvan waak en bid, beslis die komende verdrukking in sy geheel sal ontvlug: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Om die verdrukking te ontvlug, beteken om daarbuite te bly. Christene sal deur die Here self uit die ramptoneel van goddelike oordele verwyder word. In die lig hiervan sê Paulus dat ons die Seun van God uit die hemele moet verwag, naamlik “Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10).
Die Here verwag van ons om die Bybel te ken, en dit sluit die profetiese woord in wat soos ‘n lamp in ‘n donker plek skyn (2 Pet. 1:19). Hierdie kennis sal ons in staat stel om te kan onderskeid tref tussen die profetiese toekoms van Israel en die kerk. Persone wat oor hierdie kennis beskik, sal bewus wees van die feit dat uit ‘n dispensasionele oogpunt, Daniël se 70ste jaarweek, m.a.w. die verdrukking van sewe jaar, deel van Israel se heilsgeskiedenis is en dus nie deel van die kerkdispensasie nie. Daniël het nie eers na die kerkbedeling verwys, wat tussen die 69ste en 70ste jaarweke verloop nie.
Indien jy egter nie hierdie feit in ag neem nie, dan voeg jy die verdrukking (of ten minste ‘n groot deel daarvan) by die kerkbedeling en skep sodoende ‘n onbybelse toekomsverwagting. Die gevolg hiervan is dat jy aan mense ‘n Antichris-verwagting in plaas van ‘n Christus-verwagting gee, en dit laat baie Christene onnodige stappe doen in verband met oorlewing in die komende verdrukking. Baie van hulle ruim selfs ontvlugtingsplekke in, weg van die groot stede af, omdat hulle nie in ‘n wegraping voor die uitstorting van goddelike toorn glo nie.
‘n Verdere probleem wat ontstaan indien die wegraping iewers in die 70ste jaarweek van Daniël geplaas word, is dié van datumbepaling. Al die gebeure van die verdrukking speel streng binne ‘n tydraamwerk van sewe jaar af, en dit maak datumbepaling moontlik. Sulke persone sê effektief dat ons vir die openbaring van die Antichris moet wag, dan kan ons met ‘n aftelling na die wegraping begin. Dit kan bv. volgens sommiges, 3½ jaar ná die begin van die verdrukking wees, m.a.w. in die middel van die jaarweek. In só ‘n geval doen hulle heeltemal weg met die verrassingselement van die hemelse Bruidegom se koms.
‘n Verdere argument ten gunste van ‘n voorverdrukking-wegraping, is die feit dat die boek Openbaring dispensasioneel en chronologies geskryf is. Eers word die kerkbedeling in Openbaring 2 en 3 beskryf, dan word die verheerlikte kerk in Openbaring 4 en 5 net ná die wegraping in die gedaante van 24 ouderlinge in die hemel uitgebeeld. In Openbaring 6 tot 19 word die sewe jaar lange verdrukking beskryf, wat deur die sigbare koms van Christus beëindig word. In Openbaring 20 word die duisendjarige vrederyk van Christus beskryf, en in Openbaring 21 en 22 die nuwe hemel en aarde wat ná die eindoordeel geskep sal word.
Ons is tans in Openbaring 3 in die sewende en laaste gemeenteperiode, kort voor die einde van die kerkbedeling. Die geestelik lou, afvallige en materialistiese kerk van Laodicea is nou oorheersend in die wêreld. Binnekort sal die ware kerk deur middel van ‘n basuingeklank opgeroep word hemel toe. Dit is duidelik net die ware dissipels van die Here Jesus wat die belofte verkry het dat Hy hulle sal kom haal nadat Hy in die hemel vir hulle plek gaan berei het (Joh. 14:2-3). Die ouderlinge rondom die troon sal die Lam toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10).
Daar is letterlik duisende tale, stamme en nasies in die wêreld, en heiliges uit almal van hulle sal rondom die troon in die hemel staan wanneer die seëls gebreek, die basuine geblaas en die sewe laaste plae oor die goddeloses uitgestort word. By die breek van die eerste seël word die Antichris as valse vredevors geopenbaar. Daar is geen moontlikheid dat die ware kerk van Christus aan die Antichris uitgelewer en aan God se oordele onderwerp kan word nie, want ons is nie vir goddelike toorn bestem nie (1 Thess. 5:9).
Die komende dag van die Here verkondig dus totaal verskillende lotgevalle vir gelowiges en ongelowiges. Vir die afvalliges en ongelowiges op aarde sal dit ‘n tyd van goddelike oordele wees omdat hulle nie aan Jesus Christus behoort en dus nie aan sy vryspraak deel het nie. Vir die dissipels van Christus sal die dag van die Here egter ‘n tyd van verheerliking en onuitspreeklike blydskap wees. Paulus sê: “Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het” (2 Tim. 4:8).
“Dié dag” verwys na die dag van die Here. Wanneer die Antichris deur sy groot misleiding die hele wêreld in sy mag sal kry, sal die kinders van die Here in die hemel voor die regterstoel van Christus verskyn, genadeloon in die vorm van krone ontvang, en dan saam met Hom die wêreld in geregtigheid oordeel (1 Kor. 6:2). Hulle sal toekyk hoedat die seëls van God se oordele oor die sondaars gebreek word, en telkens die regverdigheid van sy oordele beaam.
Die hele sewe jaar van die verdrukking sal ‘n tyd van goddelike toorn oor die sondaars wees. Aanvanklik sal geestelike intimidasie en misleiding deur die Antichris aan die orde van die dag wees (vgl. 2 Thess. 2:8-12; Op. 13:3-4), gevolg deur ‘n tyd van groot verdrukking, natuurrampe en oorloë. Die Antichris sal die hele sewe jaar lank oor die wêreld regeer. Nog nooit in die geskiedenis het God die gelowiges saam met die ongelowiges geoordeel nie, daarom sal hulle voor die Antichris se openbaring van die planeet aarde af weggeneem word.
In die tyd van Noag en Lot was daar ook so ‘n uitredding van gelowiges vóór die uitstorting van toorn. Dit was toe al ondenkbaar dat God die gelowiges saam met die ongelowiges sou oordeel. Abraham het vir God gevra: “Sal u ook die regverdige saam met die goddelose ombring?” (Gen. 18:23). Die Here het gesê dat Hy dit nie sou doen nie, en het bevestig dat Hy nie die goddelose stede sou verdelg indien daar selfs net tien gelowiges in hulle sou wees nie. Daar was egter nie tien nie, en daarna het die Here eers die gelowiges na ‘n plek van veiligheid weggestuur voordat sy oordele die goddeloses getref het. Die engel het bevestig dat God se oordele teruggehou sou word totdat Lot en sy gesin weg was (Gen. 19:22).
Voor die vernietiging van Jerusalem in die jaar 70, het die Here ook aan ware Christene die geleentheid gegee om uit die stad te vlug en sodoende die toorn van God oor die geestelik verharde Joodse volk te ontkom (Luk. 21:20-24). Historiese bronne dui aan dat die Christene almal uit Jerusalem gevlug het na Pella, ‘n stad oos van die Jordaan, voordat Jerusalem in die jaar 70 deur die Romeinse magte onder die leiding van Titus beleër en vernietig is.
Hierdie ontvlugting het in die eerste geslag van die Christelike dispensasie plaasgevind. In die laaste geslag van hierdie bedeling, voor die verdrukking en die openbaring van die Antichris, sal daar ‘n letterlike en wêreldwye ontvlugting van Christene plaasvind: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36).
Die verdrukking en vervolging wat Christene deur die eeue heen ervaar het, is ter wille van hulle geloof en kom vanaf ‘n vyandige wêreld wat in die mag van die Bose lê. Ons word nie deur God geoordeel of verdruk nie. Ons moet ten alle tye ‘n duidelike onderskeid tref tussen verdrukking ter wille van ons geloof, en verdrukking as God se straf oor sondaars. Die poorte van die doderyk sal die kerk van Christus nie oorweldig en uitwis nie (Matt. 16:18), maar ná die wegraping sal die seun van die verderf (die Antichris) groot mag oor alle mense kry, insluitende diegene wat ná die wegraping tot geloof sal kom: “Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie” (Op. 13:7). Gelowiges in die verdrukking sal baie swaar onder sy bewind ly (Op. 6:9-11).
Hoewel die Antichris aanvanklik as ‘n [valse] vredevors sal optree, sal sy diktatuur oor die hele sewe jaar van die verdrukking strek. Saam met sy skrikbewind sal God se oordele oor die aarde uitgestort word, daarom die noodwendige ontruiming van alle Christene voor die begin van die sewe jaar lange verdrukking. Dit sal ‘n ontvlugting wees, soos wat Noag en Lot ook voor tye van goddelike oordele ervaar het. Die belofte van ontvlugting is vir ons ‘n salige hoop in ‘n al hoe donkerder wordende wêreld.
Persone wat nog voor die wegraping op die koms van die Antichris wag, hou nie rekening met die feit dat hy hoegenaamd nie geopenbaar kan word totdat die teëhouer uit die weg geruim is nie. Paulus sê aan die Thessalonicense: “Die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:7-8).
In die tyd van Paulus was die antichristelike gees van dwaling al aan die werk, en het sy ondermynende werk deur die eeue heen tot vandag toe aanhou doen. Sy bose sending is om individue, samelewings en hulle instellings, insluitend kerke, verdorwe te maak sodat hulle van die koninkryk van die hemel vervreem kan raak deur afvallig te word van God, sy Seun en die ware leer van die Bybel. Dit is waarom opregte Christene nog altyd onder die leiding van die Heilige Gees moes skyn soos ligte te midde van ‘n donker, sondige en verdorwe wêreld. Die verborge werking van die gees van ongeregtigheid is daarop ingestel om die wêreld voor te berei vir die eindtydse verskyning en magsoorname deur die Antichris. Die openbaring en wêreldwye oorname van die Antichris kan egter nie gebeur voordat sy teëhouer – dit is die kerk van Christus as die tempel van die Heilige Gees – deur middel van die wegraping weggeneem is nie. Eers dan sal die uur van totale duisternis aanbreek en sal die valse messias as politieke en godsdienstige leier sonder teëstand die wêreld oorneem om deur almal aanvaar, nagevolg en aanbid te word.
Daar is geen naasbestaan moontlik tussen die kerk van Christus en die Antichris as ‘n ten volle geopenbaarde wêreldleier nie. Die kerk sal eers van die toneel verwyder moet word sodat die Antichris kan verskyn en absolute beheer oor ‘n verdorwe wêreld verkry. Onder die invloed van die mens van sonde sal volle vryheid gegee word aan die sondige neigings en bose hartstogte van die misleide massas, wat openlik die seun van die verderf sal aanbid. Hy sal aan hulle onbeperkte vryheid van keuse toelaat om die maat van hulle sondes heeltemal vol te maak, en sodoende ‘n ongekende morele en geestelike verval te veroorsaak wat aan die dae van Noag en Lot sal herinner. Dit sal die voorspel wees tot ‘n dramatiese ingryping deur God in die sake van die mensdom deur die wederkoms van Jesus Christus, wat tot oordele oor die goddeloses en die skielike vernietiging van hulle sataniese leiers sal lei. Hierdie oordele sal hulle hoogtepunt bereik tydens die oorlog van Armageddon aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking. Die Antichris en die valse profeet sal verdelg word omdat daar nie ‘n naasbestaan tussen Christus en die Antichris op aarde kan wees nie (Op. 19:19-21). Die duiwel sal ook van die toneel verwyder en in ‘n bodemlose put gebind word (Op. 20:1-3).
Ons is op die drumpel van die openbaring van die koninkryk van die duisternis en sy bose koning. Sewe jaar later sal dit deur die openbaring van God se koninkryk en sy Koning van geregtigheid gevolg word, wat sal lei na die vernietiging van die bose magte en die heerlike vestiging van Christus se duisendjarige vrederyk. Hierdie reeks apokaliptiese gebeure sal skielik begin wanneer die teëhouer teen die openbaring van die Antichris uit die weg geruim is.
Een van die redes waarom sommige mense die wegraping in die middel of naby aan die einde van die verdrukking verwag, is omdat hulle nie die verskillende basuine in die Bybel van mekaar kan onderskei nie. Hulle meen dat die laaste basuin wat volgens 1 Korinthiërs 15:52 tydens die opstanding en wegraping van die regverdiges blaas, dieselfde is as die sewende en laaste van die basuine wat in Openbaring 8 tot 11 God se oordele in die verdrukking aankondig. Volgens hulle is dit die laaste basuin wat gaan blaas. Daar is egter baie basuine waarvan in die Bybel melding gemaak word, en hulle het in die meeste gevalle niks met mekaar te doen nie. Elke basuin moet in sy eie profetiese konteks en chronologiese siklus verklaar word.
In Israel se program van sewe groot jaarlikse feeste, soos in Levitikus 23 beskryf, word daar op die eerste dag van die sewende maand op hulle godsdienstige kalender, ‘n basuin geblaas om die finale insameling van die oes aan te kondig. In hierdie maand, Tisri, word die laaste drie van die sewe feeste gevier, naamlik die Fees van Basuingeklank, die Groot Versoendag en die Loofhuttefees. In die profetiese toepassing van hierdie drie feeste sal die Fees van Basuine met die wegraping vervul word wanneer die oes vir die koninkryk van die hemel oor die hele wêreld ingesamel word. Die Groot Versoendag sal met Christus se sigbare koms vervul word wanneer Israel as volk met Hom versoen word, en die loofhuttefees sal die vreugdefees wees wanneer die Messias se aardse koninkryk met Jerusalem as hoofstad ingestel word. Die geredde Israel en die verheerlikte kerk sal ‘n prominente rol in hierdie koninkryk speel.
Met die oog op die uiterlike vorm en geestelike betekenis van hierdie feeste het die fees van basuine op 1 Tisri deur die jare ‘n aansienlike uitbreiding in Israel ondergaan. Dit is terselfdertyd die nuwejaarsviering op hulle siviele kalender waarin Tisri die eerste maand is. Hierdie fees word op 1 én 2 Tisri gevier omdat 1 Tisri, afhangende van wanneer die eerste skrefie van die nuwemaan verskyn, eers ‘n dag later kan aanbreek onder sekere Joodse gemeenskappe buite Israel. Omdat dit onmoontlik is om vooraf die presiese dag en uur van hierdie fees se aanvang te bepaal, het hulle die viering daarvan oor twee dae uitgerek.
Gedurende die sesde maand op die godsdienstige kalender, Elul, blaas rabbi’s elke dag die ramshoring (shofar) in hulle sinagoges as ‘n oproep tot bekering vir die volk as voorbereiding vir die komende Groot Versoendag (Yom Kippur) wanneer hulle toewyding aan God weer volkome herstel moet word. “Elul” beteken “deursoek” en het die geestelike betekenis dat mense in hierdie tyd hulle harte en lewens vir verborge en onbelyde sondes moet deursoek. Op 2 Tisri word die basuin ‘n paar keer deur die dag geblaas, en dan ‘n laaste keer teen sononder die aand wanneer die dag verbygaan. Indien die volk in daardie stadium nog nie op die oproep tot bekering ag geslaan het nie, breek daar vir hulle die sewe verskriklike dae tussen 3 en 9 Tisri aan, wanneer hulle ‘n verdere kans kry om met hulle sondes te breek en tot bekering te kom. Hierdie sewe dae sal profeties in die jaarweek van die verdrukking vervul word, wat ‘n tyd van benoudheid vir Jakob sal wees (Jer. 30:7). Dit sal ‘n baie donker tyd in Israel se geskiedenis wees, soos gesimboliseer deur die paar dae van donkermaan wat ná die fees van basuine volg.
Op die Groot Versoendag, wat op 10 Tisri ná die 70ste jaarweek van Daniël gevier sal word, sal die Messias sy voete op die Olyfberg sit en dan sal die hele oorblyfsel van Israel op een dag met Hom versoen word (Sag. 12:10). Op die loofhuttefees direk daarna sal die Messiaanse koninkryk in Israel gevestig word.
Binne die verband van Israel se oesfees het die konsep van ‘n laaste basuin dus ‘n heel ander betekenis as die laaste basuin in die program van God se oordele tydens die verdrukking. In ‘n profetiese sin sal die oes van die Here tydens die blaas van die laaste basuin op 2 Tisri ingesamel word. Dit is presies wat tydens die wegraping gaan gebeur. Ons het alle rede om profetiese waarde aan die fees van die basuine te heg, omdat die voorafgaande vier feeste almal op hulle bepaalde tyd vervul is – dit is die Paasfees tydens die kruisiging van Jesus, die fees van die ongesuurde brood tydens sy begrafnis, die fees van die eerste vrugte tydens sy opstanding, en die Pinksterfees tydens die uitstorting van die Heilige Gees. Ons weet natuurlik nie tydens watter jaar se feesprogram die drie feeste van die oesseisoen vervul sal word nie, maar ons weet beslis dat dit wél vervul sal word.
Daar is ook ‘n ander verwysing na die blaas van ‘n basuin tydens die wegvoering van die Bruidsgemeente. In tradisionele Joodse huweliksgebruike word daar ‘n basuin geblaas, tesame met ‘n geroep, wanneer die bruidegom in die nag sy bruid kom haal. Ons wag op hierdie oomblik wanneer die Here Jesus uit die hemel sal neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God. Dan vertrek ons in ‘n oogwink saam met Hom na die hemelse bruilofsaal. Nadat die Joodse bruid weggeneem is, is sy vir sewe dae lank in die bruidsvertrek afgesonder waar niemand anders as net die Bruidegom haar gesien het nie. Hierdie sewe dae van afsondering dui profeties op die jaarweek van die verdrukking, wanneer die bruid van Christus van die aarde af weg sal wees. Gedurende die tyd van haar afwesigheid sal die Here se oordele oor ‘n goddelose wêreld uitgestort word.
Ná die oesfees wat met die wegraping vervul sal word, sal daar drie reekse van sewe oordele elk, oor ‘n ongeredde wêreld uitgestort word – dit is die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae. Die basuingeklank tydens die wegraping het hoegenaamd niks met die sewe basuine te doen wat God se oordele in die verdrukking aankondig nie. Die basuin wat die kerk van Christus na die hemel oproep, moet nie met die uitstorting van God se toorn oor die goddeloses verwar word nie. Die kerk word nie tydens een van hierdie sewe basuine na die hemel opgeroep nie.
Wanneer ons die regte profetiese perspektief het, verwag ons die hemelse Bruidegom en nie die misleidende “engel van die lig”-bruidegom wat deur die duiwel gestuur sal word om die valse gelowe te verenig en in ‘n “huwelik” aan die Antichris te verbind nie. Om vir die ware Bruidegom te wag, plaas ‘n verantwoordelikheid op ons om onberispelik te wees in heiligheid. ‘n Rein hart wat met die Heilige Gees vervul is, is al wat vir die Here aanvaarbaar is. Is daar dalk nog dinge in jou lewe wat die Heilige Gees bedroef en die verhouding tussen jou en die Here Jesus vertroebel? Maak dit dadelik reg deur dit te bely en te laat staan, wandel daagliks deur die Gees en laat die lig van die Here se teenwoordigheid jou lewenspad verlig. Slegs dan sal ons nie mislei kan word nie.
Ons moenie tot op die laaste oomblik wag voor ons agterkom dat ons nog nie oorwinnend en Geesvervuld leef nie. “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2). Hy troon bokant ons donker tydsomstandighede uit en is steeds magtig om te red, sy dissipels te heilig en staande te hou teen alle aanslae van die vyand. Hy kom ons spoedig haal as ons daarvoor gereed is! Dit is juis die belofte dat Hy gou sal kom om sy bruid te kom haal, wat die grondslag is vir ons verwagting dat Hy ons voor die verdrukking kom haal om ons na ons ewige tuiste weg te voer.