Deur Emile Odendaal, Petra Woordbediening, Potchefstroom (Mei 2006)
Ons leef in ‘n moderne wêreld wat met vrees gevul is: vrees vir die toekoms, vrees vir die onbekende, vrees vir siekte, vrees vir ongemak, swaarkry, lyding en misdaad, vrees vir armoede, vrees vir mense, vrees vir die dood, vrees vir mislukking, vrees vir verwerping, en vele ander vrese. Kommer en vrees is die kern van baie emosionele probleme soos depressie, angs, stres en erge geestesiektes soos skisofrenie. Navorsing in die Westerse wêreld toon dat daar bykans net soveel kerklidmate medikasie gebruik vir emosionele en geestesiektes as nie-kerklidmate. Dit moet noodwendig die liggaam van Christus laat ondersoek instel, aangesien die Here soveel beloftes vir geestelike verlossing, genesing en beskerming aan sy kinders gee. Die vraag is: Waarom word hierdie beloftes nie in die lewens van menige kerklidmate waar nie? Weens hulle ongeloof.
Geloof in God en sy Woord het baie vyande in die wêreld, maar vrees is sekerlik die grootste vyand van geloof. Daar is niks wat geloof vinniger kan uitblus as vrees nie. Vrees blus geloof uit en geloof blus vrees uit, daarom word die opdrag om nie te vrees nie, meer as 365 keer in die Bybel herhaal. Dit is ‘n baie belangrike saak.
Die vrees waarvan ons in hierdie artikel praat, moenie verwar word met die “vrees vir die Here” nie. In die Bybel is daar 14 verskillende Hebreeuse en 7 Griekse woorde vir “vrees,” maar in Afrikaans is daar net een. Die term “vrees vir die Here” verwys na diepe eerbied en ontsag vir God, wat lei tot onderwerping en aanbidding, en nie na die tipe vrees wat vermyding tot gevolg het nie. Die Here beveel juis dat ons tot Hom moet nader, Hom moet soek en liefhê met ons hele hart, en Hom nie moet vermy nie. Ons moet ons vertroue in Hom stel.
In die wêreld van die 21ste eeu word die geestelike dimensie van die mens grootliks ontken en word die brein as die setel van sy denke en emosies beskou. Afwykende gedrag en langdurige negatiewe emosies word daarom as biochemiese of organiese afwykings in die brein bestempel, wat chemies behandel moet word. Hierdie idee stam uit tradisionele Westerse medisyne waarin chemiese middels vir elke fisiese kwaal ontwikkel is, en daarom is die chemiese behandeling van emosionele probleme ‘n logiese voortsetting hiervan. Sodoende het daar ‘n nuwe veld van die mediese beroep ontwikkel wat as “psigiatrie” bekend staan. Die siel en gees van die mens word in die proses vergeet.
Daar is egter ‘n ander, dieperliggende oorsaak van hierdie ontwikkeling, nl. die evolusieteorie. Laat my toe om te verduidelik. Elke mens handhaaf ‘n sekere beskouing oor lewe op die aarde ten einde die volgende vrae te probeer beantwoord: Wie is ek, waarom is ek hier en waar gaan ek heen as ek doodgaan? Vanuit die Bybelse lewensbeskouing is die antwoord dat ons mense met ‘n gees, siel en liggaam is wat na God se beeld geskape is. Ons is hier om die aarde en sy hulpbronne op ‘n verantwoordelike wyse te benut en te bestuur, en só te leef dat God se onsigbare koninkryk op aarde uitgebrei sal word. Wanneer ons doodgaan, sterf slegs ons liggaam maar ons siel en gees leef vir ewig daarna in die hemel of in die hel voort. Ons is wesens wat met onsterflikheid beklee is – net ons aardse liggame is tydelik.
Mense in die Westerse wêreld (waar psigiatriese medisyne ontstaan het) en wat die Bybel verwerp, verkies gewoonlik die evolusieteorie as hul lewensbeskouing. Volgens hulle is die mens bloot ‘n komplekse biochemiese wese wat ontwikkel het uit ‘n stuk protoplasma, m.a.w. ‘n wese sonder ‘n gees, wat geen spesifieke doel op aarde het anders as om die lewe te geniet nie, en wat totaal vergaan wanneer sy liggaam sterf.
Die ateïstiese, evolusionistiese beskouing van siekte is daarom dat alle siektes òf die gevolg is van ‘n invloed van buite, soos ongelukke, virusse, ens., òf aan ‘n chemiese wanbalans in die liggaam toegeskryf kan word. Die logiese manier van behandeling is dus met chemiese middels.
Angs, vrees en stres word deur die wêreld as ongewenste emosies en selfs as siektes beskou en moet daarom chemies behandel word. Die gevolg is dat antidepressante soos Prozac ontwikkel is om depressie te behandel, omdat depressie volgens die psigiatrie ontstaan vanweë ‘n chemiese wanbalans in die brein – ‘n beweerde tekort aan die oordragstof serotonien. Die antidepressante vul dan die chemiese tekorte aan. Dieselfde benadering geld ten opsigte van erge psigiatriese siektes soos skisofrenie: Medici aanvaar dat skisofreniese pasiënte te veel van ‘n sekere oordragstof, dopamien, in die brein het en daarom word hulle ‘n middel gegee wat die natuurlike produksie van dopamien blokkeer. Die skokkende waarheid omtrent hierdie saak is egter die volgende:
· Mediese navorsing kon nog nooit bewys dat chemiese wanbalanse in die brein die oorsaak van toestande soos angs, depressie en skisofrenie is nie – slegs dat daar in sommige gevalle ‘n wanbalans voorkom.
· Mediese navorsing kon nie eers bewys dat wanbalanse in breinchemie in alle gevalle van psigiatriese siektes voorkom nie, nie eers in ‘n beduidende aantal daarvan nie. Selfs dan kan daar nie bewys word dat die chemiese wanbalans die oorsaak en nie dalk die gevolg van die toestand is nie.
· Die bewering oor chemiese wanbalanse in die brein is dus ‘n leuen en word slegs deur die groot farmaseutiese maatskappye gebruik om geld te maak uit psigiatriese medikasie, en om die biochemiese model van geestesiektes tot hulle eie voordeel te bevorder.
Waarom verkies die wêreld om die mens as ‘n suiwer biochemiese wese te beskou en die geestelike aspek van sy bestaan te ontken? Omdat die enigste alternatief die Bybelse beskouing is, en dit is vir die wêreld en sy geldmagte onaanvaarbaar. Onthou ook dat psigiatriese medikasie eers in die 1950’s ontwikkel is. Voordat psigiatriese medisyne bestaan het, is geestesiektes beskou as dit wat die naam aandui, naamlik ‘n geestelike toestand, en is daar vir berading na geestelike leiers soos predikante, pastore, priesters of rabbi’s gegaan.
Stephen Hyman, ‘n bekende neuroloog en voormalige hoof van die National Institute of Mental Health in Amerika, het in 1996 ‘n verslag geskryf oor die invloed van psigiatriese medikasie op die brein. Hy het bevind dat die brein probeer aanpas by die invloed van die medikasie, en só word die breinfunksie totaal versteur. Wanneer ‘n persoon antidepressante gebruik wat die serotonienvlakke in die brein kunsmatig verhoog, kompenseer die brein deur minder serotonien te produseer. Oor ‘n lang termyn eindig die persoon met uiters lae serotonienvlakke en wanneer die persoon dan die medikasie staak, val hy of sy dadelik weer in ‘n depressiewe toestand terug. Die persoon besef nie wat werklik aan die gang is nie en kom tot die gevolgtrekking dat hy ‘n ernstige “siekte” het en langtermyn of selfs lewenslange behandeling daarvoor moet ontvang. Sodoende word die persoon in ‘n web van medikasie vasgevang waaruit hy of sy nie maklik kan ontsnap nie.
Barry Jacobs, ‘n neuroloog en navorser aan die Princeton Universiteit, beskryf soos volg wat met ‘n persoon gebeur wat antidepressante gebruik: “These drugs alter the level of synaptic transmission beyond the physiologic range achieved under normal environmental biological conditions. Thus, any behavioral or psychologic change produced under these circumstances might more appropriately be considered pathologic rather than reflective of the normal biological role of serotonin.” Navorsing bevestig dus dat die antidepressante medikasie juis afwykings in die brein veroorsaak!
In die geval van angstoestande word kalmeermiddels voorgeskryf wat gewoonlik tot die groep behoort wat as “benzodiasepiene” bekend staan. Bekende middels in hierdie groep is Valium, Normison, Tranxene, Halcion, Ativan, Librium en Dormonoct. Die vervaardigers reik waarskuwings uit dat hierdie middels nie langer as vier weke gebruik moet word nie, aangesien dit tot afhanklikheid lei indien dit langer gebruik word, en dat dit nie vir depressie voorgeskryf moet word nie. Ten spyte van die waarskuwing word pasiënte nie teen hierdie gevaar gewaarsku nie, en gaan sommige dokters voort om dit vir langer periodes, selfs jare lank, voor te skryf. Langtermyn gebruik van benzodiasepiene lei tot disintegrering van die persoonlikheid as gevolg van die persoon se eie onvermoë om angs en spanning te hanteer, aangesien die medikasie die rol oorgeneem het. Dié resep werk uitstekend om lewenslange afhanklikheid te skep.
Benzodiasepiene-verslawing kan die vorm van die brein verander (Psychol Med, 1987; 17:869-73), dit veroorsaak skade aan breinreseptore en wanbalanse in neurotransmitters. Terwyl die onttrekkingsimptome van heroïne ‘n paar weke lank duur, kan onttrekkingsimptome van benzodiasepiene in ‘n beduidende getal pasiënte tot langer as 10 jaar lank duur (Prof. Malcolm Lader: Face the Facts, 16 Maart 1999).
Oorweldigende vrees is die grootste enkele hindernis vir die benzodiasepien-afhanklike persoon wat probeer om die medikasie te staak. Elke benzodiasepien-verslaafde bevestig dat ‘n onverklaarbare vrees hulle oorval wanneer hulle die medikasie staak en dat die vrees nie verdwyn nie. Ander newe-effekte van hierdie kalmeermiddel wat deur navorsing bevind is, is skildklierdisfunksie, Parkinson-siekte, lewerskade, kanker en hartskade wat selfs na die dood kan lei.
In Brittanje alleen word bereken dat meer as een miljoen mense aan kalmeermiddels verslaaf is en nog ‘n miljoen deur onttrekkingsimptome lamgelê word. Verder word bereken dat daar elke jaar meer as 50 000 Britse babas gebore word met kitsafhanklikheid van benzodiasepiene, en dat hulle ‘n groot risiko van breinskade loop en selfs wiegiedood (In the womb and hooked on tranquilizers. Medisa, 22 Julie 2002).
Die ergste onthulling is dat slegs ‘n klein persentasie mense op kalmeermiddels geplaas word omdat hulle angs ervaar. In werklikheid word dit in die meeste gevalle vir normale, gesonde mense voorgeskryf wat dan siek word as gevolg van die medikasie. Ongeveer 50% van die mense word benzodiasepien-verslaafdes as gevolg van opname in ‘n hospitaal. Ander word kalmeermiddels voorgeskryf vir totaal ontoepaslike redes soos bv. sportbeserings en rou oor die verlies van ‘n geliefde (British Medical Journal, 1992; 304;881).
Ten spyte van al hierdie potensieel dodelike newe-effekte en verlammende verslawing, word kalmeermiddels (ook bekend as angsweerders) steeds aan die oningeligte publiek as “genesing” vir angstoestande aangebied.
In die finale analise moet gevra word of die psigiatriese medikasie enige waarde het. Help dit enigsins om die voorkoms van angstoestande en depressie te verminder? Amerikaanse navorsing toon presies die teenoorgestelde: In 1903 is omtrent 1 uit elke 500 mense vir geestesiektes gehospitaliseer. Teen 1955, met die begin van die era van moderne psigiatriese medisyne, het dit tot 1 uit 300 toegeneem. ‘n Mens sou verwag dat die getalle ná 1955 moes afneem, maar vandag word 1 uit elke 50 Amerikaners as geestesiek (mentally ill) geklassifiseer en ontvang medikasie daarvoor.
Die gevolgtrekking is duidelik: geeneen van hierdie middels het bewys dat hulle die voorkoms van geestesiektes verminder, of dat hulle meer voordele as nadele inhou nie. Waar hulle veronderstel is om chemiese balanse reg te stel, veroorsaak hulle juis chemiese wanbalanse. Die vraag is nou: Waarom werk medikasie nie vir emosionele probleme nie? Die antwoord is: God het nooit bedoel dat medikasie vir die gees moet werk soos vir die liggaam nie. Die vleeslike, tasbare oplossings werk vir die vlees; die geestelike oplossings alleen werk vir die gees. Dit word in die volgende afdeling verduidelik.
Die Bybelse beskouing van siekte, in teenstelling met die wêreldse, evolusionistiese, biochemiese model, is meer kompleks: Die mens is ‘n kombinasie van siel en gees wat die liggaam tydelik bewoon. Omdat die mens uit drie dele bestaan, kan “siekte” in enige van die drie dele ontstaan en mekaar wedersyds beïnvloed. Die groot verskil met die wêreldse model is egter dat die siel en gees die setel van denke en emosies is, nie die brein nie. Die brein is slegs die tussenganger tussen die gees en die liggaam – die agent wat die gedagtes en emosies van die siel en gees deur die liggaam tot uitvoering bring.
Indien die brein die setel van gedagtes en geheue was, dan sou alle kennis en selfbewussyn by afsterwe saam met die liggaam vergaan het, maar die Bybel maak dit duidelik dat die afgestorwenes baie goeie geheue en selfbewussyn het – vergelyk bv. die verhaal van Lasarus en die ryk man in Lukas 16 en die optrede van die heiliges in die hemel (Op. 5,6 &7). Al hierdie persone besef baie duidelik waar hulle op aarde was en waar hulle nou is – in die hemel of in die hel.
Die brein is duidelik nie die bron van gedagtes en emosies nie, maar die siel en gees. Alhoewel liggaamlike siektes weens probleme in die liggaam kan ontstaan, kan dit ook in die gees ontstaan: “’n Vrolike hart bevorder die genesing, maar ‘n verslae gees laat die gebeente uitdroog” (Spr. 17:22). Let mooi op wat hier staan: Die toestand van die gees beïnvloed siekte en genesing in die liggaam. Die gedeelte van die verslae gees wat die gebeente laat uitdroog, is vir eeue lank as blote beeldspraak aanvaar. Vandag weet ons egter dat die murg wat in die bene voorkom, ‘n belangrike deel van die immuunstelsel is – dit is waar rooi- en witbloedselle vervaardig word. Die Here het dus hier na die murg binne-in die bene verwys en het vir ons 2500 jaar gelede ‘n begrip gegee wat nou eers deur die mediese wetenskap bevestig word: ‘n Verslae gees, dit wil sê hartseer, kommer en depressie, veroorsaak dat die mens se immuunstelsel verswak en op die lang termyn selfs heeltemal ingee. Dit laat die mens dan kwesbaar vir allerhande siektes soos kanker, outo-immuun siektes soos veelvuldige sklerose en lupus, hartsiektes, en allerhande infeksies. Aan die ander kant het die mediese navorsing ook bewys dat ‘n positiewe ingesteldheid en gemoedstoestand help dat pasiënte vinniger herstel.
In Lukas 21:26 lees ons dat in die groot verdrukking mense se harte sal gaan staan van vrees as gevolg van die groot rampe wat oor die aarde sal kom. Vandag weet ons dat vrees lei tot hoë bloeddruk en dat die langdurige vrystelling van adrenalien en kortisol in die bloed later die liggaam en selfs die hartweefsel aanval. Die bloeddruk en hormone is die agente van die hartaanval, maar die oorsaak is angs en vrees! Dus, die liggaam reageer op die gees: die liggaam probeer na-aap wat die gees ervaar. Het ons nie ‘n wonderlike boek van die Skepper ontvang nie! Elke woord daarin het ‘n doel en betekenis.
Die Bybel ontken nie dat liggaamlike siektes deur agente van buite die mens kan ontstaan nie en gee juis in die Ou Testament voorskrifte vir liggaamlike higiëne, voedselhigiëne, gesonde versus ongesonde voedselsoorte, voorskrifte vir die rapportering en hantering van aansteeklike siektes soos melaatsheid, ens. Die Bybel maak dit egter duidelik dat geestesiektes deur ‘n toestand van die gees ontstaan, in die dimensie van die gees, wat geen fisiese, chemiese oplossings bied nie. In Deut. 28, die hoofstuk oor seëninge en vloeke, sien ons dat een van die vloeke vir ongehoorsaamheid is dat die Here die mens tref met kranksinnigheid en sinsverwarring – vgl. verse 28 en 34. Die kranksinnigheid kom nie deur ‘n siekte in die liggaam nie, maar deur geestelike afvalligheid.
Om na ons fokus op vrees terug te keer, sal ons nou sien dat God vrees duidelik as ‘n geestelike toestand beskryf.
Vrees en geloof het iets in gemeen met mekaar in die opsig dat beide iets in die toekoms projekteer en beide verwag om vervul te word. Heb. 11:1 leer ons dat “Geloof is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Vrees, net soos geloof, is ‘n verwagting dat iets sal gebeur, verwagtinge van slegte dinge wat nog nie bestaan nie, en word dan ook ‘n bewys van dinge wat ons nie kon sien nie.
God is die Vader van geloof en Hy vervul die hoop. Satan, daarenteen, is die vader van vrees en hy vervul die verwagting van slegte dinge wat die basis van vrees is. Job het getuig (in die King James Bybel word hierdie vers beter vertaal): For the thing which I greatly feared is come upon me, and that which I was afraid of is come unto me (Job 3:25). Presies dit wat Job gevrees het, het oor hom gekom!
Waarom laat God toe dat Satan die gelowige se vrese vervul? Het die Here nie self van Job gesê nie: “...daar is niemand op aarde soos hy nie: ‘n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad” (Job 1:8)? Waarom laat die Here dit dan toe? Omdat vrees sonde is. Deur vrees toe te laat, sê ons vir God: “Ek vertrou U nie as my Beskermer en Voorsiener nie. Ek glo nie dat U my Herder is en dat niks my sal ontbreek nie; ek glo nie dat u vleuels my bedek nie en ek is kwesbaar vir die skrik van die nag, vir die pyl wat bedags vlieg en vir die pes wat in die donker wandel,” ens. Deur my gedrag getuig ek dus van die teenoorgestelde as God se beloftes in Ps. 23, 91, e.a.
Waarom sal God aanhou om ons in die lig van sulke beledigings te beskerm? Ons beledig nie net sy Woord deur vrees toe te laat nie, maar ook sy karakter. Ek glo dit is ook die rede waarom Hy Satan toegelaat het om Job aan te val – Job was vol vrese. God sal nie vir Satan sonder rede toelaat nie, en Job se vrees is die enigste logiese rede wat in die boek genoem word.
Die opdrag: Moenie vrees nie, kom meer as 365 keer in die Bybel voor, m.a.w. meer as een maal vir elke dag. Waarom so baie herhalings? Omdat die Here besef dat dit die grootste wapen van die vyand is. God self ken nie vrees nie en dit is nie deel van sy beeld waarvolgens ons geskape is nie: “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7). Vrees kom van die Satan af. Let mooi op die bewoording van hierdie vers: God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie. Dit wil dus voorkom dat daar ‘n gees van vreesagtigheid bestaan. Die KJV stel dit nog duideliker: “For God hath not given us the spirit of fear” – die gees van vreesagtigheid. Lees ook Rom. 8:15: “want julle het nie ontvang ‘n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader!” Let weer op die woorde: “gees van slawerny... om te vrees...” Ons sien dus dat daar ‘n gees van slawerny en ‘n gees van vreesagtigheid bestaan, wat beide poog om die mens te oorheers.
Kom ons lees verder oor die werking van hierdie geeste: ons stryd is teen die bose geeste in die lug (Ef. 6:12). Let ook op die volgende opdrag: en ons moet elke gedagte gevange neem tot gehoorsaamheid aan Christus (2 Kor. 10:5). Wanneer ons die twee gedeeltes saamvoeg, sien ons die verband. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, nie teen die chemiese prosesse in ons brein nie! Ons stryd is teen geeste wat ons aanval met gedagtes wat hulle in ons gees wil plaas!
U sien, Satan het die vermoë om gedagtes in die eerste persoon aan ons oor te dra, asof dit ons eie gedagtes is; gedagtes soos: “hierdie ding is te veel vir my, ek kan dit nie hanteer nie;” of: “ek kan nie sien hoe ek ooit uit hierdie situasie sal kom nie;” of: “ek is nie sterk genoeg om dit te kan hanteer nie;” of: “hoekom het die Here hierdie ding toegelaat – dit beteken Hy het my nie meer lief nie en het my verlaat.”
Die waarheid is dat hierdie gedagtes nie uit onsself kom nie, maar van die gees van vreesagtigheid wat ons aanval. Sy doel is om ons geloof in God en sy Woord af te breek, ons te laat twyfel en uiteindelik te laat vrees, omdat hy weet dat ons dan onder God se beskerming uit beweeg, want vrees staan teenoor geloof. Ons moet kies na wie ons gaan luister: die stem van die Lam, of die stem van die draak met die voorkoms van ‘n lam (Op. 14:4 en 13:11).
Die oomblik wanneer ons besef dat die ware vyand nie ons brein is nie, maar die duiwel en sy trawante, asook die verdorwe vleeslike natuur van die mens, dan kan ons daarteen veg. God het aan ons metodes gegee om teen Satan én die ou, sonde-geneigde natuur te veg!
Die Here leer ons om onsself aan Hom te onderwerp en die duiwel teë te staan sodat hy van ons af weg sal vlug (Jak. 4:7). Dit beteken dat ons aan alle opdragte van die Here gehoorsaam moet wees, en ook van alle bewuste sondes af moet wegdraai. Solank ons in sonde bly leef, gee ons aan die duiwel wettige toegang tot ons lewe en sal die Here hom nie verdryf nie.
Satan se groot bondgenoot in ons lewe is die ongekruisigde vlees wat na sonde en sondige gesindhede soos vrees, ongeloof, liefdeloosheid en wanhoop lei (Ef. 4:22). Solank die vlees nie gekruisig en ons nog nie met die Heilige Gees vervul is nie, sal ons deur verskillende vorms van vrees, soos vrees vir die dood (Heb. 2:15), mensevrees (Heb. 13:6), vrees vir vervolging (1 Pet. 3:14) en vrees vir lyding (Op. 2:10) oormeester word. Die duiwel sal hierdie vrese verder aanblaas.
Openbaring 12:11 leer ons dat die martelare in die verdrukking die Antichris sal oorwin deur die bloed van die Lam, deur die woord van hulle getuienis en deur hulle eie lewe tot die dood toe nie lief te hê nie. Hierdie vorm van geestelike verweer teen boosheid geld ook vir ons. Die eerste wapen is die bloed van die Lam wat vir die vergifnis van sonde gestort is. Ons moet voor God bely dat ons sonde gedoen het deur aan ‘n gees van vreesagtigheid in ons lewe plek te gee. Daardeur wantrou ons God se vermoë om vir ons te kan sorg en ons te beskerm. Sonde bring skeiding tussen ons en die Here. Ons moet eers van harte om vergifnis vra voordat die skeiding verwyder en ons vertroue in die Here volkome herstel sal word.
Die tweede wapen is dié van getuienis. Ons is as getuies van die Here Jesus aangestel (Hand. 1:8), daarom moet ons getuig van die groot dinge wat Hy vir ons gedoen het. Die duiwel haat Christene se getuienis, want dit ontbloot sy taktiek en mislukkings, asook Christus se oorwinning aan die kruis en sy genadewerk in ons lewens.
Die derde wapen is dat hierdie mense tot die dood toe hulle eie lewe nie liefgehad het nie. Dit beteken dat hulle ‘n gekruisigde lewe gelei het. m.a.w. dood vir die self en lewend vir Christus (vgl. Gal. 5:24). Hulle het nie gesoek na wat God vir hulle kon beteken nie, maar na wat hulle vir Hom kon beteken. Hulle het saam met Christus gesterf, daarom het vrees vir lyding of die dood geen invloed op hulle gehad nie. Selfs al sou ‘n Christen vir sy geloof sterf, dan gaan hy dadelik hemel toe. Wat ‘n wonderlike vooruitsig!
Verder word ons geleer om geen plek aan die Bose te gee nie, maar om sy onvrugbare werke eerder te bestraf (Ef. 5:11). Ons hoef dus ook nie slagoffers van ‘n gees van vreesagtigheid te wees nie. Lê dit af en gee die volle beheer van jou lewe aan die Heilige Gees oor, wat die liefde van God in jou hart sal uitstort (Rom. 5:5). “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie” (1 Joh. 4:18).
Jesus Christus beloof aan sy dissipels die rus, vrede en geestelike oorwinning wat net Hy aan hulle kan gee:
· “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee... julle sal rus vind vir julle siele” (Matt. 11:28-29). Hy verwyder jou sondelas en gee aan jou alle rede om werklik ‘n hoopvolle toekoms te hê.
· “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My” (Joh. 14:1). Let op die teenstelling tussen ontsteltenis en geloof. Geloof in Hom wat alle mag in die hemel en op aarde het, plaas ons op die weg van oorwinning.
· “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie. Laat julle hart nie ontsteld word en bang wees nie” (Joh. 14:27). Die diep, innerlike vrede wat die Here Jesus gee, oorwin en verdryf alle vrese. Hy gee nie aan ons ‘n mensgemaakte vrede wat van chemiese middels en misleidende idees afhanklik is nie.
· “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7). Al drie hierdie eienskappe is vrugte van die Heilige Gees (vgl. Hand. 1:8; Gal. 5:22). Die Here wil nie hê dat ons deur probleme en teëstand afgeskrik sal word nie, want Hy kan ons met krag uit die hoogte beklee, met sy goddelike liefde inspireer, en ook met die vermoë om weerstand te bied teen die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede, asook teen die wêreld. Vertrou Hom hiervoor.
· “En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil. 4:7). Die KJV stel dit só: “And the peace of God, which passeth all understanding, shall keep your hearts and minds through Christ Jesus.” Dit wil sê, die vrede van God sal ons siel en gees bewaar, die hele innerlike mens, sodat ons nie van enige ander hulp afhanklik is om ons siel, gemoedstoestand en gees te bewaar nie.
· In ons stryd teen die Bose moet ons altyd die swaard van die Gees gebruik deur ons op beloftes in die Here se Woord te beroep wanneer ons aangeval en versoek word. Sodoende herinner ons die Bose én ook onsself aan ewige waarhede. Die duiwel is weerloos hierteen en sal die wyk neem. God se Woord is die waarheid, en in die lig hiervan is daar geen plek vir duisternis nie.
Volgens Openbaring 21:8 sal daar in die hemel geen plek vir vreesagtiges wees nie, want hulle bestemming is die poel van vuur. Waarom is dit so? Omdat vrees direk teenoor geloof staan. Moenie die Heilige Gees bedroef deur te twyfel of in vrees te leef nie, want God wil nie hê dat enige van sy kinders in die slawerny van vrees vasgevang sal wees nie. Hulle moet in die geloof lewe sodat Hy hulle in sy weë kan lei en volgens die maat van hulle geloof kan seën. Mag die waarheid van sy Woord ons van alle bande van angs en vrees vrymaak, en ons volkome bewaar totdat Hy weer kom en ons met volmaaktheid sal beklee.
Bostaande artikel is na twee referente verwys, waarvan die eerste een in ‘n mediese beroep staan. Sy sê onder meer:
“Ek weet dat trauma soms ‘n geweldige impak op mense het en dat hulle oornag diabete kan word a.g.v. die oormaat skok op die liggaam. Ek glo dat medisyne ‘n mate van balans kan bring waar daar regtig ‘n wanbalans is, maar die mens is geneig om ‘n alternatief te gebruik as oplossing, en dit kan enigiets tasbaar wees, soos bv. medisyne. Hulle soek hulp in ander goed eerder as in God, en dan ontstaan ‘n vrees om die tasbare, soos die pille, te los want dit is iets wat hulle kan sien en drink... Ek weet dat daar onder andere ‘n chemiese stof is wat deur die liggaam afgeskei word – melatonien – en ook bepaal kan word deur bloed te trek. Dit is iets wat jou gemoed bepaal en wat met behandeling reggestel kan word. Ek glo dus dat soos wat enige meganisme in jou liggaam foutief kan werk en mens dit chemies kan beheer, so ook jou brein. Namate dit verbeter, moet medikasie stelselmatig gestaak word.”
Die outeur van die artikel reageer soos volg op hierdie opmerkings:
Kommentaar: Die uitgangspunt wat die skrywer impliseer, is dat geestelike en emosionele probleme as gevolg van chemiese wanbalanse in die brein kan ontstaan. Dit is wel moontlik dat chemiese wanbalanse kan ontstaan in gevalle soos breintrauma, skildklier disfunksie en erge wanvoeding, maar in sulke gevalle is die fisiese, organiese oorsaak identifiseerbaar en kan daar gepoog word om die regte oorsaak te behandel. Die chemiese wanbalans is in hierdie gevalle ‘n gevolg en nie die oorsaak van die probleem nie.
In die meeste gevalle waar mense emosionele of geestelike probleme of versteurings ervaar, kan daar egter geen organiese oorsaak vasgestel word nie. Mediese navorsers het vasgestel dat sommige pasiënte wel ‘n wanbalans van sekere neurotransmitters ervaar, en aangesien dit die enigste identifiseerbare fisiese abnormaliteit was, is daar aanvaar dat dit die oorsaak van die steurnis moes wees. Dit is onlogies en onwetenskaplik, maar is die enigste moontlike verklaring vir diegene wat nie in die bestaan van ‘n ontasbare siel en gees glo nie.
Soos ek in die artikel verduidelik, kon dit nog nooit bewys word dat ‘n chemiese wanbalans die oorsaak van ‘n emosionele probleem is nie. My persoonlike siening is dat die chemiese wanbalans die gevolg van ‘n geestelike toestand is, waar die liggaam reageer op die siel en gees. Wanneer die persoon in sy/haar gees gelukkig of eufories is, word endorfiene in die bloed vrygestel en die liggaam voel gesond en lewenskragtig. Wanneer ‘n persoon skuldgevoelens en gedagtes van veroordeling toelaat en homself in die gees straf, reageer die brein deur die produksie van serotonien en endorfiene te verminder, waardeur die liggaam dan ook as’t ware gestraf word.
Vanuit ‘n Bybelse oogpunt kan ek ook nie aanvaar dat my emosies en gedagtes deur chemiese reaksies in die brein beheer word, of dat ‘n emosie niks meer as ‘n chemiese proses in die brein is nie. Regdeur die Skrif, in beide die Hebreeus en Grieks, word gedagtes en emosies aan ‘n onsigbare, onsterflike siel en gees gekoppel en nie een maal aan die liggaam of brein nie. Indien ‘n gedagte slegs ‘n biochemiese gebeurtenis is, het ons ‘n baie groot probleem met die opdrag om elke gedagte gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus. Hoe word dit gedoen? Die ware persoon is die siel en gees; die liggaam is slegs die tent waarin die siel en gees tydelik woon. Gedagtes vind plaas in die siel en gees en word biochemies deur die brein gereflekteer om die liggaam vir aksie gereed te kry. Ek glo dat die Here se opdrag in 2 Kor. 10 juis bedoel dat ons gedagtes moet toets en vasvang voordat hulle ‘n ongewenste uitwerking op die brein en liggaam het.
Vanuit ‘n Bybelse oogpunt is die chemiese behandeling van emosies vergelykbaar met die gebruik van morfien om malaria te behandel. Die morfien verlig die simptome, maar genees nie die oorsaak nie. Indien die malaria uiteindelik deur ander behandeling verdwyn, dan behou die persoon ‘n afhanklikheid vir morfien. Soos malaria deur die indringing van parasiete veroorsaak word, word emosionele probleme veroorsaak deur “parasiete” in die vorm van gedagtes wat die gees van die mens indring, geïnspireer deur geestelike magte van die duisternis. Die chemiese behandeling van emosies kan dalk tydelik van die simptome verlig, maar kan ook chemiese en emosionele afhanklikheid veroorsaak, wat ‘n veel erger toestand as die oorspronklike probleem is.
Die enigste logiese en effektiewe behandeling is om die parasiete te identifiseer en uit te roei. Anders as met die malaria-parasiet, het ons egter in die geestelike dimensie te make met ‘n superintelligente indringer wat duisende jare se ervaring in kamoeflering het. Dink maar aan die “maansiek” kind van Matt. 17. Die mense het geglo dat die maan die oorsaak was omdat die simptome met volmaan gemanifesteer het. Die vader van die kind het egter besef dat sy kind deur ‘n gees geteister word (vgl. Luk. 9), en net so het die Here Jesus dadelik die werking van ‘n bose gees geïdentifiseer en hom verdryf. Op soortgelyke wyses probeer die Satan vandag om sy geestelike aanvalle agter fisiese simptome weg te steek.
Die skrywer noem die invloed van trauma: ja, emosionele trauma het vir seker ‘n groot invloed op die liggaam. Die nadelige invloed op die liggaam is egter die gevolge van intense emosies soos vrees en wanhoop. Let weer eens op die rigting van oorsaak en gevolg. Die geestelike aspek hiervan word egter deur min mense raakgesien: die Satan gebruik traumatiese gebeure as toegang tot die mens se gees, want dit bied aan hom uitstekende kamoeflering. Satan plant gedagtes van vrees en wanhoop, en die gebeurtenis kry dan die skuld daarvoor. Onthou dat die duiwel geen genade vir die mens het nie en soos ‘n brullende leeu rondloop en soek wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8). Hy gebruik dus traumatiese gebeure om by mense gedagtes en emosies te plant wat geloof in God sal ondermyn of selfs sal verbreek.
Die volgende is ‘n praktiese voorbeeld hiervan: baie mense wat erge trauma beleef, beskryf ‘n herbelewing van die trauma, bekend as “flashbacks” wat met dieselfde emosionele intensiteit as die oorspronklike gebeurtenis gepaardgaan. Die sielkunde beskryf dit as ‘n poging van die psige om die trauma te verwerk. Die Woord van God maak dit egter duidelik dat die ou dinge verbygaan en ons nie meer daaraan moet dink nie, maar ons moet uitstrek na die toekoms. Herbelewing van die verlede is duidelik nie God se wil nie en is nie volgens die beeld waarin ons geskape is nie. Herbelewing is ‘n abnormale emosie wat deur die duiwel geïnspireer word. Kyk maar na die lewe van Paulus en die vele traumas wat hy beleef het, hoe hy gestenig en vir dood gelaat is – ons sien geen post-traumatiese stresversteuring of “flashbacks” wat hom lamgelê het nie. Was Paulus meer geseënd en geestelik beskerm as ons vandag, of het hy dalk geweet dat die duiwel juis in sulke tye genadeloos aanval en dat hy dan, meer as ooit tevore, elke gedagte gevange moet neem?
Die volgende aspek wat ek hieroor wil noem, noem ek met versigtigheid. Uit ‘n geestelike hoek beskou, beteken die gebruik van medikasie vir emosionele probleme dat ek die verantwoordelikheid vir die beheersing van sekere emosies aan medikasie afstaan. Die boodskap in die geesteswêreld is dat hier iemand is wat gewillig is om die beheersing van sy gees af te staan en die magte van die duisternis sal, ewig opportunisties, so ‘n kans nie laat verbygaan nie. Die reaksie is iets soos: “As jy die beheer van jou emosies wil afstaan, sal ons dit met graagte oorneem.” Ek glo dat dit die rede is waarom baie mense onbeskryflike angs ervaar wanneer hulle angsmedikasie staak – hulle het aan die bose staanplek en ‘n mate van beheer gegee wat hy nie maklik sal afstaan nie. Die duiwel reageer deur intense gevoelens van angs op te wek ten einde die persoon in onderwerping te hou.
Wanneer ‘n persoon lank antidepressante gebruik het en dit dan staak, word hy of sy baie maal oorval deur skuldgevoelens en ook gevoelens van hulpeloosheid en wanhoop. Waarom? Want die persoon het die beheersing van daardie gedagtes en emosies aan iets anders afgestaan. Ek ontken nie dat die skielike staak van medikasie ook chemiese wanbalanse veroorsaak nie. Ek stem saam dat dit eiesoortige probleme kan veroorsaak, maar ek dink ons kyk oppervlakkig na die probleem as ons slegs hierdie aspek daarvan beoordeel.
Selfbeheersing is een van die vrugte van die Gees en dit impliseer dat ons die beheer van ons gees aan niemand mag afstaan nie. Die Here verwag selfs dat ons nie die beheer van ons gees aan die Heilige Gees moet afstaan nie, want dan sou dit nie meer selfbeheersing wees nie. Die Heilige Gees gee aan ons die krag en motivering om selfbeheersing te kan beoefen, daarom bly ons self verantwoordelik vir die beheer van ons emosies. Enige aksies waardeur ons direk of indirek daarvan afstand doen, maak beslis ‘n geestelike deur vir suggesties van buite af oop.
Laastens glo ek dat God trauma gebruik om met die mens te praat, om die ongelowige tot inkeer te bring en om die gelowige tot ‘n hoër vlak van geloof aan te spoor. Die gebruik van psigiatriese medikasie verdof die verstand en die geestelike boodskap gaan verlore. Ek het dit menige male in berading waargeneem – dit is asof daar ‘n sluier oor die oë getrek is en geen geestelike waarhede word ingeneem nie. ‘n Gelowige vriendin getuig onlangs teenoor my hoedat sy, terwyl sy op antidepressante was, lering van die Woord met die verstand begryp het, maar dat dit gladnie enige impak op haar lewe gemaak het nie. Sy kon nie enige hartseer, berou of blydskap in reaksie op die Bybelstudie en prediking ervaar nie. ‘n Tyd nadat sy die medikasie gestaak het, het die normale geestelike reaksies teruggekeer.
Daar is ook ‘n Skrifgedeelte wat sê dat ons vurig van gees moet wees vir die Here (Rom. 12: 11). Hoe is so-iets onder bedwelmende medikasie moontlik? Die enigste waarde wat ek in psigiatriese medikasie sien, is wanneer dit gebruik kan word om te verhoed dat ‘n persoon sy eie lewe neem, maar dan slegs om ‘n kans te kry om die persoon te evangeliseer, nadat die effekte van die medikasie uitgewerk het, natuurlik. Ek veroordeel niemand wat psigiatriese medikasie gebruik nie, maar poog daarna om lesers bewus te maak van die geestelike dimensie van gedagtes en emosies – die dimensie waar die stryd om beheer eintlik gevoer word en waar die oorwinning deur die genade van die Here behaal moet word.
NS. Ek het ‘n dvd ontvang van dr. Louis Kroon, ‘n gelowige psigiater, waarin hy die invloed van gedagtes (m.a.w. van die gees) op die brein baie mooi uiteensit. Ek stem vanuit ‘n Bybelse oogpunt nie met alles saam wat hy leer nie, maar kan dit tog aanbeveel vir die pragtige verduideliking van die invloed van die gees en siel op die liggaam. Hy gee ook goeie praktiese riglyne oor die opdrag om elke gedagte gevange te neem tot gehoorsaamheid aan Christus.
‘n Ander referent, ‘n voormalige pasiënt, het soos volg op die artikel gereageer:
“Ek stem met die artikel saam. Ek het self lank antidepressante gebruik. Dit is nou al meer as agt jaar dat ek dit glad nie meer gebruik nie, ook geen kalmeerpille nie. Ek weet dat die werking daarvan negatiewe gevolge vir ‘n mens inhou en selfs jou persoonlikheid kan verander.
“Ek het ‘n boek van dr. Richard Ganz, ‘n Jood. Hy was ‘n sielkundige wat ‘n pos in ‘n inrigting in Europa gehad het. Hy het toe tot bekering gekom en baie van sy pasiënte na die Here toe gelei. ‘n Skisofreniese man wat, ten spyte van intensiewe behandeling, vir jare lank nie ‘n woord kon praat nie, het dadelik begin praat toe hy tot bekering gekom het. Ganz moes egter die beroep vaarwel toeroep omdat hy dit nie met die Bybel kon versoen nie. Hy sê:
‘My goal in this book is to help readers understand that the counseling concepts woven into psychoanalysis (and its secular-psychoterapeutic offshoots) are inherently opposed to the Word of God. My approach will be to reveal the direct conflict between secular philosophies and Biblical principles and to strip back to its ugly roots the psychotherapy that the church has baptized and embraced. My hope is that the church will stop shuffling her hurting and broken members to the ‘experts’ who lack the power and perspective of the word of God, that pastors will instead seize the opportunities to teach, rebuke, correct, and train in righteousness a people fit for service to King Jesus’.”
Vir geestelike probleme is daar net geestelike oplossings: “Mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word... Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23,24).