Waaksaamheid te Midde van Groot Geestelike Verval

Prof. Johan Malan, (Junie 2009)

‘n Waaksame Christen is iemand wat ten volle van die geestelike realiteite van ons lewe in Christus bewus is, en die motivering en krag vir sy lewe hieruit put. Hy is ook van die geestelike gevare van die opponerende koninkryk van Satan bewus en staan dit doelbewus teë. Hierdie stryd speel homself in die geestelike sfeer van ons lewe af, want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen ‘n vyandige geestelike mag en sy verdorwe beginsels (Ef. 6:12). Hoe meer ons van die werklikheid van hierdie ander, onsigbare wêreld bewus is, hoe meer waaksaam is ons. Hoe meer sekulêr ons egter ingestel is , hoe minder sal ons op geestelike werklikhede ag slaan en gevolglik nalaat om ons lewens daarvolgens te orden. Om dus in ‘n Bybelse sin te waak, vereis dat jou geestelike oë vir sekere werklikhede oop moet wees en dat jy in die lig daarvan besluite sal neem en daagliks daarvolgens optree.

Daar is drie geestelike perspektiewe wat ‘n waaksame Christen behoort te hê, waarin hy deur toenemende kennis sy insig moet verskerp en die nodige optrede bepaal:

Die eerste is ‘n opwaartse perspektief, deurdat ons die Here Jesus altyd voor oë moet hou sodat ons Hom sal volg en volgens die opdragte in sy Woord sal wandel: “Laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1-2). Sonde en laste wat ons verhouding met Hom kan vertroebel, moet bely en afgelê word sodat ons toewyding aan ons Leidsman en Verlosser heelhartig kan wees. Ons moet ook altyddeur in gedagte hou dat Hy enige tyd kan kom om rekenskap van sy dissipels te eis oor hulle lewe ná bekering (Mark. 13:33-37; Rom. 14:10-12). As Christus deur sy Woord die weg vir ons aandui en ons volg Hom elke dag, sal ons werke doen wat by die bekering pas en nie met leë hande voor sy regterstoel verskyn nie (vgl. 1 Kor. 3:9-16).

Die tweede is ‘n inwaartse perspektief, en verwys na gedurige selfondersoek sodat ons onder die leiding van die Heilige Gees kan vasstel of daar nie dalk suurdeeg van sonde in ons lewe is nie (vgl. 1 Kor. 5:6-8). Dawid het gebid: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!” (Ps. 139:23-24). Ons moet gedurig waak dat daar nie verkeerde gesindhede of gedagtes in ons harte inkom nie. Om dit te kan verseker, moet ons let op wat ons lees, waarna ons kyk, watter soort gesprekke ons voer en wat die aard van ons vriendekring is. “Waak en bid dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41).

Die derde is ‘n uitwaartse perspektief wat ons moet hê. Hier is twee aspekte ter sprake: Ons moet ander mense se geestelike nood kan raaksien en iets daaraan doen om die evangelie van Christus aan hulle te verkondig. Jesus het gesê: “Slaan julle oë op en aanskou die lande dat hulle al wit is vir die oes... Die oes is wel groot, maar die arbeiders min” (Joh. 4:35; Matt. 9:37). Ons moet onsself diensbaar maak om ‘n oes vir die Here se koninkryk in te samel deur in ander mense se geestelike nood te voorsien.

Die ander aspek van ons uitwaartse perspektief is om van die vyand se strategieë en valse leerstellings kennis te neem, sodat ons nie in sy strikke beland en deur hom mislei sal word nie. Die dwalendes moet tereggewys word, terwyl ons toesien dat ons self nie ook mislei word en begin dwaal nie: “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal. 6:1). “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12). Ons moet die Here Jesus vertrou om ons daagliks van die Bose te bewaar, en ook toesien dat ons nie deur ‘n gebrek aan kennis oor die vyand se werkswyse ons geestelike perspektief begin verloor en uiteindelik ten gronde gaan nie.

Daar is een perspektief wat ons nié moet hê nie, en dit is ‘n terugwaartse een. Paulus sê: “Ek vergeet die dinge wat agter is en strek my uit na wat voor is, en jaag na die doel om die prys te verkry van die hoë roeping van God in Christus Jesus” (Fil. 3:14). Ons moenie gedurig in ons verlede delf, ou koeie uit die sloot grawe en opnuut ander mense aan hulle foute en sondes van die verlede herinner nie. As ‘n wandaad of sonde vergewe is, moet dit ook vergeet word. Salomo sê: “Wie ‘n oortreding bedek, soek liefde; maar hy wat ‘n saak weer ophaal, skei vriende van mekaar” (Spr. 17:9). Stel dinge wat verkeerd is, reg en gaan met jou lewe aan sonder om gedurig om te kyk. Die duiwel wil Christene opnuut aan skuldgevoelens onderwerp oor dinge waarvan die Here reeds ons lankal reeds volkome vergewe en gereinig het. Sy doel hiermee is om jou geloof te verswak en jou in jou redding te laat twyfel. Weerstaan hom! Die Here vergeef ons sondes en dink nie meer daaraan nie (Jes. 43:25). Ons moet dieselfde doen teenoor diegene wat teen ons oortree het.

Ons moet ten alle tye wakker en oplettend wees. “Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees” (1 Thess. 5:6). Paulus het hierdie opdrag aan ‘n wederkomsgerigte gemeente gegee. Hulle moes goed ingelig en gereed wees vir dit wat gaan gebeur sodat hulle die Here kon behaag en deurgaans hoë geestelike standaarde handhaaf. Die woord wat hier as “slaap” vertaal word, verwys na geestelike doodsheid en onsensitiwiteit – die toestand waarin die ongeredde wêreldlinge (die ander mense) verkeer. Gelowiges behoort nugter en waaksaam met die oog op Christus se wederkoms te wees, sodat hulle in moeilike tye staande kan bly en met vrymoedigheid rekenskap van hulle lewens aan Hom kan gee.

Christene van alle tye, maar meer spesifiek ons wat in die eindtyd leef, moet waak teen geestelike verval wat op verskeie maniere ons geloofslewe, emosies en profetiese verwagting op Jesus Christus se wederkoms kan ondermyn. Die intensiteit van die druk waaraan ons blootgestel word, asook die verskeidenheid vorms wat dit aanneem, is besig om vinnig toe te neem. Hierdie aanvalle het verwoestende gevolge in die lewens van diegene wat nie die regte Bybelse perspektief op ons tydsomstandighede het nie, en nie stewig aan die Ewige Rots geanker is nie. Daar is baie oorsake vir hierdie probleem, maar veral die volgende twaalf redes:

1. Swaar tye

Uiterste vleeslikheid en ongekende vormgodsdiens is besig om kenmerke van die eindtydse, nominale Christendom te word. Dit sal vir ware Christene baie moeilik en selfs onmoontlik word om by sulke sosiale en godsdienstige toestande aan te pas. Paulus sê: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5).

Selfliefde sal die oorheersende kenmerk van mense wees, terwyl sport en vleeslike genietinge vir hulle belangriker as godsdiens sal word. In sy poging om bo uit te kom, sal die eindtydse mens skaamteloos en wreed teenoor ander optree, en selfs nie huiwer om hom tot ondermyning, verraad en korrupsie te wend nie. Hy sal ook godsdiens gebruik om aan homself ‘n beeld van sosiale aanvaarbaarheid te verleen, maar in werklikheid sal hy deur sy optrede die grondbeginsels van die evangeliese Christendom verloën. Hy sal dus net ‘n Christen in naam wees en ‘n totaal valse beeld aan Christenskap verleen. Hy sal ‘n ywerige navolger van misleiers en valse profete wees wat die waarheid vir die leuen verruil het.

Ware Christene sal nie saam met sulke persone, kerke of predikers ‘n pad kan loop nie, en hulleself uit alle valse vorms van godsdiensbeoefening moet onttrek. Dit sal meebring dat evangeliese Christene al hoe meer in die samelewing gemarginaliseer en selfs vervolg sal word. Hulle sal die slagoffers van hartelose en onredelike optrede deur die meerderheid afvalliges wees, en ter wille van hulle geloof in Christus die moeilike omstandighede moet trotseer.

2. Verkeerde verstaan van die Bybel

Dit is baie belangrik om tussen die dispensasies (of bedelings) van Israel in die Ou Testament, die kerk in die Nuwe Testament, die Antichris se bewind ná die kerkbedeling, en die bedeling van Christus se koninkryk op aarde ná sy wederkoms te kan onderskei. ‘n Gebrek aan dispensasionele onderskeidingsvermoë is een van die belangrikste redes waarom so baie lede van Christelike kerke uit pas met die Bybel is en ‘n totaal verkeerde perspektief op geestelike sake het. Dit tas ook hulle geestelike waaksaamheid aan omdat hulle nie weet waar ons in God se raadsplan is nie. Baie Christene (veral die antichiliaste) gooi hierdie vier bedelings saam en verleen sodoende ‘n baie verwarrende en innerlik teenstrydige beeld aan die kerkbedeling.

Persone wat hierdie benadering volg, vergeestelik Bybelse profesieë en beweer: (1) dat Israel deur die kerk vervang is (die vervangingsteologie) en dat daar dus nie volgens die Bybel ‘n eindtydse herstel van die volk Israel in hulle eie land is nie; (2) dat daar verskeie antichriste in die kerkbedeling was, en dus nie ‘n antichristelike wêreldregering ná die kerkbedeling sal wees nie; en (3) dat die duiwel in die kerkbedeling gebind is, dat ons nou as konings saam met Christus regeer (die koninkryksteologie) en dat daar dus nie ‘n toekomstige vrederyk van Christus ná sy wederkoms sal wees nie. Alle beloftes wat in die Ou Testament aan Israel gemaak is met betrekking tot ‘n toekomstige koninkryk ná die koms van die Messias as die Koning van konings, word verkeerdelik na die kerk oorgedra en op die huidige bedeling van toepassing gemaak.

Daar is verskeie ernstige gevolge van hierdie verkeerde verstaan van die Bybel. Sulke gelowiges aanvaar nie die herstel van Israel in hul eie land as een van die belangrikste tekens van die eindtyd nie. Hulle berei hulleself ook nie op swaarder tye voor as ‘n voorspel tot die verdrukking en die openbaring van die Antichris nie. As gevolg van hulle opvatting oor die Antichris as een of meer historiese figure wat gekom en gegaan het, glo hulle glad nie in die verskyning van ‘n eindtydse Antichris wat tydens Christus se wederkoms verdelg sal word nie (vgl. 2 Thess. 2:8; Op. 19:19-20). Hulle glo ook nie in die wegraping as ‘n ontvlugting uit die komende regering van die Antichris op aarde nie (vgl. Luk. 21:36). Wat hulle wél doen is om, in die stryd met die Bybel, te verklaar dat die koninkryk van God nog voor die wederkoms van Christus sigbaar op aarde deur die kerk gevestig moet word. In die lig hiervan sien hulle nie die huidige tyd as ‘n tyd van groot afvalligheid en voorbereiding vir die Antichris se openbaring nie, maar as ‘n tyd van groot herlewings, tekens en wonders, asook eenheid en vrede op aarde, wat volgens hulle op die openbaring van God se koninkryk sal uitloop.

Dit is duidelik dat vergeestelikings- en koninkryksteologie lynreg in stryd met die opdrag tot groter waaksaamheid in ‘n tyd van groot geestelike verval is. As mense nie erns maak met die taak om die Woord van die waarheid reg te verstaan en toe te pas nie, word hulle onbewus voorbereiders vir die openbaring van die Antichris se wêreldregering. Hierdie regering sal op ‘n inklusiewe ideologie gebaseer wees waarin alle gelowe erken en ook uitgedaag sal word om ter wille van wêreldvrede met mekaar saamwerk. Godsdienstig misleide mense werk met die verkeerde “Christus” saam, wat deur die Bybel as die “Antichris” beskryf word. Hulle kan beslis nie uit ‘n Bybelse oogpunt as waaksame Christene beskou word nie.

3. Verwerping van die wegraping

Wanneer Bybelse eskatologie as gevolg van die samevoeging van verskillende dispensasies verkeerd verstaan word, dan verloor die belofte van die wegraping sy betekenis en diep geestelik seën wat dit bedoel is om vir ons te hê. Verkeerde opvattings oor die eindtyd lei daartoe dat die kerk homself in die plek van Israel stel en ook die roeping aanvaar om ‘n aardse koninkryk te vestig. Onder die invloed van hierdie foutiewe denkwyse verval die verwagting om die komende oordele van die verdrukking deur middel van die wegraping te ontvlug en saam met Christus hemel toe te gaan. Die gevolg is dat sulke mense die belofte van ‘n wegraping voor die verdrukking heeltemal ontken.

Die Here Jesus sê egter: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Paulus sê dat ons God se “Seun uit die hemel moet verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10). Ons is nie vir die toorn van die verdrukking bestem nie, maar om die saligheid deur Jesus Christus te verkry (1 Thess. 5:9). Die Here Jesus “sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug” (1 Thess. 4:16-17).

Waaksame Christene verwag dat die Here Jesus as die hemelse Bruidegom ons voor die verdrukking sal kom haal. Die wegraping is vir ons ‘n “salige hoop” op die verskyning van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus (Titus 2:13). Christene wat nie hierdie hoop koester nie en beweer dat daar geen wegraping is nie, tref uit die aard van die saak nie voorbereidings vir hierdie ontmoeting nie.

Dan is daar ook diegene wat wel glo dat daar ‘n letterlike Antichris en verdrukking sal wees, maar dat die wegraping eers in die middel of in die tweede helfte van die verdrukking sal plaasvind. Hulle het in werklikheid ‘n Antichris-verwagting en nie ‘n Christus-verwagting nie en hou hulle met oorlewingstrategieë vir die komende moeilike tye voor. Vir hulle is die koms van die Bruidegom soos ‘n dief in die nag nie ‘n onmiddellike moontlikheid nie, omdat die valse messias eers moet kom. Hulle wag vir die verkeerde persoon!

4. ‘n Valse koninkryksvisie

Waaksaamheid staan ook in verband met kennis oor die twee koninkryke wat binnekort op aarde geopenbaar gaan word. Die koninkryk van die lig en die koninkryk van die duisternis staan op die punt om hulleself as sigbare werklikhede op aarde te openbaar en vir die mensdom die lank gekoester ideaal van vrede en voorspoed op aarde te verwesenlik. In hierdie tyd van stygende spanning weens die hernude wapenwedloop, oorlogswolke wat in die Midde-Ooste saampak, aardverwarming weens toenemende lugbesoedeling, ‘n wêreldwye ekonomiese resessie en werkloosheid, asook dreigende siekte-epidemies wat vinnig van een land na ‘n ander versprei, soek alle nasies na ‘n oorkoepelende wêreldregering wat wêreldvraagstukke op ‘n regverdige en doeltreffende manier tot almal se voordeel sal oplos.

God beloof aan ons in sy Woord ‘n wêreldregering van regverdigheid, vrede en ekonomiese voorspoed, asook die algemene vrywaring van siektes en lyding (Jes. 2:2-4; Jer. 3:17; Mal. 4:2; Amos 9:13). Sy Seun, Jesus Christus, sal aan die hoof van dié regering staan en van die herstelde troon van Dawid af uit Jerusalem oor die wêreld regeer (Luk. 1:31-33; Ps. 2:6). Hierdie regering van geregtigheid sal egter eers ingestel word nadat Jesus Christus met sy sigbare wederkoms as Koning sy voete op die Olyfberg gesit en ook sy vyande geoordeel  het (Op. 11:15; 19:11-16; Sag. 14:2-17).

Satan is deur die eeue heen ook met ‘n plan besig om ‘n alternatiewe koninkryk aan die mensdom te bied waarin die wêreld deur sy valse ‘Christus’ (die Antichris) regeer sal word. Lucifer het ná sy uitwerping uit die hemel ‘n geestelike koninkryk in die lug bokant die aarde gevestig van waar hy as die owerste van die gevalle en verdorwe wêreld beheer oor die ongeredde menigtes op aarde voer (Joh. 14:30; 2 Kor. 4:4; Ef. 2:2 en 6:12; 1 Joh. 5:19). Hierdie geestelike beheerstelsel gaan in ‘n sigbare wêreldregering onder die persoonlike beheer van die Antichris en die valse profeet omskep word. Die draak (Satan) sal aan die dier (die Antichris) “sy krag gee en sy troon en groot mag” (Op. 13:2), sodat hy uitvoerende mag oor elke stam en taal en nasie sal verkry (Op. 13:7).

In nabootsing van God se belofte oor ‘n wêreldregering van vrede en harmonie, beloof Satan in sy hoedanigheid as ‘n valse “engel van die lig” (2 Kor. 11:14) ook ‘n wêreldregering van eenheid oor die verdeelde en strydende nasies van die wêreld. Die Antichris sal as ‘n valse vredevors op die toneel verskyn en oënskynlik tot almal se voordeel begin om die wêreld te hervorm en alle probleme op te los. Hy en die valse profeet sal deur duiwelse magte tekens en wonders doen, sodat almal sal dink dat hulle gesante van die ware God is wat Hom op aarde verteenwoordig (2 Thess. 2:8-10; Op. 13:11-15). Dit sal tot die openlike aanbidding van die Antichris lei, asook Lucifer wat sal voorgee dat hy God is: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” Op. 13:3-4).

Direk ná die wegraping sal die duiwel se wêreldregering onder die beheer van die Antichris en valse profeet ingestel word. Alle politieke ideologieë sal in ‘n wêreldregering geakkommodeer en saamgevoeg word, alle godsdienste sal die Antichris as hulle gemeenskaplike messias erken en hom aanbid, eer en navolg, en almal sal verwonderd oor die hervormings van sy nuwe wêreldorde wees. Hy sal ook aan die hoof van ‘n sentraal-beheerde wêreldekonomie staan, waarin niemand sonder sy nommer sal kan koop of verkoop nie (Op. 13:16-18). Almal wat sy merk en nommer aanvaar, sal van hongersnood, vervolging en werkloosheid gevrywaar word, maar teen ‘n geweldige hoë prys van die verpligte aanbidding van die dier (vgl. Op. 14:9-11).

Die geestelike waaksaamheid wat die Bybel van ons verwag, vereis die vermoë om duidelik tussen hierdie twee koninkryke te kan onderskei, die een aan te hang en te bevorder, en die ander een te verwerp en te ontmasker vir wat dit werklik is. Indien ons aan Christus se koninkryk getrou bly en ons vir die koms daarvan beywer, dan vra dit van ons geestelike getrouheid aan Hom onder die leiding van die Heilige Gees, ‘n duidelike profetiese verwagting om Hom as die hemelse Bruidegom te ontmoet, en ook die nodige voorbereidings om voor sy regterstoel verantwoording van ons lewens as sy dissipels te doen. Hierbenewens moet ons ook teëhouers van die Antichris en sy bose regering van kompromie en valsheid wees. Ons moet besef dat ons as vreemdeling en bywoners in ‘n wêreld leef wat in die mag van die Bose lê, en ook dat daar geestelik en moreel ‘n baie donker tyd besig is om oor die aarde aan te breek. Daar moet teen hierdie verwikkelinge gewaak en wal gegooi word.

Mense wat nie tussen hierdie twee koninkryk kan onderskei nie, bevind hulleself op ‘n pad waarop hulle maklik slagoffers van Satan se eindtydse dwalings kan word. As gevolg van hulle onkunde gaan hulle die “engel van die lig” se politieke én godsdienstige globalisme as godgegewe uitkoms aanvaar en hulle ten volle daarvoor beywer. Hierdie moderne toring van Babel (eindtydse globalisme) word nou reeds gebou en ook sterk deur ekumeniese denke ondersteun. Mense van alle gelowe én politieke oortuigings is besig om ter wille van hulle eie oorlewing hande te vat sodat hulle voorgenome nuwe wêreldorde ‘n werklikheid kan word. Daar vind verskeie okkultiese manifestasies van hulle mensgemaakte en satanies-gedrewe koninkryk in hulle midde plaas, soos bv. bedenklike tekens en wonders deur ‘n ander gees en ‘n ander Jesus (2 Kor. 11:4). Transendentale meditasie vervang gebed en multigodsdienstige ekumene baan die weg na die aanvaarding van die universele messias van alle gelowe. Hy gaan van “die god van hierdie wêreld” uit (2 Kor. 4:4), wat die valse god van alle gelowe is.

Wanneer mense deelgenote van hierdie alternatiewe koninkryk van die duiwel word, is dit ‘n aanduiding van die uiterste vorm van misleiding en gebrek aan waaksaamheid onder hulle.

5. Arrogansie onder vervalle leiers

Selfverheffing en arrogansie is algemene kenmerke van die eindtydse mensdom. Die mens wil sy eie god en die bepaler van sy lotgevalle word. Waaksame Christene moet verwag dat sulke leiers geen agting vir God en sy Woord sal toon nie, en ook nie die beginsels van die Christelike beskawing sal eerbiedig nie. Hulle sal dit eerder hulle taak maak om evangeliese Christene wat hulle optrede bevraagteken, in ‘n slegte lig te stel en te vervolg. Die Here sal hierdie goddelose leiers en hulle ewe bose volgelinge ná die wegraping tydens die verdrukking straf: “Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder” (Jes. 13:11).

Arrogante optrede van hierdie aard is ook kenmerkend van vervalle geestelike leiers wat ten koste van ander mense na mag, rykdom en heerskappy streef. Hulle is besig om vir hulleself ‘n koninkryk op aarde te skep, daarom is hulle nie regtig op die wederkoms van Christus ingestel nie. Hulle vleeslikheid en sondige neigings sal na losbandige lewens en drankmisbruik lei. Hulle sal tydens die wegraping agterbly en die voorwerpe van God se toorn wees:

“As daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matt. 24:48-51).

Alle diensknegte van die Here moet waak om nie in hierdie sondige lewenstyl te verval nie. Die misleides se vormgodsdiens en lippediens aan die Christendom sal hulle niks help om in die oordeelsdag deur die Here aanvaar te word nie (Matt. 7:21-23). Ware gelowiges moet waak om nie die slegte voorbeeld van die valse leraars na te volg nie.

6. Aanvalle op mense se ekonomiese posisie

In die lig van Bybelse profesieë moet verwag word dat daar in die eindtyd ‘n ernstige ekonomiese en monetêre krisis sal ontstaan, as deel van ‘n bose plan om beheer oor die wêreldekonomie te verkry en ook ‘n enkele, kontantlose geldstelsel vir die hele wêreld in te stel. ‘n Skyn van groot rykdom en voorspoed is die afgelope paar dekades geskep deur alle lande se geldvoorraad vinniger as hulle ekonomieë te laat groei, en dan goedkoop krediet aan feitlik al hulle inwoners te verleen. Selfs jongmense wat pas begin werk het, kon groot bedrae geld teen lae rentekoerse leen om duur huise, motors en ander luukse artikels te koop. Die risiko was egter té hoog, want hulle het nog nie ‘n genoegsame ekonomiese teenprestasie gelewer en ‘n goeie kredietrekord opgebou om beheer oor soveel geld te kon verkry nie.

Die mensdom is deur hierdie gebeure in die greep van materialisme vasgevang. Hulle het alles begin koop wat hulle oë sien. Maatskappye het in die lewendige mark gefloreer en nuwe maatskappye het soos paddastoele opgeskiet om ook in die welvaart te deel. Die olieproduserende Arabiese state het in ‘n kort tyd skatryk geword, en kommunistiese lande het hulle jare lange ideologie van sosialisme verwerp of verander om ook in die kapitalistiese vryemarkstelsel se golf van voorspoed te deel. Die Sowjet-Unie het heeltemal opgebreek en in 15 kapitalistiese republieke verdeel. Sjina het wel nie van sy kommunistiese regering afstand gedoen nie, maar nogtans na ‘n kapitalistiese ekonomie oorgeskakel wat geweldig vinnig groei. Ander Asiatiese lande soos Japan, Korea en Indië het ook ernstige mededingers in die wêreld se ontluikende vryemarkstelsel geword. Rykdom het vinnig toegeneem en spoedig was niemand meer bereid om met minder as die heel beste tevrede te wees nie.

Die geweldige hoë vraag in die wêreldekonomie het die inflasieprobleem geskep wat in baie gevalle feitlik buite beheer gestyg het. Die pryse van eiendom en kommoditeite het in ‘n paar jaar meer as verdubbel. Rentekoerse is deur sentrale banke verhoog ten einde inflasie hok te slaan. Dit het skielik die vraag na duur huise en luukse artikels laat afneem, en gevolglik ook die pryse daarvan. Baie mense kon nie meer die hoë paaiemente bekostig nie en duisende het hulle huise en duur motors aan die banke begin teruggee. Dit het selfs van die grootste banke laat bankrot speel, asook talle besighede wat nie meer ‘n hoë omset geniet nie. Die meeste van hulle het in die “vet jare” geen neseier vir die “maer jare” opgebou nie, maar skrikwekkende hoë salarisse aan bestuurslui betaal en ook miljoene dollars aan advertensies en borgskappe vir sport bestee. Baie van hulle is in die moeilikheid en sien nie lig aan die einde van die tonnel nie.

Waaksame Christene moes lankal kon sien dat hierdie kunsmatige golf van voorspoed gaan platval, en dat hulle die neiging moes weerstaan om baie skuld te maak en bó hulle vermoë te leef. Dié wat dit nie gedoen het nie, is nou in ‘n groot verknorsing.

Ons moet besef dat die ernstige resessie in die wêreldekonomie die weg na internasionale beheer baan (ekonomiese globalisme), asook die instelling van ‘n nuwe geldstelsel vir die wêreld. Christene sal nóg versigtiger moet leef en leer om met die basiese voorsiening in hulle behoeftes vergenoeg te wees. Diegene wat dit doen, sal in hierdie tyd ander kan help wat in die nood is en só hulle laste verlig. Die res sal só in hulle skuld vasgedraai wees dat hulle selfs in die Here sal begin twyfel as Hy hulle nie vinnig help om finansieel te kan oorleef, werk te kry en uit hulle skuld te kom nie. Hulle maai egter nou wat hulle self gesaai het, en moenie die Here daarvoor blameer nie. As ons onder die leiding van die Heilige Gees verligte oë van die verstand gehad het, moes ons hierdie probleme sien kom en voorbereidings daarteen getref het.

7. Waarskuwings teen materialisme

Die Bybel bevat verskeie ernstige waarskuwings teen materialisme en geldgierigheid, en ons moet ten alle tye hierteen waak. Paulus sê: “Want ons het niks in die wêreld ingebring nie; dit is duidelik dat ons ook niks daaruit kan wegdra nie. Maar as ons voedsel en klere het, moet ons daarmee vergenoeg wees. Maar die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang. Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor” (1 Tim. 6:7-10).

Een van die name wat die Here Jesus aan die duiwel gegee het, is Mammon – die geldgod (Luk. 16:13). Mammon wil ons sinne met rykdom verblind sodat ons nie geestelike skatte in die hemel bymekaar sal maak nie, maar onsself net vir die versameling van materiële skatte op aarde sal beywer. Ongelukkig het aarde rykdom ook al vir baie Christene die norm vir geestelike sukses geword. Indien hulle baie geld en groot, duur kerke het, meen hulle dat dit die Here is wat hulle seën. Dit is egter hoegenaamd nie die geval nie, want die Here Jesus beskryf gelowiges wat op aardse rykdom roem, as geestelik bankrot: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Op. 3:17).

Ons waardestelsel as Christene moet nooit deur aardse, materialistiese norme bepaal word nie. Die Here se betaalmiddel is nie geld nie, maar die bloed van sy Seun. Petrus sê: “...julle [is] nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Paulus sê: “Julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:20). Die verheerlikte kerk in die hemel sal weet dat hulle slegs as vrygekooptes deur die bloed van die Lam daar sal wees. Hulle sal die Here Jesus toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10). Waak teen vertroue in die verdorwe wêreld se sekulêre betaalmiddel ten koste van hemelse waardes en streef daarna om onder die vrygekooptes te wees wat onder die leiding van die Heilige Gees en in die Naam van die Here Jesus werke sal doen wat ewigheidswaarde het.

Ons kan nie deur geld geestelike bates koop nie. Geld kan wel in die diens van Here gebruik word as ‘n middel tot ‘n doel, maar dan moet dit op ‘n eerbare wyse bekom en as ‘n gawe aan die Here gewy word. Christene moet sulke gawes versigtig in die diens van die Here bestee en nie vir selfverryking aanwend nie. Die Here waarsku sy dissipels dat daar nie by hulle ‘n motief van eie gewin moet wees nie, want dit is nie die kenmerk van ‘n getroue herder van Christus se gemeente nie (1 Pet. 5:2).

8. Aanvalle op ons morele norme

Die Here Jesus waarsku ons dat dit in die laaste dae voor sy wederkoms weer soos in die dae van Noag en Lot sal wees (Luk. 17:26-30). In daardie tyd het totale immoraliteit geheers en het gewelddadigheid, homoseksualiteit, boosheid en materialisme algemeen voorgekom. Die Here het besluit om daardie perverse mense te verdelg omdat hulle die aarde vol geweld gemaak het (Gen. 6:13). Die eindtydse mensdom is in ‘n soortgelyke toestand van sedeloosheid, bandeloosheid en geweld. Hierdie verval sal verder toeneem, totdat die Antichris as die mens van sonde sal verskyn (2 Thess. 2:3). Hy sal ‘n sondekultuur op aarde vestig en dit nog verder aanmoedig. Tydens die verdrukking wanneer God se oordele oor die aarde uitgestort word, sal die sonde en ongeregtigheid nog verder toeneem: “En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie... het hulle nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en hul diefstalle nie” (Op. 9:20-21).

Ons leef nou in die tyd van groot afval, waarin die agnostiese en misleide wêreld voorberei word om die Antichris te ontvang en na te volg. Evangeliese Christene moet nie deel van die vervalproses wees nie, maar dit teëstaan (vgl. Ef. 5:11; 2 Thess. 2:7). Diegene wat permissief leef en saam met die stroom afdryf, sal veragter in die genade en terugval. Die Here Jesus het hierteen gewaarsku: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12).

Waaksame Christene moet bedag wees op die ineenstorting van morele norme en geestelike oortuigings in die wêreld, dit weerstaan en aanhou om die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde te wees.

9. Aanvalle op ons emosies

Ons leef in ‘n slegter wordende wêreld waarin daar baie dinge is wat ook die Christene bekommerd en benoud maak. Die vraag is hoe ons emosioneel en geestelik daarop reageer? Baie van die wêreldlinge raak paniekbevange en wend hulleself tot drank en ydele vermaak om hulle sorge te vergeet. Sommige Christene doen dit ook, maar ly groot geestelike skade as gevolg daarvan. Die Here Jesus waarsku: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ‘n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon” (Luk. 21:34-35).

Word jy deur die sorge, teleurstellings en slegte nuus van die lewe afgetrek? Ons moenie toelaat dat dit gebeur nie, daarom moet ons onsself gedurig in die Here verbly en die beloftes oor sy nabyheid en ons wonderlike toekoms saam met Hom ter harte neem (Neh. 8:11; Heb. 13:5; Joh. 14:1-3). Dit sal ons gedagtes ophef na die hemel waar Christus vir ons intree (Kol. 3:1-3). Daar is egter ‘n vorm van endogene depressie wat nie in reaksie op ons uiterlike omstandighede ontstaan nie, maar die gevolg is van probleme soos hormoonversteurings of die newe-effek van medikasie soos bloeddrukpille. Hoewel swaarmoedigheid as gevolg hiervan nie voorkom kan word nie, moet ons nogtans nie toelaat dat die duiwel sulke tye gebruik om ons geloof af te takel en ons in die beloftes van die Here te laat twyfel nie. Dit is goed om onder sulke omstandighede iets konstruktief te kry om jou mee besig te hou, eerder as om op ‘n stoel te sit of op ‘n bed te lê en donker gedagtes van selfbejammering te bedink.

Gebeurtenisse in die laaste dae lewer meer as genoeg rede op om depressief te raak. Ons moet egter waak en bid sodat ons ten alle tye waardig sal bly om die hemelse Bruidegom in die lug tegemoet te gaan wanneer Hy ons kom haal (Luk. 21:36).

10. Die verwerping van die Drie-enige God

‘n Vorm van geestelike misleiding wat ons ten sterkste moet teëstaan, is die valse aanspraak deur ‘n toenemende aantal teoloë dat ons godsbegrip moet verander omdat daar volgens hulle nie ‘n Drie-enige God is nie. Dit is ‘n berekende poging om die godheid en ewige selfbestaan van die Here Jesus te verloën en van Hom net ‘n gewone profeet te maak soos wat Boeddha, Mohammed en Krishna was. As ons Jesus nie as God erken nie (vgl. Joh. 20:28; Fil. 2:11; 1 Joh. 5:20), dan verloën ons Hom vir wie Hy werklik is. Petrus verwys na Hom as “onse God en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 1:1) maar waarsku dat valse leraars Hom sal minag: “Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).

Verskeie “Christelike” bewegings, soos die Jesus Seminaar in Amerika en die Nuwe Hervorming in Suid-Afrika, neem die voortou in die veldtog teen die Drie-enige God, en baie ander leraars volg hulle hierin na. Hulle gee aan evangeliese Christene ‘n slegte naam, beskou hulle as oudmodies en uit pas met moderne navorsing, en distansieer hulleself op hierdie manier van die God van die Bybel. Hulle doen dieselfde wat afvallige Israel by tye in die Ou Testament gedoen het. God het vir hulle gesê: “Jy het My verwerp, spreek die Here, jy het ál agteruitgegaan; daarom strek Ek my hand teen jou uit en verwoes jou” (Jer. 15:6). Verwoesting tydens die komende verdrukking sal ook die deel van die moderne godloënaars wees.

Waak teen elke beweging of teologiese standpunt wat enigsins onskriftuurlik en oneerbiedig teenoor God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees is. Hierdie ondermynende beweging teen die Here Jesus begin by die ontkenning van sy maagdelike geboorte, om van Hom net ‘n gewone mens te maak. Daarna word sy godheid, die betekenis van sy kruisdood, sy opstanding uit die dood en sy hemelvaart ook verloën.

Dit is vir ewig die moeite werd om jou by die getroue dissipels van Christus te skaar, want Hy sal by sy regterstoel aan hulle sê: “...jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Hoeveel van die moderne teoloë en predikers voldoen aan hierdie standaard?

11. Die verwerping van die Bybel

Die verloëning van die Bybel as die geïnspireerde Woord van God word reeds algemeen in die Protestantse wêreld gedoen. Wanneer mense nie meer God se Woord eerbiedig nie, slaan hulle geen ag op sy openbarings nie, misken sy oppergesag in die heelal, aanvaar nie sy opdragte nie, en pas gevolglik nie hulle lewens en geloofsopvattings daarby aan nie. Hulle vergeestelik die Bybel na willekeur ten einde die betekenis daarvan te verander. Baie skrifgedeeltes word as mitologie en primitiewe bygeloof afgeskryf, wat nie vir die moderne mens aanvaarbaar is nie. Sulke mense maak vir hulleself die deur na die ewige lewe toe. Die Here Jesus sê: “Wie My verwerp en my woorde nie aanneem nie, het een wat hom oordeel: die woord wat Ek gespreek het, dit sal hom oordeel in die laaste dag” (Joh. 12:48).

Baie evangeliese Christene waak nie sterk genoeg teen hierdie ondermynende beweging nie, en loop ‘n hele ent op dié verkeerde pad saam. Sommige van hulle behoort aan kerke waarin Bybelse profesieë so erg vergeestelik en afgemaak word dat hulle lidmate geen begrip van die tekens van die tye het nie, nie in die herstel van Israel en die verskyning van ‘n persoonlike Antichris in die eindtyd glo nie, die belofte van die wegraping heeltemal ontken, die baie beloftes oor die duisendjarige vrederyk van Christus metafories verklaar, en as gevolg hiervan glad nie weet waar hulle in God se raadsplan staan nie. Hoe is hulle besig om te waak en te bid?

12. Geloofsversaking

Daar is baie mensgemaakte dogmas en godsdienste in die wêreld, maar ‘n ware geloof in God en sy Seun onder die oortuigingswerk van die Heilige Gees, kom al hoe minder voor. Die Here Jesus het teen hierdie jammerlike toestand gewaarsku: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” (Luk. 18:8). Hierdie vraag word met die oog op ‘n baie werklike probleem gevra. Wat sou dan die rede wees waarom ‘n Bybelse geloof ‘n skerp afnemende verskynsel in die eindtyd sal wees? Daar is verskeie redes hiervoor.

Misleiding. Die eerste rede is omdat Christene op ‘n groot skaal onder die invloed van valse leerstellings sal kom en mislei sal word om van hulle geloof in die waarheid afvallig te raak: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Hulle sal dus deur valse prediking van die waarheid af weggetrek word om in menslike teorieë te glo waardeur hulle op ‘n maklike manier sonder bekering salig gespreek sal word: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Fabels verwys na godsdienstige leuens.

Die wegraping. Die tweede rede sal wees omdat die Here Jesus tydens die wegraping die ware gelowiges (sy bruid) van die aarde af sal wegvoer na haar woning in die hemel (1 Thess. 4:16-17). Hulle het tot voor sy geheime koms geskyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag, en hulle skielike vertrek sal groot geestelike duisternis op aarde laat toesak. Die valse gelowe sal dan die oorhand hê en almal agter die Antichris aan gaan en hom aanbid (Op. 13:3).

Martelaarskap. Die derde rede sal wees omdat ware gelowiges wat gedurende die verdrukking van sewe jaar tot bekering kom, as martelare in die skrikbewind van die Antichris sal sterf (Op. 6:9-11; 13:7,15). Wanneer die Here Jesus ná die sewe jaar van verdrukking na die aarde terugkeer, sal daar waarskynlik min of geen ware gelowiges wees nie. Wanneer Hy kom, sal daar egter ‘n oorblyfsel van Israel en die nasies tot geloof kom en gered word (Sag. 12:10; Matt. 14:29-30).

Ons leef nou in die tyd waarin die valse leraars maai onder ware gelowiges. Evangeliese Christene moet meer as ooit tevore op die Here se ernstige waarskuwing oor die groot omvang van eindtydse dwalings ag slaan: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei... baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei... hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Matt. 24:4-5,11,24).

Is jy wakker en waak jy teen valse leerstellings?

Onthou ten slotte dat ons geestelike krag en motivering net van Jesus Christus af kom, deur die kragtige werking van sy Heilige Gees. Ons sal nooit suksesvol kan waak en teen die vyand se liste staande kan bly as ons verhouding met die Here Jesus nie volkome is nie. Die hoofdoel van ons lewe moet nie wees om die aard van die vyand se aanslag beter te leer ken nie, maar om ons Verlosser beter te ken en meer volkome met sy dood en opstandingslewe te identifiseer. Dan sal ons die geestelike insig en krag hê om enige aanslag van die duiwel en sy valse profete te kan identifiseer en suksesvol te weerstaan. Paulus sê die hoofdoel van sy lewe was: “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:10). Net ‘n volle oorgawe van hierdie aard sal ons regtig waaksaam maak en geestelik laat oorwin.

www.bibleguidance.co.za