Geestelike Erfenis van die Waldensers

Prof. Johan Malan, Middelburg (November 2007)

Die geskiedenis van die Waldensers in Noord-Italië en Suid-Frankryk verteenwoordig ‘n belangrike deel van die lotgevalle van die vroeë Christelike kerk voor die Kerkhervorming. Hierdie evangeliese gelowiges het die Roomse Kerk verwerp en was vir ‘n lang tyd voortvlugtendes wat deur die ‘heilige leërs’ van die Vatikaan vervolg en doodgemaak is. Die Malans se geskiedenis gaan veel verder as dié van die Waldensers terug, en hulle het eers later deel van dié beweging geword. In sy boek, Die Malans van Suid-Afrika, sê Hercules Malan onder meer die volgende oor die voorsate van hierdie Waldensiese familie:

“Die vroeë geskiedenis van die Malans is die verhaal van geloofsvervolging en bittere lyding. Die Malans stam oorspronklik uit die valleie van Piedmont in die noordwestelike deel van Italië. Volgens ‘n baie ou oorlewering [wat ongelukkig nie histories bevestig kan word nie] is die evangelie deur die apostel Paulus aan die inwoners van die valleie van Piedmont gebring toe hy daar aangedoen het op pad na Spanje toe. Dit sou tydens sy vierde sendingreis gebeur het, waarvan soms in die kerklike tradisie melding gemaak word. Die Malans het nooit die gesag van die pous aanvaar nie en het die geloof van die apostels bewaar. Hulle het hulleself as ‘Oorspronklike Christene’ beskou en was in later eeue ook as Dalbewoners, Vaudois en Waldensers bekend. Die naam Malan is aanvanklik as skeldnaam deur die Rooms-Katolieke gebruik vir hierdie “ketters” wat nie die pous se gesag wou erken nie. Mettertyd is die skeldnaam egter as erenaam deur die Malans aangeneem.

“Met die verloop van tyd het Malans na Provence in Suid-Frankryk en na die huidige Switserland uitgewyk… Waarskynlik het ‘Les Malan de Merindol’, die tak waaruit die Suid-Afrikaanse en Engelse Malans stam, tydens die groot vervolging van 1112 na Merindol aan die Durance in Provence gevlug. Die drie berge op die familiewapen is waarskynlik ná hulle aankoms in Merindol bygevoeg…

“Ná 1177 het die Malans deel geword van ‘n evangeliese beweging bekend as Waldensers, so genoem na Waldo, ‘n handelaar van Lyon, wat ‘n vereniging vir lekepredikers gestig het om die evangelie te verkondig… Hoewel die Waldensers in 1184 deur Pous Lucius in die ban gedoen is, het hulle met hul prediking voortgegaan. In 1215 is ‘n dekreet deur die Vierde Lateraanse Konsilie uitgevaardig waarvolgens alle ‘ketters’ vir straf aan hulle sekulêre heersers uitgelewer en hulle besittings gekonfiskeer moes word…

Volgens ‘n ou familietradisie het ‘n aantal Malans vir Lodewyk IX op sy eerste kruistog na Palestina vergesel. By die slag van St. Jean d’Acre het die Malans hulle so dapper gedra dat Lodewyk hulle die reg gegee het om die drie goue lelies, die fleurs-de-lis van die Bourbons van Frankryk, op hulle skild te plaas. Hierdie toekenning is in 1250 gemaak, maar hulle nuutgevonde vryheid sou nie baie lank duur nie…

“In 1309 het ‘n leër in opdrag van Pous Clemente die Waldensers opnuut aangeval en hulle huise en dorpe afgebrand. Die oorlewende Waldensers het na die berge gevlug. Laurent Malan het met sy vrou en kind tussen die steil rotse van die Taillant geskuil toe hulle deur die soldate ontdek is. Nadat hulle geweier het om hulle geloof af te sweer, is hulle van die krans afgegooi… Van 1380 tot 1392 is 230 Waldensers op bevel van die pous op die brandstapel verbrand vanweë hulle ‘kettery’. In 1440 het keiser Sigismund self teen die Waldensers opgetrek. Barthelemeni Malan is deurboor nadat hy gevange geneem is terwyl hy besig was om te bid. Hy het sterwend die naam van die Here Jesus bely…

“Intussen het die Hervorming in Duitsland begin en predikers soos Guillaume Farrel het die Waldensers op die ooreenkoms tussen hulle leerstellings en dié van Luther en Calvyn gewys. Die Waldensers van Frankryk het gevolglik in 1532 besluit om by die Gereformeerde Kerk aan te sluit. Die druk van die eerste Protestantse Bybel in Frans is deur die Waldensers van Provence gefinansier.

“Die Waldensers sou nie lank in vrede leef nie. In 1534 het die parlement van Provence opdrag gegee dat hulle hul geloof moes aflê of die land verlaat. Natuurrampe soos die oorstroming van die Durance, hael en misoeste is aan die Waldensers se leer toegeskryf. Baie van hulle is uit die gebied verdryf en het na hulle geloofsgenote in Piedmont gevlug. In 1556 het hulle na Provence teruggekeer en was Mérindol weer die sentrum van ‘n Waldensiese gemeenskap.

“Die vervolging in Frankryk het weer teen hulle opgevlam, en is later na alle Protestante uitgebrei wat Hugenote (“eedgenote”) genoem is. Die Malans was deel van die Hugenote wat ten bloede toe deur die Katolieke vervolg is, veral nadat Lodewyk XIV in 1661 koning van Frankryk geword het. Ná 1681 het groot getalle Hugenote uit Frankryk geëmigreer, baie van hulle na Holland. Onder hulle was ook Jacques Malan, die stamvader van die Suid-Afrikaanse Malans.” Hy was een van ‘n geselekteerde groep Franse Hugenote wat in 1688 na die Hollands-beheerde Kaapkolonie gestuur is – hoofsaaklik as boere om vars produkte aan skepe te voorsien wat na die Ooste onderweg was. Hy was een van ‘n groep Franse Hugenote wat in 1688 deur die Hollandse regering na die Kaapkolonie gestuur is – hoofsaaklik om groente vir skepe te verbou wat na die Ooste onderweg was.

Die Pelgrimkerk

In sy boek The Pilgrim Church – Tracing the pathway of the forgotten saints from Pentecost to the 20th century (1999) sê Edmund Broadbent onder meer die volgende oor die Waldensers se geloof:

“Die leerstellings en gebruike van die broeders wat as die Waldensers bekend was, en ook onder ander name, was van só ‘n aard dat hulle nie die vrug van enige pogings was om die Roomse en Griekse kerke te hervorm en na Bybelse weë terug te bring nie. Hulle het geen invloede van hierdie kerke getoon nie, maar was inteendeel die voortsetting van ‘n baie ou tradisie wat uit ‘n heel ander bron afkomstig was, naamlik die Bybelse leerstellings en gebruike van die vroeë Christelike kerk. Hulle bestaan was die bewys daarvan dat daar altyd manne en vroue van geloof was, mense wat met geestelike krag en begrip ‘n tradisie in die kerk in stand gehou het wat baie na aan dié van die apostels se tyd was, en ver verwyderd van dit wat in die dominante kerke ontwikkel het.

“Hulle het naas die Bybel geen spesiale geloofsbelydenis of reëls gehad nie. Geen oorheersing deur enige persoon, hoe uitnemend ook al, is toegelaat om die gesag van die Skrif ter syde te stel nie. Nogtans het hierdie gelowiges deur die eeue heen dieselfde waarhede bely en dieselfde gebruike nagevolg. Hulle het Christus se woorde in die Evangelies as die hoogste openbaring aanvaar… Om Christus na te volg en sy woord te bewaar, was hulle hoogste doel en strewe. Volgens hulle is die werking van Christus se Gees in ‘n persoon doeltreffend tot dié mate waartoe hy die woorde van Christus eerbiedig... Dit is net Jesus Christus wat aan ons die vermoë kan gee om sy Woord te verstaan. As enigiemand Hom liefhet, sal hy sy Woord bewaar. Sekere basiese waarhede is as noodsaaklik beskou, maar in ander sake waaroor daar twyfel of verskillende menings bestaan het, is groot vryheid van oortuiging toegelaat. Hulle het geglo dat die innerlike getuienis van die inwonende Gees van God van groot belang is, omdat die grootste waarhede van die hart af na die verstand toe kom – nie dat nuwe openbarings gegee word nie, maar ‘n duideliker verstaan van die Woord...

“In sake van die kerkorde het hulle eenvoud gehandhaaf, en daar was niks onder hulle wat in die kerk van Rome ontwikkel het nie. Nogtans het die kerke en die ouderlinge hulle verantwoordelikheid met die grootste erns aanvaar. In gevalle van dissipline, die aanstelling van ouderlinge en ander sake, het die hele gemeente in samewerking met die ouderlinge deelgeneem. Die Nagmaal was vir alle gelowiges. Hulle het dit beskou as ‘n herinnering aan die Here se liggaam wat vir ons gegee is, en terselfdertyd ‘n sterk vermaning om hulleself as gebroke en uitgegiet in sy diens aan te bied. Wat die doop betref… het hulle gesê dat suigelinge nie deur die doop gered word nie, omdat die Here Jesus gesê het: ‘Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word,’ maar ‘n klein kindjie kan nog nie glo nie… Hulle het nie die aanspraak van die groot [Roomse] kerk aanvaar dat die kerk die daad van verlossing kon toeken of weerhou nie, en hulle het ook nie geglo dat redding deur enige sakramente plaasgevind het nie, maar slegs deur geloof in Jesus Christsus” (Broadbent 1999:119-120).

Uit die geskiedenis van die Waldensers is dit duidelik dat die reg van godsdiensvryheid teen ‘n baie duur prys na ons toe gekom het. Die meeste van die moderne Christene is egter besig om hierdie reg prys te gee ter wille van groter ekumeniese en politieke aanvaarbaarheid in die opkomende, multigodsdienstige wêreldsamelewing. In die proses word verskeie grondbeginsels van die evangeliese Christendom verloën – insluitende Jesus Christus self as die enigste Verlosser van ‘n verloregaande wêreld.

'n Verdere afleiding wat ons van die wydverspreide geestelike verval van ons tyd kan maak, is dat die Christendom nie oorerflik is nie. Elke nuwe geslag mense moet opnuut geëvangeliseer word en die Here Jesus se opdragte oor bekering, dissipelskap en heiligmaking vir hulleself aanvaar en uitleef. Ons kan nietemin inspirasie put uit die getuienisse en voorbeelde van vrome voorgangers. Met verwysing na verskeie uitstaande geloofshelde in Hebreërs 11, sê Paulus in die lig van hulle besondere ervarings en geestelike erfenis die volgende in Hoofstuk 12:

"Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof… Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie" (Heb. 12:1-2,14-15).

Ons moet sekerlik ook uit ons voorouers se foute leer. Ek betreur die feit dat die Waldensers in Frankryk by die Gereformeerde Kerk aangesluit en Calviniste geword het. Daardeur het hulle die suiwerheid van die leer wat hulle tot in daardie stadium nagevolg en uitgeleef het, met ‘n leerstelling vervang wat ernstige foute en gebreke in het. Uit Broadbent se boek wat hierbo genoem is, asook Dave Hunt se boek (What Love is This? Calvinism’s Misrepresentation of God) is dit duidelik dat Calvinisme verskeie van die valse idees en onbybelse instellings van die Roomse Kerk oorgeneem en tot vandag toe laat voortleef het.

Hieronder is die verbondsteologie op grond waarvan babas besprinkel en salig verklaar word (doopsaligheid), die uitverkiesingsleer wat beweer dat God alleen besluit wie hemel en wie hel toe sal gaan omdat die mens volgens hulle nie ‘n vrye wil het nie, eenmaal-gered-altyd gered (‘n Christen kan leef soos hy wil omdat hy nie kan terugval en sy geloof verloor nie), asook die koninkryksteologie wat ‘n toekomstige millennium ontken en leer dat die koninkryk van God in die huidige bedeling deur die kerk geopenbaar word. Die kerk kan dus mag en gesag gebruik om mense tot onderworpenheid en gehoorsaamheid aan sy leer te dwing. Baie van hierdie leerstellings het hulle oorsprong by Augustinus, wat deur die Katolieke én Protestante as die belangrikste kerkvader beskou word.

Ek betreur ook die feit dat sommige van die Malans in Frankryk by die wynbedryf betrokke geraak en sodoende ‘n diens aan die drankgod, Bacchus, gelewer het. Hierdie tradisie is ook op Franschhoek in die Kaap voortgesit. ‘n Christen moet nie op enige wyse by die produsering, verspreiding of gebruik van alkoholiese drank betrokke raak nie (Spr. 20:1; 23:31-32; Hab. 2:15; Ef. 5:18).

Voortsetting van die Waldensiese tradisie

In die lig van die Malans se vroeë geskiedenis in Europa bied ek net ‘n kort oorsig van hulle wedervarings in Suid-Afrika aan, asook dit wat in my eie lewe as ‘n Waldensiese afstammeling gebeur het. Die uitsluitlike doel hiermee is om eer aan die Here te gee vir dit wat Hy in lewens kan bereik wat aan Hom oorgegee is, asook ‘n ernstige waarskuwing aan almal wat die Here weerstaan en hulle eie pad bewandel.

Daar is ‘n baie sterk pioniersgees by die Malans aanwesig. Hulle was eeue lank daaraan gewoond om weens hulle geloof te vlug en ‘n nuwe heenkome te soek. Dit het ‘n familie-tradisie geword om nie té lank op een plek te bly nie. Dit was ook nie met Jacques Malan se nakomelinge in die Kaap anders gesteld nie. Verskeie van hulle het na die Oosgrens verhuis en daar gaan boer, onder andere in die Cradock-distrik. Een van hulle, David Malan, het in 1815 aan die Slagtersnek-rebellie deelgeneem. Op 13 Januarie 1816 is hy tot drie jaar dwangarbeid op Robbeneiland gevonnis en uit die Oostelike Provinsie verban. David se vonnis is weens sy hoë ouderdom nooit voltrek nie en hy het tot met sy dood in 1824 op sy plaas naby Cradock gewoon.

Twee van David se seuns is later saam met die Groot Trek noordwaarts, die onbekende in. Hercules Philippus is in 1838 saam met Piet Retief deur Dingaan vermoor, en Jacobus het in dieselfde jaar saam met Piet Uys by Italeni gesneuwel. Jacobus se oudste seun, David Eduard (12 jr.) en Hercules se seun, Johannes (14 jr.) het ook by Italeni gesneuwel. Hercules se jongste seun, Jacob Jacobus het homself voor 1855 op die plaas Waterkloof gevestig, waarop Lydenburg later aangelê is. Die seun van die gesneuwelde Jacobus, Jacob Marthinus, het hom op Doornkloof naby Koster gevestig. Hy is in 1901 deur die Britse troepe op sy plaas doodgeskiet.

‘n Harde, pioniersbestaan het ook op baie ander Malans gewag wat na Transvaal verhuis en daar gaan boer het. Sommige van hulle, soos my eie oupa, Anthonie Christoffel, ‘n toegewyde Christen, het tot in Swaziland getrek en daar gaan boer. Daar het my pa (Johannes, geb. 1914) en sy broers van jongs Swazi vlot leer praat. Hierdie gesin het ‘n diep geestelike inslag gehad, en my pa het reeds as ‘n jong seun besluit om ‘n sendeling te word. Dit het hom uiteindelik in die NG Sendinginstituut in Wellington laat beland. Daarna is hy getroud. My ma se gesin (Groblers) het ook in Swaziland geboer.

My pa se eerste sendinggemeente was in Carolina, waar ek in 1941 in ‘n plaashuis gebore is. Daarna is hy na Wakkerstroom (naby Volksrust) beroep. Hier is ek vir die eerste keer skool toe. Daarna is my ouers vir 11 jaar lank na Klipspruit sendingstasie, wat tussen Groblersdal en Nebo in die voormalige Lebowa is. Ek moes byna 9 jaar van my lewe in koshuise deurbring – eers in Laersdrif en later op hoërskool in Middelburg. In my pa se moeilike sendingtaak in ‘n baie groot gebied met uiters swak paaie, min hulpmiddele en ‘n ongekerstende heidendom, het hy dikwels om hulp tot die Here geroep. Hy het op verskeie plekke kerkies en skole gebou, en ook sendelinge van Dorothea-sending gekry om met evangelisasiedienste te help. My pa het baie boeke van predikers uit die herlewingstyd gelees, veral Moody en Torrey. Hy het ook Scofield en Clarence Larkin se boeke oor dispensasionalisme (chiliasme) gelees en is in die proses van verskeie onbybelse, Calvinistiese sienings verlos. Ná beroepe na Witbank en Biesiesvlei het hy die laaste sewe jaar van sy bediening in Swaziland deurgebring, daar waar sy lewe as Christen begin het, en het ook baie in Swazi oor die radio gepreek.

‘n Swerwersbestaan

Nadat ek in 1958 matriek in Middelburg geskryf het, het ‘n lewe van byna eindelose swerftogte begin. Daar was ‘n onrustigheid in my hart, omdat ek ten spyte van ‘n goeie opvoeding nie in die weë van die Here gewandel het nie. Sonde het meer en meer ‘n houvas op my gekry, en dit het my nogal skrikkerig vir my pa gemaak – hy was baie streng. My ma was altyd simpatiek, maar hy het sommer gou dissiplinêr opgetree en presies gesê wat hy van ‘n situasie dink.

Nadat ek drie jaar van my jong lewe vermors het, het ek in 1962 besluit om in Pretoria te gaan werk en buitemuurs te studeer. Drie jaar later het ek gegradueer met antropologie (volkekunde), toegepaste antropologie en Zoeloe as hoofvakke. In dieselfde jaar, op 28 Nov. 1964, is ek met Wilma Scholtz getroud. My swerwersgees het weer die oorhand gekry, en ek het dadelik vir ‘n joernalistieke pos in die Oos-Kaap by Dagbreek Pers in Johannesburg aansoek gedoen. Hulle het my by hulle sondagkoerant (die voorganger van Rapport) ‘n kort in-diens-opleiding in skryf- en redigeerwerk vir koerante gegee. Ek moes ook in ‘n vinnige tyd met twee vingers leer tik.

Daarna is ek na King William’s Town in die Oos-Kaap as redakteur van Imvo Zabantsundu, ‘n koerant vir swartes. Hierdie koerant is in Xhosa en Engels gepubliseer. Steeds het ek geestelik deur troebel waters gegaan en glad nie die Here gedien nie. My oudste seun, Johan, is in 1966 hier gebore. In dié tyd het ek die Ciskei en Transkei goed leer ken en ook die Transkeise Wildekus verken.

In die 2 jaar toe ek in die Oos-Kaap gewoon en gewerk het, het ek ‘n studie oor die tradisionele religie en toorkuns van die Xhosa gemaak en wou ‘n populêre boek daaroor skryf. Ek het die manuskrip vir kommentaar aan prof. J.P. van S. Bruwer van die Dept. Antropologie by die Universiteit van Port Elizabeth voorgelê. Hy het gesê dat dit goeie materiaal vir ‘n MA-verhandeling was, en my aangemoedig om BA-Honneurs in PE te kom neem en daarna die manuskrip te verwerk, ‘n teoretiese en etnografiese inleiding te skryf en dit in te dien.

Ek het sy advies aanvaar en ‘n pos as een van die subredakteurs van die Nasionale Pers se koerant, Die Oosterlig, in PE gekry. Tydens my eerste klas (vroeg in 1967) het prof. Bruwer van sy wonderlike ervarings in Namibië vertel, waar hy Kommissaris-generaal in Owamboland was. My belangstelling in die noorde van Namibië, waar ek nog nooit was nie, is dadelik geprikkel. Die volgende week het prof. Bruwer tragies in die Rietbokramp gesterf – ‘n vliegtuig van die SAL wat naby Oos-Londen in die see gestort het. Ek het my Honneursgraad daardie jaar deeltyds voltooi en besluit om die volgende jaar na Kaokoland in die verre noorde van Namibië te verhuis.

My MA-verhandeling het ek in 1968 by die pas gestigte Randse Afrikaanse Universiteit, by prof. Herman Mönnig, ingehandig en na Kaokoland in die noordweste van Namibië vertrek waar ek ‘n pos by die destydse Bantoe-administrasie gekry het. Hier ek besluit om my doktorale navorsing onder die Himba te doen, wat ‘n Hererosprekende volk in Kaokoland en Suid-Angola is. Dit was nodig dat ons ná ‘n jaar nog verder noord, na ‘n onontwikkelde plek in die bosse 40 kilometer van die Kunene-rivier af moes trek, waar omstandighede gunstiger vir my navorsing was. Die Departement het hier vir ons ‘n kleinerige huis en kantoor gebou, en aan my ‘n Ford F250 4X4 asook ‘n tolk en ‘n veld-assistent voorsien. Ek moes onder meer oor die tradisionele politieke organisasie en erfregstelsel van die Himba navorsing doen, waarby die Departement ter wille van plaaslike bestuur en die administrasie van regspraak belang gehad het.

‘n Baie avontuurlike bestaan het hier op my, Wilma en Johan (3) gewag. Wilde honde en hiënas het besoek by ons huis afgelê nadat ons kleinvee geslag of gejag het, en by kampplekke in die bos het ons soms baie naby aan olifante, leeus en swart renosters gekom. Wilma was soms alleen by die huis en moes die 9-mm. pistool gebruik om slange te skiet – veral die giftige zebra-slange wat daar voorkom. In  daardie tyd het ons die verlate Namib-woestyn tot by die Kunene-mond verken en ook baie vis gevang in die see. By Rockey Point aan die Skedelkus was ‘n huisie wat met skeepswrakhout gebou is – ‘n goeie skuiling vir vissermanne teen die Namib se woeste winde.

Ons is net een maal elke twee maande toegelaat om met die staatsvoertuig na Outjo of Otjiwarongo te ry (300 km. op swak paaie) om kosvoorrade te gaan koop. Op een só ‘n rit het ons 11 pap wiele gehad, en ek moes later albei my skoensole afsny om ‘n stukkende buiteband te lap. ‘n Deel van die pad het deur die ver westelike deel van die Etosha-park gegaan, en in die reëntyd was dié pad byna onbegaanbaar. Ons moes al ‘n nag tussen die olifante deurbring toe ons bakkie in die modder vasgeval het. In die bergagtige noordelike gebied van Kaokoland was die paaie (meesal net twee dowwe spore) só sleg dat dit ons soms ‘n hele dag geneem het om 100 kilometer af te lê. Wanneer die riviere in die reëntyd afgekom het, en die water té diep was om deur te ry, moes ons op die wal uitkamp totdat die vloedwater afgeneem het.

Oorkant die Kunene-rivier in Angola was ‘n paar klein Portugese winkeltjies waar ons ‘n paar keer besoek afgelê het. Ons moes dan op primitiewe kano’s saam met swartmense oor die rivier vaar en hoop ons beland nie tussen die krokodille as die hol boomstomp dalk omkantel nie. Een keer, toe ons by die Epupa-watervalle onder die makalani-palms gekamp het, is ek alleen oor die rivier na ‘n winkel toe. Wilma het by die kamp agtergebly. Die wind het skielik opgekom en ‘n boomslang het van die palmboom se gladde blare af in die kostrommel geval. Sy het die trommel toegeklap toe sy sien wat daarin is. Ons agterryer wat moes help, het uit vrees weggehardloop. Wilma moes toe sukkel om die swaar trommel se deksel met ‘n visstok op te lig sodat die slang kon wegkom.

Nadat ek my navorsing afgehandel het, en ek baie graag in Namibië wou aanbly, het die Departement my in Oktober 1970 onverwags van die bosse van donker Afrika af as staatsetnoloog na Pietermaritzburg in Natal verplaas. Wat ‘n aanpassing! Ons jongste seun, Francois, is hier gebore. ‘n Jaar later is ek as etnoloog vir die voormalige Ciskei en Transkei aangestel. Omdat my werk nie plekgebonde was nie, kon ek self besluit waar ek wou bly, en het op ‘n klein dorpie, Cathcart, besluit. Hier het ek my proefskrif afgehandel en vroeg in 1972 aan die RAU gegradueer.

In die rustigheid van hierdie klein dorpie het die Here met my en Wilma ‘n afspraak gehad. Ek het my lewe self probeer verbeter, veral akademies, maar geestelik en moreel was ek steeds in ‘n woestyn – ver weg van die Here en sy geregtigheid af. Ek het dit besef, teenoor die Here erken dat ek ‘n groot mislukking van my lewe gemaak het, en my sondes en verlore toestand teenoor Hom bely. Hy het my volkome vergewe en nuut gemaak. Wilma het ook haar saak met die Here reggemaak, en saam het ons ‘n nuwe lewe begin.

Albei van ons het sterk na Namibië terugverlang. Skaars ‘n jaar nadat ons in Cathcart aangekom het, het ek ‘n pos as etnoloog by die Staatsmuseum in Windhoek gekry. My kantoor was in ‘n ou Duitse fort (die Alte Feste) wat oor Windhoek uitkyk. Wat ‘n vreugde was dit nie om na hierdie groot land waar jy vry voel, te kon terugkeer. Maklik sou dit egter nie wees nie, want ek moes my getuienis van redding teenoor voormalige vriende gee saam met wie ek vroeër gedrink en onsin gepraat het. Spoedig het ons egter nuwe vriende in die Here gekry met wie ons nou nog bevriend is. Ek het gou besef dat daar in my geestelike lewe nog iets kort, en dit was ‘n volle oorgawe om deur die Heilige Gees vervul te word, sodat ek heilig en godvrugtig kon leef (2 Kor. 7:1; 1 Thess. 4:7-8). Ek het RA Torrey se boek (Die Heilige Gees, wie Hy is en wat Hy doen) gelees en alleen langs die Weskus in ‘n woonwa hierdie oorgawe gemaak. Dit was ‘n groot deurbraak in my lewe.

Vinnige geestelike groei, hoewel nie sonder stryd en teëstand nie, het hierop gevolg. Ons het by die Gideons aangesluit en Bybels in skole versprei. Deur die NG Sendingkantoor het ons ook met ‘n projek begin om Bybels en hartboekies in die inheemse tale saam met studente-toergroepe uit Stellenbosch te versprei. Bybels is teen gesubsidieerde pryse verkoop.

In hierdie tyd het ek weer die noordelike gebiede van Namibië deurkruis en ook vir ses maande lank op Swakopmund gewoon. My ouers én skoonouers het ons hier kom besoek, en ons het goeie tye saam met hulle beleef. Hulle het ook saam met ons op visvangvakansies na Hentiesbaai en verder noord gegaan. Ek het my etnografiese navorsing in Namibië voortgesit en verskeie artikels oor die Herero- en Owambo-volke in ‘n wetenskaplike tydskrif in Windhoek gepubliseer.

In 1978 het ek onverwags ‘n oproep van prof. Jan Pretorius, dekaan van die Fakulteit Lettere aan die Universiteit van die Noorde naby Pietersburg gekry (tans die Univ. van Limpopo). Hy het aan my gevra of ek nie in ‘n pos as hoof van die Dept. Antropologie belang stel nie. Ek het daarvoor aansoek gedoen en dit gekry. Op 1 Augustus 1978 het ons ons intrek in Pietersburg geneem en daar gebly totdat ek in Januarie 2006 afgetree het. Ons terugkeer na die RSA was in ‘n tyd van groot politieke en godsdienstige veranderings, wat in net meer as ‘n dekade op ‘n humanistiese eenheidstaat in ‘n multikulturele samelewing, asook die geestelike vervlakking en verpolitisering van kerke, sou uitloop. Ek en my vrou het as gevolg hiervan uit die NP én die NG Kerk bedank. Al die groot instellings in die samelewing het medebouers aan ‘n moderne toring van Babel geword. Vir my, as ‘n Christen-volkekundige wat my vir vrye en selfbeskikkende volke beywer het, was daar groot onheil op die horison. Dit was duidelik dat alle kultuurgroepe, rasse én selfs godsdienste op ‘n onbybelse manier saamgebondel sou word, en dat kerke ook geesdriftig aan hierdie humanistiese transformasieproses wat op globalisme (wêreldeenheid) gebaseer is, sou deelneem.

Ek het ook op ‘n akademiese vlak die teorie van biologiese evolusie verwerp en my lesings daarvan gesuiwer, omdat dit ‘n duidelike vorm van die verloëning van die Skeppergod is. Dit maak van die mens ‘n dierlike wese met ape as voorvaders. ‘n Mens het volgens dié leer nie ‘n gees nie (net ‘n siel en liggaam), omdat hy volgens agnostiese wetenskaplikes nie na die beeld van God geskape is nie en dus ook nie vir sy dade aan Hom aanspreeklik is nie. Ek het wél die historiese ontwikkeling van volke uit die primitiewe steentydperk na die brons- en ystertydperke, en uiteindelik tot op die vlak van die moderne beskawing, bestudeer, maar altyd binne die verband van die menslike ras (homo sapiens – die denkende mens) se tegnologie en kultuur. Ons voorvaders was nooit half-ape nie! Ek het by geleentheid geweier om as gasheer vir ‘n besoekende evolusionis op te tree, wat by die universiteit ‘n paar lesings hieroor gelewer het. Die rektor was in ‘n hoek toe ek in ‘n memo verduidelik het dat daar geen wetenskaplike bewyse oor transisionele spesies is nie (ape is nog steeds ape), en dat ek ook ‘n morele probleem het om vir studente te sê dat hulle van ape en bobbejane afstam. Hy het onder druk van ander kollegas die evolusie-teorie ondersteun, maar my optrede verskoon en vir my geskryf: “I respect your point of view but disagree with it.”

Tydens ons verblyf in Pietersburg was my tipiese Waldensiese swerfdae oënskynlik verby. My vakgebied het egter aan my die moontlikheid gebied om in verskillende wêrelddele te gaan navorsing doen en artikels te skryf. Sulke reise is na Namibië, Swaziland, Zimbabwe, Zambië, Malawi, Estland (in die voormalige Sowjet-Unie) en Israel onderneem. Ek het ‘n boek, Peoples of Namibia, geskryf, wat aan studente voorgeskryf is. In Estland het ek ‘n studie oor etnisiteit gedoen en in Israel oor kommunale boerdery op kibboetse. Ek en Wilma het verskeie kibboetse besoek en daar met mense gepraat. Ons het tydens een van ons reise na Oos-Europa ook mooi plekke in Finland, Swede en Switserland besoek.

Ek en my pa het in later jare nie net geestelik deur Die Basuin saamgewerk nie, maar ook vakkundig. Toe hy sendeling in Lebowa was, het hy ‘n MA-verhandeling oor ‘n vlugteling-groep Swazi’s geskryf wat bo-op die Leolo-berge in Lebowa woon. Op grond van hierdie kwalifikasie het ek by die Dept. van Ontwikkelingshulp se hoofetnoloog aanbeveel dat hulle my pa ná sy aftrede as etnoloog in Pietersburg aanstel. Dit het hulle gedoen, en as gevolg daarvan het ons ‘n paar jaar lank in dieselfde dorp gebly totdat hy aan die einde van 1986 op 72-jarige ouderdom oorlede is.

Ná my aftrede het ons Middelburg toe verhuis, wat vir my geen onbekende plek is nie. My oudste seun werk ook hier by die Columbus-staalfabriek. Soos wat ‘n mens nader aan die einde van jou lewenspad kom, kyk jy soms terug na waar alles begin het – en ook verder terug na die Europese wortels van jou voorouers. Baie lesse kan hieruit geleer word, veral geestelik: moet nooit met sonde speel nie, dit is ‘n vernietiger van lewens; soek die Here in die dae van jou jonkheid, voordat jy dalk geestelik heeltemal afgestomp raak as gevolg van langdurige blootstelling aan die wêreld; moenie deur die gebooie van mense (bv. Calvinisme) geleer word nie, maar net deur die onfeilbare Woord van God; waak teen oorgerustheid en passiwiteit deur jou talente onbenut te laat bly, maar volg jou bekering met ‘n volle oorgawe tot heiligmaking en diensbaarheid op; moenie tyd mors nie, want jou aardse lewe is kort en gaan gou verby; neem jou kruis op en wees bereid om groot opofferings te maak wanneer jy die Here Jesus volg; onderwerp jouself aan die vormende hand van die hemelse Pottebakker, al is dit ook ‘n harde leerskool, en volhard op die regte pad tot die einde toe – “ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie... [want] later lewer dit ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is” (Heb. 12:5,11).

Dit is belangrik hoe jy ‘n reis begin, maar nét so belangrik hoe jy dit klaarmaak. Salomo sê: “...op die plek waar die boom val, daar bly hy lê” (Pred. 11:3). In die geestelike toestand waarin ons is wanneer ons sterf of wanneer die Here ons kom haal, gaan ons die ewigheid in – dit kan nie daarna verander word nie. Die ryk man in die doderyk het té laat agtergekom dat sy aardse rykdom en aansien hom nie van die ewige vlam kon red nie. Ons kan belangrike lesse uit historiese persone se ervarings leer. Sommiges se voorbeeld, soos dié wat in Hebreërs 11 beskryf word, is navolgingswaardig, terwyl ander weer ten alle koste vermy moet word.

Ek is dankbaar teenoor almal wat ‘n groot en opbouende rol in my lewe gespeel het, veral my ouers en my vrou, Wilma. Op Wilma se skouers rus die hele administrasie van ons bediening. My seuns, Johan en Francois, het hulp met die verspreiding van literatuur verleen, en ook om my rekenaarvaardig te maak. My broers, David en Jurie, het in die vroeë jare van Die Basuin gehelp om die tydskrif goed op dreef te kry. My suster, Louisa, speel nog steeds ‘n groot rol om inligting op die Internet te versamel. Jaap Taljaard van Alberton het baie met die boekhouding van die Basuin gehelp, asook met die finansiering vir die druk van ons eerste boeke. Tans speel Gerald en Helene Vos ‘n groot rol met die administrasie en bekendstelling van die webblad, en ook met die cd- en dvd-bediening. Gerald hou ook my rekenaar op datum. Baie dankie hiervoor, asook aan ander broeders en susters in die Here wat hulp verleen en voorbidding doen.

Verder was (en is) daar verskeie persone in Suid-Afrika, Namibië en Engeland wat die onderneming finansieel ondersteun (sommige donasies word naamloos gedoen). Baie dankie aan almal van u. Dit het daartoe bygedra dat talle boeke gedruk, vertaal en in baie gevalle gratis deur middel van sendelinge en evangeliste in arm gemeenskappe versprei kon word. Die eerste boek oor Openbaring is in ses tale uitgegee: Afrikaans, Engels, Portugees, Russies, Estonies en Swahili. ‘n Russiese prediker wat ek in Estland ontmoet het, het twee van die vertalings laat doen en ook daar laat druk en versprei. Victor Blum, ‘n Russies-sprekende Messiaanse Jood en sy vrou, Julia, het my boek oor Israel in Russies vertaal en ook onder Russiessprekende Jode in Israel versprei. Hulle woon in Jerusalem waar hy ‘n gemeente het. Julio de Andrade van Silverton het baie van die boeke en artikels in Portugees vertaal, wat almal ook op ons webtuiste geplaas is. Die Portugese bediening word steeds uitgebrei en het besonder baie lesers in verskeie lande – die derde-meeste ná Engels en Afrikaans.

Dankie ook aan al ons lesers en medewerkers wat Basuine, traktaatjies en boeke help versprei het, en gereeld vir ons bid. Ons vertrou die Here dat hierdie saad op goeie grond geval het en veel vrug vir die ewige lewe sal oplewer. Ons is veral dankbaar vir die openhartigheid wat baie van u getoon het om geestelike en leerstellige probleme met ons te bespreek. Die doel van ons bediening is nie net om inligting te verskaf nie, maar ook om raad te gee, te bemoedig en mekaar te ondersteun. So kan ons andere se laste help dra en in die allerheiligste geloof opgebou word terwyl ons op die Here wag.

Die Basuin is deur die Here se genade nou 24 jaar aan die gang. Spoedig sal die einde van hierdie bedeling aanbreek wanneer God se basuin vir alle ware kinders van die Here sal blaas. Dan sal ons na ons ewige tuiste vertrek, en sal die dae van ons vreemdelingskap in ‘n verdorwe wêreld verby wees. Mag die Here ons in hierdie kritieke laaste dae help om nie in ons liefde te verkoel en in die middernag-uur kort voor sy koms geestelik aan die slaap te raak nie.

“En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid!” (1 Pet. 5:10-11).