Die Noodsaaklikheid van Wedergeboorte

Prof. Johan Malan

Skriflesing: “En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode. Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie. Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie. Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie? Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie... Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur? Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” (Joh. 3:1-10).

Nikodémus was een van die gematigde en meer oortuigbare lede van die Sanhedrin in Israel. Hy was beïndruk met Jesus se bediening, veral met sy goddelike mag om wonderwerke te doen, en wou meer daaroor uitvind. Sy kollegas was hatig op Jesus, daarom het hy alleen in die nag met Hom gaan praat. Nikodémus spreek vir Jesus op ‘n gelyke vlak as rabbi aan, maar gee nietemin erkenning aan die feit dat God met Hom is. Jesus was nie hierdie Fariseër se gelyke nie, maar ver bokant hom verhewe omdat Hy van bo af kom. Johannes die Doper het gesê: “Hy wat uit die hemel kom, is bo almal” (Joh. 3:31). Die Here Jesus was ten volle van Nikodémus se geestelike probleme bewus, naamlik dat hy onkundig was en ‘n dooie, wettiese godsdiens van uiterlike handelinge en rituele beoefen het, terwyl sy hart koud en ver van die Here af was.

Jesus kom vinnig tot die punt en gee duidelik die oplossing vir hierdie leraar se probleem van vormgodsdiens: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” Nikodémus het glad nie verstaan dat ‘n mens ‘n tweede keer gebore kon word nie, omdat hy aan ‘n tweede fisiese geboorte gedink het. Die Here Jesus verduidelik toe dat hy die tweede keer van bo, deur die Heilige Gees, gebore moes word. Hy moes dus geestelik lewend gemaak word en ‘n veranderde hart kry. Nikodémus is verkwalik omdat hy dit nie kon insien nie, want hy was ‘n kenner van die Ou Testament en moes geweet het dat God ‘n veranderde hart van sy volk verwag. Jesus sê vir hom: “Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?” Hy kon dit nie insien nie omdat sy hart nie reg ingestel was nie.

Die belangrikste opdrag wat God in die Ou Testament aan Israel gee, is: “Wees heilig, want Ek is heilig” (Lev. 11:44). Hierdie opdrag geld eweneens vir ons in die Nuwe Testament (1 Pet. 1:15-16). Ware heiligheid wat die beeld van God vertoon, kan net van binne af uit ‘n veranderde hart kom, wanneer die beginsels van God se geregtigheid deur die Heilige Gees op die tafels van ‘n gelowige se hart geskryf is. Dit bepaal jou lewensbeginsels, verander jou persoonlikheid en lewenswandel ten goede en maak van jou ‘n spreekbuis vir die Here. Heiligheid kan nie van buite af kunsmatig deur die aanleer van sekere gedragspatrone aangeplak word en in kombinasie met ‘n verdorwe hart funksioneer nie, want die resultaat daarvan is skynheiligheid. Só ‘n persoon is soos ‘n witgepleisterde graf wat van buite af mooi en selfs godsdienstig lyk, maar binne vol doodsbeendere is. As gevolg van sy geestelike doodsheid is sy uiterlike vertoon vals, hy handhaaf dubbele standaarde en praat nie namens die Here nie. Trouens, hy verstaan nie eers die dinge van die Here nie en het ‘n baie beperkte en verwronge begrip daarvan.

Daar was verskeie uitstaande gelowiges in die Ou Testament wie se harte deur die Here verander is. Hebreërs 11 bevat ‘n erelys van geloofshelde uit hierdie tyd. Hulle kon almal van veranderde harte getuig. “En die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die Here jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe” (Deut. 30:6). Hulle het ‘n geestelike hartoorplanting gekry (Eseg. 36:25-27). Die meerderheid Israeliete het egter dikwels in boosheid verval omdat hulle nie besnyde, of veranderde, harte gehad het nie. In Jeremia 4:4 lees ons: “Besny julle vir die Here en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem, dat my grimmigheid nie soos ‘n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge.”

‘n Kenmerk van besnyde, of gelowige, harte was dat sulke mense waarlik in God en sy profete geglo en volgens sy insettinge gewandel het: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees” (2 Kron. 20:20). Daar was maar min mense wat sulke veranderde harte gehad het, wat hulle in staat sou stel om waarlik in die Here te glo en Hom lief te hê en te dien. Hulle het eerder die godsdienstige tradisies van die volk onderhou en net uiterlike lippediens aan die Here bewys. In Jesaja 29:13 sê die Here: “Hierdie volk kom nader met hulle mond en eer My met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is.”

Die Here Jesus het hierdie woorde in Mattheus 15:8-9 aangehaal toe Hy met die Jode van die eerste eeu gepraat het: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.” In Markus 7:9 sê Hy: “Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou.” Dit was dieselfde boodskap wat Jesus ook by Nikodémus wou tuisbring, want sy skynheilige godsdiens was nutteloos omdat dit net uit oorgeërfde tradisies en wette bestaan het. Die Here wil ‘n veranderde hart hê wat Hy alleen van bo af kan herskep wanneer iemand met berou oor sy sonde tot bekering kom. Nikodémus was skynbaar tevrede met sy selfregverdigende vormgodsdiens waarin daar nie berou oor sonde was nie. Geen wonder dat hy nie kon verstaan dat hy ‘n tweede keer gebore moes word nie!

Paulus het ook na hierdie diep geestelike werk verwys wat die Here vir sy volk wil doen, naamlik ’n hartsverandering om Hom waarlik lief te hê: “Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God” (Rom. 2:28-29). Wat help ‘n mooi uiterlike lewe, maar binne-in het die persoon ‘n donker, onweergebore, onheilige en ongelowige hart?

Ongelukkig was ‘n dooie vormgodsdiens en skynheiligheid ook reg uit die staanspoor van die Nuwe Testamentiese bedeling ‘n baie algemene verskynsel. Leerstellings is gehuldig wat nie na ‘n grondige hartsverandering, of wedergeboorte, by mense gelei het nie. In die eerste eeu het die skrifgeleerdes en Fariseërs geen plek vir Jesus en sy geregtigheid in hulle teologie gehad nie, en Hom geheel en al as Messias verwerp. Hy het nie by hulle wettiese leefwyse ingepas nie, en boonop die boosheid en bedrog van hulle harte geopenbaar. Hulle was struikelblokke in die koninkryk van die hemel omdat hulle in die pad van mense se redding gestaan het. Die Here Jesus het gesê: “Julle sluit die koninkryk van die hemel toe voor die mense; want julle gaan self nie in nie, en die wat sou ingaan, laat julle nie toe om in te gaan nie” (Matt. 23:13).

Hierdie valse leraars het net bekeerlinge na tradisionele Judaïsme gesoek, m.a.w. na hulle eie sienings en gebruike. Jesus het gesê: “Julle trek rond oor see en land om een bekeerling te maak; en as hy dit geword het, maak julle hom ‘n kind van die hel, twee maal erger as julle self” (Matt. 23:15). Die Joodse leiers was hatig op Jesus omdat Hy hulle kinders van die duiwel genoem het (Joh. 8:44) en ook hulle ongeloof en valse vormgodsdiens aan die volk geopenbaar het. Hulle wou Hom doodmaak om van Hom ontslae te raak. Jesus het vir hulle gesê: “Ek en die Vader is een. Die Jode het toe weer klippe opgetel om Hom te stenig. Jesus antwoord hulle: Baie goeie werke het Ek julle getoon van my Vader. Oor watter een van dié werke stenig julle My? Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak” (Joh. 10:30-33).

Ons is in baie opsigte vandag in dieselfde situasie. Daar is teoloë oral in die wêreld, veral ook in Suid-Afrika, wat só heftig teen die godheid en goddelike attribute van die Here Jesus gekant is, dat hulle nie huiwer om sy uitsprake te weerlê en selfs hoogs lasterlike bewerings oor Hom as Persoon te maak nie. Hulle ontken openlik die maagdelike geboorte van Jesus, omdat dit volgens hulle onwetenskaplik is om so-iets te glo. Die feit is egter dat as Jesus nie maagdelik gebore is nie, is Hy nie deur die Heilige Gees verwek nie en dus nie die Seun van God nie – ook nie God self in ‘n menslike gedaante nie. Hy sou dan net ‘n gewone mens met ‘n sondige natuur gewees het. In daardie geval sou sy kruisdood geen heilswaarde hê nie, omdat Hy nie die vlekkelose Lam van God kon wees wat die sonde van die hele wêreld wegneem nie. As ‘n gewone sterfling sou Hy ook nie uit die dood kon opstaan en na die hemel opvaar nie.

Wat sou die Here Jesus vir die moderne skrifgeleerdes sê indien hulle, soos Nikodémus, oor teologiese kwelvrae met Hom in gesprek sou tree? Hy sou waarskynlik ook ‘n kortpad na die oplossing van hulle probleem geneem het deur te sê: “Julle het nie ‘n verhouding met die Here nie, daarom is julle harte donker, vol boosheid en ongeloof. Julle hou julle volgens jύlle sieninge  sogenaamd met die Skrifte besig, maar weier om deur geloof in My die ware lewe te verkry (Joh. 5:39,40). As julle nie weergebore word nie, sal julle die koninkryk van die hemel nie sien nie.” Hy sou Homself as God die Seun aan hulle geopenbaar het, in wie al die volheid van die Godheid liggaamlik woon (Kol. 2:9). Dit sou glad nie in hulle verwysingsraamwerk pas nie, daarom sou hulle ook moes hoor: “Julle is teoloë en leraars en julle weet hierdie dinge nie?” Agnostiese moderniste sal na die basiese beginsels van die evangelie moet terugkeer om waarlik te kan glo, met God versoen te raak en só ‘n nuwe lewe te verkry.

Die gebrek aan wedergeboorte kan in die meeste gevalle toegeskryf word aan die feit dat godsdienstige tradisies geskep word waarin mense net liggaamlik en verstandelik aangeraak word, en nie geestelik nie. Uiterlike, liggaamlike sakramente word op die lede van ’n godsdiensgroep toegepas, soos bv. die besnydenis in die Ou Testament of die doop in die Nuwe Testament. Hiermee saam gaan leerstellige reëls wat net met die verstand aangeleer en dan onderhou word: dit is gebooie van mense wat later oorgeërfde tradisies word. Die essensiële aspek van ‘n God-gewerkte geestelike ontwaking, of wedergeboorte, ontbreek egter hierin, daarom lei dit nie na ‘n ware geloof in mense se harte nie. Dit is presies dieselfde probleem wat Israel gehad het. Paulus sê: “Die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met geloof verenig was nie” (Heb. 4:2). In ons tyd word lidmate ook op grond van ‘n blote dogma wat verstandelik aanvaar word, salig verklaar en dan ten volle as “gelowiges” in die kerk bevestig. Die meeste lidmate kan egter nie van wedergeboorte en veranderde harte getuig nie omdat hulle nie regtig glo nie.

Dan is daar ook onder diegene wat wél geestelik ontwaak het, die probleem van veragtering in die genade. Die Galasiërs het van ‘n lewe van geloof in die gekruisigde Here Jesus af teruggekeer na wetsonderhouding, insluitende die besnydenis, die Joodse sabbat, en ander wettiese gebruike. Hierdeur het hulle kompromie met hulle nasionale godsdiens gemaak, in hulle vlees en wettiese werke  begin roem en sodoende Christus se kruis van sy sentrale plek in hulle geloofslewe ontneem. Paulus het hulle ernstig hieroor berispe: “o, Onverstandige Galásiërs, wie het julle betower om die waarheid nie gehoorsaam te wees nie, julle voor wie se oë Jesus Christus afgeskilder is as onder julle gekruisig? Dit alleen wil ek van julle weet: het julle die Gees ontvang uit die werke van die wet of uit die prediking van die geloof? ... Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 3:1-2; 5:4).

Paulus se fokus het reg gebly. Hy het vir die Galasiërs gesê: “Maar wat my betref, mag ek nooit roem nie, behalwe in die kruis van onse Here Jesus Christus, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld. Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel. En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” (Gal. 6:14-16).

Hy het duidelik vir die gemeente gesê dat die Here hulle harte aansien. Of hulle besnede of onbesnede Jode was, of in ‘n Nuwe Testamentiese verband gedoop of ongedoop, is nie regtig belangrik nie. Die Here kyk of hulle geestelik, deur die wedergeboorte, nuwe mense geword het. Sy vrede en barmhartigheid word uitgestort oor almal wat volgens hierdie reël wandel. Dit is die reël van wedergeboorte – die reël van die nuwe mens. Net sulke persone in Israel behoort aan die Here en is ware Israeliete, wat “Stryders vir God” beteken.

Is jou godsdiens op die reël van die nuwe mens gebaseer? Het jy ‘n getuienis dat jou lewe op ‘n diep geestelike vlak verander het, dat die ou dinge verbygegaan en alles nuut geword het? Paulus het vir Timótheus gewaarsku dat daar veral in die eindtyd baie mense sal wees wat net ‘n uiterlike skyn van godsdienstigheid sal hê, maar op ‘n geestelike vlak steeds dood in hulle sonde en misdade sal wees: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Tim. 3:1-5).

Sulke mense ken nie die wederbarende krag van die Heilige Gees in hulle lewe nie. Hulle is net gedoop en aangeneem, maar verder leef hulle soos hulle wil. Hulle maak volgens uiterlike kriteria soos kerklike sakramente en goeie werke daarop aanspraak om Christene te wees wat op pad hemel toe is. Hulle mislei egter hulleself, want hulle is soos die gemeente in Sardis, waarvan die Here Jesus gesê het: “Jy het die naam dat jy leef, [maar] jy is dood” (Op. 3:1). Hulle is nie deur die Gees van God lewend gemaak nie, maar word nogtans binne kerklike verband saliggespreek. Die feit dat by elke begrafnis maar die standaarduitspraak gemaak word dat die oorledene – hoe onweergebore hy/sy ook al gesterf het – nou by die Here is omdat die persoon ‘n “gelowige” was, dra tot die valse gerustheid by.

Wedergeboorte verwys na die opstandingslewe van Christus waarmee ons beklee word wanneer ons waarlik gered word. Net dit gee aan ons ‘n hoopvolle toekoms: “Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat na sy grote barmhartigheid ons die wedergeboorte geskenk het tot ‘n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode” (1 Pet. 1:3). Wanneer ons tydens die aflegging van die ou lewe aan Christus se dood gelykvormig geword het, word ons geestelik nuut gemaak en met die opstandingslewe van die Here Jesus beklee. Ons kan dan saam met Hom in ‘n totaal nuwe lewe wandel. Ons familie en vriende sal kan sien dat ons lewe grondig verander het. Ons kan nog steeds foute maak en sondig, maar na aanleiding van die Heilige Gees se innerlike oortuiging stel ons die probleem dadelik weer reg en gaan voort om deur die Gees te wandel – nie deur die vlees nie. Die Here omskep ons geestelik om skynende ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag te wees (Fil. 2:15). Ons distansieer onsself absoluut van die sondes wat ons in die verlede gedoen het en streef daarna om aan die beeld van Christus gelykvormig te word.

Sondevergifnis en wedergeboorte staan in ‘n noue verband met mekaar, want die Here Jesus reinig ons van ons sonde wanneer Hy aan ons deur die wedergeboorte ‘n nuwe lewe met ‘n nuwe natuur gee. Reiniging van sonde is die groot doel waarom die Here Jesus na die wêreld toe gekom het. Johannes die Doper het van Hom gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem.” Dit is ‘n lewensbelangrike saak, want die Bybel sê die loon, of straf, vir die sonde is die dood. Die Here Jesus red ons deurdat Hy die losprys vir ons sonde aan die kruis betaal het, sodat ons geestelik wederbaar kan word en sy heilige natuur deelagtig word.

Ons moet dus ons sondeprobleem baie goed begryp as ons enigsins wil verstaan waarom ons wederbaar moet word. Ná die hemelvaart van die Here Jesus is die Heilige Gees uitgestort om ons van ons sonde te oortuig én van Christus se geregtigheid te getuig (Joh. 16:8). Hy begin egter by sonde – die groot skeidsmuur tussen ons en God. Ons moet besef dat ons almal in sonde gebore is, met ‘n sonde-geneigde natuur. Daar is onder die natuurlike, ongeredde mense nie een regverdige op aarde nie – selfs nie een nie – almal is sondaars (Rom. 3:10-12). Om bloot ‘n goeie mens te wees (waarop baie agnostici én lede van ander gelowe hulleself ook kan beroem!) maak van geen mens ‘n regverdige in God se oë nie.

Die duiwel het weens die sondeval ‘n direkte aandeel in die feit dat alle mense met ‘n sondige natuur gebore word. Ons word deur verdorwe, innerlike neigings verlei om sonde te doen – dit is die hartstogte en begeerlikhede van ons ou natuur. Jakobus sê: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort” (Jak. 1:14-15). Die duiwel het ‘n bondgenoot in mense se lewe, naamlik hulle gevalle, sondige natuur waardeur hy werk, en dit moet hom ontneem word deur die ou natuur en sy werke af te sterf. Mense wat nalaat om hierdie oorgawe te doen, bied ‘n teelaarde aan sonde in hulle lewe en het nog nie op dié punt gekom waar hulle die juk van die sondige natuur afgelê het sodat hulle van die heerskappy en meeslepende invloed daarvan bevry kan word nie.

Dink maar aan die werke van die vlees, of die ou natuur, in jou eie lewe. Dink vir ‘n oomblik na oor al jou sondige gewoontes en gesindhede. Die Here Jesus het gesê: “Elkeen wat die sonde doen, is ‘n dienskneg van die sonde” (Joh. 8:34). Petrus sê: “Want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword” (2 Pet. 2:19). Sonde is gewoontevormend omdat dit homself in jou hele persoonlikheid en lewe inweef en deel daarvan word. Dit is ‘n repeterende gewoonte wat gaandeweg al hoe erger word. As jy rook, moet jy aanhou rook, as jy drink, moet jy aanhou drink, as jy dwelms gebruik, soek jy dit aanhoudend, as jy woede-uitbarstings kry en ander vloek of slaan, word jy so geken en hou aan om dit te doen. Party mans raak só aggressief dat hulle selfs hulle vrouens slaan. Mense wat aan onrein gedagtes plek gee, gee op al hoe meer maniere daaraan uiting, totdat hulle later in ‘n web van sonde en buite-egtelike verhoudings vasgevang is. Dit kan selfs na onbybelse vorms van seksualiteit lei. So ook is daar nie ‘n versadigingspunt vir materialisme en die koorsagtige najaag van rykdom en eer nie.

Wat is die oplossing vir al hierdie sondige werke van die vlees? Ons moet ons sondes by die naam noem wanneer ons dit bely en laat staan: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig” (1 Joh. 1:9). Die Here wil nie hê dat ons moet aanhou sondig nie, daarom wil Hy ons ook van die heerskappy deur sondige gewoontes verlos en reinig. “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:36). Onthou dat ons nie ná die Here Jesus se vryspraak nog ‘n spesiale sessie van duiwel-uitdrywing, innerlike genesing of die verbreking van bloedlynvloeke nodig het nie. Christus se versoeningswerk aan die kruis is volmaak en volkome – Hy verbreek die werke van die duiwel in ons lewe en gee aan ons deur die Heilige Gees krag om die sonde te kan oorwin. Ons moet net ‘n volle oorgawe doen om van alle sonde en ongeregtigheid gereinig te word.

Ons moet egter verder as net sondebelydenis gaan en ook ons sondige toestand wat deur die ongekruisigde vlees veroorsaak word, bely. Hierdie natuur moet aan die voet van die kruis afgelê word en ons moet die Here Jesus vertrou om ons met sy heilige natuur te beklee. Paulus sê aan die reeds geredde gemeente in Éfese:  “...dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).

Dit is nie altyd so ‘n eenvoudige saak nie, want daar is dieper vlakke van oorgawe en reiniging nodig. Nie almal is uit die staanspoor van alle aspekte van die vlees en die sonde bewus wat tussen hulle en die Here staan nie. Ná ons aanvanklike oorgawe om die werke van die vlees dood te maak (Kol. 3:5-7), sê Paulus: “Maar nou moet julle ook dit alles aflê, naamlik toorn, woede, boosheid, laster, skandelike taal uit julle mond. Lieg nie vir mekaar nie, omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle met die nuwe mens beklee het” (Kol. 3:8-10).

Wanneer ons ten volle met die nuwe natuur beklee is, moet alles moontlik gedoen word om die ou natuur in ’n gekruisigde posisie te hou sodat dit nie weer oor ons sal heers nie. Jesus sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Ek moet dus met die kruis van die Here Jesus identifiseer, deur wie die wêreld vir my gekruisig is en ek vir die wêreld (Gal. 6:14). Op hierdie manier groei ek met Christus saam deur die gelykvormigheid aan sy dood, én ook aan sy opstanding (Rom. 6:5).

Wat sal gebeur as ek kompromie maak en sonde in my lewe oorsien of goedpraat, met die verskoning dat ons almal maar sondaars is? Dan is die vlees, of ou natuur, nie regtig in ’n gekruisigde posisie nie, en as gevolg daarvan maak ek myself heeltemal onbekwaam vir die werk van die Here, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).

Dit is ‘n skaakmatposisie en ‘n resep vir geestelike rampspoed. Mettertyd kry die vlees en sy sondige werke weer die oorhand en kan só ‘n persoon terugval en in die posisie van die verlore seun beland. Vir hom was daar net een oplossing, en dit was om met die belydenis van sy sonde na sy vader terug te keer. Laat ons liewer volgens die beginsels van die nuwe lewe wandel deur die Gees, dan sal ons nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie (Gal. 5:16).

Ons lewensreël as weergebore Christene is dat ons nie moet sondig nie. Johannes sê: “My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld” (1 Joh. 2:1-2). Dit is nie te sê dat ons nooit weer sal sondig nie, maar ás ons sondig is dit ‘n geestelike neerlaag in ons lewe en bedroef ons die Heilige Gees daardeur. Wanneer dit gebeur, moet ons dadelik na die Here se genadetroon gaan om die sonde te bely en te laat staan. Moenie daarmee vrede maak, dit toesmeer, geheim hou of gelate aanvaar nie: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie, maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind” (Spr. 28:13).

Volg die riglyn van 1 Johannes 1:7 in u lewe: “As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, het ons gemeenskap met mekaar [die Engelse Bybel gebruik die woord “fellowship”]; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde.” Die woord “reinig” is in die onvoltooide vorm van die Griekse werkwoord geskryf, wat beteken dat as ons die Here met ‘n onverdeelde hart volg en in die lig wandel, ervaar ons die voortdurende reiniging van sonde deur sy bloed. Hierdie voordeel word egter nie geniet deur mense wat aanhoudend en teen hulle beterwete in sonde leef nie. Hulle wandel nie deur die Gees nie, maar gee vrye teuels aan die vlees. Sulke mense is op ‘n afdraandepad na selfvernietiging, want as die sonde tot volle verwerkliking gekom het, bring dit die dood voort. Ons kan nie verkeerd lewe en dan reg sterwe nie.

Vertrou die Here om jou te reinig deur sy bloed en ook met sy Heilige Gees te vervul sodat jy staande kan bly teen alle versoekings om te sondig. Staan vas in die vryheid waarmee Christus Jesus ons vrygekoop het, en moenie weer slawe van die sonde word nie. Wanneer ons deur die nou poort van wedergeboorte ingegaan en die smal weg betree het, is die Heilige Gees daar om ons daagliks te bekragtig en in die ewige waarhede van die Here se Woord te lei. Volhard op hierdie nuwe en lewende weg en moenie omkyk as jy jou hand aan die ploeg geslaan het nie.