‘n Wenresep vir die Lewe

Ons wil almal graag suksesvol wees in dit wat ons aanpak en terselfdertyd geestelik oorwinnend leef. Die Bybel bied aan ons só ‘n wenresep vir die lewe in Galásiërs 5 aan:

“Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie... Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing... die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig” (Gal. 5:16,17,22,24).

Al nege hierdie vrugte word deur die Heilige Gees in ‘n mens se lewe voortgebring. Dit is dus nie menslike nabootsings van edel karaktertrekke nie. Eers moet die dominansie van die vlees, of ou natuur, in jou lewe beëindig word sodat die Heilige Gees vryelik deur jou kan werk. Baie Christene laat egter na om hierdie stap te neem, daarom bevind hulle hulself in die kategorie van mislukte Christene waarin die Gees deur die ongekruisigde vlees geblokkeer word. Dit is ‘n skaakmatposisie waarin jou koning in die skaakwedstryd van die lewe deur die magte van die vyand omring word. Onder dié omstandighede kan jy nie doen wat jy wil nie, en sal daar van jou beste voornemens niks kom nie. Die vestings van die vyand móét eers in jou lewe val. As Christen moet jy voortdurend met die kruis van die Here Jesus identifiseer, omdat jy daar nie net voortgesette reiniging van jou sondes verkry nie, maar ook oorwinning oor die vlees, of oue mens (Luk. 9:23; Gal. 6:14).

‘n Oorgawe van hierdie aard word deur die vervulling met die Heilige Gees gevolg, omdat jy deur die bloed van die Lam gereinig is en ‘n oop kanaal is waardeur die Gees Homself deur verskillende gesindhede en dade kan openbaar (1 Joh. 3:18). Paulus noem dit die “vrugte van die Gees” en hou nege daarvan aan ons voor. Die eerste drie beskryf ons verhouding teenoor God, die tweede groep van drie beskryf ons verhouding teenoor ons medemens, en die laaste drie beskryf ons ingesteldheid teenoor onsself. Die eerste drie is liefde, blydskap en vrede.

Liefde verwys hier na goddelike liefde wat agape genoem word, en is heeltemal iets anders as ‘n natuurlike, menslike liefde. Dit is altyd uitwaarts gerig omdat dit daarop ingestel is om te gee en te voorsien in die geestelike en materiële behoeftes van ander. Die liefde van die gevalle mens is egter selfgesentreerd. Hy het net homself lief, en alles wat sy oë begeer, wil hy hê. Dit is ‘n karaktertrek van die vlees, en hiervan moet ons verlos word. In die plek hiervan moet God se liefde ons lewe oorheers. Romeine 5:5 sê: “Die liefde van God is in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is.” Ons moet daarin gewortel en gegrond word, en besef dat dit saliger is om te gee as om te ontvang (Hand. 20:35). Ons moet in die Naam van die Here uitreik na ‘n verloregaande wêreld in sy nood. Moenie dink dat hierdie agape liefde van jou ‘n swakkeling of ‘n pasifis sal maak nie. Daar is ‘n dinamiese krag in God se liefde wat enige kwaad kan oorwin: “Laat jou nie deur die kwaad oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie” (Rom. 12:21). Hierdie liefde is onvernietigbaar sterk. Paulus sê dat geen benoudheid, verdrukking of selfs die dood ons kan skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie (Rom. 8:38-39). Salomo sê: "Die liefde is ‘n vlam van die Here. Groot waters kan dit nie uitblus en riviere dit nie oorstroom nie" (Hooglied 8:6-7). Hierdie liefde is breër as die wêreld, dieper as die diepste see en hoër as die hoogste hemel (Ef. 3:18-19). Daar is nie ‘n krisis of probleem waarteen dit nie bestand is nie, daarom is dit ‘n krag tot oorwinning in ons lewe. Hierdie liefde moet in ons volmaak word – ons moet daarmee vervul word (1 Joh. 2:5).

Die tweede vrug is blydskap. ‘n Christen is altyd ‘n blymoedige soort mens omdat hy weet dat sy sondes vergewe is, al was dit ook hoe erg. Hy weet dat sy siel gered is en dat hy na die hemel toe op pad is. Dit help hom om nie deur die teleurstellings en stryd van die lewe oorweldig en vernietig te word nie. Nehemia het vir die volk Israel wat pas deur die traumatiese ervaring van die Babiloniese ballingskap gegaan het, gesê: “Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap van die Here – dit is julle beskutting” (Neh. 8:11). Paulus het uit die tronk geskryf: “Verbly julle altyd in die Here” (Fil. 4:4). Die Here wil nie hê ons moet slagoffers van donker gedagtes word wat dreig om ons in ‘n put van depressie af te trek nie. Vir ‘n Christen is daar altyd ‘n lig aan die einde van die tonnel, want die vooruitsig op die ewige lewe moet nooit in sy gemoed vervaag nie. Ons sien ook met blydskap uit na ‘n nuwe dag wat met die wederkoms van die Here Jesus oor hierdie bose en donker wêreld sal aanbreek.

Die Heilige Gees laat altyd die vrede van God in ons harte neerdaal: “En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en sinne bewaar in Christus Jesus” (Fil. 4:7). Jy sal nie meer knaend deur jou gewete aangekla word oor alles wat in jou lewe verkeerd gegaan het nie, daarom kan jy lekker en ontspanne gaan slaap, en elke nuwe dag begin sonder om die bagasie van gister en eergister se probleme saam met jou te sleep. Die bloed van Jesus Christus reinig ons van alle sonde en ongeregtigheid waardeur ons innerlike vrede versteur word (1 Joh. 1:7). Hierdie vrede van God is ook jou skeidsregter tussen dit wat reg en verkeerd is. Moenie iets doen voordat jy daaroor gebid het en die vrede van die Heilige Gees in jou hart het dat dit die regte ding is om te doen nie. Laat vrede jou pad deur die wêreld verlig.

Nou kom ons by die drie gesindhede wat ons verhoudings met ander mense bepaal. God se liefde, blydskap en vrede wat ons ontvang het, moet teenoor ander mense in aksie gestel word omdat ons daartoe verbind is om ook ons naaste lief te hê. Dit sal na lankmoedigheid, vriendelikheid en goedheid lei.

Omdat ‘n Geesvervulde Christen die Here se lankmoedigheid en vergewensgesindheid teenoor homself ervaar, is hy nooit haastig om ander te veroordeel of af te skryf nie. Hy vergewe maklik en gee altyd vir iemand nog ‘n kans. Dit beteken nie dat hy korrupsie, wangedrag en ongeregtigheid toesmeer nie, daarom dring hy daarop aan dat alle boosheid gestaak word (Ef. 4:31) en dit wat verkeerd is, reggestel word.

Verder het ons die opdrag dat ons vriendelikheid aan alle mense bekend moet word (Fil. 4:5). Ware vriendelikheid is ‘n seldsame gesindheid. Die wêreld se vriendelikheid is ‘n baie dun lagie wat oor mense se gesigte geplak is, daarom kan dit gou verdwyn en deur veragting en selfs dreigemente vervang word. Die Here gee aan ons ‘n krisisbestande vriendelikheid wat deure na ander mense se harte oopmaak.

Verder is ons tot goedheid verbind. Ons verhouding teenoor ander mense moet nie net uit positiewe gesindhede bestaan nie, maar ook deur dade gekenmerk word. “Laat ons dan, terwyl ons geleentheid het, aan almal goed doen, maar die meeste aan die huisgenote van die geloof” (Gal. 6:10). Soos die barmhartige Samaritaan, moet ons ‘n helpende hand uitstrek na dié wat in die nood is, dan het ons ‘n beter kans om hulle ook geestelik vir die Here se koninkryk te wen. Ons is veral daartoe verbind om mede-Christene te onderskraag, in besonder dié wat met beperkte middele die werk van die Here doen.

Ten laaste wil die Heilige Gees ook sekere eienskappe by jou kweek wat jou verhouding teenoor jouself bepaal. Die gevaar bestaan dat ‘n mens jouself kan afskeep en nalaat om jou volle potensiaal deur toenemende kennis, ervaring en toewyding aan die Here te vervul. Ons moet nie deur ‘n wêreldse selfliefde gekenmerk word wat na arrogansie lei nie, maar ‘n goddelike selfliefde wat ons na hoër hoogtes sal laat uitstyg. Ons lewe moet deur getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing gekenmerk word.

Jy moet as ‘n persoon getrou en selfgedissiplineerd wees in alles wat jy doen. Vergeetagtige, onbetroubare en ongedissiplineerde mense is amper voltyds besig om verskonings aan te bied vir dit wat hulle nagelaat het om te doen. Dit is beslis nie bevorderlik vir ‘n waardige Christelike selfbeeld nie. Getrouheid begin by die stiptelike nakoming van ons daaglikse afsprake met die Here en sy Woord. Selfs in ‘n besige program moet ons hiervoor tyd maak, sodat ons geestelik sterk kan bly. Baie Christene is soos ‘n selfoon met ‘n pap battery – hulle kontak met die sender is verbreek.

Verder word Geesvervulde Christene deur sagmoedigheid gekenmerk. Dit beteken dat jy nie hard, onoortuigbaar en onleerbaar moet wees nie. Die Bybel sê: “Vandag as julle sy stem hoor, verhard nie julle harte nie” (Heb. 3:7-8). ‘n Mens kán jou hart teen die Woord van die Here verhard deur sy opdragte te ignoreer en op jou eie manier met jou lewe aan te gaan. Die goddelose wêreld daarbuite én die sonde maak ‘n mens hard en ongenaakbaar vir die Here. Jou hart word soos harde grond, of selfs soos ‘n klipbank, waarin die saad van die Woord nie kan indring om te groei nie. Paulus sê: “Vermaan mekaar elke dag... sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13).  Jakobus sê: “Ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord wat in staat is om julle siele te red” (Jak. 1:21). Sulke mense kom iewers in hulle geestelike lewe omdat die goeie saad in hulle harte wortel skiet en ‘n groot oes oplewer, selfs honderdvoudig.

Ten laaste is selfbeheersing ‘n baie belangrike persoonlike kenmerk. Dit dui op die vermoë om jouself te kan keer voordat jy vir iemand lelike dinge sê of onbesonne, impulsiewe dade doen waaroor jy later spyt sal wees. Die Bybel sê: “Die lankmoedige is beter as ‘n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat ‘n stad inneem” (Spr. 16:32). Dit is ‘n groot oorwinning wanneer jy deur die krag van die Heilige Gees ‘n emosionele uitbarsting voorkom. As iemand op die pad voor jou inswaai en dan skielik doodstil gaan staan om passasiers op te laai, haal ‘n paar keer diep asem voordat jy deur padwoede oorkom word, op die oortreder skreeu en hom beledig. Terwyl jy diep asemhaal, vra dan vir die Here wat die gepaste woorde sal wees om te sê. Dan sal jy heel waarskynlik die oortuiging kry om die man net vriendelik te groet en aan te ry. Wanneer jy dit doen, is jy beter as ‘n held wat sy vyand vermorsel, want dan het jy die kwaad deur die goeie oorwin. In sulke situasies verkondig jy die boodskap dat daar ‘n goddelike weg van oorwinning is wat ver bokant die siek en probleembelaaide wêreld van ons tyd uitstyg. Dit is ‘n goddelike voorreg en vrug van die Heilige Gees om te kan vergewe en die kwaad nie toe te reken nie.

Wanneer die Heilige Gees in elke opsig ons Leidsman is wat volle beheer oor ons lewe het, dan kan ons waarlik die lieflike geur van Jesus Christus oral versprei. Die vrugte van die Gees sal vir almal in ons lewe sigbaar wees omdat ons werke sal doen wat by die bekering pas. Dit is ‘n wenresep vir die lewe. Die Here Jesus het met verwysing na die Heilige Gees gesê dat strome van lewende water uit ons binneste sal vloei (Joh. 7:37-39). Maak seker dat hierdie stroom altyd deur jou vloei. Jeremia het gesê: “Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is. Want hy sal wees soos ‘n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in die jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie” (Jer. 17:7-8).

Gaan jy voort om die vrug van die Gees in ‘n vyandige en geestelik droë wêreld te dra? Dit kan slegs gebeur as die woord van Christus ryklik in ons woon, want die Heilige Gees spreek ons deur die Woord aan om ons te motiveer en op die regte pad te hou. ‘n Hart waarin die Woord van die Here gebêre is, is ‘n rein hart, daarom het die psalmis gesê: “Ek het u woord in my hart gebêre dat ek teen U nie sal sondig nie” (Ps. 119:11). Christus is die lewende Woord. As ons in Hom bly, sal ons veel vrug dra (Joh. 15:4-5). Mag dit die kenmerk van elkeen van ons se lewens wees, want dan kan ons met vrymoedigheid uitsien na die luisterryke bruilofsfees in die hemel waarin alle ware gelowiges sal deel (1 Joh. 2:28; Op. 19:9).