Israel se Roeping as God se Getuies
Johan Malan
Opsomming: Richard Wurmbrand wys op die hoë roeping van Israel onder
alle nasies, en die uiteindelike vervulling daarvan in die Messias, Jesus Christus.
Een van die bekendste Christen-Jode van die 20ste eeu was Richard
Wurmbrand, die stigter van Christelike Sending Internasionaal. Hy is al 'n moderne
Johannes die Doper genoem. Nadat hy 14 jaar lank in Roemeense tronke as gevolg
van sy getuienis vir Jesus Christus aangehou is, is hy as 'n ongewenste persoon
deur sy regering aan Christene in die Weste verkoop.
Uit Amerika het hy 'n ondergrondse sending na kommunistiese lande georganiseer
en oral in die Weste takke daarvan gestig. Sy sending se aktiwiteite is mettertyd
ook na die Arabiese wêreld, Asië, Afrika en Latyns-Amerika uitgebrei, asook
na die afgesonderde eilande van die Stille Oseaan. Hoewel hy die heil van die
hele mensdom op die hart gedra het, was die evangelisering van Jode by hom altyd
'n doel wat met groot ywer en toewyding nagestreef is.
Wurmbrand het in sy boek, Christ on the Jewish Road, die belangrikheid
van die volk Israel uitgespel – nie net in 'n historiese konteks nie, maar ook
wat hulle hede en toekoms betref. Omdat hulle so 'n buitengewoon begaafde volk
is, is alles wat regtig goed én regtig slegs is, Joods in oorsprong. Daar moet
dus terdeë met die rol van die Jode in die wêreldgeskiedenis rekening gehou
word.
Selfs in die breedste moontlike konteks van ons bestaan, leef ons in strukture
wat deur Jode geskep is. In die Christen-wêreld is ons die gaste van 'n Jood,
Jesus Christus. In die kapitalistiese en Marxistiese wêrelde is die grondleggers
ook Jode, en selfs uit 'n wetenskaplike oogpunt is ons in die moderne kerneeu
die gaste van 'n Jood, Einstein. Hoewel die Joodse volk hoogs gepolariseerd
is, en die behoudende element ver in die minderheid is, gaan die rol van hierdie
oorblyfsel in Israel in die nabye toekoms nog van deurslaggewende belang vir
miljoene mense wees.
Laat ons egter vir Wurmbrand self oor die rol van Israel aan die woord stel,
soos wat hy dit in die inleiding tot sy boek Christ on the Jewish Road
(bl. 7-10) verduidelik:
"'U het ons uit die nasies verkies', sê die Jode elke dag in hulle
sinagoges. 'Die saligheid is uit die Jode', sê Jesus in Johannes 4:22. 'Die vuil
Jode is die oorsaak van al ons probleme', sê die Jode-haters.
"Sommige mense vind in die Christendom hulle grootste vreugde; andere
haat die Christendom en wil dit met alle geweld vernietig. Dit is 'n Jood, Jesus,
wat die oorsaak van hulle blydskap of woede is.
"Sommige mense word deur kapitalisme bevoordeel; andere voel weer
dat hulle deur die kapitalistiese stelsel uitgebuit word en wil dit tot 'n val
bring. Niemand sal ontken dat Jode in 'n vroeë stadium 'n sleutelrol in die vestiging
van hierdie stelsel gespeel het nie, en dat hulle steeds buite alle verhouding
tot hulle getalle 'n belangrike rol in ekonomiese en finansiële sake speel. Of
u aangetrokke tot kapitalisme voel of 'n weersin daarin het, word u gesindheid
tot 'n groot mate deur Jode bepaal, al is hulle nie persoonlik aan u bekend nie…
"Kommunisme mag vir u 'n bron van vreugde of lyding wees. Dit kom
van die Jood, Karl Marx, en 'n hele aantal ander Joodse eksponente van dié ideologie.
Sonder hulle sou die revolusie in die Ooste nie geslaag het nie. Die lot van 'n
boer in Vietnam, wat nog nooit in sy lewe 'n Jood gesien het nie, sal in die laaste
instansie daarvan afhang of hy die boek oor die Jood, Jesus, of die boek oor die
Jood, Marx, gelees het. Die Christelike beskawing én die Marxistiese wêreld is
dus ten nouste aan Joodse name gekoppel.
"Sommige mense stel hulle hoop in die moderne wetenskap, waarvan
die hoogste prestasie op die terrein van die kernfisika geleë is – 'n wetenskap
met die vermoë om vir mens 'n Utopia te skep. Andere wag weer in vrees en angs
op die vernietigende atoomoorlog wat volgens hulle die finale gevolg van hierdie
wetenskap sal wees. In beide die Weste en die Ooste is die atoomwetenskap tot
'n groot mate in die hande van Jode. Einstein het dit vir Amerika moontlik gemaak
om met atoomwapens te kon begin. Die Jood, Teller, is die vader van die kernbom.
Die Rosenbergs het atoomgeheime aan Rusland gegee. In wetenskaplike boeke word
die heelal aan 'n Jood se naam gekoppel. Daar word gesê dat ons in Einstein se
heelal leef, asof ons ook in die heelal die gaste van 'n Jood is.
"Dit is waar, ons ís die gaste van 'n Jood – sy naam is net nie
Einstein nie, maar Jesus Christus. Hy is 'n man uit die Joodse volk, maar Hy is
ook 'n wonderbaarlike God. Paulus sê oor hierdie volk en hulle God: 'Hulle is
Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort… aan wie die vaders behoort
en uit wie Christus is na die vlees – Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot
in ewigheid!' (Rom. 9:4-5).
"Ek het nie 'n gewone sendingtaak gehad nie. Ek het onder dié mense
gewerk wat in die heilige boek van die Christene die uitverkore volk genoem
word, 'n volk waaruit 'n God gekom het, maar wat nogtans onkundig omtrent hierdie
God is; 'n volk wat óf geseën óf vervloek word deur miljoene mense as die oorsprong
van hulle blydskap of ellende – 'n volk wie se lotgevalle meer as enige ander
volk die lot van die wêreld bepaal het, en in die toekoms ook nog sál bepaal.
"Die Joodse volk het aan die wêreld die Bybel gegee, bestaande uit
die Ou en Nuwe Testamente – 'n boek geskryf deur Jode, maar wat terselfdertyd
ook die Woord van God is, die enigste Boek wat in staat is om die geestelike behoeftes
van die wêreld te vervul. Dit sal eers ten volle die geestelike behoeftes van
die wêreld versadig wanneer dit weer in die hande is van hulle wat dit geskryf
het, en wanneer hulle versamel het rondom Hom wat die hoofonderwerp van die Boek
is, Jesus, die Messias van die Jode en Verlosser van die nasies.
"Die oorgrote meerderheid van alle mense leef in sonde en is vervreem
van die ware geloof. Moord, uitbuiting, onderdrukking, ontug sabotasie, losbandigheid
en laster is wydverspreid. Die mensdom stuur op spoedige selfvernietiging af as
hulle hul nie bekeer en ontwaak uit die geestelike doodslaap waarin hulle vasgevang
is nie. Die Bybel sê vir ons dat die bekering van Israel lewe uit die dode sal
wees (Rom. 11:15).
"Jesus en die Jode is onafskeibaar aan mekaar verbonde. 'Waar is
die Koning van die Jode wat gebore is?', het die wyse manne gevra (Matt. 2:2).
'Dit is Jesus, die Koning van die Jode', was die inskripsie aan die kruis (Matt.
27:37).
"Die Ou Testamentiese profesieë het dieselfde boodskap. Moses het
aan die Jode gesê: ''n Profeet uit jou midde, uit jou broers… sal die Here jou God vir jou verwek; na Hom moet
julle luister' (Deut. 18:15). Jesaja, wat die geboorte van Jesus meer as 700 jaar
voor die tyd geprofeteer het, het gesê: 'Want 'n kind is vir ons gebore,
'n Seun is aan ons gegee' (Jes. 9:5). 'Ons' verwys na die Jode. Toe Jeremia
na die nuwe verbond verwys het wat Jesus deur die storting van sy bloed aan die
kruis sou sluit, het hy gesê: 'Kyk, daar kom dae, spreek die Here,
dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda 'n nuwe verbond sal sluit'
(Jer. 31:31).
"Jesus het self gesê: 'Ek is net gestuur na die verlore skape van
die huis van Israel' (Matt. 15:24). Hy het ook verklaar dat Hy die Verlosser van
die hele wêreld is, maar in hierdie gedeelte het Hy sy besondere verhouding teenoor
die Joodse volk uitgedruk.
"My sendingtaak is om Israel van hierdie verhouding bewus te maak,
'n verhouding wat nooit verbreek kan word nie, selfs al word dit ook hoe erg weerstaan."