Wanneer Johannes sê: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19: 10), dan bedoel hy daarmee dat alles wat in die toekoms met mense gaan gebeur, van hulle verhouding met die Here Jesus afhang. Hulle sal óf gered en geseën word óf weens hulle onbekeerlike harte gestraf en uiteindelik tot die ewige poel van vuur veroordeel word. ‘n Belangrike gevallestudie om hierdie stelling te bewys, is die lotgevalle van die volk Israel.
Die belangrikste rede vir Israel se aanhoudende probleme en benoudheid is nie ekstern nie, maar intern – naamlik die volk se voortgesette verwerping van Jesus as Messias.
Hoewel evangeliese Christene Israel moet seën en standpunt teen die internasionale veldtog van Jodehaat inneem, is dit ons eerste prioriteit om Israel weer aan hulle Messias voor te stel wat al geslagte lank deur die volk verwerp word. Indien ons hierdie allerbelangrike opdrag nalaat, sal Israel se probleme erger word en blywende vrede in die gebied ‘n ontwykende ideaal bly.
Die moderne modewoord van “vrede” word deur baie mense gebruik, maar die betekenis daarvan word meesal tot die humanistiese idee van vriendskap, harmonie en politieke en godsdienstige verdraagsaamheid beperk. Uit ‘n Bybelse oogpunt is vrede egter ‘n veel meer verhewe begrip – dit is ‘n Persoon, Jesus Christus: “Hy is ons vrede” (Ef. 2:14). Sy vrede is totaal verskillend van dié van die wêreld, daarom het Hy gesê: “Vrede laat Ek vir julle na, my vrede gee Ek aan julle; nie soos die wêreld gee, gee Ek aan julle nie” (Joh. 14:27).
Hoe het Israel op die vredesaanbod gereageer wat Jesus tydens sy eerste koms aan hulle gemaak het, en wat was die gevolge daarvan?
Tydens sy eerste koms het Jesus Homself as Messias aan Israel gebied. As gevolg van hulle geestelike blindheid het Israel se volksleiers egter onbeskryflike benoudheid oor hulle én hulle volgelinge gebring toe hulle die Prins van Vrede verwerp het.
Dit sou ongegrond wees om die eerste eeuse oorloë en veroweringstogte van die Romeinse Ryk (waarin daar meer as ‘n miljoen Jode dood is), asook Israel se internasionale verstrooiing daarna, net aan die gewelddadigheid en magsug van die goddelose Romeine toe te skryf. Is húlle alleen vir al Israel se ellendes verantwoordelik? Sekerlik nie! Wat is dan die belangrikste oorsaak vir al die bloedvergieting en menslike lyding?
Jesus het aan Jerusalem, wat die kern van die ongelowige Joodse volk was, gesê:
Uit hierdie skrifgedeeltes is dit duidelik dat Israel se verwerping van hulle Messias vir al hulle bitter ondervindings verantwoordelik is – veel meer as die dade van hulle barbaarse vyande. In tye toe hulle geestelik sterk was, het die Here hulle bewaar. Salomo het gesê: “As die Here behae het in die weë van ‘n man, dan laat Hy selfs sy vyande met hom vrede hou” (Spr. 16:7).
Die geestelike afvalligheid van Israel is ook die hoofrede vir hulle voortgesette lyding tydens die lang jare van hulle internasionale verstrooiing:
Waarom het Israel as volk só ‘n lang geskiedenis van lyding gehad? Omdat hulle God se wette, sy profete en uiteindelik ook sy Seun, verwerp het. Toe die Romeinse goewerneur, Pilatus, vir Jesus wou vryspreek, het die Jode op sy kruisiging aangedring en gesê: “Laat sy bloed op ons en ons kinders kom!” (Matt. 27:25).
Met die uitsondering van ‘n relatief klein groep Messiaanse Jode, het die opkomende geslagte die dade van hule voorvaders goedgekeur en dwarsdeur hul verstrooiing, tot in die huidige herstelfase van Israel, met die nasionale verwerping van Jesus voortgegaan. Wanneer Jesus weer kom, sal “elke oog Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het” (Op. 1:7) – dit is die eindtydse geslag van Jode wat Hom steeds verwerp.
Het God sy verbond met Israel verbreek toe hulle uit hul land verstrooi is? Beslis nie! Sy verbond met hulle is onvernietigbaar (Lev. 26:44-45). Deur die eeue heen was daar altyd ‘n gelowige minderheid wat die vlam van die ware Israel van God brandend gehou het. Hulle getal sal aansienlik aangroei nadat die ongelowige meerderheid na hul land teruggekeer en sommiges van hulle ook geestelik herleef het:
Die Bybel leer dat die Joodse volk wat in ongeloof na hul land herstel is, eers gered sal word nadat hulle aan groot benoudheid en beproewings onderwerp is:
Sedert Israel se herstel na hulle land in 1948, het die antagonisme van die ongelowige meerderheid teenoor Jesus en die Messiaanse Jode wat Hom dien, verdiep. Hoewel Israel hulle oorloë beslissend gewen het, het die haat en militêre vermoë van hulle vyande gaandeweg toegeneem – sodanig dat Israel nou op die kort termyn die “tyd van benoudheid vir Jakob” in die gesig staar (Jer. 30:7). Die Here sal die komende benoudheid gebruik om ‘n gelowige oorblyfsel van die volk te red.
Hosea sê die volgende oor die eerste en tweede koms van die Messias, asook Israel se uiteindelike redding deur Hom (verklarende notas is tussen hakies):
Dit is uit hierdie verse duidelik dat Israel as ‘n volk die Here eers “in hulle nood” sal soek. Sagaria noem die skokkende dodetal van die komende groot verdrukking waartydens ‘n oorblyfsel van Israel gered sal word:
Die Here Jesus sê die volgende oor hierdie verskriklike tyd wanneer die Antichris, nadat hy homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar het, sal poog om Israel én alle ander mense wat weier om hom te aanbid, uit te wis:
Die huidige geslag Jode soek, soos hul voorvaders, hulle heil in die herbouing van die tempel eerder as in die aanvaarding van die eenmalige offer van Jesus aan die kruis vir hulle sonde. Die Tempel-instituut in Jerusalem tref uitgebreide voorbereidings hiervoor. Volgens Numeri 19 is een van die benodighede ‘n rooi vers (sonder enige hare van ‘n ander kleur) wat geslag en verbrand moet word sodat die as daarvan vir die bereiding van reinigingswater gebruik kan word. Op 5 April vanjaar is die Tempel-instituut in kennis gestel dat só ‘n vers op ‘n plaas in Israel gebore is. Twee rabbi’s het bevind dat die vers aan al die vereistes voldoen.
Groot geesdrif heers tans in Israel vir die herbouing van die tempel en die hervatting van die offerdiens. Hierdie tempel sal egter in die teken van die verdere verloëning van Jesus staan, en die Antichris sal homself daarin tot God verklaar (Dan. 9:27; 2 Thess. 2:4).
Hoe moet ons in die lig van Bybelse profesieë vir die vrede van Jerusalem bid? (Ps. 122:6; Jes. 62:6-7). Ons moet ‘n Nuwe Testamentiese gebed vir die vrede van Jerusalem bid, daarom moet dit ‘n Messiaanse gebed wees. Daar is ‘n baie spesiale verband tussen Jesus en Jerusalem. Hy is die Messias-Koning van Jerusalem wat in die millennium vanaf die herstelde troon van Dawid uit hierdie eeue oue stad oor sy koninkryk sal regeer (Hand. 15:16-17; Amos 9:11-12; Jes. 16:5).
Voor daardie wonderlike tyd sal Jerusalem egter die toneel van vervolging, swaarkry en vele aanslae wees. Jesus het nie alleen gesê dat Jerusalem afgebreek, verlate en tot in die eindtyd deur die nasies vertrap sou word nie, maar ook dat Israel deur die groot verdrukking sal moet gaan voordat hulle gered sal word. Wat sal dit dus help om te bid dat Jerusalem se oorwegend ongeredde inwoners van aanvalle deur hulle vyande bewaar sal word, as dít juis die metode is wat deur God bepaal is om hulle te louter en hulle geestelike verlossing te bespoedig?
Die Here sal nie alleen toelaat dat die herstelde Jerusalem deur sy vyande aangeval word nie, maar ook die inname en gedeeltelike verwoesting van die stad sodat die inwoners ernstig om hulp en uitredding tot Hom sal roep. Hy het gesê:
Wanneer ons vir die vrede van Jerusalem bid, moet ons ernstig bid dat individuele Jode vir Jesus as Messias-Koning, Verlosser en Vredevors aanneem. Ook moet ons bid dat baie Jode in die komende groot verdrukking gered sal word wanneer Jerusalem en die land Israel die toneel van groot oorloë sal wees. Bowe-al moet ons volhardend vir die wederkoms van die Here Jesus bid, omdat Hy die enigste hoop vir Israel én die nasies is. Daar sal geen ware en blywende vrede in Israel én die wêreld wees voordat die Vredevors terugkom nie.
Baie Christene het foutiewe profetiese sienings en tree in die lig daarvan verkeerd op:
· Hulle aanvaar Israel in hulle ongeredde toestand as die uitverkore volk van God, en skryf al die seëninge van die millennium net so aan die huidige geslag toe.
· Hulle ontken die behoefte aan die vuur van God se loutering vir die volk, en beweer dat Israel én die hele wêreld nie op die groot verdrukking afstuur nie.
· Hulle verwag ‘n herlewing van (misleidende) tekens en wonders wat die volk in die koninkryk van God sal intrek, en sodoende die millennium sonder ‘n voorafgaande tyd van verdrukking sal laat begin.
· Hulle laat ná om Israel en die nasies teen die komende valse messias te waarsku wat hulle sal mislei en ‘n verbond met hulle sal sluit (Dan. 9:27; Joh. 5:43).
· Hulle skram daarvan weg om uitdruklik vir Jesus Christus as die Verlosser van Israel en die nasies te verkondig, omdat hulle bang is dat dit vir die Jode én baie ander mense aanstoot sal gee.
· Hulle huldig die mening (én bid ook daarvoor) dat Jerusalem sonder Jesus vrede kan hê. Hulle verbind hulleself nie uitdruklik daaraan om Jesus in die stad as Messias te verkondig nie.
Daar is verskeie Christelike bedienings binne én buite Israel wat hulleself aan sommige of al hierdie verdraaide sienings en die gevolge daarvan skuldig maak. Die meeste van hulle lewer slegs lippediens aan die feit dat alle Jode én nie-Jode slegs deur Jesus gered kan word, maar in hulle aksies en uitreikings word bitter min aandag aan Joodse evangelisasie en die redding van siele gegee. Selfs in gebedsversoeke word hierdie onderwerp maklik uitgelaat. Ondersteuners word net gevra om vir die veiligheid van die streek te bid, vir die beperking of beëindiging van Jasser Arafat en die PBO se terreur-optrede, vrede in die Midde-Ooste, die afname in Jodehaat, die terugkeer van meer Jode na hulle land, huise en werk vir Joodse immigrante, asook ekonomiese voorspoed vir die land en reën in droogtetye.
Ons moet egter die langtermyn geestelike behoeftes van Israel op die hart dra. Ook moet ons in die lig van duidelike Bybelse profesieë vir Israel voorberei op die probleme wat aan die kom is. Jasser Arafat, Saddam Hoesein, Osama bin Laden en al die wreedhede wat hulle pleeg, is verbygaande verskynsels. ‘n Veel boser en meer sinistere persoon sal spoedig op die toneel verskyn. Die Bybel noem hom die Antichris, die mens van sonde, die seun van die verderf en ook die ongeregtige (1 Joh. 2:18; 2 Thess. 2:3, 8).
Ons behoort óf aan die ware Messias en sal God se oordele oor ‘n sondige wêreld vryspring (Luk. 21:36), óf ons sal spoedig aan die Antichris en sy skrikbewind uitgelewer word. Dit vereis ‘n basiese keuse deur elke mens vír of téén Jesus Christus.
Die belangrikste probleem van Israel en baie van die Christelike bedienings wat onder hulle werk, is die verloëning van Jesus as Messias en enigste Verlosser van die wêreld. Hoewel baie van laasgenoemde organisasies Hom nie uitdruklik verloën nie, doen hulle dit nogtans implisiet deur te swyg wanneer hulle openlik en met groot oortuiging van Hom moet getuig (Hand. 1:8).
Bedienings wat nie duidelik aan Israel die boodskap van Jesus se Messiasskap verkondig nie, is nie regtig besig om hulle te help nie. Hoe sal die ortodokse en ongelowige Jode in hulle komende benoudheid in staat wees om die valse messias te identifiseer, te verwerp en hulle toevlug tot die ware Messias te neem indien hulle nie vooraf deeglik oor albei ingelig is nie?
Die hele wêreld is besig om die populêre tendens van die verloëning van Jesus en sy unieke weg van verlossing te volg. Hulle vervals die Persoon van Christus deur Hom tot die vlak van die nie-Christelike gelowe se messiasse te verlaag. Hulle aanvaar intergeloofs- en sekulêre grondwette, faseer staatsondersteunde Christelike onderwys uit, en bou aan ‘n nuwe wêreldorde waarin Jesus Christus doelbewus ter wille van eenheid tussen alle nasies, ideologieë en gelowe verloën word.
Omdat net die Here Jesus ons vrede is, is daar geen werklike en standhoudende vrede buite Hom nie. Alle mensgemaakte vredesplanne is tot absolute mislukking gedoem: “Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ‘n skielike verderf hulle” (1 Thess. 5:3).
Die komende, wêreldwye benoudheid van nasies sal die direkte gevolg van die instelling van ‘n christuslose nuwe wêreldorde wees. Dit is waarom Jesus Christus die nasies sal oordeel en aan die einde daarvan terugkom om orde te skep en geregtigheid te laat seëvier.
Wanneer die eerste onheilspellende tekens van die naderende groot verdrukking sigbaar word, sal die ware gelowiges die komende rampe ontvlug (Luk. 21:25-36). Diegene wat hulle hoop in die valse vredesprogramme van die humanistiese nuwe wêreldorde gestel het, “sal sekerlik nie ontvlug nie” (1 Thess. 5:3).
Wanneer die oordele van God oor hierdie Christus-verwerpende wêreld kom, sal dit uiteindelik vir mense duidelik word dat die toorn van die Lam – vir wie hulle verloën het – oor hulle uitgestort is. Hulle sal dan vir die berge en rotse sê: “Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:16-17).
In die dae wanneer mense die bittere gevolge van die verwerping en verloëning van Christus as die lig en lewe van die wêreld ervaar, sal die dood vir hulle verkiesliker wees as om te kyk in sy oë wat soos vuurvlamme is (Op. 1:14). Skielike verderf sal oor Jesus se vyande toeslaan terwyl hulle van sy aangesig af probeer wegvlug:
Alle mense op aarde – dié wat in Christus glo én almal wat Hom verloën het – gaan beslis ‘n persoonlike ontmoeting met Hom hê. God het aan Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, “sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Fil. 2:9-11).
Die ware gelowiges sal voor die regterstoel van Christus verskyn om rekenskap van hulle lewens te gee (Rom. 14:10-12), terwyl die toorn van die Lam oor die ongelowiges uitgestort sal word. Aan die einde van die verdrukking, wanneer Christus terugkom aarde toe, sal die oorblyfsel van Israel en die nasies met bittere selfverwyt oor Hom rou bedryf (Matt. 24:29-30).
Waarom sal hulle oor Hom rou bedryf? Hulle sal besef dat hulle benoudheid en verdrukking die direkte gevolg van die verloëning van die Heilige van Israel is, wat alleen in staat is om hulle siele te red. Wanneer hulle Hom in mag en heerlikheid sien kom, sal hulle met sondebelydenis voor Hom neerval en Hom om genade smeek. In ‘n Messiaanse profesie sê die Here die volgende oor Israel se nasionale bekering:
Israel moet nou voorgestel word aan die Een wat deur hulle vaders deurboor is. Diegene wat nie nou hierdie boodskap wil aanvaar nie, moet nogtans weet waar om hulle toevlug te neem wanneer die donker wolke van God se oordele in die verskriklike dag van die Here oor hulle toesak (Jes. 13:9-13; Op. 6:12-17). Dieselfde boodskap moet ook aan hulle baie vyande in die Midde-Ooste verkondig word, asook aan alle mense op aarde.
Moenie die enigste Een wat jou siel kan red, asook die siele van alle verlore sondaars, verloën nie. Slegs Hy kan vrede in ‘n oorloggeteisterde wêreld bring, die vyandelike magte verdelg wat in Israel ontplooi sal word (Op. 19:20-21), en die duiwel wat die nasies verlei, laat bind (Op. 20:1-3). Ná sy wederkoms sal Jerusalem tot die hoofstad van die wêreld verhef word:
Jesus Christus sal die Koning van die konings en die Heer van die here wees! (Op. 11:15; 19: 16). Hy moet egter ook nou vir al sy wonderlike attribute geëer word:
· Jesus Christus is nie bestem om slegs in die komende millennium die Koning van die Jode én van die hele wêreld te wees wat vanaf die troon van Dawid uit Jerusalem regeer nie. Hy moet nou as Verlosser en Koning deur alle mense aanvaar word! Hy moet nou deur alle nasies as die hoeksteen van hul grondwette erken en geëer word! Hy het uitdruklik gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Matt. 28:18). Hy is die Koning van die konings, en geen politieke struktuur of ideologie is sinvol of volledig sonder die uitdruklike, formele en toegewyde erkenning van die Drie-enige God se oppergesag nie. Die dreigende oordele oor die nasies is ‘n wesenlike en direkte gevolg van die verloëning van Jesus Christus se soewereiniteit.
· Die geregtigheid en wysheid van God, soos deur Christus in die Bybel geopenbaar, is die enigste basis vir morele norme, menseregte, regstelsels en opvoedkundige programme. Die opvallende afwesigheid van ‘n Bybelse moraliteit, respek vir lewe en eiendom, ‘n Bybels gebaseerde regstelsel met behoorlike strawwe vir misdadigers, asook Christelike onderwys, is die rede vir al die immoraliteit, dubbele standaarde, wanorde en anargie in die wêreld.
· Slegs Jesus Christus kan die beeld van God in mense, wat deur die sondeval vernietig is, herskep. Sonder die vergifnis van sonde en wedergeboorte in ‘n nuwe lewe van Christusgelykvormigheid, sal ons nooit die oordele van God oor die sondaars kan ontvlug nie – hoe hard ons ook al probeer. Kom na Hom toe wat magtig is om te verlos (Luk. 19:10; Hand. 4:12).
Die Bybel sê: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10). Bybelse profesieë kan slegs verstaan word in die lig van mense se verhouding teenoor die Here Jesus – hulle is óf vír Hom, óf téén Hom, en word dienooreenkomstig deur die Here hanteer. Diegene wat in Christus is, “kom nie in die oordeel nie” (Joh. 5: 24), terwyl die oordele van God oor almal uitgestort sal word wat Hom verwerp.
Jesus Christus nooi steeds alle mense in Israel en onder die nasies uit om sy dissipels te word en sodoende uit die dood na die lewe oor te gaan (Joh. 5:24). Hy is óf jou Redder wat sy heerlikheid aan jou sal openbaar, óf jou Regter wat jou weens jou sonde tot die ewige poel van vuur sal veroordeel.
Dit is belangrik dat Israel en die nasies sal besef dat Jesus Christus hulle enigste Vredevors en waarborg vir ‘n hoopvolle toekoms in hierdie deurmekaar wêreld is. Jesaja het gesê dat Israel se Messias sal wees “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jes. 9:6).
Die voorgaande studie oor die gevolge van Israel se ongehoorsaamheid en ontrouheid aan die Here kan net so ook op die goddelose nasies toegepas word. Nie een van hulle is enigsins 'n toonbeeld van godvresendheid en die handhawing van Christelike standaarde nie. Dit is waarom die Here se oordele oor die hele wêreld rus. Mense moet eerder hulle rebellie teen God staak en die gevolge van hulle roekelose lewenswandel nóú bereken terwyl daar nog tyd is om met God versoen te word. Weldra sal die oordele begin.
· "Die konings van die aarde staan gereed, die vorste hou saam raad teen die Here en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! ... U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!" (Ps. 2:2-3, 9-10).
· "Die Here… sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en 'n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees" (Ps. 11:5-6).
· "Ek sal al die nasies versamel en hulle na die dal van Josafat laat aftrek, om daar met hulle 'n strafgerig te hou" (Joël 3:2).
· Die konings van die aarde sal deur verleidende geeste van Satan "versamel word vir die oorlog van daardie groot dag van die almagte God…" Hulle sal hulself versamel "op die plek wat in Hebreeus genoem word Armageddon" (Op. 16: 13-14, 16).
· "Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy bewoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur 'n gloed verteer en bly daar min mense oor" (Jes. 24:5-6).
· Daar kom 'n "uur van beproewing oor die hele wêreld om die bewoners van die aarde op die proef te stel" (Op. 3:10).
· "Want daar sal groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie… en dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid" (Matt. 24:21, 29-30).
· "En die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir toorn van die Lam, want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" (Op. 6:15-17).
Op die laaste dag van die groot verdrukking sal Christus kom as die ruiter op 'n wit perd, en die leërs van die hemel sal hom volg op wit perde. Sy oë sal soos 'n vuurvlam wees en Hy sal met 'n kleed bekleed wees wat in bloed gedoop is. Hy sal die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige, trap. Uit sy mond sal daar 'n skerp swaard gaan om die nasies mee te slaan. Die leërs van die nasies sal by Armagéddon gedood word met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls sal versadig word van hulle vlees (Op. 19:11-21).