Daar word baie oor die wegraping en die openbaring van die Antichris gespekuleer. Sommige mense vergeestelik hierdie begrippe, ander ontken dit of beweer dat die Antichris een of ander historiese figuur was, terwyl sommiges dit wél aanvaar maar die twee gebeurtenisse in die verkeerde volgorde plaas.
Hierdie teenstrydige standpunte lei na groot onsekerheid en verwarring onder baie Christene. Dit is nie die eerste keer in die geskiedenis dat botsende standpunte en selfs paniek onder gelowiges ontstaan as gevolg van verkeerde leringe oor die eindtyd nie. Dit het reeds in die eerste eeu in die gemeente van Thessalonika gebeur. Paulus het in sy eerste brief aan die gemeente verduidelik dat die Here Jesus die ware gelowiges aan die einde van die kerkbedeling sal kom haal:
In Paulus se prediking in Thessalonika, asook in sy brief daarna, het hy aan die gemeente gesê dat die Here Jesus die Christene vóór die openbaring van die Antichris en die oordele van die dag van die Here tydens die groot verdrukking sal kom haal. Hy het hulle geleer om God se “Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos” (1 Thess. 1:10). “Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus” (1 Thess. 5:9).
Vir die Christene is daar dus, soos in die tyd van Noag en Lot, verlossing en uitredding uit die uur van God se oordele oor ‘n sondige wêreld. Deur die wegraping sal hulle dit ontvlug, soos wat Jesus ook in sy profetiese rede aangedui het: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Die soekers na ‘n valse, humanistiese vrede buite Christus sal egter nie die komende oordele van die verdrukking ontvlug nie. Hulle sal deur die skielike verderf van die Antichris se openbaring en God se oordele oorval word (1 Thess. 5:3).
Die gemeente in Thessalonika het hierdie uiteensetting van eindtydse gebeure geglo en reikhalsend na die beloofde uitredding uitgesien wat die Here Jesus deur die wegraping aan sy ware dissipels gebied het. Hulle het volgens Titus 2:13 ‘n “salige hoop” gehad om na uit te sien en mekaar in die lig daarvan bemoedig om getrou aan die Here te bly totdat Hy kom.
Die vervolging wat die Christene in die Romeinse Ryk verduur het, het tot groot benoudheid en baie vrae aanleiding gegee – ook in Thessalonika. Onder die aanstigting van vyande van die evangelie van Christus, asook deur mense wat sogenaamde “openbaringe” gehad het, is in die naam van Paulus ‘n vervalste brief aan die gemeente geskryf waardeur verwarrende leringe oor die wederkoms versprei is. Hierin is beweer dat die dag van die Here (die tyd van oordele en verdrukking) reeds aangebreek het en dat die Christene déúr dit sou moes gaan. Die leer oor die wegraping van gelowiges vóór die verdrukking is hierdeur weerlê en bespotlik gemaak.
Paulus skryf sy tweede brief aan die gemeente met die volgende twee oogmerke: (1) Om die valse gerugte oor die eindtyd te weerlê, en (2) om sekere vrae wat hy van gemeentelede oor die wederkoms van Christus en sekere ander sake ontvang het, te beantwoord. In hoofstuk 2 spreek hy homself spesifiek ten opsigte van “die wederkoms van onse Here Jesus Christus en ons vereniging met Hom” uit, m.a.w. die wegraping. Daarna verstrek hy die regte volgorde van eindtydse gebeure:
Paulus konstateer in hierdie gedeelte duidelik die basiese feite omtrent die vertrek van die teëhouer, die openbaring van die Antichris, en sy verdelging deur die wederkoms van Christus.
Die wanopvattings wat na aanleiding van die valse gerugte in Thessalonika posgevat het, was dat die Antichris reeds in die gedaante van die Romeinse keiser gekom het, wat homself inderdaad ook vergoddelik het. Die gepaardgaande verdrukking van die Christene is as die oordele van die dag van die Here beskou. Paniek het ontstaan oor die verwagting van groter vervolging en oordele wat sou volg, asook oor die feit dat die Here nie, soos Paulus gesê het, die Christene voor die tyd van oordele en benoudheid kom haal het nie.
Paulus herbevestig aan die gemeente dat daar éérs ‘n vertrek (apostasia) moet plaasvind, daarna sal die mens van sonde en seun van die verderf (die Antichris) geopenbaar word. Wanneer hy gekom het, sal hy homself in die tempel van God (in Jerusalem) tot God verklaar. Dit het in daardie stadium nog nié gebeur nie (2 Thess. 2:3-4).
Hierna herhaal Paulus die volgorde van eindtydse gebeure en verstrek terselfdertyd meer besonderhede oor wat in daardie tyd sal gebeur. Hy herinner die gemeente ook aan sy preke wat hy hieroor gelewer het: “Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?” (2 Thess. 2:5). Vanaf vers 6 sê hy dat éérs moet die teëhouer uit die weg geruim word (die wegraping), dán sal die ongeregtige (die Antichris) geopenbaar word. Die Antichris sal nog ‘n lewende persoon op aarde wees wanneer Christus hom deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak.
Daar was dus geen bestaansreg vir die valse gerugte in die naam van Paulus dat daar nie ‘n wegraping voor die verdrukking is nie. Daar het ook geen waarheid in die bewerings gesteek dat die Here die Christene aan die tirannie van die Antichris sou uitlewer en hulle saam met die sondaars sou straf nie.
Een woord in 2 Thessalonicense 2:3 wat vir sommige mense probleme skep, is dié een wat in ons Bybel as “afval” en in die King James Version as “falling away” vertaal is. In die lig hiervan word beweer dat ons eers die groot afval van die laaste dae en die daaropvolgende openbaring van die Antichris moet beleef, dán sal die Here ons een of ander tyd gedurende die verdrukking kom haal. Dit is egter hoegenaamd nie die geval nie.
Die betrokke Griekse woord is “apostasia.” Dit beteken vertrek, wegname of skeiding. As ‘n afgeleide betekenis kan dit ook as afvalligheid vertaal word, maar met die duidelike bedoeling dat wanneer die waarheid vertrek het, dan tree die goddeloosheid in. “Apostasia” is van die partikel “apo” afgelei wat beteken weg (van iets wat naby is). Hiermee kan ‘n plek, ‘n tyd of ‘n verhouding bedoel word. Dit kan dus skeiding, vertrek of die verbreking van ‘n verhouding beteken.
Die werkwoordsvorm van “apostasia” is “aphistemi” wat vertaal kan word as vertrek, wegneem, weggaan, onttrek, wyk, skei of wegval.
In drie van die dertien keer waar die werkwoord “aphistemi” in die Nuwe Testament voorkom, dui dit op geloofsverval, m.a.w. die verskynsel dat mense uit hulle geloof wegval. Hierdie tekste is die volgende (telkens word die King James-weergawe ter wille van groter duidelikheid ook aangehaal):
· Luk. 8:13. “…in die tyd van versoeking val hulle af.” (“…and in time of temptation fall away”).
· 1 Tim. 4:1. “…van die geloof afvallig sal word…” (“…depart from the faith”).
· Heb. 3:12. “…van die lewende God afvallig word…” (“…departing from the living God”).
In die ander 10 gevalle kom “aphistemi” se grondbetekenis van skeiding of vetrek baie duidelik uit:
· Luk. 2:37. “Sy het nie weggebly van die tempel nie…” (“…[she] departed not from the temple”).
· Luk. 4:13. “…het hy ‘n tyd lank van Hom gewyk.” (“…he departed from Him for a season”).
· Luk. 13:27. “Gaan weg van My…” (“Depart from Me…”).
· Hand. 12:10. “…die engel [het] hom verlaat.” (“…the angel departed from him”).
· Hand. 15:38. “…wat… hulle verlaat het” (“…who departed from them”).
· Hand. 19:9. “…het hy van hulle weggegaan” (“…he departed from them”).
· Hand. 22:29. “…[hulle het] hom dadelik laat staan” (“…they departed from him”).
· 2 Kor. 12:8. “…dat hy van my sou wyk” (“…that it might depart from me”).
· 1 Tim. 6:5. “Onttrek jou aan sulke mense.” (“…from such withdraw thyself”).
· 2 Tim. 2:19. “…afstand doen van die ongeregtigheid” (“…depart from iniquity”).
In die lig van die voorbeelde hierbo is dit duidelik dat die grondbetekenis van die woord “apostasia” en sy werkwoord “aphistemi” duidelik vertrek (Eng. depart) is. Dit is die rede waarom “apostasia” in 2 Thess. 2:3 in die volgende sewe Engelse Bybels voor die King James Version van 1611 as departing first vertaal is: Wycliffe Bible, 1384; Tyndale Bible, 1526; Coverdale Bible, 1535; Cranmer Bible, 1539; Breeches Bible, 1576; Beza Bible, 1583; en die Geneva Bible, 1608.
Die Vulgaat gebruik die Latynse woord “discessio” wat “die vertrek” beteken. Die Amplified Bible erken dié betekenis in ‘n voetnota oor “afvalligheid”: “A possible rendering of apostasia is departure [of the church].” 2 Thessalonicense 2:3 se volle betekenis is dus:
Die botsende sienings van ons tyd het nie so seer met onkunde oor die betekenis van “apostasia” te doen as wat dit met dogmatiese vooroordele te doen het nie. So baie mense wil (in blinde navolging van hulle kerke se teoloë) net eenvoudig nie in ‘n wegraping voor die openbaring van die Antichris glo nie, daarom vereng hulle “apostasia” se betekenis tot slegs geestelike afvalligheid en niks meer nie.
‘n Eerlike en bybelgetroue uitleg van 2 Thess. 2:3 is dat “apostasia” in die volle omvang van sy betekenis bedoel word – beide wat vertrek en die geestelike verval daarna betref. Die woord moet dus nie tot sy afgeleide betekenis van “afvalligheid” beperk word nie.
Paulus verwys hier na die fisiese vertrek van die ware gelowiges wat nie vir God se toorn bestem is nie. Die gevolg hiervan sal wees dat die Antichris geopenbaar word en veroorsaak dat sonde en ongeregtigheid op aarde sal floreer. Die grootste wegval uit Christelike standaarde en Bybelse norme van alle tye sal tydens sy bewind plaasvind.
Paulus stel dus eers die feit van die wegraping, die openbaring van die Antichris en sy goddelose hervormings in vers 3-4, en herhaal dan dié volgorde met die byvoeging van verdere besonderhede in vers 6-12:
|
Die wegraping: Eers sal die apostasia [die vertrek] plaasvind (v.3). |
Die wegraping: Hy wat nou teëhou sal uit die weg geruim word (v. 7). |
|
Koms van die Antichris: Die mens van sonde word dan geopenbaar (v. 3). |
Koms van die Antichris: Dan sal die ongeregtige geopenbaar word (v. 8). |
|
Verval deur goddelose hervormings: Die Antichris sal sonde en verderflikheid aanmoedig en homself in die tempel tot God verklaar (v. 3-4). |
Verval deur goddelose hervormings: Sy koms, in uiterste ongeregtigheid, sal wees volgens die werking en krag van Satan (v. 8-10). |
Negatiewe houdings oor die wegraping voor die verdrukking lei ook na skewe sienings oor die teëhouer van die Antichris. Daar is duidelik net een mag wat sterker as dié van Satan en die Antichris is, en dit is die mag van God. Daar is geen aardse of menslike mag wat teen Satan bestand is nie.
In die huidige bedeling, voor die persoonlike openbaring van Christus en die Antichris, is daar ‘n geestelike stryd vir heerskappy op die aarde aan die gang. Die Gees van God en die verleidende geeste van Satan werk deur mense om hulle doel te bereik. Johannes sê:
Die uitdrukking “hy wat nou teëhou” (2 Thess. 2:7) word in kleinletters geskryf en verwys na die kerk as die liggaam van Christus op aarde. Ons is die tempel waarin die Heilige Gees woon, en daarom is ons die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde. Ons hou deur die krag van die Heilige Gees die openbaring en magsoorname van die Antichris teë. Eers wanneer die ware kerk deur middel van die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris as persoon geopenbaar kan word. Hy sal dan sonder teëstand deur ‘n geestelik dooie en misleide mensdom as hulle gemeenskaplike messias en wêreldleier aanvaar word.
Dit is onbybels om te beweer dat die Heilige Gees die teëhouer is wat van die aarde af weggeneem word. Dit is wél deur die krag van die Heilige Gees dat die kerk die Antichris kan teëstaan, maar die Heilige Gees self word nie weggeneem nie.
Miljoene siele gaan in die sewe jaar lange verdrukking gered word (Op. 7:9-14), en dit is net deur die bemiddeling van die Heilige Gees moontlik (1 Kor. 12:3). Voor die sigbare koms van Jesus aan die einde van die sewe jaar sal daar selfs ‘n nuwe uitstorting van die Heilige Gees oor Israel wees om hulle op hul versoening met die Messias voor te berei:
Dit is dus heeltemal verkeerd om te beweer dat die Heilige Gees van die aarde af weggeneem sal word. Omdat die kerk weg is, sal die Gees nie meer in sy pinkstervolheid werksaam wees nie, maar Hy sal nogtans hier wees as die Gees van strafgerig (Jes. 4:4) en die Gees wat mense van sonde oortuig (Joh. 16:8).
Die afval wat ná die openbaring van die Antichris op aarde sal plaasvind, sal baie erger as die afvalligheid van die laaste dae voor die wegraping wees (vgl. 1 Tim. 4:1, 2 Tim. 3:1-5 en 4:2-4). Wanneer die Antichris gekom het, sal die hele aarde in morele en geestelike duisternis gedompel word. Uit die morele verval sal ‘n internasionale sonde-kultuur gestalte aanneem waarin die ergste denkbare immoraliteit, normloosheid, korrupsie, diefstal en wreedheid sal voorkom.
Die geestelike verval sal na die skepping van ‘n misleide alliansie van wêreldgodsdienste lei, waarvan die Antichris die gemeenskaplike messias sal wees. Op ‘n gegewe oomblik sal hy die herboude tempel in Jerusalem betree en homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4). Saam met hom sal die duiwel aanbid word (Op. 13:4) en dit sal die ergste vorm van geestelike verval wees.
Nog ‘n baie duidelike stelling wat Paulus oor die Antichris maak, is dat hy ‘n eindtydse wêrelddiktator sal wees. Sy openbare optrede sal deur die wederkoms van Jesus beëindig word: “…hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thess. 2:8).
Hierdie duidelike stelling sluit alle historiese diktators en godsdiensleiers uit. Hulle was net antichriste in die kleine maar nie die finale, eindtydse Antichris nie. Johannes sê: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste” (1 Joh. 2:18).
Neem ook die volgende uitsprake oor die Antichris in ag: In Daniël 9:27 word gesê dat hy vir een jaarweek (van sewe jaar) met baie nasies ‘n sterk verbond sal sluit. In die middel van die week, m.a.w. ná 3½ jaar, sal hy die offerdiens in die tempel in Jerusalem laat staak en ‘n verwoestende skrikbewind instel (Dan. 9:27). Hy sal die tempel ontheilig, ‘n gruwelike afgodsbeeld van homself daarin laat oprig en alle godsdienste ter wille van die aanbidding van homself afskaf (Dan. 11:31, 36). Jesus Christus het hierna verwys toe Hy van die groot verdrukking pas voor sy wederkoms gepraat het:
Op daardie dag sal die Antichris en die valse profeet lewendig verdelg word:
Die profesieë oor die verskyning van die Antichris is dus nog steeds toekomstig en nie histories nie. Daar was reeds baie wegbereiders, maar nou het die oomblik vir die verskyning van die groot eindtydse Antichris aangebreek – hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg wanneer Hy met sy wederkoms sy voet op die Olyfberg sit (Sag. 14:4-5).
Die toneel word nou vinnig vir die verskyning van die Antichris voorberei. Ons beleef reeds die afvalligheid van die einde van die kerkbedeling en die begin van die smarte op aarde. Weldra sal die uur van skeiding aanbreek wanneer die weergebore kinders van die Here weggevoer sal word na hemelse plekke. Dan sal die teëhouers teen die verskyning van die Antichris uit die weg geruim wees, en sal die uur van groot duisternis op aarde aanbreek. Onder die leiding van die mens van sonde, wat Satan se regeerder oor ‘n blinde en misleide mensdom sal wees, sal sonde, ongeregtigheid, afgodsaanbidding en Satanisme ongekende afmetings aanneem. Die Here sal hierdie goddelose geslag, soos in die tyd van Noag en Lot, met groot oordele besoek.