In die volgende gedeelte van Openbaring 20 word die duisendjarige ryk ses keer genoem:
Wanneer die Here Jesus na die aarde terugkom, kom Hy as Koning van die konings en sal ‘n regering vir die hele wêreld instel met Jerusalem as hoofstad:
Daniël sê in sy profesie oor die eindtyd dat die Seun van die mens met sy koms soos ‘n rots sal wees wat die aardse koninkryke sal verbrysel en tot stof vermaal, en self in hulle plek sal regeer (Dan. 2:44-45). Sagaria sê: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:9). Dieselfde belofte oor sy koningskap op aarde is voor Jesus se geboorte aan Maria gemaak:
Die troon van Dawid is nie in die hemel nie, maar op aarde. Jesus regeer nie nou in ‘n geestelike sin op die troon van Dawid nie, want dié troon is sedert die Babiloniese ballingskap van Israel al vervalle en in onbruik. Christus sal hierdie troon in Jerusalem eers met sy wederkoms herstel en dan daarvandaan regeer:
Die ouderlinge in die hemel [die verheerlikte kerk] weet dat hulle saam met die Here Jesus na die aarde sal terugkom en hier as konings in sy ryk sal heers. Hulle sê uitdruklik:
Dit is dus baie duidelik dat die openbaringsgebeure met ‘n sterk proklamering van Christus se koningskap gepaard gaan:
Wanneer Jesus, wat tans as Hoëpriester by die Vader se troon vir ons intree, na die aarde terugkom, sal Satan se mag en invloed op aarde verbreek en Christus se koninkryk ingestel word. Die duiwel sal dan nie meer die owerste en god van hierdie wêreld wees, in wie se mag die huidige verdorwe wêreld lê nie (Joh. 14: 30; 2 Kor. 4:4; Ef. 6: 12; 1 Joh. 5:19).
‘n Verdere bewys daarvan dat die duisendjarige koninkryk nie in die hemel is nie, is die feit dat daar nog inherente vleeslikheid en wanordelikheid onder die nasies sal wees, wat sal vereis dat hulle met ‘n streng hand regeer word. Hoewel die duiwel gebind sal wees en die mense nie tot openlike sondes sal kan verlei nie, sal hulle nog ‘n gevalle natuur hê wat gedissiplineer moet word. In Openbaring 12:5 en 19:15 word gesê dat Christus die nasies met ‘n ystersepter sal regeer. In hierdie toekomstige koninkryk sal sy getroue diensknegte saam met Hom regeer:
Gedurende die Messiasryk sal die Here Jesus se troon in Jerusalem die ontmoetingspunt tussen die hemel en aarde wees, en dus die sentrum van goddelike wysheid, gesag en ‘n regering van geregtigheid. Jesaja sê die volgende hieroor:
‘n Toestand soos hierdie, waarin daar geen oorloë gevoer, geen militêre opleiding ondergaan of enige wapens vervaardig word nie, het nog nooit op aarde bestaan nie. Dit kan dus slegs op die toekomstige vrederyk betrekking hê. Omdat die duiwel gedurende die duisend jaar van Christus se regering gebind sal wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie, sal gewelddadigheid en oorlogvoering nie voorkom nie. Ander vorms van sonde sal ook verdwyn en die hele wêreld sal slegs die Christelike godsdiens erken en aanhang:
Jerusalem sal spontaan deur almal as hoofstad van die wêreld erken word, en daar sal geen vyandigheid en politieke spanning tussen individue of nasies bestaan nie:
Die enigste vorm van wangedrag wat wél gedurende die millennium sal voorkom, sal laksheid wees deurdat sommige nasies sal nalaat om die Here te eer en te dien soos hulle moet. Dit sal nog steeds ‘n geval wees van: “die gees is gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Hulle sal as gevolg daarvan deur vermaninge en strafmaatreëls aangespreek word:
Daar sal in hierdie tyd dus ‘n oorblyfsel van die nasies op aarde wees. Hulle sal sterflike mense van vlees en bloed wees, en as gevolg van hulle gevalle natuur nog steeds gered moet word om waarlik aan die Here te behoort. Volgens Sagaria 14:16-17 sal hulle wél die groot verdrukking en die slag van Armagéddon oorleef, en hoewel hulle nie die nommer van die Antichris aanvaar het nie, behoort hulle ook nie aan Christus voordat hulle Hom daadwerklik as Verlosser aangeneem het nie.
Daar is aanduidings in die Bybel dat die relatief klein oorblyfsel van die nasies direk ná die wederkoms van Jesus almal saam met die oorblyfsel van Israel gered sal word. Sagaria sê dat met die wederkoms, die oorblyfsel van Israel rou sal bedryf wanneer hulle met die Messias versoen word (Sag. 12:10-14; 13:1, 9). Mattheus dui aan dat alle nasies in hierdie rou en verootmoediging sal deel:
Dit beteken dat die vrederyk met ‘n eerste geslag Christene sal begin. Omdat hierdie mense egter nog almal hulle Adamiese, sonde-geneigde natuur het, sal die opkomende geslagte [soos ook nou] ongered gebore word en dus weergebore moet word om kinders van God te word. Om hulle te evangeliseer, sal die taak van die geredde Israel wees, wat ook nog sterflike maar wedergebore mense sal wees. Hulle sal die evangelie na alle nasies uitdra:
Dit is uit Openbaring 20 duidelik dat daar gaandeweg ál hoe minder lede van die opkomende geslagte gered sal word. Wanneer die duiwel aan die einde van die vrederyk vir ‘n kort tydjie losgelaat word, sal miljoene mense dadelik in sy mag val (Op. 20:7-9).
Die leer oor die twee opstandings kom ook duidelik in verband met die duisendjarige vrederyk ter sprake. Slegs hulle wat deel het aan die eerste opstanding (Luk. 14:14; 1 Thess. 4:16), waarby ook ingereken moet word die ná-oes van die verdrukking, sal saam met Jesus Christus in sy ryk regeer. Die opstanding van die regverdiges móét dus voor die duisendjarige vrederyk plaasvind. Om hiervoor waardig te wees, is ‘n groot seën en iets om jou voor te beywer :
Die ander dode is die ongeredde menigte van alle eeue, en hulle sal nie herleef totdat die duisend jaar voleindig is nie (Op. 20:5). Hulle sal dan voor die groot wit troon verskyn om tot die ewige dood in die poel van vuur verdoem te word.
Die volgende is die belangrikste kenmerke van die toekomstige vrederyk op aarde:
· God sal in die Persoon van Jesus Christus op aarde regeer. ‘n Teokratiese wêreldregering sal dus gevestig word (Luk. 1:31-33; Op. 19:15; Jes. 11:5-16).
· Die troon van Christus sal in Jerusalem wees (Sag. 8:22; Jes. 2:2-3; 24:23). Sy regering sal deur geregtigheid gekenmerk word (Jes. 1:26-27; Jer. 23:5-6).
· Daar sal vrede wees. Nasies sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:4; Miga 5:4).
· Satan sal gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-4).
· Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here en die hele wêreld evangeliseer (Jes. 12:3-6, 27:6, 40:9). Deur hulle evangelisasie sal hulle die wêreld vol vrugte maak (Jes. 27:6) en die Here sal geëer word (Jes. 28:5).
· Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Hab. 2:14).
· Daar sal nie siekte wees nie: “Geen inwoner sal sê: ek is siek nie” (Jes. 33:24).
· Mense sal hoë ouderdomme bereik. ‘n Man van 100 jaar oud sal as ‘n kind beskou word (Jes. 65:20-23).
· Die natuur, wat as gevolg van die sondeval aan die nietigheid onderworpe is, sal gedeeltelik herstel word. Die hele skepping wag met reikhalsende verwagting op die openbaarmaking van die kinders van God (Rom. 8:19-22; Jes. 41:18-20).
· Tye van ekonomiese voorspoed sal aanbreek. Wanneer dit planttyd is, sal die vorige oes nog nie eers klaar ingesamel wees nie (Jes. 55:13; Amos 9:13-14; Joël 3:18).
· Daar sal ‘n ten volle ontwikkelde, ekonomies voorspoedige gemeenskap wees wat in die behoeftes van die Koning se onderdane sal voorsien (Jes. 65:21-23).
· Harmonie sal in die diereryk heers. Die leeu sal by die lam lê en gras vreet soos ‘n os, omdat die Here ‘n nuwe verbond met die diere en visse van die see sal sluit (Jes.11:6-9, 65:25; Hos. 2:17).
Uit Israel se oogpunt is dit om die volgende vier redes baie duidelik dat die vrederyk nog nie vir dié volk aangebreek het nie:
Eerstens: Volgens die profete sal die Messiasryk ongekende seëninge vir Israel bring. Die volk het geen een van hierdie seëninge die afgelope bykans 2 000 jaar beleef nie. Tydens hulle internasionale ballingskap was daar geen ander volk wat soveel aanhoudende smarte as die Jode ervaar het nie. Selfs in die 40 jaar voor die verwoesting van Jerusalem was die land Israel ‘n kookpot van onderlinge twiste, haat en opstande teen die Romeinse owerheid.
Tweedens: In die vrederyk sal die Messias benewens sy wêreldwye koningskap ook die Koning van die Jode wees. Die feit is dat die Jode nog nooit vir Jesus as hulle Koning en Messias erken het nie. Hulle het nog nie as volk die geopende oë gehad om vir Hom wat hulle deurboor het, as Messias te erken nie (Sag. 12:10). Indien Jesus reeds die koningskap op die troon van Dawid aanvaar het (Luk. 1:32; Hand. 15:16-17), dan is Hy as Koning van die Jode ‘n Koning sonder ‘n volk. Om profesieë só te verklaar, kom prakties daarop neer om die Bybel eenkant toe te skuif en jou eie teorieë te verkondig.
Derdens: In die vrederyk sal Jerusalem hoog en verhewe as die hoofstad van die wêreld wees. Die nasies sal hierheen toestroom om in die weë van die Here onderrig te word, en Israel sal deur hulle geëer word. Die afgelope byna 2 000 jaar was Jerusalem egter vertrap deur die nasies.
Vierdens: In die vrederyk sal Israel hulle doel as die volk van God verwesenlik en die hele wêreld evangeliseer. Tot dusver het hulle as volk nog nie die Messias aanvaar nie en kon dus nog nie sy lof onder die nasies verkondig nie.
Israel se posisie in die komende Messiasryk word dikwels in die Ou Testament beskryf en spesifiek met die dag van die Here in verband gebring. Dit sal ‘n tyd van seën, oorvloed, blydskap in die Here en vrede op aarde wees. Israel sal dan sy volle potensiaal as volk van God vervul en ‘n nasie wees waardeur die Here die hele aarde sal seën. Paulus het van Israel gesê:
Deur Israel se val, omdat hulle die Messias verwerp en laat kruisig het, is die versoening van God aan die nie-Joodse wêreld gebied. Wat ‘n geweldige seën is dit nie vir ons nie! Hoeveel te meer sal Israel dan nie in die vrederyk ‘n seën vir die wêreld wees wanneer hulle die verlossingswerk van die Messias onder alle nasies sal verkondig nie! Hulle sal dan hulle roeping as volk van God ten volle vervul.