Die volgende aspekte van die volk Israel is profeties baie belangrik:
‘n Groot deel van die Bybel handel oor die volk Israel. In ‘n baie besondere sin is dit die volk van God. Hy het hulle geroep en vir sy diens afgesonder, hulle onder die nasies verstrooi weens hulle ongehoorsaamheid; en dit is dieselfde, onveranderlike verbondsgod van Abraham, Isak en Jakob wat hierdie volk in die eindtyd weer in hulle land herstel.
Die roeping van Israel het by Abraham begin, wat die stamvader van hierdie volk is. Die Here het aan hom gesê:
Hierdie belofte van die land is aan Isak en Jakob herbevestig (Gen. 26:3; 28:13).
Die nasate van die aartsvaders het eers 400 jaar lank in Egipte as vreemdelinge vertoef voordat hulle die land van die belofte sou beërf (Gen. 15:13-14). Hulle het die slawe van die Egiptenaars geword en ernstig tot die Here geroep om hulle bande te breek en hulle te verlos.
Nadat die offerlam geslag en die eerste Pasga in Egipte gevier is, het die Here sy volk met ‘n magtige arm uit Egipteland gelei. Israel moes hierdeur die les leer dat hulle nie uit eie krag die beloftes van God kon beërf nie. In hierdie opsig was die offerlam ook ‘n heenwysing na die Messias wat die ware Lam van God is, wat deur sy offer die volk van hulle geestelike slawerny sou bevry om die koninkryk van God binne te gaan.
Israel moes leer dat hulle eers volk van God moes word wat volgens sy wette en weë wandel, voordat hulle in die land wat God aan hulle beloof het, kon woon. Hulle moes ‘n geroepe, heilige en diensbare volk wees waardeur die Here Homself aan die wêreld kon openbaar. Hulle roeping na die land Kanaän het dus implisiet ook ‘n geestelike roeping en verantwoordelikheid ingesluit.
Die Here het ‘n geestelike standaard aan Israel gestel vir die voorreg om volk van God genoem te word. Indien hulle in gebreke sou bly om hieraan te voldoen, sou hulle die onguns en toorn van die Here op die hals haal. Verlengde tye van nasionale ongehoorsaamheid het daartoe gelei dat die Here sy volk dikwels aan hulle vyande oorgegee het. As gevolg hiervan moes hulle tot besinning kom en besef dat hulle van die Here afgedwaal het. Ná verootmoediging het Hy hulle weer in hulle land herstel (Lev. 26; Deut. 28).
Die waarskuwings aan Israel het baie duidelik ook die moontlikheid van ‘n lang internasionale verstrooiing ingesluit indien hulle sondes en rebellie teen God sou voortduur:
Die Babiloniese ballingskap van Israel, wat net na een gebied was, was duidelik nie die internasionale verstrooiing (diaspora) na alle nasies nie. Dit het eers in die eerste eeu n.C. plaasgevind, en is deur Jesus self aangekondig nadat Hy as die beloofde Messias deur Israel verwerp is. In die profetiese rede in Mattheus 23 stel Hy dit aan die goddelose volksleiers dat hulle besig was om die maat van hulle vaders se sonde vol te maak, en dat Jerusalem as gevolg daarvan verwoes sou word. In Lukas 21 word aangekondig dat die verstrooiing van Israel baie lank sou duur, en met die tye van die nasies sou saamval:
Die inval in Israel en die verwoesting van Jerusalem in 70 n.C. deur die Romeinse magte, was die begin van die lang internasionale verstrooiing van Israel wat tot diep in die 20ste eeu sou voortduur. In hierdie tyd was daar in een of ander stadium Joodse ballinge in elke land ter wêreld.
Op geen tydstip van Israel se bestaan was daar ooit enige twyfel aan die geldigheid of voortbestaan van die onvoorwaardelike beloftes wat God aan die stamvaders van die volk gemaak het nie. Die Here self was, en is steeds, die waarborg van die Abrahamitiese, Kanaänitiese en Davidiese verbonde wat die land as ‘n ewige toesegging aan Israel verseker, asook die bestendigheid van die troon van Dawid. Israel se ballingskap uit die land as gevolg van ongehoorsaamheid kan dus nie die verbonde vernietig of opskort nie. Al is hulle ook ontrou, God bly ‘n getroue verbondsgod wat die nageslag sekerlik na die land van hulle vaders sal terugbring. Hierdie versekering is lank voor die Babiloniese ballingskap en die internasionale verstrooiing reeds gegee:
Die herstel van Israel uit die internasionale ballingskap is ‘n fisiese herstel na die land van hulle vaders, maar die einddoel daarmee is die geestelike herstel van die volk uit ‘n vervalle toestand sodat hulle God van harte sal dien:
Daar moet dus ‘n geestelike reinigingsproses plaasvind nadat Israel in hul land versamel is. Dit sal, uiterlik gesproke, ‘n baie pynlike proses wees omdat dit met groot benoudheid en verdrukking gepaard sal gaan. Die Here sê Hy sal hulle in ‘n smeltoond gooi en smelt (Eseg. 22:19-20). Jeremia verwys ook na dié tydperk: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7).
Hierdie benoudheid is die komende groot verdrukking. In die ellende wat oor Israel sal kom, sal hulle na God roep om hulp: Die Here sê ook: “In hulle nood sal hulle My soek” (Hos. 5:15).
Israel se herstel is dus progressief: eers word hulle fisies en staatkundig in hulle land herstel, maar nog in dieselfde geestelik vervalle toestand as wat hulle was toe hulle uit die land verstrooi is. Ná hulle herstel laat die Here groot benoudheid oor hulle toe, waaruit ‘n oorblyfsel van die volk gered sal word (Rom. 9:27).
Die status van die stad Jerusalem is ‘n baie belangrike teken van die einde van die tye van die nasies, én van die herstel van Israel. In Lukas 21:24 sê die Here Jesus dat Jerusalem vertrap sal word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is. Die eindtydse herstel van die stad Jerusalem weerspieël dus die herstel van Israel as volk, terwyl dit ook die einde van die kerkbedeling uitspel. Dit is egter ‘n progressiewe teken omdat Jerusalem nie oornag volkome herstel is nie. Die verskillende fases van die herstelproses kan soos volg onderskei word:
· In 1948 met Israel se onafhanklikwording as ‘n Joodse staat, het die volk net beheer oor die nuwe, westelike deel van Jerusalem verkry. Die ou stad en die Tempelberg was toe nog onder Jordaniese beheer.
· In 1967 met die Sesdaagse Oorlog het Israel beheer oor die hele Jerusalem verkry, asook oor die Wesbank, die Golan Hoogland en ander grondgebiede. Jerusalem was toe fisies herstel. Hierna het die Joodse bevolking van die stad vinnig toegeneem.
· In 1980 is Jerusalem tot die hoofstad van Israel verklaar, en is die eerste minister se kantoor van Tel Aviv af daarheen verskuif. Daarna het die res van die kabinet gevolg. Jerusalem was toe staatkundig herstel deurdat die fisiese én staatkundige vertrapping daarvan verby was.
· Hierna het nog net die geestelike vertrapping van Jerusalem voortgeduur. Drie Moslem moskees staan op die Tempelberg, en ‘n Moslemkomitee het ook steeds die beheer oor die tempelterrein. Volgens die profesieë gaan die ortodokse geloof van Israel volskaals herleef en die tempel herbou word. Dit sal ook met die volgehoue verwerping van Jesus as Messias gepaard gaan. Die herboude tempel sal egter deur die Antichris ontheilig word, en wanneer Israel hulle verbond met hom verbreek, sal hulle uit die stad verdryf word. Eers wanneer die ware Messias kom, sal Jerusalem geestelik herstel word en die hele oorblyfsel van Israel ook geestelik ontwaak.
Ten spyte van die geestelike doodsheid van die Joodse volk is daar geen regverdiging hoegenaamd om ‘n haatveldtog teen hulle te voer nie. Trouens, dit is naas die verwerping van God een van die heel gevaarlikste dinge op aarde om te doen! Om in stryd met God se wil en opdragte te handel, is om jouself met baie smarte te deurboor. Kyk net wat met Israel gebeur het omdat hulle God verwerp het. Dieselfde God waarsku egter die vyande en kritici van Israel wanneer Hy vir Abraham sê:
Nasies en individue wat Israel vervolg, bring ‘n vloek oor hulleself. Hulle grawe ‘n put waarin hulle self sal val. Groot wêreldryke is al vernietig omdat hulle Israel probeer vernietig het. Hieronder is die eens magtige Babiloniese, Assiriese en Romeinse ryke wat almal tot ‘n val gekom het.
‘n Term wat lank as sinoniem vir Jodehaat gebruik is, is anti-Semitisme. Die Arabiere is egter ook Semiete, en hulle tel onder die mees fanatieke Jodehaters in die wêreld vandag. Aangevuur deur die Moslemgeloof, het baie van dié lande al probeer om ‘n uitwissingsoorlog teen Israel te voer. Die Bybel verwys ook na hulle, en die feit dat hulle ‘n selfverklaarde “heilige” oorlog teen die God van Israel voer:
Uit hierdie antieke vyande van Juda het die moderne Arabiese volke afgestam, insluitende die Palestyne. Hulle wil Israel vernietig en die woninge van God (Israel en die Tempelberg) vir hulleself in besit neem. Omdat hulle in moderne tye, sedert 1948, nog nie daarin kon slaag om Israel te vernietig nie, probeer hulle nou om druk op Israel uit te oefen om sy land met hulle te deel. Ook die stad Jerusalem moet verdeel word.
Hierdie druk sal tot met die slag van Armagéddon, aan die einde van die groot verdrukking, volgehou word. Dan sal die Here met Israel se vyande wat die volk verstrooi en hul land verdeel het, afreken. Dit is duidelik dat in daardie stadium die hele wêreld teen Israel sal draai en die kant van sy vyande sal kies. Die komende multi-nasionale mag wat in Israel ontplooi sal word, sal deur die Here verdelg word:
Die swaard van die Here se toorn hang oor die vyande van Israel, en hulle verhaas deur hul dwase optrede hulle eie ondergang. Die nasies van die wêreld wat booswigte se kant kies en hulle ook nog help om die land van Israel te verdeel of van sy regmatige eienaars weg te neem, grawe hulle eie grafte. Sagaria 14 beskryf in duidelike taal die oordele van God wat oor die nasies sal kom wat dwaas genoeg sal wees om teen Jerusalem te veg. Jodehaat is die ideologie van die Antichris. Vermy dit geheel en al!
Om die seën van die Here te verseker moet ons Israel seën. Moenie haastig wees om Israel te verdoem omdat hulle Jesus verwerp en gekruisig het nie. Dit was wél ‘n daad van ongeloof aan hulle kant, maar dit was deel van God se raadsplan vir die redding van sondaars in die hele wêreld. Sonder die plaasvervangende dood van Jesus sou jy en ek nooit Christene kon word nie, daarom hou Israel se struikeling en wandade tóg vir ons ‘n groot seën in:
Omdat Israel vir Jesus verwerp en gekruisig het, het die saligheid tot ons, die nie-Joodse volke, gekom. Israel is in sy gevalle toestand dus ‘n bron van seën vir ons! Die Here sê dat hulle in hul geestelik herstelde toestand, in die komende vrederyk, nog ‘n groter seën vir die wêreld sal wees.
Uit enige oogpunt beskou, is ons nét erkentelikheid, seën, voorbidding en onderskraging aan Israel verskuldig. Ons moet hulle jaloers maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus Christus, dien. Ons moet bid vir die vrede van Jerusalem as ons ook in ons eie land in vrede wil leef (Ps. 122:6).
Die rede waarom alle gelowiges ernstig en toegewyd vir Jerusalem moet intree, is omdat dit die Stad van die groot Koning is. Dit is die stad waar die Here Jesus Homself as Koning geopenbaar het, aan die kruis gesterf het om versoening vir ons sondes te doen, op die derde dag uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het. Tien dae ná sy hemelvaart is die Heilige Gees oor 120 getroue, biddende dissipels in Jerusalem uitgestort. Dit was die geboortedag van die Christelike kerk. Van Jerusalem af is die boodskap van verlossing na die eindes van die aarde uitgedra.
Dit is ook na Jerusalem, op die Olyfberg, dat die Messias aan die einde van die groot verdrukking sal terugkeer om die oorblyfsel van Israel te red, die nasies te oordeel en sy koninkryk op aarde te vestig. In antwoord op die gebede van die heiliges, en in ooreenstemming met sy heilige wil, sal Hy Jerusalem tot die wêreldhoofstad omskep – die stad van die groot Koning! Dan sal die Here Jesus, die seun van Dawid, die wêreld in die vrederyk van die herstelde troon van Dawid af regeer (Luk. 1:32). Bid u hiervoor en beywer u uself vir die aanbreek van hierdie heerlike dag?
Die heilsgeskiedenis van Israel van die einde van die Babiloniese ballingskap af tot met die aanbreek van die Messiasryk, word in Daniël 9:24-27 binne die raamwerk van 70 jaarweke geplaas. Dit is 490 profetiese jare van 360 dae elk. Dit word in vers 24 duidelik gestel dat aan die einde van dié tyd, die maat van Israel se sondes vol sal wees. Dan sal die goddeloosheid van die volk beëindig word en ewige geregtigheid vir hulle aanbreek. Ná die 70 jaarweke sal die volk dus volkome, en in sy geheel, met God versoen wees.
Vandat die woord uitgegaan het om Jerusalem te herbou, tot met die uitroeiing van ‘n Gesalfde (die kruisiging van Christus) sou 69 jaarweke verloop (vers 25-26). Daar het inderdaad 69 jaarweke (483 profetiese jare) verloop vandat koning Artasásta in 445 v.C. aan Nehemia toestemming gegee het om Jerusalem te herbou (Neh. 2), tot met die kruisiging van Christus in 32 n.C. Al wat hierna in die heilsgeskiedenis van Israel as volk oorbly totdat die Messiasryk aanbreek, is sewe jaar – die veelbesproke sewentigste jaarweek van Daniël.
Met die geboorte van Jesus hét die Messias gekom, en kon die Messiasryk in beginsel vir Israel aangebreek het indien hulle Hom as hulle Koning aanvaar het. Dit het egter nie gebeur nie, en die Gesalfde is ‘uitgeroei’ sonder iets vir Hom (Dan. 9:26). Hy het na sy eie mense gekom en hulle het Hom nie aangeneem nie. Deur hierdie daad van verwerping het God se horlosie vir Israel gaan staan wat hulle heilsgeskiedenis as volk betref. Die gevolg was dat daar ‘n baie lang tydsgaping tussen die 69ste en 70ste jaarweke ingetree het, waarin die koninkryk van God op aarde hoofsaaklik onder die nie-Joodse volke gevestig is.
Ná sy opstanding het Jesus aan sy dissipels opdrag gegee om die evangelie aan die ganse mensdom op aarde te verkondig (Mark. 16:15). Dit is die tye van die nasies [nie die tyd van Israel nie], waarin die nie-Joodse nasies ‘n kans sou kry om gered te word. Individuele Jode sou ook in hierdie tyd gered word, maar Israel as volk sou in ‘n verworpe toestand bly voortbestaan. Dit sal so bly tot aan die einde van die kerkbedeling wanneer Jerusalem en Israel herstel sal word en die 70ste jaarweek ‘n aanvang sal neem: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24).
Ons leef nou in die tyd van die progressiewe herstel van Israel en Jerusalem. Die 70ste jaarweek van die volk se heilsgeskiedenis kan dus enige tyd begin. Volgens Daniël 9:26-27 sal dit ‘n aanvang neem wanneer die vors van ‘n volk wat sal kom (die Antichris, of valse Messias) ‘n verbond met Israel én baie ander lande sluit. Sy toetrede tot die wêreldtoneel sal waarskynlik met ‘n ernstige oorlogsituasie verband hou (die Russies-Arabiese inval in Israel – Eseg. 38 en 39), en hy sal die krediet vir die oorwinning opeis. Hy sal dus op ‘n kritieke oomblik as ‘n vredevors tot Israel se redding kom, en ook internasionaal geloof word omdat hy ‘n dreigende derde wêreldoorlog afgeweer en ‘n totale ekonomiese ineenstorting voorkom het.
Hierdie hoogs dramatiese gebeure sal ‘n verreikende invloed op die Joodse volk, hulle regering en godsdiensleiers hê. Om die opgewondenheid tot nog hoër hoogtes te voer, sal dié verlosser aanspraak op die troon van Dawid maak en waarskynlik ‘n vervalste geslagsregister hê om sy aanspraak as Messias te bewys. Israel sal ‘n verbond met hom sluit waarin hulle hom as die beloofde Messias aanvaar (Joh. 5:43). Hy sal ook aan hulle die reg gee om die tempel te herbou en die offerdiens weer in te stel.
Terwyl die meerderheid Jode die valse Messias feestelik inhuldig, sal daar ‘n geestelike herlewing plaasvind waarin 144 000 Jode hulle van hul regering se verbond met Satan se ‘Engel van die Lig’ sal distansieer en vir Jesus Christus (Jeshua Ha Mashiach) as die ware Messias sal aanvaar. Hulle sal openlik standpunt teen die valse messias inneem, en dit sal tot negatiewe propaganda en ook hewige vervolging teen hulle aanleiding gee.
Die valse vrede wat die Antichris as valse messias sal bewerk, sal net 3½ jaar lank hou. In die middel van die jaarweek van 7 jaar sal hy in die herboude tempel se Allerheiligdom ingaan en homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4). ‘n Beeld van hom sal in die tempel geplaas word, en almal sal gedwing word om hom te aanbid (Op. 13:14-15). Dan sal hy Israel se nasionale godsdiens en offerdiens verbied:
Israel sal as ‘n volk hulle verbond met die Antichris verbreek en hom as Messias verwerp. Hy sal in woede op hulle toeslaan en ‘n Joodse volksmoord gelas. Dan sal die Jode vir hulle lewe moet vlug en geen oomblik verloor in hulle poging om van die Antichris se magte weg te kom nie:
Daniël verwys na dieselfde tyd van verskrikking wat in al sy felheid oor Israel sal losbars. Paniek sal heers en baie mense sal nie weet wat om te doen nie. Sommige van die Jode sal die valse messias erken in die hoop om vrede, sekuriteit en ekonomiese voordele te verkry. Die ander sal hom egter verwerp en heftig vervolg word:
Nadat die verbond tussen Israel en die valse Messias verbreek is, sal daar nog 42 maande (1 260 dae) verloop voordat die ware Messias sy verskyning op die Olyfberg sal maak. Wanneer die bestemde tyd nader kom, sal die Jode van hulle plek van ontvlugting af na Jerusalem terugkeer. Hulle sal vasbeslote wees om op die Groot Versoendag (die Jom Kippur) by die Olyfberg te wees. Dit sal met lewensgevaar gepaard gaan omdat die valse Messias steeds met sy Joodse volksmoord sal voortgaan. In daardie stadium sal ‘n groot multi-nasionale mag in Jerusalem en omstreke ontplooi wees. Hulle sal onder die bevel van die valse messias wees, met hulle militêre hoofkwartier tussen Jerusalem en die Middellandse See (Dan. 11:45).
Wanneer die valse messias op die punt sal staan om die oorblyfsel van Israel uit te wis, sal die dramatiese gebeurtenis van die Messias se koms plaasvind:
Die oomblik wanneer die Messias sy verskyning op die planeet aarde maak, sal die Olyfberg in twee gesplit word en ‘n groot dal vorm waarin die vlugtelinge skuiling teen die vyand sal soek. Die duisternis van God se oordele sal oordag toesak soos wat dit byna 2000 jaar gelede gebeur het toe sy oordeel vir die sonde van die wêreld deur Jesus aan die kruis buite Jerusalem gedra is (Matt. 27: 45).
Op die hoogtepunt van sy oordele oor sondaars sal die genade van die Here nog steeds aangebied word aan dié wat hulle toevlug by Hom neem. Die oorlewende Jode wat deur die magte van die valse Messias omsingel is, sal sien hoedat die Olyfberg in twee verdeel wanneer die Messias kom. Hulle sal in die geopende rotsskeure in die berg vlug terwyl die duisternis toesak. Daar, letterlik aan die voete van die Here Jesus, sal hulle veilig wees.
In hierdie beslissende oomblikke sal daar groot verwarring onder die vyande van Israel heers terwyl hulle deur goddelike oordele getref en verdelg word. Hulle sal mekaar ook begin doodmaak. Die valse Messias en die valse profeet, as die twee leiers van die wêreldwye rebellie teen God en sy volk, sal gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20).
Wanneer dit weer begin lig word, sal die oorblyfsel van Israel vol verwondering en aanbidding voor die Messias neerval. As hulle na Hom opkyk, sal hulle verbasing baie groot wees om wonde in sy hande te sien. Hulle eerste vraag aan Hom sal wees: “Watter wonde is daar tussen u hande?” Dan sal Hy aan hulle sê: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6).
Hoe verklaar Israel die feit dat die Messias, volgens die profeet Sagaria, wonde in sy hande sal hê wanneer Hy op die Olyfberg neerdaal? Waar het Hy die wonde opgedoen? Dit kan tog nie in die hemel wees nie! Hulle sal opsien na Hom vir wie hulleself, as Joodse volk, deurboor het toe Hy met sy eerste koms Homself as die Lam van God bereid verklaar het om aan ‘n kruis vasgespyker te word en vir die sondes van die wêreld te sterf:
Die ontmoeting tussen Israel en hulle Messias sal uiters gevoelvol en hartlik wees. Die volk wat kort tevore nog deur totale uitwissing in die gesig gestaar is, sal aan die voete van hul Verlosser neerval in aanbidding. Hulle vreugde sal deur trane van berou afgewissel word terwyl elke lid van die oorblyfsel van Israel met Jeshua Ha Mashiach verenig word. Op een dag sal al die skuld van die land uitgewis en ‘n volk weergebore word (Sag. 3:9).