10. Bedieninge van die Heilige Gees

Die Heilige Gees speel ‘n baie belangrike rol in die vestiging, instandhouding en uitbreiding van God se koninkryk op aarde. Die Gees doen hierdie werk in sy eenheidsverband met die Vader en die Seun, en dit neem die vorm van ‘n verskeidenheid bedieninge aan. Dit is nodig dat die werk van die Heilige Gees ten volle erken sal word, dat Hy nie gesmaad, bedroef, weerstaan of uitgeblus sal word nie, maar geëer en gehoorsaam word.

Deur die Heilige Gees handhaaf God sy alomteenwoordigheid, red mense se siele, vestig sy kerk op aarde, openbaar Homself aan sy kinders, lei en versterk hulle, en oortuig die wêreld van sonde, geregtigheid en oordeel. Die werk van die Heilige Gees kan in ‘n hele aantal bedieninge onderskei word, waarvan die twaalf belangrikstes kortliks in oënskou geneem word.

Die begrip van heiligmaking kom daarby in dat dit die Gees is wat die bedienaar van die veelvuldige genade van die Vader en die Seun is. Hy red, heilig en lei ons in die hele waarheid op grond van die soenverdienste van die Here Jesus. Deur aan Hom gehoorsaam te wees, word ons gereinig en afgesonder vir die diens van die Here. Deur Hom in ons lewe te weerstaan, te bedroef of uit te blus, kom in ‘n mindere of meerdere mate op die verwerping van een of meer van sy bedieninge neer. Ons moet van sy werk kennis neem en dit aanvaar en bevorder.

Die twaalf bedieninge van die Heilige Gees is die volgende:

Die Gees wat die Seun en die Vader verteenwoordig en verheerlik

Die Here Jesus het gesê:

“Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor sal Hy spreek… Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig” (Joh. 16:13-15).

Die Heilige Gees verteenwoordig en verheerlik die Seun en die Vader. Hy spreek nie uit Homself nie, maar verkondig die woorde van die Here Jesus en die Vader. Dit is waarom ons so ‘n sterk bewussyn van die Seun en die Vader se teenwoordigheid kry wanneer die Gees tot ons spreek. Dit mag selfs wees dat ons glad nie van die Heilige Gees se inwerking bewus is nie. Die ander uiterste is dat mense nét die Heilige Gees aanspreek en eer, en Jesus op die agtergrond skuif. Dit is heeltemal onvanpas, omdat die Heilige Gees juis die Here Jesus in ons midde verheerlik, ons aan sy woorde herinner en sy genadewerk verkondig en bedien.

Die Heilige Gees kom nie in sy eie Naam na ons toe nie, maar in Jesus se Naam; daarom het die Here Jesus gepraat van “…die Heilige Gees wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Joh. 14:26). Die geestelike dors wat almal van ons het, les die Here Jesus ook deur middel van die Heilige Gees:

“As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).

Geloof word dus in Christus gestel, maar die Heilige Gees is die bedienaar van sy genade.

Die Gees van liefde

Die Heilige Gees het ‘n bepaalde bediening om die liefde van God wat daar in Christus Jesus is, te verkondig en aan ons te skenk. Paulus sê: “…en die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is” (Rom. 5:5). Hierdie agape liefde is uitwaarts gerig en daarop ingestel om in die diepste behoeftes van ‘n wêreld in sy nood te voorsien. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16).

Nadat ons gered is, moet ons in hierdie liefde gewortel en gegrond word en ook volmaak word in die liefde. Dit gebeur namate ons met die Gees van die liefde vervul word.

Die Gees van die waarheid

God is waarheid, sy woord is die waarheid, die Here Jesus is die weg, die waarheid en die lewe, en die Heilige Gees is ook die Gees van die waarheid wat ons in die hele waarheid lei (Joh. 14:6; 16:13; 17:17). Jesus het gesê: “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8:32). Die waarheid van die evangelie van verlossing het ‘n vrymakende krag, en hierdie waarheid word deur die Heilige Gees aan ons oorgedra en in ons harte bevestig. Dit verskaf aan ons ‘n vaste riglyn vir ons lewe.

Die verkondiging van die waarheid vind egter nie in ‘n onbelemmerde situasie plaas nie. Ons leef in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19), en van hom af gaan daar ‘n gees van dwaling uit om mense te mislei en hulle oë vir die waarheid te verblind. Ons word uitdruklik hierteen gewaarsku:

“Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is… Hieruit ken ons die Gees van die waarheid en die gees van die dwaling” (1 Joh. 4:1-6).

Die Heilige Gees wat in Christene se harte woon, is groter en ook sterker as die Antichris se gees van dwaling. Jy hoef dus nie die slagoffer van misleiding te wees nie, en nooit die knie voor ‘n afgod te buig nie. Die Heilige Gees gee aan jou deur die Bybel die kennis, maar verder ook die moed en krag, om vir die waarheid uit te staan.

Die Gees wat oortuig van sonde en geregtigheid en oordeel

Die Here Jesus het oor die Heilige Gees se oortuigingswerk gesê: “…en as Hy kom, sal Hy die wêreld oortuig van sonde en van geregtigheid en van oordeel” (Joh. 16:8).

Alle ongeredde mense moet innerlik van hulle sonde oortuig word, asook die feit dat hulle as gevolg daarvan in ‘n toestand van rebellie teen God verkeer. Die Heilige Gees gebruik die geskrewe én gesproke woord om dit te doen. Hy vestig diep oortuigings van sonde en verlorenheid in sondaars se harte. Wanneer Hy dít gedoen het, gaan Hy voort om die oplossing van die sonde-probleem by die ongereddes tuis te bring. Dit bestaan daarin dat sonde vergewe en Jesus Christus se geregtigheid aan sondaars geskenk word. Hiervoor is daar ‘n duidelike voorwaarde: hulle móét eers hulle sonde bely en laat staan (1 Joh. 1:9; Spr. 28:13) om genade te kan vind.

‘n Derde aspek van sy oortuigingswerk het op die komende oordele betrekking. Sondaars moet duidelik besef dat as hulle nie van die Here Jesus se genade-aanbod gebruik maak nie, hulle saam met die duiwel en sy gevalle engele tot die ewige vuur van die hel verdoem sal word. In werklikheid is hulle reeds onder daardie oordeel – dit moet nog net voltrek word (Joh. 3:18). Dit is in alle sondaars se eie belang om nie die oortuigingswerk van die Heilige Gees te weerstaan nie, omdat dit op hulle behoud ingestel is. Elkeen wat in die Here Jesus glo en gered word, kry die versekering dat hy nie in die oordeel kom nie:

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24).

Die Gees wat wederbaar en doop

Die belangrike saak van die redding van siele word deur die Heilige Gees op grond van die versoeningswerk van die Here Jesus gedoen. “Niemand kan sê [bely] dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor. 12:3). Dit is die Heilige Gees wat die Here Jesus as Verlosser aan ons bekend stel, en ook die nuwe lewe deur ‘n geestelike wedergeboorte aan ons skenk. Hy is die lewendmakende Gees van God wat ná die wedergeboorte ook in ons kom woon:

“En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon” (Rom. 8:11).

“[Hy is] die Gees van aanneming tot kinders… Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Rom. 8:15-16).

Die wedergebore kind van God word ‘n tempel van die Heilige Gees genoem omdat die Gees in hom woning maak. Baie Christene besef nie dat hulle deur die Here Jesus gekoop is, aan Hom behoort, deur sy Gees tot ‘n tempel van God omskep is, en dat hulle voortaan heilig moet lewe en God verheerlik nie. Aan die vleeslike Korinthiërs wat vol van hulleself was, vra Paulus:

“Weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julleself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Kor. 6:19-20).

Wedergebore Christene vorm ook saam die liggaam, of kerk van Christus. Daar is net een liggaam, en dus ook net een ware Christelike kerk op aarde – dit is die geredde mense wat hulleself in verskillende denominasies bevind, of dalk in geen denominasie nie. Daar word ook gesamentlik na die ware Christendom (dit sluit ongeredde naamchristene uit) as die tempel van die Heilige Gees verwys:

“Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees” (1 Kor. 6:16).

Wanneer ‘n persoon wederbaar word, word hy deur die Gees in die liggaam van Christus gedoop: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam, of ons Jode of Grieke is, slawe of vrymanne; en ons is almal van een Gees deurdronge” (1 Kor. 12:13). Die Heilige Gees se bediening van doop staan met wedergeboorte in verband – dit is die oomblik wanneer die bekeerling ‘n lid van die liggaam van Christus word. Dit verwys nie na die salwing of verdere vervullings met die Heilige Gees nie.

Hierdie doop is ‘n suiwer geestelike ondervinding wat nie met die waterdoop verwar moet word nie. Johannes die Doper het gesê dat Jesus ons nie met water sal doop nie, maar met die Heilige Gees (Matt. 3:11). Die waterdoop, wat ook deur die Here Jesus beveel is (Mark 16:16), is net ‘n simbool en getuienis van die innerlike, geestelike doop wat tydens wedergeboorte ontvang is. Die vraag aan Israel was nie of hulle aan hulle vlees besny was nie, maar of hulle harte besny was. Die vraag aan ons is ook nie in die eerste plek of ons met water gedoop is nie, maar of ons nuwe mense is wat deur die Heilige Gees gedoop is (Gal. 6:15; Deut. 30:6; Rom. 6:3).

Die Gees wat vervul en heilig

Dit is ‘n duidelike Nuwe Testamentiese leerstelling dat mense wat reeds wederbaar is en die Heilige Gees ontvang het, ook met die Gees van God vervul moet word. Dit behels ‘n volle oorgawe waarin alle struikelblokke van sonde en vleeslikheid deur belydenis, selfverloëning en selfkruisiging verwyder word sodat die Heilige Gees jou kan vervul en volle beheer oor jou lewe verkry. Nie almal doen dit egter nie. Reeds in die vroeë Christelike kerk was dit duidelik dat net sommige mense Geesvervuld was, en dat net uit hulle geledere ampsdraers vir die gemeentes gekies kon word: “Kyk dan uit, broeders, na sewe manne uit julle, van goeie getuienis, vol van die Heilige Gees” (Hand. 6:3).

Die gemeente in Éfese word deur Paulus toegebid dat hulle met krag versterk sal word deur die Gees van God in die innerlike mens (Ef. 3:16). Die Thessalonicense word onder die leiding van die Heilige Gees tot ‘n lewe van morele reinheid en volkome heiligmaking geroep (1 Thess. 4:7-8; 5:23-24). Johannes sê dat die Gees van die waarheid in en deur die kinders van God werk om die antichristelike gees van dwaling teë te staan (1 Joh. 4:1-6).

Die Heilige Gees wil ons met ‘n oorwinnende, goddelike natuur beklee sodat ons onder alle omstandighede waardig kan wandel.

Die Gees wat toerus met krag en gawes

Die belofte van Jesus aan sy dissipels was: “…julle sal krag ontvang as die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judéa en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde” (Hand. 1:8). Dit was ‘n verdere aandoening met krag uit die hoogte vir reeds geredde mense. Nou het die dissipels die Heilige Gees in sy pinkstervolheid ontvang. Voor hierdie geleentheid het Jesus al oor sy dissipels geblaas en gesê: “Ontvang die Heilige Gees” (Joh. 20:22). Nogtans moes hulle daarna vervul word met die Heilige Gees sodat hulle krag en vrymoedigheid kon hê om die evangelie te verkondig. Omdat Paulus oor hierdie krag beskik het, kon hy sê dat sy prediking nie in oorredende woorde van menslike wysheid was nie, maar in die betoning van gees en krag (1 Kor. 2:4).

Benewens sy krag, verleen die Heilige Gees ook ‘n verskeidenheid gawes aan kinders van die Here om hulle vir bepaalde aspekte van Christelike dienswerk toe te rus. “…aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is” (1 Kor. 12:7).

Die Gees van gebed en smeking

Niemand kan waarlik bid voordat die Heilige Gees hom nie van sy sonde en nood oortuig en ook die begeerte by hom opgewek het om in gebed daarmee na die genadetroon te gaan nie. Ons kan net in en deur die Heilige Gees bid, en op grond van die versoening en middelaarsposisie van Jesus na die genadetroon van die Vader nader. Wanneer ons nie mooi weet wat om te sê as ons bid nie, dan help die Heilige Gees ons om ons diepste nood en behoefte aan die Here bekend te maak: “…so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge” (Rom. 8:26).

Gebed moet ‘n volgehoue kenmerk van ons lewe wees. Paulus sê dat ons “met alle gebed en smeking by elke geleentheid moet bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Ef. 6:18). Ons moet hierin volhard.

Daar sal onder die leiding van die Heilige Gees hartroerende gebede en geween wees wanneer die oorblyfsel van Israel met die Messias versoen word as Hy weer kom: “Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het… In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem” (Sag. 12:10-11).

Ons moet gehoorsaam wees wanneer die Heilige Gees ons tot meer gebed wil beweeg. Sonder veel gebed sal ons die Gees bedroef en kragteloos in ons geestelike lewe word. Paulus verwys ook na die krag van die Heilige Gees wanneer hy sê: “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11). Dié stryd word op ons knieë gewen.

Dit is ‘n baie belangrike bediening van die Heilige Gees om mense tot volhardende, gelowige gebed aan te spoor. Ons moet uitvoering hieraan gee en ook daagliks genoeg tyd daarvoor inruim.

Die Gees wat lei, inspireer en salf

Die Heilige Gees is aan ons gegee om ons in die hele waarheid te lei (Joh. 16:13). Hy gee aan ons verligte oë van die verstand sodat ons die verborgenhede van God se raadsplan vir die mens kan verstaan (Ef. 1:18). Hy stel ons ook in staat om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte, lengte en diepte van Christus se liefde is wat die kennis oortref, sodat ons vervul kan word tot al die volheid van God (Ef. 3:18-19).

Daar is verskillende vorms van goddelike inspirasie wat gegee word aan mense wat besondere take moet verrig. Dit kan ook as salwings beskryf word. In Bybelse tye is sekere mense geroep en gesalf om die woord van God op só ‘n volmaakte wyse te skryf dat dit foutloos was: “…want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:21; vgl. 2 Tim. 3:16-17).

Die Heilige Gees wil ons Leidsman in alle sake wees, tot in die kleinste besonderheid, maar dan moet ons daarom bid en sensitief vir sy leiding wees. Hy kan maklik bedroef word as ons Hom nie gehoorsaam nie. Effektief bid ons om die Vader se wil in die naam van Jesus Christus, maar Hy lei ons deur sy Heilige Gees wat in ons woon. Die Here het behae daarin as ons Hom raadpleeg en ken in al ons weë, want dan aanvaar ons sy gesag en sal sy wil in ons lewens geskied.

Die Gees wat ons deur sy teenwoordigheid vertroos

Jesus Christus het die Heilige Gees se rol van vertroosting in die lewe van gelowiges só verduidelik:

“Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien en Hom nie ken nie; maar julle ken Hom, omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. Ek sal julle nie as wese agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe” (Joh. 14:16-18).

Christus het gesê dat die Vader die Trooster, die Heilige Gees, in sy Naam sou stuur. Dit sou ‘n baie groot verandering in die dissipels se lewens tot gevolg hê. Die droefheid en ontsteltenis omdat Jesus hulle sou verlaat en na sy Vader in die hemel teruggaan, sou deur die koms van die Trooster heeltemal uit die weg geruim word. Dit sou selfs vir hulle baie beter wees, want Jesus sou voortaan deur sy Heilige Gees in elkeen van hulle se harte woon. As gevolg hiervan kon hulle op ‘n geestelike vlak sy teenwoordigheid onafgebroke ervaar. Dit was vir hulle oneindig meer voordelig, want ‘n liggaamlike Jesus kan nie ten alle tye by al sy dissipels teenwoordig wees nie.

Omdat die Heilige Gees een met die Vader en die Seun is, verteenwoordig Hy hulle ten alle tye. Dit is dus die Drie-enige God wat deur die Gees sy intrek by alle Christene neem. Ons ontvang nie net die ander Trooster nie, maar ook die Vader en die Seun. Hoe groot is die verpligting op ons nie om waardig te wandel, die Here lief te hê en sy Woord te bewaar nie! Jesus het gesê:

“As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Joh. 14:23).

Die Gees van wysheid en kennis

“Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid” (Ps. 111:10). Alle skatte van wysheid en kennis is in Hom verborge (Kol. 2:3). Dit is ‘n bediening van die Heilige Gees om hierdie goddelike kennis en wysheid aan ons te openbaar. Paulus het ernstig vir die Efésiërs gebid “dat die God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid, aan [hulle] die Gees van wysheid en openbaring in kennis van Hom mag gee” (Ef. 1:17).

Put u gereeld uit die bron van geestelike wysheid en is dit die grondslag van u hele lewe, ook in die sekulêre wêreld waarin u uself bevind? Paulus sê: “Die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God” (1 Kor. 2:10). Alle sake moet in die lig van goddelike wysheid beoordeel word. Dit gee aan die Geesvervulde Christene ‘n baie groot voorsprong bo die wêreld:

“Ons het… nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het. Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer… Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Kor. 2:12-14).

Kom jy wysheid kort? Bid die Vader om sy wysheid deur die Heilige Gees aan jou te skenk, en Hy sal dit doen (Jak. 1:5).

Die Gees van profesie

Volgens Johannes 16:13 is dit ook ‘n bediening van die Heilige Gees om die toekomstige dinge aan ons te verkondig. Nadat die geweldigste oordele in die boek Openbaring beskryf is wat in die groot verdrukking oor die aarde gaan kom, word in hoofstuk 19 gesê: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:10).

Die oordele van God is bedoel vir dié mense wat nie sy genade-aanbod deur die Here Jesus wou aanvaar nie. Dit is die rede waarom die Heilige Gees ook oordele en strafgerigte aankondig. ‘n Wêreld wat die liefde en reddende genade van God smaad, asook sy Heilige Gees wat hulle daarvan wil oortuig, moet noodwendig die boodskap van God se toorn oor die sondaars hoor. Hy sal nie die sonde ongestraf laat bly nie. As mense weier om hulle sondes voor die genadetroon te bely en te laat staan, sal hulle self die straf daarvoor moet betaal. Hulle sal dan uitvind dat dit vreeslik is om te val in die hande van die lewende God (Heb. 10:31). Ondenkbare oordele wag op hulle.

Wat die Christene betref, gee die Heilige Gees aan ons ‘n duidelike toekomsverwagting vir die wederkoms van Jesus Christus. Dit is die Heilige Gees wat die bruidsgemeente roep, toerus en heilig. ‘n Kenmerk van ‘n Geesvervulde Christen is dat hy na die koms van die Here Jesus en na sy woning in die hemel uitsien. Hy beywer homself om op dié dag vlekkeloos en onberispelik in heiligheid bevind te word.

Die Heilige Gees, onder wie se direkte inspirasie alle Bybelse profesieë geskryf is, het ‘n bediening om daardie profesieë aan ons te verkondig. Petrus sê: “Ons het die profetiese woord, wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn” (2 Pet. 1:19). Dit sal jou help om jou donker tydsomstandighede beter te verstaan, en ook onwrikbaar te glo dat daar vir alle Christene ‘n salige hoop voorlê wanneer hulle met die hemelse Bruidegom verenig sal word (Titus 2:13).

Wanneer God se basuin blaas, sal die gestorwe heiliges uit die dood opgewek word en onverganklike opstandingsliggame kry. Dié wat nog in die lewe is, sal in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, met verheerlikte liggame beklee word en saam sal almal van hulle weggevoer word, die Here Jesus tegemoet in die lug (1 Kor. 15:51-52; 1 Thess. 4:16-17). Ons moet egter nou reeds onder die leiding van die Heilige Gees aan die bruilofskleed werk wat ons daardie dag aan sal hê, want die weefstof daarvan vloei voort uit “die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8). ‘n Heilige lewe is onontbeerlik, want sonder heiligmaking sal niemand die Here sien nie (Heb. 12:14).

Omdat die twee sake van heiligmaking en ‘n wederkomsverwagting met mekaar in verband staan, sê Paulus: “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:19-20). Moenie een van die Heilige Gees se bedienings in jou lewe geringskat en verwaarloos nie, want dan sal jy geestelik arm wees en onvolledig toegerus vir dit wat vorentoe op jou wag. Jy sal ook nie geestelik bekwaam wees vir dit wat die Here deur jou wil doen nie. Stel jouself onvoorwaardelik tot die Here se beskikking as ‘n kanaal waardeur sy Gees kan werk.