11. Die Pelgrimsreis van God se Volk

Ons is almal op ‘n reis na die ewigheid. Israel se uittog uit Egipte kan as ‘n voorbeeld van hierdie pelgrimsreis geneem word. Hulle het op ‘n reis vertrek wat by die slag van die paaslam begin het, en wat hulle uiteindelik tot binne-in die Beloofde Land gevoer het. Slegs ‘n klein groepie van hulle het die geestelike lesse van heiligmaking en toewyding ter harte geneem wat die Here hulle op hierdie reis geleer het. Die groot meerderheid van die volk het ‘n mislukte geestelike lewe van val en opstaan gelei.

Israel se bevryding uit Egipte en hulle uittog uit die gebied van hulle sondige verlede om die Here te gaan dien, is ‘n tipe van die Nuwe Testamentiese redding van sondaars en die daaropvolgende afsondering van Christene om die Here sonder enige kompromie met die wêreld te dien. Die reis wat Israel van Egipte af na Kanaän moes onderneem, is ‘n tipe van die Nuwe Testamentiese weg van heiligmaking. Die geestelike hardheid van Israel en hulle herhaalde weiering om hulself aan die vormende hand van die Here te onderwerp, is ‘n tipe van die Nuwe Testamentiese Christene wat met hulle vleeslikheid en liefde vir die wêreld volhard, en daardeur nalaat om die heiligmaking in die vrees van die Here te volbring. Paulus sê die volgende oor Israel se tipologiese rol tydens hulle bevryding uit Egipte en reis deur die woestyn:

“Ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie… Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde [tipes] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:1-6,11).

Ons moet beslis hierdie waarskuwings ter harte neem, veral in die lig daarvan dat so min Christene met volharding en oorgawe die weg van heiligmaking bewandel. Kom ons kyk met nuwe erns na die reis wat Israel onderneem het, en pas dit ook op onsself toe.

In Númeri 33:1-18 word daar 15 plekke in Israel se reis tot aan die grens van die Heilige Land genoem. Volgens die betekenisse van hierdie plekke se name verteenwoordig hulle almal belangrike stadiums in die geestelike pelgrimsreis wat God se volk moet volg.

Raämses (Donderslag of Losmaak van boosheid)

Die reis het by Raämses, binne-in Egipte begin. Hier waar Israel slawe van Farao was, het die Here hulle verlos. Die teken van die volk se verlossing was die slag van die paaslam en die bestryking van hulle deurposte met die bloed van die lam. Die Here het gesê: “As Ek die bloed sien, sal Ek by julle verbygaan” (Ex. 12:13). In die nag van Israel se bevryding het die doodsengel deur die hele Egipteland getrek om die eersgeborenes te tref. Net dié huise wat bloed aan die deurposte gehad het, is oorgeslaan en dus vrygespreek.

God se verlossingsplan begin by die slag van ‘n lam. Die paaslam wat in Egipte geslag is, is ‘n heenwysing na die Here Jesus as die vlekkelose Lam van God wat vir die sondes van die hele wêreld geslag sou word. Johannes die Doper het na Jesus gewys en gesê: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” (Joh. 1:29). Paulus het gesê: “…ook ons paaslam is vir ons geslag, naamlik Christus” (1 Kor. 5:7). “In hom het ons die verlossing deur sy bloed” (Ef. 1:7). Petrus het gesê: “Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos” (1 Pet. 1:18-19). Die verheerlikte kerk sal die Here Jesus rondom die troon toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9).

Die slag van die Lam van God dui daarop dat Hy die doodstraf vir ons sondes moes uitdien. Jesaja sê: “Die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom” (Jes. 53:5). Die betekenis van Raämses kom juis in hierdie opsig ter sprake: Donderslag is ‘n aanduiding van straf of oordeel, en Losmaak van boosheid dui op die verlossingswerk van die Lam. Hy maak ons bande los en bevry ons van die slawerny van die sonde waaruit ons self nie kan vrykom nie.

Verlos uit Farao se mag, het Israel daardie nag uit Egipte weggetrek na ‘n nuwe bestemming. Nadat ons uit die mag van Satan bevry en uit die duisternis oorgekom het tot die lig, begin ons met ‘n reis waarin die lig van die Here in ons lewe ál hoe helderder word tot die volle dag toe (Spr. 4:18). Dit is die pad van toenemende heiligmaking waarin ons voortdurend voor nuwe uitdagings te staan kom en sterker word in die Here. Ons verlossing is dus net die begin van ‘n lang reis van geestelike groei waarop ons moet volhard totdat al die wonderlike beloftes van die Here in ons lewe in vervulling gegaan het.

Sukkot  (Tente)

Die eerste plek waar Israel laer opgeslaan het, was by Sukkot. Dit beteken Tente. Hulle was nou pelgrims en tentbewoners op pad na hulle nuwe tuiste. Ná ons redding word ons ook van hierdie wêreld losgemaak om vreemdelinge en bywoners te word wat na ons ewige tuiste in die Godstad op pad is (1 Pet. 2:11). Ons is net tydelik in die wêreld, soos tentbewoners, want ons burgerskap is in die hemel. Soos Abraham moet ons nou reeds ‘n vergesig hê van die stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 11:9-10). Omdat ons net reisigers en verbygangers is, moet ons onsself nie in hierdie wêreld ingrawe asof ons vir altyd hier gaan bly nie. Ons moet ook nie skatte hier bymekaarmaak nie, maar eerder dáár waarheen ons op pad is.

Etam (Hulle eie krag)

By Etam het Israel van die reguit koers na Kanaän afgedraai en op die Rooi See afgepeil. Hulle het volgens eie insig opgetree en gedink dat hulle die regte ding doen. Dit was egter die begin van ‘n groot krisis op hulle reis. Jong Christene steun ook soms op hulle eie insig en probeer om die Here in die krag van die vlees te dien, en begaan dan groot oordeelsfoute en mislukkings. Hulle beland dan as gevolg hiervan in ‘n ernstige geestelike krisis.

Pi-Hágirot (Stem van uitredding)

Aan die rand van die Rooi See het die volk in groot benoudheid beland. Hulle was nog nie uit Egipte nie, en Farao se leërs het hulle agtervolg om hulle te vang en weer slawe van hulle te maak. Agter hulle kon hulle reeds die strydwaens sien aankom. Aan beide kante was die woestyn, en voor hulle die Rooi See wat die weg versper het. Groot benoudheid het Israel in hierdie woeste en verlate plek oorval, en hulle het met ‘n stem van uitredding tot die Here geroep. Hy het hulle hulpgeroep gehoor en die Rooi See oopgekloof sodat die volk veilig kon deurtrek. Toe Farao se leërs ook probeer deurtrek het, het die water teruggevloei en hulle het almal gesterf.

Dit is duidelik dat die meeste van die Israeliete nie regtig die simboliek van die slag van die paaslam verstaan het nie, en in hulle harte nie van die ou lewe verlos was nie. Dit is waarom die Here hulle laat begaan het toe hulle by Etam van koers af gedwaal het. Dit was nodig dat hulle in groot benoudheid gekom het, sodat hulle ernstig om uitredding tot Hom sou roep. Eers daarna sou hulle Egipte deur ‘n wonderwerk van God finaal kon verlaat.

In die Nuwe Testament bestaan daar ook ‘n soortgelyke situasie. Baie mense het net ‘n nominale kennis van die Lam van God wat vir ons sonde geslag is. Hulle bely dit met hulle lippe, maar hulle harte is onaangeraak daardeur. Hulle is ongeredde vormgodsdienstiges wat hulleself in die kerk tussen ander gelowiges bevind, maar in werklikheid is hulle nog in geestelike duisternis vasgevang. Sulke mense kom op een of ander wyse in groot benoudheid, sodat hulle ernstig om redding na die Here kan roep. Wanneer dit gebeur, doen Hy vir hulle die wonderwerk van wedergeboorte en uitredding uit die ou lewe.

Het jy al onder sonde-oortuiging gekom en besef dat jy ten spyte van jou uiterlike vertoon en vormgodsdiens op pad hel toe is? Jy moet by ‘n plek in jou lewe kom waar daar menslik gesproke geen uitkoms vir jou is nie. In hierdie doodloopstraat moet jy desperaat om hulp roep en sê: “Dit is verby met my! As die Here my nie nou red nie, stuur ek op gewisse verderf en verlorenheid af.” Dan sal die Here sy reddende regterhand na jou toe uitstrek, jou uit die kuil van vernietiging optrek en jou voete op ‘n rots stel. Hy sal jou gange vasmaak en ‘n nuwe lied in jou mond gee. Wanneer dít gebeur, sal jy wéét dat die Here jou siel gered het en sal jy ‘n duidelike getuienis van verlossing hê.

Mara (Bitterheid)

Nadat hulle deur die Rooi See was, het Israel drie dagreise ver die woestyn in getrek en by Mara laer opgeslaan. Hier was ‘n fontein met bitter water. Die volk het baie hieroor gemurmureer omdat hulle nie die bitter water kon drink nie. Die Here het Moses ‘n stuk hout gewys om in die water te gooi, waarna dit soet geword het. Hier het Moses ook aan die volk gesê dat as hulle getrou aan die Here bly, na sy stem luister en doen wat reg is in sy oë, die Here hulle gesond sou maak en geeneen van die siektes van Egipte op hulle sou lê nie.

Alle Christene gaan op die pad van die Here by Mara verby. Dit is die leerskool van geloofstoetse en beproewings. Dit is nie in rykdom en voorspoed dat jy aan die einde van jouself kom en leer om net op die Here te vertrou nie, maar by die bitter waters van Mara. Hier word jou karakter gevorm en jou geloof gelouter terwyl jy vir uitkoms en genesing op die Here wag. Petrus praat van die beproefdheid van ons geloof, wat baie kosbaarder is as goud wat deur vuur gelouter word (1 Pet. 1:7). Wanneer alle ander dinge jou faal, word jy geleer om in naakte geloof vorentoe te gaan. Só word jou geloof getoets, opgebou en versterk. Hoe sal jy weet of jy ‘n sterk geloof het voordat dit aan ‘n strawwe toets onderwerp is?

Baie mense dop hierdie geloofstoetse en gee hulleself aan verbittering oor. Israel het by Mara hulle geestelike bankrotskap en gebrek aan insig getoon deur sommer gou teen God en ook teen Moses te murmureer. In die Nuwe Testament lees ons van mense wat op ‘n soortgelyke wyse in die genade van God veragter, terwyl daar ‘n wortel van bitterheid in hulle harte opskiet (Heb. 12:15). Hulle raak nie net teen omstandighede en teen ander mense verbitterd nie, maar ook teen die Here self. As gevolg hiervan verbeur hulle sy seën, val terug en beland in ‘n geestelike woestyn.

Die oplossing vir Mara se bitter water was ‘n stuk hout wat in opdrag van die Here daarin gegooi moes word. Ons bitter ondervindings en probleme moet ook net na die kruishout geneem word, waar daar in die Naam van die Here Jesus herstel en genesing is.

Elim (Boord of Paradys)

Elim was ‘n oase met 12 fonteine en 70 palmbome – ‘n ware paradys en rusplek. Die water was soet en die omstandighede aangenaam. Elim was maar drie ure se reis van Mara af. Wanneer die Here jou donker omstandighede beëindig, breek die lig soms skielik deur. Die storm bedaar en jy vaar rustige waters binne. In die geloofstryd en beproewings wat ons ervaar, gee die Here dikwels vir ons so ‘n aangename tyd van verposing, rus en herstel. Maak ten volle daarvan gebruik voordat jy weer verder op jou reis vertrek om die stryd van die geloof in ‘n bose wêreld voort te sit.

Die Skelfsee

Die Here laat sy volk na die Skelfsee teruggaan – dit is die Rooi See waardeur hulle kort tevore getrek het. Hulle moes weer aan die hopelose situasie dink waaruit die Here hulle gered het, en Hom opnuut vir die groot dade van sy verlossingswerk dank. Ons moet ook meermale na die kruis toe teruggaan en opnuut die Here dank dat Hy ons siele uit genade gered het. Ons moet terugdink aan daardie troebel waters waaruit Hy ons verlos het, en aan die ou lewe wat op ‘n gewisse dood afgestuur het. Dank die Here dat Hy jou verlos en jou naam in die boek van die lewe geskryf het (Luk. 10:20).

Sin (Drek)

In die woestyn Sin, waar Israel vervolgens laer opgeslaan het, het die manna vir die eerste keer geval. Dit was vir hulle ‘n belangrike leerskool van geloof. In ‘n woestyn waar daar geen kos was nie, moes hulle leer om die Here vir al hulle behoeftes te vertrou. Hulle moes ook leer dat dit ‘n daaglikse lewe van vertroue is omdat hulle elke dag, in die môre, vir daardie dag manna moes optel. Net op die sesde dag moes hulle ‘n dubbele porsie versamel om ook vir die Sabbat genoeg te hê.

Ons moet deur dieselfde geestelike leerskool gaan en die wêreld as drek beskou om Christus as wins te verkry. Ons is van Hom alleen afhanklik en Hy voorsien in elke behoefte van ons na die rykdom van sy genade. Die reën wat ons nodig het en die werk wat ons moet hê, is alles sake waarvoor ons Hom moet vertrou. Moenie sekulêr ingestel raak en alles wat jy kry as vanselfsprekend aanvaar nie. Bo alles moet ons begryp dat ons nie van brood alleen kan lewe nie, maar van elke woord wat uit die mond van die Here gaan. Dit is die brood van die lewe wat as hemelse manna ryklik aan ons geskenk word. Ons moet onsself elke dag hiermee versadig en ons geloofsband met die Gewer van alle goeie gawes versterk. As ons dit doen, sal ons vind dat die Here in die woestyn van hierdie wêreld talle seëninge oor ons uitstort en ons sal help om die droë laagte waardeur ons trek, in ‘n fonteinland te omskep. Wat ons van die Here ontvang, moet ons met ander deel.

Dofka (Aanklop of Uitdryf van boosheid)

Op hulle reis na Dofka toe het Israel vinnige vordering gemaak. In die woestyn Sin is hulle geloof versterk, en hulle het geleer om die Here vir hulle behoeftes te vertrou. By Dofka het die volk in gebed aan die hemelse deur geklop, ervaar hoedat die Here gebede beantwoord, en ook oorwinning oor hulle probleme behaal. Wanneer ons as Christene die krag van volhardende gebed ontdek, maak ons vinnige vordering in ons geestelike lewe, en behaal oorwinning oor boosheid en sonde.

Alus (Lêplek van die leeus)

By Alus het die volk van God terdeë ontdek dat hulle in ‘n stryd met God se vyande gewikkel is, en ten alle tye paraat vir moontlike aanvalle moet wees. Dit is die leerskool van geestelike oorlogvoering. Agter die vyandelike aanvalle was die duiwel wat soos ‘n brullende leeu rondloop. In hierdie geval het hy die magte van Amalek gebruik om Israel aan te val en mense dood te maak. Amalek se ruiters het die persone wat stadig gevorder en agter geraak het, ingehaal en om die lewe gebring. Hulle het dus binne-in die laer ingekom en die agterstes aangeval, wat vir hulle die maklikste teiken was.

Amalek is ‘n tipe van die duiwel wat God se volk van binne af aanval, daarom is hy ‘n voorstelling van die inwonende sondige natuur wat oorwin moet word. Farao is ‘n tipe van die duiwel wat ons van buite af aanval, wil oorheers, verslaaf en doodmaak. Nadat die Here vir Israel van Farao verlos en sy mag oor hulle gebreek het, moes hulle dringend ook oorwinning oor hulle ander vyand, Amalek, behaal.

In die Nuwe Testament is ons as gelowiges in dieselfde situasie. Nadat ‘n persoon van Satansmag bevry en gered is, het die duiwel nog steeds ‘n bondgenoot in sy lewe, naamlik sy ou, sondige natuur. Die duiwel werk dus van binne af deur die vlees om jou geestelik aan te val, lam te lê en onvrugbaar te maak. Ons moet ook teen hierdie vyand van binne oorwinning verkry as ons geestelik wil vorder.

Ráfidim (Rusplek)

Israel het by Ráfidim gekom waar die water uit die rots gevloei het. Hier is hulle innerlik verkwik, hulle het oorwinning oor Amalek behaal, en rus ná die vyandelike aanvalle verkry.

Ráfidim is ‘n belangrike leerskool van oorwinning oor die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede. Hierdie oorwinning begin by die rots. Paulus sê in 1 Korinthiërs 10:4 dat die gekliefde rots op Christus dui. Die stroom water dui op die uitstorting van die Heilige Gees nadat die Here Jesus se liggaam aan die kruis geklief is en Hy uit die dood opgestaan het. Hy nooi almal van ons om uit hierdie stroom te drink en geestelik verkwik te word: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo” (Joh. 7:37-39).

God het vir sy volk ‘n rots geklief en ‘n stroom water voorsien waaruit hulle kon drink. Hierna het daar ‘n groot wending in hulle stryd teen die vyand gekom en het hulle ‘n klinkende oorwinning behaal.

 Die stryd teen Amalek was besonder hewig gewees. Wanneer Moses sy hande seënend omhoog gehou het, het Josua en sy manskappe vir Amalek teruggedryf. Wanneer Moses sy hande laat sak het, is Josua weer deur Amalek teruggedryf. Dit is ‘n tipiese situasie van val en opstaan. As ‘n oplossing hiervoor het Aäron en Hur Moses se hande omhoog gehou en is Amalek deur die skerpte van die swaard ‘n neerlaag toegedien. Aäron, die priester, is die verpersoonliking van gebed, terwyl Hur witheid, reinheid, of heiligheid beteken. Die stryd teen die vlees kan nie sonder voortdurende gebed en ‘n oorgawe tot heiligheid gewen word nie.

Deur die kruisdood van die Here Jesus en die vervulling met die Heilige Gees, kan ons oorwinning oor ons inwonende, sondige natuur behaal. Dit moet met aanhoudende gebed en ‘n heilige lewenswandel gepaard gaan. Hou aan totdat Amalek beslissend verslaan is. Hierna kan jy ook rus in die Here en in sy sterkte omdat die tweestryd tussen die Gees en die vlees verby is. Amalek sal weer probeer terugkom om die vlees te laat herleef, maar as jou verhouding met die Here reg is, sal hy nooit weer beheer oor jou kan verkry nie. Volhard net op die pad van gebed en heiligmaking.

Sinai (Wet van die Here)

Israel het die 50ste dag ná hulle uittog uit Egipte by Sinai aangekom en omtrent ‘n jaar lank hier vertoef. ‘n Totaal nuwe lewe het as volk van God op hulle gewag, en hiervoor moes nuwe lewensbeginsels by hulle ingeskerp word. Hulle moes die wet van die Here deeglik leer ken en nougeset daarvolgens lewe. Indien hulle al die geestelike lesse van geloof, gebed, oorwinning oor die mag van Satan en heiligmaking ter harte geneem het, sou Sinai vir hulle ‘n heerlike ondervinding gewees het. Met net geringe uitsonderings is die teendeel ongelukkig waar. Die meeste van hulle was vormgodsdienstige meelopers wie se harte nog by die vleispotte van Egipte was. Toe Moses té lank na die volk se sin op die berg gebly het om die wet van die Here te kry, het hulle ‘n goue kalf gemaak en voor dit rondgedans. Aan hierdie gedrog het hulle eer gebring en gesê dat hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Dit is totaal ondenkbaar, maar dit hét nogtans gebeur. Dit is waarom die Here sê dat hierdie dinge as ‘n waarskuwing aan ons opgeteken is, op wie die eindes van die eeue gekom het. As ons in vormgodsdiens verval en die Here deur ons optrede smaad, sal sy toorn oor ons ontvlam. Ons kan nie voor afgode soos Mammon neerbuig en dink dat die Here daarmee tevrede moet wees nie.

Die geestelike betekenis van Sinai is dat die woord van die Here nie met ink nie, maar deur sy Gees op die tafels van ons harte geskryf moet word (2 Kor. 3:3). Ons moet in genade en kennis toeneem, sodat ons ‘n werkende kennis van die Woord van God het. In dié studie moet ons onsself verdiep nadat ons ‘n volle oorgawe gemaak het om met die Heilige Gees vervul te word (die Ráfidim-ondervinding). Of ons ‘n formele studie van die Bybel maak deur vir een of ander kursus in te skryf, en of ons dit informeel deur selfstudie doen, maak nie saak nie. Die feit is net dat ons ‘n sistematiese studie van die Woord van God móét maak, dan kan die Here ons ook gebruik. Het jy die Woord van die Here al bestudeer en in jou hart gebêre dat jy teen Hom nie sal sondig nie? Verkondig dit dan, sodat andere ook die weg na ware verlossing en heiligmaking kan vind.

Kibrot-Hattaäwa (Die graf van begeerlikhede)

Van Sinai af is daar net drie kampeerplekke tot aan die grens van Kanaän. Die eerste een daarvan is Kibrot-Hattaäwa. Indien die volk die geestelike vorming ondergaan het wat die Here vir hulle bedoel het, sou hulle teen dié tyd verlos gewees het van die begeerlikhede van die ou lewe. Omdat dit weens hulle vormgodsdiens nie die geval was nie, het hulle vleeslike begeerlikhede nog steeds hoogty gevier. By hierdie plek het hulle oor die manna gekla en gesê dat hulle vleis wou hê om te eet. Hulle het hulleself só aan die kwartels vergryp wat die Here gestuur het, dat die vleis nog tussen hulle tande was toe die oordele van God hulle getref het.

Vir diegene wat die weg van verlossing en heiligmaking reg bewandel, kom daar ‘n tyd wanneer die ou lewe wat hulle soos ‘n skaduwee agtervolg het, dood en begrawe is. Jy is dood vir die begeerlikhede van die vlees omdat jy dit afgesterf het. Jy het die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede van die ou lewe ontvlug en jou met ‘n nuwe lewe van heiligheid en godsvrug beklee.

Háserot (Voorhof)

Dit is die voorhof-lewe. Bevry van die wêreld en sy begeerlikhede, die sonde en die vlees, het jy net een begeerte en dit is om die Here elke dag te dien. Dan sal jy kan sê dat ‘n dag in die Here se voorhowe beter as ‘n duisend dae in die wêreld is (Ps. 84:11). Dawid het gesê: “Een ding het ek van die Here begeer, en dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel” (Ps. 27:4). Só ‘n persoon het van die wêreld afskeid geneem en hou hom net met die dinge van die Here besig. Dit is die belangrikste saak in sy lewe.

Kades (Heiligheid)

Die laaste laer was Kades (Num. 13:26), wat ook Ritma genoem word. Hier behoort die volk ná sy 18 maande lange pelgrimsreis en die geestelike leerskool wat daarmee gepaard gegaan het, heilig verklaar te kon word en dus waardig om die Beloofde Land in besit te neem. Hulle hardheid van hart, ongeloof en gebrek aan belangstelling in die dinge van die Here het hulle egter onbevoeg gemaak om hulle geestelike erfenis in besit te neem. Tien van die twaalf verspieders in Kanaän het dieselfde ongeloof geopenbaar en wou nie die uitdaging om oor te trek, aanvaar nie. Josua en Kaleb se minderheidsverslag is verwerp, en die hele volk is terug woestyn toe waar 38 jaar se sinnelose swerftogte op hulle gewag het totdat die ongelowige geslag wat God mishaag het, in hulle omswerwinge gesterf het.

Hoe sien jou geestelike lewe in hierdie stadium daar uit? Het jy ‘n gelouterde geloof, lei jy ‘n lewe van gebed, het jy oorwinning oor die sonde en begeerlikhede van die vlees behaal, is jy met die Heilige Gees vervul, het jy ‘n werkende kennis van die Woord van die Here, is jou behae in die dinge van die Here, en dien jy Hom van harte al die dae van jou lewe? Dan sal jy deur Hom waardig verklaar word om jou geestelike erfenis in besit te neem en kragtig in sy diens gebruik te word. Jy sal nie op die Here se weegskaal té lig bevind word nie.

As jy jouself onder die vormgodsdienstiges, die wêreldgesindes, die vreesagtiges en die teruggevallenes bevind, dan het jy dringend ‘n saak om met die Here uit te maak. Hy het geen behae in die Israeliete gehad wat in hierdie kategorie geval het nie – al was hulle ook uiterlik besnyde verbondskinders – maar het hulle in die woestyn neergeslaan. Alleenlik ‘n veranderde hart waarin sy Gees woon, is vir die Here aanneemlik. Vertrou Hom vandag nog hiervoor.

Die eindtydse Christendom

Die waarskuwings wat uit Israel se rampspoedige geestelike doodsheid en hulle vormgodsdienstige verhouding met die Here voortspruit, word pertinent ook aan die adres van die eindtydse Christendom gerig – ons op wie die eindes van die eeue gekom het. Dit is van die uiterste belang dat ons hierop sal ag slaan en onsself geestelik ondersoek of ons in die geloof is (2 Kor. 13:5). Indien ons nie die geloofstoets slaag nie, is ons ten spyte van ons doop, aanneming en kerkverband nog steeds verlore sondaars wat op pad hel toe is.

Die uiterlike kriteria van Israel se volkslidmaatskap, naamlik afkoms, besnydenis en die bywoning van godsdienstige byeenkomste waar God se woord verkondig is, was nie genoeg om ook geestelik gesproke van hulle lede van God se volk te maak nie. Hulle moes gelowige harte hê, want sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag (Heb. 11: 6). Ons word uitdruklik en ernstig in die lig van Israel se ongeloof en vormgodsdienstigheid gewaarsku dat ons gaan agterbly as ons saak met die Here nie reg is nie:

“Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle: maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie” (Heb. 4:1-2).

Moet dus nie allerlei oorhaastige en ongegronde gevolgtrekkings maak dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, en dat dit jou in ‘n ewige verbondsverhouding met die Here plaas nie. God se norm vir gereddes is nie verbondstekens nie, maar geloof in sy Seun, Jesus Christus, wat na ‘n nuwe lewe lei:

“Want in Christus Jesus het nóg die besnydenis nóg die onbesnedenheid [die teenwoordigheid of afwesigheid van verbondstekens] enige krag, maar ‘n nuwe skepsel [wedergeboorte]. En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!” (Gal. 6:15-16).

Die Israel van God het gelowige harte waarin Hy woon, en is dus in hulle harte besny. Daar is wél plek vir uiterlike verbondstekens, solank dit net ‘n simbool van ‘n innerlike, geestelike werklikheid is. Die Here moet deur die wedergeboorte van jou ‘n nuwe mens maak, soos wat Hy aan ‘n Israelse skrifgeleerde verduidelik het (Joh. 3:1-21). Nikodémus se verbondsteken sonder wedergeboorte sou hom nie help om in die hemel uit te kom nie. Net so min as wat die Here in die geestelik ongeredde Israelse verbondskinders behae gehad het, het Hy behae in die ongeredde kerklidmate van ons tyd. Hulle sal nie in sy rus ingaan nie, maar in die ‘woestyn’ van hierdie verdorwe wêreld omkom.

Geloof is nie net ‘n verstandelike aanname van die feite oor Jesus Christus se genadewerk vir sondaars nie. Kopbekerings lei nie na ‘n nuwe lewe nie. Die geloofsaanvaarding van die Here Jesus as jou Verlosser vind op ‘n geestelike vlak plaas. Dit gaan onder die leiding van die Heilige Gees met ‘n sterk besef van jou sondigheid en verlorenheid gepaard. Na aanleiding hiervan bely en laat staan jy jou sondes en aanvaar die vergifnis en vryspraak van Jesus Christus in die geloof (1 Joh. 1:8-9; Rom. 3:23-25).

Gereinig deur die bloed van die Lam en verlos uit die slawerny van sonde, begin jy met ‘n geestelike pelgrimsreis waarin jy as ‘n verloste opgroei in die allerheiligste geloof. Jou geloof moet aanhoudend sterker word sodat dit nie in die krisisuur van beproewings sal wankel nie. Die Here Jesus moes dikwels na sy dissipels as kleingelowiges of selfs as ongelowiges verwys (Matt. 14:31; 16:8; Mark. 4:40). Dit was ‘n baie ernstige aanklag teen hulle. Moenie in die babaskoene van jou geloofslewe vasgekluister bly en daarby berus nie, maar groei op tot die volwasse man of vrou in Christus (Ef. 4:13-14). Word geestelik sterk en maak vordering op die pad van heiligmaking.

Israel het as gevolg van hulle gebrek aan geloofsvertroue in die Here beskaamd gestaan. Hulle moes op die grens van die Beloofde Land weens ongeloof omdraai omdat hulle geestelik nie waardig was om hulle erfdeel in besit te neem nie. Waar staan jy in jou geloofslewe? Het jy jou basiese opleiding en geloofsvorming suksesvol ondergaan en kan die Here jou gebruik om siele te wen en stryd teen die magte van die duisternis te voer? Indien nie, dan moet jy as ‘n saak van erns seker maak dat jou lewe op die Rots Jesus Christus gebou is. Daarna moet jy “kragtig word in die Here en in die krag van sy sterkte” sodat jy staande kan bly teen die liste van die duiwel (Ef. 6:10-11).

Sonder die krag van die Heilige Gees sal jy nie na geestelike volwassenheid kan opgroei nie en ook nie die goeie stryd van die geloof met sukses kan stry nie (1 Tim. 6:12).