12. Heiligmaking en die Wederkoms

Heiligmaking bepaal nie net die aard van ons verhouding met die Here hier op aarde nie, maar dit moet uitdruklik ook met die oog op die wederkoms van Jesus Christus beoefen word. Heiligmaking en die wederkoms word so dikwels saam genoem dat dit as tweelingwaarhede beskryf kan word. Die rede hiervoor is omdat die ware kerk die bruid van die Here Jesus is, wat by sy wederkoms sonder vlek of rimpel of iets dergliks voor Hom gestel moet word. Ons moet deur ‘n proses van heiligmaking op die ontmoeting en vereniging met die hemelse Bruidegom voorberei word.

Dit is belangrik dat die kerk van Christus ‘n duidelike roepingsbewustheid én ook ‘n duidelike bestemmingsbewustheid moet hê. Paulus sê dat ons ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus het (Fil. 3:14). In die huidige bedeling is ons geroep om getuies van Jesus te wees in ‘n wêreld wat in die mag van die Bose lê (1 Joh. 5:19). Ons is dus ambassadeurs vir Christus in ‘n vreemde koninkryk. As geroepe heiliges moet ons waardige verteenwoordigers van die koninkryk van die hemel wees “sodat [ons] onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ‘n krom en verdraaide geslag onder wie [ons] skyn soos ligte in die wêreld” (Fil. 2:15).

Dwarsdeur ons aardse lewe en die taak wat ons hier het om uit te voer, moet ons as burgers van ‘n hemelse koninkryk deur die vooruitsig op ons bestemming in die hemel tot heiligmaking gemotiveer word. Dit moet aan ons moed en deursettingsvermoë gee terwyl ons as vreemdelinge ons opdrag in hierdie goddelose wêreld uitvoer:

“Want ons burgerskap is in die hemele, van waar ons ook as Verlosser verwag die Here Jesus Christus, wat ons vernederde liggaam van gedaante sal verander, om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:20-21).

‘n Reinigende hoop

Ons moet onsself reinig in voorbereiding daarop om in die hemel in ‘n noue assosiasie met die Here Jesus te leef. Ons sal nét so ‘n onverganklike opstandingsliggaam soos Hy hê en in sy volmaakte, heilige teenwoordigheid verkeer:

“Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is. En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:2-3).

In die lig daarvan dat ons vir altyd in die Here Jesus se heilige teenwoordigheid gaan wees, moet ons nou reeds leer om geestelik in sy teenwoordigheid te leef, Hom innig lief te hê soos ‘n bruid wat na haar bruidegom verlang, en niks te doen wat sy Heilige Gees sal bedroef nie. Die hoop dat ons Hom sal sien en by Hom sal wees, is ‘n reinigende hoop. Ons moet nou daarop voorberei word om aan sy sy gestel te word. Ons sal nie in status aan Jesus Christus gelyk wees nie, omdat Hy die Hoof van die gemeente bly, maar ons sal dieselfde verheerlikte liggaam hê en as sy bruid ten nouste aan Hom verbonde wees.

Die proses van reiniging veronderstel morele én leerstellige reinheid. Ons moet moreel rein en heilig leef, en teen alle vorms van besoedeling van ons liggaam waak (vgl. 2 Kor. 7:1; Rom. 12:1). Ons moet egter ook leerstellig getrou aan Christus bly deurdat ons teen al die geestelike dwalings en misleiding van Satan sal waak. Paulus verwys hierna as hy aan die gemeente sê:

“Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus. Want as iemand kom en ‘n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ‘n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ‘n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Kor. 11:2-4).

Sommige predikers verkondig met verdigte fabels ‘n ander Jesus deurdat hulle ‘n vervalste of eensydige voorstelling van Jesus gee deur bv. die kruisboodskap of sy godheid te verswyg en net op sy wonderwerke te konsentreer. Dit word gedoen in samewerking met ‘n ander gees wat van die duiwel af uitgaan en daarop uit is om mense deur tekens en vreemde manifestasies soos val in die gees op ‘n dwaalspoor te plaas. Die valse leraars verkondig ook ‘n ander evangelie waarin die eis van wedergeboorte nie beklemtoon word nie. Het jy dalk hierdeur in Satan se strikke van misleiding beland? Vlug dan na die ware Here Jesus vir vergifnis, verlossing en reiniging deur sy bloed (2 Tim. 2:26). Sy Gees sal jou van hierdie sondes oortuig.

Waaksaamheid

Wat moet ons in die donker en goddelose wêreld doen om in afwagting op die koms van die Meester rein en heilig te lewe? Ons moet geestelik wakker bly en nie in passiwiteit verval nie, met toewyding die werk doen wat die Here aan ons gegee het, en voortdurend teen die vyand van ons siele waak, omdat hy ons geestelik wil beroof en ontrou aan die Here maak. Die duiwel is ‘n meester in die kuns van misleiding  en weet hoe om mense op ‘n dwaalspoor te plaas. Jesus het gesê:

“Pas op, waak en bid, want julle weet nie wanneer die tyd daar is nie. Dit is soos ‘n man wat op reis is, wat sy huis agterlaat en sy diensknegte volmag gegee het, en vir elkeen sy werk, en aan die deurwagter bevel gegee het om te waak. Waak dan, want julle weet nie wanneer die eienaar van die huis kom nie: in die aand of middernag of met die haangekraai of vroeg in die môre nie; dat hy nie miskien skielik kom en julle aan die slaap vind nie. En wat Ek vir julle sê, sê Ek vir almal: Waak!” (Mark. 13:33-37; vgl. Matt. 25:13).

In hierdie kort gelykenis word van ‘n huisheer vertel wat op reis gegaan het. Dit dui op die hemelvaart van Jesus Christus. Voordat Hy vertrek het, het Hy aan sy diensknegte hulle werk gegee en ook die opdrag om te waak. Ons het dus werk om tydens die afwesigheid van die Here te doen – die hele wêreld moet geëvangeliseer word. Ook moet ons voortdurend waak teen die vyand wat wil insluip om te steel en te slag en te verwoes (Joh. 10:10). Die werk van die Here moet goed gedoen word en alles moet in orde wees, want enige oomblik kan Hy terugkom en van sy diensknegte rekenskap eis. Wat sal Hy doen as Hy hulle aan die slaap kry – nie besig om te werk nie en ook nie besig om te waak nie? Hy sal hulle as slegte diensknegte uitwerp en al hulle loon wegneem!

Die begrip “waak” beteken dat iemand wakker moet wees. Sy oë moet oop wees en hy moet aktief met iets besig wees. Hierdie begrip het twee toepassings: eerstens beteken dit dat ons geestelike oë oop moet wees, met ander woorde ons moet bepaalde geestelike perspektiewe hê. Die Bybel noem drie hiervan. Ons moet ‘n opwaartse perspektief hê deurdat ons ons oë gevestig hou op Jesus wat die Leidsman en Voleinder van ons geloof is (Heb. 12:2). Ons uitsig op Hom moet nie vertroebel raak nie, en ons moet enige tyd sy wederkoms verwag sodat ons geloof kan oorgaan in aanskoue.

Hierbenewens moet ons ‘n inwaartse perspektief hê deurdat ons onsself gedurig sal ondersoek of daar nie suurdeeg van sonde in ons lewe is nie. Ons moet die Here vra om ons harte en gedagtes te toets en te kyk of daar nie by ons ‘n weg van smarte is nie (Ps. 139:23-24). ‘n Weg van smarte is weg van sonde – dalk heimlike sondes wat ander mense nie eers van weet nie.

Verder moet ons ‘n uitwaartse perspektief hê om te kan sien dat die oeslande wit is en die arbeiders min (Matt. 9:37). Ons moet dus mense se geestelike behoeftes kan raaksien en iets daaraan doen. ‘n Perspektief wat ons as Christene nie mag hê nie, is ‘n terugwaartse een. Ons moet die dinge wat agter ons is, vergeet en ons uitstrek na wat voor is (Fil. 3:14). Ons moet nie terugkyk en altyd ou koeie uit die sloot grawe nie. Dinge wat vergewe is, moet ook vergeet word.

‘n Tweede betekenis van die opdrag om te waak is dat ons teen die vyand en sy listige aanvalle moet waak. Die deurwagter moet op die uitkyk vir onwelkome besoekers wees en nie sommer die deur vir enigiemand oopmaak nie. Bewaar en bewaak jy jou hart teen bose suggesties en onrein gedagtes wat van die duiwel af kom?

Die Here Jesus wil hê dat ons in voorbereiding op sy skielike koms vir sy bruidsgemeente waaksaam en biddend sal wees: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom [dit is die verdrukking onder die bewind van die Antichris] te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36). Hy waarsku ernstig dat ons harte nie deur swelgery, dronkenskap en die sorge van die lewe beswaar moet word nie (Luk. 21:34). Die ongereddes se harte sal beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat in die groot verdrukking oor die wêreld sal kom (Luk. 21:25-26), maar ware Christene se geloof en toekomsverwagting behoort sterk te wees sodat dit hulle van sulke paniekreaksies sal vrywaar (Luk. 21:28).

Mense wat nie in afwagting op die wederkoms heilig leef nie, begin weer met wêreldse genietinge en laat hulle ook deur die sorge van die lewe geestelik aftrek. Hulle koester nie meer die salige hoop op die wederkoms nie (Titus 2:13). Die Here Jesus waarsku ons ernstig teen hierdie gevaarlike tendens van afvalligheid wat voortvloei uit die idee dat Hy dalk nie gou gaan kom nie:

“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel. Maar as daardie slegte dienskneg in sy hart sê: My heer talm om te kom – en hy sy medediensknegte begin slaan en saam met die dronkaards begin eet en drink, dan sal die heer van dié dienskneg kom op ‘n dag dat hy dit nie verwag nie en op ‘n uur dat hy dit nie weet nie; en sal hom pynig en hom ‘n deelgenoot van die geveinsdes maak. Daar sal geween wees en gekners van die tande” (Matt. 24:45-51).

Dit is uit hierdie gedeelte duidelik dat die slegte, onheilige dienskneg se probleme begin het toe hy gesê het: “My heer talm om te kom.” Hy het sy wederkomsverwagting verloor, en daarmee saam sy motivering om heilig te leef en sy sake in orde te hou. Hy het ‘n permissiewe, wêreldse lewe begin lei, partytjies bygewoon waar drank gebruik word, en lustig daaraan meegedoen. Ook het hy sy medediensknegte begin slaan. In plaas daarvan dat hy aan hulle geestelike voedsel voorsit en hulle tot diensbaarheid en heiligheid aanmoedig, het hy broedertwiste op tou gesit. Die gruwelikste dinge word deur só ‘n vleeslike Christen oor ander Christene gesê wat nie doen en glo presies soos wat hy aan hulle voorskryf nie. Hy verhef sy eie opinie tot die enigste norm van die waarheid en tree arrogant en veroordelend teenoor andere op. In die proses doen hy vernietigingswerk in die koninkryk van God, en leef glad nie in die lig van die naderende wederkoms nie. Hy kan ernstige probleme verwag wanneer die Here kom.

Die getroue dienskneg wat weet dat sy Heer enige tyd kan kom en van hom rekenskap sal opeis oor wat hy gedoen het, vrees die Here, hy is nederig in sy lewenshouding, hy werk hard en gee aan sy medegelowiges hulle voedsel op tyd. Hy sal lof van die Here ontvang.

Rekenskap voor die regterstoel

Die wederkomsbelofte konfronteer ons ook met die feit van rekenskap wat ons voor die regterstoel van Christus oor ons lewe sal moet gee. Paulus sê aan die Christene in Rome:

“Waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word… So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee” (Rom. 14:10,12).

By die regterstoel sal alle Christene se lewenswandel ná bekering in oënskou geneem en beoordeel word. Dit sluit die goeie én nuttelose werke in wat hulle gedoen het:

“Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad” (2 Kor. 5:10).

In die lig van die afspraak wat alle gelowiges voor die regterstoel het, moet ons nougeset sorg dra dat ons heilig leef en werke doen wat by die bekering pas. Ons behoort aan die Here en Hy het aan ons werk gegee om tydens sy fisiese afwesigheid op aarde te doen. “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel” (Fil. 2:10).

Ons lees in 1 Korinthiërs 3:9-15 dat sommige Christene se werke soos hout, hooi en stoppels sal wees wat verbrand sal word, en dat hulle met leë hande voor die Here sal verskyn. Dit beteken dat hulle niks gedoen het wat ewigheidswaarde het nie. Hulle lewe ná bekering het geen bydrae tot die uitbreiding van God se koninkryk op aarde gelewer nie. Hulle was marginale Christene wat gered sal word asof deur vuur heen. Die ander Christene wat met goud, silwer en kosbare stene op die fondament Jesus Christus gebou het, sal loon ontvang. Dit is waarna ons moet streef.

Die gelykenis van die ponde in Lukas 19:11-27 beklemtoon dieselfde beginsel. Die man van hoë geboorte wat op ‘n reis na ‘n ver land gegaan het, dui op die Here Jesus en sy hemelvaart. Voordat Hy vertrek het, het Hy aan elkeen van sy diensknegte ‘n pond gegee waarmee hulle moes handel dryf en die sake van sy koninkryk bevorder. Hierdie pond dui op die instaatstellende krag van die Heilige Gees. Die diensknegte moes dit gebruik en sy belange op aarde daarmee uitbrei. Wanneer Hy as Koning van die konings terugkom, sal Hy heel eerste sy diensknegte voor die regterstoel daag om al hulle werke in oënskou te neem en hulle daarvoor te beloon:

“En toe hy terugkom, nadat hy die koningskap ontvang het, sê hy dat daardie diensknegte aan wie hy die geld gegee het, by hom geroep moes word, sodat hy kon weet wat elkeen met handel verdien het” (Luk. 19:15).

Aan die een wat met sy pond tien ponde verdien het, sal die Here by sy koms sê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Luk. 19:17). Die een wat sy pond gebêre en niks daarmee gedoen het nie, se geld sal van hom af weggeneem word omdat hy ‘n mislukking was.

Is jy geheilig – dit beteken gereinig en afgesonder vir die diens van die Here? Dan sal jy jou werk doen en God in Gees en waarheid dien. As jy in die vlees is, kan jy God nie behaag nie. Onthou dat die Here ook jou werke aan ‘n vuurproef sal onderwerp wanneer Hy kom, en Hy kom gou! Dan sal elkeen sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang (1 Kor. 3:8). Die volgende krone sal aan oorwinnaars toegeken word:

Die onverwelklike kroon vir ‘n heilige en diensbare lewe. Die wedloop van die lewe waarin ons is, word met dié van ‘n atleet vergelyk (1 Kor. 9:24-27). Atlete sorg dat hulle gesond bly, hulle rook of drink nie en eet reg. In die wedloop van die lewe moet ons ook geestelik gevoed word en ons van alle skadelike (sondige) gewoontes weerhou wat ons vordering kan vertraag (Heb. 12:1). Toewyding van hierdie aard gaan met hartsreiniging en die vervulling met die Heilige Gees gepaard. ‘n Lewe van heiligheid en diensbaarheid vereis selfdissipline, daarom oefen ek myself in die godsaligheid (1 Tim. 4:7) en kasty my liggaam om dit diensbaar te maak (1 Kor. 9:27). Hiervoor sal ek ‘n onverwelklike kroon ontvang – nie, soos die atlete, net ‘n verwelklike lourierkrans en ‘n kort oomblik van glorie nie.

Die kroon van roem vir sielewenners. Die groot taak wat Christus aan sy dissipels opgedra het, is dié van wêreldevangelisasie. Ons is almal gestuurdes (Joh. 20:21; Mark. 16:15; Hand. 1:8). Vir diegene wat ander mense na Christus toe lei, word die kroon van roem beloof (1 Thess. 2:19). Dit is ‘n hoë roeping in die koninkryk van die hemel, daarom word sielewenners met helder skynende sterre vergelyk (Dan. 12:3). Hulle word ook, uit God se oogpunt, as wyse mense beskryf omdat hulle verlore siele gehelp het om gered te word (Spr. 11:30).

Die kroon van heerlikheid vir getroue herders. Die geestelike versorging en opbouing van die gemeente is ‘n baie belangrike aspek van Christelike dienswerk wat deur die Here self bepaal is. As ‘n herder dit nougeset doen, sal die Here aan hom die kroon van heerlikheid gee (1 Pet. 5:2-4). Weens die groot verval van die laaste dae het getroue en bekwame herders wat die woord van die waarheid reg sny, baie skaars geword (vgl. 2 Tim. 4:2-4; 2 Pet. 2:1-2). Die kroon vir getroue herders kan ook toegeken word aan enigeen wat verantwoordelikheid vir die versorging en geestelike opbouing van ander gehad het.

Die kroon van die lewe vir Christen-martelare. Aan elkeen wat sy lewe ter wille van sy geloof aflê, word die kroon van die lewe beloof (Op. 2:10). Deur die eeue heen was daar getroue diensknegte van die Here Jesus wat bereid was om ten koste van hulle veiligheid, hulle werk, hulle gesinne, en selfs hulle eie lewe, die vlam van geloof in ‘n vyandige wêreld omhoog te hou (Luk. 10:3; Joh. 16:33). By die kategorie van martelare is ook ingesluit diegene wat ‘n swaar kruis van beproewing in hulle lewe moes dra. Volgens Jakobus 1:12 sal hulle beloon word as hulle getrou bly.

Die kroon van geregtigheid vir dié wat sy koms liefhet. Om die Here se koms lief te hê, vereis ‘n ingesteldheid op dinge met ewigheidswaarde. Jy moet skatte in die hemel bymekaarmaak waar mot of roes nie verniel en diewe nie inbreek en steel nie. Paulus het die goeie stryd van die geloof gestry terwyl hy die koninkryk van Christus in ‘n heidenwêreld gevestig het. Hy het uitgesien na die kroon wat die regverdige Regter hom hiervoor sal gee (2 Tim. 4:7-8).

Onberispelik in heiligheid

Paulus lê sterk klem op die feit dat ons by die wederkoms van Jesus Christus onberispelik in heiligheid moet wees:

“Onthou julle van elke vorm van kwaad. En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:22-24).

In die lig hiervan moet ons waardig wandel voor God wat ons tot sy koninkryk en heerlikheid roep (1 Thess. 2:12). Paulus benadruk die feit dat heiligmaking ‘n werk is wat die Here vir ons doen, maar ons moet onsself hieraan onderwerp en saamwerk deur die heiligmaking in die vrees van God te volbring. Die Here Jesus is ons Heiligmaking en ons moet Hom hiervoor vertrou:

“Maar deur Hom is julle in Christus Jesus, wat vir ons geword het wysheid uit God en geregtigheid en heiligmaking en verlossing. Daarom, soos geskrywe is: Die wat roem, moet in die Here roem” (1 Kor. 1:30-31).

Die Here Jesus het ons nie net van ons sonde gered nie, maar Hy wil ons ook heilig sodat ons sonder vlek of rimpel voor Hom gestel kan word in heerlikheid. Dit is alleen Hy wat ons só kan heilig en waardig maak dat ons sonder gebrek voor Hom gestel kan word. Dit sal egter nie gebeur as ons passief daarvoor sit en wag nie. Ons moet waak en bid sodat ons waardig geag kan word om in heerlikheid voor Hom gestel te word. Wanneer ons bid, dan leer die Heilige Gees ons om nou reeds van alle ondeug en boosheid in ons lewe afstand te doen. In die lig van die verganklike wêreld waarin ons is, moet ons altyd heiligmaking en godvrugtigheid nastreef:

“Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? – julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas… Daarom… beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede” (2 Pet. 3:11-12,14).

Sorg dat jy in ‘n rein toestand bly en voortdurend deur die bloed van die Lam gereinig word. Bely onmiddellik enige sonde wat jy gedoen het, sodat daar nie oor tyd heen ‘n skeidsmuur van sonde tussen jou en die Here Jesus opgebou word nie. Wandel in die lig en bied ten bloede toe weerstand teen die sonde:

“As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons [voortdurend] van alle sonde” (1 Joh. 1:7).

Vertrou die Here om jou staande te hou, terwyl jy as ‘n medewerker van God ook jou volle samewerking gee. Jesus sê: “Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wynstok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie” (Joh. 15: 4). In sy sendbrief sê Johannes: “En nou, my kinders, bly in Hom, sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie” (1 Joh. 2:28).

Ons kan, soos die verlore seun, ons gemeenskap met die Vader eensydig verbreek. Moet dit nie doen en jouself met baie smarte deurboor nie! Jy kán weer herstel word, maar jy sal jou sondes en ontrouheid met ‘n gebroke hart moet bely.

Bly liewer ten alle tye in die Here en gaan voort om veel vrug te dra. Onderwerp jou aan die hand van die hemelse Landbouer wat jou wil snoei en skoonmaak sodat jy meer vrug kan dra. Hy vermaan en tugtig jou om jou sy heiligheid deelagtig te maak. As jy getrou aan Hom bly, sal daar nie ‘n knaende vrees diep binne-in jou wees dat jy dalk onwaardig sal wees om in sy heilige teenwoordigheid gestel te word nie. Doen jou plig, en die Here sal sy deel beslis nakom:

“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag… Aan Hom nou wat magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel met gejuig, aan die alleenwyse God, ons Verlosser, kom toe heerlikheid en majesteit, krag en mag, nou en tot in alle ewigheid” (Judas 1:20-21, 24-25).

Maak soos die wyse maagde seker dat jou lamp vol van die olie van die Heilige Gees is (Matt. 25:1-13). Dit is ‘n uitbeelding van die Geesvervulde lewe. ‘n Rein lewe en die salwing met die Heilige Gees is God se standaard van waardigheid: “Laat jou klere altyd wit wees, en laat olie op jou hoof nie ontbreek nie” (Pred. 9:8).

Die bruilofskleed

Die bruidsgemeente van Christus gaan tydens haar ontmoeting met die hemelse Bruidegom met feesklere beklee wees. Daar is ‘n duidelike beskrywing van ‘n bruilofskleed in die Bybel:

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).

Dit is duidelik dat die bruilofskleed nie die kleed van geregtigheid is nie. By bekering word ons besoedelde kleed van sonde weggeneem en word die Here Jesus se kleed van geregtigheid aan ons gegee. Dit is toegerekende geregtigheid. Ons ontvang dit in die geloof, en werke het niks daarmee te doen nie. Dit staan ook as die onderpand van die geloof bekend (Ef. 1:13-14).

Die bruilofskleed waarna in Openbaring 19 verwys word, lê egter op die vlak van meewerkende geregtigheid. Hierby is werke duidelik ter sprake, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Die heiliges is dié Christene wat onder die krag en leiding van die Heilge Gees werke doen wat by die bekering pas. Dit is die goud, silwer en kosbare stene waarmee gelowiges volgens 1 Korinthiërs 3:10-12 op die fondament Jesus Christus moet bou.

Die bruilofskleed is dus soos ‘n huweliksverhouding – ons moet daaraan werk. Hierdie kleed moet nie met sonde bevlek word nie, en dit moet ook nie rimpels of kreukels hê omdat dit opgevou en iewers weggebêre is nie. Onthou net dat die werk wat jy daaraan doen, slegs deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees kan geskied. Dit is met ander woorde nie dit wat jy vír die Here doen wat tel nie, maar dit wat Hy déúr jou doen. Dit is waarom dit aan die vrou van die Lam “gegee” is om bekleed te wees met rein en blink fyn linne. Soos die diensknegte wat die ponde ontvang het, is die bruid nie ‘n passiewe ontvanger van die krag en genade wat sy gekry het nie. Sy moet dit gebruik deur haarself aktief aan die Here diensbaar te stel.

‘n Mens kan meer of minder heilig wees, net soos wat jy ook meer of minder vrug in die koninkryk kan dra. Sommiges dra dertigvoudig vrug, ander sestigvoudig en ander honderdvouding. Die een verdien tien ponde wins met sy pond, die ander een vyf en ‘n derde een niks nie. Die vraag is: waar staan jy met betrekking tot heiligmaking? Is die eie-ek gekruisig en het die Heilige Gees volle beheer oor jou lewe? Indien wel, dan sal jy veel vrug dra en sal jou bruilofskleed ook tot eer van die Here ryklik met gouddraad geborduur wees. Maak baie seker dat jy ‘n lid van die verheerlikte bruidsgemeente is wat spoedig aan die Here Jesus se sy sal staan:

“Die koningin staan aan U regterhand in goud van Ofir… Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei… Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in” (Ps. 45:10,14-16).

Met die oog op die heerlike toekoms wat op ons wag, moet ons alles in die stryd werp om die Here te behaag en heilig te lewe. Moet dit nie as ‘n onbereikbare ideaal beskou nie, want Hy help jou om dit te kan verkry. Jy sal nie nou ‘n standaard van volmaaktheid kan bereik nie, maar jy moet jouself nogtans daarvoor beywer. Paulus sê:

“Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” (Fil. 3:12).

Daar moet merkbare vooruitgang in jou geestelike lewe wees. Die laaste opdrag van die Here Jesus in die Bybel handel oor voortgesette geestelike groei en heiligmaking. Hy koppel dit aan ‘n belofte van loon tydens sy wederkoms:

“…laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).

Maranata!