Baie Christene leef in ‘n toestand van vleeslikheid voort deurdat hulle nie na ‘n lewe van oorwinning in die krag en onder die leiding van die Heilige Gees streef nie. Die gevolg hiervan is dat die eienskappe van die vlees oorheersend in hulle lewe bly en alle moontlikheid van geestelike groei uitskakel. Hulle bly klein kindertjies in die Here wat as gevolg van hulle beperkings en tekortkomings onbevoeg is om geestelike werk te doen. Hulle vertoon nie die vrug van die Gees nie en word deur verdorwe menslike emosies soos selfgesentreerdheid, twis, jaloersheid en tweedrag gekenmerk. Daar is egter ‘n oplossing vir hierdie ernstige probleem.
Paulus klassifiseer mense geestelik soos volg, en maak spesifiek vir ‘n kategorie van vleeslike Christene voorsiening:
“Die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word. Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge…” (1 Kor. 2:14-15).
“En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike [mense], soos met klein kinders in Christus. Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie, omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?” (1 Kor. 3:1-3).
Uit 1 Korinthiërs 2:14-15 is dit duidelik dat daar basies twee groepe mense op aarde is. Die eerste groep is die natuurlike mense wat nog ongered is en volkome deur hulle gevalle natuur en verduisterde gemoed oorheers word. Hierteenoor is daar die geestelike mense wat gered is en ook deur die Gees van God vervul en gelei word. Volgens 1 Korinthiërs 2:16 het hulle die sin van Christus, met ander woorde geestelike insig en verligte oë van die verstand om die dinge van die Here te kan verstaan (Ef. 1:17-18).
Wanneer Paulus homself spesifiek tot die gemeente in Korinthe rig, spreek hy hulle nie as natuurlike mense aan nie omdat hulle, met die uitsondering van ‘n paar valse broeders, wél ‘n getuienis van redding gehad het. Hy beskryf hulle as ‘broeders in Christus.’ Paulus spreek hulle egter ten spyte van hulle Christenskap nie as geestelike mense aan nie, maar as vleeslike mense. Hulle het nog nie die geestelike beginsels van die nuwe lewe verstaan en uitgeleef nie.
Wat is hierdie derde kategorie van vleeslike Christene? Dit moet met ‘n baie groot probleem in verband staan, omdat vleeslike mense meesal in die Nuwe Testament as sondaars beskryf word wat op pad hel toe is (vgl. Rom. 8:5-7,13).
Die vlees is duidelik die gevalle, sonde-geneigde natuur van die mens. Dit is tot in sy kern verrot en kan glad nie gerehabiliteer word nie, maar moet doodgemaak word. In Bybelse taal moet die vlees gekruisig word (Gal. 5:24). Die mag daarvan moet gebreek word, sodat die persoon deur die Gees gelei en beheer kan word.
Hoe is dit dan moontlik dat Christene onder die mag van die vlees kan leef? Dit is ‘n aanduiding van een van twee probleme in hulle lewe: Hulle het óf nagelaat om ‘n volle oorgawe te maak waarin die ou natuur vir kruisiging oorgelewer word sodat hulle met die Heilige Gees vervul kan word, óf hulle het, soos die Galásiërs, teruggeval deur in die Gees te begin en in die vlees te eindig (Gal. 3:3). Hulle is dus óf gestagneerde óf teruggevalle Christene. Die Korinthiërs het duidelik in ‘n vroeë stadium geestelik gestagneer.
Die feit dat hierdie Christene vleeslik was, het ‘n groot blokkasie vir die praktiese uitlewing van hulle getuienis na buite ingehou. Dit het hulle daarvan weerhou om geestelike mense, met ander woorde Geesvervulde Christene, te wees.
Ons gaan nou die gevolge van vleeslikheid in Christene se lewens in oënskou neem, soos wat dit deur dr. Andrew Murray in ‘n preek van hom oor 1 Korinthiërs 3:1-4, getiteld “Vleeslik en geestelik,” uiteengesit is. Hy het hierdie boodskap in die herlewingstyd gebring, en dit het baie mense in Suid-Afrika én Engeland gehelp om die oorwinnende lewe onder die leiding van die Heilige Gees deelagtig te word en uit te leef (Bron: Algehele oorgawe deur dr. Andrew Murray. NGK Uitgewers).
Die rede waarom groot dele van hierdie preek woordeliks aangehaal word, is omdat die oorheersende probleem van vleeslikheid, asook die gevolge daarvan onder Christene in die kerk van daardie tyd, duidelik uitgewys word. Die feit dat ‘n groot groep Christene boodskappe van dié aard ter harte geneem, hulleself ondersoek en ‘n nuwe oorgawe aan die Here gemaak het, was ’n deurslaggewende faktor vir die uitbreek van herlewing in Wellington. Hierdie Bybels-gefundeerde en Heilige Gees-gewerkte herlewing het daarna ook na baie ander gemeentes in Suid-Afrika versprei. Dit sal ons beslis ook baat om ons verhouding met die Here te ondersoek en reg te stel wat verkeerd is.
In die boodskap word die negatiewe gevolge van vleeslikheid in ‘n Christen se lewe só verduidelik:
Andrew Murray sê hieroor:
Die apostel Paulus het gevoel dat al sy prediking sonder vrug sou wees as hy met mense wat nie geestelik was nie, oor geestelike sake sou praat. Hulle was Christene, ware Christene, klein kinders in Christus, maar daar was een dodelike gebrek – hulle was vleeslik. Die apostel sê dus aan hulle: “Ek kan nie aan julle geestelike waarhede aangaande die geestelike lewe meedeel nie, want julle kan dit nie begryp nie.” Dit was nie omdat hulle dom was nie. Hulle was intelligent en het baie kennis gehad, maar hulle was nie in staat om geestelike onderrig te kon begryp nie. Hieruit leer ons dié eenvoudige les: die hele probleem in die kerk van Christus met Christene wat soms ‘n seën ontvang en dit dan weer verloor, is omdat hulle nog vleeslik is. Wat ons nodig het om die seën van die nuwe lewe te behou, is om geestelik te word. Ons moet kies watter soort Christelike lewe ons wil lei – die vleeslike lewe of die geestelike. Kies die geestelike en God sal behae daarin skep om dit aan u te gee...
Daar is soms Christene wat honger en dors na die Woord, wat daarna luister en sê: “Watter heerlike waarhede, watter duidelike leerstelling, watter wonderlike uiteensetting van God se Woord!” en tóg word hulle nie een enkele tree vorentoe gehelp nie; of hulle word vir twee of drie weke gehelp, en dan verdwyn die seën weer. Wat is die rede hiervoor? Daar sit ‘n kwaad aan die wortel: die vleeslike toestand verhinder die siel om geestelike waarhede in te neem en uit te leef.
Ek is bevrees dat ons dikwels in ons kerke ‘n groot fout begaan om aan vleeslike Christene te verkondig wat alleen vir geestelike mense geskik is. Hulle vind dit baie mooi, vat dit met hulle verstand en verlustig hulle daarin, en nogtans bly hulle lewens onveranderd in weerwil van die geestelike onderrig wat hulle ontvang. As daar een ding is wat elkeen van ons God gedurig voor moet bid, dan is dit dít: “Here, verhoed tog dat ek geestelike onderrig in ‘n vleeslike hart sal opneem.” Die enigste bewys dat u ‘n seën ontvang, is dat u uit die vleeslike toestand oorgebring sal word in die geestelike. God is gewillig om dit te doen. Laat ons daarom bid en dit in die geloof aanneem.
Die gebrek aan geestelike insig en onderskeidingsvermoë word ook deur Paulus aan die gemeente in Éfese verduidelik. Vir hulle sê hy dat ons almal uit die wankelende en onkundige kinderstadium moet opgroei “tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” (Ef. 4:13-14). Ons moet dus nie passief terugsit ná ons bekering nie, maar deur ernstige Bybelstudie die dieper waarhede in God se Woord ontdek en in ons lewens toepas. Daar is ‘n hoë roeping in Christus.
Oor die tweede rede vir vleeslikheid het Andrew Murray gesê:
U is lank gelede bekeerd en u moes nou al ‘n jong man gewees het, maar u is is nog steeds ‘n klein kindjie in Christus. “Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spyse nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie.” U weet hoe mooi ‘n babatjie is. Mens kan nouliks iets aantreklikers vind as ‘n kindjie van ses maande met sy rooi wangetjies en laggende gesiggie. Veronderstel ek het só ‘n kind gesien, en ná ses maande kom ek terug en vind die kind niks groter nie. Die ouers sou dan ook al onraad bemerk het omdat hy nie groei nie. En as ek ná drie jaar sou terugkom en vind dat die kind nog niks groter is nie, sou ek die ouers baie treurig aantref. Hulle sou my meedeel: “Die dokter sê die kind het ‘n vreeslike kwaal – hy kan nie groei nie. Hy sê dit is ‘n wonder dat die kind nog lewe, en tóg leef hy.” Ná tien jaar kom ek weer daar, en steeds is dit net ‘n hulpelose baba wat nog niks gegroei het nie.
U sien, kindskap op sy regte tyd is die mooiste ding in die wêreld, maar kindskap wat té lank duur, word ‘n las en ‘n oorsaak tot droefheid – ‘n teken van siekte. Dit was die toestand van baie van daardie Christene in Korinthe – hulle het babas in die geloof gebly.
‘n Kenmerk van ‘n baba is dat hy homself nie kan help nie en dus ook nie andere kan help nie. Dit is die lewe van baie Christene. Hulle maak van die predikante geestelike verpleegsters van babas. Dit is ‘n ernstige saak dat daardie geestelike babas hulle predikante al die tyd besig hou om hulle te versorg en te voed, en nooit help hulle hulself nie. Hulle weet nie hoe om hulleself uit die Woord van Christus te voed nie, en nou moet die predikant hulle voed. Hulle weet nie wat dit is om met God in aanraking te kom nie, en die predikant moet vir hulle bid. Hulle weet nie wat dit beteken om te lewe soos mense wat ‘n God het om hulle te help nie, en wil maar altyd net versorg word. Pas op dat dit nie die rede is waarom u na ‘n konferensie of ‘n kerk toe gaan, sodat u verpleegsters vir u geestelike voedsel moet voorsit nie. Prys die Here vir die verkondiging van die evangelie en vir die gemeenskap van die gelowiges, maar daar móét groei en ontwikkeling wees sodat ons ook andere kan help.
As ‘n klein kindjie, ‘n geestelike baba van drie maande, vleeslik is en nie heeltemal goed weet wat sonde is, en nog nie oorwinning daaroor het nie, dan is dit nie iets om oor verwonderd te wees nie. As ‘n man egter jaar ná ‘n jaar in dieselfde toestand voortleef en altyd deur die sonde oorheers word, dan is daar iets radikaals met sy geestelike lewe verkeerd. Niks kan ‘n kindjie in voortdurende kindsheid hou as net een of ander soort kwaal nie. As ons gedurig moet sê: “O God, ek is nie geestelik nie,” laat ons dan tog liewer sê: “O God, ek is vleeslik. Ek verkeer in ‘n sieklike toestand en wil graag daaruit verlos word.”
In die brief aan die Hebreërs vind ons dieselfde onvolwasse toestand: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spyse is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan” (Heb. 5:12-6:1). Ons moenie ná ons redding stagneer nie, maar opgebou word in die geloof.
Dr. Murray is nog steeds aan die woord:
Watter bewyse voer Paulus aan dat hierdie mense vleeslik was? Hy beskuldig hulle van verkeerde gesindhede en dade: “Want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie?” Hulle tree net soos die ander mense op en nie soos mense wat nuut gemaak is en in die liefde en krag van die Heilige Gees lewe nie.
U weet dat God ons liefhet, dat Hy in die lig woon en dat liefde die groot gebod is. Die kruis van Christus is die bewys van God se liefde, en liefde is ook die eerste en belangrikste vrug van die Heilige Gees. Wanneer mense toegee aan hulle humeur, hoogmoed, jaloersheid en tweedrag; wanneer u mense bitsige dinge van ander hoor sê – wanneer ‘n man nie iemand anders volkome kan vergewe nie; wanneer ‘n vrou met veragting van haar buurvrou praat as “daardie nare ou ding,” of van iemand anders kan sê: “O, wat ‘n hekel het ek in daardie vrou” – dit alles is die vrugte van die vlees. Elke stukkie liefdeloosheid is niks anders as die vlees nie. Die vlees is selfsugtig en hoogmoedig en liefdeloos, daarom is elke sonde teen die liefde niks anders as ‘n bewys dat die persoon vleeslik is nie.
U sê: “Ek het dit probeer oorwin, maar ek kan nie.” Dit is juis die saak wat ek wil beklemtoon. Moenie probeer om geestelike vrugte te dra solank u nog in ‘n vleeslike toestand is nie. U sal dit nie kan doen nie, “want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar sodat julle nie kan doen wat julle wil nie” (Gal. 5:17).
Ons vleeslike natuur is nie alleen die oorsaak van liefdeloosheid nie, maar ook van so baie ander sondes. Neem wêreldgesindheid en die liefde vir geld, wat mense álles laat opoffer om ryk te word, en ook die najaag van weelde, genot en ‘n hoë posisie. Wat is al hierdie dinge anders as die vlees? Dit bevredig die vlees en is presies waarin die wêreld homself verlustig. Die vleeslike toestand word deur wêreldgesindheid en die krag van die sonde in mense se lewens bewys.
‘n Persoon het my oor sy gebrek aan liefde vir gebed geraadpleeg. Hy wou weet hoe hy die beoefening van liefdevolle gemeenskap met God deelagtig kon word. My antwoord was: “My broeder, dit kan hoegenaamd nie bereik word nie, totdat u ontdek dat dit buite die vleeslike toestand moet geskied. Die vlees kan hom nie in God verlustig nie; dit is u probleem. U moet nie ‘n besluit neem, of in u dagboek skryf: “Ek gaan meer bid” nie. U kan dit nie forseer nie. Lê die byl aan die wortel van die boom en kap die vleeslike siel uit. U kan dit nie self uitkap nie, maar laat die Heilige Gees van God met die veroordeling van sonde kom en gee uself oor om saam met Christus gekruisig te word, dan sal die Gees van God volle beheer van u oorneem. Hy sal u leer om God lief te hê, om gebed lief te hê, om u naaste lief te hê, en u sal dan nederig en hemelsgesind wees.” Die vleeslike toestand is die wortel van elke sonde.
Geestelike groei vind slegs plaas nadat die struikelblok van vleeslikheid geïdentifiseer en uit die weg geruim is. Moenie met hierdie toestand vrede maak en so voortleef nie.
Dr. Murray wei soos volg hieroor uit:
Onthou, daar is ‘n groot verskil tussen geestelike gawes en geestelike gesindhede, en dit is wat baie mense nie verstaan nie. Onder die Korinthiërs was daar baie wonderlike geestelike gawes aanwesig. Paulus prys hulle dat hulle in geen enkele genadegawe agter staan nie. In 1 Korinthiërs 13 praat hy van die gawes van profesie, en van die geloof wat berge kan versit, en van kennis, maar hy sê vir hulle dat hierdie dinge hulle niks sal baat as hulle nie die liefde het nie. Hulle het hulle in die gawes verlustig maar hulle nie oor gesindhede bekommer nie. Paulus wys aan hulle ‘n nóg uitnemender weg: om te leer om lief te hê en nederig te wees, want liefde is die uitnemendste van alle dinge.
Dit is ‘n baie ernstige saak om te bepeins dat iemand die gawe van profesie mag besit, dat hy ‘n getroue en suksesvolle werker in een of ander werkkring mag wees, en dat hy tóg deur sy skerpe oordeel en die hoogmoed wat daar by hom opkom, asook deur ander dinge, bewys mag lewer dat hy ten spyte van al sy gawes nog ‘n gebrek aan geestelike gesindhede het. O, pas tog op dat Satan jou nie deur dié gedagte bedrieg nie: “Maar ek werk vir God en Hy seën my. Ander mense sien na my op en ek is die persoon waardeur hulle gehelp word.”
Geliefde mede-Christene, die feit dat ‘n vleeslike Christen geestelike gawes mag hê, behoort ons onuitspreeklik ernstig te stem. Dit behoort die ernstigste en voorspoedigste persoon op sy knieë voor God te bring met die gedagte: “Ná alles wat God se Gees as ‘n gawe in my gewerk het, gee ek nie miskien deur my gebrek aan nederigheid of liefde of reinheid of heiligheid aan die vlees toe nie?” Mag God ons om sy Naam ontwil deursoek en toets.
Die oplossing van die probleem van vleeslikheid begin daar waar ‘n mens tot die besef kom dat daar oorwinning oor sonde en vleeslikheid is. Dit ís vir ons moontlik om elke dag onder die leiding van die Heilige Gees te lewe. Die Here sê in sy Woord dat sy liefde in ons harte uitgestort word deur die Heilige Gees. Hy beveel ons ook om met die Heilige Gees vervul te word en dit die krag van ons hele lewe te maak: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie” (Gal. 5:16). Dit is die lewe waartoe God ons roep en waarvoor Christus ons vrygekoop het. Nadat Hy sy bloed aan die kruis gestort het, het Hy na die hemel toe gegaan om die Heilige Gees in sy volheid oor ons uit te stort.
Glo in die krag van die bloed van Christus om u te reinig, en ook in die krag van die verheerlikte Christus om sy Gees in u hart te gee, dan het u die eerste stap in die regte rigting geneem. Al voel u ook hoe ellendig, hou aan die Here Jesus vas. Hy kan u met sy Gees vervul, want sy Woord het u gebied: “Moenie dronk word van wyn nie – daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul” (Ef. 5:18).
Die vervulling met die Heilige Gees is ‘n tweede genadewerk. By ‘n mens se bekering oortuig die Heilige Gees jou van jou verlore toestand, van die afskuwelikheid van sonde, en veral van die skuld en straf van die sonde. In daardie stadium is daar maar ‘n geringe besef van jou verborge, innerlike sondes en van die ou natuur wat as die oorsaak daarvan gekruisig moet word. Die besef hiervan kom meesal ‘n tyd ná ‘n persoon se bekering baie sterk by hom op.
Wanneer die innerlike stryd tussen die vlees en die Gees die Christen tot teleurstelling en wanhoop oor sy vleeslikheid dryf, kom hy duidelik voor die uitdaging te staan om die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede oor te lewer om gekruisig te word. In die plek daarvan word hy deur die Heilige Gees met die natuur van die Here Jesus beklee. Wanneer hy hierdie stap neem, word hy ‘n geestelike Christen.
Daar is ongelukkig baie wanopvattings oor hoe om van ‘n vleeslike na ‘n geestelike Christen oor te gaan. Sommige mense meen dit is ‘n geleidelike proses waardeur almal van ons gaandeweg na ‘n toestand van geestelikheid opgroei. Dit is egter nie so nie. Andrew Murray sê:
“Mense wil graag uit die vleeslike toestand in die geestelike ingroei, en dit kan nooit gebeur nie. Hulle jaag meer prediking en onderrig na ten einde, soos hulle meen, uit die vleeslike in die geestelike in te groei. Daardie kindjie waarvan ek gepraat het, hoewel tien jaar oud, het soos ‘n baba van ses maande gebly – hy het ‘n ernstige siekte gehad en genesing was nodig. Daarna sou daar groei wees. Die vleeslike Christen bevind homself ook in ‘n ernstige siektetoestand. Eers moet die probleem van vleeslikheid uit die weg geruim word, dán sal daar groei na geestelike volwassenheid plaasvind…
Dit is die treurige toestand van die kerk dat die meeste van sy lede vleeslik bly. Hulle val gedurig onder die mag van die vlees en word gevolglik deur nyd en afguns en liefdeloosheid oormeester. Sulke Christene het geen insig in geestelike waarhede nie. Indien mens melding maak van hulle lewe in Christus, daaglikse gemeenskap met Hom, en wat God beloof om vir sy kinders te doen, dan verstaan hulle nouliks wat bedoel word. Hoe ernstig behoort ons God te bid om aan ons te openbaar wat vleeslik en wat geestelik is, en ons in staat te stel om ons geheel en al aan die leiding van sy Heilige Gees oor te gee.”
Die oorgang van vleeslikheid tot geestelikheid behels ‘n geloofstap wat geneem moet word. Die Christen moet sy vleeslikheid voor God bely, asook al die manifestasies daarvan, soos sonde-geneigdheid, hoogmoed, liefdeloosheid, biddeloosheid, dubbelhartigheid, ens. Vra die Here om dit te vergewe, jou van alle ongeregtigheid te reinig, en ook die verdorwe vlees in jou lewe te kruisig. Gereinig deur die bloed van die Lam, moet jy jouself ook oorgee om saam met Hom gekruisig te word vir die wêreld en die sonde (Gal. 6:14). Dan sal die pad oop wees om met die opstandingslewe van die Here Jesus beklee en deur sy Heilige Gees vervul te word. Hierna sal vinnige groei na geestelike volwassenheid plaasvind, omdat die struikelblok na ware geestelikheid uit die weg geruim is. Daarna moet jy daagliks jou kruis van selfverloëning opneem en sorg dat die vlees nie weer ‘n vastrapplek in jou lewe verkry nie. Jesus sê: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis elke dag opneem en My volg” (Luk. 9:23). Hoe doen ons dit? Paulus sê: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14).
Dit is die pad van geestelike oorwinning waartoe die Here elkeen van ons roep. Het u die oorwinning oor sonde, die wêreld en die vlees al deelagtig geword? Vertrou die Here hiervoor en ervaar ‘n wonderlike nuwe krag, blydskap, en godvrugtigheid in u geestelike lewe. “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees” (Rom. 8:1).