5. Oorwinning Oor Swakhede: Die Proses van Heiligmaking

Nadat ‘n Christen ‘n volle oorgawe gemaak het om oorwinning oor die vlees te verkry en met die Heilige Gees vervul te word, volg daar ‘n lewenslange proses van voortgesette oorwinning oor menslike swakhede. Alle Christene, ook diegene wat Geesvervuld is, is voortdurend aan versoekings, geestelike misleiding en menslike swakhede blootgestel, en moet waak om nie as gevolg daarvan te struikel nie.

Die Here het medelye met swakhede, omdat dit deel is van menswees. Hy het egter nie medelye met sonde nie – slegs ‘n oplossing daarvoor, naamlik verlossing en reiniging deur die kosbare bloed van die Lam. Daar moet ernstig gewaak word dat ons persoonlike swakhede nie tot sonde aanleiding gee nie.

“Terwyl ons dan ‘n groot Hoëpriester het wat deur die hemele deurgegaan het, naamlik Jesus, die Seun van God, laat ons die belydenis vashou. Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:14-16).

Dit is in verband met die identifisering en hantering van menslike swakhede belangrik om bewus te wees van die feit dat daar drie betekenisse vir die begrip “vlees” in die Bybel is:

1.    Die sondige natuur. Die ongeredde [natuurlike] mens is “vleeslik, verkoop onder die sonde” (Rom. 7:14). In hierdie verband verwys die term “vlees” na die sondige lewensbeginsel wat ná die sondeval deel van alle mense geword het. Dit is ons Adamiese natuur wat altyd net na die sonde neig. Hiervan word ons in beginsel by die wedergeboorte verlos en met die nuwe natuur van Christus beklee: “Die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig” (Gal. 5:24). Ons word daarna in die praktyk voor die uitdaging gestel om volgens die Gees (die lewensbeginsels van die nuwe mens) te wandel en nie volgens die vlees (die lewensbeginsels van die oue mens) nie. Dit is heiligmaking.

2.    Die menslike liggaam, ongeag die aard van die geestelike beheer waaronder dit is. As Christen moet die lewe van Jesus in my sterflike vlees [liggaam] geopenbaar word (2 Kor. 4:11). Paulus sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék [die ou, sondige Paulus] leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe [in my menslike liggaam] leef ek deur die geloof in die Seun van God” (Gal. 2:20). Die sondige natuur van Paulus was dus dood, maar andersins het hy self nog as die nuwe mens in sy eie liggaam gewoon. Christene wandel ook in die vlees [liggaamlik] al het hulle hul ou, vleeslike natuur afgesterf: “Hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie” (2 Kor. 10:3). God is ook in die vlees geopenbaar (1 Tim. 3:16), bedoelende dat die Here Jesus ‘n menslike liggaam gehad het toe Hy “vlees geword” het (Joh. 1:14). Hy het egter nooit ‘n vleeslike natuur gehad nie.

3.    Menslike swakhede. Paulus sê: “Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees...” (Rom. 6:19). Hier praat hy nie van die voortdurende en onafgebroke sonde-geneigdheid van die ou, vleeslike natuur nie, maar van swakhede van die vlees wat ook deur die geredde en Geesvervulde kinders van die Here ervaar word. As gevolg hiervan sit baie van hulle nog hulle ou, sondige gewoontes voort en jaag nie heiligmaking na nie. Sommige van hierdie swakhede is die gevolg van die sondeval wat die mens in verskeie opsigte skeef getrek het, en andere is bloot net deel van mens wees. Swakhede moet in ‘n ernstige lig beskou word omdat dit die oorsaak van sonde kan wees. Een van die mens se ernstige swakhede is dat sy liggaam hom blootstel aan verskeie soorte versoekings. Hy is ook onvolkome in sy kennis, beperk in sy kragte en traag in sy ywer. Hy kan siek word, moedeloos raak, smarte ly en pyn verduur. Dit geld vir almal.

Omdat die Here Jesus ‘n menslike liggaam gehad het, kon Hy versoek word en ook pyn en lyding ervaar. Hy was ‘n man van smarte en bekend met krankheid. Hy was egter ‘n volmaakte mens omdat Hy nooit ‘n sonde-geneigde natuur gehad het of aan die gevolge daarvan gely het nie. Hebreërs 7:28 sê: “Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan wat vir ewig volmaak is.” Juis hierom was Hy ‘n volmaakte offer vir ons sondes en swakhede. Omdat Hy self onder versoekings gely het, kan Hy dié help wat versoek word (Heb. 2: 18). Hy is ‘n Hoëpriester wat medelye met ons swakhede het. Uit genade vergewe Hy ons sondes wat uit swakheid begaan is. Ons moet egter die goeie stryd van die geloof stry en oorwinning hieroor kry: “Beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie” (Rom. 13:14).

Die volgende is die algemeenste swakhede waarvan die Here ons voortdurend deur die krag van die Heilige Gees wil help om te oorwin, sodat dit nie ‘n oorsaak tot mislukking en sonde in ons lewe word nie:

Versoekings

Hoewel ‘n Geesvervulde persoon ‘n nuwe natuur het wat uit God gebore is, leef hy in ‘n gebrekkige menslike liggaam wat vyf poorte na die wêreld het. Dit is jou vyf sintuie wat aan jou ‘n bewussyn van die wêreld verleen, en waardeur die bose wêreld jou ook probeer beïnvloed en by sondes intrek. Jy kan sien, hoor, voel, ruik en smaak. Omdat versoekings op jou sintuie gerig word, moet jy streng beheer daaroor uitoefen. Dit is nie sonde om versoek te word nie – Jesus is self versoek – maar jy moet nie aan die versoekings toegee nie en dit oorwin. Hebreërs 2:18 sê van Jesus: Omdat Hy “self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word.”

Die mag van die gewoonte

Benewens die genoemde sintuie het jou liggaam ook ledemate soos jou hande, voete, verstand en mond waarmee jy werke kan doen. Met jou liggaamlike krag en vermoëns kan jy óf sonde doen óf goeie dinge doen en die Here dien. Weens onkunde, onverskilligheid en die mag van die gewoonte, hou baie Christene nog aan om sekere sondes te doen. Terselfdertyd laat hulle ná om die Here met hulle hele lewe en al hulle kragte te dien. Aan sulke misleide en onverskillige mense sê die apostel Paulus: “Ons wat die sonde afgesterf het, hoe kan ons nog daarin lewe?” (Rom. 6:2). Daarna gee hy ook die oplossing:

“So moet julle ook reken dat julle wel vir die sonde dood is, maar lewend is vir God in Christus Jesus, onse Here. Laat dan die sonde in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God. Want die sonde sal oor julle nie heers nie” (Rom. 6:11-14).

Vergeetagtigheid

‘n Algemene menslike swakheid is vergeetagtigheid. Israel is vroeg in hulle bestaan al hierteen gewaarsku. Moses het vir hulle gesê: “Neem jou dan in ag dat jy die Here nie vergeet wat jou uit Egipteland, uit die slawehuis, uitgelei het nie” (Deut. 6:12). “Wees terdeë op jou hoede, dat jy die dinge nie vergeet wat jou oë gesien het nie, en dat hulle uit jou hart nie wyk al die dae van jou lewe nie; en jy moet dit aan jou kinders en jou kindskinders bekend maak” (Deut. 4:9). Tog hét die volk die Here vergeet. Eeue later het Jesaja vir hulle gesê: “Jy het die God van jou heil vergeet en nie gedink aan die rots wat jou toevlug was nie. Daarom lê jy lieflike tuine aan en beplant dit met uitlandse wingerdstokke” (Jes. 17:10). In Jeremia 2:32 sê die Here: “My volk het My vergeet, dae sonder getal.” Hulle het die rug op Hom gedraai en geleef asof Hy nie bestaan nie.

Vergeetagtigheid is ook ‘n Nuwe Testamentiese probleem waarteen Jakobus ons in sy brief waarsku:

“Want as iemand ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n dader nie, dié is soos ‘n man wat sy natuurlike gesig in ‘n spieël sien; want hy sien homself en gaan weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen” (Jak. 1:23-25).

Petrus sê dat ‘n persoon wat nie heilig leef nie – iemand wat nie by sy geloof ywer, kennis, selfbeheersing, godsvrug en broederliefde voeg en ook hierin toeneem nie – is “blind en kortsigtig, en het die reiniging van sy vorige sondes vergeet” (2 Pet. 1:9). Hy het heeltemal vergeet van die fondament wat tydens bekering in sy lewe gelê is, en bou glad nie onder die leiding van die Heilige Gees daarop voort nie. Só ‘n persoon wandel nie na die Gees nie, maar na die vlees. Hy gaan dus nie geestelik vooruit nie, maar agteruit.

Traagheid en onvrugbaarheid

Luiheid, die ontduiking van pligte en die hou van ‘n lae profiel wanneer jy in werklikheid jou kant móét bring, is ‘n tipiese menslike swakheid waaroor ons oorwinning moet kry. Paulus sê:

“Ek spreek menslikerwys ter wille van die swakheid van julle vlees; want net soos julle jul lede diensbaar gestel het aan die onreinheid en wetteloosheid… so moet julle nou jul lede diensbaar stel aan die geregtigheid tot heiligmaking… Nou dat julle vrygemaak is van die sonde en diensbaar geword het aan God, het julle jul vrug tot heiligmaking en uiteindelik die ewige lewe” (Rom. 6:19,22).

Paulus het ‘n sterk veldtog teen die swakhede van sy vlees, soos luiheid en onvrugbaarheid, gevoer: “Maar ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (1 Kor. 9:27). Waarom is mens verwerplik as jy nie die Here dien nie en net nominaal in Hom glo? Die Here moet ons eers herskep voordat ons werktuie in sy reddende regterhand kan wees. Daarna moet ons deur heiligmaking bruikbare, rein en gewillige kanale word waardeur sy Heilige Gees kan vloei. Anders kan Hy ons nie gebruik om sy verhewe doel op aarde te bereik nie.

Besoedeling van die gees, die siel én die vlees

Omdat ons ín die wêreld is, bring kontak met die wêreld en al sy booshede noodwendig besoedeling mee waarvan ons voortdurend gereinig moet word. As ons iets onheiligs sien, hoor of beleef, besoedel dit ons. Indien ons onsself doelbewus daaraan blootstel of aan dit deelneem, dan sondig ons. Dit moet dadelik bely en laat staan word, anders verloor ons ons geestelike oordeelsvermoë, word verblind in ons gemoed en ontvang die krag van die dwaling om die leuen te glo.

Paulus sê: “Laat ons ons van alle besoedeling van die gees en die vlees reinig, en laat ons die heiligmaking in die vrees van God volbring” (2 Kor. 7:1). Besoedeling van die gees het met geestelike dwalings te doen waardeur ‘n mens mislei en verwar kan word. Voorbeelde hiervan is valse godsdienste en sektariese leerstellings, insluitende die mistiese kragte van die Nuwe Era Beweging. Dit sluit buite-Bybelse openbarings in, soos profesieë deur selfaangestelde profete en profetesse, drome, visioene, mistiese genesingspraktyke, hipnotiese regressie en buitesintuiglike waarneming. Die geestelike en sensuele ervarings wat deel van die wêreldwye misleiding deur die val in die gees- en lag in die gees-beweging is, word deur Satan in sy geestelike aanslag op die Christendom gebruik om baie mense op ‘n dwaalweg te laat beland.

Besoedeling van die vlees het met liggaamlike sondes te doen wat as immorele dade beskryf kan word. Vermy alle deelgenootskap met die sonde. Dit begin dikwels in gesprekke met ‘n sondige strekking. “Moenie dwaal nie, slegte gesprekke bederf goeie sedes” (1 Kor. 15: 33). Sulke gesprekke en dade kan jou hele lewensloop besmet. Baie mense is onverskillig en stel hulleself moedswillig aan besoedeling bloot deur byvoorbeeld pornografiese boeke te lees en na vuil video’s te kyk. Dit kan na owerspel en seksuele onreinheid lei, asook drankgebruik en gewelddadigheid. Sodoende word hulle weer slawe van die sonde en deurboor hulleself met baie smarte.

Hoogmoed

Dit is ‘n algemene neiging by mense om belangrik te voel, na erkenning te soek en in aansien by die wêreld te wil wees. Die Bybel het goeie raad oor hoe om dié neiging te hanteer: “Elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Matt. 20:27-28). Ons moet nederig, diensbaar, verdraagsaam en liefdevol wees.

“Laat ons nie word soekers van ydele eer wat mekaar uittart en mekaar beny nie” (Gal. 5:26). As ons met hierdie houding voortgaan, verbeur ons die seën van die Here: “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jak. 4:6). Wil jy toeneem in genade? Moet dan nie jouself verhef nie. “Hý moet meer word, maar ék minder” (Joh. 3:30).

Emosionele swakhede

Die mens is ‘n emosionele wese wat wisselende emosies beleef. Baie swakhede in gedrag en houdings kan hieruit spruit as jy nie ‘n Geesbeheerde temperament het nie. Jy kan in moedeloosheid en belangeloosheid verval. Jy kan ook deur driftige en ongetemde emosies op sleeptou geneem word. Waak altyd daarteen dat jou emosies hand uitruk en na sonde lei: “Word toornig en moenie sondig nie” (Ef. 4:26). Moet jou ook nie aan die emosie van vrees oorgee nie: “Want God het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim. 1:7). Een van die vrugte van die Gees is selfbeheersing, en dit gee aan jou volle beheer oor enige emosie.

Wat ook al jou persoonlikheidstipe met sy kenmerkende sterk en swak punte mag wees, deur die krag van die Heilige Gees kan jy jou emosionele swakhede oorkom en jou met goddelike gesindhede beklee. Omdat emosies so veranderlik is, moet hulle altyd ‘n sekondêre rol in jou geloofslewe vervul. Gevoelens moet nooit die oorhand kry nie.

‘n Gebrek aan liefde en onderskeidingsvermoë

Paulus bid die Christene liefde, wysheid en onderskeidingsvermoë toe: “En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus” (Fil. 1:9-10).

Vir die Efésiërs sê hy dat hulle uit hul toestand van geestelike swakheid en onvolwassenheid moet opgroei tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat hulle nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering (Ef. 4:13-14). Met ‘n groei in heiligmaking kom daar ook dieper insig in hierdie dinge.

‘n Onvermoë om te kan preek en getuig

Die volgende aanklag word aan die meeste Christene gerig:

“Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en het julle weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie. Want elkeen wat melk gebruik, is onervare in die woord van geregtigheid, omdat hy ‘n kind is. Maar vaste spyse is vir volwassenes, vir die wat geestesvermoëns besit deur die gewoonte geoefen, om goed van kwaad te onderskei. Daarom moet ons nie bly by die begin van die prediking aangaande Christus nie, maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê van bekering uit dooie werke” (Heb. 5:12–6:1).

Die Heilige Gees stel ons in staat om op te groei en ook getuies vir Christus te wees. Hy versterk ons met krag uit die hoogte, onderrig ons uit die Woord en lei ons in die hele waarheid. Hoe ver het jy in die leerskool van diensbaarheid gevorder?

Onkunde om reg te kan bid

“En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge” (Rom. 8:26). Ook skep die Heilige Gees die oortuigings in ons harte waarvoor ons moet bid, en gee aan ons die vermoë en vrymoedigheid om in die openbaar te kan bid. ‘n Heilige lewe is ‘n lewe van gebed. Hierin moet jy toeneem, want geestelike bankrotskap staan tot ‘n groot mate met biddeloosheid in verband (Jak. 4:2). Vra die Here om jou met die Gees van gebed en smeking te vervul sodat jy by elke geleentheid kan bid in die Gees (Ef. 6:18).

Vleeslike swakheid om te kan waak

“So was julle dan nie in staat om een uur saam met My te waak nie? Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:40-41). Hoe dikwels faal ons nie as gevolg van vleeslike swakheid om ons goeie voornemens uit te voer nie! Ons besluit byvoorbeeld om vroeg op te staan en te bid, maar dan is dit té lekker om nog ‘n bietjie te slaap en te sluimer. Ons moet gedurigdeur bid en daarin waak met danksegging. Dissiplineer jouself en koop die tyd uit om die Here te dien en te aanbid.

Moegheid

Dikwels word ons moeg vir al die werk wat ons moet doen, of sien bloot net op teen al die moeite wat dit vir ons meebring. Paulus vermaan die Galásiërs: “En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie” (Gal. 6:9). Johannes sluit hierby aan: “Wees op julle hoede, dat ons nie verloor wat ons deur arbeid verkry het nie, maar ‘n volle loon ontvang” (2 Joh. 1:8). Daar moet besondere volharding op hierdie terrein van ons geestelike lewe beoefen word, sodat ons nie agter ons swak gesondheid of beperkte krag sal skuil om niks te doen nie.

Die probleem is gewoonlik dat as jy jou godsdienstige pligte om een of ander rede verwaarloos of ter syde skuif, dan begin jy om in die plek daarvan die wêreld te dien. Hou dus ten spyte van moegheid of moeite aan om die Here te dien en die werk te doen wat Hy aan jou toevertrou het. Hy bemoedig jou só:

“Wie is dan die getroue en verstandige dienskneg vir wie sy heer oor sy diensvolk aangestel het om hulle hul voedsel op tyd te gee? Gelukkig is daardie dienskneg vir wie sy heer, as hy kom, op hierdie manier besig sal vind. Voorwaar Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel” (Matt. 24:45-47).

Lyding en siekte

Paulus het die volgende oor liggaamlike lyding gesê: “…[daar] is my ‘n doring in die vlees gegee dat ek my nie sou verhef nie… En [die Here] het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring… Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk” (2 Kor. 12:7-10).

Baie mense dink dit is sonde om swaar te kry, te ly of siek te wees. Ons lees egter dat Jesus ‘n man van smarte was, bekend met krankheid. Dit is waarom Hy medelye met ons menslike swakhede kan hê. Omdat Hy aan ons menslikheid gelyk geword het, het Hy ook gely. Hy is deur die Satan versoek, maar sonder sonde. Jesus neem soms die swakheid en teistering van ons liggaam weg, maar in baie gevalle gee Hy aan ons krag en vertroosting in ons swakheid en krankheid.

Paulus het drie keer vir verlossing en genesing van die doring in sy vlees gebid, maar dit nie verkry nie. Hy het egter die duidelike belofte van die Here gekry dat sy genade altyd vir Hom genoeg is, met ander woorde, dat Hy hom ten spyte van sy gebreke sal deurdra. Die krag van die Here word in ons swak liggame volbring, daarom weet ons dat die eer en roem vir dit wat bereik word, altyd net aan Hom toekom.

Moedeloosheid as gevolg van teëstand, vervolging en versoekings

“Julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:3-4).

Soos Elia, voel die kind van die Here soms moedeloos as gevolg van mense se verwerping en al die aanslae teen hom. Moet egter nie hieraan toegee, in depressie verval en vir jou probleme probeer weghardloop nie. Vertrou die Here om aan jou ‘n nuwe vervulling met krag uit die hoogte te gee en sit die stryd met ‘n vaste toewyding voort. Toe Elia gedink het dat hy alleen in ‘n geestelik afvallige en moreel verdorwe volk oorgebly het, het die Here gesê dat daar nog seweduisend was wat die knie voor Baäl nie gebuig het nie (Rom. 11:4).

Ook in ons afvallige volk is daar ‘n relatief klein kerngroep wat aan die Here getrou bly en die goeie stryd van die geloof stry. Voeg jou by hierdie groep mense wat nie kompromiemakers is nie, en moenie dat die meerderheid vormgodsdienstiges wat ongehinderd met die stroom van sonde en ongeregtigheid afdryf, jou ontmoedig of tot passiwiteit beïnvloed nie. Staan onbeweeglik vas op die Rots Jesus Christus en laat jou nie van die hoop van die evangelie afbring nie (Kol. 1:23).

Konflik en onvergewensgesindheid

Dit is ‘n vleeslike swakheid en sonde om gedurig in stryd en konflik met ander betrokke te wees, en as gevolg daarvan verbitterd en onvergewensgesind te raak. Daardeur vernietig jy jouself geestelik en besoedel ook andere met wie jy in aanraking kom:

“Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie; en pas op dat niemand in die genade van God veragter nie; dat geen wortel van bitterheid opskiet en onrus verwek en baie hierdeur besoedel word nie” (Heb. 12:14-15).

Teruggevalle Christene is verbitterd teen alles en almal, dikwels ook teen die Here as gevolg van die teleurstellings, verliese en terugslae wat hulle gehad het. In gesprekke dra hulle hierdie verbittering op ander mense oor en trek hulle sodoende ook geestelik af. Ons sal moet leer om ons omstandighede te aanvaar, moeilik soos wat dit ook al mag wees. Kry oorwinning oor jou probleme, vergewe andere wat jou te na gekom het, en glo dat die Here jou sal deurdra. Dit is ‘n toonbeeld van innerlike krag en heiligheid as jy onder omstandighede soos dié steeds onbeweeglik op die Rots kan bly staan.

Word sterk in die Here

Ons opdrag is om nie deur ons menslike swakhede en tekortkomings afgetrek te word nie, maar om ons met die nuwe mens te beklee en onder alle omstandighede oorwinnend in Christus te leef. Ons het verskeie beloftes en opdragte oor geestelike versterking:

·       “Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8).

·       “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel” (Ef. 6:10-11).

·       Aan die dissipels is gesê: “Julle moet in Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49).

·       “Julle moet toeneem in die genade en kennis van ons Here en Saligmaker, Jesus Christus” (2 Pet. 3:18).

Die apostels het uitvoering aan hierdie opdragte gegee en is met die krag van die Heilige Gees beklee. Stéfanus was ook vol van geloof en krag. As ons nie in hierdie krag toeneem en oorwinnend en heilig leef nie, sal ons ons menslike swakhede ten prooi val en begin dwaal en sondig. Daar sal dan ook aan ons gesê kan word: “Julle dwaal omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie” (Matt. 22:29). Ons moet met die Here se krag bekragtig word, want sonder Hom kan ons niks doen nie. As Christene wat sterk in die Here is, moet ons dan die geestelik swakkeres help en bemoedig:

·       “En op ons wat sterk is, rus die verpligting om die swakhede te dra van die wat nie sterk is nie, en nie onsself te behaag nie” (Rom. 15:1).

·       “Broeders, as iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid, terwyl jy op jouself let, dat jy ook nie versoek word nie” (Gal. 6:1).

·       “Wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie” (1 Kor. 10:12).

·       “Ons moet des te meer ag gee op wat ons gehoor het, dat ons nie miskien wegdrywe nie” (Heb. 2:1).

·       “Vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie” (Heb. 3:13). Ons kán te midde van al die aanslae en versoekings meer as oorwinnaars in Christus wees!

Vanuit ‘n posisie van krag en vrymoedigheid in die Here moet ons dan uitbeweeg om die lig van Christus in ‘n donker wêreld te laat skyn. Kinders van die Here moet gemotiveer word om met groter volharding en geloof vir die redding van siele te bid. Hulle moet die Here ook vir herlewing onder die lou en wêreldgesinde Christene vertrou.

Die bediening van Bybelse vermaning en tug moet ook onder die leiding van God se Gees, en met die gesag wat die Here hiertoe aan ampsdraers in die kerk verleen, met groter fermheid beoefen word. Die opdrag is: “…weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie” (2 Tim. 4:2-3).

Daar moet ernstig gesprek gevoer word met die predikante en lidmate van Laodicese kerke wat in hulle selfvoldaanheid sê: “Ons is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie,” terwyl die Here sê dat hulle arm en blind en naak is, en dus geestelik beklaenswaardig (Op. 3:17-18). Dit is slegs die Heilige Gees van God wat ‘n mens bekwaam kan maak en krag gee om te midde van veel teëstand vir die waarheid uit te staan.