7. Volkome Heiligmaking

Volkome heiligmaking is een van die Bybelse terme vir ‘n tweede genadewerk. Die volle betekenis daarvan blyk uit die feit dat die mens se gees, siel én liggaam deur die krag van die Heilige Gees teen die aanslae van die Bose beskerm word, en ook vir die diens van die Here bruikbaar gemaak word. Dit stel ons in staat om meer as oorwinnaars in die stryd van die lewe te wees.

“En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus! Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen” (1 Thess. 5:23-24).

Die drie basiese aspekte van die wese van die mens wat geheilig moet word, kan soos volg onderverdeel word:

Gees: Geloof, hoop en liefde.

Siel: Intellek, wil en emosies.

Liggaam: Sintuie, fisiologie en ledemate.

Die begrip volkome heiligmaking staan met reinheid, diensbaarheid én geestelike weerbaarheid in verband. Sonder ‘n noue en intieme wandel met die Here sal ‘n Christen nie oorwinnend leef en vinnige vordering in sy/haar geestelike lewe maak nie. Daar moet nie probeer word om geestelike probleme deur middel van sielkundige en ander metodes te oorwin nie. Die ware weg na oorwinning hang daarvan af of die Here deur die Heilige Gees volle beheer oor jou gees, siel en liggaam het. Wat van jóú verwag word om dié seën te verkry, is ‘n volle oorgawe. Dit is die geheim vir krag en oorwinning. Om dit na te laat, lei gewis na geestelike neerlae en veragtering in die genade.

Paulus noem al drie terreine van die wese van die mens as ter sake vir die goddelike werk van heiligmaking en bewaring teen die Bose, naamlik sy gees, sy siel én sy liggaam:

DIE GEES

Die geestelike lewe van ‘n Christen word deur geloof, hoop en liefde gekenmerk. ‘n Ongeredde persoon is uit God se oogpunt geestelik dood. Hy het wél ‘n gees, maar dit is dood as gevolg van sy oorgeërfde sondige natuur, en ook weens sy eie sondes en misdade. God se liefde is ook nog nie in sy hart uitgestort nie, daarom is hy sonder God en sonder hoop in die wêreld (Ef. 2:12).

Geloof

‘n Kind van die Here is geestelik lewendig omdat daar ‘n geloofsband tussen hom en die Here is. Dit vereis nie net ‘n verstandelike aanvaarding van Christus nie, maar ook ‘n geloofsaanvaarding van sy versoeningswerk aan die kruis. Dit gaan altyd met berou en sondebelydenis gepaard. Satan sal jou geloof in God met mening aanval, dit probeer verswak en deur middel van twyfel en bygeloof aftakel. Jy moet hom met ‘n standvastige geloof teëstaan, in die wete dat hy in Christus ‘n oorwonne vyand is. Moet nooit in die Here en sy oorwinningskrag twyfel nie. Tree met ‘n onwrikbare geloof tot sy genadetroon toe:

“En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek” (Heb. 11:6).

Soos ander gawes van die Heilige Gees, is geloof dinamies. Jy kan dus minder of meer daarvan hê. Juis hierin is die uitdaging geleë om op te groei in die allerheiligste geloof en geestelik sterker te word. As ons voel dat ons geloof wankelend is, sal ons gebedslewe daaronder ly omdat ons nie meer dinge in die geloof sal vra nie. In só ‘n situasie van twyfel moet ons saam met die dissipels vir die Here Jesus vra: “Gee ons meer geloof” (Luk. 17:5).

Die duiwel se aanslae is daarop gerig om jou geestelike groeiproses om te keer. Hy wil hê jou geloof moet minder word en verswak raak. Dit doen hy deur twyfel in jou hart te saai. Dinge gebeur met jou wat jou laat twyfel of die Here nog by en met jou is, of Hy jou nog werklik liefhet en vir jou omgee. Dit is ‘n groot sonde om aan die Here se nabyheid en liefde te twyfel, want dan slaan die vyand ‘n groot slag in jou lewe om jou geloof te ondermyn en jou uiteindelik in wanhoop en depressie te laat verval.

Glo jy dat die Here jou nooit sal verlaat nie, selfs nie in die moeilikste omstandighede van jou lewe nie? Hy belowe aan al sy kinders: “Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie” (Heb. 13:5). Hierdie vaste wete moet jou bemoedig om die geloofstryd voort te sit:

“Stry die goeie stryd van die geloof, gryp na die ewige lewe waartoe jy ook geroep is en die goeie belydenis voor baie getuies afgelê het” (1 Tim. 6:12).

Hoop

Paulus vermaan ons “om vas te hou aan die hoop wat voorlê, [want] ons het dit as ‘n anker van die siel wat veilig en vas is en ingaan tot binnekant die voorhangsel” (Heb. 6:18-19). Brand die vlam van hoop nog hoog in jou hart? Sien jy uit na die wederkoms van Jesus Christus en na die ewige lewe wat in die hemel vir jou voorlê? Is hierdie hoop ‘n anker vir jou siel in die troebel en onstuimige waters waardeur jou lewensbootjie vaar?

Jy moet vashou aan die hoop wat voorlê. Maak ‘n studie van die wederkoms en ervaar hoedat jy opgetel word deur die blye verwagting dat die Here Jesus ons kom haal. Die hoop op sy wederkoms sal jou ook standvastig maak en sterk motiveer op die pad van heiligmaking. Dit sal jou aanspoor om Hom nougeset na te volg en jou nie deur die sonde te laat besoedel nie. Elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Joh. 3:3).

Satan sal probeer om jou wederkomsverwagting te laat verflou sodat dit nie meer ‘n motiverende krag in jou lewe is nie. Hy wil nie hê dat jy heiligmaking en diensbaarheid moet nastreef in afwagting op die verskyning van die hemelse Bruidegom nie. Hy sal alles in sy vermoë doen om jou in ‘n vergeestelikte weergawe van die profesieë te laat glo, waarin die belofte van die wederkoms tot ‘n onbelangrike saak afgeskaal word. Sodoende ondermyn hy jou profetiese perspektief.

Wanneer die hoop op die wederkoms van Jesus Christus vervaag, dan vervang die duiwel dit met sekulêre doelwitte soos die versameling van aardse skatte en die opbou van ‘n aardse koninkryk. Baie mense wil net ryk en voorspoedig wees. Saam met dit probeer hulle ook om hier en nou ‘n Christelike koninkryk op aarde te vestig, en verwag nie meer die koms van die hemelse Vredevors en sý koninkryk nie.

Hoop is ‘n baie tersaaklike aspek van ‘n Christen se geestelike lewe. Dit is nie net op die ewige lewe gerig nie, maar ook op die Here se sorg en uitredding elke dag van jou aardse lewe. Veral in krisisse moet ons nie moedeloos word nie, maar ons hoop en vertroue volkome in die Here stel dat Hy aan ons uitkoms sal gee:

“Die hoop beskaam nie, omdat die liefde van God in ons harte uitgestort is deur die Heilige Gees wat aan ons gegee is... En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom. 5:5; 15:13).

Liefde

As geredde mense is ons gewortel en gegrond in die liefde van Jesus Christus. Van geloof, hoop en liefde is dit die liefde wat die grootste is – God se agape liefde wat uitreik na ‘n wêreld in sy nood. Menslike liefde is totaal verwronge en selfgerig omdat dit altyd net wil hê wat ander mense het, en wat die wêreld aan jou bied. Jy begeer alles wat jou oë sien, en wil dit vir jouself inpalm.

In die openbaring van God se liefde het Hy die eerste tree gegee deur in ons sondige toestand na ons neer te buig. Die Heilige Gees oortuig mense van hulle sonde en verlorenheid, en maak hulle ook van Jesus Christus se sondaarsliefde en reddende genade bewus. Hy stel hulle voor ‘n keuse om Hom aan  te neem of te verwerp. Geloof is net ‘n middel tot ‘n doel, naamlik om God se liefde en genade te kan aanneem sodat dit vir jou toegereken kan word. Liefde is nog steeds die grootste saak waaroor dit gaan. Die basiese rede waarom God die gawe van geloof tot jou beskikking stel, is sodat jy gered kan word.

Die liefde van God moet die grondslag van jou hele lewe word. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel, jou hele verstand en met al jou kragte. Net so ook moet hierdie agape liefde wat na andere uitreik, die essensie van jou verhouding met jou medemens word. As jy die Nuwe Testamentiese gebod van die liefde nakom, dan het jy die wet vervul (Matt. 22:37-40; Rom. 13:8-10). Die Here het jou eerste liefgehad, en jy beantwoord dit net.

“Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord” (Rom. 13:12). Het jy al hierdie wapens aangegord – die wapen van geloof, die wapen van hoop en die wapen van die liefde? Oorwin jy die kwaad deur die goeie, of laat jy jou deur die kwaad oorwin? Satan loods geweldige aanslae op die belewenis én uitlewing van God se liefde in jou lewe. Hy wil jou verbitterd en opstandig maak omdat jy nie jou sin kry nie. Hy wil jou ook liefdeloos en haatdraend teenoor mense laat optree wat vir jou probleme skep.

Liefdeloosheid, bitterheid en vrees is drie van die wapens wat die duiwel met groot sukses gebruik in die stryd waarin ons staan. Ons moet liefdeloos en onverdraagsaam teenoor sonde wees, maar nooit teenoor die sondaars nie. As die liefde van God in ons harte is, sal ons geen vrees vir die komende oordele hê nie. Ons sal ook die vermoë hê om in die liefdelose en siek wêreld waarin ons leef, bokant ons probleembelaaide omstandighede uit te styg.

“Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het Hom lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het” (1 Joh. 4:18-19).

SIEL

Die siel van die mens moet ook geheilig en aan die diens van God gewy word. Die drie aspekte hiervan is die intellek, wil en emosies:

Die intellek

Die verstand van die mens is ‘n belangrike poort waardeur kennis van die waarheid én kennis van die leuen hom kan binnedring tot in die dieptes van sy siel. Deur sy verstand, in samewerking met die sintuie van sy oë en ore, neem hy kennis van die evangelie van vrede wat aan hom verkondig word, en kom tot geloof:

“Die geloof is dus uit die gehoor en die gehoor is deur die woord van God” (Rom. 10:17).

Behalwe die waarheid, is daar ook ‘n groot aantal bose leringe wat die mens se verstand van buite af binnedring. Die Satan gebruik dit besonder intensief om sy verwarring en leuenpropaganda in mense se gedagtewêreld te vestig. Is jou verstand en gedagtes onder die beheer van Jesus Christus, of is dit ‘n stoorplek vir leuens, vuil gedagtes, materialistiese motiewe, dwaalleringe en halwe waarhede? Jy sal hierdie poort na jou hart met die geestelike wapens tot jou beskikking moet beskerm, anders sal die Bose dit gebruik om in te kom. Elke gedagte moet gevange geneem word tot gehoorsaamheid aan Christus.

Die vestings van valse leerstellings en ook valse godsdienste moet in mense se harte neergewerp word (die wat wíl luister), deurdat kennis oor dwaallerings bekend gemaak word. Die planne en strategieë van die vyand, waardeur hy mense intellektueel én geestelik wil mislei, moet ontmasker word. Alle gedagtes en beredenerings moet aan die waarheid van Christus en sy Woord onderwerp word. Indien dit nie gedoen word nie, mislei die vyand en sy leuenaars baie mense.

Die wil

Elke Christen moet ‘n wilsbesluit neem om die Here van harte te dien en in elke opsig van sy lewe aan Hom gehoorsaam te wees. Die Nuwe Testament leer ons om net die wil van die Here te soek en te doen (Rom. 12:2). Bid  die Vader om die verborgenheid van sy wil aan jou bekend te maak (Ef. 1:9), en in jou te “werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil. 2:13). Jy moet intelligent na sy wil soek in die Bybel. “Julle [moet] nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is” (Ef. 5:17). Bid ook dat jy “vervul mag word met die kennis van sy wil” (Kol. 1:9), sodat jy “volmaak en volkome mag staan in die ganse wil van God” (Kol. 4:12).

Maak jy vordering op hierdie terrein, of slaag die duiwel nog daarin om jou “die wil van die vlees en van die sinne” te laat doen? (Ef. 2:3). Moenie by jou neerlaag berus en gaan lê nie, maar vra die Here om jou op te rig en jou “vry te maak van die strik van die duiwel, nadat [jy] deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Tim. 2:26).

Emosies

Baie mense word in die geestelike oorlog waarin ons betrokke is, op emosionele gebied deur die vyand lamgelê en ontmoedig. In toestande van spanning en teleurstelling laat hulle toe dat emosionele depressie ontwikkel, waaruit negatiewe gedagtes soos moedeloosheid, verbittering en selfs totale belangeloosheid in die lewe voortvloei.

Daar is aktiewe negatiewe suggesties waarmee die duiwel mense ook aanval, soos vergelding, haat, aggressie, naywer, jaloesie en onvergewensgesindheid. In al hierdie opsigte moet die kwaad deur die goeie oorwin word, want die liefde van Christus en die blydskap en vergewensgesindheid van die Here stel ons daartoe in staat. Selfs ook wanneer negatiewe emosies hulle sterk voordoen, moet ons nie daaraan uiting gee nie, maar deur die krag van die Heilige Gees die nodige selfbeheersing beoefen.

Die Christen se temperament en emosionele lewe moet volkome deur die Heilige Gees beheer en bepaal word, anders voer die onstuimige vleeslike temperament die botoon. In ‘n oorgegewe lewe sal jy ontdek dat die blydskap van die Here alle negatiewe ervarings, gewaarwordings en gevoelens kan oorheers. Paulus kon onder die haglikste omstandighede in die tronk met oortuiging sê:

“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby” (Fil. 4:4-5).

Petrus sluit ook hierby aan, en sê dat ons ons met ‘n onuitspreeklike en heerlike blydskap in die Here moet verbly (1 Pet. 1:8). Vervul die blydskap en vriendelikheid van die Heilige Gees jou lewe? Of het jy dalk nog ‘n ongetemde temperament wat baie maklik deur die sielevyand tot onbeheerste uitbarstings opgesweep kan word?

LIGGAAM

Die mens se liggaam moet ook geheilig en aan die Here diensbaar gestel word. Juis hierom val die duiwel ook ons liggame aan en moet dit teen sy ondermyning beskerm word. Die volgende drie aspekte van die liggaam is in hierdie verband ter sake:

Sintuie

Die vyf sintuie van die liggaam is poorte waardeur ‘n groot verskeidenheid invloede op jou kan inwerk. Die gehoor is die deur waardeur inligting oor die waarheid én die leuen tot die mens se verstand kan kom. Die oë is ewe belangrik vir die inneem van inligting in visuele vorm, insluitende al die begeerlikhede wat die wêreld aanbied. Die smaak-sintuig staan in verband met dit wat jy eet en drink, en word soms deur die reuksintuig aangehelp. Die gevoel-sintuig staan met ‘n groot verskeidenheid liggaamlike ervarings in verband. Om klaarblyklike redes moet Christene wie se liggame ook aan die Here gewy en geheilig is, ‘n groot mate van selfbeheersing beoefen om nie deur sintuiglike ervarings en gewaarwordings te sondig nie.

Fisiologie

Die gesonde funksionering van die mens se liggaam is ‘n baie belangrike bate en ‘n groot seën van die Here. Om gesond te wees en die volle potensiaal van jou liggaam te kan benut, is inderdaad ‘n voorreg. Siektes, ongelukke en ander fisiese terugslae is bekende tegnieke van Satan om ons te benadeel en minder bruikbaar in die diens van die Here te maak. Daar is baie oorsake van siektes wat nie na die duiwel herlei kan word nie, maar daar is beslis ook gevalle waarin ‘n gees van krankheid oor mense kom, gepaard met ander tekens van valse persepsies en bose beïnvloeding. Jou liggaam moet onbesmet en geheilig wees sodat dit as ‘n welgevallige offer in die diens van God gestel kan word. Om hierdie rede moet ons van enige besmetting van die wêreld en die sonde af wegvlug.

Ledemate

Die ledemate is die vermoë van jou liggaam om dinge te doen goed óf sleg. Jy kan werk, skryf, praat, dink en verskillende dinge met jou liggaam doen. Soos wat jy voor jou bekering sonde met jou liggaam gedoen het, moet jy nou die Here daarmee dien:

“Laat die sonde dan in julle sterflike liggaam nie heers dat julle aan sy begeerlikhede gehoorsaam sou wees nie. En moenie julle lede stel tot beskikking van die sonde as werktuie van ongeregtigheid nie, maar stel julleself tot beskikking van God as mense wat uit die dode lewend geword het, en julle lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God” (Rom. 6:11-13).

Die duiwel sal jou aktief probeer verlei om sonde met jou liggaam te doen, maar jy moet hom weerstaan en hou by die feit dat jou liggaam nou aan God behoort:

“Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed” (Rom. 12:1-2).