6. Hoe om Geheilig te Word

Sleutelteks

"En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak" (1 Thess. 5:23).

Sentrale waarheid

Oortuiging van behoefte is ‘n vereiste in jou persoonlike soektog na heiligheid.

Les

Psalm 51:4-9

            4 Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde.

            5 Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my.

            6 Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.

            7 Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

            8 Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend.

            9 Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu.

Romeine 12:1-2

            1 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens.

            2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Hebreërs 9:11-14

            11 Maar Christus, wat opgetree het as ‘n Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie,

            12 ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring.

            13 Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees,

            14 hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke om die lewende God te dien.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

Daar is verskillende tipes en simbole in die Bybel wat die ondervinding van heiligmaking illustreer. Een van hierdie tipes is die verlossing van Israel uit die Egiptiese slawerny en hulle reis na Kanaän. Die harde slawerny in Egipte is tipies van die lewe van die sondaar. Jesus het gesê: “Elkeen wat die sonde doen, is ‘n dienskneg van die sonde” (Joh. 8:34). Hy het egter gekom om die bande van sonde te verbreek: “As die Seun julle dan vrygemaak het, sal julle waarlik vry wees” (Joh. 8:36). God het die Rooi See geopen vir die bevryding van diegene wat deur Farao agtervolg is. Dit is tipies van Christus se verlossing van die berouvolle sondaar.

Die afstand van Egipte na Kanaän is ‘n heenwysing na die tyd tussen regverdigmaking deur die geloof en heiligmaking deur die geloof. Die kort tyd na Kanaän deur Kades dui op God se begeerte dat die gelowige gou tot die ervaring van heiligheid sal toetree. Die lang vertraging gedurende die volk se swerftogte deur die woestyn is tipies van die onnodige lang vertraging wat té veel mense tussen hulle bekering en heiligmaking ervaar.

Die deurtog deur die Jordaan en die ingang in Kanaän is tipies van die gelowige se toetrede tot die Kanaän van volmaakte liefde. Die deurtog na Kanaän is, soos die deurtog deur die Rooi See, ‘n daad van geloof. Die priesters moes vorentoe beweeg en hulle voete in die water sit voordat die Jordaanrivier geopen en die volk van God in staat gestel is om na die Beloofde Land deur te gaan.

Die melk en heuning, en die druiwe van Eskol (Num. 13:23-24) was ‘n tipologiese heenwysing na die goeie dinge wat die Here berei het vir dié wat geestelik vordering maak om na die volmaaktheid voort te gaan (Heb. 6:1). Dit is “die volle seën van die evangelie van Christus” (Rom. 15:29). Die toetrede tot hierdie ervaring is deur gehoorsaamheid, toewyding en geloof.

1. Die erkenning van jou behoefte (Psalm 51:4-9)

Was my heeltemal van my ongeregtigheid en reinig my van my sonde (v. 4). Psalm 51 is ‘n gebed – eerstens vir vergifnis met ‘n nederige belydenis van die sondige dade wat uit die bitter wortel van ‘n sondige natuur voortspruit, en tweedens vir hernuwing en heiligmaking deur die Heilige Gees. Hierdie psalm is in sy geheel aan God gerig. Die berouvolle siel het op grond van sy belydenis om vergifnis uitgeroep. Die intensiteit van sy oortuiging het verdiep terwyl hy die oorsprong van sy sondige daad in die besoedeling van sy natuur ontdek het. Dit het na ‘n ernstiger roep tot die Here aanleiding gegee. Die eerste smeekgebed was vir vergifnis en die tweede vir reinheid – vir hartsreiniging en die vernuwing van sy gees. Hoewel daar nie ‘n duidelike onderskeid tussen sy sondige dade en sy sondige natuur getref word, tussen die behoefte aan vergifnis en die behoefte aan reiniging nie, is daar ‘n duidelike vordering in sy gedagtegang van die versoek om vergifnis tot die versoek vir ‘n rein hart, asook die belofte om die Here te prys en sy lof te verkondig.

Want ék ken my oortredinge, en my sonde is altyddeur voor my (v. 5). Hier is die duidelike belydenis van ‘n behoefte – die erkenning van ‘n man wat nie die werklikheid van sy eie sonde kon ontken nie. Dawid het ‘n diepe oortuiging van sy veroorlowing van sonde gehad, van sy leuens, owerspel en uiteindelik moord. Hy het die worteloorsaak van hierdie oortredinge raakgesien en vir die Here gevra om hom te reinig. Hy het nie sy sondes toegesmeer of geregverdig nie, maar die diepte en omvang daarvan ten volle erken.

Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë (v. 6). Alhoewel ander mense in die proses grootliks benadeel is, word alle sonde wesenlik as oortredings teen God gesien, en Hý sal dit straf. Die tweede deel van hierdie vers kan volgens Moffatt vertaal word as: Ja, U is regverdig in u aanklag, geregverdig in u uitspraak.

Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang (v. 7). Die oortuiging van sy sonde het verdiep sodat Dawid nie alleen erken het wat hy gedoen het nie, maar ook sy sondige natuur erken het: hy is in ongeregtigheid gebore en in sonde ontvang. Sondige neigings is deel van die gevalle mensdom se natuur.

Kyk, U het ‘n welgevalle aan waarheid in die binneste (v. 8). Hierdie stelling kom uit die hart van Dawid, terwyl hy God ernstig in belydenis en bekering soek. Hy het geweet dat God waarheid en reinheid in alle mense se harte soek, en erken dat sy eie hart vals was.

Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees (v. 9). Hierdie oproep het betrekking op die seremoniële reiniging van mense wat van melaatsheid genees is (Lev. 14:1-9). Die besef van Dawid se geweldige onreinheid het hom na ‘n baie sterk reinigingsmiddel laat vra, soos dié wat ‘n melaatse nodig gehad het. Om van melaatsheid en die gevolglike uitgeworpenheid gereinig te word, was ‘n wonderlike transformasie. Om egter van sonde gereinig te word, is nog veel beter! Was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Dit druk die honger en dors van Dawid se siel uit om van die besoedeling van sonde bevry te word, asook sy volle afhanklikheid van God om die werk te doen. O, as al die nasate van Adam maar Dawid se voorbeeld wou volg om God vir die vergifnis en reiniging van hulle sonde te vertrou!

2. Die toewyding van ‘n lewe (Romeine 12:1-2)

Ek vermaan julle dan (v. 1). As die groot afleiding van die belangrike leerstellings van regverdigmaking en heiligmaking wat in die vorige elf hoofstukke van Romeine geleer is, vermaan Paulus die broeders om hulleself in die geloof aan God toe te wy.” …by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. Die apostel begin met die idee van ‘n volkome toewyding. Dit behels die opoffering van jouself aan God in liefde. Dit is die basiese morele beginsel van die Christen in die Nuwe Testament. Hierdie toewyding is absoluut, deurdat dit ook die liggaam insluit. Hierdeur word die toewyding van die gees en siel as ‘n vooronderstelling aanvaar. Dit is alleen in hierdie absolute volkomenheid van toewyding aan God dat die betekenis van die begrip ‘toewyding’ verstaan moet word. Die Here verwag van elkeen van ons om alles te gee.

En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is (v. 2). Dit is ‘n wonderlike ideaal in die Christelike etiek om só te kan lewe. Dit is nog wonderliker dat genade hierdie ideaal binne die bereik van diegene gestel het wat hulleself as lewende offers aan God bied. Dit is die patroon en die dinamiek van die Christelike etiek. Wat totaal onmoontlik was vir dié mense wat slegs ‘n stel reëls het om na te streef, is vir ons moontlik deur die herskeppende krag van die Heilige Gees.

3. Die reiniging van die hart (Hebreërs 9:11-14)

Maar Christus, wat opgetree het as ‘n Hoëpriester van die toekomstige weldade, het deur die groter en volmaakter tabernakel wat nie met hande gemaak is nie, dit wil sê, wat nie aan hierdie skepping behoort nie, ook nie met die bloed van bokke en kalwers nie, maar met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring (v. 11-12). Die doel met godsdiens is om die mens met ewige realiteite in verbinding te stel. Dit was wat die diens van die tabernakel veronderstel was om te doen, maar die aardse tabernakel en sy diens was maar flou afbeeldings van die werklike Tabernakel en sy diens. Slegs die werklike Tabernakel en sy diens kan toegang tot die werklikheid gee. Daar kan geen godsdiens sonder ‘n offer wees nie. Reinheid is iets wat kosbaar is, en toegang tot God vereis reinheid; daarom moet die sonde van die mens versoen word, en moet hy van sy onreinhede gereinig word. Voordat dit gebeur, kan daar geen toegang vir die mens tot God wees nie. Met hierdie feite in gedagte, wys die skrywer van die brief aan die Hebreërs dat die Here Jesus die enigste Hoëpriester is wat ‘n offer kon bring om die weg tot God te open, en daardie offer is Hyself.

Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ‘n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus… (v. 13-14). Hier verwys die skrywer na die offer wat die Jode onder die ou verbond met God gebring het. Nadat hy die aandag gevestig het op die feit dat hierdie offers ‘n skaduwee, of beeld, van die ware offer is, gaan hy voort om te sê dat die offer wat Jesus gebring het, veel groter en meer doeltreffend is. …wat Homself deur die ewige Gees… Verwysing word hier na die Heilige Gees gemaak wat deel van die Drie-eenheid is. Christus het die Heilige Gees as deel van sy persoonlikheid gehad. Daar was dus nie ‘n wetlike meganisme aan die werk in Jesus se offer nie, maar die Gees van God. Sy dood aan die kruis was nie ‘n voorgeskrewe ritueel wat Hy moes uitvoer nie. Dit is gedoen omdat die wil van Jesus ter wille van die mens aan die wil van God gehoorsaam was. [Hy het Homself] aan God sonder smet geoffer. Deur sy sondelose lewe en offerdood het Christus die Allerheiligste betree. Hierdie voorsiening is gemaak om julle gewete [te] reinig van dooie werke om die lewende God te dien. Die “gewete” is deel van die siel van die mens wat deur sonde besoedel is. Die reiniging daarvan vind plaas wanneer ‘n weergebore persoon die ondervinding van volkome heiligmaking deelagtig word, wat die reiniging van sy hart in ‘n tweede genadewerk is.

Kommentaar oor die Sleutelteks

En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak (1 Thess. 5:23).

Dit is ‘n wonderlike ervaring wanneer die heilige Christus met sy wet van geregtigheid aan die deur van die menslike siel klop, en die heerser, die menslike wil, die sleutels bring en die deur oopsluit vir Hom wat magtig is om te red. Die swart banier van sonde word afgetrek en die kruis opgerig. Die persoon is onder ‘n nuwe regering – daar is nuwe wette, ‘n nuwe lewe, en nuwe vreugdes. Daar is egter nog steeds ‘n rebel in sy lewe wat hom in ‘n vesting ingrawe en weerstand teen die Redder bied. Die persoon is lojaal, maar niks is veilig solank as wat die rebel nie onttroon is nie. Hierdie vesting van die oue mens moet ingeneem en vernietig word, en die hele hart en lewe van die persoon aan die Oorwinnaar, Jesus Christus, oorgegee word (P.F. Bresee).

Toewyding begin onmiddellik in die nuwe gelowige se lewe. Hierdie toewyding moet volkome wees volgens die lig wat hy het. Wanneer hy na volkome heiligmaking soek, sal die Heilige Gees aan hom verdere terreine vir dieper toewyding in sy lewe wys, waarvan hy vantevore nog nie bewus was nie.

Vanaf die dag van sy bekering moet die gelowige tree vir tree in die lig wandel. Sy vooruitgang sal hom na hoër geestelike vlakke van ontwikkeling lei. Daardeur heilig hy homself in die diens van God. Hy het vrede in sy hart en alles gaan goed. Dan kom daar egter ‘n dag wanneer hy van vleeslike neigings in hom bewus word. Dit verhinder sy geestelike groei, en hy begin ernstig te bid om van die natuur [of wet] van sonde in hom verlos te word. Hierdie geseënde verlossing kom wanneer hy in die geloof “die belofte van die Vader” aanneem en vir selfsugtige ambisies sterf – “gekruisig met Christus.”

Hoe wonderlik is dit nie wanneer die bloed van Christus die hart reinig en die Heilige Gees dit met Homself vervul nie! Die getuienis van die Heilige Gees bevestig ook die werklikheid van volkome heiligmaking in ons harte.

Om volkome heilig te wees, sluit die heiliging van die hele mens in – gees, siel en liggaam:

1.   Die gees. Die onweergebore mens is geestelik dood. Wanneer hy weergebore word, plaas die lewendmakende Gees van God ‘n nuwe lewe in hom, sodat hy daarna iets het wat hy nie met sy eerste geboorte gehad het nie – geestelike lewe. In volkome heiligmaking word sy lewende gees deur God se Gees van heiligheid vervul en geïnspireer.

2.   Die siel. Met bekering gaan die siel oor na God, al sy vermoëns word aan die Heilige Gees dienstig en hy word vir die eer van die Here gebruik. In volkome heiligmaking word die siel geheel en al van sonde bevry en met God gevul.

3.   Die liggaam. Ware heiligheid sluit ook die liggaam in. Die liggaam self het nie ‘n morele ingesteldheid nie, en is tot sonde én heiligheid in staat. As deel van ons totale wese, in samehang met die gees en die siel, kan die liggaam vir sondige of heilige gebruike aangewend word. In ‘n Christen se lewe is sy liggaam ‘n tempel van die Heilige Gees, en die tempel van God moet heilig wees. Om volkome heilig te wees, moet ons ook van alle besoedeling van die vlees gereinig word. Die sterflike liggaam wat deur die inwoning van die Heilige Gees lewend gemaak is, moet as ‘n heilige en aan God welgevallige offer in sy diens gestel word. In die wyse waarop ons eet, drink, aantrek, wandel, kyk, praat en hoor moet God ook deur ons heiligmaking verheerlik word (Edward. F. Walker).

Leerstellige Bespreking

Enige werk van genade word nie deur ons gedoen nie, maar deur die Here (Ef. 2:8-9).

Daar is ses progressiewe gebeurtenisse in ons geestelike lewe wat ons na die toestand van volkome heiligmaking lei. Hulle is:

1. Ons moet van die werklikheid van vleeslikheid bewus wees.

Daar is twee uitstaande voorbeelde hiervan in die Ou Testament. Die eerste is dié van Jesaja, wat die openbaring van sy behoefte in die sterfjaar van koning Ussia gedoen het (Jes. 6:1). In daardie jaar het hy die Here in sy heerlikheid gesien en ook van sy eie vleeslike toestand bewus geword:

"Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die Here van die leërskare, gesien!" (Jes. 6:5)

In die volgende twee verse vind ‘n reiniging plaas waarin sy ongeregtigheid weggeneem en sy sonde versoen is. Dit is duidelik dat Jesaja voor hierdie ondervinding ‘n verhouding met God gehad het, en dat hierdie ‘n verdere ondervinding was wat hom vir die diens van die Here gereed gemaak het (Jes. 6:8). Dit dui beslis op ons ondervinding van volkome heiligmaking. Dit is baie moontlik dat Jesaja deur die geloof ‘n toekomsblik op die kruis gehad het, en die voordele wat dit vandag vir ons bring.

Die tweede voorbeeld is dié van Dawid, wat sy sondes in Psalm 51:6 bely het. Daarna sê hy dat hy met ‘n sondige natuur gebore is (51:7): “In ongeregtigheid is ek gebore.” Hy het verder in hierdie psalm die begeerte uitgespreek dat sy ongeregtighede uitgewis en dat daar in sy binneste ‘n rein hart geskep moes word.

Baie voorbeelde kan uit die Nuwe Testament gegee word. Die een is dié van die dissipels. Hulle het vir tien dae lank voor Pinksterdag hulleself verootmoedig en gebid, en was beslis van hul behoefte aan vervulling met die Heilige Gees bewus. Hulle behoefte is vervul! Die gelowiges in Éfese is deur die Here “lewend gemaak” (2:1). In die volgende hoofstuk bid Paulus dat hulle met “al die volheid van God” vervul sou word (3:19). Daardie gebed sou nie beantwoord word as hulle nie hulle behoefte aan ‘n tweede genadewerk besef het nie.

2.   Die besef van die moontlikheid van ons persoonlike verlossing van vleeslikheid is ‘n vereiste.

Geen werk van genade kom na enigeen wat nie daarna “honger en dors” nie.

3.   Ons moet ons van ons vleeslikheid bekeer.

Bekering impliseer dat nadat ek my behoefte aan volkome heiligmaking besef het, ek my voor God sal verootmoedig en uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?” (Rom. 7:24). Miskien is dit die gebed wat deur Romeine 6:6 beantwoord kan word: “Aangesien ons dit weet dat ons oue mens saam gekruisig is, sodat die liggaam van hierdie sonde tot niet gemaak sou word en ons nie meer die sonde sou dien nie.”

4.   Ons moet op die Heilige Gees vertrou om ons van die vleeslike natuur te verlos.

Romeine 15:16 beskryf hierdie ondervinding as “geheilig deur die Heilige Gees.” 1 Petrus 1:2 sê ons is “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees.” Romeine 12:1 beklemtoon die feit dat ‘n deeglike toewyding ‘n voorvereiste is om volkome heiligmaking te ontvang. Die dood van die vleeslike self is die gevolg van hierdie toewyding.

5.   Ons moet geloof in God se Woord hê wanneer die vereistes wat die Heilige Gees deur sy oortuigingswerk stel, nagekom is.

Dit sal niks help om na ander mense te luister wat sê dat ons net die seën “in die geloof” moet aanvaar, terwyl daar in ons binneste nog ‘n bewustelike onrustigheid en twyfel is of ons ten volle aan die Heilige Gees gehoorsaam is nie. Was jou belydenis volkome en het jy volledig met die ou, sondige natuur gebreek? Die Here sal óf hierdie werk vir jou doen, óf jou oortuig van dié dinge wat nog tussen julle staan. Hy ken jou hart. Ons lees in Handelinge 15:8: “En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk.”

6.   Daar vind ‘n openbaring aan ons plaas van die afgehandelde werk.

Jy sal weet wanneer die werk van volkome heiligmaking gedoen is. Ek glo dat Romeine 8:16 nét soveel op die tweede genadewerk as op die eerste betrekking het. Die Heilige Gees sal saam met jou gees getuig dat jou saak met God in alle opsigte reg is. (Tot sover die ses stappe).

In Paulus se gebed aan die Efésiërs word die basiese aspekte van die ondervinding van volkome heiligmaking aangedui: “Dat Hy aan julle mag gee… om met krag versterk te word [die kruisiging word deur die krag van God aan die wagtende siel bedien] deur sy Gees [ons het nie krag om onsself te heilig nie; die Heilige Gees doen die werk] in die innerlike mens [sondes is uiterlik, maar sonde is ‘n innerlike hartstoestand waarmee daar gehandel moet word]” (Ef. 3:16). Die heerlike gevolge van hierdie innerlike werk van hartsreiniging word in die volgende drie verse bespreek (Ef. 3:17-19).

Uit Efésiërs 3:16 is dit duidelik dat volkome heiligmaking die gevolg van ‘n aandoening met krag uit die hoogte is, wat die werk van die Heilige Gees in die innerlike mens is.

Die kern van die saak van heiligmaking is dat ons in die lig van ‘n ondervinding van wedergeboorte moet wandel, totdat die Heilige Gees ons van die besoedeling van die hart oortuig en ons duidelik na die volgende ondervinding lei. Die tydsduur tussen die twee ondervindings mag verskil, want dit hang af van hoe die Gees met elke persoon werk om sy hart vir dié stap voor te berei. Dit is waarom dit nie wys is om na ‘n ander persoon se getuienis te luister, en dan die manier waarop hy die ervaring ontvang het, in ons lewe na te boots nie. Ons persoonlikhede is so uniek soos ons vingerafdrukke, en die Here weet hoe om elkeen van ons tot by hierdie stap te lei. Ons moet egter die algemene beginsels ken wat na hierdie ondervinding in ons lei, en nie die oortuigingswerk van die Heilige Gees teëstaan nie.

Vrae en Antwoorde

Die volgende vrae en antwoorde het betrekking op die onderwerp oor hoe ‘n mens geheilig word:

1.   Wat is sommige van die voorvereistes vir volkome heiligmaking?

‘n Persoon moet eers gered word voordat hy geheilig kan word. Die Heilige Gees sal in sy heiligmakende krag slegs die harte van gelowiges vervul – nie dié van sondaars nie (Joh. 14:16-17). Baie van die mense wat na heiligmaking soek, is nog nie gered nie en moet eers na redding soek.

‘n Persoon moet van sy behoefte aan volkome heiligmaking oortuig wees. Psalm 51:4-9 verwys hierna. 1 Thessalonicense 4:3 sê vir ons dat heiligmaking God se wil is. Wanneer die Here ‘n persoon van sy behoefte aan heiligmaking oortuig, moet hy dit soek totdat hy dit kry. As hy dit nie doen nie, dan weerstaan hy God se wil vir sy lewe, en dit is ‘n sonde van ongehoorsaamheid. Só ‘n persoon val uiteindelik terug.

Ons moet die begeerte hê om geheilig te word. Mattheus 5:6 sê dat diegene wat honger en dors na die geregtigheid, versadig sal word.

2.   Kan ‘n persoon maar aanhou om te sondig nadat hy gered is, terwyl hy nog wag om geheilig te word en dan eers met sonde klaar te kry?

Sekerlik nie! Die Bybel sê vir ons: “As iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor. 5:17). Dit beteken nie dat alle jong bekeerlinge al die lig sal hê wat ouer Christene het nie. Oor sekere sake mag hulle dalk onderling verskil. Om egter met God gemeenskap te hê, moet hulle in die lig wandel wat Hy aan hulle gegee het. As hulle dit nie doen nie, dan oortree hulle moedswillig God se wet. Volgens 1 Joh. 3:4 is dit sonde. Jy kan nie aanhou sondig en dan nog gered bly nie. As jy ongered is, dan is jy volgens Joh. 14:16-17 nie ‘n kandidaat vir die vervulling met die Heilige Gees nie. Ons moet klaarkry met sonde as ons gered is. Indien ons wél sondig, dank God, “ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige” (1 Joh. 2:1). Ons kan onmiddellike verlossing soek en kry, en dan met ons Christelike lewe voortgaan.

3.   Wanneer moet ‘n gelowige geheilig word?

So gou as wat hy sy behoefte hieraan besef.

4.   Wie doen die werk van heiligmaking?

Slegs die Here kan heilig maak: “Daarom het Jesus ook, om die volk deur sy eie bloed te heilig, buitekant die poort gely” (Heb. 13:12).

5.   Watter stappe moet ‘n gelowige volg om volkome heilig gemaak te word?

Toewyding is wat elke gelowige moet doen om geheilig te kan word. Wanneer hy van sy behoefte aan heiligmaking bewus word, moet hy tot God bid en alle aspekte van sy lewe aan God oorgee. Toewyding beteken om aan God die beheer oor jouself, jou gesin, jou werk, jou tyd, jou geld, jou houdings en gedrag te gee – kortom oor alles nou én in die toekoms. Niks kan teruggehou word nie, want God wil volle beheer hê. Dit is soos om aan God ‘n blanko kontrak te gee en jou naam onderaan te teken. Hy sal dan die detail invul. Die gelowige kan die Here vra om sy hart van ingebore sonde te reinig en hom dan met sy teenwoordigheid te vul. Die gelowige kan in die geloof hierdie tweede werk van genade in sy hart toeëien.

6.   Hoe kan ‘n mens weet wanneer jy geheilig is? Watter reaksies en gevoelens kan jy verwag wanneer heiligmaking verkry is?

Wanneer ‘n soeker alles gedoen het wat God vereis, en in die geloof heiligmaking toegeëien het, sal die Here een of ander tyd aan hom die getuienis in sy hart gee dat die werk gedoen is.

‘n Soeker moet nie enige spesiale gevoel, emosie of reaksie verwag nie. Ons word deur ‘n daad van geloof geheilig – nie deur sekere werke soos skreeu, huil, lag of om net passief te sit nie. ‘n Gevoel mag kom, of dit mag dalk glad nie kom nie. Sommige huil en ander skreeu van vreugde, terwyl andere heel kalm bly. Die reaksie heilig jou nie. God heilig diegene wat die nodige geloof en gehoorsaamheid beoefen.

7.   Hoe lank moet jy na heiligmaking soek?

So lank as wat dit neem om dit te kry! Sommiges onderwerp hulleself gou in die geloof aan die Here en neem die ondervinding binne sekondes, of in net enkele minute, aan. Andere is weer verward en het probleme om hulleself aan God se wil oor te gee, en dit neem hulle langer. God kyk nie na die horlosie of kalender nie – net na jou hart.

8.   Waar kan jy geheilig word?

Enige plek waar jy aan God se voorwaardes voldoen – in die kerk, by die huis, by die skool, by die werk, in jou motor, by ‘n kamp – enige plek.

9.   Hoeveel keer moet ‘n persoon in sy lewe geheilig word?

Alle gelowiges moet ten minste een keer geheilig word, omdat almal die innerlike neiging het om te sondig. Indien ‘n persoon egter terugval en sy geestelike stand voor die Here verloor, kan hy na sy aanvanklike sondige toestand terugkeer, en selfs erger. As hy weer gered word, dan moet hy weer van voor af geheilig word. Heiligmaking word nie deur ‘n teruggevallene behou nie. Wanneer hy sondig, is hy nie meer aan God se wil vir sy lewe toegewy nie, en kan dus nie heilig wees nie.

10. Waarom moet ‘n mens geheilig word?

a.   Omdat dit God se wil is (1 Thess. 4:3).

b.   Omdat dit jou met krag beklee om die Here te kan dien (Hand. 1:8).

c.   Dit help om jou gered te hou, omdat jou wil aan God se wil toegewy is.

d.   Dit maak ‘n intiemer, voller en dieper wandel met die Here moontlik.

Volkome heiligmaking is ‘n vereiste vir die kind van God. Tóg is dit ook ‘n wonderlike voorreg! Wanneer daar aan God se voorwaardes voldoen word, kan gelowiges onmiddellik, definitief en heerlik geheilig word – ook in ons tyd!