"Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons" (Joh. 17:11).
God het bepaal dat die bruid van sy Seun heilig moet wees.
Efésiërs 5:25-27
25 Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het
26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die Woord,
27 sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees.
Johannes 17:15-21
15 Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose bewaar.
16 Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.
17 Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.
18 Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur.
19 En Ek heilig Myself vir hulle, sodat hulle ook in waarheid geheilig kan wees.
20 Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo –
21 dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.
1 Thessalonicense 3:11-13
11 Maar mag onse God en Vader self en onse Here Jesus Christus ons weg na julle toe rig;
12 en mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal, soos ons ook teenoor julle is,
13 sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader by die wederkoms van onse Here Jesus Christus met al sy heiliges.
Die gesin en die kerk is albei instellings van God vir die voortsetting en bewaring van die mensdom in blydskap en heiligheid. Die welsyn van die mensdom is regstreeks van die krag en stabiliteit van hierdie twee instellings afhanklik.
Die Here het sekere riglyne vir die sukses en gesonde funksionering van die gesin en die kerk neergelê. As die gesin as instelling ooreenkomstig die planne funksioneer van Hom wat dit ingestel het, sal dit ‘n heilsame invloed op die samelewing hê. As die kerk die plan en doel wat die Here daarmee het, verwesenlik, sal dit ‘n hoogs suksesvolle instelling wees waarmee die belange van die samelewing gedien sal word.
Die kerk kan egter nie die samelewing dien deur met ander sosiale instellings mee te ding nie. Die funksie van die kerk is nie sosiaal nie, maar geestelik. As die kerk nie ‘n sterk geestelike impak op die samelewing het nie, dan bereik dit nie sy doel nie. ‘n Kerk wat met sosiale organisasies meeding deur balspeletjies, rolballigas, swemspanne, sopkombuise, basaars, danse, skaatsbyeenkomste, ens., te reël, is besig om die God-bepaalde redes vir sy bestaan te verwerp – óf hy het dit alreeds verwerp.
Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad het (v. 25). Paulus het nie eensydige of skewe sienings oor die gesin en die kerk gehad nie. In vers 22 het hy pas gesê dat vrouens aan hul mans onderdanig moet wees soos aan die Here. Sy vermaning was dat “soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees.” Indien die mans hulle vroue liefhet soos Christus die gemeente liefhet, sodat haar begeertes en blydskap altyd vir hom belangrik is, en indien die vroue aan hul mans onderdanig is soos die gemeente in liefdevolle toewyding aan Christus is, dan sal daar geen behoefte aan organisasies wees wat kompetisie en vyandskap tussen mans en vrouens aanmoedig nie. Christus het Homself [vir die gemeente] oorgegee. Mans moet hulleself vir hul vroue oorgee, en die vroue moet hulleself aan hul mans gee sodat hulle aan mekaar kan behoort. In hierdie opsig is die huwelik ‘n tipe van Christus en sy kerk. Die werkwoord “liefhê” is in die teenwoordige imperatiewe vorm, en beteken dat ons “moet aanhou om lief te hê.” Dit is ‘n voortgaande proses.
Om dit [die gemeente] te heilig, nadat Hy dit gereinig het (v. 26). Die hoofwerkwoord “heilig” dui hier op ‘n handeling wat plaasvind nadat die gemeente “gereinig” is. “Reinig” dui hier op die inisiële reiniging by wedergeboorte, en “heilig” op die tweede genadewerk van die reiniging van ingebore sonde (Beacon Bible Comm.).
Sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees (v. 27). Christus het Homself aan die kerk oorgegee om dit te heilig. Die doel hiermee is sodat hy die kerk in ‘n verheerlikte toestand voor Hom kan stel. Daar is ‘n noue verband tussen die heiligheid en die heerlikheid van die kerk. ‘n Kerk wat deur sonde en wêreldsgesindheid bevlek is, en rimpels het weens sy gebrek aan ontwikkeling, word beslis nie deur ‘n atmosfeer van heerlikheid gekenmerk nie. God se plan vir die kerk is dat die lede daarvan moreel, eties en geestelik suiwer en onbevlek sal wees. Enige vlekke van onreinheid sal die kerk daarvan verhinder om sy opdrag in die wêreld uit te voer.
Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegneem nie (v. 15). Christus se missie en doel vir sy dissipels is “in die wêreld.” Hulle sou nie hulle opdrag kon uitvoer as hulle uit die wêreld weggeneem word nie. Net so seker as wat hulle nie God se doel sou bereik as hulle uit die wêreld weggeneem word nie, sal hulle dit ook nie kan doen as hulle die wêreld in hulleself opneem en wêreldsgesind word nie. Om hierdie rede bid die Here Jesus dat sy Vader hulle van die Bose bewaar. Volgens hierdie gebed kan Christene enige plek in die wêreld die Here dien sonder om wêreldgelykvormig te word, indien hulle God sal toelaat om hulle van die bose wêreld te bewaar.
Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie (v. 16). Christus was, en is, uit pas met die gees van die wêreld. Diegene in wie Hy woon, ervaar dieselfde konflik met die gees van die wêreld. Wêreldsgesindheid is die teenoorgestelde van geestelikheid. Die gees van die wêreld is antagonisties teenoor die Gees van God. Dr. J.H. Jowett sê: “Wêreldsgesindheid is ‘n gees, ‘n temperament, ‘n houding van die siel.” Iemand het opgemerk dat alhoewel daar miljoene wêreldse kerklidmate mag wees, is daar nie een wêreldse Christen op die hele aarde nie. Jakobus 4:4 verklaar uitdruklik dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is. Dit is vyandskap teen God wat ‘n mens beïnvloed om selfs net te begeer om ‘n vriend van die wêreldse gees te wees. Christene moet nét so anders as die wêreld wees soos wat Jesus Christus was.
Heilig hulle in u waarheid (v. 17). Die Heilige Gees lei ons in die hele waarheid. Die waarheid lei ‘n mens daartoe om jou geestelike behoefte en verdorwenheid te besef, maar lei jou ook na die voorsiening van goddelike genade vir die reiniging van verdorwenheid en die vervulling van geestelike behoeftes. Die waarheid van God se Woord is altyd in harmonie met heiligheid en in opposisie teen die sonde.
Soos U My gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur (v. 18). Christus het aan sy volgelinge dieselfde verlossingsbediening opgedra as wat Hy gehad het toe Hy op aarde was. Hy het nie gebid dat hulle uit die wêreld weggeneem word nie, want Hy was van voornemens om aan hulle ‘n opdrag in die wêreld te gee. Hy wil hê dat die heiliges die lig van ‘n donker wêreld en die sout van ‘n bedorwe aarde moet wees. Hy het geen deel aan die idee om godsdiens in kloosters te isoleer, en sodoende kontak met die behoeftes van die wêreld te verwerp nie. Een van die groot aanklagte van die Fariseërs teen Jesus was dat Hy Homself nie [soos hulle] van ‘n groot deel van die samelewing onttrek het nie, maar inteendeel ‘n vriend van die tollenaars en sondaars was. Hy was as ‘n vriend van sondaars in die wêreld, maar nooit vriendelik teenoor die wêreldse gees nie. Hy wil hê dat sy volgelinge ook in die wêreld sal wees, maar nie van die wêreld nie.
En Ek heilig Myself vir hulle (v. 19). Hierdie vers beeld die dubbele betekenis van die woord “heiligheid” uit. Wanneer dit in verband met Jesus gebruik word, beteken dit om vir heilige doeleindes toe te wy en af te sonder. Dit het Christus gedoen toe Hy Homself sonder vlek aan God geoffer het as die versoening vir die sondes van die wêreld. Die doel van Christus se heiliging of toewyding [die offer van Homself] was dat Hy die gelowiges kon heilig of reinig van sonde, en dus vervolmaak: “Want deur een offer het Hy vir altyd volmaak die wat geheilig word” (Heb. 10:14).
Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo (v. 20). Dieselfde gebed wat die Here Jesus vir die vroeë dissipels gebid het, het Hy ook gebid vir almal in die wêreld wat deur hulle woord in Hom sou glo. Sommige van sy gebedsversoeke vir hulle was:
1. dat hulle met sy blydskap vervul sal word (v. 13);
2. dat hulle een sal wees (v. 11, 21-23);
3. dat hulle heilig sal leef (v. 17, 19);
4. dat hulle die doel van God vir hulle lewens in die wêreld sal vervul (v. 18-21); en
dat hulle in die hemel met Hom verenig sal word om sy heerlikheid te aanskou (v. 24).
Watter groot verantwoordelikheid rus daar nie op alle Christene om in die geloof toe te eien wat Christus vir hulle gebid het nie! Petrus gee die versekering dat hierdie beloftes aan almal toekom wat na die Here toe geroep word (Hand. 2:39).
Dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U (v. 21). Die eenheid wat Jesus vir sy volgelinge ten doel stel, het sy analogie in die eenheid van die Godheid – eenheid van doel, eenheid van aktiwiteit en eenheid van karakter. Dit moet oor veel meer as net eenheid in die groep gaan, anders sal die groep sy eie fluktuerende en uiteindelik vervallende standaard stel. Dit moet eenheid met God die Vader en God die Seun wees. As dit nie die geval is nie, dan is dit ‘n valse eenheid, want eenheid in sigself is nie ‘n deug as dit nie op ‘n waardige norm gebaseer is nie. Hierdie gebed vir eenheid word as ‘n sterk argument vir die ekumeniese vereniging van kerke gebruik, sonder om egter op die hoë standaarde te let wat die Bybel vir eenheid stel. Sekere kerkleiers propageer slegs organisatoriese eenheid en nie die teologiese ervaring van eenheid nie. Dit was egter nie Christus se doel met sy gebed nie, en is ook nie die beste toepassing vir hierdie gebed nie. Sonder om die waarde van Christelike eenheid te ontken, of dit organisatories is of nie, moet ware Christelike eenheid op ‘n belydenis van die Godheid van Jesus Christus en die genoegsaamheid van sy versoeningswerk gebaseer wees, en ook deur die antwoorde op die ander gebedsversoeke vir oorwinning en reinheid in die gebed van Jesus versterk word.
Maar mag onse God en Vader self… ons weg na julle toe rig (v. 11). Paulus weet hoedat die Here hom na die Christene in Éfese gelei het sodat hulle die Heilige Gees in sy volheid kon ontvang (Hand. 19:1-6). Hy het geglo dat God ook sy bediening onder die Thessalonicense sou seën.
Mag die Here julle ryk en oorvloedig maak in liefde vir mekaar en vir almal (v. 12). Slegs Christene in ‘n hoë toestand van regverdigmaking is geskikte kandidate vir die volheid van die seën van die evangelie in Jesus Christus.
Sodat Hy julle harte kan versterk om onberispelik te wees in heiligheid voor onse God en Vader (v. 13). Paulus het verskeie Christelike eienskappe in hierdie gemeente raakgesien (1:2-10). Ten spyte van hierdie eienskappe het hy agtergekom dat hulle ook nog ernstige geestelike behoeftes gehad het. Hy het begeer dat hulle heilig en onberispelik voor die Vader gestel sal word.
Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons (Joh. 17:11).
Hierdie versoek kom uit Jesus se hoëpriesterlike gebed vir sy dissiples, en is “ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo.” Dit sluit alle gelowiges in. Terwyl Jesus sy hart voor die Vader oopmaak, voel mens amper soos ‘n indringer wat net stil wil wegsluip. Die gebed is egter vir die gelowiges, en almal behoort hieraan aandag te gee. Baie van die las wat hierin uitgedruk is, was vir hulle eenheid. Jesus het geweet dat sonder dit, die doeltreffendheid van sy dissipels grootliks verhinder sou word. Hy het gebid dat sy volgelinge in die Naam van die Vader bewaar sou word. Dit sou baie verwarring uitskakel en eenheid in leerstelling en arbeid tot gevolg hê. Hy het ook vir hulle heiligmaking gebid. Dit sou die eenheid in gees en liefde bevorder.
Aan die begin van die kerkbedeling was “almal wat gelowig geword het, bymekaar” (Hand. 2:44). Die hele Christelike gemeenskap was soos een groot familie. Dit was ‘n natuurlike gevolg van die feit dat hulle uit die Gees gebore is, met die Gees vervul was en ‘n intieme verhouding met mekaar gehandhaaf het. Goddelike liefde het van die een hart na die ander gevloei. Hulle leer was dié van die apostels. Hulle het toe nog nie begin om geloofsformuliere en rituele in te stel wat verdeeldheid kon skep nie. Dit was die eenheid wat Jesus gebid het dat hulle [én ons] moet hê. Die Christene het uiteindelik weens die vervolging uit Jerusalem verstrooi geraak, maar oral waar hulle gekom het, het die plaaslike gelowiges ‘n gemeente gestig.
Dit is jammer dat hierdie eenvoudige Christelike eenheid opgehou het om te bestaan. Selfs in Paulus se dag het die gees van onenigheid al ontstaan (kyk veral 1 Kor. 1:12-13; 3:3-4). Hier het Paulus gou agtergekom dat hulle groot behoefte dié van heiligmaking was, want hulle vleeslikheid “onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie” (Rom. 8:7). Oral waar vleeslikheid sy lelike kop uitsteek, ontstaan daar ernstige probleme. Petrus, Paulus en Apollos was manne van God wat verenig in hulle poging vir Christus gestaan het: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei” (1 Kor. 3:6). Heiligmaking is ‘n sterk verenigingskrag. Neem vleeslike selfsugtigheid en bekrompenheid weg, en vervang dit met goddelike liefde. Watter ander gevolg kan dit hê as dat dit die harte van die gelowiges in Christelike liefde sal saambind?
In Johannes 17:21 bid Jesus verder vir die eenheid van die gelowiges, “sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het.” Met strydende faksies in die Christendom, groot verskille in leerstellings en standaarde, en die totale gebrek aan ‘n gemeenskaplike liefde, is dit geen wonder nie dat die wêreld in só ‘n toestand van godsdienstige verwarring en ongeloof is. As gevolg hiervan word baie van die Christelike pogings deur ‘n ongelowige wêreld geïgnoreer.
As Christene aan die einde van die 20ste eeu, laat elkeen van ons alles in sy mag doen om die heiligheid en eenheid te bevorder waarvoor die Here Jesus so ernstig gebid het. Terwyl ons dit doen, sal sommige van die verwarde en dwalende siele hopelik na die weg, die waarheid en die lewe gelei kan word.
· “Laat die kerk ernstig wees in sy soeke na groter heiligheid vir sy lede, dan sal die vraag gou beantwoord word of haar kragbron voldoende is om die wêreld te verander” (J.H. Thornwell).
· “As die kerk na sy volle statuur in God wil ontwikkel, as dit die oorvloedige lewe wil ervaar, as dit sy vyande in ‘n gees van oorwinning wil ontmoet, moet dit nie op sy getalle of vermoëns staat maak nie, maar op die krag van die Heilige Gees” (Arthur J. Moore).
Die kerk van die Here bestaan uit weergebore mense wat wandel in die lig wat aan hulle gegee word deur die Bybel, die bediening van die Heilige Gees, of deur watter ander instrument die Here verkies om lig aan mense te gee. Een van die belangrike gedeeltes in die Bybel waar die wil van God vir die kerk gevind kan word, is die hoëpriesterlike gebed van Jesus Christus in Johannes 17. In verband met die kerk, kan die gebed in drie dele verdeel word:
1. Heiligmaking vir elke gelowige (v. 17).
2. Vryheid van verdeeldhede (v. 21, 23).
3. Ingesteldheid op die kerk se hoofdoelwit (v. 21, 23).
Ten einde hierdie drie punte makliker te kan onthou, kan hulle só geformuleer word:
1. Eenheid in karakter.
2. Eenheid onder die lede.
3. Eenheid van doelstelling.
Let daarop dat daar nooit eenheid en harmonie in ons karakter sal wees totdat ons met al die volheid van God vervul is nie. Vier temas wat duidelik uit die boek Handelinge blyk, is: gebed, krag, reinheid en persoonlike getuienis. Wanneer hierdie vier elemente deel van ‘n persoon se lewe is wat van innerlike én uiterlike besoedeling gereinig is, dan het jy ‘n individu wat ‘n groot aanwins vir enige gemeente sal wees. Hy ís natuurlik ‘n lid van die groot Kerk van die lewende God!
Baie meer van ons is – om ‘n gunstige opmerking oor ons geestelike lewe te maak – steeds besig om ‘n dieet van melk te volg, lank nadat ons al gespeen moes gewees het! As gevolg hiervan is ons swak, wankelrige Christene wat met onvaste treë loop. In plaas dat ons soldate vir die kruis is, dra ons nog borslappies soos babas!
Iemand het gesê dat as God ‘n belangrike getuie in sy diens wil voorberei, dan begin Hy met dié persoon se ouma. Die plan vir heiligmaking in só ‘n persoon se lewe kan natuurlik deur sy vrye wil verydel word indien hy sou weier om die seën van heiligmaking te verkry waarvoor die Here Jesus gebid het. Só ‘n mens bevind homself in die toestand wat in Galásiërs 5:17 beskryf word: “Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.”
Solank as wat daar jaloersheid, twis en tweedrag in die hart verborge is, sal daardie persoon dit in die gemeente waaraan hy behoort, indra. Daar ís egter ‘n oplossing! Elke gelowige moet die ontvanger van Jesus se gebed in Johannes 17:17 wees. Dan sal hy nie meer in ‘n stryd met homself én met andere gewikkel wees nie.
Daar is ‘n eenheid onder die ware kinders van die Here wat bekoorlik is om te aanskou. Dit is dieselfde soort eenheid as wat verkry is toe die mure van Jerusalem herbou is. Die mense het een gemeenskaplike doel gehad, en dit was om te werk! Baie van ons het nog nie ons eng provinsialisme verwerp nie, gevolglik dink ons dat heiligmaking afsluiting van mekaar is, in plaas van afsluiting van die wêreld. Ons moet duidelik verstaan dat die wêreld, volgens Bybelse definisie, mense daarvan weerhou om Christene te word: “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie” (1 Joh. 2:15). Christene moenie ‘n minimum standaard daarvan maak om hulleself van die bose wêreld te distansieer nie. Wat die verwerping van vriendskap met die wêreld betref, moet ons sterk en verenigd staan.
Daar is natuurlik sake waaroor Christene met mekaar sal verskil totdat ons harte en koppe in ons opstandingsliggame volmaak sal wees. Sulke verskille verbreek nie ons liefde vir mekaar nie, en weerhou ons ook nie daarvan om in sekere areas waar ons kan, met mekaar saam te werk nie. Die betekenis van ‘n heilige kerk word in dié opmerking vervat: “Kyk hoe lief het hulle mekaar.”
Eenheid in verskeidenheid is ‘n baie sterker eenheid as ‘n eenheid wat geen individuele opinies duld nie.
Daar is iets verkeerd met iemand wat altyd neerhalende opmerkings oor homself maak, asook oor die ware kerk as die liggaam van Christus.
Gelowiges wat een van gees is, is ‘n mooi simbool van die Drie-eenheid. Wees daarvan verseker dat die ware kerk in stand gehou sal word totdat die Here Jesus kom! Die jammerlike saak is dat baie kerklidmate dit in daardie dag nie sal maak om hemel toe te gaan nie, want al hulle werke sal verbrand en hulle invloed as nutteloos geopenbaar word.
Miskien het ons vergeet waarom die kerk heilig en eensgesind moet wees! Dit is omdat die sondige wêreld moet besef dat Jesus die Christus is, dat God hulle liefhet en dat Hy hulle siele wil red. ‘n Heilige kerk sal ‘n hemelse invloed hê.
Daar is ‘n eenheid in doelstelling onder dié wat met die Heilige Gees vervul is. Jy kan nie teen seminare gekant wees waar mense geleer word om sielewenners te wees nie. Dit behoort egter ons groot begeerte te wees dat gebed, wat tans so afgeskeep word, weer ‘n belangrike aktiwiteit sal word om op die redding van sondaars en ander probleme van die behoeftige wêreld te fokus.
Wanneer daar ‘n eenheid van gelowiges was – in hulleself én in die korporatiewe liggaam van Christus – was daar ‘n toonbeeld van God se teenwoordigheid en instemming gewees wat deur die redding van siele gevolg is. Hierdie reël geld vandag nog steeds, en kan nie deur publisiteit en menslike pogings vervang word nie.
‘n Gemeente wat waarlik groot wil wees in die oë van die Here, wy homself ten volle aan die Here toe. Hy onttrek homself van die wêreld en sy modes en giere. Sy lede lei ‘n afgesonderde lewe en het geen plek vir wêreldsgesindheid en menslike aspirasies nie. Hulle lojaliteit lê by die Here, by sy Woord en by sy kerk.
Die volgende vrae en antwoorde het op die behoefte aan heiligmaking in die kerk van Christus betrekking:
1. Wat is die kerk?
Dit is die liggaam van Christus (Kol. 1:18, 24; 1 Kor. 12:27). Dit is die liggaam van gelowiges wat uit baie lede bestaan (Rom. 12:5). Dit is ‘n woonplek van God (Ef. 2:22).
2. Hoe word ‘n mens ‘n lid van God se kerk?
Jy moet uit die Gees van God gebore word (1 Kor. 12:13; Ef. 2:18-22). Net op hierdie manier word jy ‘n ware Christen. Let asseblief daarop dat niemand deur kerklidmaatskap alleen gered kan word nie (Ef. 2:8-9). Dit is slegs op grond van jou redding dat jy ‘n lid van die kerk van die lewende God word.
3. Hoe kan ‘n mens weer uit die kerk van God gaan?
Deur te sondig en terug te val (1 Joh. 3:6-10).
4. Wat is die doel van die kerk?
a. Om ‘n kollektiewe groep in staat te stel om te doen wat vir ‘n individu prakties onmoontlik is, bv. om sendelinge oorsee te stuur.
b. Om die lede op te lei en toe te rus (Ef. 4:12).
c. Om andere te bedien (Hand. 6:1-3; Matt. 20:26-28).
d. Om te evangeliseer (Mark. 16:15).
e. Om die Woord van God te leer (Hand. 4:18-20; 2:42; 2 Tim. 2:2).
f. Om die gelowiges te bemoedig (Heb. 10:24-25).
g. Om vrugte te dra (Joh. 15:2, 5, 8; Hand. 2:41).
h. Om die gelowiges te vermaan (Heb. 3:13; 10:25).
i Die kerk moet die lewens van andere raak!
5. Hoe kan die kerk se rol vervul word?
a. Daar moet ‘n begeerte onder lede wees om aan die koninkryk van die hemel te bou.
b. Elke lid moet met die Heilige Gees vervul wees om werklik doeltreffend te kan wees (Sag. 4:6). Die Nuwe Testamentiese kerk was ondoeltreffend totdat dit met die Heilige Gees vervul is. Dink maar aan Petrus se lewe voor en ná Pinksterdag (Matt. 26:69-75; Hand. 2).
c. Daar moet eenheid wees. Die Nuwe Testamentiese kerk was nie vervul voordat hulle eendragtig was nie – toe was hulle doeltreffend (Hand. 2:1-4, 41).
d. Lewens van geloof moet gelei word (Gal. 3:26; Rom. 1:17; 1 Joh. 5:4).
e. Daar moet ‘n visie wees van wat om te doen en hoe om dit te doen (Spr. 29:18).
f. God moet toegelaat word om die leiding te neem (Spr. 3:5-6).
g. Dit is soms goed om ongelukkig oor die huidige toestand in die kerk te wees – veral as dinge nie reg werk nie. Verandering ter wille van verandering net omdat dit deur sekere mense [of in ‘n boek] voorgestel word, is nie altyd wys nie. Slegs ‘n verandering van geestelike ondoeltreffendheid na geestelike lewe, krag en vrugbaarheid is aanvaarbaar.
h. Die prediker en die gemeente behoort dieselfde oortuiging te hê oor wat gedoen en hoe dit gedoen moet word. Baie gebed is noodsaaklik. Goeie kommunikasie en die bereidwilligheid om te gee en te neem vir die uiteindelike verwesenliking van God se plan, is noodsaaklik. Die bereidwilligheid om die leraar óf ‘n gewone lid se eie program ter wille van God se plan op te offer, kan baie help om geestelike vooruitgang te verseker.
i. Onthou altyd dat al die eer vir vooruitgang net aan God toekom – nie aan ‘n mens nie (2 Kor. 10:17).
6. Hoekom moet ‘n mens kerk toe gaan?
a. Die Bybel beveel dit (Heb. 10:25).
b. Om God te dien en van Hom te hoor (Ps. 122:1, 4).
c. Om vir jou daaglikse lewe uit God se Woord te leer (Hand. 15:35; 1 Kor. 1:21; Titus 1:3).
d. Om die liggaam van Christus toe te rus en te vermaan (Ef. 4:12; Heb. 10:25).
e. Om vir ander ‘n voorbeeld te stel, want niemand van ons behoort net vir homself te leef nie (Rom. 14:7; 1 Tim. 4:12). Terwyl ons ander help, trek ons ook self voordeel uit die feit dat ons in die kerk is.
7. Wat is die kenmerke van ‘n Geesvervulde kerk?
a. Dit is aan Christus onderworpe (Ef. 5:24).
b. Dit het geestelike krag. Daar is ‘n aanvoelbare teenwoordigheid van God in die eredienste, en dit is in die lewens van die lidmate werksaam (Hand. 1:8; 1 Thess. 1:5).
c. Evangelisasie word onder die verlorenes gedoen (Mark. 16:15).
d. Dit het ‘n bediening ten opsigte van die behoeftes van andere (Matt. 20:26-28; Hand. 6:1-3).
e. Daar is eenheid en harmonie (Hand. 1:14; 2:1, 46; 5:12; Ps. 133:1).
f. Dit reel spanwerk om sy funksies uit te voer (Ef. 4:11-16; Rom. 12:4-8).
g. Dit leer en bevorder Bybelse beginsels en waarhede. ‘n Geesvervulde kerk sal nie ‘n situasiegebonde en pragmatiese etiek aanvaar oor sake waaroor die Bybel duidelik uitgesproke is nie. Omstandighede en mense bepaal nie die korrektheid of verkeerdheid van ‘n saak vir die kerk nie. As God se Woord ‘n uitspraak daaroor gee, wie is die sterflike mens [of die kerk] om dit te weerlê en te verander? (1 Kor. 14:37; 2 Kor. 10:12; Gal. 1:9-12; 2 Tim. 3:16-17).
h. Daar word baie gebed deur sy lede gedoen (Hand. 1:14; 6:4; 12:5, 12).
i. Dit het ‘n liefde vir God én vir die mensdom (1 Joh. 5:1-2; 4:7-8).
j. Dit is afgeskeie van die wêreld in terme van lewenstyl, waardes, geloof en beginsels (Hand. 2:40; Rom. 12:2; 2 Kor. 5:17; 6:17).
k. Dit verhoog die Here Jesus en erken Hom as die Seun van God wat vir die sondige mensdom gekruisig is, wat uit die dood opgestaan het en nou vir ons intree, wat vir ewig lewe en weer terugkom om sy kerk te kom haal (Hand. 4:33; 5:29-32; 1 Joh. 2:22-24; 4:2-3; 5:6).
l. Dit het geloof in God en sy Woord (1 Joh. 5:4).
m. Dit rus sy lidmate toe (Ef. 4:12).
n. Dit het ‘n begeerte om versadig te word (Matt. 5:6).
8. Noem die gevolge van ‘n gebrek aan Geesvervulling in die belydende kerk
a. ‘n Gebrek aan gebed.
b. ‘n Gebrek aan Bybelstudie en die kennis van God se Woord.
c. ‘n Gebrek aan geestelike krag.
d. ‘n Lou geestelike toestand.
e. Die gebrek aan ‘n houding van aanbidding.
f. ‘n Gebrek aan sterk persoonlike oortuigings.
g. Die neiging om jou eie besluite te neem en deur te voer, in plaas van God se wil.
h. Die weiering om die volle evangelie te leer en te verkondig.
i. Die afskaling van geestelike standaarde.
j. Praat oor alles behalwe geestelike sake.
k. Skinder.
l. ‘n Gebrek aan belangstelling om God se wil vas te stel en dit te doen.
m. Ongereelde kerkbywoning.
n. ‘n Vorm van godsdiensbeoefening waarin daar geen ontmoeting met die Here is nie.
o. ‘n Gebrek aan eerbied in die kerk.
Dit lyk of die kerk kragteloos is. Dit is nie sterk genoeg om ‘n godgegewe sonde-oortuiging oor sondaars af te bid, of die oortuigings wat Christene elke dag nodig het nie. Die kerk het gevolglik verval in ‘n toestand waarin hy probeer om dinge op sy eie manier te verklaar, en daardeur gee hy implisiet die reg aan sy lidmate om te doen wat reg is in hulle eie oë. Die houding is: “Wie is ek om aan hom of haar te vertel wat reg of verkeerd is?” Die kerk het nie meer die geestelike krag om godgegewe lig oor ‘n saak af te bid nie. Die gevolg is dat standaarde oor verskeie sake afwaarts aangepas word.
9. Wat behoort gedoen te word om die kerk geestelik meer lewendig te maak?
a. Onthou die boodskap van Sagaria 4:6 en volg dit na.
b. Lees, bestudeer en volg die Woord van God na.
c. Honger en dors na die geregtigheid.
d. Vra die Here vir ‘n nuwe aanraking met krag uit die hoogte.
e. Raak ernstig met die Here.
f. Lei ‘n lewe van geloof.
g. Moedig individuele én groepsgebede aan.
h. Moenie net oor ‘n geestelike herlewing praat nie, maar handel daarvolgens!
i. Verwyder alle sondige gewoontes wat dalk in die kerk ingekruip het.
j. Soek, vind en volg God se wil.
Die kerk is die liggaam van Christus. Hy is die hoof, en die liggaam moet vrug vir sy koninkryk dra. Die wêreld word deur sonde verduister, maar as die kerk met die Heilige Gees vervul is, sal dit tot eer van die Here die lig van die wêreld wees. Sonder die Heilige Gees se krag sal die kerk geestelik swak wees. Dit is vir die kerk – individueel én kollektief – om te besluit waar hy staan!
Die kerk van God het sy ontstaan by die skepping, dit is ingestel ná die kruisiging en die uitstorting van die Heilige Gees, dit is geïnspireer deur die bloed van die martelare en is bestem om in die wegraping opgeneem te word. Dit is die kragtigste, rykste, vreedsaamste, hardwerkendste en vrygewigste organisasie in die wêreld.
Haar lidmate is koninklik weergebore, ‘n hoë adelstand, en hulle vorm deel van die mees verhewe samelewing wat daar ooit was. Daar is nie een sondaar in die kerk nie en nie een heilige daarbuite nie. Sy het meer huise gered, meer slawe vrygemaak, meer naaktes geklee, meer hongeriges gevoed, meer dors geles, meer donkaards nugter gemaak, meer tronke leeggemaak, meer siekes gesond gemaak, in meer behoeftes voorsien, meer toorn laat bedaar en meer konflikte opgelos as wat enige regering, polisiemag, welsynsorganisasie, spitsberaad of gewapende mag ooit gedoen het.
Haar banier wapper ver bokant die vlae van die beroemdste nasies en beskawings. Haar fondament is die sekerste en mees standvastige in die ganse heelal. Sy het meer verdrukking verduur, meer storms beleef, meer aanvalle weerstaan en meer antagonisme ervaar as enige ander organisasie – nogtans troon sy hoër as ooit bokant die besoedeling van die verdorwe wêreld uit.
Haar lede is die reinste, heiligste, vreedsaamste, nederigste, lankmoedigste en gasvryste mense, en tóg is hulle die mees gevreesde in die stryd, die gedugste vegters, die mees vasberade, gehardste en opofferendste mense wat daar ooit was. Hulle is verskeur deur leeus, het gesterf op pynbanke, en brandstapels, hulle het omgekom deur steniging, deur die swaard, deur koeëls en deur marteling. Wanneer die doodsengel hulle gefolterde en verminkte liggame opgeëis het, het hulle lofliedere tot die eer van hulle Skepper en Verlosser gesing.
In haar struktuur word die mees bevoorregte mense aangetref, die beste kanse op vooruitgang, die hoogste beloning vir arbeid, die grootste geleenthede vir diens, die wydste verskeidenheid loopbane, en die beste sekuriteit in enige organisasie. – The Church Herald