9. ‘n Heilige Lewe en die Wederkoms

Sleutelteks:

"En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is" (1 Joh. 3:3).

Sentrale waarheid

Die lewe van die gelowige moet gekenmerk word deur heiligmaking as hy vir die wederkoms van Jesus Christus gereed wil wees.

Les

1 Thessalonicense 5:8-11, 22-24

            8 Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.

            9 Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry deur onse Here Jesus Christus

            10 wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe.

            11 Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op, soos julle ook doen…

            22 Onthou julle van elke vorm van kwaad.

            23 En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!

            24 Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen.

2 Petrus 3:10-14

            10 Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.

            11 Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? –

            12 julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt.

            13 Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.

            14 Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede.

1 Johannes 3:1-3

            1 Kyk wat ‘n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie.

            2 Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is.

            3 En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.

Uiteensetting van die Les

Inleiding

In die vorige les is dit beklemtoon dat heiligheid ‘n fundamentele voorbereiding vir Christelike diens is. ‘n Mens kan nie sonder geestelike voorbereiding die geestelike take uitvoer wat God aan jou opgedra het nie. Daardie voorbereiding behels bekering van sonde, versoening met God deur die geloof, en reiniging sodat jy “’n voorwerp tot eer [kan] wees, geheilig en bruikbaar vir die Here, toeberei vir elke goeie werk” (2 Tim. 2:21). Jesaja het dieselfde beginsel vir aanvaarbare diens aan die Here neergelê: “Reinig julle, draers van die heilige voorwerpe van die Here!” (Jes. 52:11). Die Here Jesus het hierdie waarheid beklemtoon nadat Hy die Groot Opdrag aan die dissipels gegee het. Hy het “hulle bevel gegee om nie van Jerusalem weg te gaan nie, maar om te wag op die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het” (Hand. 1:4). Hy het hulle ook bevel gegee: “Julle moet in die stad Jerusalem bly totdat julle toegerus is met krag uit die hoogte” (Luk. 24:49).

In hierdie les handel die skrifaanhalings oor die feit dat volkome heiligmaking die gepaste geestelike voorbereiding vir die wederkoms is, wanneer die Here Jesus diegene sal wegraap wat rein van hart is. Dit is opvallend op hoe baie plekke in die Bybel die essensiële verband tussen morele reinheid en die wederkoms van Jesus Christus prominent genoem word. ‘n Paar van daardie plekke word in hierdie les in oënskou geneem.

1. Die regte voorbereiding (1 Thessalonicense 5:8-11)

Laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan (v. 8). Die gelowige word hier as ‘n soldaat voorgestel wat bewapen en reg vir die stryd is. In Efésiërs 6: 11-17 word die Christelike wapenrusting in groter detail bespreek, waar melding van sowel ofensiewe as defensiewe toerusting gemaak word. In hierdie vers noem Paulus die verdedigingswapens wat tot die beskikking van die Christen-soldaat is. Dit kan ook met die beeld in Romeine 13:12-14 in verband gebring word, waar hy daarop aandring dat Christene hulleself met die Here Jesus beklee. Dit kom ook daarop neer dat ‘n mens jou met die wapens van die lig beklee. Paulus se vermanings impliseer die waaksaamheid en militêre presisie van ‘n soldaat van Jesus Christus.

Want God het ons nie bestem tot toorn nie, maar om die saligheid te verkry (v. 9). Die gelowige se karakter, as ‘n goeie krygsman van Jesus Christus, moet in die lig van sy heerlike bestemming gesien word. Die gelowiges is nie net die kinders van die lig nie, hulle sal nie net die oordele van die dag van die Here ontvlug nie, maar hulle is ook bestem om die ewige saligheid deur Jesus Christus te verkry. Die ewige saligheid is die voorsiening wat God vir die mensdom gemaak het, vir wie ook al dit wil aanvaar.

Wat vir ons gesterf het, sodat ons, of ons waak en of ons slaap, saam met Hom kan lewe (v. 10). Christus alleen is ons hoop op verlossing en onsterflikheid. Vir die Christen wie se hart op Christus gevestig is, maak dit nie regtig saak of hy lewe en of hy sterwe nie, omdat dit geen verskil aan die salige hoop maak dat ons saam met Hom sal leef nie. Ons kan dus die slegste in die gesig staar wat hierdie wêreld vir ons het, selfs ook die dood, in die onwankelbare oortuiging dat, of ons lewe en of ons dood is wanneer die Here Jesus kom, ons een met Hom in die ewige lewe sal wees. Soos ons gelykvormig is aan die dood wat Hy vir ons gesterf het, is ons ook deelgenote van daardie lewe waarmee Hy die dood oorwin het.

Daarom, bemoedig mekaar en bou die een die ander op (v. 11). Die gelowiges word tot die unieke bediening opgeroep om mekaar op te bou en te bemoedig. Die woord “bemoedig” beteken hier “aanspoor”. Paulus gebruik die woord “bemoedig” meer as 50 keer in sy sendbriewe. Die Christene word egter ook aangemoedig om mekaar in die geloof “op te bou”. Die Thessalonicense was reeds hierby betrokke – soos julle ook doen – en het net groter aansporing by Paulus gekry om dit met meer ywer te doen. As ons almal maar dié ywer ten opsigte van mekaar se bemoediging en geestelike opbouing gehad het!

2. Onberispelike bewaring (1 Thess. 5:22-24; 2 Petrus 3:10-14)

Onthou julle van elke vorm van kwaad (v. 22). Die implikasie is dat ons nie net dié dinge sal vermy wat boos lyk nie, maar onsself “van elke vorm van kwaad” sal onthou. Daar is baie vorms van boosheid wat Satan en sy medewerkers in só ‘n skadelose en selfs noodsaaklike vorm aanbied, dat baie daardeur mislei word. Ook hierdie vorms van die kwaad moet onderskei, verstaan en vermy word. Wanneer die keuse tussen twee vorms van boosheid is, moet ons albei verwerp. Moenie die geringste van twee euwels kies nie!

En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak (v. 23). In reaksie op die mens se verantwoordelikheid in die krisisondervinding van heiligmaking, naamlik volkome toewyding, doen God wat net Hý kan doen: Hy maak jou volkome heilig. God kan nie die toewyding namens jou doen nie, en jy kan ook nie jouself heilig nie. “Volkome heiligmaking” dui op die oombliklike werk van reiniging, terwyl “onberispelik bewaar” op die Here se voortgesette werk van bewaring dui ná die oombliklike daad waarin Hy ons deur en deur gereinig het. Gees en siel en liggaam is ‘n aanduiding dat alle aspekte van die mens in ‘n toestand van onberispelikheid moet kom en daarin bewaar moet word. Dit is opvallend dat "foutloosheid” nie hier vereis word nie. Die heiliges moet onberispelik bewaar word [tot] by die wederkoms van onse Here Jesus Christus. Judas sê dat die Here “magtig is om julle vir struikeling te bewaar en julle sonder gebrek voor sy heerlikheid te stel” (Jud. 1:24). Ons word nou onberispelik “bewaar”, maar sal by die wederkoms, in ons verheerlikte liggame, sonder gebrek [m.a.w. foutloos] aan Hom voorgestel word.

Hy wat julle roep, is getrou; Hy sal dit ook doen (v. 24). Dit is God wat mense tot heiligheid geroep het (1 Thess. 4:7). Omdat Hy getrou is, sal Hy doen wat mense nie self kan doen nie – Hy sal hulle volkome heilig maak. Diegene wat nie die ervaring van volkome heiligmaking het nie [dit is hulle wat nie ‘n bruilofskleed van geregtigheid het nie] sal sprakeloos wees wanneer hulle van die bruilofsmaal van die Lam af weggewys sal word.

Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag (2 Pet. 3:10). God is lankmoedig en genadig om die wederkoms van Jesus Christus te vertraag. Hy het egter nie hierdie gebeurtenis gekanselleer soos wat sekere spotters in die ou tyd, asook van die moderne kritici, as ‘n verklaring vir die vertraging aanbied nie. Hierdie gebeurtenis is nog steeds op God se kalender en sal, soos die eerste koms, in “die volheid van die tyd” plaasvind (Gal. 4:4). Die hoofgedagtes wat hier uitgedruk word, is duidelik: 1. Christus se wederkoms is seker, hoewel nog toekomstig; 2. Dit sal skielik en sonder waarskuwing plaasvind; en 3. Dit sal met groot, apokaliptiese rampe gepaard gaan.

Hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? (v. 11). In die lig van die verganklike wêreld moet ons dinge doen wat ewigheidswaarde het deur heilig en godvrugtig te leef. God stel ons genadiglik hiertoe in staat deur in ons te werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae (Fil. 2:13).

Julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas (v. 12-13). Daar lê vir hierdie wêreld ‘n oordeel voor soos wat dit nog nooit beleef het nie – ‘n oordeel deur vuur. Hierdie vurige wraak sal net ‘n voorsmaak van die ewige oordeel van die goddelose in die vlamme van die hel wees. Diegene wat in God glo, kan egter vooruit kyk na die belofte van ‘n heerlike toekoms in die nuwe hemel en op die nuwe aarde: Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.

Daarom, geliefdes, terwyl julle hierdie dinge verwag, beywer julle dat julle vlekkeloos en onberispelik voor Hom bevind mag word in vrede (v. 14). Hierdie vermaning is vir ‘n vreedsame en onberispelike lewe. Diegene wat die nuwe hemel en nuwe aarde verwag waarin geregtigheid sal woon, moet nóú reeds vir daardie lewe voorberei word. Omdat net geregtigheid daar sal woon, moet ons onsself van alle ongeregtigheid reinig. Die beklemtoning van Petrus is dieselfde as dié wat ons in Hebreërs 12:14 aantref: “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking waarsonder niemand die Here sal sien nie.”

3. ‘n Reinigende hoop (1 Johannes 3:1-3)

Dat ons kinders van God genoem kan word! (v.  1). Om ‘n kind van God te wees, is die grondslag van “hierdie hoop” wat alle Christene volgens vers 3 op die wederkoms van die Here Jesus het. Die wêreld wat nie die eise van God se Woord aanvaar nie, sal ook nie die eise en verwagtinge van die Christene aanvaar nie.

Dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is (v. 2). Die hoop van die Christen is nog net gedeeltelik aan hom geopenbaar. Ons het nog nie ‘n volkome begrip van die aard van die verheerlikte liggaam wat ons sal kry nie, en ook nie van ‘n lewe wat nie aan tyd gebonde is nie. Ons aanvaar egter hierdie beloftes in die geloof. In dié teks is daar drie dinge waarvan ons baie seker kan wees: 1. Christus sal verskyn; 2. Ons sal soos Hy wees, en 3. Ons sal Hom sien soos Hy is.

Elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (v. 3). Iemand wat hierdie hoop op die koms van Jesus het, sal reinheid nastreef. Hy sal op die bloed van Jesus vertrou om sy hart en lewe van alle sonde te reinig. ‘n Hoop wat nie na reinheid lei nie, is nie ‘n ware hoop nie, maar slegs ‘n aanname. Iemand wat onverskillig en sondig leef, het geen hoop op Christus se wederkoms nie, maar hy vrees dit eerder. Die uitdrukking “reinig homself” dui op die mens se verantwoordelikheid van afsondering en toewyding. Die reiniging self is ‘n werk wat net deur die Here vir ‘n gehoorsame Christen gedoen word.

Kommentaar oor die Sleutelteks

En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 3:3).

Hierdie hoop verwys na die vorige vers: “Ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees.” By die verskyning van Jesus Christus sal al die Christene se liggame verander word ”om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam” (Fil. 3:21), maar hulle huidige geestelike toestand sal na die verheerlikte sfeer oorgedra word. In die lig hiervan moet “die regverdige nog regverdiger word, en die heilige nog heiliger” (Op. 22:11).

Elkeen… reinig homself soos Hy rein is (v. 3). Dit is sekerlik ‘n hoë standaard van Christelike reinheid. Heiligheid is oorspronklik in God en word aan ons toegereken, sodat ons in werklikheid die heiligheid van ons Verlosser het. Johannes waag dit om te sê dat ons rein is “soos Hy rein is.” Hy kán hierdie vrymoedige stelling maak, omdat dit God is wat die reiniging doen. Dit is as gevolg van dié goddelike reiniging dat ons soos Hy sal wees (Beacon Bible Comm.).

Hoewel die Christen nie iets doen wat hy weet wat verkeerd is nie, is daar ‘n reinheid van lewe wat hy nie onmiddellik verkry nie. ‘n Rein hart word onmiddellik aan hom gegee as ‘n besliste werk van God se genade. Reinheid van lewe is egter progressief en bestaan uit ‘n daaglikse proses van minder word in sekere opsigte en meer word in ander opsigte. Dit is God se werk om ons harte rein te maak, maar dit is die mens se verantwoordelikheid om sy lewe onder die leiding van die Heilige Gees reg te maak. Die psalmis het die vraag gevra en ook self beantwoord: “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord” (Ps. 119:9). Deur boosheid te vermy en die goeie aan te hang, deur nie dié dinge lief te hê wat in stryd met die geregtigheid is nie, deur in die lig te wandel wat aan jou geopenbaar is, vind jy as ‘n geheiligde persoon dat die Here jou steeds in ‘n intiemer verhouding met Homself lei. Verlossing plaas jou op die vaste fondament, Jesus Christus, maar elkeen moet oppas hoe hy hierop bou. Met ‘n hart wat reingemaak is, is hy wat geheilig is in ‘n ideale posisie om ‘n Christelike karakter te ontwikkel, omdat ‘n heilige hart ‘n heilige lewe genereer. Wanneer God elke mens se werk op die proef stel, sal net dit wat heilig is die vuurproef kan deurstaan.

Wanneer die Here ons harte gereinig het, is dit ons verantwoordelikheid om onsself in die liefde van God te bewaar. Dit beteken nie dat ‘n mens jou eie hart moet reinig nie, want dit is onmoontlik; maar jy moet jouself in die toestand van reinheid bewaar waarin die Here jou gestel het. Dit is waarom Paulus ook aan Timótheus gesê het: “Hou jou rein” (1 Tim. 5:22).

Indien die sleutelteks in verband met die werk van hartsreiniging staan, moet onthou word dat net God die mag het om die hart te reinig. Daarna is dit die mens se verantwoordelikheid om sy lede as werktuie van geregtigheid in die diens van God te stel, saam met Christus gekruisig te word (Gal. 2: 20) en deur die geloof vir God toe te laat om sy tempel te reinig. Die Christen reinig homself dus deur met God saam te werk om hierdie groot werk van genade in hom te doen.

            Reinig my van elke sondige vlek:

            Laat alle afgode uit my lewe verdwyn:

            Reinig my van sondige gedagtes,

            Van die verdorwe eie-ek en van hoogmoed.

            Met die haat van die vleeslike natuur

            Wat uit my binneste verwyder is:

            Gee my ‘n sagte hart wat rus in U,

            Rein, en vol van geloof en liefde.

            O, dat ek nou, van sonde vrygemaak,

            U Woord in elke opsig sal bevestig:

            My siel, gaan in jou beloofde rus,

            Die Kanaän van volmaakte liefde!

Leerstellige Bespreking

Dit is wenslik om die waarheid van die wederkoms te bevestig voordat ons die vereistes stel vir dié groep wat met die Here verenig sal word.

"Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees" (1 Thess. 4:15-17).

Die vraag of ons hemel toe sal gaan wanneer die Here kom, hang daarvan af of ons weergebore is en in die lig wandel. “As ons in die lig wandel soos Hy in die lig is, dan het ons gemeenskap met mekaar; en die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7).

Daar is heiligheid nodig om hemel toe te kan gaan. Die Here het dit in Hebreërs 12:14 duidelik gestel dat heiligheid die paspoort na die hemel is, en dat niemand Hom sonder dit sal sien nie.

Baie teoloë sal nie die noodsaaklikheid van heiligheid ontken nie, maar daar is groot verskille in hoe hulle oor die saak dink. Een van die leringe is dat aangesien ons nie is wat ons moet wees nie, het God ‘n plek voorberei waar ons deur vuur van die oorblywende sonde gereinig sal word. Dié mense moet maar hulle stelling probeer versoen met die Bybelse uitspraak dat ons deur die verdienste van die bloed van Christus gered word, en dat dit van geloof afhanklik is (Ef. 2:8).

‘n Ander groep stem saam dat ons heilig moet wees, maar sê dat dit eers by ons dood sal gebeur! Aangesien die dood die vyand van die Christen is, is dit ondenkbaar dat God hierdie medium sal gebruik om die werk van volkome heiligmaking te doen. As die Here dit by ons dood kan doen, kan Hy dit dan nie nóú ook doen nie?

In die sleutelteks word dit duidelik gestel dat ons deurlopend in ons lewens heilig moet wees: “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is.” Die Griekse woord bevat die idee van morele reinheid in ons hart en lewe. Dit is in die teenwoordige tyd, en het die implikasie dat reinheid deurgaans gehandhaaf moet word.

As daar reiniging is, moet dit dan deur myself gedoen word? “O,” sê jy, “dit is nie evangeliese onderrig nie.” Kom ons ondersoek die saak ‘n bietjie verder. Die volgende tekste in hierdie sendbrief is oënskynlik in stryd met só ‘n stelling:

"…die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde" (1:7).

"As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig" (1:9).

"Elkeen wat in Hom bly, sondig nie" (3:6).

"…en dit is die oorwinning wat die wêreld oorwin het, naamlik ons geloof" (5:4).

Wanneer al hierdie gedeeltes saam in ag geneem word, kan ons net tot die volgende gevolgtrekking kom: Die enigste manier waarop ons onsself kan reinig, is om aan die Here Jesus en sy reinigende krag vas te hou. Ons kan ‘n baie bekende illustrasie gebruik, naamlik die was van ons hande met seep en water. Wat jy moet doen, is slegs om die seep en water met jou vuil hande in verbinding te bring en hulle te was. Jy was jouself, ja, maar is dit jý wat jou hande reinig, of die seep en die water? Ons moet die genademiddels gebruik wat die Here in Jesus Christus tot ons beskikking stel, dan sal ons rein word: “Was julle, reinig julle, neem die boosheid van julle handelinge voor my oë weg, hou op om kwaad te doen” (Jes. 1:16).

Die proses van voortgesette reiniging is ons verbindingskakel tussen nou en die toekoms. Ons morele reinheid maak ons gereed om, wanneer die Here kom, weggevoer te word Christus tegemoet in die lug, en vir altyd by Hom te wees. Hierdie skakel kan deur immoraliteit en onreinheid verbreek word, met die gevolg dat ons nie weggeraap sal word nie!

            Uit 1 Johannes 3:1-3 blyk die voordele en verantwoordelikheid wat daaraan verbonde is om kinders van God te kan wees. Dit eindig in vers 3 met die volgende twee praktiese gevolge van kindskap:

1.   ‘n Aansporing tot reinheid. Elkeen wat die hoop het om in die lewe hierna vir Christus te sien en soos Hy te wees, sal noodwendig homself hier en nou reinig. Reinheid is een van die voorwaardes vir kindskap.

2.   Die standaard vir reinheid. Hierdie reinheid moet ‘n werklikheid word deur die reinheid van Jesus self – ons moet soos Hy wees. Die gedagte dat Hy gaan kom, en dat ons in die ewige lewe soos Hy sal wees, moet vir elkeen van ons ‘n aansporing wees om aan Hom gelykvormig te word.

Dit is belangrik om te besef dat die hoop van die evangeliese wêreld die wederkoms van Jesus Christus vir sy bruidsgemeente is. Nie een persoon wat ‘n liefdesverhouding het, sal weier om verander te word sodat hy ‘n meer harmonieuse verhouding met sy geliefde kan hê nie. Die ware kerk reinig haarself sodat sy gereed kan wees wanneer Hy verskyn. Die verhaal van die tien maagde is ‘n ernstige waarskuwing aan ons dat ons nie in ons waaksaamheid moet verslap nie. Ons sal daaraan moet werk om nie geestelik aan die slaap te raak en sodoende die wegraping mis te loop nie. Om gedurigdeur ons liefdesverhouding met die hemelse Bruiegom in stand te hou, is die grootste aansporing om rein te wees sodat ons weggevoer kan word om met Hom te wees wanneer Hy kom.

Vrae en Antwoorde

Hierdie les handel oor die belangrikheid daarvan om heilig te leef ten einde vir die wederkoms van Jesus Christus gereed te wees. Die volgende vrae en antwoorde het hierop betrekking:

1.   Wanneer kom Jesus Christus terug aarde toe?

Niemand weet wanneer Hy terugkom nie. Daar was al baie mense wat datums bepaal het, maar hulle was almal verkeerd. Die Bybel maak dit baie duidelik dat niemand die dag of die uur van sy koms ken nie (Matt. 24:36). Dit is baie beter om ons tyd aan voorbereidings as aan die bepaling van datums vir die wederkoms te bestee.

2.   Hoe sal dit op die aarde wees wanneer die Here Jesus terugkom? Wat is sommige van die tekens van sy koms?

Die Bybel identifiseer ‘n hele aantal tekens wat op die eindtyd dui. Hieronder is die volgende:

a.   Daar sal oorloë en gerugte van oorloë wees (Matt. 24:6).

b.   Die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander (Matt. 24:7).

c.   Daar sal hongersnode wees (Matt. 24:7).

d.   Daar sal pessiektes wees [dit is dodelike, aansteeklike siektes] (Matt. 24:7).

e.   Daar sal aardbewings wees in baie plekke (Matt. 24:7).

f.     Baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei (Matt. 24:11).

g.   Sonde en ongeregtigheid sal vermeerder en die liefde van die meeste laat afkoel (Matt. 24:12).

h.   Dit sal soos die tyd van Noag wees. Mense sal net vir die dinge van die wêreld leef en hulle glad nie aan die waarskuwings oor die naderende oordele van God steur nie. (Matt. 24:38-39).

i.     Dit sal ook soos in die tyd van Lot wees. Benewens hulle materialisme was die inwoners van Sodom en Gomorra aggressiewe homoseksuele (Luk. 17:28; Gen. 19:5).

j.     Die kerk sal lou wees (Op. 3:14-16).

k.   Baie kerklidmate sal net ‘n gedaante van godsaligheid hê, maar die krag daarvan verloën (2 Tim. 3:5).

l.     Mense sal net plesiersoekers wees (2 Tim. 3:4).

m. ‘n Lys van verskeie goddelose houdings en dade word in 2 Tim. 3:1-5 gegee.

Hierdie dinge klink baie na ‘n beskrywing van ons tyd. Lukas 21:28 sê dat wanneer hierdie dinge begin gebeur, ons ons hoofde moet ophef omdat ons verlossing naby is.

3.   Waarom vertraag Jesus Christus sy wederkoms?

Die Here het die mensdom lief en wil nie hê dat een verlore moet gaan nie. Dit lyk of Hy sy koms vertraag het sodat ander gered kan word (2 Pet. 3:9). Ons weet dat God genadig en lankmoedig is (Ex. 34:6). Dit is ook moontlik dat die tekens van die tye nog nie almal ten volle vervul is nie.

4.   Vir wie kom Christus terug?

Hy kom slegs vir hulle wat gereed is om Hom te ontmoet – dié wat gered en geheilig is. Volgens 1 Thessalonicense 4:16-17 sal dié wat in Christus gesterf het, wonderbaarlik uit die dood opstaan. Die Christene wat nog lewend op aarde is, sal dan saam met hulle weggevoer word, die Here tegemoet in die lug. Hartsreiniging, of heiligheid van hart, is ‘n moet vir hulle (Matt. 5:8; Heb. 12:14).

5.   Wie sal met Christus se koms agtergelaat word?

Uit die aard van die saak sal die sondaars agtergelaat word. Die Bybel noem verskeie soorte sondaars wat sal agterbly:

a.   Dit is duidelik dat daar baie belydende kerklidmate is wat nie die wederbarende krag van die Heilige Gees en die reinigende krag van die bloed in hulle lewe ken nie. Hulle sal agterbly (2 Tim. 3:5; Matt. 7:21-23). ‘n Belydenis, asook goeie werke, is nie genoeg om dit vir die hemel te maak nie.

b.   Die onheiliges sal ook agterbly (Op. 20:6).

c.   Openbaring 21:8 maak ‘n lys van die vreesagtiges, ongelowiges, gruwelikes, moordenaars, hoereerders, towenaars, afgodedienaars en leuenaars wat almal die wegraping sal misloop.

Goeie, morele mense wat nie wedergebore volgelinge van die Here Jesus is nie, sowel as geharde en wrede sondaars, sal almal agterbly. Dit is duidelik dat daar meer mense sal agterbly as dié wat sal saamgaan (Matt. 7:13-14).

6.   Wat sal met diegene gebeur wat agterbly?

Hulle sal deur die groot verdrukking gaan (Matt. 24:21; Op. 3:10; 7:14). Verskillende vorms van die oordele van God sal in hierdie tyd oor die aarde uitgestort word. Daar sal ‘n verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af nooit gewees het en ook nooit weer sal wees nie (Matt. 24:21). Dit sal onmeetbaar beter wees om weggeraap te word as om hierdie tyd van groot oordele te beleef.

God sal uiteindelik almal wat aan Hom ongehoorsaam was in die ewige verderf weg van sy aangesig af, verdoem (2 Thess. 1:8-9). Hulle sal in die hel gewerp word, en ná die eindoordeel in die poel van vuur (Op. 20:14-15). Die loon van die sonde sal die dood wees (Rom. 6:23).

7.   Watter soort lewe vereis die Bybel van ons om vir die Here Jesus se wederkoms gereed te wees?

Die Bybel beveel ons om heilige lewens voor God te leef as ons Hom in die huidige wêreld wil behaag. Omdat ons nie weet wanneer ons sal sterf of wanneer Christus ons kom haal nie, moet ons altyd gereed en waardig wees om te gaan óf om te bly. Ons lewenswyse moet in albei gevalle presies dieselfde wees. Ons moet onberispelike, rein en heilige lewens van geloof en gehoorsaamheid voor die Here leef. ‘n Wisselvallige geestelike lewe is nie goed genoeg nie. Ons moet leef soos Hy wil hê dat ons moet leef – heilig – as ons verwag om in die hemel uit te kom.

Daar is verskeie skrifgedeeltes wat die lewe beskryf wat die kind van God by die wederkoms van Jesus moet hê (Matt. 5:8; 1 Thess. 5:23; Heb. 12:14; Luk. 21:34-36; Titus 2:12-13). Geen verandering in ‘n mens se geestelike status kan ná sy dood gemaak word nie (Op. 22:11). Ons moet ten alle tye gereed wees!

8.   In Lukas 19:13 sê Jesus: “Dryf handel totdat Ek kom.” Wat sê dit oor ons lewenswandel in die huidige wêreld?

Volgens Mattheus 22:37 is dit ons belangrikste opdrag op aarde om die Here ons God lief te hê met ons hele hart en met ons hele siel en met al ons verstand. Ons moet God aktief liefhê en dien. Vers 39 sê dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. Ons moet andere liefhê en hulle help om God ook lief te hê en te dien. Dit is ons twee grootste opdragte.

Ons moet daarop bedag wees dat Jesus se koms waarskynlik naby is. Ons moet altyd hiervoor gereed wees. Om handel te dryf totdat Hy kom, beteken dat ons moet voortgaan om ons verpligtinge teenoor God én teenoor mense na te kom asof dit nog ‘n lang tyd is voordat die Here terugkom aarde toe. Planne kan op die godsdienstige én sekulêre terreine gemaak word, en waarskynlik ook uitgevoer word. Ons moet liefde teenoor die mensdom betoon en die evangelieboodskap met hulle deel. Planne vir die uitbreiding van God se koninkryk moet gemaak en in werking gestel word. In ons daaglikse lewens moet daar orde en normaliteit wees terwyl ons ons verantwoordelikhede nakom. Nogtans moet ons nooit toelaat dat hierdie dinge belangriker as ons gereedheid vir die wegraping word nie. Ons sal ‘n gesonde balans moet vind, en nie só op die hemel ingestel wees dat ons niks meer hier op die aarde wil aanpak en doen nie. Ons moet andere help, en hulle moet in ons lewens die realiteit sien van wat dit is om die Here Jesus te dien en lief te hê.

9.   Waarom sal die onheiliges daarvan weerhou word om die hemel te betree?

God is ‘n heilige God, en die hemel is ‘n heilige plek. Indien Hy onheiliges sou toelaat om daar in te kom, sou hulle die hemel in ‘n onheilige plek omskep. God haat sonde, en sy karakter weier om dit te verdra. Die planne vir verlossing én volkome heiligmaking is gemaak om die mens van sonde te verlos en hom vir die hemel geskik te maak. Verskeie skrifgedeeltes maak oor hierdie onderwerp uitsprake, bv. 1 Kor. 15:56-57; Lev. 11:44 en Titus 2:12-13.

10. Sal dit maklik wees om tot die einde toe getrou aan Jesus te bly? Kan ‘n mens gereed wees om Hom te ontmoet?

Dit sal nie maklik wees om getrou te bly nie. Lukas 18:8 sê: “As die Seun van die mens kom, sal Hy wel die geloof op die aarde vind?” 1 Petrus 4:18 sê dat die regverdige nouliks gered sal word. Sonde sal meer intensief word namate Satan besef dat hy min tyd oor het. Die boosheid en ongeregtigheid neem geweldig toe. Sommige sondes is egter só subtiel dat dit vir Christene maklik is om daaraan toe te gee. Die druk neem oral toe – in die kerk, by die huis, by die skool, by die werk, in die woongebiede, in die sakewêreld, en net omtrent orals. Dit sal waarskynlik ook erger word.

Nieteenstaande hierdie dinge kan die kind van die Here oorwinnend bly! Beloftes soos dié in Filippense 4:19, 2 Korinthiërs 12:9, 1 Korinthiërs 10:13 en 1 Johannes 5:4 gee aan ons die moed en vertroue dat ons dit kán maak. “En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam [die kruis] en deur die woord van hulle getuienis [belydenis], en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie [toewyding]” (Rom. 12:11).

Ons moet beslis goddelike lewens in hierdie goddelose wêreld leef. Die tekens dui op die spoedige koms van Jesus Christus. Ons moet gereed wees om Hom te ontmoet. Openbaring 2:10 sê: “Wees getrou tot die dood toe, en Ek sal jou die kroon van die lewe gee.” Dit is moontlik om tot by die dood, of tot by die wegraping, ‘n heilige lewe te lei, wat ons dan in staat sal stel om vir ewig saam met ‘n heilige God in ‘n heilige hemel te woon!

GELOOF, LIEFDE EN HOOP

Laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid (1 Thess. 5:8).

Geloof, liefde en hoop, hierdie drie, vorm die verdedigende wapenrusting wat die siel beskerm en ook selfbeheersing moontlik maak. Soos ‘n duiker wat in sy duikpak na die dieptes van die wilde, sleurende oseaan neergelaat word, kan ‘n man wie se hart in geloof en liefde gewikkel is, en wie se kop met die helm van hoop bedek is, in die wildste see van versoekings en wêreldsgesindheid gegooi word, en tóg droog en ongedeerd deur die dieptes wandel terwyl hy lug inasem wat van ‘n wêreld ver bokant die rustelose golwe kom.

Geloof bring jou in verbinding met al die krag van God. Liefde lei jou na ‘n sfeer waar die valsheid en misleiding van versoekings in die lig van God se reinheid geopenbaar word. Hoop help jou om jou oë van die glans van die versoekings af weg te draai en dit op die heerlikheid van die hemel daarbo te vestig. Jy sal oorwinnings behaal waarvan jy tevore nog net gedroom het as jy jou vertroue in Christus stel, Hom volkome liefhet en jou begeertes in die ewige dinge stel. Jy kan jouself beheer namate jy Christus toelaat om jou te beheer.                    – Alexander Maclaren