(Openbaring 12)
Dit is van baie groot belang om die boodskap en simboliek van Openbaring 12 reg te verstaan. Verskillende vertolkings word vir dié hoofstuk aangebied, maar in die meeste gevalle lei dit tot die foutiewe gevolgtrekking dat die kerk in die rol van die volk Israel gestel word. Sodoende raak mense se toekomsverwagting heeltemal verward. Versigtige eksegese moet dus beoefen word waarin Skrif deur Skrif verklaar word. Die eerste ses verse van Openbaring 12 lui só:
Eerstens moet daar uitsluitsel oor die identiteit van die vrou gekry word, want dit is waar die meeste van die wanopvattings oor Openbaring 12 begin. Hierdie is ‘n getroude vrou wat op die punt staan om ‘n kind te baar. Dit is ‘n baie belangrike kind hierdie, want Hy is bestem om alle nasies met ‘n ystersepter te regeer. Die profete het reeds die geboorte van hierdie besondere Kind aangekondig. Miga het gesê dat Hy in Bethlehem gebore sou word en ‘n heerser in Israel sou wees (Miga 5:1). Jesaja het gesê:
Aan Maria het die engel gesê:
Toe Josef in die geheim van sy vrou wou skei omdat sy swanger was, het die engel aan hom ook verskyn en gesê:
Maria is ook die verpersoonliking van die volk Israel, waaruit die Messias en Verlosser van die wêreld gebore is. Israel word dikwels in die Ou Testament ‘n vrou genoem wat aan God verbonde is. In Jeremia 31:3-4 sê Hy van haar: “Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid. Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel!” In Jesaja 54:5 verbind die Here Homself só aan Israel: “Want jou Maker is jou Man; Here van die leërskare is sy Naam.”
Kan u die absurditeit daarvan insien om hierdie vrou die kerk te noem? Jesus is tog nie uit die kerk gebore nie, maar die kerk uit Hóm! Verder word die kerk in Mattheus 25:1-13 en in 2 Korinthiërs 11:2 ‘n verloofde maagd genoem, en nie ‘n getroude vrou nie. Sy is aan die hemelse Bruidegom, Jesus, verbonde, soos wat Israel aan God verbonde is. God se Seun is egter uit die volk Israel gebore, uit die stam van Juda in die huis van Dawid.
Uit ‘n ander oogpunt word die vrou in Openbaring 12 ook as Israel beskryf. Sy het twaalf sterre op haar kop wat op die twaalf stamme van Israel dui, asook die son en die maan wat na Jakob en Ragel as stamvader en stammoeder van Israel verwys. Hierdie simboliek blyk duidelik uit ‘n droom wat Josef gehad het:
Satan weet al hierdie dinge, daarom val hy Israel so venynig aan om haar te probeer vernietig. As hy dit nie kan regkry nie, dan probeer hy haar ten minste mislei en van God afvallig te maak. Sy grootste veldtog is egter teen die Seun van God wat uit Israel gebore is, want hierdie Seun sal Satan se mag verbreek en self as Heerser van die heelal regeer. Dit is waarom die draak voor die vrou gestaan het wat op die punt was om hierdie besondere manlike Kind te baar.
Die vrou se swangerskap dui op die tyd nét voor die geboorte van Jesus. Die draak wat ‘n derde van die engele in die hemel meegesleur het en op die punt gestaan het om die Kind te verslind, is niemand anders as die duiwel self nie. Die handlanger wat hy toe gebruik het om sy bose werk te doen, was Herodes – hy het die kindermoord beveel in ‘n poging om Jesus om die lewe te bring. Die Here Jesus het egter tydens sy eerste koms sy roeping as Profeet en Lam van God vervul, en is met sy hemelvaart weggeruk na God in die hemel. Die tyd van sy openbaring as Koning van die konings, wanneer Hy die nasies met ‘n ystersepter sal regeer, sal spoedig met sy wederkoms aanbreek.
Dit is duidelik dat Openbaring 12 ‘n belangrike verdere ontplooiing van die eeue oue stryd tussen die godsryk en die satansryk uitbeeld, daarom word dit in ‘n breë konteks geplaas. Dit is nie ‘n geïsoleerde gebeurtenis wat tot die middel van die verdrukking beperk is nie, maar ‘n stryd wat sy ontstaan gehad het toe Satan saam met ‘n derde van die engele uit die hemel gewerp is. Ná die sondeval in die paradys het ‘n verdere dimensie van hierdie stryd ingetree toe die Here vyandskap tussen die vrou en die slang gestel het, en tussen haar saad [Christus] en die slang se saad [die Antichris]. Die eerste vyf verse van Openbaring 12 beskryf in breë trekke die agtergrond van die geestelike oorlog wat in Openbaring 12 verder gevoer word.
Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom Satan al vir duisende jare ‘n haatveldtog teen die volk Israel voer. Hy probeer ook sy bes om die nasies by hierdie haatveldtog te betrek. Die Here het egter vir Abraham m.b.t. sy fisiese nageslag deur Isak en Jakob gesê:
Tweeduisend jaar later is Jesus uit die nageslag van Abraham gebore, uit die stam van Juda, “sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus” (Gal. 3:14). Dit is dus totale dwaasheid indien ‘n Christen die Jode sou vervolg en sleg maak, want dan is hy nie net onkundig en ondankbaar nie, maar haal ook ‘n vloek oor homself.
Daar is ‘n paar dinge omtrent die Jode wat ‘n mens nooit uit die oog moet verloor nie:
· Dit is ‘n volk wat deur God gekies is om sy saligheidsplan aan die wêreld te openbaar. Romeine 9:5 sê dat Christus na die vlees uit Israel kom. Romeine 3:2 sê dat die woorde van God aan hulle toevertrou is, en voeg by dat selfs al het sommige van hulle ontrou geword, bly hulle nog steeds die volk van God. Daar sal altyd ‘n gelowige oorblyfsel wees.
· In Johannes 4:22 sê Jesus self dat die saligheid uit die Jode is.
· Sagaria 2 sê dat Israel God se oogappel is.
· By die wederkoms sal die hele oorblyfsel van Israel volgens Sagaria 13:9 vir Jesus as Messias aanneem.
· Die Antichris sal ook uit Israel kom, maar hy sal in sy veldtog teen die ware Christus al die misleides agter hom skaar.
Waar skaar u uself? Aan die kant van die Jodehaters wat ‘n vloek oor hulleself haal, of aan die kant van diegene wat volgens Psalm 122:6 bid om die vrede van Jerusalem, hulle vir die geestelike ontwaking van hierdie volk beywer en sodoende die seën van die Here geniet? Die vyande van die kruis sal hulle haatveldtog teen Israel tot aan die einde toe voortsit, en Jodehaat sal een van die belangrike strydkrete vir die wêreldwye mobilisasie van magte vir die slag van Armagéddon wees.
Soos baie ander lande, is Suid-Afrika se nuwe regering besig om homself openlik en intiem met Israel se vyande te bevriend. Omdat dit in stryd met ‘n duidelike Bybelse voorskrif is, is dit nie verbasend nie dat in vele ander opsigte die hervormings in ons land ook ‘n duidelike immorele en antichristelike karakter vertoon, bv. onbehoorlike strawwe vir moordenaars, rowers, aanranders en verkragters, die wettiging van aborsie en dobbelary, multigodsdienstige onderwys, ens.
Die verwerping en vervolging van Israel is implisiet deel van ‘n dekadente proses van die verwerping van die God van Israel wat ook die God van die Bybel is, en derhalwe ook van die Christendom en van Bybelse morele norme. Regerings en hul onderdane wat dít doen het reeds in hulle gees ‘n verbond met die Antichris gesluit, en sal dit maklik in die praktyk ook doen nadat hy verskyn het.
Satan gaan in die middel van die verdrukking weer ‘n verbete poging aanwend en alles in die stryd werp om Israel as ‘n volk totaal uit te delg. Hy wil verhoed dat ‘n oorblyfself van Israel in die lewe bly om die Messias by die Olyfberg te ontmoet, geestelik herstel te word en saam met die Messias in sy vrederyk tot hoof van die nasies verhef te word. Dit, weet Satan baie goed, sal regstreeks ten koste van sy wêreldryk onder die beheer van die Antichris wees. Satan wil God se planne vir die vrederyk verydel deur Israel te vernietig.
‘n Belangrike rede vir die verskerpte stryd tussen God se ryk en Satan se ryk wat in Openbaring 12 beskryf word, is die gevolg van ‘n oorlog in die hemel:
Tot in hierdie stadium was Satan se aandag verdeeld: hy het die volk Israel én die Christene voor die troon van God aangekla, dag en nag, en andersyds het hy sy verleidings- en verwoestingswerk op aarde gedoen. In die middel van die verdrukking sal hy en sy gevalle engele egter neergewerp word. Dan sal hy geen verdere toegang tot God hê waar hy mense kan aankla en beheer oor hulle lewens opeis omdat hulle gesondig en teen God gerebelleer het nie. Hulle sal nou ál hulle aandag op aarde toespits. Satan sal geweldige wraakgedagtes koester en van daardie oomblik af alles moontlik doen om God se skepping te verwoes, die aarde onleefbaar te maak, die Joodse volk uit te wis en almal wat Jesus se Naam bely, summier te laat teregstel deur onthoofding.
Dit sal ook die tyd wees wanneer die Antichris homself tot God sal verklaar in die herboude tempel in Jerusalem, die verpligte aanbidding van sy beeld sal gelas, deur middel van militêre dekrete sal regeer en nie sal skroom om maksimum geweld te gebruik nie.
Dit is ook die tyd wanneer Satan deur middel van die Antichris ‘n Joodse volksmoord sal gelas:
Hierdie vlug van Israel na ‘n plek in die woestyn, moontlik Petra in die Negev woestyn suid van die Dooie See in Jordanië, sal in groot haas geskied. Dit sal wees pas nadat die Antichris homself tot God verklaar het in die tempel, en ‘n groot deel van Israel hom op grond daarvan sal verwerp. Hulle sal dan uit sy sataniese nuwe wêreldorde onttrek waarby hulle vir die eerste 3½ jaar betrokke was. Wanneer sy beeld egter in die tempel opgerig en almal gedwing word om dit te aanbid, sal Israel baie vinnig moet wegkom omdat die Antichris hulle sal probeer inhaal en uitwis:
Hierdie is baie duidelik ‘n profesie wat op Israel betrekking het, omdat dit daarop gemik is om ‘n oorblyfsel van hierdie volk in die donker dae van die laaste 3½ jaar, m.a.w. in die groot verdrukking, van verdelging deur die Antichris te bewaar. In elk geval geld die sabbatswette net in Israel. Dan mag daar net ‘n kort sabbatsreis van minder as twee kilometer afgelê word. In daardie geval sal die Antichris hulle inhaal en uitwis. Verder moet die Jode bid dat hulle reis nie deur winterkoue of deur verwagtende vroue en diegene met klein babatjies vertraag word nie, want dan sal hulle ook nie vinnig genoeg wegkom nie.
Die breuk tussen Israel en die Antichris sal só skielik plaasvind, en sy maatreëls vir weerwraak só spoedig daarna, dat daar nie eers vir Israeli’s tyd sal wees om in te pak of padkos voor te berei nie. Hulle sal inderhaas moet vlug. Tot in daardie stadium het hulle volgens Johannes 5:43 die Antichris as Messias aanvaar, maar wanneer hy sê dat hy God is, sal hulle skielik agterkom dat hy al die tyd ‘n valse messias was. Dan sal hulle uit sy pad moet bly, omdat Israel se optrede ‘n besliste bedreiging vir die eenheid van die Antichris se nuwe wêreldorde sal inhou.
Israel sal deur ‘n goddelike ingryping gehelp word om nie deur die Antichris en sy duiwelse magte ingehaal en verdelg te word nie. ‘n Aardbewing mag voorkom waarin die aarde oopskeur en die Antichris se opmars oorland gestuit word. ‘n Ander moontlikheid is dat daar op ander plekke in die wêreld ook opstande teen sy bewind sal wees, wat sal veroorsaak dat hy sal omdraai om daaraan aandag te gee. Daniël sê:
Daar staan ook in Openbaring:
Die Antichris sal ewe fanaties teen ware Christene optree omdat hulle hom sal verwerp en die God van Israel deur die ware Messias, Jesus Christus, sal aanbid. In dié sin is die Christene ook nakomelinge van die vrou, Israel. Paulus sê in Romeine 11:15-20 dat Christene uit die nie-Joodse wêreld deur geloof in die olyfboom [Israel] ingeënt is en dus ‘n noue assosiasie met hulle het. Hieruit spruit ons liefde vir Israel en die innige begeerte en bede dat hulle ook deur die aanvaarding van die Messias, Jesus, tot die nuwe verbond sal toetree (Heb. 8:8-13).
Die Antichris se ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking is die teken wat die Here aan die inwoners van Judea gegee het om haastig vir oorlewing na die berge te vlug. Die tempel wat hulle in die eerste helfte van die week sal bou, en die herinstelling van die offerdiens waardeur hulle die eenmalige offer van die Lam van God weer eens as volk sal verwerp, sal dus kort daarna vir hulle die oorsaak tot groot ontnugtering en tragedie word. Vir hierdie volk wag daar nog ‘n tyd van misleiding en afvalligheid voordat Daniël 9:24 se maat van die sonde vol is en ewige geregtigheid vir hulle sal aanbreek. As gevolg hiervan sal hulle deur ‘n baie moeilike tyd van loutering moet gaan.
Jeremia sê:
Hierdie benoudheid sal deur die Here gebruik word om Israel na Homself terug te bring:
Dié proses van loutering deur lyding is lank gelede al deur Moses aan Israel voorgehou wanneer hulle in die eindtyd as volk in groot benoudheid sal kom:
Die oorblyfsel van Israel sal weet dat van die tyd af dat die gruwelike afgodsbeeld in die tempel opgerig is, daar 3½ jaar sal verloop totdat die ware Messias sal kom. Dit is tyd, tye en ‘n halwe tyd. Hulle ontvlugting in die woestyn sal dus ‘n aftelling wees na hul uiteindelike uitredding en versoening met die ware Messias. Daniël het oor hierdie tyd gesê:
Dit is 30 dae langer as 3½ jaar, en maak voorsiening vir die 30 dae van nasionale roubeklag wat Israel nodig sal hê wanneer hulle besef dat Jesus die Messias is wat onskuldig deur hulle vaders oorgelewer is om aan ‘n kruis tereggestel te word. Volgens Deuteronómium 34:8 is Moses ook 30 dae lank beween.
Oor die eindtydse rou van Israel sê Sagaria:
Wanneer Israel se ontvlugting van 42 maande byna verby is, sal hulle nét voor die Groot Versoendag na die Olyfberg optrek waar die Messias volgens Sagaria 14:4-5 sy skielike verskyning sal maak. Wanneer Hy daar tot hulle redding teen die oprukkende leërs van die Antichris kom, sal hulle Hom erken en met hulle nasionale roubeklag van een maand begin.
Hierna sal nóg 45 dae verloop terwyl die Messias die oordeel oor die nasies voltrek, sy bruid by die bruilofsfees van Lam voorstel, die troon van Dawid oprig en sy vrederyk instel. Dan sal daar 1335 dae verloop het sedert die donker dag toe die valse messias homself tot die god en alleenheerser van hierdie wêreld verklaar het, totdat die die ware Messias ‘n dramatiese oorwinning oor die ryk van die dier behaal en sý wêreldryk van vrede en geregtigheid ingestel het. Oor hierdie effens langer tydperk sê Daniël:
Jode wat hierdie verskriklike tyd kan oorleef, sal nie in hulle sonde sterf nie maar leef om die Messias te sien en met Hom versoen te word. Hulle sal ook die Messiasryk beërf. Vir hulle is dit volharding tot redding in uiters moeilike omstandighede. Daniël sê:
Israel se ontvlugting na ‘n plek van veiligheid in die woestyn is deur die Here só beskik om in die donkerste uur van hulle aardse bestaan ‘n oorblyfsel te bewaar om met Hom versoen te word en in die komende vrederyk ‘n seën vir die hele aarde te wees. “Hy wat Israel verstrooi het, sal hom vergader en hom bewaak soos ‘n herder sy kudde” (Jer. 31:10).