(Openbaring 18)
‘n Verwikkeling wat regstreeks met die komende verdrukking in verband staan, is die herbouing van die eens roemryke wêreldstad, Babilon, aan die oewers van die Eufraatrivier. As bakermat van die antieke wêreld se heidense godsdiens, en ook as ‘n politieke en handelsentrum, moet hierdie stad in die eindtyd weer verrys. Dit is reeds besig om te gebeur. Babilon word sedert 1978 al deur Saddam Hoesein in Irak herbou, en in September en Oktober 1987 is die eerste fase van die herboude stad feestelik ingewy. Dit sluit die beroemde troonsaal van Bélsasar en die pilaargang van Isjtar in, asook hotelle en toeristegeriewe in die nuwe deel van die stad.
Vir Hoesein is Babilon as die eertydse hoofstad van een van die magtigste wêreldryke ‘n aansporing om weer die verlore glorie van Babel te probeer herwin. Hy het ook ‘n groot verering vir Nebukadnésar en sien homself as ‘n moderne opvolger van hierdie wêreldleier. Dit is ‘n ideaal van hom om oor die hele Arabiese wêreld te heers en ook vir Israel te verdelg en weer sy vorste as ballinge in kettings oor die woestyn na Babilonië te sleep.
Die simboliese waarde van Babilon as wêreldstad word terdeë in Irak besef. Tydens die openingsfees in 1987 het Irak se minister van oudhede gesê dat Babilon die plek is waar die nasies van die wêreld uitmekaar gegaan en verwyderd geraak het. As hulle mekaar weer in ‘n nuwe wêreldorde van internasionale eenheid wil vind en versoen raak, dan moet hulle volgens hom terugkom na dié plek waar hulle paaie uitmekaar gegaan het – Babilon!
Om die huidige gebeure in Babilon reg te verstaan, moet dit in die lig van die stad se oorsprong en lang tradisie van rebellie teen God beskou word. Volgens Génesis 10:8-10 het Nimrod vir homself ‘n koninkryk in Babel gevestig. Dit was nie alleen ‘n politieke ryk nie, maar het ook ‘n sterk heidense godsdienstige inslag gehad.
As ‘n geweldenaar en kampvegter vir die mens het Nimrod homself in opposisie teen God gestel. Hy het nie net ‘n koning vir die mens geword nie, maar ook ‘n god. As die bouer van versterkte stede in die land Sinear [dit is Babilonië] is Nimrod as die God van Vestings vereer. Hy is ook Bevryder en Kroondraer genoem, en selfs as die verpersoonliking van die songod gesien wat as die gewer van lig en lewe beskou is. Ná hom het alle Babiloniese en Assiriese konings hulleself vergoddelik. In ander wêreldryke, veral in die Romeinse ryk, is hierdie tradisie ook nagevolg. Dit is een van die baie heidense tradisies uit Babilon wat weer in die komende verdrukking sal herleef.
Die Antichris sal presies dieselfde doen, omdat hy homself ook tot God vir die mens sal verklaar. As sodanig sal hy die ware God teëstaan.
Babilon was sedert sy vroegste bestaan die middelpunt en simbool van ‘n God-verwerpende wêreldmag wat ‘n alternatiewe, sataniese koninkryk aan die gevalle mensdom gebied het. Vir sy geestelike ankers het die stad na die kosmiese godewêreld uitgereik. Dit word ook deur die naam Babilon weerspieël, wat Poort na die gode beteken. (Ná die taalverwarring is Babilon ook met die begrip verwarring geassosieer). Die poort na die gode was ‘n tempeltoring (ziggurat) waarin die priester opgeklim het om met die gode kontak te maak. Dit was ‘n tempel met ‘n traptoring bo-op. Deur middel van die spiraaltrap rondom die toring kon die bo-punt daarvan bereik word. Dit is deur die priesters gebruik as ‘n plek waar hulle gemediteer en een met die kosmiese wêreld geword het. Waarnemings met die oog op sterrewiggelary is ook van daardie uitkykpunte af gedoen. Die vestiging van antieke Babilon word só in die Bybel beskryf:
Die vorm van internasionalisme wat in antieke Babilon gevestig is, het taalkundige [en dus ook sosiale] eenheid tussen verskillende volke in die hand gewerk, asook ekonomiese en politieke eenheid. Dit het aan daardie eerste wêreldryk ‘n magsbasis gebied wat hulle in staat sou stel om alle ander volke deur dwang by hulle ryk in te lyf, hulle ekonomieë te beheer en hulle ook by ‘n heidense wêreldgodsdiens te betrek. Die mag wat hulle besig was om te bekom, was sodanig dat niks wat hulle van plan was om te doen, vir hulle onmoontlik sou wees nie.
Hierdie bose internasionaliseringsprogram was direk in stryd met God se orde van selfbeskikkende en onafhanklike nasies, daarom het Hy hulle eenheidshervormings op die kommunikasievlak laat verbrokkel en het die verskillende volke elk op hulle eie gaan woon sonder oorheersing deur ander. In dié situasie sou hulle nie net polities en ekonomies vry wees nie, maar ook godsdienstig vry om sonder dwang te besluit of hulle die ware God of die afgode wou dien.
Ten spyte van die verbrokkeling van die antieke Babiloniese ryk het Satan nooit sy planne vir ‘n alternatiewe wêreldorde van internasionale eenheid, in assosiasie met ‘n valse wêreldgodsdiens, laat vaar nie. Telkens in die geskiedenis is satanies-geïnspireerde pogings tot dié effek hervat. Die Babiloniese ryk is eers deur die Assiriese ryk opgevolg, en daarna deur die herstelde Babiloniese ryk van Nebukadnésar.
Hulle het dieselfde beginsels van magspolitiek, die onderwerping en inlywing van ander volke, gedwonge integrasie en ook die inskakeling by ‘n okkultiese staatsgodsdiens geïmplementeer. Hierna het die Meders en die Perse, die Grieke en die Romeine dieselfde model van wêreldheerskappy gevolg, en sal die komende Antichris dit ook op ‘n oortreffende wyse in sy wêreldregering doen. Die gees en invloed van Babilon leef dus voort tot in die eindtyd, omdat Satan aanhou met sy strategie vir die vestiging van ‘n goddelose en arrogante wêreldleier wat deur die mensdom vereer, nagevolg en aanbid moet word. Die huidige optrede van Irak, sy magspolitiek en rebelse houding teenoor Israel en die Christendom, is ook eg Babilonies.
Die Here se orde vir nasies bly, soos ook in die Nuwe Testament herbevestig, die bestaan van onafhanklike nasies wat duidelik van mekaar begrens is en dus self aanspreeklikheid vir hulle beleidsrigtings en dade moet aanvaar:
God se orde vir die nasies en die Babiloniese orde staan steeds teenoor mekaar in die wêreld.
In die lig van die voortgesette werkswyse van die koninkryk van die duisternis, rus God se oordele ook nog steeds op Babilon en sy bose metodes. Die absolute aard van die oordele wat die Here in die Ou Testament oor Babilon aangekondig het, is nog nooit ten volle vervul nie.
Babiloniese sameswerings, m.a.w. pogings tot die vestiging van onderdrukkende wêreldregerings, is nog nooit permanent beëindig nie, en het by herhaling in die geskiedenis voorgekom. Hieruit is dit duidelik dat die finale oordeel oor Babilon en sy antichristelike stelsel van wêreldheerskappy, nog toekomstig is. Dit word met profesieë oor die dag van die Here verbind, wat wesenlik eindtyds is. In die lig hiervan is dit duidelik waarom die Antichris se wêreldgodsdiens én sy wêreldryk in Openbaring 17 en 18 ook Babilon genoem word. Die vernietiging hiervan in die komende verdrukking sal die finale vernietiging van die eeue oue Babiloniese sameswering van Satan wees.
Profesieë oor die val van Babilon is só duidelik en absoluut dat daar geen tydperk in die vroeëre of latere Babiloniese en Assiriese geskiedenis aangetoon kan word toe dit ten volle vervul is nie. Vergelyk die volgende uitsprake:
Jeremia sê oor die verwoesting van Babilon:
Dr. J.A. Seiss het in sy Lectures on the Apocalypse in 1865 reeds gesê dat die letterlike stad Babilon herbou sal moet word sodat die Here dit soos Sodom en Gomorra totaal kan vernietig om van geslag tot geslag nooit weer bewoon te word nie. Hierdie vernietiging is ‘n eindtydse gebeurtenis wat volgens Jesaja 13:6 in “die dag van die Here” sal plaasvind en met die slag van Armagéddon aan die einde van die groot verdrukking sal saamval.
Clarence Larkin het in sy boek Dispensational Truth in 1918 aangetoon dat Babilon nog nooit heeltemal vernietig en onbewoon was nie. Jeremia (51:26) se profesie dat daar ná die finale vernietiging geen boustene van Babel se ruïnes gebruik sal word nie, moet nog vervul word. Inderwaardheid is talle dorpe en stede reeds met boustene uit die puinhope van Babel opgerig, insluitende vier hoofstede. Voordat die huidige herbouing van Babilon in 1978 begin het, is daar ook deur mense in die omgewing aansienlike hoeveelhede bakstene vir bouwerk van dié terrein af verwyder. Die feit dat van die ou fondamente tans weer herbou word, dui ook daarop dat Babilon se finale vernietiging nog toekomstig is.
As ekonomiese, politieke en vermaaklikheidsentrum sal die herboude Babilon volgens Openbaring 18 teen die einde van die groot verdrukking ‘n groot rol speel. Daar kan verwag word dat wanneer die Antichris dit tot sy hoofstad verklaar, bouprojekte gelyktydig deur alle nasies daar onderneem sal word om hulle diplomatieke en ekonomiese gesantskappe te akkommodeer. Die stad sal ‘n kosmopolitiese karakter aanneem, en in die kort ryk van die dier ‘n samevloeiingspunt vir verskeie tale en kulture wees.
Hier het die verskillende volke met die taalverwarring uitmekaar gegaan, en dit sal nie verbasend wees as ‘n poging aangewend word om hulle weer hier bymekaar te bring nie! Soos Babilon van ouds, moet hulle deur ‘n gemeenskaplike visie en die najaag van gemeenskaplike ideale in ‘n nuwe eenheidsverband saamgevoeg word. In die dae van antieke Babilon, 4 500 jaar gelede, is die heel eerste Verenigde Nasies-konferensie op rekord op die vlaktes van Sinear gehou. Die afgevaardigdes het gesê:
In moderne tye sal hierdie deklerasie van voorneme moontlik só klink:
Die ideologie van die moderne toring van Babel is wêreldwyd reeds goed gevestig. Die finale implementering daarvan sal in groot haas en te midde van koorsagtige entoesiasme geskied. Teen die einde van die groot verdrukking sal die boosheid in Babilon geen perke ken nie en van kwaad tot erger voortwoed. Openbaring 18:5 sê dat die sondes van Babilon, soos dié van Sodom en Gomorra, tot aan die hemel sal reik. Hulle sal die maat van hulle sondes vol maak.
Hoewel Saddam Hoesein ‘n groot rol in die aanvoring van Babilon se herbouing gespeel het, is hy maar net een van die baie voorlopers van die Antichris. Die volgende eienskappe van die Antichris kan ook in hom waargeneem word:
· Hy bou skrikwekkende wapenarsenale op, insluitende chemiese en bakteriologiese wapens.
· Hy koester geweldige Jodehaat en verag ook die Christendom.
· Hy is teen gematigde Arabiere gekant wat nie sy radikale beleidsrigtings steun nie.
· Hy is ‘n diktator wat sy eie mense én ander nasies harteloos onderdruk.
· Hy het geen probleem om ‘n wêreldoorlog te ontketen en groot rampe te veroorsaak nie.
· Hy herbou Babilon as deel van sy pogings om die roem van Nebukadnésar se Babiloniese ryk te laat herleef.
Die drome van Saddam Hoesein sal nie tydens sy eie bewind verwesenlik word nie, maar wanneer die Antichris kom sal hy op ‘n dramatiese wyse die ryk van Babel herstel en hierdie drome vir ‘n tyd lank waar maak.
Die duidelike aard van die profesieë oor Babilon maak dit nie moontlik om dit op ‘n ander stad of land oor te dra nie. Daar is Bybelverklaarders wat beweer dat Rome die plek van Babilon inneem, terwyl daar ook diegene is wat die betrokke profesieë op die Verenigde State van Amerika as die groot handelsland van die eindtyd oordra. As gevolg hiervan beweer hulle dat Amerika binne een uur in ‘n kernaanval vernietig gaan word.
Dit is egter alles voorbeelde van ‘n onbybelse vervangingsteologie. Babilon is nog steeds waar dit in antieke tye was, en word trouens weer herbou. Wat meer is, hierdie stad is in die algemene landstreek wat die Bybel as die oorsprong van die Antichris aandui. Hy is die Assiriër of die Koning van die Noorde (Jes. 10:12-14; Dan. 11:31-45).
Hou eerder verwikkelinge in die Midde-Ooste dop, veral in Israel, Sirië en Irak, asook in stede soos Jerusalem en Babilon, want die openbaring van die Antichris sal hier plaasvind.
Hoewel die moderne Babilon nie lank herbou sal wees wanneer die Antichris dit tot sy wêreldhoofstad verklaar nie, sal dit die bakermat en polsslag van die komende neo-Babiloniese wêreldsamelewing met sy sonde-kultuur wees. Die Antichris se drie magsbasisse sal hier gevestig word deurdat die wêreldregering, die elektronies-beheerde internasionale markte, asook die alliansie van wêreldgodsdienste, hier gevestig sal word. In Sag. 5:5-11 word gesê dat die godsdienssentrum vir die vrou wat goddeloosheid genoem word, in Sinear [Babilonië] opgerig sal word. Babilon sal dus die setel van die sataniese nuwe wêreldorde wees.
Aan die einde van die groot verdrukking sal die finale ondergang van die herboude Babilon skielik aanbreek. Johannes stel dit in Openbaring 18 só:
Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat daar nie van ‘n geleidelike verval en agteruitgang van die stad oor eeue heen gepraat word nie. Die vernietiging van Babilon sal in een uur plaasvind. Soos in die geval van Sodom en Gomorra, sal dit deur vuur verteer word. Dit sal met ‘n groot aardbewing en aanhoudende donderslae en weerlig gepaard gaan, soos in Openbaring 16 beskryf:
Wanneer hierdie aardbewing plaasvind, sal die aarde ook onder Babilon oopskeur en terselfdertyd sal die stad deur vuur en swael verteer word. Dit sal met ‘n gedruis in ‘n poel van vuur wegsink om nooit weer opgebou of bewoon te word nie. Die rook van haar verbranding sal donker wolke oor die vlaktes van Sinear vorm wat selfs van skepe af op die Persiese Golf gesien sal kan word. Die handelaars en seevaarders sal almal die verwoesting van hierdie stad met sy rykdom, prag en praal beween.
Op die plek waar Babilon gestaan het, sal net ‘n verlate krater wees. Oorblyfselfs van sy verwoeste paleise en kastele sal in die krater gesien kan word, maar dit sal net ‘n skuilplek vir demone, wilde diere en onrein voëls wees. ‘n Onheilspellende stilte sal gedurende die vrederyk hier heers, en niemand sal ooit weer hier woon of selfs net hier oornag nie. Die Arabiese veewagters wat in die omgewing vertoef, sal sorg dat hulle in die aand voor donker van hierdie grillerige plek af weg is (Jes. 13:19-20).
Dit is die uiteinde van ‘n koninkryk, ‘n ideologie én ‘n gemeenskap wat die rug op God gedraai, sy gesag en genade versmaai, en in openlike rebellie teen Hom geleef het. In wêreldryke van hierdie aard, asook in ‘n valse wêreldgodsdiens waarin verhoudinge met heidense godsdienste gesmee word, het die kinders van God niks verloor nie. Die opdrag aan hulle is duidelik:
Dit is skrikwekkend en haas ondenkbaar dat die moderne wêreldleiers ten spyte van al die historiese feite tot hulle beskikking, sowel as die profetiese voorkennis in die Bybel, voortgaan om ‘n Babiloniese nuwe wêreldorde te vestig. Behalwe vir die onwerkbaarheid daarvan, skep hulle duidelik die strukture vir die Antichris se wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie. Die Europese nasies bou geesdriftig saam aan die eindtydse Babiloniese wêreldregering deur van hulle nasionale soewereiniteit afstand te doen en ‘n belangrike deel van hulle regeringsmagte aan die Europese Parlement oor te dra. ‘n Gemeenskaplike Europese geldeenheid is reeds in gebruik en baan die weg vir nog meer en verreikende hervormings in die toekoms.
Terselfdertyd word in die res van die wêreld strukture vir Asiatiese eenheid, Arabiese eenheid, Amerikaanse eenheid en Afrika eenheid geskep. Wanneer hierdie strukture sterk genoeg funksioneer, sal hulle as laaste stap hulle krag en mag ter wille van wêreldeenheid saamvoeg.
In die komende Europees/ Midde-Oosterse ryk sal die verskillende leiers van al hulle magte afstand doen en dit aan die Antichris oordra:
Dieselfde sal ook deur ander wêreldleiers gedoen word, en saam sal hulle aan die Antichris se nuwe wêreldhoofstad, Babilon, bou. Dit wat deur hulle as ‘n simbool van vrede, eenheid en internasionale versoening gesien sal word, sal Satan se groot eindtydse komplot wees om die hele wêreld onder sy direkte beheer te kry. Oor hierdie bose, Babiloniese ryk sal God se oordele nie sluimer nie.