(Openbaring 20)
In die volgende gedeelte van Openbaring 20 word die duisendjarige ryk ses keer genoem:
Wanneer die Here Jesus na die aarde terugkom, kom Hy as Koning van die konings en sal ‘n regering vir die hele wêreld instel met Jerusalem as hoofstad:
Daniël sê in sy profesie oor die eindtyd dat die Seun van die mens met sy koms soos ‘n rots sal wees wat die aardse koninkryke sal verbrysel en tot stof vermaal, en self in hulle plek sal regeer (Dan. 2:44-45). Sagaria sê: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sag. 14:9). Dieselfde belofte oor sy koningskap op aarde is voor Jesus se geboorte aan Maria gemaak:
Die troon van Dawid is nie in die hemel nie, maar op aarde. Jesus regeer nie nou in ‘n geestelike sin op die troon van Dawid nie, want dié troon is sedert die Babiloniese ballingskap van Israel al vervalle en in onbruik. Christus sal hierdie troon in Jerusalem eers met sy wederkoms herstel en dan daarvandaan regeer:
Die ouderlinge in die hemel [die verheerlikte kerk] weet dat hulle saam met die Here Jesus na die aarde sal terugkom en hier as konings in sy ryk sal heers. Hulle sê uitdruklik:
Dit is dus baie duidelik dat die openbaringsgebeure met ‘n sterk proklamering van Christus se koningskap gepaard gaan:
Wanneer Jesus, wat tans as Hoëpriester by die Vader se troon vir ons intree, na die aarde terugkom, sal Satan se mag en invloed op aarde verbreek en Christus se koninkryk ingestel word. Die duiwel sal dan nie meer die owerste en god van hierdie wêreld wees, in wie se mag die huidige verdorwe wêreld lê nie (Joh. 14: 30; 2 Kor. 4:4; Ef. 6: 12; 1 Joh. 5:19).
‘n Verdere bewys daarvan dat die duisendjarige koninkryk nie in die hemel is nie, is die feit dat daar nog inherente vleeslikheid en wanordelikheid onder die nasies sal wees, wat sal vereis dat hulle met ‘n streng hand regeer word. Hoewel die duiwel gebind sal wees en die mense nie tot openlike sondes sal kan verlei nie, sal hulle nog ‘n gevalle natuur hê wat gedissiplineer moet word. In Openbaring 12:5 en 19:15 word gesê dat Christus die nasies met ‘n ystersepter sal regeer. In hierdie toekomstige koninkryk sal sy getroue diensknegte saam met Hom regeer:
Gedurende die Messiasryk sal die Here Jesus se troon in Jerusalem die ontmoetingspunt tussen die hemel en aarde wees, en dus die sentrum van goddelike wysheid, gesag en ‘n regering van geregtigheid. Jesaja sê die volgende hieroor:
‘n Toestand soos hierdie, waarin daar geen oorloë gevoer, geen militêre opleiding ondergaan of enige wapens vervaardig word nie, het nog nooit op aarde bestaan nie. Dit kan dus slegs op die toekomstige vrederyk betrekking hê. Omdat die duiwel gedurende die duisend jaar van Christus se regering gebind sal wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie, sal gewelddadigheid en oorlogvoering nie voorkom nie. Ander vorms van sonde sal ook verdwyn en die hele wêreld sal slegs die Christelike godsdiens erken en aanhang:
Jerusalem sal spontaan deur almal as hoofstad van die wêreld erken word, en daar sal geen vyandigheid en politieke spanning tussen individue of nasies bestaan nie:
Die enigste vorm van wangedrag wat wél sal voorkom, sal laksheid wees deurdat sommige nasies sal nalaat om die Here te eer en te dien soos hulle moet. Dit sal nog steeds ‘n geval wees van: “die gees is gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26:41). Hulle sal as gevolg daarvan deur vermaninge en strafmaatreëls aangespreek word:
Daar sal in hierdie tyd dus ‘n oorblyfsel van die nasies op aarde wees. Hulle sal sterflike mense van vlees en bloed wees, en as gevolg van hulle gevalle natuur nog steeds gered moet word om waarlik aan die Here te behoort. Volgens Sagaria 14:16-17 sal hulle wél die groot verdrukking en die slag van Armagéddon oorleef, en hoewel hulle nie die nommer van die Antichris aanvaar het nie, behoort hulle ook nie aan Christus voordat hulle Hom daadwerklik as Verlosser aangeneem het nie.
Daar is aanduidings in die Bybel dat die relatief klein oorblyfsel van die nasies direk ná die wederkoms van Jesus almal saam met die oorblyfsel van Israel gered sal word. Sagaria sê dat met die wederkoms, die oorblyfsel van Israel rou sal bedryf wanneer hulle met die Messias versoen word (Sag. 12:10-14; 13:1, 9). Mattheus dui aan dat alle nasies in hierdie rou en verootmoediging sal deel:
Dit beteken dat die vrederyk met ‘n eerste geslag Christene sal begin. Omdat hierdie mense egter nog almal hulle Adamiese, sonde-geneigde natuur het, sal die opkomende geslagte [soos ook nou] ongered gebore word en dus weergebore moet word om kinders van God te word. Om hulle te evangeliseer, sal die taak van die geredde Israel wees, wat ook nog sterflike maar wedergebore mense sal wees. Hulle sal die evangelie na alle nasies uitdra:
Dit is uit Openbaring 20 duidelik dat daar gaandeweg ál hoe minder lede van die opkomende geslagte gered sal word. Wanneer die duiwel aan die einde van die vrederyk vir ‘n kort tydjie losgelaat word, sal miljoene mense dadelik in sy mag val (Op. 20:7-9).
Die leer oor die twee opstandings kom ook duidelik in verband met die duisendjarige vrederyk ter sprake. Slegs hulle wat deel het aan die eerste opstanding (Luk. 14:14; 1 Thess. 4:16), waarby ook ingereken moet word die ná-oes van die verdrukking, sal saam met Jesus Christus in sy ryk regeer. Die opstanding van die regverdiges móét dus voor die duisendjarige vrederyk plaasvind. Om hiervoor waardig te wees, is ‘n groot seën en iets om jou voor te beywer :
Die ander dode is die ongeredde menigte van alle eeue, en hulle sal nie herleef totdat die duisend jaar voleindig is nie (Op. 20:5). Hulle sal dan voor die groot wit troon verskyn om tot die ewige dood in die poel van vuur verdoem te word.
Die volgende is die belangrikste kenmerke van die toekomstige vrederyk op aarde:
· God sal in die Persoon van Jesus Christus op aarde regeer. ‘n Teokratiese wêreldregering sal dus gevestig word (Luk. 1:31-33; Op. 19:15; Jes. 11:5-16).
· Die troon van Christus sal in Jerusalem wees (Sag. 8: 22; Jes. 2:2-3; 24:23). Sy regering sal deur geregtigheid gekenmerk word (Jes. 1:26-27; Jer. 23:5-6).
· Daar sal vrede wees. Nasies sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:4; Miga 5:4).
· Satan sal gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-4).
· Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here en die hele wêreld evangeliseer (Jes. 12:3-6, 27:6, 40:9). Deur hulle evangelisasie sal hulle die wêreld vol vrugte maak (Jes. 27:6) en die Here sal geëer word (Jes. 28:5).
· Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Hab. 2:14).
· Daar sal nie siekte wees nie: “Geen inwoner sal sê: ek is siek nie” (Jes. 33: 24).
· Mense sal hoë ouderdomme bereik. ‘n Man van 100 jaar oud sal as ‘n kind beskou word (Jes. 65:20-23).
· Die natuur, wat as gevolg van die sondeval aan die nietigheid onderworpe is, sal gedeeltelik herstel word. Die hele skepping wag met reikhalsende verwagting op die openbaarmaking van die kinders van God (Rom. 8:19-22; Jes. 41:18-20).
· Tye van ekonomiese voorspoed sal aanbreek. Wanneer dit planttyd is, sal die vorige oes nog nie eers klaar ingesamel wees nie (Jes. 55:13; Amos 9:13-14; Joël 3:18).
· Daar sal ‘n ten volle ontwikkelde, ekonomies voorspoedige gemeenskap wees wat in die behoeftes van die Koning se onderdane sal voorsien (Jes. 65:21-23).
· Harmonie sal in die diereryk heers. Die leeu sal by die lam lê en gras vreet soos ‘n os, omdat die Here ‘n nuwe verbond met die diere en visse van die see sal sluit (Jes.11:6-9, 65:25; Hos. 2:17).
Hierdie en baie ander seëninge sal die kenmerk van die Messias se duisendjarige vrederyk wees wanneer Hy op die troon van Dawid regeer. Sy verheerlikte kerk sal saam met Hom regeer en geregtigheid op aarde laat geskied. Israel sal ‘n leidende rol in wêreldsake speel en die Here se spesiale getuies onder die nasies wees.