(Openbaring 20-22)
Die rede waarom die duiwel nie saam met die Antichris en die valse profeet in die vuurpoel gewerp word nie, is omdat hy aan die einde van die duisendjarige ryk aangewend sal word om die latente boosheid van die ongeredde mense na vore te bring. Sodoende sal hulle werklike karakter geopenbaar word, en sal daar skeiding tussen die gereddes en die ongereddes gemaak word.
Die skokkende feit hieromtrent is dat miljoene mense selfs in die dispensasie van die koninkryk, wanneer Christus ten aanskoue van almal in geregtigheid op die troon van Dawid sal regeer, met hulle vormgodsdiens sal voortgaan en nalaat om aan die eis van wedergeboorte te voldoen.
Telkens in die mens se geskiedenis was diegene wat die smal weg gekies het, ver in die minderheid. Dit sal ook vir die komende bedeling van die vrederyk geld. Die sluimerende boosheid in die ongereddes sal dadelik na vore kom wanneer die Satan losgelaat word om sy bose invloed op die vleeslike natuur van onwedergebore mense te laat uitgaan. Hierdie mense sal soos spelde na ‘n magneet toe deur die duiwel aangetrek word, en hy sal hulle vir ‘n verdere groot rebellie teen God aanhits. Johannes sê:
Ná die duisendjarige ryk en Satan se laaste opstand aan die einde daarvan, sal daar ‘n groot wit troon in die hemel verskyn. Die tweede opstanding sal plaasvind, en almal wat sonder Christus geleef en gesterf het sal tot die ewige verdoemenis veroordeel word. Die smal en die breë weg sal dan elkeen sy finale bestemming bereik – die een in die nuwe Jerusalem met sy pêrelpoorte en goue strate, en die ander een in die poel van vuur:
Dit sal ‘n uiters skrikwekkende ondervinding vir die goddeloses wees om voor die groot wit troon te verskyn en deur die Here weggewys te word. Die herlewingsprediker, C.H. Spurgeon, het duidelik daarop gewys dat daar benewens die opstanding tot die lewe vir die regverdiges, ook ‘n opstanding tot die veroordeling vir die sondaars is. Hy het die verlorenes ernstig gewaarsku:
Let daarop dat die poel van vuur ‘n letterlike plek is, en dat dit vir ewig sal bestaan. Jesus het onder meer hieroor gesê:
Ná die eindoordeel breek die sewende en laaste dispensasie in die raadsplan van God vir die mens aan, naamlik die bedeling van die ewigheid. Die mens se heilsgeskiedenis op aarde word binne die raamwerk van sewe dispensasies beskryf. Dit begin by die skepping van Adam en Eva in die paradys en eindig in die nuwe hemel en nuwe aarde waar die volmaaktheid van die ewige lewe vir die kinders van God aanbreek. Die volgende is die sewe bedelings wat in die Bybel ter sprake is, wat vir die menslike geskiedenis bestem is. Hulle is:
· Die bedeling van onskuld en harmonie in die paradys.
· Die bedeling van die gevalle mens wat deur sy gewete gelei is.
· Die bedeling van die wet in die geskiedenis van Israel.
· Die bedeling van genade tydens die kerkdispensasie (die verborge koninkryk van God in ‘n bose wêreld).
· Die bedeling van die ryk van die Antichris in die uur van die duisternis tydens die sewe jaar lange verdrukking.
· Die bedeling van die geopenbaarde koninkryk van die Here op aarde tydens die duisendjarige vrederyk.
· Die bedeling van volmaaktheid in die ewigheid.
Die begin en die einde van ‘n bedeling gaan altyd met dramatiese gebeure en ‘n nuwe ontplooiing van God se raadsplan gepaard. Dit word ook deur verskerpte demoniese aktiwiteite gekenmerk omdat die duiwel dan op ‘n listige en verwoede wyse alles in die stryd werp om God se raadsplan te ontwrig of ongedaan te probeer maak.
Die belangrikste kenmerke van die sewe dispensasies is, in breë trekke, die volgende:
Die heel eerste bedeling waarin Adam en Eva in die paradys was, was die bedeling van onskuld. Hulle het geen kennis van goed en kwaad gehad nie, daarom was hulle nie eers van hulle naaktheid bewus nie. Die Here het aan hulle sekere opdragte gegee, wat ook ‘n verbod op die vrugte van die boom van die kennis van goed en kwaad ingesluit het. As hulle hiervan eet, sou hulle sekerlik sterwe (Gen. 2:17).
Satan het vir Adam en Eva egter op ‘n listige wyse verlei om God se opdrag te oortree en van die boom se vrugte te eet (Gen. 3:1-5). Hulle het hierdeur nie net van die onderskeid tussen goed en kwaad bewus geword nie, maar self slagoffers van die kwaad geword. Omdat hulle teen God gerebelleer en na die duiwel geluister het, het hulle ‘n sondige natuur gekry en geestelik gesterwe. Ook het hulle fisies sterflike mense geword. Die bedeling van onskuld is dus deur die sondeval beëindig, en Adam en Eva is uit die paradys gedryf.
Vir ‘n lang tyd ná die sondeval het die mens van goed en kwaad onderskei d.m.v. die stem van sy gewete. Hy het geen ander voorskrifte gehad om na te volg nie. Verskeie van hulle het geregtigheid nagestreef na aanleiding van hulle innerlike oortuigings, en getuienis ontvang dat hulle God behaag het. Die Here het Homself ook aan hierdie mense geopenbaar en selfs met hulle gepraat. Baie van hulle het predikers van geregtigheid geword. Voorbeelde van sulke manne was Abel, Henog, Noag, Abraham, Isak, Jakob en Josef.
Aan die einde van die bedeling van die gewete, toe Israel by Sinai op die punt gestaan het om die wet van die Here te ontvang en sodoende ‘n nuwe dispensasie te betree, het Satan weer met al sy mag toegeslaan om die verdere ontplooiing van God se raadsplan te voorkom. Terwyl Moses op die berg was, het die duiwel die volk tot afgodediens verlei sodat hulle geestelik nie gereed was om die wet van die Here te ontvang nie. As gevolg van hierdie geweldige afvalligheid en rebellie teen God het Moses die kliptafels van die wet stukkend gegooi. Die Here het egter ná ernstige gebed deur Moses die volk vergewe en weer sy wette aan hulle gegee.
Hiermee het die bedeling van die wet aangebreek, waarin die onderskeid tussen goed en kwaad in baie meer detail uitgespel is. Nie net in die Tien Gebooie nie, maar ook deur ‘n groot aantal verordeninge het God aan sy volk opdragte gegee oor wat hulle móét doen en nié mag doen nie. Satan het volgehoue pogings aangewend om die volk ontrou aan God se wette te maak.
Hierdie bedeling word ook die bedeling van genade en die bedeling van die Heilige Gees genoem. Met die koms van Jesus as voorbereiding vir die aanbreek van die bedeling van genade, het die duiwel met groot woede toegeslaan om Jesus in onguns te bring, te probeer doodmaak, en ook om die apostels en die vroeë Christelike kerk deur geweld uit te roei. Sy planne het egter misluk en die bedeling van die kerk het gevestig geraak.
Ná die kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus, is die Heilige Gees uitgestort om mense te wederbaar en in die hele waarheid te lei. Deurdat Hy hulle van sonde en geregtigheid oortuig, verkry hulle nog veel dieper insig in die onderskeid tussen goed en kwaad. Die kwaad sluit nie net sondige dade in nie, maar ook sondige gesindhede. Ten spyte van die dieper insig, leef ons in ‘n gebroke werklikheid waarin ons nog steeds net ten dele ken. Ons moet waak teen geestelike onkunde en aktief na die dinge van die Here soek. Ons moet toeneem in genade en kennis van ons Here Jesus, terwyl ons ook ‘n groter sensitiwiteit en afkeur vir die sonde ontwikkel.
Nou staan ons aan die einde van die bedeling van die kerk, en is dit weer eens ‘n tyd van groot afvalligheid en demoniese aktiwiteite. Satan werp alles in die stryd om die kerk te vervals en die maagde wat op die koms van die Bruidegom wag, aan die slaap te sus. Dit is nie sonder rede dat die Here sê dat ons moet vas staan teen die aanslae, en moet waak en bid om vir sy skielike koms gereed te wees nie. In hierdie tyd word intensiewe voorbereidings ook vir die openbaring van die Antichris getref.
Wanneer die teëhouer, dit is die ware kerk van Christus, d.m.v. die wegraping uit die weg geruim is, sal die Antichris geopenbaar word (2 Thess. 2:6-12). Dit sal ‘n hele nuwe bedeling inlui waarin die massas deur die krag van die dwaling mislei sal word. Hulle sal ook verslaaf, verdruk en doodgemaak word. Die kwaad sal dan tot sy volle ontplooiing kom, met die mens van sonde aan die hoof van ‘n goddelose wêreldorde. In teenstelling hiermee sal die kerk wat weggeraap is, verheerlik word om die goeie ten volle te ken en te beleef.
Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking, wanneer Satan sal weet dat die dae vir die Antichris se wêreldregering min geraak het, sal hy met dubbele woede toeslaan om mense dood te maak. Hy sal alle magte tot sy beskikking in die slag van Armagéddon teen die komende Christus monster. Dit sal egter vir hom ‘n verlore stryd wees, want die Antichris en die valse profeet sal op die dag van Jesus se wederkoms lewend in die hel gewerp word terwyl Satan ‘n duisend jaar lank in ‘n bodemlose put gebind sal word.
In die duisendjarige vrederyk sal die ware gelowiges van alle tye saam met Christus in sy koninkryk regeer. As verheerlikte wesens sal hulle nie meer aan pyn, droefheid, ellende en die dood onderworpe wees nie, en ook nie meer deur ander vorms van onvolmaaktheid en menslike swakhede geteister word nie. Hulle sal ten volle ken, soos wat hulle ook ten volle geken is.
Aan die einde van die bedeling van die vrederyk sal Satan vir ‘n kort tydjie losgelaat word om sy laaste groot aanslag teen die koninkryk van God te loods. Dit sal na sy ewige verdoemenis in die poel van vuur lei. Al sy demone en al die verlore siele sal saam met hom in die hel gegooi word.
In die ewigheid, in die nuwe hemel en op die nuwe aarde, sal daar nooit weer iets inkom wat verontreinigend of sondig is nie. Volmaakte vrede en vreugde sal heers wanneer die gelowiges vir altyd in die teenwoordigheid van God sal leef:
Openbaring sluit af met ‘n kykie na God se nuwe skepping. Tydens die eindoordeel word die aarde ook verbrand, die hemel wyk weg soos ‘n boek wat toegerol word, en ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde word geskape. Die nuwe Jerusalem, daardie wonderstad wat die Here Jesus gaan berei het vir dié wat Hom liefhet, daal dan uit die hemel neer en rus op die nuwe aarde.
Die afmetings van die nuwe Jerusalem word in Openbaring 21:16 genoem, naamlik 1 500 myl lank, breed en hoog. Dit sal waarskynlik die vorm van ‘n prisma hê. Die Nuwe Afrikaanse Bybel (1983) sê verkeerdelik dat die stad se afmetings 12 000 kilometer aan elke kant is. In die Griekse teks word daar na 12 000 stadia verwys, maar ‘n stadion is 200 meter. Die werklike lengte is dus 2 400 kilometer of 1 500 myl. Miljoene regverdiges sal hierin woon.
Die stad en sy strate is van suiwer, deurskynende goud gebou. Die fondamente van die muur is met kosbare edelgesteentes versier wat wissel van kristalhelder stene tot dieprooi sardius, groen chrisoliet en vonkelende blou saffier. In die hoë mure rondom die stad is daar twaalf poorte, en elke poort bestaan uit ‘n pêrel. Die idee van ‘n traan word deur ‘n pêrel vertolk, omdat sy vorming met pyn en lyding gepaard gaan. Wanneer die oester beseer word, vorm dit ‘n skitterende pêrel op daardie plek. Toe Jesus se hande en voete deur ruwe spykers deurboor is en Hy sy lewe vir ons afgelê het aan die kruis, is die poorte van die paradys weer vir die gevalle mens geopen. Deur sy trane en lyding het Hy vir ons die kosbare pêrel geword wat self die poort na die nuwe Jerusalem is. Deur Hom kan ons ingaan en uitgaan en ons vir ewig in die heerlikheid van die Here verbly. Jesus Christus alleen verleen aan ons toegang tot al hierdie heerlikheid.
In Openbaring 22 waar die leser in ‘n profetiese vergesig tot by die nuwe hemel en die nuwe aarde gevoer is, word sy aandag weer terug na die hede herlei. Met die kennis wat hy van die wonderlike eindbestemming van die Christenpelgrim se reis opgedoen het, asook van die skrikwekkende bestemming van die goddeloses, word ‘n duidelike reaksie van hom verwag. Die Here vra hom om ‘n ingesteldheid te ontwikkel dat die dag van sy wederkoms en die voleinding van hierdie bedeling naby is. Dit vereis ‘n lewe van toewyding, godsvrug en afsondering van die huidige bose wêreld:
Die Here herinner ons dus weer daaraan om nie die Babiloniese denkpatroon te volg van eenheid ten alle koste, waarin mense geleer word om met alles en almal kompromie te maak nie. In hierdie bedeling van toenemende stryd tussen die magte van die lig en die duisternis is dit net nie moontlik nie. Ons moet eerder as gevolg van ons geloof in die Here Jesus op groter polarisasie en konflik met ‘n bose wêreld ingestel wees. Dié wat vuil is, word vuiler, en dié wat rein is, reiner.
U kan nie kompromieë aangaan en deur permissief te leef meedoen aan die sondige werke en ideologieë van hierdie wêreld wat in die mag van die Bose lê nie. Bewandel die reguit, smal pad end-uit en moenie bekommerd word as die wêreld en sy pragmatiese, afvallige kerke teen u draai nie. Skynheilige skrifgeleerdes het die Here Jesus op aarde vervolg, en Hy het gesê dat dit met sy dissipels ook sal gebeur (Joh. 15:18-19; 16:33).
Naamchristene wat met die wêreld kompromie maak sal nie veroordeel en vervolg word nie omdat hulle saam met die stroom afdryf. Vir hulle ‘rustige’ lewe en tydelike voordele sal hulle uiteindelik ‘n baie duur prys betaal wanneer hulle deur die Here weggewys word (Matt. 7:21-23). Vriendskap met die wêreld word uitdruklik as vyandskap teen God bestempel (Jak. 4:4; 1 Joh. 2:15-17). Daar kan nie brûe tussen dié twee ideologieë en lewenswyses gebou word nie. Elkeen moet ‘n duidelike keuse maak waar hy of sy staan.
Jy kan vandag nog van die breë pad van duisternis en verlorenheid af bevry en na die smal pad van die Here Jesus oorgeplaas word, selfs al het die verdrukking al begin. Aan elkeen wat waarlik gered wil word, sê die Here in die slothoofstuk van die Bybel:
Moenie uitstel om neer te kniel en jou sondes aan Jesus Christus te bely nie. Hy het belowe om niemand wat na Hom toe kom, uit te werp nie (Joh. 6:37). Hy wag op jou:
Die Here vergeef menigvuldiglik (Jes. 55:7). Selfs al het jy al by herhaling gesondig en van die Here af weggedryf, kan jy steeds die vrymoedigheid neem om na die Here Jesus terug te kom. Moenie dat die Bose jou van redding weerhou deur die idee dat jou sonde té groot of dalk onvergeeflik is nie. Dit is twee van sy tipiese leuens. Bely alles teenoor die Here en neem die belofte van volle vergifnis en redding aan:
Bely jou geloof teenoor andere en neem in die openbaar standpunt vir Christus in (Rom. 10:9-10), selfs al bring dit vervolging mee. Moenie huiwer om te praat van die groot dinge wat Hy vir jou gedoen het nie. Lees die eerste brief van die apostel Petrus en skep moed om te midde van verdrukking staande te bly en te volhard. Al die swaarkry weeg glad nie op teen die ewige heerlikheid wat binnekort aan ons geopenbaar sal word nie (2 Kor. 4:16–5:1). Die tyd is min om ‘n besluit oor jou ewige lewe te neem!
Aan die einde van Openbaring word dit bevestig dat as ons saak met die Here waarlik reg is, die Heilige Gees ‘n sterk verlange na die wederkoms van die Here Jesus in ons harte sal skep. Die Gees én die bruid roep die hemelse Bruidegom toe: “Kom, Here Jesus!” Hy antwoord hierop deur te sê: “Ja, Ek kom gou!” (Op. 22:17, 20).
In Openbaring 22:16 sê die Here: “Ek, Jesus, het my engel gestuur om hierdie dinge aan julle voor die gemeentes te betuig. Ek is die wortel en die geslag van Dawid, die blink môrester.”
Jesus is die wortel en geslag van Dawid. Hy is die beloofde Messias wat in die stam van Juda uit die geslag van Dawid gebore is – die saad van Abraham waardeur al die nasies geseën word. Hy is nie net die Messias van Israel nie, maar die Verlosser van die nasies (Jes. 49:5-6). Moses het ook in Deuteronómium 18:15 na hierdie groot Profeet verwys wat uit Israel gebore sou word.
As gevolg van die beloftes van die komende Messias het Satan vir Israel deur die eeue heen gehaat en vervolg. Geestelike leiers met insig het besef waaroor die stryd van Israel ten diepste gaan, en het hulle ten spyte van groot ongerief en vyandigheid hieraan gewy. Dit is oor en oor die moeite werd om vir ‘n saak te ly waarvoor God jou sal beloon. Moses het in Egipte “verkies om liewer sleg behandel te word saam met die volk van God as om ‘n tyd lank die genot van die sonde te hê, en die smaad van Christus groter rykdom geag as al die skatte van Egipte, want hy het uitgesien na die beloning” (Heb. 11:25-26).
As die blink môrester is Jesus self die belofte van ‘n nuwe dag wat oor hierdie donker aarde sal aanbreek. Die gelowiges sal Hom met die wegraping as die Blink Môrester in die laaste nagwaak van hierdie donker dispensasie ontmoet. Dan volg die laaste stukkie van die nag op aarde onder die bewind van die Antichris voordat Jesus met sy wederkoms soos die son van geregtigheid sal kom om alle duisternis te verdryf.