2. Openbaring van die Verheerlikte Christus

(Openbaring 1)

Die heel eerste vers van Openbaring bevestig die feit dat hierdie boek nie ‘n geslote geskrif of ‘n abstrakte en onverstaanbare weergawe van toekomstige gebeure is nie, maar ‘n openbaring of bekendstelling daarvan. Die woord Openbaring (Apokalipse) beteken ontsluiering, ontdekking, afneem van ‘n deksel, of oopmaak wat verborge is. Die naam van hierdie boek is in ooreenstemming met Christus se opdrag in Openbaring 22:10 dat die woorde van die profesie van hierdie boek nie verseël mag word nie. Dit is bedoel om verstaan en verkondig te word.

Die oorsprong van hierdie profesieë word duidelik gestel:

“Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het" (Op. 1:1).

Let daarop dat dit nie die Openbaring van Johannes is nie. Hy is wél die skrywer van die boek, maar Jesus is die Openbaarder. Dit is ook belangrik dat die titel van die boek in die enkelvoud is en nie in die meervoud nie. Dit is nie die Openbarings van Jesus nie, maar die Openbaring van Jesus. Hierdie boek is op die koms, verskyning, of openbaarmaking van Jesus Christus gefokus.

Johannes sê dat die getuienis van Jesus die gees van die profesie is (Op. 19:10). Die profesieë oor die oordele van die groot verdrukking moet dus ook met Jesus in verband gebring word. Selfs die ongeredde wêreldlinge sal dit besef. Wanneer die kragte van die hemel geskud word, sal hulle uitroep dat die groot dag van die Lam se toorn gekom het en wie kan bestaan? (Op. 6:16-17).

Doel van die boek

Die Here sê die doel van hierdie openbaringe is “…om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur” (Op. 1:1). Die woord dienskneg kan ook vertaal word as slaaf. Ware Christene behoort aan die Here Jesus omdat Hy hulle gekoop het met sy bloed (1 Kor. 6:20; 1 Pet. 1:18-19).

As die boek Openbaring vir sekere ‘Christene’ nog ‘n geslote boek is, is dit moontlik daaraan te wyte dat hulle nog nie bloedgewaste diensknegte van die Here is nie. In Openbaring 5:9-10 getuig die ouderlinge in die hemel nie net van die vrymakende krag van die bloed nie, maar weet ook dat hulle ná die wederkoms op aarde as konings sal kom regeer! Hulle wéét wat die toekoms vir hulle inhou.

Die Here gee deur hierdie boek ‘n profetiese perspektief aan sy kinders. Hy vra dat hulle na die boodskap sal luister en ook begrip daarvoor sal hê. In Openbaring 2 en 3 word telkens gesê: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (Op. 2:7, 11, 17, 29; 3:6, 13, 22). Dit was nooit die bedoeling van God om hierdie profetiese boodskap vir sy kinders te verberg of te versluier nie.

Deur die openbaring van Jesus op skrif te stel, het Johannes hierdie belangrike boodskap na die ganse kerk van Christus deurgegee. In vers 2 sê hy dat wat hy beskryf, ‘n getroue weergawe van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus is. Hy is dus net ‘n boodskapper van dit wat God self deur sy Seun aan die gemeentes wil sê. Petrus stel die belangrikheid van die profetiese woord baie duidelik wanneer hy sê:

“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte, terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek" (2 Pet. 1:19-21).

Hierdie profetiese lamp het deur die eeue heen geskyn en geestelike pelgrims se pad in ‘n donker wêreld verlig. Abraham het in ‘n vreemde land in tente gewoon, maar omdat hy ‘n vergesig gehad het van ‘n stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is, het hy in die geloof geleef soos iemand wie se burgerskap in die hemel is, in die nuwe Jerusalem (Heb. 11:9-10).

Ons moet ook goed begryp dat die smal weg en die breë weg albei op hulle finale bestemmings afstuur. In Openbaring word dié twee bestemmings in skrille kontras teenoor mekaar gestel. Die smal weg stuur op ewige heerlikheid in die nuwe hemel, die nuwe aarde en die nuwe Jerusalem af, en die breë weg op die oordele van God en ‘n ewige nag van verskrikking in die poel van die vuur.

Verder word daar ook beklemtoon dat die Here aan sy diensknegte wil toon wat góú moet gebeur. Die woord gou is ‘n vertaling van die Grieks tachei. Hiervan is ons woord tagometer afgelei, wat ‘n spoedmeter of ‘n toereteller is. Dit beteken dat wanneer die eindtydse gebeure in Openbaring 4 met die wegname van die gemeente geaktiveer word, dit teen ‘n hoë spoed in vervulling sal gaan en baie vinnig afspeel. God was vir eeue lank baie geduldig en lankmoedig met die mens:

“Die Here vertraag nie die beloftes soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom" (2 Pet. 3: 9).

Die oomblik sal egter kom wanneer God se lankmoedigheid met ‘n verdorwe mensdom verby sal gaan. Dan sal Hy Homself in grimmigheid openbaar en sal gebeure op aarde teen ‘n verbysterende tempo afspeel.

Die belofte van die boek

Benewens die oordele van die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae, is daar ook sewe beloftes wat as saligsprekinge in Openbaring opgeteken is. Hulle is die volgende:

“Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby” (Op. 1:3).

“Salig is van nou af die dode wat in die Here sterwe. Ja, sê die Gees, sodat hulle kan rus van hul arbeid, en hulle werke volg met hulle” (Op. 14:13).

“Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, sodat hy nie miskien naak rondloop en hulle sy skaamte sien nie" (Op. 16:15).

“Salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam” (Op. 19:9).

“Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Op. 20:6).

“Kyk, Ek kom gou. Salig is hy wat die woorde van die profesie van hierdie boek bewaar” (Op. 22:7).

“Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad” (Op. 22:14).

Dit is nodig om hierdie saligsprekinge ter harte te neem en aan die voorwaardes daarvan te voldoen. Dit moet in ons harte bewaar en oordink word sodat ons ons lewens daarvolgens kan inrig. Die Here wil ook hê dat ons moet besef dat die tyd hiervoor naby is. Moenie die boek Openbaring opsy skuif en sê dat dit nog baie lank is voordat hierdie dinge gaan gebeur nie.

Selfs mense wat in die tyd van die vroeë Christelike kerk of in die Middeleeue geleef het, het nét so nodig gehad om wederkomsgerig te leef en hulle gereed te maak om hulle God te ontmoet. Hulle moes ook ‘n hemelse perspektief hê sodat hulle verby die tydelike en verganklike aardse dinge kon kyk na hulle ewige tuiste waarheen hulle op pad is. Alleen dán is ‘n mens se prioriteite reg en maak jy deur ‘n lewe van toewyding seker dat jou kleed rein bly. Jy maak ook vir jou skatte in die hemel bymekaar wat niemand van jou kan beroof nie. Selfs al sterf jy as ‘n martelaar, dan sal hierdie werke van geloof jou na die regterstoel van Christus volg.

Die belofte van die wederkoms motiveer jou ook om te midde van beproewinge te volhard tot die einde toe. Jy weet dat die bruilofsmaal van die Lam vir jou wag, en dat jy deur die pêrelpoorte van die nuwe Jerusalem sal ingaan om jou ewige tuiste in die hemel te beërf.

Verwag jy die wederkoms van die Here Jesus en motiveer dit jou geestelik? Johannes sê dat hy wat die hoop op Christus se wederkoms het, reinig homself soos Hy rein is (1 Joh. 3:3). Streef na morele én geestelike [leerstellige] reinheid in jou lewe deur teen alle besoedelinge van die gees en die vlees te waak.

‘n Boodskap aan die gemeente van Christus

Die openbaringsboodskap kom van die Drie-enige God, en die bestemming daarvan is die sewe gemeentes in Klein Asië. Omdat sewe die Bybelse getal van volheid is wat dikwels in die boek Openbaring gebruik word, word hierdie boodskap in werklikheid aan die ganse kerk van Christus deur die eeue heen gerig.

Die uitnemende posisie van die Here Jesus as die Hoof van die gemeente word in ryk en beeldende taal beskryf. Dit is Hy wat ons liefgehad en van ons sondes gewas het in sy bloed. Hy is die Alfa en die Omega. As die Alfa is Hy die begin van die skepping van God, en ook die fondament en hoeksteen van die koninkryk van die hemele. Hy het die grondslag vir die verlossingsplan van die mens gelê, daarom is die begin van ons geestelike lewe ook in Hom geleë. As die Omega is Hy die voleinding van alle dinge en sal Hy ná die bedeling van die kerk weer kom om ons sy ewige heerlikheid binne te lei.

Johannes sien die Here Jesus in die huidige bedeling as die Een wat tussen die sewe kandelare wandel, en intiem by die doen en late van sy kerk op aarde betrokke is. Die verskillende gemeentes word deur die kandelare voorgestel, wat die houers is waarin die olie van die Heilige Gees gegiet word. As die lidmate van die gemeente voortdurend met die Heilige Gees vervul is, kan hulle ‘n helder lig in die donker wêreld laat skyn.

Johannes sien vir Christus in sy verheerlikte voorkoms. Hy het ‘n lang kleed aan wat tot op sy voete hang, gegord met ‘n goue gordel. Hierdeur word sy hoëpriesterlike amp en koninklike waardigheid beklemtoon. Die wit hare versinnebeeld sy wysheid, terwyl sy oë wat soos ‘n vuurvlam is, op sy indringende beoordeling en alwetendheid dui. Niks is vir sy oë bedek nie.

Sy voete wat soos gloeiende koper in ‘n oond is, beklemtoon sy volkome heiligheid en gelouterdheid. Hy het ter wille van ons sondes deur die vuur van God se oordele gegaan – deur Getsémane, Gólgota én die doderyk, sonder om te huiwer of terug te deins. Dink aan die groot offer wat Hy moes bring om hierdie pad te loop. Hy het die hemelse heerlikheid prysgegee om hier op aarde verwerp, geminag, bespot, geslaan en saam met rowers tereggestel te word. Hy was so misvormd van die géseling dat Hy nie meer soos ‘n mens gelyk het nie (Jes. 52:14). “Hy was verag en deur die mense verlaat, ‘n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ‘n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra...” (Jes. 53:3-4).

Paulus skryf ook van Christus se bereidwilligheid om as ‘n Kneg van God en Redder van sondaars na die aarde neer te daal, van sy vernederende dood ter wille van ons sonde, en die onbeskryflike heerlikheid wat Hom daarna in die hemel te beurt geval het:

“Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader” (Fil. 2:6-11).

Dit is die verheerlikte Christus wat Johannes tussen die kandelare sien wandel. Hy, wat tydens sy verhoor weens ons sonde Homself nie verweer en sy mond nie oopgemaak het nie (Jes. 53:7), praat nou met ‘n stem wat klink soos dié van baie waters. Niemand kan dit demp, teen dit praat of die gesag daarvan uitdaag nie. Sy woorde is soos ‘n skerp tweesnydende swaard wat uit sy mond uitgaan: dit bring skeiding tussen goed en kwaad, dit spreek vry én dit veroordeel.

Sy aangesig is soos die son wat alle duisternis verdryf, en sy spesiale getuies soos helder skynende sterre in sy regterhand. Hulle moet die lig van die son van geregtigheid in ‘n donker wêreld laat skyn, en bereid wees om ook diensknegte van God te wees wat deur lyding en verdrukking gelouter word.

Jesus Christus is die Een om wie alles in hierdie boek draai. Van die begin af het mense verskillend oor Hom gereageer. Simeon het kort ná die geboorte van Jesus al oor Hom gesê: “Kyk, hierdie kind is bestemd tot ‘n val en ‘n opstanding van baie in Israel en tot ‘n teken wat weerspreek sal word” (Luk. 2:34). Christus was die afgelope 2 000 jaar inderdaad vir miljoene mense die opstanding tot ‘n nuwe lewe. Baie ander se val en ewige verderf is verseël omdat hulle Hom verwerp en die duisternis liewer gehad het as die lig.

In Openbaring word Jesus volgens hierdie beginsel in twee hoedanighede geopenbaar, naamlik as Verlosser en as Regter. Hy word eerstens as die Verlosser en Hoof van die gemeente geopenbaar – die Een wat tussen die kandelare wandel, sy getroue diensknegte bemoedig, die onordelikes teregwys en die afvalliges tot bekering oproep. Die verheerliking van die kerk en die ewige koningskap van die Here Jesus staan ook met sy verlossingswerk in verband.

Tweedens word Hy as Regter geopenbaar wat in die gerig tree met almal wat Hom verwerp het. Tot op die laaste oomblik bied Hy hulle egter nog die geleentheid om Hom as hulle Verlosser aan te neem. Uiteindelik, wanneer die volheid van die tyd aanbreek, breek Hy die seëls van God se oordele oor ‘n Christus-verwerpende wêreld.

Op die dag van sy verskyning op die Olyfberg sal Hy al die volgelinge van die Antichris en die valse profeet oordeel met die swaard wat uit sy mond uitgaan. In vrymaking, verheerliking én in veroordeling gaan dit oor die verhouding waarin mense teenoor Jesus Christus staan – vir Hom of teen Hom. Om hierdie rede sê Johannes ná die toekomsopenbaringe wat hy ontvang het: “Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Op. 19:11).

Volgorde van profetiese gebeure

Die verheerlikte Christus spreek Johannes direk aan, maar hy word deur vrees oorweldig en val voor sy voete neer. Pas voordat die vernietigende eindtydse oordele aangekondig word, lê die Here sy hand gerusstellend op sy dienskneg en sê: “Moenie vrees nie.” Hy het die laaste vyand, die dood, ook oorwin; daarom hoef almal wat aan Hom behoort, nie te vrees nie want hulle “kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe” (Joh. 5:24).

Johannes kry in Openbaring 1:19 die opdrag om op te skryf die dinge wat hy gesien het, die dinge wat is sowel as die dinge wat gaan gebeur. Die wyse waarop die Here Jesus hierdie opdrag geformuleer het, is ‘n belangrike sleutel tot die verstaan van die boek Openbaring, want dit onderskei drie reekse gebeure:

·      Eerstens moet Johannes die dinge wat hy gesien het beskryf, nl. die verheerlikte Christus tussen die sewe kandelare.

·      Tweedens moet hy ook verslag doen van die dinge wat is. In die jaar 95 toe hy hierdie openbaringe op die eiland Patmos ontvang het, was dit in die bedeling van die kerk. Ons is vandag nog steeds in dieselfde bedeling tussen die eerste en tweede koms van Jesus. Johannes was net in die beginjare daarvan, en ons is baie naby aan die einde van die kerkdispensasie.

·      Derdens is daar die dinge wat gaan gebeur. Dit sluit alles in wat sal plaasvind nadat die bruidsgemeente na die hemel weggevoer is – dit is van Openbaring 4 af tot aan die einde van die boek. Die grootste gedeelte van die openbaringsboodskap handel oor hierdie toekomstige dinge.

Wanneer Openbaring uit hierdie oogpunt benader word, is dit duidelik dat dit dispensasioneel chronologies geskryf is. Dit geld die duidelik afgebakende tydvakke, of bedelings, in die boek, nl.:

·      Die verheerlikte Christus aan die begin van die bedeling van die kerk (hfst. 1).

·      Die bedeling van die kerk van Christus op aarde (hfst. 2 en 3).

·      Die verheerlikte kerk in die hemel ná die wegraping (hfst. 4 en 5).

·      Die bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar – die verdrukking (hfst. 6 tot 18).

·      Die sigbare koms van Jesus om die bedeling van die Antichris te beëindig en die bedeling van die koninkryk te vestig (hfst. 19).

·      Die bedeling van die koninkryk [die duisendjarige vrederyk] en die eindoordeel (hfst. 20).

·      Die bedeling van die ewigheid in die nuwe hemel en op die nuwe aarde (hfst. 21 en 22).

Binne hierdie breë dispensasionele raamwerk, waarin die bedeling van die Antichris se regering duidelik tussen die bedeling van die kerk en die bedeling van die geopenbaarde koninkryk geplaas word, word die detail van die Antichris se regeringstyd van sewe jaar meesal nie chronologies nie, maar onderwerpsgewys, bespreek. Die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae identifiseer terreine en vlakke van gebeurtenisse, en nie altyd ‘n chronologiese opeenvolging daarvan nie. Soms ís daar ‘n chronologiese verband, maar dikwels vind gebeurtenisse gelyktydig plaas. Sekere gebeure strek oor 3½ jaar of langer, en vind gelyktydig met baie ander dinge plaas.

Die ses seëls van Openbaring 6 beeld gebeure oor die hele sewe jaar uit:

·      Die wit perd [eerste seël] beeld die Antichris se rol as vredevors gedurende die eerste 3½ jaar uit [dit is die tyd van valse vrede en eenheid].

·      Die rooi perd [tweede seël] beeld sy rol as militêre diktator in die laaste 3½ jaar uit [dié 3½ jaar staan as die groot verdrukking bekend].

·      Die swart perd [derde seël] beeld sy rol as ekonomiese diktator en voedselrantsoeneerder in die laaste 3½ jaar uit.

·      Die vaal perd [vierde seël] beeld die Antichris se rol as die moordenaar van mense in die laaste 3½ jaar uit, en val saam met sy militêre, ekonomiese en godsdienstige diktature.

·      Die vyfde seël van die martelare verwys na die tweede 3½ jaar van die Antichris se skrikbewind tydens die groot verdrukking.

·      Die sesde seël beskryf die groot apokaliptiese rampe wat teen die einde van die sewe jaar sal plaasvind.

Openbaring 7 het ook ‘n toepassing in die hele sewe jaar van die verdrukking. Die 144 000 Joodse evangeliste van Op. 7:1-8 word aan die begin van die sewe jaar gered en hulle tree gedurende die eerste 3½ jaar op. Die Christenmartelare van Openbaring 7:9-17 word meesal in die eerste 3½ jaar gered, maar hoofsaaklik in die laaste 3½ jaar tereggestel. Openbaring 7:14 besvestig die feit dat hulle uit die groot verdrukking in die hemel aankom waar elkeen ‘n wit kleed kry.

Die gebeure van Openbaring 12 en 13 vind in die middel van die verdrukking plaas. Dit beëindig die eerste 3½ jaar van valse vrede en lui die Antichris se militêre diktatuur van 3½ jaar in.

Gedurende die laaste 3½ jaar word die rampe, pessiektes en plae progressief erger – aanvanklik ná die blaas van die basuine en daarna weens die uitgieting van die sewe skale van God se grimmigheid oor die ryk van die dier.

Hoewel Babilon eers in Openbaring 17 en 18 bespreek word, het dit ook op die hele sewe jaar betrekking. Verborge Babilon [die valse wêreldkerk van Op. 17] verskyn reeds aan die begin van sewe jaar, en sy word in die middel van die sewe jaar vernietig wanneer die Antichris homself tot God verklaar. Politieke en ekonomiese Babilon [die groot stad van Op. 18] bereik die toppunt van sy mag in die tweede 3½ jaar, en word aan die einde van die sewe jaar tydens die wederkoms van die Here Jesus vernietig.

Die hooftema van Openbaring

Dit is duidelik dat die grootste deel van die gebeure in Openbaring, dit is vanaf die verskyning van die Antichris in hoofstuk 6 tot aan die einde van sy optrede by die wederkoms van Jesus in hoofstuk 19, binne ‘n periode van slegs sewe jaar afspeel. Dit vind aansluiting by Daniël 9:24-27 waarin daar na 70 jaarweke in Israel se geskiedenis sedert hulle terugkeer uit die Babiloniese ballingskap verwys word. Elke week stel ‘n tydperk van sewe jaar voor. Van hierdie 70 jaarweke is 69 tot by die kruisiging van Jesus verstreke, toe God se horlosie vir Israel se heilsgeskiedenis as volk gaan staan en die tye van die nasies, m.a.w. die tyd van wêreldevangelisasie, aangebreek het.

Daar bly egter volgens Daniël 9:27 nog een jaarweek, m.a.w. sewe jaar, oor waarin Israel as volk in hulle land terug moet wees om gelouter en voorberei te word vir die koms van hulle Messias op die Olyfberg. Die dag wanneer die Antichris geopenbaar word en ‘n verbond met Israel sluit, sal die aftelling van die laaste sewe jaar begin. Volgens Daniël 9:27 word hierdie jaarweek in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel. Daar word ook as 42 maande of 1260 dae na hierdie twee helftes verwys. In Openbaring 11:2-3 en 13:7 word duidelik na dié tydperke verwys.

Eers word die kerkdispensasie in Openbaring 2 en 3 in oënskou geneem, wat deur die onbekende uur van die wegraping beëindig sal word. Dan sal die aftelling van die laaste sewe jaar van die Antichris se regering voor die wederkoms van Jesus met die openbaring van die dier ‘n aanvang neem.

Wanneer Christus terugkom, sal Hy die ryk van die Antichris vernietig en die duisendjarige vrederyk instel. Aan die einde daarvan sal die nuwe hemel en die nuwe aarde geskep word wat vir ewig sal bestaan!