(Openbaring 8 tot 10)
Die basuine is oordele wat in die verdrukking uitgestort gaan word, waarin in die meeste gevalle ‘n derde van hulle teiken vernietig word. Sowel die fisiese skepping as die mensdom sal hierdeur geraak word. Die eerste vier basuine het ‘n gedeeltelike ekologiese ineenstorting op aarde tot gevolg. Baie mense en diere sal as gevolg hiervan sterf:
“En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En ‘n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand. En die tweede engel het geblaas, en iets soos ‘n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En ‘n derde van die see het bloed geword, en ‘n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en ‘n derde van die skepe het vergaan. En die derde engel het geblaas, en ‘n groot ster wat soos ‘n fakkel brand, het uit die hemel geval, en dit het geval op ‘n derde van die riviere en op die waterfonteine. En die naam van die ster word genoem Alsem; en ‘n derde van die waters het als geword, en baie mense het gesterwe van die water, omdat dit bitter geword het. En die vierde engel het geblaas, en ‘n derde van die son is getref en ‘n derde van die maan en ‘n derde van die sterre, sodat ‘n derde van hulle donker sou word en die dag vir sy derde deel nie lig sou gee nie, en die nag net so” (Op. 8:7-12).
Hieruit is dit duidelik dat groot dele van die see sowel as varswaterbronne, bome, gras en ook die lig van die son, maan en sterre met vernietigende gevolge getref gaan word. Die vuur, asook die voorwerp wat soos ‘n brandende berg in die see val, kan moontlik brandende meteoriete, asteroïdes of brokstukke van ‘n komeet wees wat in die aarde se atmosfeer weens hitte aan die brand slaan. Van hierdie rampe kan egter ook mensgemaak wees, bv. kernmissiele wat buite beheer raak en met verwoestende gevolge op verskillende plekke in die see of op land val en ontplof. Behalwe die ernstige skokgolwe wat geboue vir kilometers sal platvee, sal daar ook groot brande ontstaan. Ontploffings in die see sal golwe veroorsaak waardeur eilande en laagliggende kusgebiede oorstroom sal word. Duisende skepe sal ook vergaan en seediere vrek.
Benewens die feit dat die Here oordele oor die aarde gaan uitstort, verhaas die mens ook deur sy eie optrede ‘n ekologiese ineenstorting op aarde. Daar is verskeie tekens dat daar geweldige natuurrampe aan die kom is. Volgens wetenskaplikes vind daar ‘n verhitting van die wêreld se klimaat plaas as gevolg van die groot hoeveelhede koolsuurgas en ander besoedelende stowwe wat in die atmosfeer vrygestel word. Ernstige skade is al aan die osoonlaag rondom die aarde aangerig, en groot gapings het daarin ontstaan. Hierdie beskermende laag is ‘n skild teen ultravioletstrale, en die vertering daarvan deur skadelike gasse hou groot gesondheidsgevare in. Dit verhoog die risiko van velkanker aansienlik.
Steeds neem die besoedelingsverskynsel groter afmetings aan. Gasse wat deur verskeie fabrieke in die lug vrygestel word, lei na suurreën. As gevolg hiervan is daar al plantasies en natuurlike woude in baie dele van die wêreld vernietig. Neem hierby ook nog die oorbenutting en verwoesting van natuurlike hulpbronne in ag, asook die enorme skaal waarop die riviere, mere en oseane deur fabrieksafval, ru-olie en gifstowwe besoedel word, en ons het die bestanddele vir ‘n vernietigende ekologiese ramp.
Klimaatsveranderinge veroorsaak ook ‘n duidelike polarisasie in weersomstandighede. Dit kan in die toenemende droogtes en oorstromings, asook in uiterste hoë en lae temperature, waargeneem word. Enersyds word miljoene mense deur nader kruipende woestyne bedreig, terwyl baie lande weer deur buitengewone hoë reënval, oorstromings en tifone geteister word. Dié uiterste toestande het ‘n baie nadelige effek op oeste en kan dit selfs totaal verwoes. Vir die vinnig toenemende wêreldbevolking voorspel dit sekere hongersnood en ellende.
Deur die vernietigingswerk wat inhalige, roekelose en onverskillige mense aan die aarde en sy natuurlike hulpbronne verrig, tesame met die kragte van die hemel wat geskud gaan word as die oordele van God oor die goddelose mense uitgestort word, sal die aarde in ‘n ál meer onleefbare toestand verval. Die Here het gesê die mens moet die skepping onderwerp en daaroor heers. Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op hom, want hy moet die kragte en prosesse van die natuur beheer en dit teen oorbenutting en uitwissing beskerm. Omdat die mens egter sy eie leefwêreld verwoes, gaan die Here toelaat dat sy fisiese oorlewingskanse ook in die weegskaal beland deurdat hy sy eie ondergang bewerk het.
Die oordele van die groot verdrukking gaan egter nie net die fisiese skepping tref, en sodoende onregstreeks ook die mens nie. Baie daarvan sal regstreeks op die mensdom losgelaat word omdat hy deur sy sondigheid die oorsaak van al hierdie ellende is. In die oorloë en ander rampe wat die mens oor homself bring, speel demone altyd ‘n groot rol. Hulle is die aanhitsers tot geweld, en hulle gaan van die duiwel, die Antichris en die valse profeet af uit.
Die vyfde en sesde basuine kondig geweldige rampe oor die mensdom aan – die een plaag deur pyniging en die ander een deur die dood. In Openbaring 9:1-11 word vreemde insekte beskryf wat soos harige sprinkane lyk met sterte soos skerpioene, gesigte soos dié van mense, met lang tande en iets soos krone op hulle koppe. Hulle sal uit ‘n put opstyg waaruit ook rookwolke kom wat die sonlig sal verduister. Hierdie diertjies sal die mense met hulle angels steek en vyf maande lank pynig sodat hulle sal wens hulle sterf. Die dood sal egter vir hulle wegvlug. Daar is kenners wat meen dat dié diertjies demone is wat mense sal treiter. Hulle herkoms uit die put van die afgrond suggereer duidelik só ‘n moontlikheid.
In Openbaring 9:13-19 word die sesde basuin aangekondig. Dit is ‘n beskrywing van hoe die konings van die Ooste, dit is Sjina en sy bondgenote, ook vir die oorloë van die groot verdrukking gemobiliseer sal word. ‘n Kwart van die totale wêreldbevolking is Sjinese. Hierdie sluimerende reus sal eers in die groot verdrukking wakker word en dan sy skrikwekkende vernietigingswerk aanrig. ‘n Mag van 200 miljoen Asiate sal oor die Eufraatrivier trek en die Midde-Ooste, asook die Westerse wêreld, binneval. Hulle sal ‘n baie groot slagting aanrig en ‘n derde van alle mense op aarde doodmaak:
Die Eufraatrivier is die skeiding tussen Oos en Wes. Die groot eindtydse vyand van Israel én die vrye wêreld kom van oorkant die Eufraat. Vier engele is hier gebind tot op die jaar, maand, dag en uur wanneer hulle losgelaat sal word om met die behulp van hierdie Oosterse vyand ‘n derde van alle mense dood te maak. Dié vier engele is demone, omdat goeie engele nooit gebind word nie. Hulle sal 200 miljoen soldate tot hulle beskikking hê.
Die vreemde beskrywing van oorlogsperde met vuur en rook wat uit hulle bekke gaan, is nie doelbewuste simboliese taal nie, maar die gevolg van die feit dat Johannes met sy woordeskat van die eerste eeu nie oor begrippe beskik het om moderne oorlogswapens mee te beskryf nie. Moontlik het hy tenks met moderne wapentuig gesien en dit was die enigste manier waarop hy dit kon beskryf. Daar is verskeie aanduidings in Openbaring dat kernwapens in die oorloë van die groot verdrukking gebruik sal word, omdat buitengewone verwoesting aangerig sal word.
Wetenskaplikes het bereken wat die gevolg sal wees van ‘n wêreldoorlog waarin daar van kernwapens gebruik gemaak word. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat sowat een miljard mense onmiddellik sal sterf, en dat nog een miljard tot ‘n stadige dood gedoem sal wees. Hittegolwe sal oor die aardbol trek en alles wat brandbaar is, aan die brand steek. Die ontvlamming van opgebergte gifstowwe sal die atmosfeer met dodelike gasse soos koolstofmonoksied en sianied vul. Die nagevolge van só ‘n oorlog sal ook drasties wees.
Temperature sal ná die aanvanklike hittegolwe met tot 55 grade daal en die aarde onder ‘n yslaag bedek. Hierdie toestand word as ‘n kernwinter beskryf. Plantelewe sal verwoes word, terwyl waterbronne bevries en deur radioaktiewe stof besoedel sal wees. ‘n Rookkombers sal oor die noordelike halfrond ontstaan waar die meeste ontploffings sal plaasvind, en die sonlig vir omtrent een maand geheel en al verduister. Dit sal ook na die suidelike halfrond uitbrei, en daarna sal die aarde vir ‘n jaar in skemerte gehul wees. In dié tyd sal die maan rooi soos bloed en die son swart soos ‘n harige sak wees.
Dit is te begrype dat die besoedeling wat deur kernoorlogvoering, asook deur chemiese en kiemoorlogvoering veroorsaak sal word, na die ongekende voorkoms van pessiektes, vergiftiging en bestraling sal lei.
In die geval van ‘n kernoorlog sal mense wat aan ‘n groot vloed neutronstrale blootgestel word, onmiddellik sterf. Namate die energie van die strale afneem, kan dit steeds baie ernstige gevolge vir miljoene mense hê, afhangende van hoe intens die bestraling en hoe dig bevolk die gebied is. Hierdie strale het die vermoë om ‘n mens se selstruktuur te verander, met die gevolg dat verskillende soorte kankergewasse kan ontwikkel. Dit kan van velkanker tot kwaadaardige gewasse in ‘n persoon se ingewande wissel. Indien die neutronbestraling ‘n redelike hoë energie het, kan dit versteurings tot diep in die weefsels veroorsaak. Dit kan ook die struktuur van vrouens se eierselle verander en na genetiese afwykings en wangeskapenheid by die geboorte van kinders lei.
Die effek op die omgewing sal enorm wees omdat natuurlike hulpbronne soos water, lug, grond en plante ook ná die ontploffings radioaktief sal raak. Plante wat bv. in radioaktiewe grond groei, neem hierdie besoedeling op, die vee wat dit vreet raak ook besmet, gevolglik is hulle vleis en melk nie vir menslike gebruik geskik nie. Selfs reënwater van wolke wat aan bestraling blootgestel is, word radioaktief. Hierbenewens vorm daar ná sulke ontploffings ook atoomwolke wat deur die wind voortgedryf word en hulle radioaktiewe stof oor groot gebiede laat neersif waar dit siekte, ellende en die dood vir mens én dier bring.
Die diereryk in die algemeen sal net so erg aan hierdie onsigbare maar dodelike aanslag op hom blootgestel wees. Dit sluit ook seediere in, wat nie die effek van die bestraling en die skokgolwe sal ontkom nie. Indien kernmissiele in die see ontplof, soos deur Openbaring 8 geïmpliseer, sal dit verwoestende gevolge vir seediere inhou. In die groot golwe en storms wat veroorsaak sal word, sal baie skepe sink.
Die mens beskik oor die tegnologie om baie ander siektes en plae te veroorsaak. Verskeie Arabiese lande tref voorbereidings om aanvullend tot chemiese wapens soos mosterdgas ook ‘n kiemoorlog te voer. Hulle beskik oor die vermoë om bakterië oor die leërs en stede van hulle vyande uit te strooi waardeur siektes soos disenterie (ontsteking van die ingewande en buikloop), antraks (miltsiekte), en buiktifus (ingewandskoors) veroorsaak kan word. ‘n Biologiese aanleg is kleiner en minder gesofistikeerd as een vir die vervaardiging van chemiese wapens. Rusland en Amerika het gevorderde kennis op dié terrein, en verskeie Derde Wêreldlande stel in die moontlikheid van kiemoorlogvoering belang.
‘n Eindtydse siekte wat ook tot ‘n groot mate selektief is deurdat dit hoofsaaklik tot homoseksualiste en seksueel losbandige mense (veral diegene wat prostitute besoek) beperk is, asook dwelmverslaafdes wat hulleself met besoedelde naalde inspuit, is vigs – verworwe immuniteitsgebreksindroom. Die aantal onskuldige mense wat hierdie siekte deur bloedoortappings kry, is statisties onbeduidend.
Aanvanklik is ‘n persoon net HIV positief wanneer hy of sy met die virus besmet is en nog nie enige simptome toon nie. Die virus word dan deur seksuele kontak oorgedra. Later, wanneer die persoon die simptome van die siekte toon, is hy of sy ‘n vigslyer. Hierdie virus vernietig die mens se vermoë om teen siektes weerstand te bied, gevolglik sterf hy aan sekondêre oorsake soos longontsteking, velkanker, diarree of enige ander siekte wat hom aantas.
Die statistiek oor die omvang van hierdie siekte is uiters onvolledig en onbetroubaar. Die aantal vigsgevalle kan nog in ‘n mate bepaal word, maar die aantal HIV besmette persone glad nie. Na raming was die koers van HIV besmetting in lande in Sentraal-, Suid- en Oos-Afrika in 2000 reeds meer as 30%. Kontaminasie versprei vinnig in seksueel permissiewe gemeenskappe wat baie kontak met besoekers het. Hierdie siekte het duidelik die potensiaal om in die afsienbare toekoms in groot dele van die wêreld rampafmetings aan te neem. Die immoraliteit en losse sedes van die eindtyd is ‘n gunstige teelaarde vir vigs en ander seksueel oordraagbare siektes.
Die Here verafsku homoseksualisme en hoerery, en dit kan een van die redes wees waarom daar ondanks intensiewe navorsing deur die beste mediese wetenskaplikes ter wêreld nog geen geneesmiddel daarvoor gevind is nie. Middels wat die werking van hierdie virusse onderdruk, asook die gepaardgaande behandeling, is vir die meeste slagoffers onbekostigbaar duur. Die Here gee die volgende ernstige waarskuwing aan mense wat in hierdie sondes volhard:
Hoerery, wellus en sodomie kom aldrie in hierdie lys voor, wat van hulle slagoffers slawe van die sonde maak. Dink maar net aan die uiteinde van die stad Sodom, waaraan die woord sodomie ontleen is, waar daar ‘n aggressiewe homoseksuele gemeenskap was. Sulke mense sal die vergelding vir hulle bose en afskuwelike dade fisies in hulle liggame ontvang:
In die eindtyd ontstaan daar weer, soos in die dae van Noag en Lot, ‘n perverse en vervalle geslag mense wat hulle liggame onteer, deur die Antichris laat merk, en ook hulle siele vir tydelike gewin aan Satan verkoop. As gevolg van die verderflike toestand waarin hulle beland het, sal hulle te midde van die grootste benoudheid onberoulik bly. Dit is die rede waarom die sondaars in die groot verdrukking, soos die Egiptenaars tydens Israel se uittog, hulleself telkens weer sal verhard en hulle nie as gevolg van God se plae bekeer nie. Die bose swere, die skroeiende hitte, die hongersnood en al die natuurrampe, sal hulle net nog meer laat laster:
Mense wat die Vader, die Seun en die Heilige Gees laster en ook die versoeningswerk aan die kruis bespot en minag, word uiteindelik aan die verharding van hulle bose harte oorgegee (Heb. 10:26-31). In die groot verdrukking sal daar siekte- en rampgeteisterde oorlewendes wees wat hulle te midde van al die sterwende mense en ontbindende lyke rondom hulle, nog steeds nie van hul satanisme, hoerery en ander sondes sal bekeer nie:
Die vier groot sondes van die verdrukking is die volgende:
1. Geweldsmisdade: revolusies, burgeroorloë, militêre staatsgrepe opstande, gewapende roof, aanranding, moord, marteling en die mishandeling van mense en diere.
2. Okkultisme: towery en waarsêery, die beoefening van Oosterse, mistiese gelowe, transendentale meditasie, joga, spiritisme, astrale projeksie, afgodediens en satanisme.
3. Seksuele losbandigheid: buite-egtelike verhoudings, pornografie en onbeteuelde wellus, hoerery, owerspel, prostitusie, homoseksualisme en lesbinisme.
4. Ekonomiese vergrype: uiterste geldgierigheid, dobbelary, diefstal, korrupsie, omkopery, afpersing, intimidasie en onregmatige selfverryking deur die verarming van ander.
Mense wat reeds openlik vir Satan en sy werke kant gekies het, se sinne is so totaal verblind dat hulle die leuen glo en die waarheid aanhoudend verwerp, terwyl hulle volspoed en sonder nadenke na die verderf voortsnel. Dié wat vuil is, word nóg vuiler. Teen die einde van die groot verdrukking sal die laagtepunt van verval bereik word waartoe die Satan, die Antichris en die valse profeet die dekadente en God-verwerpende mensdom van die eindtyd sal kan beïnvloed en aftrek.
Tussen die sesde en sewende basuine is daar ‘n kort verposing. In Openbaring 10 word verwys na sewe donderslae wat hulle stemme laat hoor het, maar Johannes is verbied om hulle boodskap op te skryf. Hierna het ‘n engel op die see en die land gestaan en gesweer dat die tyd verby is. Hy het ‘n boekie in sy hand gehad, en Johannes is beveel om die boekie te neem en op te eet en weer oor baie volke en nasies te profeteer. In sy mond was die boekie soet soos heuning, maar dit het nogtans sy maag bitter gemaak.
So is dit dikwels met die boodskap van God aan sy profete. Dit is soet in hulle mond as hulle dit verkondig, maar dit het bitter nagevolge as die mense die boodskap verwerp en die profete vervolg of doodmaak. Dit mag die profeet egter nie afskrik of daarvan weerhou om die oordele van God hard en duidelik aan ‘n sondige wêreld te verkondig nie. Mense se tydelike én ewige lotgevalle hang ten nouste daarvan af of hulle guns in die oë van die Here vind, en of hulle die voorwerpe van sy toorn is. Dit is dus uiters belangrik om sy woord te gehoorsaam en betyds op sy waarskuwings ag te slaan. Selfs al wil mense nie luister nie, moet die woord van die Here nogtans aan hulle verkondig word. Vir Eségiël het die Here gesê:
Wanneer die sewende basuin blaas, word die geweldigste oordele van alle tye oor die aarde aangekondig. Die konings van die aarde sal onder die invloed van demoniese misleiding en aanhitsing na Armagéddon optrek om in die dal van beslissing deur die Here verdelg te word. Die kragte van die hemel sal ook geskud word soos nooit tevore nie, dan sal die Seun van die mens kom in groot krag en heerlikheid. Hy sal gerig hou met sy vyande, die ryk van die Antichris totaal vernietig en self die koningskap op sy skouers neem:
Deur die oordele wat hierna uitgestort gaan word, sal die aarde in ‘n haas onleefbare toestand omskep en sy natuurlike hulpbronne totaal verwoes word. Die mensdom sal op die randjie van algehele uitwissing te staan kom, en miskien dan eers besef wat die Here Jesus 2000 jaar gelede al oor hierdie tyd gesê het:
Die goeie nuus van die Bybelse profesieë oor die eindtyd is dat die verskriklike oordele wat kom, in Christus Jesus ontvlug kan word! Die kennis van die profetiese woord plaas jou nie in ‘n doodloopstraat sonder enige uitkoms nie, maar dit stel jou voor ‘n baie belangrike uitdaging om nóú jou saak met God reg te maak. Hoe groot is die Here se genade nie, dat selfs te midde van die ergste verdrukking wat kom, siele nog steeds gered kan word – al bevind hulle hulself in die donkerste uur van die wêreldgeskiedenis!
Vir die goddeloses met verharde en onbekeerlike harte, word die slegte nuus gaandeweg ál hoe slegter. Die oorlewingskanse word ál hoe minder, en aan die einde van die pad van rebellie en sonde wag die ewige dood! Die Antichris is ‘n doodsengel wat geen lewe aan enigeen kan bied nie.