(Openbaring 11)
In Openbaring 11 word daar uitdruklik na die tempeldiens en die ontheiliging van die tempel in die groot verdrukking verwys. Watter tempel is dit? In die geskiedenis en profesieë oor Israel word daar na die volgende vier tempels verwys:
1. Die tempel van Salomo. Hierdie tempel is voor die Babiloniese ballingskap verwoes maar ná Israel se herstel uit die ballingskap weer herbou. Dit staan as die eerste tempel bekend.
2. Die tempel van Herodes. Hierdie tempel is in die laaste eeu voor Christus deur Herodes vir die Jode gebou. Dit staan as die tweede tempel bekend.
3. Die tempel van die verdrukking. Hierdie tempel sal in die komende verdrukking (die 70ste jaarweek van Daniël) ná ‘n verbond met die Antichris in Jerusalem gebou word. Hierna word as die derde tempel verwys.
4. Die tempel van die Messiasryk. Hierdie tempel sal ná die koms van die ware Messias in Jerusalem gebou word (Eseg. 40-44). Hierna word as die vierde tempel verwys.
Die volgende verwysing word in Openbaring na die opmeet van die tempel in Jerusalem gemaak, asook die ontheiliging daarvan:
Hierdie profesie is opgeteken 25 jaar nadat die tempel van Herodes (die tweede tempel) in 70 n.C. deur die Romeine verwoes is, en kan dus slegs op ‘n toekomstige herboude tempel in Jerusalem betrekking hê. Die derde tempel, wat in die eerste helfte van die verdrukking voltooi en in gebruik geneem sal word, sal deur die Antichris ontheilig word. Benewens die profesie in Openbaring 11 is daar verskeie ander verwysings in die Bybel na die derde tempel. Daniël sê:
Die afskaffing van die Jode se offerdiens in die middel van die verdrukking sal saamval met die tyd wanneer die Antichris sy rol as militêre diktator aanneem, homself tot God verklaar en ook ‘n beeld van homself in die Allerheiligste van die tempel laat oprig. Daar, waar slegs die hoëpriester een maal ‘n jaar mag ingaan om op die verbondsark van die ware God ‘n versoenoffer vir die volk te bring, sal die Antichris sý beeld oprig en homself in die plek van God tot God verklaar. Oor hierdie rebelse daad sê Daniël:
Die Here Jesus het ook na die gruwelike afgodsbeeld van die Antichris in die tempel verwys wat pas voor die aanbreek van die groot verdrukking (die laaste 3½ jaar van die verdrukking) in die tempel opgerig sal word. Aan die einde van die verdrukking sal Jesus Christus se wederkoms plaasvind en Hy alleen deur almal aanbid word. Die oorlewendes op aarde sal dan bitter berou hê dat hulle ‘n afgod aanbid het:
Paulus noem ook die Antichris se ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking wanneer hy homself tot God sal verklaar. Hierdie rebel word beskryf as:
In Openbaring 13 word die volle implikasies van die oprigting van hierdie afgodsbeeld in die tempel, asook die gedwonge aanbidding van die Antichris as die selfverklaarde god van hierdie wêreld, uitgespel: summiere doodstraf vir almal wat sou weier om die Antichris as god te aanbid. Die valse profeet sal okkultiese lewe aan die beeld verleen:
In die middel van die verdrukking sal die Antichris homself tot God verklaar en nie net die Joodse offerdiens verbied nie, maar ook alle ander godsdienste, omdat hy homself sal groot hou bo elke god. Dit sal ‘n komplot teen alle gelowe wees sodat die Antichris universeel as die enigste God aanbid kan word.
Die Antichris word uitdruklik in die Bybel as ‘n eindtydse wêreldleier beskryf wat as ‘n lewende persoon deur die Here Jesus in Jerusalem aangetref sal word wanneer Hy met sy wederkoms terugkom (Op. 19:19; 2 Thess. 2:8). Tydens die Antichris se bewindstermyn sal die derde tempel in Jerusalem gebou word.
Die groot aanslag van Satan op die tempel is nie net tot die eindtyd beperk nie. Hierdie terrein was deur die eeue heen een van sy belangrikste teikens. Die rede hiervoor is dat God besluit het om sy Naam daar te vestig en ook belangrike openbaringe daar te doen. Dit is ook die plek waarheen Jesus sal terugkeer as Hy met sy wederkoms op die Olyfberg die vyand verdelg en deur die Oospoort na die tempelterrein en die berg Sion terugkeer om die troon van Dawid te herstel.
Die tempel het deur die eeue heen ook die saligheidsplan van God uitgebeeld, naamlik die versoeningsdood van Jesus Christus vir sondaars. Elke offerdier wat deur die Skaapspoort tempel toe gejaag en geslag is, was ‘n heenwysing na die Lam van God wat in die volheid van die tyd nét buite Jerusalem ter slagting gelei sou word.
Kan u verstaan waarom Satan en sy trawante hierdie plek so haat? Hy wil die tempelberg omskep in ‘n plek waar afgode aanbid word, as ‘n voorspel tot die verpligte aanbidding van die Antichris in die groot verdrukking. Die tempelberg is sedert die sewende eeu – in 638 n.C., m.a.w. ses jaar ná die dood van Mohammed – in Moslemhande. Dit is asof Satan vir God deur Islam se afgodstempels op die tempelberg uitdaag.
Die Die Al Aksa-moskee sowel as die Rotskoepel staan hier. Die Rotskoepel staan bo-op die rots waar Abraham vir Isak moes offer. Hierdie offer is ‘n profetiese heenwysing na die offer van Jesus, die Seun van God. Teen die koepel van die moskee staan daar egter: “God het nie ‘n seun gehad nie!” ‘n Moslem beskou dit as lasterlik as iemand sê dat God ‘n Seun gehad het, en spoeg uit minagting op die grond. Die Allah van die Koran is dus nié die Drie-enige God van die Bybel nie! Teoloë wat beweer dat die Christene en die Moslems dieselfde God aanbid, begaan 'n baie ernstige fout.
Daar is vir etlike jare reeds intensiewe voorbereidings vir die herbouing van die tempel op sy oorspronklike plek op die tempelberg. Die groot ideaal wat in baie Israeli’s se harte leef, is om die tempel in Jerusalem te herbou. Noudat hulle in hul land terug is, is hierdie ideaal aansienlik nader aan verwesenliking. Een van die probleme is egter die hoë profiel van Islam op die Tempelberg, deurdat twee van hul beroemde tempels daar gebou is – die Rotskoepel en die Al Aksa-moskee. Die Moslems beweer dat Mohammed vanaf die rots waaroor die Rotskoepel gebou is, na die hemel opgevaar en weer teruggekeer het nadat hy sekere 'opdragte' gekry het. Vir hulle is dit die derde heiligste plek op aarde ná Mekka en Medina. Die feit dat die Rotskoepel enkele jare gelede ten duurste gerestoureer is en nuwe goudbeslag op die koepel gekry het, is ‘n aanduiding dat Islam geensins van plan is om van die Tempelberg af pad te gee sodat die Jode hulle tempel daar kan bou nie.
Die mening wat jare lank gehuldig is, nl. dat die Rotskoepel op die plek staan waar die tempel herbou moet word, blyk met latere argeologiese opgrawings egter nie die geval te wees nie. Die Joodse tempel kan nét noord van die Rotskoepel gebou word, met omtrent 3½ meter spasie tussen die twee geboue. Indien die benadering in ag geneem word wat die Antichris as die gemeenskaplike Messias van alle gelowe sal volg, dan kan verwag word dat hierdie twee heiligdomme inderdaad langs mekaar sal staan, en dat Islam en Judaïsme vir 3½ jaar as sustergodsdienste saam met al die ander gelowe beskou sal word. Daarna sal die krisis van Daniël 9:27 ontstaan wanneer die Antichris homself in die tempel tot God verklaar. Die Jode sal hom verwerp en hulle verbond met hom verbreek; dan sal hulle uit Jerusalem moet vlug.
Daar is vir etlike jare reeds Israelise drukgroepe wat hulle vir die herbouing van die tempel beywer. Die bekendste een is Temple Mount Faithful wat pas ná die Sesdaagse Oorlog in 1967 gestig is. Hulle stel hulleself ten doel om die Tempelberg van wat hulle “Arabiese besetting” noem, te bevry. Ná die bevryding van die Tempelberg en die ou stad in die 1967-oorlog, het die destydse Minister van Verdediging, Moshe Dayan, die siviele administrasie van die 35 akker van die Tempelberg aan die Waqf, ‘n Moslemraad, oorgedra. Gherson Solomon, die leier van die Temple Mount Faithful, het dit as ‘n geweldige skok en terugslag vir die tempelprojek beskou.
Gedurende die afgelope meer as 30 jaar het Solomon se groep verskeie pogings aangewend om beheer oor die Tempelberg te probeer kry. Hoewel dit steeds ‘n Moslem-vesting is, glo hy dat die Jode se tempel in die nabye toekoms hier gebou sal word. In 1990 het sy groep die aandag van die internasionale media getrek toe hulle toestemming gevra het om ‘n 4½ ton hoeksteen op die tempelterrein te lê. Hoewel hulle nie toestemming gekry het nie, en die Moslem-owerhede op die Tempelberg van die weiering verwittig is, het onluste nogtans uitgebreek. Die Moslems het klippe op die Joodse aanbidders by die Klaagmuur gegooi, en Israeli soldate het op die klipgooiers geskiet. Altesaam 17 Arabiere het hulle lewens in die geweldpleging verloor.
Solomon se groep, Temple Mount Faithful, het intussen weer probeer om die hoeksteen te lê, dog sonder sukses. Hierdie ortodokse Joodse aktiviste is egter daarvan oortuig dat hulle uiteindelik in hulle doel sal slaag. Solomon sê dat God aan hom opdrag gegee het om ‘n nuwe tydvak in Israel se geskiedenis in te lui.
Nie alle godsdienstige leiers in Israel is bereid om geweld ter wille van die verkryging van Joodse regte op die Tempelberg uit te lok nie. Rabbi Jehuda Getz, hoofrabbi van die Westelike Muur (die Klaagmuur) sê dat dit nie by ‘n mens berus om te besluit hoe die Jode beheer oor die Tempelberg sal verkry nie – dit is ‘n saak vir God. Getz meen ook dat om sekere logistieke redes die tempel nie nou herbou kan word nie. Hy sê dat daar eers ‘n profeet moet kom wat die presiese plek van die altaar moet aantoon. Intussen kan niemand met bouwerk begin voordat die profeet sy opwagting gemaak het nie.
Ten spyte van hierdie struikelblokke vir die herbouing van die tempel is ‘n organisasie genaamd die Tempel Instituut, besig om die nodige voorbereidings hiervoor te tref. Hulle hou toesig oor die vervaardiging van goue en silwer voorwerpe, asook seremoniële kruike en houers, wat in die herboude tempel gebruik moet word. By die Instituut word verskeie van die voorwerpe uitgestal, soos die linnekleed wat die priesters moet dra, die mus van die hoëpriester, tiensnarige harpe, trompette, verskeie houers, asook vuurpanne.
Chaim Richman, die Instituut se direkteur van openbare sake, sê dat sy organisasie hulle taak in gehoorsaamheid aan die Here doen. Die Instituut beskou homself nie as ‘n politieke organisasie nie, en probeer nie om met die Moslems in verband met beheer oor die Tempelberg te beding, of om hulle uit Israel te verdryf nie. Hulle taak is suiwer godsdienstig binne die raamwerk van die Joodse godsdienstige wette, om langs dié weg die herbouing van die tempel te verhaas.
Verder is daar ook twee skole vir die opleiding van Levitiese priesters in Jerusalem. Indien die tempel op kort kennisgewing herbou word, moet goed opgeleide priesters beskikbaar wees. Dit word aanvaar dat Jode met die vanne van Cohen en Kaplan uit die stam van Levi is, en dus as priesters opgelei kan word. Om ‘n Joodse wetgeleerde te wees, impliseer kennis van 625 wette wat deur die Torah voorgeskryf word, asook verdere rabbynse voorskrifte in die Talmoed. Volgens ortodokse Jode moet hierdie wette en tradisies weer almal in die Messiaanse era wanneer die tempel herbou sal wees, eerbiedig word.
Dramatiese gebeure word in die nabye toekoms in Jerusalem verwag, en almal wat ‘n profetiese verwagting het, is dit eens dat die tyd daarvoor naby is.
Omdat die wêreld geestelik gesproke in duisternis gehul sal wees ná die wegraping, gaan die Here spesiale getuies opwek om onder Israel én die nasies ‘n oes vir sy koninkryk in te samel. Daar is reeds in die boodskap oor Openbaring 7 van die 144 000 Joodse getuies melding gemaak wat vir hierdie doel afgesonder sal word. In Openbaring 11 word daar na twee baie spesiale getuies verwys wat kragtig deur die Here gebruik sal word om die waarheid te verkondig en die vyande van die Here sterk aan te spreek:
Daar is verskillende verklarings oor wie hierdie twee spesiale getuies sal wees. Oor die een, nl. Elia, is daar eenstemmigheid. In die laaste twee verse van die Ou Testament word gesê:
Voordat die donker dae van die groot verdrukking in die tweede helfte van die sewe jaar sal aanbreek, sal Elia in die eerste 3½ jaar (wat volgens Op. 11:3 1260 dae lank sal wees) ‘n oorblyfsel uit Israel na die God van hul vaders lei. Dit sal te midde van die Antichris se ideologie van denasionalisering en wêreldeenheid geskied. Elia sal onder ten minste ‘n groep Jode weer hulle volksidentiteit en roeping as volk van God herstel. ‘n Deel van hierdie proses sal die oorbrugging van ‘n ernstige generasiegaping wees. Die ou en die jong geslag sal heeltemal van mekaar af wegdryf, moontlik omdat die jong geslag in die identiteitlose nuwe wêreldorde van die Antichris sal opgaan, en die ou geslag aan ortodokse tradisies en vormgodsdiens sal vashou waarin geen lewe is nie.
Elia is ook bekend as ‘n profeet wat kragtig deur God gebruik is en baie wonderwerke in Israel gedoen het. Toe hy in ‘n storm opgevaar het hemel toe, het Elisa van hom gesê: “My vader, my vader, wa van Israel en sy ruiters!” (2 Kon. 2:12). Hy was vir Israel meer as sy weermag en strydwaens werd omdat die Here se krag so kennelik deur hom gewerk het. Hy sal weer in daardie krag optree en die skrik van die Here oor baie mense laat val. Vir die tweede keer in sy bediening as profeet sal dit vir 3½ jaar lank nie reën nie. Van die eerste keer sê Jakobus: “En Elia… het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maaande lank nie gereën nie” (Jak. 5:17).
Die tweede getuie sal waarskynlik Moses wees. Sommige mense meen dat dit Henog sal wees omdat hy ook, soos Elia, lewendig opegvaar het hemel toe. Henog was egter nie ‘n Joodse profeet nie omdat hy baie lank voor Abraham geleef het. Hy het dus nooit ‘n roeping of bediening ten opsigte van Israel gehad nie. Moses is egter een van die mees beroemde profete van Israel. Sy naam word steeds ten nouste aan die Torah gekoppel – dit is die eerste vyf boeke van Moses – omdat hy as die middelaar van die Ou Testament beskou word. Hy sal dus met geweldige groot gesag in Israel kan praat. Neem ook in ag dat hy nie sy opdrag ten volle uitgevoer het om Israel uit Egipte na die Beloofde Land te lei nie. Weens sy ongehoorsaamheid toe hy die rots die tweede maal geslaan het, terwyl hy net daarmee moes praat, het die Here hom nie toegelaat om deur die Jordaan die land binne te trek nie.
Die erns van hierdie oortreding moet gesien word teen die agtergrond van die feit dat die rots by Ráfidim ‘n tipologiese heenwysing na die Messias is. 1 Korinthiërs 10:4 sê dat die volk “gedrink het uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus [die Messias]” Die slaan van die rots in Exodus 17:6 het profeties op die kruisiging van die Messias gedui. Hy is die Ewige Rots wat vir ons geklief is sodat strome van lewende water uit Hom kon vloei. By die tweede geleentheid in Númeri 20:7-12 moes Moses net met die rots praat sodat dit water kon gee. Die implikasie is dat die Messias nie twee maal gekruisig kan word nie. Die Rots is reeds geklief en ons kan nou slegs in gebed om sy genade vra.
Nogtans word Moses grootliks geëer en kan dit net verwag word dat hy, wat 3 500 jaar gelede nie toegelaat is om die Beloofde Land te betree nie, sal terugkom om sy bediening te voltooi en in die strate van Jerusalem kragtiglik van die Gekliefde Rots te getuig. Wat hy van die Messias gesê het, sal hy met nadruk herhaal:
Daar is ook in die Nuwe Testament ‘n profetiese aanduiding dat Moses en Elia ‘n toekomstige rol het as wegbereiders vir die sigbare koms van die Messias in krag en heerlikheid. Op die berg van verheerliking, waar Jesus in sy koninklike gewaad aan drie van sy dissipels verskyn het, was Moses en Elia saam met Hom: Mattheus beskryf hierdie geleentheid só:
Behalwe Moses se getuienis oor die Messias, word hy ook, soos Elia, met kragtige dade en tekens en wonders verbind wat die Here deur hom gedoen het:
Moses en Elia het dus ‘n besondere profetiese bediening in Israel gehad, wat weer in die verdrukking tot ‘n getuienis vir Israel én die nasies beoefen sal word. Selfs al is dié twee eindtydse profete nie Moses en Elia self nie, sal hulle nogtans in die gees en die krag van Moses en Elia optree, soos wat Johannes die Doper ook in die gees en krag van Elia opgetree het (Luk. 1:17).
In die eerste helfte van die verdrukking sal hierdie twee getuies se boodskap én hulle werke wêreldwyd ‘n invloed laat geld. Geen wonder dat die Antichris en sy volgelinge briesend oor hulle optrede sal wees nie. Wanneer die Antichris sy groot magsoorname in die middel van die verdrukking doen, sal hy teen die twee getuies oorlog voer en hulle doodmaak. Hulle bediening sal egter dan afgehandel wees, en die Here sal hulle ná 3½ dae opwek en laat opvaar hemel toe.
In hierdie tyd sal die Antichris homself in die tempel tot God verklaar. Dan sal Israel hulle verbond met hom verbreek en vinnig moet vlug.