Negatiewe houdings en selfs openlike haat teenoor Israel is wydverspreid in die wêreld, maar aan die ander kant van die spektrum is daar ook ondersteuners van hierdie volk wat hulle Bybelse mandaat oor die land erken en ernstig vir hulle geestelike herstel bid.
Dit is verblydend dat daar ‘n toenemende aantal Jode is wat vir Jesus as Messias aanneem, hoewel hulle persentasie nog relatief klein is. Hulle word Messiaanse Jode genoem. Om begryplike redes word hulle met groot haat en agterdog deur die ortodokse Jode bejeën. Soos in die eerste eeu, word hulle as ketters beskou wat van die God van hulle vaders afvallig geraak het. Namate die Messiaanse Jode in Israel al hoe meer word, bou die geestelike weerstand van die ortodokses teen hulle op. Dit spel ‘n tyd van ernstige vervolging vir die Messiaanse Jode uit, wat gedurende die tyd van benoudheid vir Jakob (die tyd van oordele en rampe) gered sal word:
“En daar sal groot aardbewings op verskillende plekke wees en hongersnode en pessiektes; en daar sal verskriklike dinge en groot tekens van die hemel kom. Maar voor al hierdie dinge sal hulle die hande aan julle slaan en julle vervolg en oorlewer in die sinagoges en gevangenisse… julle sal oorgelewer word ook deur ouers en broers en bloedverwante en vriende, en hulle sal van julle doodmaak. En julle sal gehaat wees deur almal ter wille van my Naam” (Luk. 21:11-17). “Ja, daar kom ‘n uur dat elkeen wat julle om die lewe bring, sal dink dat hy ‘n diens aan God bewys. En dit sal hulle aan julle doen, omdat hulle die Vader nie ken nie en My ook nie” (Joh. 16:2-3).
Dit is ons taak om vir die jong Messiaanse gemeentes in Israel te bid, sodat hulle in hierdie tyd sterk sal staan in die Here. Die druk wat hulle ervaar, gaan weldra na ander lande ook uitbrei. Die valse godsdienste gaan uiteindelik hande vat om ‘n alliansie van wêreldgodsdienste te vorm wat die Antichris as hulle gemeenskaplike Messias sal erken. Hieronder sal ook die ortodokse Jode wees wat die valse Messias sal aanhang en die reg by hom sal verkry om die tempel te herbou. Daar gaan dus nog diepgaande geestelike verskille tussen die aanhangers van die ware en valse Messias ontwikkel.
Daar is wyd uiteenlopende houdings deur die nasies teenoor Israel. Dit is ‘n belangrike saak, omdat die oordele van die Here oor Israel se vyande uitgespreek is, en sy seën oor diegene wat hulle ondersteun. Ten spyte van die geestelike doodsheid van die meerderheid in die Joodse volk, is daar geen regverdiging hoegenaamd om ‘n haatveldtog teen hulle te voer nie. Trouens, dit is naas die verwerping van God een van die mees oneerbare en selfvernietigende dinge om te doen! Om in stryd met God se wil en opdragte te handel, is om jouself met baie smarte te deurboor. Kyk net wat met Israel gebeur het omdat hulle God verwerp het. Dieselfde God waarsku egter die vyande en kritici van Israel wanneer Hy vir Abraham sê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek” (Gen. 12:3). Nasies en individue wat Israel verwerp, vervolg en beveg, bring ‘n vloek oor hulleself. Hulle grawe ‘n put waarin hulle self sal val. Groot wêreldryke is al vernietig omdat hulle Israel probeer uitwis het. Hieronder is die eens magtige Babiloniese, Assiriese en Romeinse ryke wat almal geswore vyande van Israel was.
‘n Term wat lank as sinoniem vir Jodehaat gebruik is, is “anti-Semitisme.” Hitler het hierdie term voor die Tweede Wêreldoorlog gepopulariseer toe die Jode die belangrikste verteenwoordiger van die Semitiese volke was, en die Arabiere (voor die ontdekking van olie) polities en ekonomies as van min belang geag is. Die Arabiere is egter ook Semiete (volke wat van Sem afstam), en hulle tel onder die mees fanatieke Jodehaters in die wêreld vandag. Hulle kan beslis nie as anti-Semiete beskryf word nie, maar wel as Jodehaters. Aangevuur deur die Moslemgeloof, het baie van dié volke al probeer om ‘n uitwissingsoorlog teen Israel te voer. Die Bybel verwys ook na hulle, en die feit dat hulle eintlik ‘n heilige oorlog teen die God van Israel voer. In Psalm 83 word ‘n Arabiese komplot teen Israel beskryf, waarin Israel se bure saamsweer om dié volk heeltemal uit te wis.
Die groot toets vir die nasies se houding teenoor Israel is die huidige stryd om die beheer oor Jerusalem. Diegene wat die stad tussen Israel en die Palestyne wil verdeel, of wat internasionale beheer daaroor bepleit, is lynreg in stryd met Israel se Bybelse reg oor die stad. Hulle haal die toorn van God oor hulleself.
Die swaard van die Here se toorn hang oor die vyande van Israel, en deur hulle dwase optrede verhaas hulle hul eie ondergang. Die nasies van die wêreld wat Palestyne en ander Moslems se kant kies en hulle ook nog help om die land Israel te verdeel of van sy regmatige eienaars te vervreem, grawe hulle eie grafte. Sagaria 14 beskryf in duidelike taal die oordele van God wat oor die nasies sal kom wat dwaas genoeg sal wees om teen Jerusalem te veg. Jodehaat is die ideologie van die Antichris omdat dit ten diepste teen die Messias van Israel, Jesus Christus, gerig is. Dit moet geheel en al deur alle Christene verwerp en teëgestaan word!
Daar is ook ander maniere waarop Israel sy identiteit en posisie ontsê word, en van die beloftes van herstel na die land wat die Here aan hulle vaders gegee het, beroof word. Dit word binne die raamwerk van die vervangingsteologie gedoen en lei daartoe dat Israel deur die kerk vervang word. Beloftes aan Israel word vergeestelik en op die kerk van toepassing gemaak, en as gevolg daarvan word heftig ontken dat daar ‘n letterlike volk Israel is wat in die eindtyd in hulle land herstel word. Dit kom op ‘n miskenning van die ware Israel se identiteit en roeping neer en is ‘n teologiese vorm van anti-Israelisme.
Kerke wat hulleself in die plek van Israel stel, en as die “geestelike Israel” of die “Israel van die Nuwe Testament” sien, raak maklik by die dwalings van die koninkryksteologie betrokke. Hulle neem al die beloftes van seën wat vir die komende vrederyk (die koninkryksdispensasie) aan Israel beloof is, en pas dit in die huidige dispensasie op die kerk toe. Na aanleiding daarvan moet die kerk ‘n regerende posisie inneem en Christene daarna streef om soos konings te leef wat met mag, rykdom en aansien beklee is. Met hierdie spesiale magte moet tekens en wonders gedoen, herlewingsbewegings op tou gesit, sataniese vestings neergewerp en die wêreld vir die koninkryk van God oorgeneem word. Volgens dié benadering moet die oorname en regering van die wêreld nie eers tydens die wederkoms van Jesus plaasvind nie, maar nóú al deur ‘n koninkryksbewuste kerk gedoen word. Die foutiewe aanname word gemaak dat die kerk getaak én bemagtig is om die wêreld só oor te neem en te regeer.
Op hierdie manier verwerp die misleide kerk die idee dat hulle vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld is wat in die mag van die Bose lê, en waarin hulle bereid moet wees om vir Christus te ly en deur vele verdrukkinge in die koninkryk in te gaan. In die plek hiervan jaag hulle ‘n sigbare koninkryk na en sien hulleself as “Israel.”
Een van die mees ekstreme vorms van die vervangingsteologie word deur die Israelvisie beoefen. Dit word ook Brits-Israelisme of die Wit Teologie genoem. Die aanhangers hiervan beweer dat al die blanke nasies van die sg. “tien verlore stamme van Israel” afstam, en nou die enigste verteenwoordigers van die ware Israel van God is. Volgens hulle het die twee oorblywende stamme van Juda en Benjamin met die Edomiete en ander heidennasies vermeng geraak en speel as “verbasterde Jode” en “samesweerders teen die mensdom” ‘n baie ondermynende en antichristelike rol in die wêreld. Daar is ‘n groot aantal valse aannames en stellings wat deur hierdie beweging gemaak word, waarvan die volgende net enkele voorbeelde is:
Stelling 1: “Al die blanke nasies stam van die tien stamme van Israel af en die Here het sy verbond net met hulle gesluit.”
Kommentaar: Dit is nie waar nie. Die groot etniese groeperings van die wêreld kan na die volgende stamvaders herlei word:
Sem: die Semitiese volke (Jode en Arabiere).
Gam: die geel en swart volke (Asiate en Negers).
Jafet: die blanke volke (Europeërs).
Gomer was een van die seuns van Jafet, en het in sentraal-Europa gevestig. Van hom af het die Germane afgestam waaruit baie van die volke van Wes-Europa ontwikkel het. Dit het lank voor die ballingskap van die tien stamme van Israel gebeur, daarom is daar geen aanduidings van enige Semitiese beïnvloeding in die Europeërs se tale en kulture nie. Hulle is nie Israeliete nie en was ook nooit nie!
Stelling 2: “Daar is ‘n rigiede onderskeid tussen Jode en Israeliete, omdat hierdie terme na twee verskillende groepe mense verwys.”
Kommentaar: Dit is ook nie waar nie. Die volk van Israel met sy twaalf stamme was ná Salomo se tyd net vir 250 jaar lank in twee koninkryke verdeel, nl. die tienstammeryk van Israel in Samaria en die koninkryk van Juda en Benjamin in Judea. In hierdie tyd is Israel deur 19 goddelose konings geregeer, terwyl daar in Juda soms groot geestelike herlewings was, veral in die tyd van Asa, Hiskia en Josia. Dit het daartoe gelei dat groot getalle Israeliete permanent by Juda aangesluit het, sodat die koninkryk van Juda spoedig weer verteenwoordigend van al twaalf die stamme was (vgl. 2 Kron. 11:16; 15:9; 34:9). Ná die Babiloniese ballingskap is albei groepe as net een volk na hulle land herstel. Van daardie tyd af tot vandag toe word die terme “Jode” en “Israeliete” afwisselend en alternatiewelik vir dieselfde volk gebruik (Jode is van Juda afgelei, wat die koninklike stam van Israel is). In die Nuwe Testament word na dieselfde volk 174 keer as Jode en 70 keer as Israeliete verwys. In hierdie stadium was daar lankal geen sprake meer van die historiese verdeling in ‘n tweestamme- en tienstammeryk nie. Paulus staan tereg op die hoop wat die twaalf stamme op die koms van die Messias gekoester het (Hand. 26:6-7). Jakobus (1:1) rig sy brief aan die twaalf stamme wat in die verstrooiing was. In Handelinge 2:5,14,22,36 word die inwoners van Jerusalem sowel Jode as Israeliete genoem. Die Joodse Raad (Sanhedrin) is ook as Israeliete aangespreek (Hand. 4:5-8).
Stelling 3: “Christus het net vir die verlore skape van die huis van Israel gekom, en derhalwe nie vir die heidense nasies nie.”
Kommentaar: Hierdie stelling wat op Mattheus 10:6 en 15:24 gebaseer is, word verkeerdelik vertolk as ‘n bewys dat Christus net vir die tien stamme van Israel gekom het, asook vir hulle afstammelinge (na bewering al die blanke volke van die wêreld), en dus nie vir die gekleurde heidennasies en vermengde, afvallige Jode nie. Die Messias het inderdaad aanvanklik na sy volk, Israel, gekom, soos Hy self ook gesê het. Nadat hulle Hom egter verwerp het, het Hy ná sy opstanding uitdruklik sy dissipels na alle nasies in die hele wêreld gestuur om die evangelie te verkondig (Matt. 28:19-20; Mark. 16:15; Luk. 24:46-47; Hand. 1:8). Dit sou die vervulling van die belofte aan Abraham wees dat deur een van sy nasate (die Messias) al die geslagte van die aarde (letterlik alle menslike families en stamme op aarde) geseën sou word (Gen. 12:3; Gal. 3:14; Jes. 49:6).
Dit is duidelik dat dieselfde volk wat deur die Here verstrooi is, in die laaste dae weer deur Hom in die land van hulle vaders herstel word (Jer. 31:10). Die Here bevestig ook die feit dat dié volk verenig sal wees en nooit weer in twee volke verdeel sal wees nie (hulle was net tydelik in twee volke verdeel en nooit in baie volke, soos bv. in Europa die geval is nie): “Kyk, Ek gaan die kinders van Israel haal tussen die nasies uit waarheen hulle getrek het, en Ek sal hulle van alle kante bymekaar laat kom en hulle bring in hul land. En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel… en hulle sal nie meer twee nasies wees nie” (Eseg. 37:21-22).
Nie die kerk of enige groep of volk op aarde mag Israel se identiteit van hulle wegneem en dit op hulleself toepas nie, want dit kom op ‘n vorm van verwerping van die ware Israel neer. Mense wat dít doen, ontneem hulleself van die belangrikste teken van die eindtyd, naamlik die herstel van Israel en hulle stad, Jerusalem.
Ons moet Israel nie net as ‘n volk erken met wie die Here ‘n verbond gesluit het nie, maar hulle aktief ondersteun. Om oor onsself die seën van die Here te verseker, moet ons Israel seën. Moenie haastig wees om Israel te verdoem omdat hulle Jesus verwerp en gekruisig het nie. Dit was wél ‘n daad van ongeloof aan hulle kant, maar dit was deel van God se raadsplan vir die redding van sondaars in die hele wêreld. Sonder die plaasvervangende dood van Jesus sou jy en ek nooit Christene kon word nie, daarom hou Israel se struikeling en wandade tóg vir ons ‘n groot seën in:
“Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak. En as hulle val die rykdom van die wêreld is en hulle tekort die rykdom van die heidene, hoeveel te meer sal hulle volheid dit nie wees nie!” (Rom. 11:11-12).
Omdat Israel vir Jesus verwerp en gekruisig het, het die saligheid tot ons, die nie-Joodse volke, gekom. Israel is in sy gevalle toestand dus ‘n bron van seën vir ons! Die Here sê dat hulle in hul geestelik herstelde toestand nog ‘n groter seën vir die wêreld sal wees.
Uit enige oogpunt beskou, is ons nét erkentlikheid, seën, voorbidding en onderskraging aan Israel verskuldig. Ons moet hulle jaloers maak op die wyse waarop ons die God van Abraham, Isak en Jakob deur die Messias, Jesus, dien. Ons moet bid vir die vrede van Jerusalem as ons ook in ons eie land in vrede wil leef (Ps. 122:6).
Die rede waarom alle gelowiges ernstig vir Jerusalem moet intree, is omdat die stad histories én profeties ten nouste met Israel en die Christendom verbonde is. Christus het Homself hier as die Messias geopenbaar, aan die kruis gesterf om versoening vir ons sonde te doen, op die derde dag uit die dood opgestaan en 40 dae later na die hemel opgevaar. Tien dae ná sy hemelvaart is die Heilige Gees oor 120 getroue, biddende dissipels in Jerusalem uitgestort. Dit was die geboortedag van die Christelike kerk. Van Jerusalem af is die boodskap van verlossing na die eindes van die aarde uitgedra (Hand. 1:8).
Dit is ook na Jerusalem, op die Olyfberg, dat die Messias aan die einde van die groot verdrukking sal terugkeer om die oorblyfsel van Israel te red, die nasies te oordeel en sy koninkryk op aarde te vestig. In antwoord op die gebede van die heiliges, en in ooreenstemming met sy heilige wil, sal die Messias Jerusalem tot die wêreldhoofstad verhef – die stad van die groot Koning! (Ps. 48:3). Dan sal die Here Jesus, die seun van Dawid, die wêreld in die vrederyk van die herstelde troon van Dawid af regeer (Luk. 1:32). Bid jy hiervoor en beywer jy jouself vir die aanbreek van hierdie heerlike dag?
“O Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. O julle wat die Here herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!” (Jes. 62:6-7; kyk ook Jes. 52:1-2).
Israel is die teiken vir ‘n goed georganiseerde en hoogs venynige veldtog van Jodehaat. Verbete pogings word aangewend om hierdie volk se belange op alle lewensterreine te ondermyn, hulle ‘n slegte naam te gee en sodoende die swart skaap van die internasionale gemeenskap te maak. Agter hierdie veldtog is Satan. Hy weet dat die herstel van Israel in die laaste geslag voor die koms van die Messias plaasvind. Hy probeer dus om hulle terugkeer na die Beloofde Land ongedaan te maak, hulle as volk te vernietig en hulle land aan Islamitiese afgodsdienaars oor te lewer. Hy is veral oor die beheer van Jerusalem begaan, omdat dit die hoofstad van die Messiasryk sal wees nadat die Antichris se wêreldryk vernietig is. Alle pogings word aangewend om dié stad van die Jode te vervreem en dit óf te internasionaliseer óf aan die PBO as hulle hoofstad te gee.
In die besonder wil die duiwel nie hê dat Israel beheer oor die Tempelberg en die Olyfberg moet behou nie, omdat dit die terrein is waar die oorblyfsel van Israel tydens die koms van die Messias geestelik herstel sal word. Die tempelterrein is reeds onder Moslembeheer, omdat drie van hulle moskees daar staan.
Die Here neem beslis nie genoë daarmee dat Israel so ontsettend gediskrediteer en aangeval word nie, al is die groot meerderheid van hulle geestelik dood. Dit is sy doel en plan dat hulle onderskraag en vir Hom teruggewen moet word. Om hierdie rede gee Hy duidelike riglyne en opdragte in die Bybel oor hoedanig Christene se verhouding teenoor Israel moet wees.
In Openbaring 1:13 word Christelike gemeentes met kandelaars vergelyk. Die kandelaar, wat in Israel ‘n menorah genoem word, is een van die tempelvoorwerpe. Dit moes gereeld met olie opgevul en brandend gehou word. Net so moet die gemeente van Christus ‘n Geesvervulde lewe lei en die lig van hulle getuienis in ‘n donker wêreld laat skyn. In ‘n besondere opsig moet die kerk se getuienis ook Israel se moeilike pad in ‘n bose wêreld verlig.
Baie Christelike groepe en gemeentes het egter hulle geestelike missie in die wêreld verloor en in die beperkende raamwerk van eiebelang en materiële sake vasgevang geraak. Hulle het van die Here Jesus af weggedryf en bewys nog net lippediens aan Hom. Dit is geen wonder nie dat hulle ook afsydig en gevoelloos oor die geestelike behoeftes van ander mense geraak het – in die besonder ten opsigte van Israel. Sulke gemeentes word liefdevol maar ernstig vermaan dat die Here sy Gees van hulle sal onttrek as hulle só aangaan:
“Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou... Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie” (Op. 2:4-5).
Die sewe sleutelbegrippe wat die Bybel in verband met ons verhouding teenoor Israel noem, is almal opdragte. Wanneer dit uitgevoer word, bring dit seën vir die gewer én die ontvanger mee. Die doel daarmee is dat die Here sy afvallige verbondsvolk weer na Hom wil terugbring sodat Hy hulle fisies én geestelik kan herstel.
Reg aan die begin, toe die Here vir Abraham geroep het, het Hy gesê: “Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 12:3). Om iemand te seën beteken om God se guns oor hom af te smeek. Om dit ten opsigte van Israel te doen, beteken dat die Here jou óók in guns sal aansien.
Om iemand te vervloek beteken om hom te verdoem en die wens uit te spreek dat rampe en ongelukke hom sal tref. Dikwels word ook vir dié doel van okkultiese magte van Satan gebruik gemaak. Iemand wat dit ten opsigte van Israel doen, grawe ‘n put waarin hy self sal val. Wil jy die seën van die Here in jou lewe geniet? Dien Hom dan met jou hele hart en seën sy volk Israel!
“Troos, troos my volk, sê julle God. Spreek na die hart van Jerusalem, en roep haar toe dat haar stryd verby is, dat haar skuld betaal is” (Jes. 40:1-2). Israel moet vertroos en bemoedig word, en ervaar dat sy vriende het wat te midde van al die aanvegtinge en vyandigheid by haar staan. Ook moet sy weet dat sy na die Here kan terugkeer, want Hy is vergewensgesind en groot van goedertierenheid. Israel moet weet dat sy nie net die onskuldige slagoffer van haar baie vyande is nie, maar dat sy weens haar geestelike afvalligheid ook die seën van Here verbeur. Hierdie volk kan nie werklik getroos word sonder om hulle na die groot Trooster terug te lei nie, wat alleen in staat is om permanent al die trane van hulle oë af te vee.
Om Israel op ‘n betekenisvolle wyse te seën en te vertroos, moet woorde en houdings met praktiese programme van hulpbetoon opgevolg word. Die logistiek hiervan kan verskeie vorms aanneem, deur:
· vanuit die Bybel én die praktyk inligting oor Israel bekend te maak en praktiese voorstelle oor hulpverlening te doen;
· diplomatieke ondersteuning aan Israel te gee;
· die ideologie van Jodehaat te weerlê en teë te staan;
· die geestelike behoeftes van die volk op ‘n baie sensitiewe en korrekte wyse aan te spreek; en
· finansiële en materiële steun te lewer waar nodig.
Paulus het benewens die verkondiging van die Woord aan mede-Jode, ook praktiese hulpprogramme vir hulle georganiseer: “Maar nou reis ek na Jerusalem in diens van die heiliges. Want Macedónië en Acháje het dit goedgevind om iets by te dra vir die armes onder die heiliges in Jerusalem. Hulle het dit goedgevind, sê ek, en hulle is ook hul skuldenaars; want as die heidene [die nie-Joodse nasies] deel gekry het aan hulle [die Jode se] geestelike voorregte, is hulle ook verskuldig om hulle met stoflike goedere te dien” (Rom. 15:25-27).
Reik jy ook ‘n helpende hand na ‘n volk in sy nood? Duisende Jode kom feitlik net met die klere aan hulle lyf uit arm lande hier aan.
Die kern van enige hulpprogram vir Israel is gebedsondersteuning: “Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe!” (Ps. 122:6; vgl. ook Jes. 62:6-7).
Daar moet nie net vir Jerusalem en Israel se huidige behoeftes voorbidding gedoen word nie, maar ook vir die volkome herstel van hierdie land en sy mense. Dít sal gebeur wanneer die Messias kom, want Hy is die Heilige van Israel en Verlosser van sy volk. Voordat Israel met Hom versoen is, sal hulle nie vrede hê nie maar onwrikbaar op die groot verdrukking afstuur. Slegs ‘n verloste Israel onder die heerskappy van hulle Messias-Koning sal ware vrede hê.
Moet nooit Israel se bestaansreg in twyfel trek nie, maar gee erkenning aan hulle as die volk deur wie die Woord van God tot die hele wêreld gekom het: “Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie!” (Rom. 3:1-4).
Daar was nog altyd ‘n gelowige oorblyfsel in Israel met wie mens geestelik kan identifiseer, terwyl jy steeds met die evangelie na die ongeredde meerderheid moet uitreik. Moet nie die Joodse oorsprong van die Christelike geloof vergeet nie: “Want as hulle verwerping die versoening van die wêreld is, wat sal hulle aanneming anders wees as lewe uit die dode? En as die eerstelinge heilig is, dan die deeg ook; en as die wortel heilig is, dan die takke ook. En as sommige van die takke afgebreek is, en jy wat ‘n wilde olyfboom was, onder hulle ingeënt is en deel gekry het aan die wortel en die vettigheid van die olyfboom, moet dan nie teen die takke roem nie; en as jy roem – dit is nie jy wat die wortel dra nie, maar die wortel vir jou” (Rom. 11:15-18).
Ons moet Israel geestelik opwek deur hulle jaloers te maak! Ons moet die God van Abraham, Isak en Jakob op só ‘n oortuigende en inspirerende wyse deur die Messias, Jesus Christus dien, dat ons die Jode jaloers maak: “Ek vra dan: Het hulle miskien gestruikel om te val? Nee, stellig nie! Maar deur hulle val het die saligheid tot die heidene gekom om hulle jaloers te maak” (Rom. 11:11). Het jy al vir Jesus as die vervulling van al die wonderlike Messiaanse profesieë in die Ou Testament aan ‘n Jood verduidelik, en jou ook van die sogenaamde “Christene” gedistansieer wat vyandig en antagonisties teenoor Israel optree en hulle sodoende verder van Christus vervreem?
Dit is tragies dat baie Christene nie die vrymoedigheid het om die evangelie van die reddende genade van Jesus, die Messias, aan die Jode te verkondig nie, want hulle wil nie aanstoot gee nie. Paulus het egter gesê: “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dit is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood en ook vir die Griek” (Rom. 1:16).
Met die regte gesindheid van liefde en meegevoel, en ook met die regte benadering vanuit die Ou na die Nuwe Testament, kán daar met vrug onder Jode gearbei word. Dit het in die eerste eeu gebeur, en waarom kan dit nie weer gebeur nie? Dit kan, mits die Woord weer eens met groot vrymoedigheid in Jerusalem verkondig word: “En die woord van God het toegeneem, en die getal van die dissipels het in Jerusalem baie vermeerder, en ‘n groot menigte van die priesters het gehoorsaam geword aan die geloof” (Hand. 6:7). Hoe sal hulle tot geloof kom as niemand teenoor hulle van die Messias getuig nie?
Ons moet nooit die fout maak om Israel sonder die Messias salig te spreek, soos wat tans deur sekere groepe Amerikaanse Christene gedoen word nie. Hulle kan nét deur Jesus gered word (Gal. 2:15-16).
Daar is ‘n paar dinge omtrent die Jode wat ‘n mens nooit uit die oog moet verloor nie:
· Dit is ‘n volk wat deur God gekies is om sy saligheidsplan aan die wêreld te openbaar. Romeine 9:5 sê dat Christus na die vlees uit Israel kom. Romeine 3:2 sê dat die woorde van God aan hulle toevertrou is, en voeg by dat selfs al het sommige van hulle ontrou geword, bly hulle nog steeds die volk van God. Daar sal altyd ‘n gelowige oorblyfsel wees.
· In Johannes 4:22 sê Jesus dat die saligheid uit die Jode is.
· Sagaria 2:8 sê dat Israel God se oogappel is.
· By die wederkoms sal die hele oorblyfsel van Israel volgens Sagaria 13:9 vir Jesus as Messias aanneem.
· In die Millennium sal Israel ‘n voorbeeld vir die hele wêreld wees oor hoe die Here gedien moet word, en die nasies sal hierdie rol met dankbaarheid erken (Jer. 31:34; Sag. 8:22-23).
Waar skaar jy jouself? Aan die kant van die Jodehaters wat ‘n vloek oor hulleself haal, of aan die kant van diegene wat Israel seën en hulleself vir die geestelike ontwaking van hierdie volk beywer? Die vyande van die kruis sal hulle haatveldtog teen Israel onder die aanhitsing van Satan tot aan die einde toe voortsit. Jodehaat sal ook een van die belangrike strydkrete vir die wêreldwye mobilisasie van militêre magte vir die slag van Armagéddon wees. Hulle sal hulleself in Israel versamel om teen hierdie volk en sy Messias te veg.
Die verwerping en vervolging van Israel is implisiet deel van ‘n duiwels-geïnspireerde proses van die verwerping van die God van Israel, wat die God van die Bybel is, en derhalwe ook van die Christendom en van Bybelse morele norme. Regerings en hul onderdane wat dít doen het reeds in hulle gees ‘n verbond met die Antichris gesluit, en sal dit maklik in die praktyk ook doen wanneer hy verskyn.
‘n Baie belangrike rede waarom ons van Israel se geskiedenis kennis moet neem, is om God se verlossingsplan beter te kan verstaan, maar ook om teen die gevolge van geestelike afvalligheid en ‘n dooie vormgodsdiens gewaarsku te word. As jy hierdie waarskuwing ter harte neem, dan was die lees van dié boek nie tevergeefs nie.
Israel se bevryding uit Egipte en hulle uittog uit die gebied van hul sondige verlede om die Here te gaan dien, is ‘n duidelike tipe van die Nuwe Testamentiese redding van sondaars en die daaropvolgende afsondering van Christene om die Here sonder enige kompromie met die wêreld te dien. God se verlossingsplan begin by die slag van ‘n lam. Die paaslam wat in Egipte geslag is, is ‘n heenwysing na die Here Jesus as die vlekkelose Lam van God wat vir die sondes van die hele wêreld geslag sou word. Die verheerlikte kerk sal die Here Jesus rondom die troon toesing: “U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie” (Op. 5:9).
Israel is net fisies uit Egipte verlos, want hulle harte het nie regtig verander nie. Deur die eeue heen het hulle ‘n vormgodsdienstige tradisie ontwikkel waarin hulle net uiterlike, godsdienstige rituele in stand gehou het sonder om met hulle ongeloof en sonde te breek. ‘n Mensgemaakte leerstelling was vir hulle meer aanvaarbaar as ‘n lewende verhouding met die Here. Die Here het gesê: “Hierdie volk kom nader met hulle mond en eer My met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ‘n aangeleerde mensegebod is” (Jes. 29:13). Honderde jare later het die Messias, Jesus, hulle weer aan hierdie uitspraak herinner (Matt. 15:8-9).
Die Here is glad nie tevrede met dubbelhartigheid en ‘n sondige lewe wat onder ‘n kleed van vormgodsdiens verberg word nie, daarom word die Christendom ernstig teen dieselfde neiging gewaarsku:
“Ek wil nie hê, broeders, dat julle nie sou weet nie dat ons vaders almal onder die wolk was en almal deur die see deurgegaan het, en almal in Moses gedoop is in die wolk en in die see, en almal dieselfde geestelike spys geëet het, en almal dieselfde geestelike drank gedrink het, want hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus. Maar God het in die meeste van hulle geen welgevalle gehad nie, want hulle is neergeslaan in die woestyn. En hierdie dinge was voorbeelde vir ons, dat ons nie begerig moet wees na slegte dinge soos hulle begerig was nie. En wees ook nie afgodedienaars soos sommige van hulle was nie… En laat ons nie hoereer soos sommige van hulle gehoereer het nie… En laat ons Christus nie versoek soos ook sommige van hulle gedoen het nie… En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie… Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde [tipes] en is opgeskrywe as ‘n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Kor. 10:1-11).
Die genade van God is op ‘n wonderbaarlike wyse aan Israel geopenbaar, maar hulle het, behalwe vir ‘n klein minderheid, nie in die lig daarvan gewandel nie en die toorn van God oor hulleself gebring. Ons moet beslis hierdie waarskuwings ter harte neem, veral aangesien so min “Christene” werklik ‘n getuienis van wedergeboorte het en met volharding en oorgawe die weg van heiligmaking bewandel. Sorg dat jy onder die minderheid (die oorblyfsel) is wat waarlik die Messias ken, dien en liefhet. Bid vir die redding van andere – veral vir húlle van wie af die verlossingsboodskap na jou toe gekom het.