7. Tyd van Benoudheid vir Jakob

Daar kom beslis ‘n tyd van groot benoudheid en verdrukking vir Israel én die hele wêreld, waaruit daar net ‘n baie klein oorblyfsel gered sal word. Jeremia verwys soos volg daarna: “Wee, want die dag is groot, sonder weerga! En dit is ‘n tyd van benoudheid vir Jakob; maar hy sal daaruit verlos word” (Jer. 30:7). Hierdie tyd van benoudheid val met die 70ste jaarweek van Daniël saam, wanneer die valse messias met Israel én baie ander nasies ‘n sewe jaar lange verbond sal sluit (Dan. 9:27). Hierdie sewe jaar tydperk word duidelik in twee helftes van 3½ jaar elk verdeel. Soms word na die 3½ jaar tydperke as 42 maande (Op. 11:2; 13:5) of as 1260 dae (Op. 11:3; 12:6) elk verwys, en op dié wyse word die letterlikheid van die sewentigste jaarweek se twee helftes ondubbelsinnig bevestig: 42 maande van 30 dae elk is presies 1260 dae, of 3½ profetiese jare an 360 dae elk.

Gedurende die eerste 3½ jaar sal Israel én die nasies die valse messias as die ware Messias aanhang en in die misleidende voordele van sy valse wêreldvrede en -eenheid deel. In hierdie tyd sal Israel ook hulle tempel in Jerusalem herbou – onbewus van die valse messias se bose planne hiermee. Dit sal nie soseer ‘n tyd van fisiese verdrukking wees nie, maar van geestelike misleiding soos nog nooit tevore nie. Die tweede 3½ jaar bestaan uit ‘n groot verdrukking soos daar van die begin van die wêreld af nog nooit was nie (Matt. 24:21).

Die 144 000 verseëldes

‘n Baie belangrike gebeurtenis wat aan die begin van die 70ste jaarweek net ná die openbaring van die valse messias sal plaasvind, is die redding van 144 000 Jode en hulle afsondering vir die diens van die ware Messias, Jeshua. Die 144 000 is die eerste groep wat deel van die geestelike herstel van die volk Israel sal uitmaak: “En ek het die getal van die verseëldes gehoor: 144 000 verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel” (Op. 7:4).

Daar is geen onduidelikheid in verband met hierdie stelling nie, en dit is eksegeties heeltemal onregverdigbaar om die 144 000 Joodse evangeliste op die kerk of enige ander groep mense buite Israel van toepassing te maak. In hierdie gedeelte word glad nie van simboliese taal gebruik gemaak nie. Die 12 stamme van Israel is ‘n bekende historiese feit wat nie ‘n simboliese of allegoriese voorstelling van die kerk of enige ander groep mense is nie.

So ook is die getal 144 000 nie simbolies nie, maar letterlik. Die komponente van die getal is nie 3 X 4 X 12 X 1000 soos soms beweer word nie, maar 12 000 X 12 – dit is 12 000 persone uit elkeen van die 12 stamme van die kinders van Israel! Volgens Eségiël 48 gaan die land Israel (die Beloofde Land, wat veel wyer grense as die huidige Israel sal hê) in die vrederyk onderverdeel en aan die twaalf stamme van Israel toegeken word.

Dit is uit ‘n dispensasionele oogpunt ook baie duidelik waarom die 144 000 Jode gered en almal in die diens van die Here gestel gaan word. Wanneer die Here Jesus sy bruidsgemeente kom haal het, sal die dispensasie van die kerk op dié wyse beëindig word. Hy sal dan die geestelike potensiaal van die herstelde Israel benut om sy lig in die donker nag van die verdrukking te laat skyn. Toe Elia weggeraap is, het sy mantel, en daarmee ook sy profetiese bediening, op Elisa geval. In die komende uur van duisternis ná die wegraping, sal die Here vir Homself ‘n groep getuies in die volk Israel opwek.

Openbaring 7:1-8 sluit by ‘n lang reeks profesieë in die Bybel aan waarin die waarborg gegee word dat die Here sy volk Israel nie alleen fisies en staatkundig in hulle land sal herstel nie, maar dat hulle in die laaste dae ook geestelik sal herleef: “Daarom, sê vir die huis van Israel... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My ‘n volk en Ek sal vir julle ‘n God wees” (Eseg. 36:22-28).

Daar is tans ‘n groot aantal Jode wat al baie duidelik aan die Nuwe Testamentiese feite omtrent Jesus se Messiasskap blootgestel is, maar wat nog nie ‘n finale besluit daaroor geneem het nie. Nadat die wegraping plaasgevind het en al die Messiaanse Jode (dié wat voor die tyd al vir Jesus as hulle Messias aangeneem het) saam met die bruidsgemeente weg is, sal ‘n ernstige herwaardering van Bybelse feite onder ‘n groep van dié wat agtergebly het, plaasvind. Die Heilige Gees sal volgens Sagaria 12:10 kragtig onder hulle werk, en baie van hulle sal die Here Jesus as Verlosser aanneem.

Uit hierdie herlewing sal 144 000 weergebore Jode na vore kom, wat deur die Here vir ‘n wêreldwye evangelisasietaak afgesonder sal word (Matt. 24:14). Soos Daniël se drie vriende van ouds, sal hulle in die tyd van verdrukking bewaar word sodat hulle hul taak as die Here se uitverkore getuies onder uiters moeilike omstandighede tydens die bewind van die Antichris sal kan voortsit en uitvoer. In die afwesigheid van die kerk sal die evangelisasietaak op hulle skouers rus.

Die redding van die 144 000 vind baie duidelik ná die bedeling van die kerk plaas, omdat hulle godsdienstige posisie direk met hulle volks- en stamidentiteit in verband gebring word. Dit is heeltemal anders as wat gedurende die volk se verstrooiing in die kerkdispensasie die geval was, waar volksverband nie ‘n faktor by die redding van mense is nie. Galásiërs 3:28 sê dat daar in Christus nie onderskeid tussen Jood en Griek getref word nie. Ná die kerkdispensasie word daar egter weer spesifiek met Israel in volksverband gehandel. Die fisies en staatkundig herstelde Israel moet dan ook geestelik as die volk van God herleef, sodat die talle onvervulde profesieë wat net op Israel betrekking het, vir hulle in vervulling kan gaan.

Die twaalf stamme van Israel wat in Openbaring 7 genoem word, het ‘n baie besondere samestelling, asook ‘n ongewone volgorde waarin hulle genoem word. Hulle is: Juda, Ruben, Gad, Aser, Naftali, Manasse, Simeon, Levi, Issaskar, Sebulon, Josef en Benjamin. Van Josef se twee seuns, Manasse en Efraim, wat volgens Génesis 48:5 deur Jakbob as sy eie aangeneem is, word net Manasse genoem. Josef word hier in die plek van Efraim genoem. Gewoonlik word Josef nie in die 12 stamme genoem wanneer altwee sy seuns genoem word nie, soos bv. in Eségiël 48. Levi word gewoonlik ook nie genoem nie, omdat die Leviete nie, soos al die ander stamme, ‘n bepaalde grondgebied kry nie. Die Here is hulle erfenis en hulle moet op die heilige grond bly. In Openbaring 7 word Levi egter in die plek van die stam Dan genoem, wat uitgelaat word.

Waarom word Dan in die lys van Openbaring uitgelaat, vergeleke met die lys van name in Eségiël 48? Die rede is omdat Dan moontlik die stam is waaruit die Antichris sal kom. In Génesis 49:17 het Jakob van die stam van Dan gesê: “Laat Dan ‘n slang wees op die weg, ‘n horingslang op die pad, wat die perd aan die hakskeen byt sodat sy ruiter agteroorval.” In die herstelde Israel is daar duidelik nie plek vir die rebellie wat met Dan geassosieer word nie.

Die stamname in Openbaring 7, asook die volgorde waarin hulle verskyn, bevat ‘n besondere boodskap. Elke stamnaam het ‘n betekenis, en wanneer hulle saam gelees word, sê dit iets oor die 144 000. Die inleidende woorde is in Openbaring 7:4, naamlik: “144 000 verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel.” Saam met die daaropvolgende stamname lees hierdie sin só:

“144 000 verseëlde Israeliete wat God loof en prys (Juda); omdat hulle die Seun sien (Ruben) het hulle oorwin (Gad) en is hulle gelukkig (Aser); Hy het hulle worsteling (Naftali) laat vergeet (Manasse) deur hulle te verhoor (Simeon); vir hom wat God aanhang (Levi) is daar loon (Issaskar) en inwoning (Sebulon); mag die Here byvoeg (Josef) deur die Seun van sy regterhand (Benjamin).”

Die vervolging van geredde Jode

Om begryplike redes sal daar ‘n geweldige polarisasie en stryd tussen die aanhangers van die ware Messias en die valse messias wees. Die aanhangers van die valse messias sal oorheersend wees en onwrikbaar by hulle lank verwagte ‘Messias’ staan. Selfs wanneer hy na ander volke en gelowe uitreik en homself ook as hulle Messias aanbied en daardeur vir Israel in sy alliansie van wêreldgodsdienste intrek, sal die meeste van hulle steeds vir sy misleiding blind wees.

Die Messiaanse gelowiges sal die Antichris met alle mag teëstaan omdat hulle hom as ‘n valse messias sal brandmerk en andere teen hom waarsku. Hulle sal as ‘n groot bedreiging vir sy posisie in Israel gesien word, sowel as vir sy wêreldryk onder alle nasies.

‘n Geweldige vervolging sal teen die Messiaanse Jode ingestel word. Soos Nebukadnésar van ouds gedoen het, sal die Antichris spesiale en uitermate groot strawwe aankondig oor diegene wat nie by sy staatsgodsdiens wil inskakel en hom aanbid en vereer nie. Soos die drie vriende van Daniël, sal die 144 000 verseëldes alle druk wat op hulle toegepas word, teëstaan en summier weier om die knie voor die moderne Baäl te buig. Daniël se drie vriende het só op die verpligte afgodediens van koning Nebukadnésar gereageer: “Ons ag dit nie nodig om u hierop ‘n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie” (Dan. 3:16-18).

Die Here sal sy verseëlde getuies in die uur van groot benoudheid onderskraag en uitred soos wat Hy met Daniël se getroue vriende gedoen het, asook met Daniël self in die leeukuil, nadat hy aangehou het om ten spyte van koninklike dekrete die ware God drie maal per dag te aanbid. Die vervolging sal nietemin in felheid toeneem.

In Openbaring 14:1-5 word die 144 000 saam met die Lam op die berg Sion aangetref. Ná hulle aardse bediening sal hulle met Hom verenig word en ‘n baie spesiale plek in sy koninkryk beklee. Van hulle word gesê dat hulle hul nie met vroue besoedel het nie, maar van die begin af sal hulle rein voor die Lam wandel. Dit verwys waarskynlik na geestelike reinheid, wat in die Bybel dikwels as maagdelikheid voorgestel word. Die koninkryk van die hemele word as “tien maagde” voorgestel (Matt. 25:1-13) en die kerk as ‘n “reine maagd” (2 Kor. 11:2). Dit verwys na suiwer, onbesmette, geestelike toewyding aan die Here. Hierteenoor word die valse godsdienste in Openbaring 17:4-5 as onrein vroue voorgestel, en die valse wêreldkerk as die moeder van die ontugtiges. Johannes noem haar: “Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere” (Op. 17:5).

Die 144 000 is ‘n groep wat nooit enigiets met hierdie onrein vroue te doen gehad het nie. Hulle is nie deur valse godsdienste besoedel nie, en kom ook nie uit die vervalle kerk van die eindtyd nie. Hulle sal dus nie skewe en krom teologiese beskouings hê nie. Dit is ‘n nuwe groep wat deur die Here Jesus uit Israel losgekoop word. Hulle sal Hom getrou navolg, en uit die aard van die saak ook geen bande met die valse wêreldgodsdienste van hulle tyd hê nie. As gevolg hiervan sal hulle ook hewig deur die valse wêreldgodsdiens vervolg word. Johannes sê van dié vervolgsugtige organisasie wat die bruid van die Antichris is: “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus” (Op. 17:6).

Groot misleiding

Die eerste 3½ jaar van die verdrukking sal Israel en die nasies die slagoffers van grootskaalse misleiding wees en almal saam die valse messias as “die Messias” en spesiale gesant van God aanvaar. As universele messias sal hy die samebindende faktor tussen alle godsdienste in die wêreld wees. Vir die nominale Christene van daardie tyd sal hy die Christus wees, vir Moslems die Imam Mahdi (wat volgens hulle saam met Jesus, seun van Maria, sal optree), vir die Hindoes Krishna, vir die Boeddhiste die Maitreya Boeddha en vir die Jode die Messias. Alle gelowe sal sustergodsdienste wees wat mekaar onderling aanvaar op grond van die selfmisleidende stelling dat hulle dieselfde God aanbid en dus dieselfde wêreldmessias moet navolg.

In hierdie tyd sal Israel hulle tempel herbou as deel van die verbond wat hulle met die valse messias gesluit het. Dit sal in die teken van die voortgesette verwerping van Jesus staan, en daarom sal dit die valse messias soos ‘n handskoen pas. Die hervatting van diere-offers sal ook die uitdruklike verwerping van Jesus as die Lam van God behels, wat Homself vir die sondes van die wêreld geoffer het.

Die middel van die week

Die derde tempel sal ná 3½ jaar deur die valse messias ontheilig word: “En hy sal een week lank met baie ‘n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou” (Dan. 9:27). Die afskaffing van die Jode se offerdiens in die middel van die verdrukking sal saamval met die tyd wanneer die Antichris sy rol as militêre diktator aanneem, homself tot God verklaar en ook ‘n beeld van homself in die Allerheiligste van die tempel laat oprig. Daar, waar slegs die hoëpriester een maal ‘n jaar mag ingaan om op die verbondsark van die ware God ‘n versoeningsoffer vir die volk te bring, sal die Antichris sý beeld oprig en homself in die plek van God tot God verklaar. Oor hierdie rebelse daad sê Daniël:

“En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel… En dié koning sal doen net wat hy wil en homself verhef en hom groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge [ongehoorde dinge] spreek; en hy sal voorspoedig wees, totdat die grimmigheid ten einde is” (Dan. 11:31,36).

Die Here Jesus het ook na die gruwelike afgodsbeeld van die Antichris in die tempel verwys, wat pas voor die aanbreek van die groot verdrukking (die laaste 3½ jaar van die verdrukking) in die tempel opgerig sal word. Aan die einde van die verdrukking sal Christus se wederkoms plaasvind, waarna Hy alleen deur alle mense in die wêreld aanbid sal word. Diegene wat die slag van Armageddon oorleef het, sal bitter berou hê omdat hulle nie die ware God aanbid het nie:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting [die valse messias en sy beeld] waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug… Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie… En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word… en die kragte van die hemele sal geskud word, En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf” (Matt. 24:15-21,29-30).

Paulus noem ook die Antichris se ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking wanneer hy homself tot God sal verklaar. Hierdie rebel en magshonger diktator word beskryf as “die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is” (2 Thess. 2:4).

In Openbaring 13 word die volle implikasies van die oprigting van hierdie afgodsbeeld in die tempel, asook die gedwonge aanbidding van die Antichris as die selfverklaarde god van hierdie wêreld, uitgespel: summiere doodstraf vir almal wat sou weier om die Antichris as God te aanbid. Die valse profeet sal okkultiese lewe aan die beeld verleen: “En dit is hom gegee om ‘n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie” (Op. 13:15).

Die Antichris sal homself tot God verklaar en nie net die Joodse offerdiens verbied nie, maar ook alle ander godsdienste, omdat hy homself sal groot hou bo elke god. Dit sal ‘n komplot teen alle gelowe wees, sodat die Antichris universeel as die enigste God aanbid kan word. Alle ander vorms van aanbidding sal streng verbode wees en afvalliges met die dood gestraf word.

Oorlog in die hemel

Satan gaan in die middel van die verdrukking weer ‘n verbete poging aanwend en alles in die stryd werp om Israel as ‘n volk totaal uit te delg. Hy wil verhoed dat ‘n oorblyfsel van Israel in die lewe bly om die Messias by die Olyfberg te ontmoet, geestelik herstel te word en saam met die Messias in sy vrederyk tot hoof van die nasies verhef te word. Dit, weet Satan goed, sal regstreeks ten koste van sy wêreldryk onder die beheer van die Antichris wees. Satan wil God se planne vir die vrederyk verydel deur Israel én alle Christene te verdelg.

Die oorlog wat volgens Openbaring 12 tussen God se ryk en Satan se ryk in die hemel sal uitbreek, sal na ‘n aansienlik verskerpte stryd op aarde lei, waarin Satan buitengewone woede sal openbaar:

“Daar het oorlog in die hemel gekom: Migael en sy engele het oorlog gevoer teen die draak, en die draak en sy engele het oorlog gevoer; en hulle kon nie oorwin nie, en hulle plek was in die hemel nie meer te vinde nie. En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp. Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God dag en nag… Daarom, wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het” (Op. 12:7-12).

Tot in hierdie stadium was Satan se aandag verdeeld: hy het die volk Israel én die Christene voor die troon van God aangekla, dag en nag, en andersyds het hy sy verleidings- en verwoestingswerk op die aarde gedoen. In die middel van die verdrukking sal hy en sy gevalle engele egter neergewerp word. Dan sal hy geen verdere toegang tot God hê waar hy mense kan aankla en beheer oor hulle lewens opeis nadat hulle gesondig het nie. Satan se volle aandag sal daarna op die aarde toegespits word, waar hy alles moontlik sal doen om wraak te neem deur God se skepping te verwoes, die aarde onleefbaar te maak, die Joodse volk uit te wis en almal wat Jesus se Naam bely, summier deur openbare onthoofding te laat teregstel (Op. 20:4).

Dit sal die tyd wees wanneer die Antichris homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God sal verklaar, die verpligte aanbidding van sy beeld sal gelas, deur middel van militêre dekrete sal regeer en nie sal skroom om maksimum geweld te gebruik nie.

Die vlug na die woestyn

In hierdie tyd sal Satan deur middel van die valse messias ‘n Joodse volksmoord gelas. Hy sal teen ‘n “vrou” en haar nakomelinge oorlog voer. In Openbaring 12 word Israel as ‘n getroude vrou beskryf wat ‘n seun gebaar het wat alle nasies met ‘n ystersepter sal regeer, en haar seun is weggeruk na God en sy troon. Die Seun is Jesus wat uit Israel gebore is. Israel word dus hier as ‘n getroude vrou beskryf, soos ook in Jesaja 54:4-8, Jeremia 31:3-4 en Hosea 2:15. Hierdie vrou moet glad nie met die kerk verwar word nie, want die kerk word in die Bybel as ‘n verloofde maagd voorgestel (Matt. 25:1-13; 2 Kor. 11:2). In elk geval is Jesus Christus nie uit die kerk gebore nie, maar uit die volk Israel – die kerk is uit Christus gebore. In Openbaring 12 word die volgende oor die eindtydse stryd teen hierdie vrou gesê:

“En toe die draak sien dat hy neergewerp is op die aarde, het hy die vrou vervolg wat die seuntjie gebaar het; maar die twee vlerke van die groot arend is aan die vrou gegee, sodat sy na die woestyn, na haar plek, kon vlieg, waar sy uit die gesig van die slang onderhou word, ‘n tyd, tye en ‘n halwe tyd [3½ jaar]. En die slang het uit sy bek water soos ‘n rivier agter die vrou aan uitgegooi, om haar te laat wegvoer deur die rivier. En die aarde het die vrou te hulp gekom, en die aarde het sy mond oopgemaak en die rivier ingesluk, wat die draak uit sy bek uitgegooi het” (Op. 12:13-16).

Hierdie vlug van Israel na ‘n plek in die woestyn, moontlik Petra in die Negef-woestyn suid van die Dooie See in Jordanië, sal in groot haas geskied. Dit sal wees pas nadat die Antichris homself in die tempel tot God verklaar het, en ‘n groot deel van Israel hom op grond daarvan sal verwerp. Hulle sal dan uit sy sataniese nuwe wêreldorde onttrek, waarby hulle vir die eerste 3½ jaar betrokke was. Wanneer sy beeld egter in die tempel opgerig en almal gedwing word om dit te aanbid, sal Israel baie vinnig moet wegkom omdat die valse messias hulle sal probeer inhaal en uitwis. Die Here Jesus het gesê:

“Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting [die Antichris en sy beeld] waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom… dan moet die wat in Judéa is na die berge vlug; wie op die dak is, moet nie afkom om iets uit sy huis weg te neem nie; en wie op die land is, moet nie omdraai om sy klere weg te neem nie. Maar wee die vroue wat swanger is en die wat nog soog, in daardie dae. En bid dat julle vlug nie in die winter of op die sabbat mag plaasvind nie. Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie” (Matt. 24:15-22).

Hierdie is baie duidelik ‘n profesie wat op Israel betrekking het, omdat dit daarop gemik is om ‘n oorblyfsel van die volk in die donker dae van die laaste 3½ jaar, m.a.w. in die groot verdrukking, van algehele uitwissing deur die Antichris te bewaar. In elk geval geld die sabbatswette net in Israel. Dan mag daar net ‘n kort sabbatsreis van minder as twee kilometer afgelê word (vgl. Hand. 1:12). In daardie geval sal die Antichris se magte hulle kan inhaal en uitwis. Verder moet eindtydse Jode bid dat hulle reis nie deur winterkoue, verwagtende vroue of vrouens met suiglinge vertraag word nie, want dan sal hulle ook nie vinnig genoeg van hulle agtervolgers af kan wegkom nie.

Die breuk tussen Israel en die valse messias sal só skielik plaasvind, en sy maatreëls vir weerwraak só spoedig daarna ingestel word, dat daar nie eers vir Israeli’s tyd sal wees om in te pak of padkos voor te berei nie. Hulle sal inderhaas berge toe moet vlug. Tot in daardie stadium het hulle volgens Johannes 5:43 die Antichris as Messias aanvaar, maar wanneer hy verklaar het dat hy God is, sal hulle skielik agterkom dat hy al die tyd ‘n valse messias was. Dan sal hulle uit sy pad moet bly, omdat Israel se optrede ‘n besliste bedreiging vir die eenheid van die Antichris se nuwe wêreldorde sal inhou.

Israel sal deur ‘n goddelike ingryping gehelp word om nie deur die Antichris en sy duiwelse magte ingehaal en verdelg te word nie. ‘n Aardbewing sal voorkom, waarin die aarde oopskeur om die Antichris se opmars oorland te stuit (Op. 12:16). Daar sal waarskynlik ook in daardie stadium op ander plekke in die wêreld opstande teen sy bewind uitbreek, sodat hy verplig sal wees om om te draai en daaraan aandag te gee. Daniël sê: “Gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref” (Dan. 11:44).

Daar staan ook in Openbaring: “En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou” (Op. 12:17). Die valse messias sal ewe fanaties teen die Messiaanse Jode optree omdat hulle hom sal verwerp en die God van Israel deur die ware Messias, Jesus Christus, sal aanbid. Hulle is ook nakomelinge van die vrou, Israel.

Die valse messias se ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking is die teken wat die Here aan die inwoners van Judea gegee het om haastig vir oorlewing na die berge te vlug. Die tempel wat hulle in die eerste helfte van die week sal bou, en die herinstelling van die offerdiens waardeur hulle die eenmalige offer van die Lam van God weer eens as volk sal verwerp, sal dus kort daarna vir hulle die oorsaak van groot ontnugtering en tragedie word. Vir hierdie volk wag daar nog ‘n tyd van misleiding en afvalligheid voordat Daniël 9:24 se maat van die sonde vol is en ewige geregtigheid vir hulle sal aanbreek. As gevolg hiervan sal hulle deur ‘n baie moeilike tyd van vervolging en loutering moet gaan.

Jeremia praat hiervan as die tyd van benoudheid vir Jakob (Jer. 30:7). Hierdie benoudheid sal deur die Here gebruik word om Israel na Homself terug te bring: “In hulle nood sal hulle My soek. Kom en laat ons terugkeer tot die Here; want Hy het verskeur en sal ons genees, Hy het geslaan en sal ons verbind” (Hos. 5:15–6:1). Hierdie toekomstige proses van loutering deur lyding is lank gelede al deur Moses aan Israel voorgehou, wanneer hulle in die laaste dae as volk in groot benoudheid sal kom:

“As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na die Here jou God terugkeer en na sy stem luister. Want die Here jou God is ‘n barmhartige God; Hy sal jou nie verlaat en jou nie in die verderf stort nie; en Hy sal die verbond van jou vaders wat Hy hulle besweer het, nie vergeet nie” (Deut. 4:30-31).

Die slag van Armagéddon

Wanneer die valse Messias op die punt sal staan om die oorblyfsel van Israel uit te wis, sal die dramatiese gebeurtenis van die Messias se koms plaasvind. Dit sal die skielike einde van hom en al sy magte beteken, wat dit gewaag het om teen Jerusalem op te trek:

“Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog. En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot ‘n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge – want die dal van die berge sal loop tot by Asal – en julle sal vlug soos julle gevlug het vir die aardbewing in die dae van Ussia, die koning van Juda. Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U! En in dié dag sal daar geen lig wees nie… en dit sal ‘n enige dag wees… maar teen die aand sal dit lig word… En die Here sal Koning wees oor die hele aarde… En dit sal die plaag wees waarmee die Here al die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer terwyl hulle nog op hul voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond. En in dié dag sal ‘n groot verwarring van die Here onder hulle kom, sodat die een die hand van die ander sal gryp, en die hand van die een hom sal verhef teen die hand van die ander” (Sag. 14:2-7,9,12-13).

Die oomblik wanneer die Messias sy verskyning op die planeet aarde maak, sal die Olyfberg in twee gesplit word en ‘n groot dal vorm waarin die vlugtelinge skuiling teen die vyand sal soek. Die duisternis van God se oordele sal oordag toesak soos wat dit meer as 2000 jaar gelede gebeur het toe sy oordeel vir die sonde van die wêreld deur Jesus aan die kruis buite Jerusalem gedra is (Matt. 27:45). “Wat sal tog die dag van die Here vir julle wees? Dit sal duisternis wees en geen lig nie… ja, donkerheid sonder ‘n ligstraal” (Amos 5:18,20).

Op die hoogtepunt van sy oordele oor sondaars sal die genade van die Here nog steeds aangebied word aan dié wat hulle toevlug tot Hom neem. Die oorlewende Jode wat deur die magte van die valse Messias omsingel is, sal sien hoedat die Olyfberg in twee verdeel wanneer die Messias kom. Hulle sal in die geopende rotsskeure in die berg vlug terwyl die duisternis toesak. Daar, letterlik aan die voete van Jesus, die Messias, sal hulle veilig wees.

In hierdie beslissende oomblikke sal daar groot verwarring onder die vyande van Israel heers terwyl hulle deur goddelike oordele getref en verdelg word. Hulle sal mekaar ook begin doodmaak. Die valse Messias en die valse profeet, as die twee leiers van die wêreldwye rebellie teen God en sy volk, sal gevang en lewendig in die poel van vuur gegooi word (Op. 19:19-20).

Wanneer dit weer begin lig word, sal die oorblyfsel van Israel vol verwondering en aanbidding voor die Messias neerval. As hulle na Hom opkyk, sal hulle verbasing baie groot wees om wonde in sy hande te sien. Hulle eerste vraag aan Hom sal wees: “Watter wonde is daar tussen jou hande?” Dan sal Hy aan hulle sê: “So is Ek geslaan in die huis van my vriende” (Sag. 13:6).

Hoe verklaar Israel die feit dat die Messias, volgens die profeet Sagaria, wonde in sy hande sal hê wanneer Hy op die Olyfberg neerdaal? Waar het Hy die wonde opgedoen? Dit kan tog nie in die hemel wees nie! Hulle sal opsien na Hom vir wie hulleself, as Joodse volk, deurboor het toe Hy met sy eerste koms Homself as die Lam van God bereid verklaar het om aan ‘n kruis vasgespyker te word en vir die sondes van die hele wêreld te sterf:

“Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind” (Sag. 12:10).

Die ontmoeting tussen Israel en hulle Messias sal uiters gevoelvol en hartlik wees. Die volk wat kort tevore nog deur totale uitwissing in die gesig gestaar is, sal in aanbidding aan die voete van hulle Verlosser neerval. Hulle vreugde sal deur trane van berou afgewissel word terwyl elke lid van die oorblyfsel van Israel met Jeshua Ha Mashiach versoen word. Op een dag sal al die skuld van die land uitgewis en ‘n volk weergebore word (Sag. 3:9).

Nadat die verbond tussen Israel en die valse messias verbreek is, sal daar nog 42 maande (1260 dae) verloop voordat die ware Messias sy verskyning op die Olyfberg maak. Wanneer die bestemde tyd nader kom, sal die Jode van hulle plek van ontvlugting af na Jerusalem terugkeer. Hulle sal vasbeslote wees om op die Groot Versoendag (die Yom Kippur) by die Olyfberg te wees. Dit sal met lewensgevaar gepaard gaan omdat die valse Messias steeds met sy verklaarde Joodse volksmoord sal voortgaan. In daardie stadium sal daar ‘n baie groot, multinasionale mag in Jerusalem en omstreke ontplooi wees. Hulle sal onder die bevel van die valse Messias staan, met hulle militêre hoofkwartier by Jerusalem (Dan. 11:45).

‘n Meer korrekte vertaling van Daniël 11:45a is dat die Antichris “sy paleistente sal opslaan tussen die seë by die berg van die heilige Prag.” Sy hoofkwartier sal dus tussen die Middellandse See en die Dooie See by die berg Sion wees. Hier sal die Antichris saam met ‘n baie groot mag die ware Christus en sy hemelse leër inwag en gereed maak om by die slag van Armageddon teen God se koninkryk te veg.

Die Jode wat na Jerusalem optrek om die Messias in te wag, sal sterk van sy koms oortuig moet wees omdat die vyandelike magte oral in en om Jerusalem ontplooi sal wees. Soos wat die voortvlugtendes vorder, sal hulle deur die vyand omsingel word. Huise in die stad sal geplunder en geboue vernietig word. In paniek sal die inwoners in die rigting van die Olyfberg vlug omdat hulle hul uitredding daar sal verwag. Sommiges sal in wanhoop uitroep: “Ons verwagting is verlore – dit is klaar met ons!” (Eseg. 37:11). Dan sal die Messias skielik uit die hemel neerdaal en tot hulle redding kom!

Gevolge van die Messias se koms

Nadat die Messias sy verskyning op die Olyfberg gemaak, sy vyande verdelg en Homself as Redder, Verlosser en Koning geopenbaar het, sal ‘n tydperk van verlengde rouklag vir Israel oor hulle sonde, afvalligheid en afgodediens aanbreek. In opregtheid van hart sal hulle dit eerlik bely en volkome daarmee breek:

“In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem… En die land sal rouklaag by geslagte… In dié dag sal daar ‘n geopende fontein wees vir die huis van Dawid en vir die inwoners van Jerusalem teen sonde en onreinheid. En in dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek die name van die afgode uit die land uitroei, sodat aan hulle nie meer gedink sal word nie” (Sag. 12:11–13:2).

Die nasionale rouklag sal waarskynlik 30 dae lank duur, soos wat gebruiklik in Israel was: “En toe die hele vergadering sien dat Aäron gesterf het, het die hele huis van Israel Aäron beween dertig dae lank” (Num. 20:29). “Toe het die kinders van Israel Moses beween in die vlaktes van Moab, dertig dae lank” (Deut. 34:8).

Sagaria vergelyk die dood van die Messias met dié van ‘n “enigste seun” en ‘n “eersgeborene.” Die rou vir sulke persone was buitengewoon groot gewees. Met die dood van ‘n enigste seun is die lig van ‘n familie uitgedoof, en met die dood van ‘n eersgeborene is die eer van ‘n familie, die mees geliefde en die eerste geskenk van die Here se seëninge, van hulle af weggeneem.

Die rouklag vir die Messias word verder met dié vir koning Josia vergelyk. Proff. John Walvoord & Roy Zuck (The Bible Knowledge Commentary, bl. 1567) sê: “Die toekomstige rouklag van Israel oor die Messias word ook vergelyk met die geween op die dag toe die godvresende koning Josia, die laaste hoop van die kwynende Judese koninkryk, by Haddat-Rimmon in die vlakte van Megiddo gesneuwel het. Die omvang van die rouklag by hierdie laaste uitstorting van die Heilige Gees kan slegs met die rou vir ‘n buitengewone persoon vergelyk word, asook met ‘n nasionale ramp wat die volk getref het.”

In Daniël se skedule van eindtydse gebeure word daar, onder andere, vir Israel se 30 dae van rou ná die koms van die Messias aan die einde van die groot verdrukking voorsiening gemaak deur dit by die 1260 dae van die tweede helfte van die week te voeg: “…dit sal ‘n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat ‘n volk bestaan het tot op dié tyd nie; maar in dié tyd sal jou volk gered word… En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal 1290 dae verloop. Welgeluksalig is hy wat bly verwag en 1335 dae bereik” (Dan. 12:1,11-12).

Die volgende tydsbepaling is uit dié gedeelte duidelik:

·       Van die tyd af dat die valse Messias die offerdiens sal verbied en die tempel ontheilig deur ‘n beeld van homself daarin te plaas, sal 1260 dae verloop totdat die ware Messias sy voete op die Olyfberg sit (Dan. 9:27; Op. 13:5). Ná ‘n verdere 30 dae van rou sal die geestelike vereniging tussen Israel en die Messias voltooi wees. Dan sal daar 1290 baie dramatiese dae verloop het sedert daardie donker dag van openlike rebellie teen die koninkryk van die hemel, toe die valse Messias homself in die tempel in Jerusalem tot God verklaar het.

·       ‘n Verdere 45 dae sal deur die bruilofsmaal van die Lam, die herstel van die troon van Dawid in Jerusalem en die oordeel oor die nasies in beslag geneem word (Op. 19:7-9; Hand. 15:16-17; Matt. 25:31-32). Wanneer die Messiasryk formeel begin, sal 1335 dae verstryk het sedert die aanvang van die valse Messias se skrikbewind toe sy afgodsbeeld in die tempel opgerig is. Jode wat hierdie verskriklike tyd oorleef, sal ná die 1260 dae van die groot verdrukking (Matt. 24:15-22) die koms van die Messias aanskou. Ná 1290 dae sal hulle geestelik met Hom versoen wees, en ná 1335 dae sal hulle die beloofde ryk van die Messias binnegaan. Dan sal ewige geregtigheid vir hulle as volk van God aanbreek terwyl die Messias uit Jerusalem regeer.

Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here, Hom van harte dien, en sy lof onder al die nasies verkondig (Jes. 12:3-6 en 40:9). Die Here sê dat Hy vir Israel ‘n hart sal gee om Hom altyd te vrees, ook in die opkomende geslagte, en hulle sal nooit van Hom afwyk nie. Die Here sal Homself oor hulle verheug en aan hulle goed doen (Jer. 32:37-42).  Dan sal Israel se volheid die rykdom van die nasies wees (Rom. 11:12). “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge… en al die nasies sal daarheen toestroom… Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jes. 2:2-3).

Die nasies wat in die vrederyk deur Israel geëvangeliseer sal word, sal ‘n oorblyfsel van die volke uit die huidige bedeling wees. Hulle sal die slag van Armagéddon oorleef, maar nog nie die nommer van die dier ontvang het nie, en derhalwe met Christus versoen kan word. By die wederkoms sal hulle saam met Israel rou bedryf oor hul sonde en vergifnis verkry (Matt. 24:30). Daarna sal hulle die Here dien en ook jaarliks die loofhuttefees in Jerusalem vier: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier. En wie uit die geslagte van die aarde nie na Jerusalem optrek om voor die Koning, die Here van die leërskare, te aanbid nie – hulle sal geen reën kry nie” (Sag. 14:16-17).

Die oorblyfsel van die nasies sal sterflike mense met ‘n oorerflike, sondige natuur wees, daarom sal hulle kinders in sonde gebore word en sal elke geslag opnuut geëvangeliseer moet word. Dit sal die taak van die geredde Israel wees.

Israel se toekoms is seker en gewis omdat die God met wie hulle voorvaders plegtige verbonde gesluit het, getrou is. Die ontrouheid van die volk het hulle egter in die loop van die geskiedenis baie duur te staan gekom. In die komende groot verdrukking wag daar op die ongelowige en onbekeerlike Jode die ergste oordele van alle tye. Vir die gelowige oorblyfsel van Israel wat met die Messias versoen word, sal die vreugde van God se wonderlikste beloftes in die vrederyk aanbreek. Die Here Jesus sal weldra kom om self God se heerlikheid aan Israel en die nasies te openbaar:

“Daarna sal Ek terugkom en die vervalle hut van Dawid weer oprig, en wat daarvan verwoes is, sal Ek weer oprig en dit herstel, sodat die oorblyfsel van die mense die Here kan soek, en al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is, spreek die Here wat al hierdie dinge doen” (Hand. 15:16-17).

Van hierdie oomblik af sal Jerusalem geweldige prominensie in die wêreld geniet omdat dit die Stad van die Groot Koning sal wees. Wêreldleiers sal daarheen gaan om deur die Here onderrig te word en eer oor sy groot verlossingsdade aan Hom te bring.