Prof. Johan Malan, Universiteit van die Noorde
Opsomming: 'n Onderwerpstudie van die boek Openbaring waarin temas soos die kerk op aarde, die Antichris, Israel, Babilon en die wederkoms afsonderlik behandel word.
1. Die Verheerlikte Christus
2. Bedeling van die Kerk
3. Weggevoer!
4. Die Antichris
5. Babilon Herleef
6. Israel in die Verdrukking
7. Oorloë, Siektes en Natuurrampe
8. Die Messiasryk en die Nuwe Skepping
9. Dit is Volbring!
10. 'n Bybelse Strategie vir dié Wat Agterbly
Die boek Openbaring bevat 'n aantal ernstige waarskuwings vir alle mense, en daar is groot risiko's aan die ignorering daarvan verbonde. Die volgende groepe word hierdeur aangespreek:
1. Die kerk van Christus word gewaarsku dat dit in 'n bose wêreld is wat op die groot verdrukking afstuur. Die uitdaging word aan ons gerig om in hierdie moeilike omstandighede teen afdwalinge te waak, getrou aan die Here en aktief in sy diens te bly: "Aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee" (Op. 2:26).
2. Kerke wat geestelik lou en afvallig geraak het (Op. 2:22), word gewaarsku dat hulle by 'n heidense geselskap van valse godsdienste ingetrek gaan word, trou aan 'n valse messias sal sweer en daarna deur hom vernietig sal word (Op. 17:5, 16).
3. Die nasies word gewaarsku dat 'n valse vredevors hulle by 'n Babiloniese samelewingsorde en 'n wêreldregering sal intrek waarin hulle hul selfbeskikkingsreg sal verloor (Op. 13:3). Hulle sal polities onderdruk (Op. 13:7), godsdienstig in afgodediens ingedwing (Op. 13:15) en aan ekonomiese slawerny onderwerp word (Op. 13:16-18). Groot oorloë en die ergste natuurrampe en pessiektes van alle tye sal in hierdie tyd uitbreek.
4. Israel, wat lank tevore reeds teen die koms van die valse messias gewaarsku is (Dan. 9:27; 11:31; Matt. 24:15; Joh. 5:43) sal, behalwe vir 'n groep getroues, hierdie verleier aanvaar en deur hom tot op die rand van uitwissing gedryf word (Op. 12:13-16).
5. Christene word gewaarsku om vir die ontvlugting gereed te wees (Luk. 21:36); dan sal hulle in die hemel wees nog voordat die eerste seël van die oordele gebreek word (Op. 4:4, 5:9). Soos wat Noag en Lot die ramp van Goddelike oordele vrygespring het, kan eindtydse Christene dit óók doen.
6. Diegene wat nie gereed was nie en eers in hierdie donker dae tot bekering kom, word gewaarsku dat hulle die hoogste prys vir hulle geloof sal betaal (Op. 6:9-11). Nogtans kan hulle geestelik oorwin (Op. 12:11). Die slothoofstuk in die boek is as 'n handleiding vir die Christene van die verdrukking geskryf.
7. Die Here Jesus het in sy profetiese rede gewaarsku: "Pas op dat niemand julle mislei nie" (Matt. 24:4). Mag hierdie boek u help om op dié opdrag ag te slaan!