1. Die Verheerlikte Christus

In die heel eerste vers van Openbaring word bevestig dat die inhoud van hierdie boek nie 'n raaiselagtige allegorie van toekomstige gebeure is nie maar 'n openbaring, of bekendstelling, daarvan. Die oorsprong van hierdie profesieë word ook duidelik gestel:

"Die openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het" (Op. 1:1).

Deur dit op skrif te stel, het Johannes hierdie belangrike boodskap na die ganse kerk van Christus deurgegee. In vers 2 sê hy dat wat hy beskryf, 'n getroue weergawe van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus is. Hy is dus net 'n boodskapper van dit wat God self deur sy Seun aan die gemeentes wil sê.

'n Besondere seën word in vers 3 aan almal beloof wat hierdie profesieë lees en dit in die geloof ter harte neem. Petrus stel die belangrikheid van die profetiese woord baie duidelik:

"En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte, terwyl julle veral dit moet weet, dat geen profesie van die Skrif 'n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van 'n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek" (2 Pet. 1:19-21).

Hierdie profetiese lamp het deur die eeue heen geskyn en geestelike pelgrims se pad in 'n donker wêreld verlig. Abraham het in 'n vreemde land in tente gewoon, maar omdat hy 'n vergesig gehad het van 'n stad wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is (Heb. 11:10), het hy in die geloof geleef soos iemand wie se burgerskap in die hemel is, in die nuwe Jerusalem.

Christus en sy gemeente

Die openbaringsboodskap kom van die Drie-enige God, en die bestemming daarvan is die sewe gemeentes in Klein Asië. Omdat sewe die Bybelse getal van volheid is wat dikwels in die boek Openbaring gebruik word, word hierdie boodskap in werklikheid aan die ganse kerk van Christus deur die eeue heen gerig.

Die uitnemende posisie van die Here Jesus as die Hoof van die gemeente word in ryk en beeldende taal beskryf. Dit is Hy wat ons liefgehad en van ons sondes gewas het in sy bloed. Hy is die Alfa en die Omega. As die Alfa is Hy die begin van die skepping van God, en ook die fondament en hoeksteen van die koninkryk van die hemele. Hy het die grondslag vir die verlossingsplan van die mens gelê, daarom is die begin van ons geestelike lewe in Hom geleë. As die Omega is Hy die voleinding van alle dinge en sal Hy ná die bedeling van die kerk weer kom om ons sy ewige heerlikheid binne te lei.

Johannes sien die Here Jesus in die huidige bedeling as die Een wat tussen die sewe kandelare wandel, en dus intiem by die doen en late van sy kerk op aarde betrokke is. Die verskillende gemeentes word deur die kandelare voorgestel, wat die houers is waarin die olie van die Heilige Gees gegiet word. As die lidmate van die gemeente voortdurend met die Heilige Gees vervul is, kan hulle 'n helder lig in die donker wêreld laat skyn.

Johannes sien vir Christus in sy verheerlikte voorkoms. Hy het 'n lang kleed aan wat tot op sy voete hang, gegord met 'n goue gordel. Hierdeur word sy priesterlike en koninklike waardigheid beklemtoon. Die wit hare versinnebeeld sy wysheid, terwyl sy oë wat soos 'n vuurvlam is, op sy indringende beoordeling en alwetendheid dui. Niks is vir sy oë bedek nie.

Sy voete wat soos gloeiende koper in 'n oond is, beklemtoon sy volkome heiligheid en gelouterdheid. Hy het ter wille van ons sondes deur die vuur van God se oordele gegaan – deur Getsémane, Gólgota én die doderyk, sonder om te huiwer of terug te deins. Dink aan die groot offer wat Hy moes bring om hierdie pad te loop. Hy het die hemelse heerlikheid prysgegee om hier op aarde verwerp, geminag, bespot, geslaan en saam met rowers tereggestel te word. Hy was so misvormd van die géseling dat Hy nie meer soos 'n mens gelyk het nie (Jes. 52:14). "Hy was verag en deur die mense verlaat, 'n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie 'n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie. Nogtans het Hy ons krankhede op Hom geneem, en óns smarte – dié het Hy gedra..." (Jes. 53:3-4).

Paulus skryf ook van Christus se bereidwilligheid om as 'n Kneg van God en Redder van sondaars na die aarde neer te daal, van sy vernederende dood ter wille van ons sonde, en die onbeskryflike heerlikheid wat Hom daarna in die hemel te beurt geval het:

"Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk te word; en in gedaante gevind as 'n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis. Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom 'n naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is, en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader" (Fil. 2:6-11).

Dit is die verheerlikte Christus wat Johannes tussen die kandelare sien wandel. Hy, wat tydens sy verhoor weens ons sonde Homself nie verweer en sy mond nie oopgemaak het nie (Jes. 53: 7), praat nou met 'n stem wat klink soos dié van baie waters. Niemand kan dit demp, teen dit praat of die gesag daarvan daag nie. Sy woorde is soos 'n skerp tweesnydende swaard wat uit sy mond uitgaan – dit bring skeiding, spreek vry én veroordeel. Sy aangesig is soos die son wat alle duisternis verdryf, en sy spesiale getuies soos helder skynende sterre in sy regterhand. Hulle moet die lig van die son van geregtigheid in 'n donker wêreld laat skyn, en bereid wees om ook diensknegte te wees wat deur lyding en verdrukking gelouter word.

Jesus Christus is die Een om wie alles in hierdie boek draai. Van die begin af het mense verskillend oor Hom gereageer. Simeon het kort ná die geboorte van Jesus al oor Hom gesê: "Kyk, hierdie kind is bestemd tot 'n val en 'n opstanding van baie in Israel en tot 'n teken wat weerspreek sal word" (Luk. 2:34). Christus was die afgelope 2 000 jaar inderdaad vir miljoene mense die opstanding tot 'n nuwe lewe. Baie ander se val en ewige verderf is verseël omdat hulle Hom verwerp en die duisternis liewer gehad het as die lig.

In Openbaring word Jesus volgens dié beginsel in twee hoedanighede geopenbaar, nl. as Verlosser en as Regter. Hy word eerstens as die Verlosser en Hoof van die gemeente geopenbaar – as die Een wat tussen die kandelare wandel, sy getroue diensknegte bemoedig, die onordelikes teregwys en die afvalliges tot bekering oproep. Die verheerliking van die kerk en die ewige koningskap van Jesus staan ook met sy verlossingswerk in verband.

Tweedens word Hy as Regter geopenbaar wat in die gerig tree met almal wat Hom verwerp het. Tot op die laaste oomblik bied Hy hulle egter nog die geleentheid om Hom as Verlosser aan te neem. Uiteindelik, wanneer die volheid van die tyd aanbreek, breek Hy die seëls van God se oordele oor 'n Christus-verwerpende wêreld.

Op die dag van sy verskyning op die Olyfberg sal Hy al die volgelinge van die Antichris en die valse profeet oordeel met die swaard wat uit sy mond uitgaan. In vrymaking, verheerliking én in veroordeling gaan dit oor die verhouding waarin mense teenoor Jesus Christus staan – vir Hom of teen Hom. Om hierdie rede sê Johannes ná die toekomsopenbaringe wat hy ontvang het: "Die getuienis van Jesus is die gees van die profesie" (Op. 19:11).

Volgorde van profetiese gebeure

Die verheerlikte Christus spreek Johannes direk aan, maar hy word deur vrees oorweldig en val voor sy voete neer. Pas voordat die vernietigende eindtydse oordele aangekondig word, lê die Here sy hand gerusstellend op sy dienskneg en sê: "Moenie vrees nie." Hy het die laaste vyand, die dood, ook oorwin; daarom hoef almal wat aan Hom behoort, nie te vrees nie want hulle "kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe" (Joh. 5:24).

Johannes kry in Openbaring 1:19 die opdrag om op te skryf die dinge wat hy gesien het, die dinge wat is sowel as die dinge wat gaan gebeur. Die wyse waarop die Here Jesus hierdie opdrag geformuleer het, is 'n belangrike sleutel tot die verstaan van die boek Openbaring, want dit onderskei drie reekse gebeure:

·      Eerstens moet Johannes die dinge wat hy gesien het beskryf, nl. die verheerlikte Christus tussen die sewe kandelare.

·      Tweedens moet hy verslag doen van die dinge wat is. In die jaar 95 toe hy hierdie openbaringe op die eiland Patmos ontvang het, was dit in die bedeling van die kerk. Ons is vandag nog steeds in dieselfde bedeling tussen die eerste en tweede koms van Jesus. Johannes was net in die beginjare daarvan, en ons is baie naby aan die einde van die kerkdispensasie.

·      Die grootste deel van die openbaringsboodskap handel oor die dinge wat gaan gebeur. Dit sluit alles in wat sal plaasvind nadat die bruidsgemeente na die hemel weggevoer is – dit is van Openbaring 4 af tot aan die einde van die boek.

Wanneer Openbaring uit hierdie oogpunt benader word, is dit duidelik dat dit chronologies geskryf is. Dit geld die duidelik afgebakende kategorieë van dinge in die boek, naamlik:

·      Die verheerlikte Christus (hfst. 1).

·      Die bedeling van die kerk op aarde (hfst. 2 en 3).

·      Die verheerlikte kerk in die hemel (hfst. 4 en 5).

·      Die sewe jaar lange verdrukking (hfst. 6 tot 18).

·      Die sigbare koms van Jesus (hfst. 19).

·      Die duisendjarige vrederyk en die eindoordeel (hfst. 20).

·      Die nuwe hemel en die nuwe aarde (hfst. 21 en 22).

Hoewel die chronologiese orde in die behandeling van opeenvolgende tydperke streng gehandhaaf word, word die gebeure van die verdrukking self (hfst. 6 tot 18) nie chronologies behandel nie, maar onderwerpsgewys. Openbaring 6 se gebeure oorspan bv. die totale sewe jaar lange verdrukking omdat die wit perd (die valse vredevors) in die eerste helfte van die verdrukking optree, terwyl die rooi perd (oorlog), die swart perd (hongersnood) en die vaal perd (die dood) gebeure in die tweede helfte van die week uitbeeld. Die martelare van die vyfde seël word meestal in die tweede helfte versamel, terwyl die geweldige kosmiese tekens en oordele van die sesde seël baie na aan die einde van die sewe jaar voorkom.

Die Messiaanse Jode van Openbaring 7:1-8 word aan die begin van die sewe jaar gered, terwyl die Christenmartelare van Openbaring 7:9-17 dwarsdeur die hele tydperk gered word. Die gebeure van Openbaring 12 en 13 vind in die middel van die verdrukking plaas. Mistieke Babilon van Openbaring 17 (die wêreldalliansie van valse kerke) sal die eerste 3½ jaar op die toneel verskyn, waarna dit verbied en uitgewis sal word. Ná nog 3½ jaar, aan die einde van die 7 jaar, sal kommersiële Babilon (Op. 18) vernietig word.

Mense wat die boek Openbaring op 'n letterlike, dispensasionele wyse verklaar, word chiliaste genoem. Dit is van die Griekse woord chilios afgelei wat duisend beteken, en verwys na diegene wat in 'n letterlike, duisendjarige vrederyk op aarde glo wat ná die wederkoms van Jesus Christus sal aanbreek. 'n Sinoniem vir die begrip chiliasme is millennialisme wat van die Latynse woord vir duisend, nl. mille, afgelei is.

Chiliaste eerbiedig die letterlike grondbetekenis van die Skrif, behalwe waar dit uit die verband baie duidelik is dat 'n gedeelte simbolies verklaar moet word. 'n Voorbeeld hiervan is die verwysing na 'n draak met sewe koppe, wat volgens die Bybel se eie verklaring op die duiwel dui. Wanneer die Bybel egter van Israel, die groot verdrukking, die Antichris, die valse profeet, die slag van Armagéddon, en die binding en totale inperking van die duiwel die wederkoms van Christus praat, is daar geen rede om die betrokke begrippe deur allegorisering weg te verklaar en op 'n willekeurige wyse ander betekenisse daaraan toe te skryf nie.

Daar is ongelukkig baie mense én kerke wat die grondbetekenis van Bybelse uitsprake deur middel van die vergeestelikingsteologie verander en dus nie in 'n letterlike vrederyk glo nie. Hulle word antichiliaste of amillennialiste genoem. Sommige van hulle sê dat daar geen vrederyk is nie, terwyl andere beweer dat die kerkdispensasie die vrederyk is. Die kerkbedeling is egter baie langer as 1000 jaar en die duiwel is beslis nie nou gebind nie (vgl. Ef. 6:10-12 en 1 Pet. 5:8).

Op dieselfde wyse word daar ook nie deur die antichiliaste aan die eindtydse herstel van Israel na hulle eie land geglo nie, omdat die kerk as die nuwe Israel gesien word. Dit is 'n voorbeeld van vervangingsteologie waarin 'n Bybelse begrip eers vergeestelik en dan deur iets anders vervang word. Die wegraping word deur hierdie mense weggeredeneer, en deur vergeesteliking raak hulle ook van baie ander konkrete Bybelse uitsprake ontslae.

Vir die antichiliaste het die profetiese boodskap van Openbaring as gevolg van die vergeestelikingsbeginsel sy letterlike betekenis verloor en dus grootliks afgewater geraak. Die chronologie van die boek word ook nie erken nie, omdat Openbaring 20 se beskrywing van die vrederyk as 'n wesenlike deel van Openbaring 2 en 3 se beskrywing van die kerkgeskiedenis beskou word. Antichiliasme is dus tot 'n historiese verklaring van Bybelse profesieë verbind, omdat hulle beweer dat ons klaar in die vrederyk is en die meeste profesieë reeds vervul is. Hulle glo dat Jesus se wederkoms ná die huidige 'vrederyk' is, daarom is hulle postmillennialiste. Chiliaste is egter premillennialiste wat glo dat Jesus éérs kom en dán volg die beloofde vrederyk. Ons glo wat in die Bybel staan en kyk na die vervulling van 'n groot aantal Bybelse profesieë vooruit.

'n Antichiliastiese siening tas die geloofwaardigheid van die profetiese woord aan, en lei daartoe dat mense nie wederkomsgerig leef nie en hulle in die algemeen baie min aan die vervulling van die tekens van die tye steur. Die noodwendige gevolg hiervan is dat hulle as uitsiglose Christene 'n ál meer materialistiese lewens- en wêreldbeskouing ontwikkel en hulleself feitlik uitsluitlik met sekulêre en verganklike dinge besig hou. Binne hierdie horisontalistiese perspektief word menseverhoudinge, broederliefde, asook moreel-etiese en politieke kwessies van oorheersende belang, en die mens-God-verhouding ál meer op die agtergrond geskuif.

Chiliasme, daarenteen, fokus skerp op die grondwaarhede in die Skrif, veral in die mate waartoe dit ons verhouding met die Here raak. Dit bevorder 'n duidelike toekomsverwagting by Christene en bring mee dat die Here 'n groter realitiet in hulle daaglikse lewe word. Hulle is daarop ingestel om wêreldgebeure in die lig van die profetiese woord te vertolk, en sodoende 'n Bybelse patroon in kontemporêre gebeure te onderskei. Hulle besef die erns van die uur waarin ons leef, gedagtig daaraan dat die bedeling van die kerk na sy einde spoed. Binne 'n perspektief van hierdie aard word die tyd uitgekoop om andere te waarsku om hulle saak met die Here reg te maak. 'n Groter evangelisasie-ywer word op dié wyse gekweek, omdat die tyd vir die uitvoering van die groot opdrag min geword het. Dit maak jou nog meer aktief omdat jy besef dat jy 'n vreemdeling en bywoner in 'n verbygaande wêreld is. Verder spreek die profetiese woord jou aan om voortdurend in 'n toestand van heiligheid en gereedheid vir die wederkoms te leef, en elke dag reikhalsend na die koms van die Bruidegom uit te sien.

Diegene van u wat die letterlike (chiliastiese) benadering van skrifverklaring en die afwysing van die moderne vergeestelikingsteologie ietwat vreemd vind, wil ek gerus stel en aanmoedig om hierdie boek met 'n oop gemoed te lees. Chiliasme was vir baie lank die oorheersende skrifbeskouing in die Protestantse wêreld (ook in Gereformeerde kerke) totdat dit deur liberale en vrysinnige teologiese verklarings vervang is.

Wyle oom Timo Kriel, wat baie boeke vir Christelike Uitgewersmaatskappy (CUM) in Afrikaans vertaal het, bevestig die feit dat die stigters van die N.G. Kweekskool op Stellenbosch almal chiliaste was. In 'n voorwoord vir skrywer se boek Die Laaste Nagwaak sê hy onder meer die volgende hieroor:

"Ek was goed bevriend met die stigters van die kweekskool op Stellenbosch: professore Hofmeyr, Marais, De Vos, Muller en ds. Neethling. Hulle was almal chiliaste; trouens, daar was geen ander standpunt bekend nie. Antichiliasme het baie later uit Holland hier aangekom en die oorsaak geword dat 'n menigte wagters op Sionsmure dié waarhede op hulle boonste rakke weggepak het en 'n dodelike swye daaroor bewaar. Wat gaan God van hulle eis?"

Dit is nou, soos nooit tevore nie, tyd om die boek Openbaring met groot erns te benader en te lees. In die lig van die sleutel wat reeds in hoofstuk 1 tot die verklaring daarvan verskaf is, en met 'n vasberade gesindheid van die verwerping van alle teologiese wanvoorstellings van Openbaring, moet u die lewensbelangrike boodskap van hierdie boek ter harte neem. Die profetiese woord is baie vas, en ons moet daarop ag gee soos op 'n lamp wat in 'n donker plek skyn (2 Pet. 1:19). Dit sal baie sake oor die komende oordele van God vir u opklaar, en ook duidelike raad aan u gee oor hoe u hierdie oordele kan vryspring.

Ek nooi u om saam met my op 'n ontdekkingsreis deur hierdie groot skatkamer van kennis oor die eindtyd te vertrek. Ons sal onnaspeurlike rykdomme van Christus se liefde en reddende genade ontdek, maar ook ernstige waarskuwings oor die donker nag van verskrikking wat vir almal wag wat hulle nie deur Jesus Christus tot die lewende God bekeer het nie.