2. Bedeling van die Kerk

Deur middel van sewe briewe stuur die Here Jesus aan die kerk van die nuwe Testament boodskappe van bemoediging en vermaning. Op 'n tydstip toe daar reeds meer as 100 gemeentes was, kies Hy sewe uit wat die tipiese kenmerke van die ganse kerk vertoon, ook oor tyd heen. Daar is dus geen verborge rede waarom die meeste van die gemeentes nie briewe gekry het nie. Elke gemeente, en ook elke individuele Christen, kan homself in die plek van een of meer van hierdie gemeentes stel en die boodskap wat daaraan gerig is, ter harte neem.

Openbaring 2 en 3 gee 'n vertikale én horisontale perspektief op die Christelike kerk. Indien daar in enige stadium 'n vertikale 'snit' van die Christelike kerk in die algemeen gemaak word, sou dit sewe verskillende lae (of tipes) vertoon. Dit was kenmerkend van die vroeë Christelike kerk toe hierdie briewe geskryf is, en is nog steeds kenmerkend van die 20ste eeu se kerk.

Hierbenewens kan daar na aanleiding van die sewe briewe ook 'n horisontale verdeling van die kerk in opeenvolgende tydperke gemaak word. Hoewel al die gemeentetipes nog altyd saam bestaan het, het die algemene karakter van die Christelike kerk oor tyd heen chronologies deur hierdie sewe tipes beweeg. Daar is dus sewe duidelik onderskeibare periodes in die kerkgeskiedenis, en ons leef tans in die periode van Laodicéa, die laaste van die sewe gemeentes. Die ander ses tipes kom ook nou voor, maar in die Laodicéa tydperk speel hulle nie die oorheersende rol nie.

Soos dit uit die bespreking hieronder sal blyk, is daar 'n groot verskil tussen die kerk van Christus en die Christelike kerk. Eersgenoemde sluit net diegene in wat werklik aan Jesus Christus behoort omdat hulle sondes deur sy bloed weggewas is. Die tweede kategorie sluit alle mense in wat aan Christelike kerke behoort, ook die miljoene naamchristene wat nog nie gered is nie. In die geestelik vervalle toestand waarin feitlik alle groot kerke vandag verkeer, is by verre die meeste lidmate nominale Christene wat net 'n gedaante van godsaligheid het. Dit is met die oog op hulle dat die Here aan vyf van die sewe gemeentes bekeringsboodskappe rig. Dit behels bekering uit kerkisme, leerstellige dwalings, morele verval, afgodediens en 'n selfregverdigende kompromie met die wêreld.

Die sewe gemeentes is die volgende:

1. Éfese: die teruggevalle kerk

In die jaar 95 toe Johannes hierdie boodskappe ontvang het, was daar reeds aansienlike veragtering in die vroeë Christelike kerk bespeurbaar. Die brandende gemeentes waarvan ons in Handelinge lees, het verflou in hulle ywer. Mettertyd het hulle net 'n vormgodsdiens oorgehou waarin Christus nie meer die sentrale plek beklee het nie. Daar was nog baie gemeentelike aktiwiteite, maar die liefde vir die Here Jesus was nie meer die basiese motivering nie. Christus kan nie met hierdie vorm van kerkisme genoeë neem nie, al is die lidmate ook baie aktief in wat hulle doen. Hy lê sy vinger op die kern van die probleem wanneer Hy sê:

"Ek het dit teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie" (Op. 2:4-5).

Die Here roep die gemeente tot bekering uit hulle teruggevalle toestand op. Die menslik-geïnspireerde werke wat lidmate vir hulle kerke doen, is nie vir Hom aanvaarbaar nie. 'n Lewende gemeente is een waarin lidmate onder die inspirasie en leiding van die Heilige Gees die Here dien. Dit is die "eerste werke" waarheen hulle hul moet bekeer. Indien hulle dit nie doen nie, sê die Here Jesus, sal Hy sy Heilige Gees aan hulle onttrek. Hulle kandelaar sal dan geen lig gee nie en geestelike duisternis sal oor die gemeente toesak. As menslike organisasie sal hulle nog kan voortbestaan, maar hulle sal geen spreekbuis vir die Here wees nie. Hy sal sy kandelaar aan 'n ander gemeente gee wat bereid is om Hom op 'n toegewyde en selfverloënende wyse in die krag van die Heilige Gees te dien.

Waar staan jy in jou godsdiensbelewenis? Dien jy die Here onder morele dwang en uit eie krag, of dring die Heilige Gees jou om die lof van jou Verlosser te verkondig? Laat jou lig dan só skyn dat almal dit kan sien en daardeur nader aan die Here getrek word.

'n Positiewe aspek van hierdie gemeente was dat hulle ten spyte van hulle geestelike verval nie die deur vir die sektes oopgemaak het nie. Hulle het die Nikolaïete, wat in die oë van die Here gehaat was, sterk teëgestaan. Hierdie groep het na godsdienstige mag en menslike verering gestreef, maar immorele lewens gelei. Hulle het hul ooreenkomstig die Ou Testamentiese patroon vir die instelling van 'n priesterlike orde beywer wat spesiale regte en voorregte geniet, terwyl die gewone lidmate as leke sonder enige status en regte beskou is. Hulle wou nie herders oor die gemeentes wees nie, maar heersers oor die erfdeel (1 Pet. 5:2-3). Hierdie oorheersingsdrang word ook deur die naam van die Nikolaïete weerspieël, wat afgelei is van niko (om te onderwerp) en laos (die leke, of die volk).

Dié struktuur was vreemd aan die Nuwe Testamentiese patroon, omdat dit 'n demper op die uitlewing van die amp van die gelowige sou plaas. Die gewone lidmate se deelname in die aktiewe bestudering en verkondiging van die Woord sou hierdeur beperk word, en onder hierdie omstandighede sou die kerk nooit daarin slaag om die wêreld aktief te evangeliseer nie. Priesters, kardinale, biskoppe en ander verhewe ampsdraers sou 'n ongewenste beheer oor lidmate verkry en sodoende 'n struikelblok vir Christelike kerke word.

Die opset in Éfese is kenmerkend van die vroeë Christelike kerk tot omstreeks die jaar 100. Dit geld sowel hulle aanvanklike liefde vir die Here Jesus as hulle latere veragtering in die geloof.

2. Smirna: die vervolgde kerk

Smirna beteken bitterheid en is 'n aanduiding van die genadelose vervolging en bittere lyding wat die kerk onder die Romeinse juk moes verduur. Daar was haas nie 'n denkbare metode van vernedering, vervolging en marteling wat nie teen die Christene toegepas is nie. Openlike spot en hoon, swaar boetes, summiere ontslag en onteiening het onder die ligter vorms van vervolging getel. Meestal was tronkstraf in muwwe kerkers onder omstandighede van verhongering, siektes en marteling, asook teregstelling op brandstapels weens kettery, die lot van duisende Christene. Dikwels is die gevangenes in groot arenas gejaag om deur leeus en ander roofdiere verskeur te word. Hulle lewens is as niks gereken nie, en toeskouers het die arenas ter wille van vermaak besoek om met genoegdoening na hierdie barbaarse dade te kyk.

Die Here Jesus het innige meegevoel met die martelare, omdat Hy self die Een is wat die lydensweg bewandel en die bitter beker van vervolging tot die laaste druppel geledig het. Hy stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat dood was en lewend geword het. Hy bemoedig hulle om te midde van die lyding vas te staan, want as hulle getrou bly tot die dood toe, sal hulle onverganklike opstandingsliggame kry en vir ewig lewe:

"Vrees vir niks wat jy sal ly nie. Kyk, die duiwel gaan sommige van julle in die gevangenis werp, sodat julle op die proef gestel kan word; en julle sal tien dae lank verdrukking hê. Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee" (Op. 2:10).

Die tien dae is moontlik 'n verwysing na die vervolging van die Christene wat tydens die bewindstermyne van tien opeenvolgende Romeinse keisers plaasgevind het; dit is vanaf Nero in 64 n.C. tot met Diocletianus in die jaar 305. Met die aanvang van die Smirna tydperk was die vervolging reeds aan die gang en sou dit vir nog meer as twee eeue lank voortduur. Die laaste paar jaar onder keiser Diocletianus was die bloedigste. Hierdie tiran het homself ook, soos die meeste van sy voorgangers, vergoddelik. Hy het dit egter nog verder gevoer sodat mense voor hom op hul knieë moes val, die soom van sy kleed soen en uitroep: "Dominus et Deus!" ("My Here en my God!"). In die jaar 303 n.C. het hy 'n spesiale edik uitgevaardig waarkragtens die Christene van hulle besittings en burgerregte ontneem en hulle kerke gesluit is. Die gepaardgaande vervolging word as die bloedigste van alle Christenvervolgings bestempel, en het ná Diocletianus se abdikasie in 305 nog tot in die jaar 312 n.C. voortgeduur.

3. Pergamus: die verleide kerk

'n Belangrike wending het in 312 n.C. plaasgevind toe keiser Konstantyn die vervolging van Christene verbied en self die Christelike geloof aanvaar het. Op een van sy veroweringstogte het hy na bewering 'n kruis aan die hemel gesien met die volgende woorde daarby: "In hoc signo vinces" ("In dié teken sal jy oorwin"). Sedert hierdie gebeurtenis het hy aansienlike militêre welslae behaal en as gevolg daarvan die Christendom aangehang. Deur die Edik van Milaan het hy in 313 n.C. aan die Christendom gelyke regte met die ander godsdienste verleen. Sy persoonlike betrokkenheid was egter twyfelagtig omdat hy nie die heidense godsdienste veroordeel het nie en homself eers kort voor sy dood laat doop het.

Die veranderinge was nogtans geweldig. Skielik is die vervolgde kerk amptelik erken en moes dit sy deure vir hoë amptenare en gesiene burgers oopgooi. Hulle het, soos Konstantyn, besluit om ook 'Christene' te word. Die eise van die evangelie is afgewater om die boodskap vir die nuwe gehore meer aanvaarbaar te maak. Die keiser het finansiële hulp vir die oprigting van indrukwekkende geboue aan die kerk geskenk. Op die ekumeniese konsilie van Nicea in 325 n.C. het 'n orde van biskoppe hulle houvas op die kerk gekry en openlike kompromie met ander gelowe gemaak.

Deur hierdie hervormings is die leer van die Nikolaïete ingevoer, wat in die Éfese tydperk reeds sy kop uitgesteek het. Gewone lidmate se regte en inisiatief vir selfstandige optrede is geleidelik onderdruk, en hulle het later slegs volgens die voorskrifte van die afvallige biskoppe en priesters gehandel. Hierdeur is growwe inbreuk op die gesag van die Woord van God en die leiding van die Heilige Gees in die lewens van gelowiges gemaak.

Die kompromie wat die kerk met die sekulêre wêreld aangegaan het, het noodwendig tot geestelike afvalligheid en ontrouheid teenoor die Here gelei. Hierdie verskynsel word ook duidelik deur die naam Pergamus weerspieël, wat troue beteken. Tydens die bewind van Konstantyn is 'n huwelik tussen die kerk en die staat gesluit, maar in die oë van die Here kom vriendskap van hierdie aard op geestelike hoerery neer:

"Egbrekers en egbreeksters, weet julle nie dat die vriendskap van die wêreld vyandskap teen God is nie? Wie dan 'n vriend van die wêreld wil wees, word 'n vyand van God" (Jak. 4:4).

Die Here verwys na hierdie kompromiemakery as "die leer van Bileam wat Balak geleer het om 'n struikelblok voor die kinders van Israel te werp, naamlik om afgodsoffers te eet en te hoereer" (Op. 2:14). Volgens Numeri 22 tot 24 is Bileam deur Balak, die koning van die Moabiete, gehuur om Israel te vervloek. Bileam doen dit egter nie en haal vir Balak oor om, in plaas van vervloeking en militêre konfrontasie, eerder vir Israel te verlei om geestelike kompromie met hom te maak deur van die Baälfeeste by te woon.

Hierdie strategie het gewerk, en in Numeri 25 lees ons dat Israel op uitnodiging 'n Baälfees in Moab bygewoon het. Wellus het hoogty gevier en spoedig het hierdie nuwe vriendskap daartoe gelei dat die Israelse mans in hoerery met die dogters van Moab verval en ook voor hulle gode neergebuig het. Dit het die toorn van die Here oor Israel laat ontvlam, en Hy het 'n plaag oor hulle beskik waarin 24 000 mense gesterf het. Balak het hom hierin verbly, want hy het in sy doel geslaag om Israel by God in onguns te laat raak sodat Hý teen hulle geveg het! Moses het die volk later ook oor hierdie beginselloosheid en permissiwiteit verkwalik:

"Het julle al die vroue laat lewe? Kyk, hulle was deur die raad van Bileam, vir die kinders van Israel 'n oorsaak van troubreuk teenoor die Here" (Num. 31:15-16).

Dit is in moderne tye ook duidelik dat die duiwel deur 'n strategie van kompromie 'n groot slag onder Christene in die Weste geslaan het. Hierdeur het hy selfs meer sukses as met sy strategie van konfrontasie behaal in lande waar Christene vervolg en gemartel is. Geestelike kompromie word in Openbaring 2:14 "die leer van Bileam" genoem, m.a.w. 'n ideologie of lewenswyse. Volgens 2 Petrus 2:15 is dit kenmerkend van die valse leraars van die eindtyd, wat van die weg van die waarheid afvallig geraak het.

Die waarskuwing aan die gemeente in Pergamus om nie vriendskappe en kompromieë met wêreldse instansies te sluit nie, moet in 'n ernstige lig beskou word. Hulle stad was só boos dat die Here dit die woonplek en troon van Satan noem (Op. 2:13). Daar was 'n universiteit met 200 000 boeke, waarin 'n sterk inslag van die Griekse wysbegeerte was. Panteïsme ('n heidense veelgodendom) is verkondig, asook Plato se metafisika wat na geloof in ongedefinieerde bonatuurlike magte, insluitende heksery, gelei het. Hierdeur is die filosofiese grondslag vir die geestelike verduistering van die donker Middeleeue gelê. Daar was ook baie afgodstempels in die stad, onder meer die tempel van Asclepius, 'n heidense god van genesing wat deur 'n slang voorgestel is. Verder was daar afbeeldinge van die vergoddelikte keiser in die stad, waarvoor mense moes neerbuig.

Pergamus was lank tevore, met die val van Babilon, ook die toevlugsoord van die Chaldeërs se priester-koning en sy gevolg. Omdat Babilon 'n belangrike setel van die heidense godsdienste was, is die godsdienstige troon van Satan hierdeur van Babilon af na Pergamus verskuif. Druk vir die skepping van 'n priesterlike hiërargie in die Christelike kerk het na aanleiding van die Babiloniese stelsel van priester-konings plaasgevind. Verder het die Babiloniese godsbegrip van 'n songod en 'n hemelkoningin met haar lieflingseun ook sy invloed op Christelike kringe laat geld en uiteindelik as die vergoddeliking van Maria en die verering van die Madonna en die kind gemanifesteer. Hierdeur het Satan se godsdienstige troon weer van Pergamus af na Rome verskuif. In die komende verdrukking, onder die bewind van die Antichris, sal dit na die herboude Babilon terug verskuif word!

Die Christelike kerk in Pergamus is dus aan die geweldige druk van godsdienstige kompromie blootgestel, en daardeur tot geestelike ontrouheid verlei. Die uiteinde van diegene wat nie met hierdie bose sisteme kompromie wou maak nie, was dikwels 'n martelaarsdood. 'n Voorbeeld van só 'n persoon is Antipas (Op. 2:13). Sy naam beteken Teen alles. In die goddelose samelewing waarin hy geleef het, kon hy as 'n fundamentele Christen nie anders as om teen alles te wees nie! Die Here noem hom sy "getroue getuie".

4. Thiatire: die afvallige kerk

Die hoofsetel van die Babiloniese priesterorde het volgens Alexander Hislop (The two Babylons) van Babilon af via Pergamus na Rome verskuif. In die jaar 606 is Bonniface III as universele biskop gekroon. Hierdeur is die lang tydperk van Rooms-Katolieke oorheersing ingelui, waarin die kerk deur 'n magsbehepte hiërargie van priesters, biskoppe, aartsbiskoppe, kardinale en pouse regeer is. Die gesag van die kerk se leerstellings is verhef tot bokant dié van die Bybel, en die beginsel van onfeilbaarheid is ook ten opsigte van die pous se ex cathedra uitsprake aanvaar (dit is dié wat hy van sy troon af doen). Jesus Christus se middelaarsposisie is deur hierdie hervormings aangetas en selfs uitgeskakel, en later het mense selfs hulle sondes teenoor 'n priester gebieg en ook geld vir die vergifnis van hulle oortredinge aan hom betaal.

As gevolg van die Babiloniese invloede wat langs verskillende weë na die Rooms-Katolieke Kerk oorgedra is, het ernstige teologiese afwykings en kompromie met heidense gebruike plaasgevind. Hieronder is die aanbidding van Maria, wat in werklikheid net die Christelike weergawe van die Babiloniërs se hemelkoningin, Semiramis, is. Maria is in 381 n.C. vergoddelik, en daar word ook beweer dat sy na die hemel opgevaar het.

Hierdie beskouing word nog steeds in die Rooms-Katolieke Kerk gehandhaaf. Die jaar van 17 Julie 1987 tot 15 Augustus 1988 is deur die pous tot 'n spesiale jaar van toewyding aan die Madonna verklaar. Sy word die sondelose Moeder van God, asook die hemelse Moeder van die Kerk genoem. Verskeie verslae is onlangs in Marian Update (1994) oor verskynings van 'Moeder Maria' aan volgelinge van haar in Switzerland, Italië, Kentucky, Arizona en die Oekraine gepubliseer. In dié bonatuurlike verskynings het sy onder meer gesê dat die Roomse Kerk aan die hoof van 'n ekumeniese liggaam van wêreldgodsdienste moet staan:

·       "Ek begeer dat die Katolieke Kerk die katalisator moet wees om alle gelowiges onder een dak te verenig."

·       "Die Koninkryk van Christus, die Koning, sal onder die heerskappy van die Moeder van God gevestig word."

Dit is dus duidelik dat die Middeleeuse misleiding van hierdie kerk nog steeds voortduur, en aan die eindtyd weer sterk na vore tree. Sy en al haar misleides sal in die komende groot verdrukking die gevolge van hulle afvalligheid moet dra (Op. 2:21-22).

Die Thiatire periode in die kerkgeskiedenis het dwarsdeur die Middeleeue tot met die Kerkhervorming voortgeduur.

5. Sardis: die dooie kerk

In die profetiese toepassing van hierdie brief dui die Sardis periode op die kerk van die Hervorming. Dit is oënskynlik 'n weerspreking dat dié kerk as dood beskryf word. Tóg sê die Here: "Ek ken jou werke dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood" (Op. 3:1). Die feit is dat die kerk in hierdie tyd teologies hervorm is deurdat die Roomse dwalinge uitgewys en die genadebegrip weer herstel is, maar dat die uiterlike godsvrug in die algemeen nog ontbreek het.

Die hervormingsbeweging het inderdaad nie na alle vlakke van die kerklike lewe deurgedring nie. Daar het ook nie dinamiese en vinnig groeiende gemeentes ontstaan wat sterk evangeliserend was en na die heidendom rondom hulle uitgereik het nie. Die Here vermaan die Sardis gemeente sterk oor hierdie saak:

"Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie" (Op. 3:2).

Christus stel Homself aan hierdie gemeente voor as die Een wat die sewe Geeste van God het. Dit staan in 'n direkte verband met hulle probleem, want hulle toon nie die ywer vir evangelisasie wat van 'n Geesvervulde gemeente verwag word nie. Hulle begin was wél goed, maar hulle het nog nie die ondervinding van vervulling met die Heilige Gees deelagtig geword nie.

Die geskiedenis bevestig die feit dat die kerk van die Hervorming in die 200 jaar van sy bestaan minder evangelisasiewerk gedoen het as wat gedurende slegs 20 jaar in die daaropvolgende Filadelfia tydperk gedoen is. Dit was die gevolg van starre formalisme sonder die nodige toewyding en oorgawe vir ware dissipelskap. Dit is egter nie 'n algemene beswaar wat tot die kerk van dié tyd gerig word nie, omdat 'n aantal sleutelpersone in die hervormingsbeweging wél bereid was om uit te staan en in die openbaar standpunt vir 'n ware geloof in te neem. Aan hulle word die versekering gegee:

"Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is" (Op. 3:4).

6 Filadelfia: die evangeliserende kerk

Filadelfia beteken broederliefde, en juis dit was die dryfkrag agter die herlewingsdienste en wêreldsendingaksies wat tussen 1750 en 1900 onderneem is. Vervul met die Heilige Gees het manne in die geloof uitgegaan om as pioniers die lig van die evangelie na haas onbekende gebiede in Asië, Afrika, Suid-Amerika en die eilande uit te dra. Met uiters gebrekkige middele en dikwels in lewensgevaar van vyandige inboorlinge, tropiese siektes en selfs wilde diere, het hierdie sendelinge die moeilike uitdaging aanvaar. Groot toewyding is aan die dag gelê om inboorlingtale aan te leer, Bybelvertalings te doen, skole te begin en gesondheidsdienste te lewer met die beperkte fondse en karige middele tot hulle beskikking. Ondanks al die probleme het die werk voortgegaan omdat die Here daarin was. Dit is Hy wat aan sy getroue gesante sê:

"Kyk, Ek het voor jou 'n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie" (Op. 3:8).

Onder die geloofshelde van hierdie tyd, wat die wêreld deur hulle prediking vir Christus aan die brand gesteek het, is manne soos George Whitefield, John Wesley, Charles Finney, R.A. Torrey, D.L. Moody, Jonathan Edwards, Hudson Taylor, William Carey, Andrew Murray en vele ander.

Die Here bemoedig sy diensknegte wat onder moeilike omstandighede werk, om tot die einde toe te volhard en nie moedeloos te word nie: "Kyk, Ek kom gou! Hou vas wat jy het, sodat niemand jou kroon kan neem nie" (Op. 3:11; kyk ook Heb. 11:24-26).

Dit is opvallend dat dit slegs die evangeliserende kerk van Filadelfia en die martelaarskerk van Smirna is wat geen teregwysinge weens afdwalinge van die Here ontvang nie. Die ware kerk van Christus verkry gestalte in getrouheid en selfverloënende diens te midde van die antagonisme en teëstand van 'n vyandige wêreld.

7. Laodicéa: die kerk van menseregte

Die naam Laodicéa beteken Menseregte. Die lou, selfvoldane en selfgesentreerde gemeente van Laodicéa is kenmerkend van die kerk van die 20ste eeu, en as sodanig verteenwoordig dit die laaste periode in die kerkgeskiedenis. Soos in die vorige periodes, is daar nou ook elemente van al sewe die gemeentes aanwesig, maar die oorheersende kenmerk is dié van Laodicéa.

'n Sorgwekkende toestand heers in hierdie gemeente. As gevolg van hulle humanistiese oriëntasie het hulle 'n horisontale ingesteldheid op menseregte, menseverhoudinge en sosio-ekonomiese opheffing. Die mens-God-verhouding ontvang bykans geen klem nie, en teologie is vir hulle net 'n akademiese oefening!

Tevrede met slegs 'n uiterlike gedaante van godsaligheid gaan hulle voort op die weg van vormgodsdiens, en is nie eers bewus van hulle geestelike armoede nie. Ten spyte van al die welvaart en goed georganiseerde aktiwiteite word Christus nie werklik geken of gedien nie. Sy Naam word wél gebruik, maar daar eindig dit ook (vgl. Matt. 7:21-23). Van só 'n stelsel van mensgemaakte godsdiens wat op intellektuele argumente, morele beredenering en uiterlike vertoon ingestel is, onttrek die Here Jesus Homself. Hy sê ook duidelik waarom Hy dit doen:

"Omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug. Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie" (Op. 3:16-17; kyk ook 1 Tim 6:7-12).

Dié voorspoedsteologie is op selfregverdiging en 'n gemaklike aardse lewe ingestel, maar word deur geestelike bankrotskap gekenmerk. Die prediking wat hieruit voortvloei, is slegs daarop gerig om mense se gehoor te streel (2 Tim. 4:3-4).

Die selfvoldane en selfvergenoegde mens erken nie geredelik sy afhanklikheid van God nie en buig nie maklik die knie voor Hom nie. Die kerk as instituut staan in die diens van die mens om die samelewing nóg meer humanisties te hervorm, met die gevolg dat daar in die totale opset net 'n gedaante van godsaligheid oorbly.

Laodicéa beeld die rasionele maar agnostiese mens uit. Hy redeneer alles met sy verstand uit, gevolglik bestaan sy godsdiens net uit uiterlike kennis van die Bybel. Die werklike geloofsaanvaarding van die Here se beloftes oor wedergeboorte en heiligmaking ken hy nie, hoewel hy dit kan beredeneer en selfs 'praatjies' daaroor kan lewer. Hierdie ingesteldheid lei tot 'n naamchristendom en kerke wat hulleself volgens menslike kriteria evalueer en op grond hiervan as baie goed beskou. Dit is egter 'n ernstige vorm van selfmisleiding, omdat hulle nie werklik aan die Here behoort nie. Wanneer hulle wél agterkom dat daar nog iets skort, neem hulle hul toevlug tot kerklike ritusse soos die doop en Nagmaal, asook sielkundige berading en selfs hipnose, om oplossings te soek. Hierdeur dryf hulle ál hoe verder van die Here af weg, omdat daar geen plaasvervanger vir ware geloof is nie (Heb. 10:38).

Die Here Jesus distansieer Homself van hierdie soort oppervlakkige vormgodsdiens. Nogtans maak Hy steeds met die geestelik "arm en blinde" lidmate bemoeienis deur voor die 20ste eeuse kerkdeur (d.m.v. buitekerklike roepstemme) met hulle te praat en hulle tot bekering op te roep:

"Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My" (Op. 3:20).

Behalwe vir sekere kerke en individuele gemeentes wat beslis nie as Laodicees geklassifiseer kan word nie, is die meeste van die leidende kerke besig om kompromie met die wêreld te maak en kliphard politieke, ekonomiese en maatskaplike oplossings vir die mens se probleme te soek. Die teologiese verval en oppervlakkige waardes wat hiermee gepaard gaan, duur voort totdat die Here die ware gelowiges kom haal.

As gevolg van sy selfgesentreerdheid en ingesteldheid op wêreldse kwessies, is die eindtydse kerk geestelik bankrot en profeties uitsigloos. Die wegraping van die bruidsgemeente sal dus vir sy teoloë, leraars en lidmate as 'n geweldige skok kom wat nie sonder 'n diepgaande herwaardering van Bybelse feite verklaar sal kan word nie. Geseënd is hulle wat dit wél doen en hulle saak met die Here regmaak. Die ander sal op die weg van misleiding voortgaan en tot hulle eie ondergang 'n verbond met die Antichris sluit.