3. Weggevoer!

Die volgende toneel van Openbaring speel in die hemel rondom die troon van God af. Die inleidingswoorde Ná hierdie dinge kom dikwels in Openbaring voor (meta tauta in Grieks), en is 'n verdere bevestiging daarvan dat die inligting chronologies aangebied word. Wanneer Johannes in Openbaring 4:1 sê: "Ná hierdie dinge..." dui hy uitdruklik daarmee aan dat wat hy nou gaan beskryf, ná Openbaring 2 en 3 se uitbeelding van die kerk op aarde volg. Ons het dus van hoofstuk 4 af te doen met gebeure wat tans nog toekomstig is, omdat die bedeling van die kerk nog nie afgesluit is nie.

Johannes is in sy gesig na die hemel opgeroep om 'n kykie in die heerlike bestemming van die kerk te kry. Hy het 'n stem soos 'n basuin met hom hoor spreek, wat gesê het: "Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur" (Op. 4:1).

Dit is 'n soortgelyke geklank van die basuin van God wat ware weergebore gelowiges sal hoor wanneer die Here Jesus weldra sal kom om hulle te kom haal:

"Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug" (1 Thess. 4:16-17).

Hierdie wegvoering of wegraping geskied "in 'n oomblik, in 'n oogwink, by die laaste basuin, want die basuin sal weerklink en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word" (1 Kor. 15:52). Die wegraping is die wyse waarop die kerk van sy aardse bestaan af (Op. 2 en 3) na sy verheerlikte posisie rondom die troon (Op. 4 en 5) verander en verplaas word.

Die belofte van ontvlugting uit die rampgebied

Die belofte van die wegraping is van kardinale belang vir die verstaan van Openbaring. Omdat dit as gevolg van teologiese verval so 'n omstrede onderwerp geword het wat meestal totaal verwerp word, moet die saak hier net weer bo verdenking gestel word. Die woord weggevoer in 1 Thessalonicense 4:17 (harpazo in Grieks) beteken om vinnig weggeruk te word. Hierdie woord word ook in die klassieke Griekse literatuur gebruik om die aksie te beskryf wanneer 'n arend sy prooi gryp en vinnig daarmee wegvlieg.

Die bewering deur sommige kritici dat die woord wegraping nie in die Bybel voorkom nie, is dus van alle waarheid ontbloot. Die woord harpazo kan vertaal word as:

·       wegvoer,

·       wegraap, of

·       vinnig wegruk.

In sy internasionaal erkende Studies in the Vocabulary of the Greek New Testament, sê K.S. Wuest die volgende oor dié woord:

"HARPAZO. This is a Greek word which has various meanings. It is not translated by one uniform English word. The meanings are as follows: 'to seize', 'to carry off by force', 'to claim for one's self eagerly', 'to snatch out or away'. It was used proverbially in the sense of 'to rescue from the danger of destruction'. It was used also of 'divine power transferring a person marvellously and swiftly from one place to another'... Pay especial attention to 1 Thessalonians 4:17, and see how much new truth you obtain regarding the Rapture of the Church."

Die volgende is drie ander voorbeelde waar die woord harpazo in die Nuwe Testament gebruik word:

·      "En toe hulle uit die water opklim, het die Gees van die Here Filippus skielik weggevoer, en die hofdienaar het hom nie meer gesien nie" (Hand. 8:39).

·      "Ek weet van 'n man in Christus, veertien jaar gelede – of dit in die liggaam was weet ek nie... dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel" (2 Kor. 12:2).

·      "En (die vrou) het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon" (Op. 12:5).

Laasgenoemde teks verwys na die hemelvaart van Jesus. Hy is dus weggeruk of weggeraap na God en sy troon.

Behalwe die heerlike bestemming waarna die bruidsgemeente d.m.v. die wegraping geneem word, moet hierdie belofte ook aanvaar word in die lig van ons beloofde ontvlugting uit die oordele van die verdrukking. Soos in die geval van Noag en Lot, sal die ware gelowiges uit die rampgebied van God se oordele verwyder word kort voordat die uur van die duisternis aanbreek:

"Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan" (Luk. 21:36).

Om dieselfde rede waarom die woord weggevoer in teologiese kringe omstrede is, is die woord ontvlug ook omstrede. Beide dui op die wegraping. Dit sal goed wees om ook hier die uitspraak van 'n hoogs gesaghebbende Griekse woordeboek aan te haal, naamlik A Greek English Lexicon of the New Testament and Other Early Christian Literature, deur W.F. Arndt en F.W. Gingrich. Hierin word die grondbetekenis van ekfeugo (ontvlug) met die vermelding van verskeie voorbeelde van die gebruik daarvan aangedui. Die woord ekfeugo kan vertaal word as:

·         na veiligheid ontsnap,

·         ontvlug, en

·         vermy of ontwyk.

Lukas 21:36 se betekenis van ekfeugo word spesifiek in dié woordeboek as 'escape tribulations' (ontvlugting uit die verdrukking)  aangedui.

In die Nuwe Afrikaanse Bybel (1983 vertaling) is daar 'n doelbewuste poging deur die vertalers aangewend om as gevolg van hulle eie teologiese siening, waarin daar geen plek vir 'n wegraping is nie, die begrip ontvlug uit die Bybel uit te vertaal. In Lukas 21:36 het hulle dus die grondteks 'aangepas' sodat die kerk nou deur die verdrukking moet gaan. Daar is geen ander gevolgtrekking as dat hierdie teks op 'n berekende wyse volgens antichiliastiese eksegetiese beginsels vertaal is nie.

Die vertalers is egter nie konsekwent nie en kan ook nie dié fout aan onkunde toeskryf nie, want hulle het die woord ekfeugo in Handelinge 16:27 as ontsnap, in Handelinge 19:16 as gevlug, in 1 Thessalonicense 5:3 as ontkom en in Hebreërs 2:3 ook as ontkom vertaal. In Lukas 21:36 word dit egter op 'n totaal teenstrydige wyse as behoue deurkom vertaal. In die eersgenoemde vier gevalle het die woord telkens die betekenis dat mense uit 'n bepaalde plek of probleemsituasie wegkom, maar in Lukas 21:36 moet hulle op 'n fatalistiese wyse maar deur die verdrukking gaan!

Die Here bied egter aan u ontvlugting uit die komende oordele. Die groot verdrukking is beslis 'n tyd van Goddelike toorn. Wanneer die kragte van die hemele geskud word en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom, sal hulle paniekbevange na die berge roep en sê: "Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" (Op. 6:16-17).

As u waak en bid en geestelik waardig is, sal u hierdie oordele ontvlug! "In daardie nag sal twee op een bed lê; die een sal aangeneem en die ander verlaat word. Twee vroue sal saam maal; die een sal aangeneem en die ander verlaat word..." (Luk. 17:34-35).

Die teëhouer

Die Bybel bevestig ook die feit dat die Antichris nie geopenbaar kan word totdat hy wat hom teëhou, uit die weg geruim is nie:

"En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en met die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak" (2 Thess. 2:6-8).

Die openbaring van die Antichris word deur die wegname van die gemeente voorafgegaan. Volgens 1 Johannes 4:1-6 weet ons dat slegs die Geesvervulde kinders van die Here die Antichris kan teëhou. "...hy wat hom teëhou" is dus die ligaam van Christus, wat die gemeente van die weergeborenes is. Dit is in 2 Thessalonicense 2:6-8 ook duidelik dat die Antichris 'n eindtydse diktator is wat ná die bedeling van die kerk op die wêreldtoneel verskyn, en wie se optrede sewe jaar later deur die sigbare koms van Jesus Christus beëindig sal word.

Dit is baie belangrik om te begryp dat die kerk van Jesus Christus 'n teëhouende rol ten opsigte van die verskyning van die Antichris het. Ons mag nooit ophou om die lig van 'n donker wêreld en die sout van 'n bedorwe aarde te wees nie. Ons kan dus nie maar gelate toekyk hoedat antichristelike strukture geskep en goddelose lewenswyses gevestig word nie. Nie net moet mede-Christene hierteen gewaarsku word nie, maar ook die staat, die media, die vermaaklikheidswêreld en enige instansie wat vir antichristelike praktyke verantwoordelik is, moet gewaarsku word: "Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai" (Gal. 6:7).

Geen naasbestaan is tussen die Geesvervulde kinders van die Here en die die Antichris as geopenbaarde wêreldleier moontlik nie. Daar is dus geen sprake van 'n wegraping in die middel van die verdrukking nie, want dit sou beteken dat die liggaam van Christus as die teëhouer van die Antichris nie weggeneem hoef te word voordat hy verskyn nie. Dit is onbybels!

Indien daar 'n wegraping in die middel van die verdrukking sou wees, dan verval die verrassingselement daarvan ook. In dié geval kan ons net vir die verskyning van die Antichris wag en dan 3½ jaar tot met die koms van Christus aftel. Verdere onbybelse ingesteldhede vloei uit só 'n siening voort. Mense met 'n Antichris-verwagting maak voorsiening vir sý koms en maak allerlei planne om in die eerste helfte van die verdrukking te oorleef. Selfs duur projekte soos toevlugsoorde vir Christene word onnodiglik aangepak omdat mense se profetiese perspektief verkeerd is.

Indien ons 'n suiwer Bybelse toekomsverwagting het, dan wag ons vir die Here Jesus wat soos 'n dief in die nag sal kom op 'n uur wanneer niemand dit verwag nie. Voorbereiding vir sý koms is 'n heilige en godvrugtige lewenswandel. In hierdie laat stadium van genadetyd moet siele gered en soos brandhout uit die vuur geruk word, sodat die bruilofsaal vol kan word!

Die ontvlugting in die middel van die verdrukking, wat dikwels met die wegraping verwar word, is wanneer Israel sy verbond met die Antichris sal verbreek en dan inderhaas vir oorlewing na die berge in die woestyn moet vlug (Matt. 24:15-21; Op. 12:13-14).

Dit is opvallend dat daar in Openbaring 2 en 3 dikwels na die gemeente verwys word: "Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeente sê" (Op. 3:22). Daarna verdwyn die gemeente misterieus van die toneel af en tref ons die verheerlikte kerk in Openbaring 5 en 6 in die hemel aan. In die donker dae van die verdrukking word daar geen melding van die bruidsgemeente op aarde gemaak nie – wél van heiliges, maar nie in gemeenteverband nie. Ons lees eers in Openbaring 19:7-8 weer van die bruidsgemeente wanneer sy saam met Christus terugkom aarde toe.

Mense wat agterbly ná die wegraping moet nie dink dat genadetyd verby is nie. Hulle kán nog gered word, maar sal almal as martelare sterf omdat hulle nie die waarborge en seëninge sal geniet wat aan die kerk toegesê is nie (vgl. Matt. 16:18 en Op. 13:7).

Kinders van die Here wat gered én gereed is, het niks om te vrees in verband met die komende oordele van die verdrukking nie. Soos in die dae van Noag en Lot, is ons ook nie vir God se oordele en toorn bestem nie (Joh. 5:24; Rom. 8:1).

'n Uitnodiging na die bruilof van die Lam

Die bestemming van die kinders van die Here is die Vaderhuis met sy baie wonings. In Johannes 14:2-3 sê die Here Jesus:

"In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is."

Hierdie belofte is na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike gemaak. In Israel het 'n jongman met sy toekomstige bruid se vader oor die voorgenome huwelik onderhandel. Nadat toestemming hiervoor verleen is, het hy die volle koopprys vir sy bruid betaal. 'n Huwelikskontrak is dan gesluit, en daarna het die meisie kontraktueel aan haar toekomstige bruidegom behoort.

Hierop het 'n lang tyd van afsondering gevolg, want die bruidegom het na sy vaderhuis vertrek om vir hom en sy bruid woonplek te gaan berei. Wanneer hy hiermee klaar was, gewoonlik ná 'n jaar, het hy sy bruid in die nag kom haal. Sy het naastenby geweet wanneer hy kom, maar nie die presiese uur nie. Wanneer die tyd vir sy koms aangebreek het, het sy hom elke nag buite op die pad ingewag. Die ontmoeting was net tussen die twee geselskappe van die bruid en die bruidegom. Dit was nie 'n openbare geleentheid soos met sy eerste koms toe hy sy bruid kom 'koop' het nie. Hy het haar saam met hom weggeneem sonder dat haar huismense daarvan geweet het. Hulle het die volgende oggend opgemerk dat die bruid weg was, en dan geweet dat die bruidegom in daardie nag gekom en weer saam met haar na sy vaderhuis terug is.

Net so sal Christus se koms vir sy bruidsgemeente ook 'n eksklusiewe ontmoeting slegs tussen hulle wees. Die bruidegom kom onopsigtelik soos 'n dief in die nag wanneer niemand dit verwag nie. Die res van die wêreld sal eers daarvan kennis neem nadat dit gebeur en die bruid reeds na hemelse plekke weggevoer is. Tydens sy eerste koms het Jesus die volle prys vir sy bruid betaal. Sy behoort aan Hom, en tydens sy afwesigheid moet sy 'n rein en heilige lewe onder die leiding van die Heilige Gees lei:

"Of weet julle nie dat julle liggaam 'n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort" (1 Kor. 6:19-20).

Wanneer die Bruidegom haar kom haal, sal die bruid in 'n oogwink 'n nuwe dimensie van lewe betree en weggevoer word na die hemelse woning wat vir haar berei is (1 Kor. 2:9).

Die hemelse gesig

Onmiddellik ná die basuingeklank van Openbaring 4:1 was Johannes in die Gees in die hemel:

"En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een sit op die troon. En Hy wat daarop sit, het in sy voorkoms gelyk soos die steen jaspis en sardius; en rondom die troon was 'n reënboog wat in sy voorkoms gelyk het soos 'n smarag. En rondom die troon was daar 24 trone, en op die trone het ek die 24 ouderlinge sien sit, bekleed met wit klere; en hulle het goue krone op hulle hoofde gehad" (Op. 4:2-4).

Dit wat Johannes aanskou het, was onuitspreeklik mooi. Die naaste wat hy aan 'n beskrywing van die Here se glansryke voorkoms kon kom, was om dit met skitterende edelgesteentes te vergelyk. Hy het soos die glans van die jaspis- en sardiusstene gelyk. In Openbaring 21:11 word gesê dat jaspis 'n kristalhelder steen is, en dié beskrywing dui veel eerder op 'n diamant. Die vlekkelose heiligheid van God word hierdeur uitgebeeld. Sardius het 'n dieprooi skynsel, en dit wys heen na die kosbare bloed van die Lam. Die groen reënboog rondom die troon versinnebeeld die ewige lewe wat daar in Christus Jesus is. Die sirkel is die simbool van oneindigheid, en die groen kleur stel lewe voor.

Die 24 ouderlinge met die krone op hulle hoofde is 'n voorstelling van die verheerlikte kerk van Christus. Hulle identifiseer hulleself bo enige twyfel wanneer hulle in aanbidding voor die Lam neerval en Hom as Verlosser bely:

"U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie" (Op. 5:9).

Hulle is die bloedgewaste kinders van die Here uit alle volke, en het deur die opstanding van die regverdiges hulle verheerlikte liggame ontvang. As lede van die liggaam van Christus sit hulle rondom die troon om saam met Hom die wêreld in die verdrukking te oordeel (1 Kor. 6:2). Die simboliek wat hier gebruik word om die bruidsgemeente van die Here Jesus mee uit te beeld, is baie paslik. Ouderling is 'n Nuwe Testamentiese amp en veronderstel nie alleen iemand wat deur die genadewerk van Christus verlos is nie, maar ook iemand wat die opdrag tot dissipelskap en arbeid in die oeslande van die Here ernstig opgeneem het.

Die getal 24 is ook betekenisvol. In 1 Kronieke 24 het koning Dawid 24 familiehoofde aangewys om die priesterlike dienswerk in die tempel te verrig. Elke groep sou in 'n vaste siklus vir twee weke per jaar aan diens wees. Die 24 families het dus al die priesters ingesluit wat die Here gedien het. In 1 Petrus 2:9 word alle gelowiges in die Nuwe Testament tot 'n heilige priesterdom geroep "om te verkondig die deugde van Hom wat ons uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig."

Die 24 ouderlinge sluit al die 'priesters' van die Here uit elke stam en taal en volk en nasie in. Hulle het goue krone op hul hoofde, en dit is 'n aanduiding van hulle Christelike dienswerk wat deur die Here bekroon is (Op. 22:12). Om met leë hande voor die Here te staan, is soos om jou talente te begrawe en dan op die dag van die wederkoms beskaamd te staan (1 Joh. 2:28). Ouderlingskap is soos dissipelskap, waarin geloof en werke hand aan hand gaan. Dit moet egter nie vleeslike werke wees wat uit die mens se eie vernuf en insig voortspruit nie, maar dit wat onder die inspirasie en leiding van die Heilige Gees gedoen word.

Die lossingsreg

In Openbaring 5:1-5 vind ons die voorspel tot 'n dramatiese bevrydingsproses wat gedurende die sewe jaar van die verdrukking gaan plaasvind. Dit word as die beoefening van die lossingsreg voorgestel waardeur die aarde en sy inwoners deur middel van groot oordele uit die hand van die Berower (Satan) en sy tiranne bevry en op 'n volkome en absolute wyse aan die gesag van sy regmatige eienaar, Jesus Christus, onderwerp gaan word:

"En ek het in die regterhand van Hom wat op die troon sit, 'n boek gesien, van binne en van buite beskrywe en met sewe seëls goed verseël. En ek het 'n sterk engel gesien wat met 'n groot stem uitroep: Wie is waardig om die boek oop te maak en sy seëls te breek? En niemand in die hemel of op die aarde of onder die aarde kon die boek oopmaak of daarin kyk nie. En ek het baie geween, omdat daar niemand waardig bevind is om die boek oop te maak  en te lees of daarin te kyk nie. Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek" (Op. 5:1-5).

In die boek Rut is 'n goeie voorbeeld van die lossingsreg opgeteken. 'n Vergelyking tussen Rut se omstandighede en dié van ons sal veel lig op die toneel in Openbaring 5 werp:

Naomi, haar man en twee seuns het tydens 'n groot droogte en hongersnood van hulle grond naby Betlehem weggetrek om as vreemdelinge in die velde van Moab te vertoef. Op 'n soortgelyke wyse is die stamvader en stammoeder van die ganse mensdom tydens 'n geestelike droogte in die sondeval van hulle regte op hulle erfdeel ontneem, en moet ons vandag nog as vreemdelinge en bywoners in 'n bose wêreld vertoef.

In Naomi en haar gesin se ballingskap is drie van die gesinslede dood en nog een het besluit om in Moab agter te bly. Twee sou egter genade in die oë van die Here vind en na hulle erfdeel terugkeer. By wyse van toepassing kan gesê word dat baie mense in hulle afgedwaalde toestand as sondaars sterf, maar dat daar vir diegene wat met hulle hele hart na God soek, herstel en redding is.

Terug op hulle grond in Betlehem het Naomi en haar skoondogter, Rut, 'n enorme probleem gehad. Die opgehoopte skuldlas op die familie-eiendom was só groot dat hulle dit onmoontlik nie kon afbetaal nie. Hulle sou 'n ryk familielid moes vind wat as losser kon optree sodat die grond behoue kon bly. Hy sou ook vir Rut as vrou moes neem sodat die familie van die oorledene nie sou uitsterf nie, maar voortleef. Só 'n persoon het hulle in Boas gevind. Hy het die lossingsreg beoefen deur die skuld te betaal en ook vir Rut, die Moabitiese, wat onder die vleuels van die God van Israel kom skuil het, as vrou geneem. Rut en Naomi was vol vreugde en diepe dankbaarheid teenoor Boas, want as hy nie tot hulle hulp en redding gekom het nie, sou hulle eiendom in die hande van hulle skuldeisers beland en hulle familienaam ook uitgesterf het.

Ons losser is Jesus Christus. Hy het die skuldlas van ons sonde op Hom geneem en die volle prys daarvoor betaal. Hierdeur het ons mede-erfgename van Hom geword en sal ons ook saam met Hom oor ons erfdeel regeer. Meer nog – Hy het vir ons, wat soos Rut uit 'n heidenwêreld afkomstig is, as sy bruid geneem omdat ons by Hom kom skuil het. Wat 'n vreugde dat ons só 'n naasbestaande kon vind wat Hom oor ons ontferm het, ons skuld vereffen, ons die ewige lewe geskenk en vir altyd onder sy persoonlike beskerming en sorg geneem het.

Die ouderlinge se vreugde het geen perke geken toe hulle besef dat hulle Redder, Jesus Christus, die Losser is wat nie alleen hulle sondeskuld betaal het nie, maar ook die hele aarde van die mag van die Bose gaan bevry. Hierdeur sal hulle weldra die Goddelike gesag van Génesis 1:28 oor hulle erfdeel terugkry en saam met Christus as konings daaroor heers:

"U het ons vir God met u bloed gekoop... en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers" (Op. 5:9-10).

Wanneer dít aan die begin van die duisendjarige vrederyk gebeur, sal die bedeling ná die sondeval waarin "die hele wêreld in die mag van die Bose lê" (1 Joh. 5:19), finaal beëindig wees.

Dit was die gebruik in Israel om die bemaking van eiendom in 'n boekrol op te skryf, en elke keer nadat sekere inskrywings gemaak is, is die betrokke deel verseël. Die testament waarin die erfreg en heerskappy oor die aarde beskryf word, is met sewe seëls verseël. Christus alleen is waardig om die testament se seëls te breek en dit te open. Hy is nie alleen die wettige eienaar van die aarde en sy mense nie, maar het ook al die skuld wat uit Satan se berowing van die menslike beheer oor die eiendom voortgespruit het, betaal.

Wanneer die seëls een vir een gebreek word, word die geweldigste oordele van alle tye oor die aarde uitgestort. Hierdeur sal 'n onverskillige mensdom tot verantwoording geroep word en die mag van Satan en sy trawante stelselmatig afgebreek word totdat daar niks van sal oorbly nie.

Die ouderlinge kyk in afwagting toe vir die breek van die eerste seël...