Die gebeure wat in Openbaring 6 tot 19 beskryf is, speel almal binne die tydsbestek van slegs sewe jaar af. Uit Israel se oogpunt staan hierdie tyd as die sewentigste jaarweek bekend, soos in Daniël 9:24-27 beskryf. 'n Jaarweek is 'n periode van sewe jaar, waarvan die sewende jaar 'n sabbatsjaar is (Lev. 25:3-4). In die Nuwe Testament word dit die verdrukking en die groot verdrukking genoem (Matt. 24:21, 29, Op. 7:14). Dié sewe jaar word in twee helftes van 3½ jaar (42 maande of 1 260 dae) elk verdeel.
Die eerste helfte van die verdrukking sal deur 'n valse vrede, asook deur politieke, maatskaplike, ekonomiese en godsdienstige inisiatiewe vir die vereniging van die mensdom onder die leierskap van die Antichris gekenmerk word. Wanneer sy vredes- en eenheidspogings egter misluk, sal hy hom in die oorblywende 3½ jaar tot die ongeëwenaarde gebruik van geweld wend en sodoende die bloedigste diktatuur skep wat die wêreld nóg geken het. Die honderde miljoene slagoffers wat sy bewind van terreur gaan eis, sal daarvan die grootste menseslagting van alle tye maak.
Die twee helftes van die verdrukking kan van mekaar onderskei word deur daarna as die valse vrede en die groot verdrukking te verwys. Dit is verkieslik om van die hele sewe jaar slegs as die verdrukking te praat, omdat in werklikheid net die laaste 3½ jaar daarvan die groot verdrukking is. In die eerste 3½ jaar sal die mense op aarde geestelik en polities verslaaf en gebreinspoel word, maar in die laaste 3½ jaar fisies verdruk word.
Volgens Openbaring 6:1-8 gaan die Antichris op 'n heel besondere wyse geopenbaar word in sy poging om die mensdom eers deur misleiding en dan deur 'n genadelose diktatuur onder sy absolute beheer te kry. In die eerste stadium van sy bewind sal hy as 'n vredevors op die wêreldtoneel verskyn (die wit perd). Feitlik niemand sal deur sy bedekte bedrog en valse vredesmantel kan sien wie hy werklik is nie. Hy sal sy aanspraak dat hy 'n gesant van God is, op 'n skouspel van bonatuurlike magte en wonderwerke baseer. Alle godsdienste sal hom as gevolg hiervan as hulle gemeenskaplike wêreldmessias aanvaar. Deur slim diplomasie sal hy ook die wêreld polities verenig om die hoof van 'n wêreldregering te word.
Wanneer dit 3½ jaar later blyk dat die Antichris se eenheidshervormings en sosialistiese wêreldregering misluk en rebellie teen sy bewind gestig word, sal hy homself tot geweld wend om sy posisie te handhaaf, en daardeur 'n militêre diktator word (die rooi perd). Streng ekonomiese beheer en rantsoenering sal tydens die oorlogstoestande en hongersnode ingestel word (die swart perd). Hierna bly daar nog net een hoedanigheid vir die Antichris oor, en dit is om as die doodsengel soveel as moontlik mense af te maai en saam met hom na die verderf te sleep (die vaal perd).
In die profetiese rede het Christus dieselfde orde van gebeure beskryf wat in die verdrukking sal plaasvind (Matt. 24:4-9):
· "Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei" (die wit perd).
· "Julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë... Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander" (die rooi perd).
· "En daar sal hongersnode wees en pessiektes" (die swart perd).
· "Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak" (die vaal perd).
Kom ons kyk nou in meer besonderhede wat gaan gebeur wanneer hierdie vier perde op die wêreldtoneel verskyn:
"En ek het gesien toe die Lam een van die seëls oopmaak... en kyk, daar was 'n wit perd. En hy wat daarop sit, het 'n boog; en aan hom is 'n kroon gegee, en hy het uitgegaan as 'n oorwinnaar en om te oorwin" (Op. 6:1-2).
Reg aan die begin van die verdrukking breek die Here Jesus die eerste seël in die hemel, en 'n vredevors op 'n wit perd verskyn skielik op die aarde. Hy het slegs 'n boog in sy hand en versteek doelbewustelik die pyle omdat sy aanvanklike optrede in die teken van vrede en versoening staan. Hy kon nie vroeër reeds verskyn het nie, omdat die teenwoordigheid van die bruidsgemeente van Christus sy openbaring en magsoorname verhoed het. Noudat die Here hulle kom haal het, breek die uur van die duisternis op aarde aan. Dit bied aan die Antichris die geleentheid om na vore te tree en sy septer oor 'n sataniese nuwe wêreldorde te swaai totdat hy sewe jaar later by die wederkoms van Christus verdelg sal word.
Die identiteit van die ruiter op die wit perd was vir baie jare lank 'n hoogs omstrede onderwerp. Uit die konteks is dit egter baie duidelik dat dit niemand anders as die Antichris kan wees nie. Om te verklaar dat dit Christus is net omdat Hy in Openbaring 19 as die ruiter op 'n wit perd voorgestel word, is nie genoegsame gronde vir só 'n bewering nie. 'n Simbool moet baie noukeurig in die verband waarin dit gebruik word, verklaar word. So word 'n leeu bv. in een geval gebruik om na Jesus as die Leeu uit die stam van Juda te verwys (Op. 5:5), en in 'n ander geval weer om die duiwel te beskryf wat soos 'n brullende leeu rondloop om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8).
In die toneel in Openbaring 6 sit die Here Jesus op die troon en maak 'n boek oop wat met sewe seëls verseël is. Hierin is die oordele van God oor 'n sondige wêreld beskryf. Dit is bedoel om die duister werke van Satan tot volle openbaring te laat kom en dan vir hom, sy demone én sy misleide volgelinge te oordeel en hulle mag oor die aarde en sy bewoners totaal te verbreek.
Wanneer die eerste vier seëls gebreek word, hardloop daar vier perde ná mekaar uit om hulle misleidings- en vernietigingswerk op aarde te doen. Dat die gevolge van hulle optrede absoluut skrikwekkend en onvergelyklik in omvang sal wees, is duidelik:
"En aan hulle (dit sluit al vier die ruiters in) is mag gegee oor die vierde deel van die aarde om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde" (Op. 6:8).
Die Antichris se toetrede tot die wêreldtoneel as die ruiter op die wit perd sal in die teken van versoening, eenheid en 'n godsdienstige wêreldbroederskap staan. Hy sal die finale samebindende faktor in die Ekumeniese Beweging en in die Wêreldparlement vir Godsdienste wees. Die valse godsdienste is reeds mislei om te glo dat hulle dieselfde God onder verskillende name aanbid, maar tóg kort daar nog iets meer konkreets om hulle werklik sinvol aan mekaar te verbind. Hierdie vermiste skakel is die universele Messias, wat ook die kosmiese Christus genoem word. Wanneer hy gekom het, sal hy die Christus vir die Christene, die Messias vir die Jode, die Imam Mahdi vir die Moslems, die Maitreya Boeddha vir die Boeddhiste, Krishna vir die Hindoes en die groot Toordokter vir die Sjamaniste en die Afrika-gelowe wees. Al die misleide mense op aarde sal "broers en susters" wees en in 'n mistiese wêreldbroederskap opgaan. Godsdiensgrense sal tot 'n groot mate vervaag om 3½ jaar later totaal te verdwyn.
Die Antichris sal ook sosiale en politieke grense uitwis. Hy sal 'n neo-Babiloniese samelewing van wêreldburgers (planetary citizens) onder die leiding van 'n VN gebaseerde wêreldregering skep. Vir hierdie groot deurbrake sal hy internasionaal aangehang en geprys word. Almal sal dink dat die groot Utopia aangebreek het, en dat die Nuwe Era Beweging se beloofde bedeling van Aquarius, waarin ware broederliefde en eenheid onder alle aardbewoners heers, uiteindelik aangebreek het. 'n Wêreldoorlog is deur die nuwe leier se tussenkoms afgeweer en kosmiese vrede heers oral!
Hierdie valse vrede sal egter met moeite vir 3½ jaar lank in stand gehou word. Dislojaliteit en rebellie teen die Antichris se wêreldryk sal ná 'n tyd begin ontstaan, en 'n skielike einde aan sy utopiese drome en misleidende vredesbeloftes bring.
"En 'n ander perd, 'n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en 'n groot swaard is aan hom gegee" (Op. 6:4).
Leiers wat begin wankel en hulle populêre steun verloor, wend hulle dikwels tot geweld en outokratiese optrede om hulle posisie te probeer beskerm. Die Antichris sal geen uitsondering wees nie. In die middel van die verdrukking sal daar 'n suksesvolle sluipmoordaanslag op hom uitgevoer word. Op 'n wonderbaarlike wyse, deur die bemiddeling van duiwelse magte, sal hy egter uit die dood opstaan en dan as alleenheerser en militêre diktator op die toneel verskyn (Op. 13:3, 14). Van hierdie oomblik af sal hy die wêreld met 'n ystervuis regeer.
Die Antichris sal 'n drastiese ommeswaai van vennootskapsbeheer na alleenbeheer maak. Sy regering van internasionale eenheid sal skielik 'n eenmandiktatuur word. Op godsdienstige gebied sal die alliansie van wêreldgodsdienste afgeskaf word (Op. 17:16) en die dier se status van Messias af na God verhef word (2 Thess. 2:4). Enige versuim om hom as God te aanbid, sal met die dood strafbaar wees (Op. 13:15). Die grofste godslasterlikheid teen die ware God van die hemel en aarde sal hiermee gepaard gaan.
Die Antichris sal homself in die herboude tempel in Jerusalem tot God verklaar en die Allerheiligste ontheilig deur 'n afgodsbeeld van homself deur die valse profeet daarin te laat plaas (Op. 13:14; Dan. 11:31; Matt. 24:15; 2 Thess. 2:4). Die Jode sal hom as gevolg hiervan openlik verwerp. Hy sal dan 'n uitwissingsoorlog teen hulle voer en hulle van die aardbodem af probeer verdelg.
As militêre leier sal die Antichris fenomenale sukses behaal, en sy ondersteuners sal in verwondering uitroep: "Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?" (Op. 13:4). Sy oorwinningstogte sal na alle kontinente uitbrei totdat elke stam en taal en nasie aan sy heerskappy onderwerp is (Op. 13:7).
"En ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd; en hy wat daarop sit, het 'n skaal in sy hand..." (Op. 6:5).
Die noodwendige gevolg van oorloë en die mobilisasie van ekonomies aktiewe mans is die vinnige uitputting van 'n land se geldvoorraad weens militêre uitgawes, die verwoesting van infrastruktuurdienste, ernstige produksieverlies en hongersnood. In 'n poging om hierdie probleme op te los, sal die Antichris streng ekonomiese maatreëls instel, en deur middel van 'n gerekenariseerde kontrolestelsel alle finansiële transaksies op aarde beheer.
Omdat lewensmiddele weens oorlogstoestande, omgewingsbesoedeling, natuurrampe en die oorbenutting van hulpbronne baie skaars sal wees, sal streng rantsoenering en beheer in elk geval onafwendbaar wees. Die Antichris sal egter hierdie geleentheid gebruik om sy posisie te versterk, want slegs sy lojale volgelinge sal politieke en ekonomiese voorregte in sy ryk geniet.
"En ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg" (Op. 6:8).
Omdat die Antichris van die duiwel uitgegaan het sal hy, soos sy vader, ook 'n mensemoordenaar wees. Hy sal homself in die dood van miljoene mense verlustig, en ook niks daarvan dink om God se skeppingswerk op aarde te verwoes nie. Daniël sê van die Antichris: "Op die vleuel van gruwels sal daar 'n verwoester wees" (Dan. 9:27). Dit beteken letterlik: "Onder die vaandel van verderflike afgodediens sal daar een wees wat puinhope maak." Dit is presies wat hierdie hartelose diktator sal doen. Hy sal deur sy voortgesette oorlogvoering menselewens verwoes en gaandeweg die hele aarde in 'n verlate en onbewoonbare puinhoop omskep.
Oor hierdie toneel van verwoesting sal die makabere profiel van die ruiter op die vaal perd opdoem. Die Bybel sê dat hy en sy medewerkers alleen vir die dood van 'n kwart van die aarde se inwoners verantwoordelik sal wees (Op. 6:8). In die huidige wêreldbevolking van 6 miljard mense beteken dit dat dié tiran vir die dood van 1,5 miljard mense sal sorg. Dit is 29 keer meer as Wêreldoorlog II se dodetal van 52 miljoen!
In Openbaring 13:1-2 en 17:9-12 word meer besonderhede oor die identiteit en rol van die Antichris gegee. Hy word as 'n dier met sewe koppe en tien horings voorgestel. Ons word ook gehelp om die simboliek te verklaar:
"Hier kom die verstand wat wysheid het, te pas. Die sewe koppe is sewe berge waar die vrou op sit. En hulle is sewe konings: vyf het geval en een is; en die ander het nog nie gekom nie; en wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly. En die dier wat was en nie is nie, is self ook die agtste, en hy behoort by die sewe en gaan na die verderf" (Op. 17:9-11).
Die eerste gevolgtrekking wat ons hier moet maak, is dat Johannes nie van die sewe berge van Rome praat nie, en dus nie 'n profesie uitgespreek het wat slegs op die Rooms-Katolieke Kerk betrekking het nie. Hy sê dat die sewe berge sewe goddelose konings (of koninkryke) is wat mekaar chronologies opvolg in tyd. Ons weet ook dat hy nie na Romeinse keisers verwys nie, omdat daar tussen Nero en Konstantyn alleen tien antichristelike keisers aan bewind was. Nee, die Here gee vir ons hier 'n breë perspektief op sewe wêreldryke wat almal vestings vir heidense gelowe was (en sal wees) en dus in openlike rebellie teen die koninkryk van God is. In Génesis, Jesaja en Daniël word na hierdie ryke verwys. Hulle is die volgende:
In die aangehaalde gedeelte sê Johannes duidelik dat in sy tyd vyf van hierdie koninkryke reeds geval het, die een was aan bewind en die sewende een moes nog kom. In die jaar 95 n.C. toe die boek Openbaring geskryf is, het vyf van dié ryke inderdaad reeds geval – dit is van die oud-Babiloniese ryk af tot by die Griekse ryk. Die Romeinse ryk was bestaande en die eindtydse ryk van die Antichris nog toekomstig. Die laaste ryk word deur die sewende kop met die tien horings voorgestel.
Dit is belangrik om die korporatiewe karakter en samehorigheid van hierdie sewe wêreldryke raak te sien: dit is een dier met sewe koppe. Hulle adem almal dieselfde gees van verderflike humanisme, selfverheffing, sondigheid, gewelddadigheid, rebellie teen die lewende God, asook betrokkenheid by die okkultiese werke van die duisternis. Hulle is dus almal vestings van valse godsdienste en as sodanig 'n sataniese komplot teen die koninkryk van God en die stad van die groot Koning, Jerusalem.
Die Antichris se eindtydse ryk moet dus as voortvloeiend uit die vorige ses ryke gesien word. Dit is wesenlik deel van dieselfde godsdienstige en politieke rebellie wat al vir duisende jare deur Satan aangeblaas word, en deur hom gebruik word om die koninkryk van God op aarde te probeer vernietig. Sy einddoelwit is om oor God se skepping te heers en in sy plek as God aanbid te word. Onderweg na die bereiking van hierdie ideaal sal alle moontlike vorms van misleiding, omkopery, dwang, onderdrukking en militêre geweld gebruik word wat hy vir sy doel nuttig vind en wat hy kan slaag om te monster.
Die Antichris se aanslag sal deel van die eeue oue stryd tussen die Godsryk en die Satansryk wees. Hy sal die hoof van die sewende én agtste wêreldryke wees (Op. 17: 11). Eers sal hy saam met ander konings aan die hoof van 'n regering van internasionale eenheid staan en daarna, in die tweede helfte van die verdrukking, 'n militêre diktatuur instel waarin hy in 'n driemanregering saam met die draak en die valse profeet oor die aarde sal heers.
Die noue verband tussen die Antichris se eindtydse ryk en die vorige wêreldryke blyk ook uit die feit dat hy as 'n dier met die lyf van 'n luiperd, die pote van 'n beer, die bek van 'n leeu en 'n kop met tien horings daarop voorgestel word (Op. 13:2). Hierdie simboliek stem met dié in Daniël 7 ooreen waarin die Babiloniese ryk as 'n leeu, die Medo-Persiese ryk as 'n beer, die Griekse ryk as 'n luiperd en die Romeinse ryk as 'n wreedaardige dier met tien horings op sy kop voorgestel word. Dit beteken dat kenmerke van al hierdie ryke in die Antichris en sy eindtydse ryk sal herleef – dit sal dus nie net 'n herleefde Romeinse ryk wees nie:
· Die Antichris sal die Babiloniese tradisie van die vergoddeliking van die koning volg. Hy sal homself bo elke god verhef en ook die gesag van die God van die hemel uitdaag. Hy sal 'n beeld van homself laat maak en alle onderdane van sy wêreldryk dwing om in aanbidding voor die beeld neer te buig. Elkeen wat 'n ander god aanbid en sou weier om die koning se beeld te aanbid, sal in 'n vuuroond van vervolging en marteling gewerp word. Hy sal ook, soos Nebukadnésar, Jerusalem beleër, die Joodse regeringsleiers om die lewe bring en die volk verdryf en verstrooi.
· Soos in die Medo-Persiese ryk, sal die dier die volke van die aarde onder sy pote vertrap, hulle regerings afskaf en hulle onderdane by sy ryk inlyf. Hy sal militêre dekrete uitvaardig en deur middel van die onherroeplike wette van die Meders en die Perse regeer. Hy sal ook, soos koning Ahasveros van ouds, 'n Joodse volksmoord in sy hele koninkryk gelas.
· Die Griekse ryk is deur Daniël as 'n luiperd met vier vlerke voorgestel. Hulle het hoogs beweeglike leërs gehad wat deur vernuftige krygskuns gekenmerk is, en vinnig en doeltreffend toegeslaan het. Die Antichris sal ook hoogs mobiele taakmagte op die been bring wat feitlik oornag enige plek in die wêreld ontplooi kan word om opstande te onderdruk en sy beleid af te dwing. In die Griekse ryk was goewerneur Antiochus Epifanes 'n fanatieke Jodehater wat teen hierdie volk oorlog gevoer het. Hy het hulle godsdiens probeer uitwis deur ouers tereg te stel wat hulle kinders laat besny het. Hy het ook 'n afgodsbeeld van Zeus in die tempel opgerig. Sodoende het hy probeer om die Jode godsdienstig afvallig van hulle God te maak en hulle by die Hellenistiese wêreldgodsdiens in te lyf. Al dié eienskappe sal ook kenmerkend van die dier se ryk wees.
· Die Romeinse ryk, voorgestel deur die vierde dier met die tien horings op sy kop, was skrikwekkend. Die Romeine het die Joodse provinsies beleër, dorpe en stede ingeneem en verwoes, en honderde duisende mense om die lewe gebring. Met die beleëring en inname van Jerusalem in 70 n.C. is die tempel totaal verwoes, 1,1 miljoen Jode is dood en bykans 100 000 is krygsgevange geneem, waarvan baie op slawemarkte verkoop is. Die Antichris sal ook hierdie onbeheerste vernietigingsdrang vertoon en alle Jode probeer uitdelg nadat hulle hul verbond met hom as gevolg van sy selfvergoddeliking en die ontheiliging van hulle tempel verbreek het.
Dit is dus duidelik dat die Antichris se ryk nie slegs 'n herlewing van die Romeinse ryk sal wees nie, maar van al die groot wêreldryke. Dit sal veral sterk Babiloniese eienskappe vertoon. Om hierdie rede is dit verkeerd om net na Wes-Europa as die herstelde Romeinse ryk te kyk en te beweer dat die Antichris uit Rome moet kom. Sy oorsprong sal uit 'n land wees wat deel van al hierdie ryke was, naamlik uit die gebied van die koning van die Noorde (Dan. 11:36-45). Dit is noord-noordoos van Israel geleë en was in verskillende tye in die geskiedenis as Babilonië, Assirië en Sirië bekend. Huidiglik is dié gebied as Sirië en Irak bekend, maar die hartland daarvan is in Irak. Dit is ook waar die stad Babilon geleë is, wat nou weer herbou word.
Die boek Daniël is van groot hulp om die land van oorsprong van die Antichris vas te stel:
· Eers word hy as een uit tien voorgestel (Dan. 7:7-8), wat een van tien lande in die ou Romeinse ryk is. Die Siriese provinsie (wat die huidige Irak insluit) was deel van dié ryk.
· Daarna word hy as een uit vier voorgestel, wat die vier provinsies in die verdeelde Griekse ryk is (Dan. 8:8-9). Sirië (wat die huidige Irak ingesluit het) was een van dié vier provinsies.
· Uiteindelik word hy as een uit twee voorgestel, wat die gebiede van die koning van die Noorde en die koning van die Suide in die verdeelde Griekse ryk ná Alexander die Grote was (Dan. 11). Die noordelike provinsie was Sirië en suidelike een Egipte. Die historiese stryd tussen hulle word in Daniël 11:2-35 beskryf, en die eindtydse koning van die Noorde (die Antichris) in Daniël 11:36-45. Hy sal dus uit Sirië of Irak kom.
In Jesaja 10 is ook 'n duidelike profesie oor die herstelde Assiriese ryk van die eindtyd. Dit word binne die konteks van die dag van die Here geplaas (Jes. 10:20), en die Antichris as die koning van Assirië voorgestel:
"Maar as die Here sy werk voltooi het op die berg Sion en in Jerusalem, dan sal Ek besoeking doen oor die vrug van die grootsheid van die hart van Assirië se koning en oor die gepraal van sy hoë oë. Want hy sê: Deur die krag van my hand het ek dit gedoen en deur my wysheid, want ek is verstandig; en die grense van die volke het ek verwyder, en hulle voorrade het ek geplunder; en die wat op trone sit, het ek soos 'n maghebber neergewerp. En my hand het na die rykdom van die volke gegryp soos na 'n voëlnes, en ék het die hele aarde bymekaargeskraap soos 'n mens eiers bymekaarskraap wat verlaat is; en daar was niemand wat 'n vlerk verroer of 'n bek oopgemaak of gepiep het nie" (Jes. 10:12-14).
Die Antichris sal dus sonder enige moeite die grense tussen die volke verwyder ten einde sy beleid van internasionalisering deur te voer, en ook maklik beheer oor die wêreldekonomie verkry. Hiertoe sal hy die volle samewerking van die misleide en insiglose politieke leiers van sy ryk hê:
"En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier" (Op. 17:12-13).
Israel én die hele wêreld sal egter deur die Here se ingryping (by sy wederkoms) van die eindtydse Assiriër en sy wêreldmag se skrikbewind verlos word (Jes. 10:23-25; Miga 5:4-6).
Die Antichris se gedaanteverwisseling in die middel van die verdrukking sal só dramaties en vreesaanjaend wees dat hy die hele mensdom aan die wreedhede en afskuwelike magspel van openlike satanisme sal onderwerp, soos in Openbaring 13 beskryf word. Nadat hy 'n dodelike wond ontvang en weer lewendig geword het, sal die duiwel nie meer as vredevors en engel van die lig deur hom manifesteer nie, maar as 'n magshonger diktator wat vol godslastering, sadisme en moordplanne is.
Hy sal 'n diktatuur instel wat op politieke, godsdienstige én ekonomiese magsbasisse berus. Op elk van hierdie drie terreine sal totalitêre beheer uitgeoefen word met die doel om alle mense tot absolute slawerny te verneder. Hulle sal geen politieke regte, godsdiensvryheid óf ekonomiese selfbeskikkingsreg buite die antichristelike strukture van sy nuwe wêreldorde hê nie. Hiervoor sal die Antichris self sorg:
Politieke mag
In die laaste helfte van die verdrukking, wat die groot verdrukking genoem word, sal die Antichris 'n alleenheerser en militêre diktator wees wat sy gesag op geweld baseer. Geen aardse mag sal teen hom kan standhou nie, want "aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie" (Op. 13:7). Daar sal nie 'n enkele nasie met 'n soewereine regering wees nie, en almal sal volle uitvoering aan die dier se militêre dekrete moet gee. Politieke dislojaliteit sal nie geduld word nie, en maghebbers wat hulle eie beleid volg, sal van hulle trone afgeruk word (Jes. 10:13).
Die Antichris sal 'n moderne Nebukadnésar wees en die wêreldburgers van sy tyd na willekeur hiet en gebied. Die eienskappe van ander bekende miltêre diktators in die geskiedenis, soos Nimrod, Alexander die Grote, Nero, Hitler en Stalin sal op 'n oortreffende wyse in sy optrede weerspieël word. Sy militêre veldtogte sal egter nie slegs op aardse teikens gerig wees nie, want die grootste sametrekking van militêre magte wat die wêreld nóg gesien het sal in Israel teen 'n hemelse leër ontplooi word (Op. 19:19). Dit sal tot die veelbesproke slag van Armagéddon lei (Op. 16:14, 16).
Godsdienstige mag
Wanneer die valse vrede verby is en die 3½ jaar van die groot verdrukking aanbreek, sal dit ook geestelik gesproke die donkerste tyd in die ganse wêreldgeskiedenis wees. Dan sal die sataniese driemanskap van die draak, die Antichris en die valse profeet hulle finale skuif maak om die mag van die Drie-enige God, die Vader, die Seun en die Heilige Gees, op aarde te probeer beëindig en hulle oorblywende volgelinge te verdelg. Die Antichris sal op die posisie van God self aanspraak maak:
"...eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" (2 Thess. 2:3-4).
Daniël het ook teen hierdie eindtydse god-mens gewaarsku wat homself op 'n arrogante wyse sal verhef en vir die misleide mensdom van sy tyd 'n koning én 'n god sal wees:
"En dié koning sal doen net wat hy wil en homself groot hou bo enige god, en teen die God van die gode sal hy wonderbaarlike dinge spreek... En op die gode van sy vaders sal hy nie ag slaan nie... Maar in plaas daarvan sal hy die god van die vestings vereer" (Dan. 11:36-38).
Die Antichris sal homself in die plek van God stel. Dit sal egter duidelik wees dat hy met bedrog besig is, want hy sal nog steeds 'n mag bokant homself erken, naamlik die God van die Vestings, wat Satan is. Dit is Satan wat mense leer om vestings in te neem en hulle politieke en godsdienstige doelstellings deur geweld te bereik.
Openbaring bevestig baie duidelik hierdie godsdienstige magsoorname deur die Antichris:
"En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan. En hulle het die draak (Satan) aanbid wat die dier mag gegee het, en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? ... En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie... in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie" (Op. 13:3-4, 8).
Deur bemiddeling van die valse profeet, wat ook groot tekens en wonders sal doen om mense te mislei, sal die dier 'n beeld van homself in die herboude tempel in Jerusalem laat oprig en almal dwing om hom as God te aanbid:
"En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle 'n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het. En dit is hom gegee om 'n gees aan die dier se beeld te gee, sodat die dier se beeld ook sal praat en maak dat almal gedood word wat die dier se beeld nie aanbid nie" (Op. 13:14-15).
Só 'n absolute vorm van godsdienstige slawerny vereis dat die alliansie van valse wêreldgodsdienste wat in die eerste helfte van die verdrukking onder die universele messiasskap van die Antichris sal funksioneer, ontbind en nietig verklaar moet word. Alleen dán sal alle mense gedwing kan word om die dier as God te aanbid. Volgens Openbaring 17:16 gaan dit inderdaad gebeur.
Ekonomiese mag
Benewens politieke en godsdienstige mag, gaan die wêreld se geldmag ook deur die Antichris gebruik word om die mensdom op alle lewensterreine te beheer en te verslaaf. Deur die instelling van 'n gerekenariseerde, kontantlose ekonomie sal alle ekonomies aktiewe mense se koop- en verkooptransaksies beheer word:
"En hy maak dat aan almal, klein en groot, en die rykes en die armes, en die vrymense en die slawe 'n merk op hulle regterhand en op hulle voorhoofde gegee word; sodat niemand kan koop of verkoop nie, behalwe hy wat die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het. Hier kom die wysheid te pas. Wie die verstand het, laat hom die getal van die dier bereken, want dit is die getal van 'n mens, en sy getal is 666" (Op. 13:16-18).
Dit is uit hierdie gedeelte duidelik dat nommers of kodes aan mense toegeken sal word, waarsonder hulle nie sal kan koop of verkoop nie. Daar sal dus geen kontantgeld meer in omloop wees nie. Die stelsel van elektroniese fondsoorplasing sal ook net toeganklik wees vir mense wat "die merk of die naam van die dier of die getal van sy naam het." Dit beteken dat 'n formele eed van getrouheid aan die Antichris as die god en koning van hierdie wêreld afgelê sal moet word voordat 'n persoonlike identiteitsnommer (PIN) aan 'n aansoeker toegeken sal word. Hierdeur sal hy egter sy siel aan die duiwel verkoop, omdat hy deur die eed wat hy afgelê het, die Antichris se politieke, godsdienstige én ekonomiese status sal erken. Hy sal dus bewustelik aan die dier verbonde wees.
Dit is belangrik om daarvan bewus te wees dat die Bybel in Openbaring 13:16 nie van 'n nommer op die regterhand en op die voorkop praat nie, maar in werklikheid in die regterhand en in die voorkop. Die Griekse woord epi beteken gewoonlik op, maar wanneer dit in kombinasie met die genitiewe vorm van die naamwoord gebruik word, verander die betekenis daarvan na in. Die King James Version se verwysing na 'n nommer in die regterhand en in die voorkop van mense is dus grammaties absoluut korrek.
Die mikro-elektronika het reeds so ver gevorder dat 'n klein prosesseerdertjie op 'n silikonskyfie in 'n glaskapsule onder 'n mens se vel ingespuit kan word. Dit kan jou persoonsnommer, adres, mediese rekord, paspoort en enige ander inligting stoor wat deur 'n skandeerder gelees kan word. Jou bankbalans kan ook voortdurend gedebiteer of gekrediteer word. Hierdeur kan koop- en verkooptransaksies kontantloos gedoen, en op 'n sentrale rekenaarnetwerk gemonitor word. Die persoon se bewegings kan ook maklik vasgestel word na aanleiding van die laaste plek waar hy 'n fondsoorplasing gedoen het.
Hierdie mikroprosesseerdertjies word reeds 'n geruime tyd op die sg. smartkaarte gebruik. Die kaart is slegs 'n plastiekhouer waarop die skyfie gemonteer is. Hierdeur word die gebruik van kontant uitgeskakel, asook die kanse vir die roof en diefstal van geld. Die moontlikheid van kaartbedrog, asook die risiko dat kaarte gesteel kan word of verlore kan raak, bestaan egter nog steeds. Die finale oplossing hiervoor is om met die kaart weg te doen en die skyfie onder die draer se vel in te plant!
Wat die Bybel 1 900 jaar gelede oor die eindtyd geprofeteer het, het die afgelope paar jaar 'n werklikheid begin word: mense gaan deur die gebruikmaking van 'n nommer koop en verkoop!
'n Belangrike opmerking oor elektroniese fondsoorplasing is dat die tegnologie in sigself neutraal is. Dit het nie 'n inherente morele kwaliteit nie, dus kan rekenaarstelsels nie as "die dinge van die Antichris" beskou word, soos soms beweer word nie. Die groot bedreiging gaan egter in die tweede helfte van die verdrukking ontstaan, wanneer die Antichris dié stelsel internasionaal gaan afdwing ten einde mense volkome te kan beheer en verslaaf. Dan sal dit totaal onmoontlik wees om daarvan gebruik te maak sonder om polities, godsdienstig én ekonomies aan die Antichris dienstig te wees. Die nommer 666 dui op die sataniese driemanskap van die draak, die dier en die valse profeet. Die getal 6 stel menslike onvolmaaktheid voor omdat dit kortskiet van die volmaakte getal 7. Die onvolmaakte, of menslike, word dus hierdeur uitgedruk. Ses stel ook hoogmoed en selfverheffing voor omdat dit een meer is as 5, wat die Bybelse getal vir genade is (in die betoning van sy genade het Jesus vyf wonde aan die kruis opgedoen).
Die bewering wat sommige teoloë maak dat daar nooit enige gevaar in 'n kontantlose ekonomiese stelsel sal wees nie, en dat die nommer of die merk van die Antichris nie letterlik opgeneem moet word nie, is deel van Satan se propagandaveldtog om mense nou reeds op die aanvaarding van sy nommerstelsel voor te berei. 'n Ekonomiese stelsel vir die beheer van koop- en verkooptransaksies is geen simboliese uitspraak oor een of ander abstrakte saak nie, maar 'n letterlike stelling oor 'n alledaagse menslike handeling.
Indien u waardig is om die komende verdrukking te ontvlug, sal die Antichris se nommer nooit op u afgedwing kan word nie. Indien u onder dié sal wees wat agterbly, en in daardie tyd u saak met die Here regmaak, sal u die Antichris, sy regeringstelsel, sy valse wêreldgodsdiens, sy eis van persoonlike aanbidding én die aanbod van sy nommerstelsel, volkome moet verwerp ongeag die haglike onmiddellike gevolge wat dit vir u sal inhou.
Vir diegene wat 'n eed van getrouheid aan die Antichris aflê, sy nommer aanvaar en hom aanbid, sal dit vir ewig nag word:
"As iemand die dier en sy beeld aanbid en 'n merk op sy voorhoof of op sy hand ontvang, sal hy self ook drink van die wyn van die grimmigheid van God wat ongemeng ingeskink is in die beker van sy toorn, en hy sal gepynig word met vuur en swawel voor die heilige engele en voor die Lam. En die rook van hulle pyniging gaan op tot in alle ewigheid, en hulle het dag en nag geen rus nie – hulle wat die dier en sy beeld aanbid, en elkeen wat die merk van sy naam ontvang" (Op. 14:9-11).
Aan die ander kant is daar die oorwinnaars oor hierdie sataniese komplot, wat nie die knie voor Baäl gebuig het nie:
"En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God" (Op. 15:2).
Paulus noem 'n aantal sleutelaspekte van die Antichris se korrupte en immorele karakter:
"Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word... Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word... hy wie se koms is volgens die werking van Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan" (2 Thess. 2:3-4, 8-10).
Uit hierdie en ander gedeeltes is 'n aantal sake baie duidelik:
· Eers tree daar 'n tyd van grootskaalse afvalligheid op aarde in, waarin 'n gunstige klimaat vir die openbaring van die mens van sonde geskep word. Die woord afval (Grieks apostasia) dui in hierdie verband op 'n algemene rebellie teen God en sy koninkryk op aarde. Die Bybel, die Christelike geloof en Christelike onderwys, asook God se wette en morele waardes, sal wêreldwyd verwerp word. Paulus bevestig in 1 Timotheus 4:1 dat verleidende geeste en leringe van duiwels vir hierdie afvalligheid verantwoordelik sal wees.
· Hierna word die teëhouer (die ware kerk van Christus) uit die weg geruim, en totale geestelike duisternis tree daarna in.
· Dan word die ongeregtige (die Antichris) geopenbaar. Die woord ongeregtige beteken die anargis of die een wat sonder enige wette is.
· Hy sal met lis en deur politieke bedrog 'n leierskapsposisie verkry, en daarvandaan d.m.v. slim diplomasie vinnige opgang na sy mikpunt van wêreldleierskap maak (vgl. Dan. 9:27).
· "Hy sal probeer om tye en wet te verander" (Dan. 7:25). Hy sal alle tradisies en wette verbreek en verander. Moontlik sal hy huwelike afskaf en selfs die dae van die week verander.
· Hy sal God se orde van selfbeskikkende nasies afskaf deur die grense tussen hulle te verwyder en 'n Babiloniese samelewing van wêreldburgers te skep (Jes. 10:13; Op. 13:3).
· Hy is die mens van sonde. Dit beteken iemand wat alle wette oortree – in die eerste plek God se wette en verordeninge, maar ook alle mensgemaakte wette.
· Hy is ook die seun van die verderf. Hierdeur word sy verderflike en besoedelde karakter beskryf wat deur sadisme, leuens, skelmstreke en rebellie gekenmerk sal word.
· Die teëstander. Hy is God se teëstander wat in sy plek aanbid wil word; daarom kom hy ook as die Antichris om in Christus se plek as Messias aanvaar te word.
· Hy is 'n selfverklaarde God. Nadat hy 3½ jaar lank as valse wêreldmessias vereer is, sal hy tot die uiterste daad van rebellie teenoor God oorgaan deur homself tot God te verklaar.
· Hoogmoed en selfverheffing sal die aanleidende gesindheid tot sy selfvergoddeliking wees.
· Hy sal 'n lasteraar van die ware God en van die heiliges wees (Op. 13:5-6; Dan. 7:25). Hoewel hy vir 3½ jaar met sy subtiele bedrog deur die Jode as Messias aanvaar sal word, sal hy in sy hart die grootse Jodehater van alle tye wees. Anti-Semitisme sal in die die laaste 3½ jaar wêreldwyd aangeblaas word.
· Hy sal by uitstek 'n beoefenaar van sataniese magte wees. Hy sal kragtige tekens en wonders deur middel van sy okkultiese magte doen, en daardeur mense mislei. Hoewel hy in werklikheid 'n towenaar sal wees, sal hy die reputasie verwerf as die mees gesalfde beoefenaar van Goddelike magte op aarde.
· As 'n professionele misleier wat deur Satan (die engel van die lig) vir hierdie taak toegerus is, sal hy met geluk bedrog pleeg. "Dié wat goddeloos handel teen die verbond sal hy met vleiery afvallig maak" (Dan. 11:32).
· Hy sal omkoopgeskenke aan sy vriende en gunsgenote gee om hulle lojaliteit te verseker. Hulle wat hom aanvaar en met sy duistere komplotte saamwerk, sal hoë poste en grond kry: "Diegene wat hy erken, sal hy baie eer en hulle oor baie laat heers en grond as beloning uitdeel" (Dan. 11:39).
· Ten diepste sal hy 'n geweldenaar en mensemoordenaar wees, wat by tye totaal deur woedebuie oorheers sal word as daar enige opposisie teen sy wêreldregering ontstaan: "Gerugte uit die ooste en uit die noorde sal hom verskrik; daarom sal hy met groot woede uittrek om baie mense te verdelg en met die banvloek te tref" (Dan. 11:44).
· Hy sal 'n psigopaat met 'n gesplete persoonlikheid wees – inderdaad 'n man met baie gesigte, soos wat hy ook 'n dier met baie koppe is. Soms sal hy as verleier en misleier so vriendelik en sjarmant wees dat niemand enigiets slegs in hom sal kan sien nie. Dan sal die donker kant van sy karakter weer die oorhand kry en hom ongelooflike wreedhede laat pleeg. In die eerste helte van die verdrukking sal die onskuldige (engel van die lig) gedeelte van sy persoonlikheid dominant wees, en in die tweede helfte die donker, woeste deel daarvan. Weens sy normloosheid sal hy totaal onvoorspelbaar wees.
As gevolg van die invloed van die Antichris as 'n geweldenaar en die mens van sonde, sal 'n geweldskultuur en 'n hoogs permissiewe sondekultuur oor die hele wêreld uitbrei:
"Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God" (2 Tim. 3:1-4).
Dit is 'n geslag mense met hierdie karaktertrekke wat niks van die Here en sy geregtigheid wil weet nie, wat die Antichris met ope arms sal aanvaar wanneer hy ná die wegraping geopenbaar word. Hulle is vol selfverheffing en selfliefde, maar het geen natuurlike liefde nie. Die natuurlike liefde tussen man en vrou maak plek vir perverse homoseksuele en lesbiese verhoudings. Die natuurlike liefde tussen ouers en kinders verdwyn ook, daarom raak die kinders opstandig en ongehoorsaam. Van die ouers se kant af word kinders dikwels mishandel, verwaarloos, misbruik en gemolesteer.
Gewelddadigheid is ook 'n kenmerk van die eindtydse samelewing wat deur misleiding vir die heerskappy van die Antichris voorberei word. Uiteindelik sal mense só 'n behae in geweld en bloedvergieting skep dat hulle bloot vir die vermaaklikheid daarvan die openbare teregstellings van oortreders sal bywoon. Die groot geweldskomponent van TV dramas verraai die kykers se voorkeure in hierdie verband reeds tot 'n groot mate.
Die dae van Noag en Lot het ongetwyfeld weer aangebreek!
Die denkwyse wat onderliggend aan die Antichris se wêreldryk is, is monisme, wat beteken: alles is een. Hierdie eenheidsideaal het twee perspektiewe:
'n Verenigde wêreld
Eerstens moet 'n verenigde wêreld geskep word deurdat op alle lewensterreine brûe gebou en grense uitgewis word. Sosiale eenheid moet geskep word met die oog op die totstandkoming van 'n geïntegreerde groep van wêreldburgers wat nie-seksisties, nie-rassig, multi-godsdienstig en multi-kultureel is. Polities moet daar ook 'n internasionaliseringsproses plaasvind wat na die vestiging van 'n wêreldregering sal lei. Die Ekumeniese Beweging moet hom vir die bereiking van godsdienseenheid in die wêreld beywer, terwyl ekonomiese eenheid ook nagestreef moet word. Hierdie boustene van die nuwe wêreldorde word as noodsaaklik vir die bereiking van harmonie en vrede beskou, asook vir die realisering van die lank verwagte Utopia op aarde. Die Antichris het 'n eenheidsideologie en hervorminge van hierdie aard nodig om as 'n vredevors, politieke wêreldleier, wêreldmessias en die hoof van 'n wêreldekonomie op die toneel te verskyn. Hoe meer nasionalistiese en godsdienstige verdeeldhede daar nog is, hoe geringer is sy kans om 'n internasionale bestel onder sy leiding te vestig. Die Nuwe Era Beweging, die Nuwe Wêreldorde en die Ekumeniese Beweging is egter kliphard besig om 'n denkklimaat van globalisme en internasionale aanvaarbaarheid vir hom te skep.
Kosmiese eenheid
Die tweede perspektief van monisme is dié van kosmiese eenheid. Daar moet met die geesteswêreld in die kosmos kontak gemaak en van kosmiese energie vir die verdere ontwikkeling van die mens na hoër vlakke van goddelikheid gebruik gemaak word. Mense moet geleer word om met geestelike gidse en meesters van wysheid in die kosmiese sfere in verbinding te tree, sodat die hoër wesens elke persoon kan help om sy eie potensiaal te ontwikkel en op die evolusieleer na die vlak van homo universalis (die universele mens), ook genoem homo novus (die nuwe mens), te vorder. Die hele menslike familie moet ook kollektief gehelp word om die oorgang na die bedeling van Aquarius te maak. Benewens spiritisme en ander tegnieke, word meditasie as een van die belangrikste metodes gepropageer om 'n alternatiewe bewussynstoestand te ontwikkel en buitesintuiglik met die kosmiese wêreld een te word.
Dit is duidelik dat 'n Christelike lewens- en wêreldbeskouing lynreg met die Antichris se monistiese filosofie in botsing is. Die Bybel leer ons nie monisme nie, maar dualisme – alles is twee. Daar is twee groot en onverenigbare werklikhede waarvoor die Christen te staan kom, nl. die koninkryk van God en die koninkryk van die Satan. Hulle is totaal gepolariseerd en onversoenbaar:
|
Koninkryk van God |
Koninkryk van Satan |
|
Lig |
Duisternis |
|
Hemel |
Hel |
|
Waarheid |
Leuen |
|
Ware godsdiens |
Valse godsdienste |
|
Smal weg |
Breë weg |
|
God |
Mammon |
Die denkwyses, of geestelike en ideologiese oriëntasie, van hierdie twee koninkryke kan só van mekaar onderskei word:
|
Ryk van die Antichris |
Ryk van Christus |
|
Sintetiese (integrerende) denke waarin verskille geïgnoreer en alle dinge in 'n groter geheel saamgevoeg word. |
Antitetiese (teenstellende) denke waarin onderskeidingsvermoë beoefen moet word om teenoorgesteldes te bepaal. |
|
Konvergensie of samevloeiing totdat alle dinge in die wêreld verenig is. |
Divergensie of uiteenloping na 'n punt van ewige skeiding tussen lig en duisternis. |
|
Kosmiese eenheid waarin die grens na die bonatuurlike kosmiese wêreld vir groter kragte en 'n nuwe selfontdekking oorgesteek moet word. |
Die kosmiese sfeer van demone is verbode terrein. Geen eksperimentering met okkultiese magte en buitesintuiglike waarneming is toelaatbaar nie. |
|
Panteïsme – God is in alles aanwesig, ook in die diere en die natuur. Alle mense is inherent gode. Hulle moet net die god binne-in hulle ontdek en ontwikkel. |
Monoteïsme – God is bokant die mens en sy skeppingswerke verhewe. Hy werk in die mens maar moet nogtans deur die mens genader word in gebed. |
|
Die mens is deel van die natuurlike skepping en moet in 'n evolusieproses na hoër lewensvorme ontwikkel. |
Die mens is 'n unieke skepping van God. Hy staan teenoor die natuurlike skepping en moet dit onderwerp en daaroor heers. |
|
Die mens veredel homself in verskeie lewensiklusse. Hy kom deur reïnkarnasie dus meermale terug aarde toe. |
Die mens het net een lewensiklus. Dit is vir hom bestem om een maal te sterwe, en daarna kom die oordeel. |
|
Die eenheid van die menslike familie moet ook godsdienstig manifesteer. Alle gelowe moet aanvaar dat hulle dieselfde God aanbid. Die een geloof moet dus nie as beter as die ander beskou word nie. |
Die mensdom moet besef dat hy in twee kampe verdeel is, nl. die familie van valse godsdienste en die enigste ware godsdiens. Diegene wat in die duisternis is, word genooi om oor te kom na die lig. |
|
Omdat alle gelowe ten diepste dieselfde oorsprong het, wag hulle ook vir dieselfde kosmiese Messias wat hulle sigbaar sal verenig ná sy koms. Vat dus almal hande! |
Omdat daar godsdienstig twee opponerende ryke is, gaan elkeen 'n Messias na die aarde stuur – die ware Christus en die Antichris. 'n Keuse moet gemaak word. |
|
Die mens is inherent goed. Daar is ook niks slegs in die kosmos nie, en daar is nie 'n duiwel of 'n hel nie. |
Die mens is innerlik bedorwe weens die sondeval. As hy nie weergebore word nie, is sy bestemming die hel. |
|
Deur 'n selfinkering, oopstelling en 'n meditatiewe afdaling na jou dieper self kan jy met die Christus in jou kontak maak en sy vrede ervaar. |
In gebed kan met Jesus Christus kontak gemaak word by sy genadetroon, en kan sy vrede van sondevergifnis ervaar word, wat alle verstand te bowe gaan. |
|
Transendentale Meditasie moet as model vir alle vorms van meditasie gebruik word. |
Gebed is onvervangbaar. Daar is nie so iets soos Christelike meditasie nie. |
|
Wanneer groot groepe mense saam mediteer, kan die mensdom se omstandighede positief deur 'n invloei van kosmiese energie verander word. |
Wanneer Christene kragte saamsnoer en saambid oor 'n saak, werk die Heilige Gees kragtig om mense van sonde te oortuig en hulle siele te red. |
|
Versoening tussen mense, ideologieë en gelowe geskied deur die uitwissing van grense, kompromie, eenwording en samegroeiing. Die verskillende partye moet nie hulle eie norme en groepsbelange verabsoluteer en handhaaf nie. |
Versoening tussen mens en God geskied by die kruis op grond van die soenverdienste van Jesus. Versoening tussen mense geskied op grond van samewerking, ooreenkomste en die sinvolle instandhouding van grense. |
Oor die uiteinde van hierdie aartsmisleier en geweldenaar is die Bybel baie duidelik. Paulus sê dat die Here Jesus die Antichris "met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak" (2 Thess. 2:8). Johannes sonder dit ook uit as een van die belangrikste gebeure op die dag van Christus se wederkoms:
"En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees" (Op. 19:20-21).
Daniël sê hierdie magtige koning wat 'n skrikbewind op aarde gevoer het, "sal aan sy einde kom, en daar sal vir hom geen helper wees nie" (Dan. 11:45).
Hoewel die Antichris die hele wêreld se verbeelding sal aangryp, skouspelagtige dinge sal doen en mense deur sy ekonomiese beheer voor 'n keuse van óf 'n versekerde inkomste óf werkloosheid, hongersnood en 'n marteldood sal stel, sal sy heerskappy van korte duur wees. Hy sal presies sewe jaar aan bewind wees voordat hy deur die Here Jesus verdelg en in die hel gewerp sal word. Die mense wat sy nommer ontvang het, sal vir die tydelike 'voordele' wat hulle geniet het vir ewig sy aaklige lot in die hel met hom deel.
Moet dit nie vir 'n oomblik oorweeg om jou wedergeboortereg vir die kortstondige voordeel van ekonomiese oorlewing te verkoop indien jy daardie tyd op aarde is nie. Weerstaan die Antichris en verwerp al sy misleidingspogings, al kos dit ook jou lewe!