'n Verwikkeling wat regstreeks met die komende verdrukking in verband staan, is die herbouing van die eens roemryke wêreldstad, Babilon, aan die oewers van die Eufraatrivier. As bakermat van die antieke wêreld se heidense godsdiens, moet hierdie stad in die eindtyd weer as die setel van 'n valse wêreldgodsdiens verrys. Dit is reeds besig om te gebeur. Babilon word sedert 1978 al deur Irak herbou, en in September en Oktober 1987 is die eerste fase van die herboude stad feestelik ingewy. Dit sluit die beroemde troonsaal van Bélsasar en die pilaargang van Isjtar in, asook hotelle en toeristegeriewe in die nuwe deel van die stad.
Om die huidige gebeure in Babilon reg te verstaan, moet dit in die lig van die stad se oorsprong en lang tradisie van rebellie teen God beskou word. Volgens Génesis 10:8-10 het Nimrod vir homself 'n koninkryk in Babel gevestig. Dit was nie alleen 'n politieke ryk nie, maar het ook 'n sterk heidense godsdienstige inslag gehad. As 'n geweldenaar en kampvegter vir die mens het Nimrod homself in opposisie teen God gestel. Hy het nie net 'n koning vir die mens geword nie, maar ook 'n god.
As die bouer van versterkte stede in die land Sinear (dit is Babilonië) is Nimrod as die God van Vestings vereer. Hy is ook Bevryder en Kroondraer genoem, en selfs as die verpersoonliking van die songod gesien wat as die gewer van lig en lewe beskou is. Ná hom het alle Babiloniese en Assiriese konings hulleself vergoddelik. In ander wêreldryke, veral in die Romeinse ryk, is hierdie tradisie ook nagevolg. Dit is een van die baie heidense tradisies uit Babilon wat weer in die groot verdrukking sal herleef.
Babilon was sedert sy vroegste bestaan die middelpunt en simbool van 'n God-verwerpende wêreldmag wat 'n alternatiewe, sataniese koninkryk aan die gevalle mensdom gebied het. Vir sy geestelike ankers het die stad na die kosmiese godewêreld uitgereik. Dit word ook deur die naam Babilon weerspieël, wat Poort na die gode beteken. (Ná die taalverwarring is Babilon ook met die begrip verwarring geassosieer).
Die poort na die gode was 'n tempeltoring (ziggurat) waarin die priester opgeklim het om met die gode kontak te maak. Dit was 'n tempel met 'n traptoring bo-op. Deur middel van die spiraaltrap rondom die toring kon die bo-punt daarvan bereik word. Dit is deur die priesters gebruik as 'n plek waar hulle gemediteer en een met die kosmiese wêreld geword het. Waarnemings met die oog op sterrewiggelary is ook van daardie uitkykpunte af gedoen.
Die groot toring van Babel was deel van 'n gebouekompleks wat as die tempel van Mardoek bekend gestaan het. Dit het uit agt traptorings bestaan wat bo-op mekaar gebou is. Heel bo was 'n kleiner tempel met luukse rusbanke en 'n goue tafel in. Mardoek was die stadsgod van Babel, en het as hoofgod in die Babiloniese panteon die titel Heer van die hemel en aarde gekry. Die woord Heer is Bel in Chaldeeus, daarom word Mardoek ook Bel [in ander tale Baäl] genoem (Jer. 50:2; Jes 46:1). Die benaming toring van Bel het sy oorsprong van hierdie naam.
Die benaming Baäl met sy algemene betekenis van Heer, Beskermgod of Besitter is as generiese term vir verskeie heidense gode gebruik en verder deur 'n ander naam gekwalifiseer, bv. Baäl-Peor (die god van die berg Peor), ens. Mardoek was dus die Baäl van Babilon. Naas hom was die belangrikste godin Isjtar (of Astarte, Astoret en Astarot in ander Midde-Oosterse tale). In sy meervoudsvorm verwys dié term bloot na die godinne van die heidense nasies. Daar word dikwels in die Bybel na die Baäls en Astartes van die heidene verwys (vgl. Rigters 2:13-14 en 10:6).
Isjtar het 'n baie belangrike plek in die Babiloniese en Assiriese godedom beklee. Tempels en opelug-aanbiddingsplekke is oral in die stede en groot dorpe vir haar opgerig. Sy is die hemelkoningin genoem (Jer. 7:18; 44:19), en is die dogter van die maangod, Sin. Haar simbool is die sekelmaan, asook die môrester (of oorlogster) en die aandster (die ster van liefdesdrif). As die moedergodin het sy droefheid en meegevoel oor die lyding van haar aardse kinders betoon, asook oor die ontberinge wat deur siektes en natuurrampe veroorsaak is. Genesingsrituele is ook in haar naam uitgevoer.
Verder was sy die vrugbaarheids- en liefdesgodin. Onbeteuelde wellus was só 'n sterk kenmerk van haar dat haar tempels en plekke van eerbetoon sentrums vir sedelose en immorele dade geword het. Vroue het in die diens van Isjtar hulle eerbaarheid prysgegee en tempelprostitute geword. Hulle het dit egter as 'n vorm van 'heilige toewyding' aan Isjtar gesien, en nie as gevolg daarvan hulle aansien in die samelewing verloor nie.
Isjtar was in Assirië ook as die oorlogsgodin bekend. Sy was só vreesaanjaend dat die ander volke gebewe het wanneer die oorlogsugtige Assiriërs haar lofliedere gesing het.
In die herboude gedeelte van Babilon is die poort en pilaargang van Isjtar reeds herstel. Mense beweeg daardeur onderweg na die koninklike troonsaal. Indien Isjtar se kultus in Babilon sou herleef, lê daar 'n tydperk van toenemende afgodediens, sedeloosheid en oorlogsrumoer vir dié wêrelddeel voor.
Dit word verder van Isjtar vertel dat sy haar minnaar, die lentegod Tammus, doodgemaak het. Sy het later hieroor skuldig gevoel en na die Babiloniese onderwêreld afgedaal waar sy hom gekry en laat herleef het. Hy is dus die simbool van sterwe en opstanding in 'n nuwe lewe. 'n Kruisteken wat die T van Tammus voorstel, is algemeen in die heidenwêreld as simbool en dekorasie op kledingstukke en aan geboue aangebring. In die Babiloniese mitologie word Tammus soms as die seun van Semiramis uitgebeeld, en sy was self die verpersoonliking van die hemelkoningin. Die godsdienstige idee van die Madonna en die kind is dus Babilonies in oorsprong. Dit was trouens die hele idee met die vergoddeliking van Maria in 381 n.C., sodat daar 'n 'Christelike' hemelkoningin met haar kind kon wees.
'n Ander belangrike god in die Babiloniese panteon is Shamash, die songod. Hy haat duisternis en boosheid en word as die gewer van goeie wette beskou. Hy was ook die hoof van die Babiloniese waarsêers. Die songodaanbidding het na baie ander lande en beskawings versprei, en word vandag nog aangetref. Die simbool van die songod is baie algemeen in die Mormoonse Kerk, terwyl daar in die Roomse Kerk na die pous as die son verwys word.
Profesieë oor die val van Babilon is só duidelik en absoluut dat daar geen tydperk in die vroeëre of latere Babiloniese en Assiriese geskiedenis aangetoon kan word toe dit ten volle vervul is nie. Vergelyk die volgende uitsprake:
"So sal dan Babel, die sieraad van die koninkryke, die trotse pronkstuk van die Chaldeërs, wees soos toe God Sodom en Gomorra omgekeer het, en dit sal van geslag tot geslag nie bewoon word nie; en die Arabier sal daar geen tent opslaan nie, en geen herders sal hulle vee daar laat lê en rus nie" (Jes. 13:19-20).
Jeremia sê oor die verwoesting van Babilon:
"En hulle sal uit jou geen klip neem vir 'n hoek of 'n klip vir fondamente nie; want jy sal ewige wildernisse wees, spreek die Here" (Jer. 51:26).
Dr. J.A. Seiss het in sy Lectures on the Apocalypse in 1865 reeds gesê dat die letterlike stad Babilon herbou sal moet word sodat die Here dit soos Sodom en Gomorra totaal kan vernietig om van geslag tot geslag nooit weer bewoon te word nie. Hierdie vernietiging is 'n eindtydse gebeurtenis wat volgens Jesaja 13:6 in "die dag van die Here" sal plaasvind en met die slag van Armagéddon aan die einde van die groot verdrukking sal saamval.
Clarence Larkin het in sy boek Dispensational Truth in 1918 aangetoon dat Babilon nog nooit heeltemal vernietig en onbewoon was nie. Jeremia (51:26) se profesie dat daar ná die finale vernietiging geen boustene van Babel se ruïnes gebruik sal word nie, moet nog vervul word. Inderwaardheid is talle dorpe en stede reeds met boustene uit die puinhope van Babel opgerig, insluitende vier hoofstede. Voordat die huidige herbouing van Babilon in 1978 begin het, is daar ook deur mense in die omgewing aansienlike hoeveelhede bakstene vir bouwerk van dié terrein af verwyder. Verder is daar die feit dat van die ou fondamente weer herbou word, en dit dui ook daarop dat Babilon se finale vernietiging nog toekomstig is.
In Openbaring 17 en 18 onderskeidelik, praat Johannes van twee Babilons wat in die eindtyd na prominensie sal verrys. Die een is mistieke Babilon wat 'n ekumeniese liggaam van valse godsdienste is, en die ander 'n handelstad wat ook 'n belangrike sentrum vir ydele vermaak en boosheid sal wees. Beide hierdie hoofstukke is op die veronderstelling van 'n herboude Babilon gebaseer.
Die een Babilon word genoem "Verborgenheid, die groot Babilon, die moeder van die hoere en van die gruwels van die aarde" (Op. 17:5). Omdat Babilon as stad die versinnebeelding, tuiste en oorsprong van die belangrikste heidense godsdienste is, word die eindtydse, valse alliansie van wêreldgodsdienste met hulle sterk Oosterse mistiese inslag op 'n baie gepaste wyse as mistieke Babilon beskryf. Die volgende is die belangrikste verskille tussen die Babiloniese godsdienste en die enigste ware godsdiens.
|
Babiloniese godsdienste |
Die enigste ware godsdiens |
|
Die moeder van die hoere, m.a.w. 'n ekumeniese liggaam vir alle gelowe wat geestelik van die ware God afvallig is (Op. 17:5; Jak. 4:4). |
Die vrou van die Lam, wat 'n kleed van heiligheid dra en nie in een juk met ander gelowe trek nie (2 Kor. 6: 14-18; Op. 19:7-8). |
|
'n Inklusiewe beweging waarin alle gelowe hande vat (Op. 17:5). |
'n Eksklusiewe geloof wat alle ander gelowe uitsluit (Joh. 14:6). |
|
Bruid van die Antichris, m.a.w. 'n huwelik tussen die valse godsdienste en die valse messias (Op 17:3). |
Bruid van Christus, m.a.w. 'n huwelik tussen die ware kerk en die ware Messias (2 Kor. 11:2). |
|
Politieke en morele sake voer die botoon in besprekings en handelinge. |
Geestelike sake en 'n Christelike lewenswyse word bevorder. |
Mistieke Babilon het tot 'n groot mate reeds vorm aangeneem. Sy word deur die volgende valse godsdienste, wat reeds in ekumeniese liggame saamwerk, verteenwoordig:
· Vervalle Protestantisme, soos deur die Wêreldraad van Kerke verteenwoordig. Hierdie tradisioneel Christelike kerke is ontrou aan die Here Jesus omdat hulle kompromie met die nie-Christelike godsdienste maak.
· Die Rooms-Katolieke Kerk.
· Die nie-Christelike gelowe.
· Die Alliansie van Wêreldgodsdienste.
· Die Wêreldkonferensie vir Godsdiens en Vrede.
· Die Parlement vir Wêreldgodsdienste.
· Verenigde Godsdienste Organisasie.
Dié verskillende groepe sal vroeg in die verdrukking 'n enkele ekumeniese liggaam onder die leiding van die valse profeet vorm nadat hulle die Antichris as hulle gemeenskaplike, universele messias aanvaar het. Die moeder van die hoere sal 'n tuiste aan die volgende godsdienstige gruwels bied:
· Die vergoddeliking van 'n wêreldleier, soos Nimrod van ouds, deur die status van universele messias aan hom toe te sê.
· Die erkenning van 'n priesterlike hiërargie van heiliges waarvan sommiges die vlak van christusse ('gesalfdes') en ook meesters van wysheid sal bereik.
· Die aanbidding van die songod.
· Die verering van die hemelkoningin en haar seun – Isjtar en Tammus, of die Madonna en haar kind.
· Die verering van verskeie gode, of Baäls.
· Meditasie, hipnose, holistiese genesing en die ontwikkeling van 'n kosmiese bewussyn.
· Towery, waarsêery en sterrewiggelary, asook die algemene gebruikmaking van okkultiese simbole en embleme.
· Satanisme sal 'n tuiste in dié liggaam hê, omdat alle valse gelowe vorms van verbloemde satanisme is (1 Kor. 10:19-20).
Feminisme sal ook 'n duidelike stempel op die valse godsdienste van die eindtyd afdruk. Benewens die herlewing van die hemelkoningin se kultus in die Midde-Ooste en die hernude klem op die verering van Maria as die Rooms-Katolieke se hemelkoningin, is daar ook reeds 'n feministiese Bybel vertaal waarin God as vroulik voorgestel word. Die gebed wat in Mattheus 6:9-13 opgeteken is, begin bv. met die woorde: "Onse Moeder wat in die hemel is..."
Die Nuwe Era Beweging bevorder dieselfde gedagte in hulle geskrifte. In die tydskrif Odyssey word bv. gesê dat die Planetêre Moeder as 'n aanvoelbare geestelike teenwoordigheid by die geboorte van elke kind aanwesig is. Die kind het benewens sy fisiese liggaam ook 'n astrale liggaam wat hom deel van die kosmiese gemeenskap maak, wat onder die versorgende beheer van die hemelgodin of planetêre moeder staan. Sy word ook Our Lady genoem. Odyssey beweer dat hierdie vroulike godheid in verskillende gelowe en tydperke as Isis, Venus, Isjtar en moeder Maria bekend gestaan het. Isis is die Egiptiese songodin, Venus 'n godin in die Romeinse mitologie, Isjtar die eens magtige Babiloniese en Assiriese hemelkoningin wie se heiligdomme tans weer herstel word, en die vergoddelikte Maria is die 'Christelike' weergawe van hierdie gemeenskaplike moeder van die mensdom.
Die identifisering van raakpunte tussen godsdienste en die negering van verskille is al 'n geruime tyd lank aan die gang. Kontakte tussen die Katolieke en Oosterse gelowe het reeds op 'n openlike wisselwerking uitgeloop. Daar verskyn gereeld berigte in die Katolieke tydskrif, Southern Cross, oor geslaagde byeenkomste wat hulle kerk met Moslems, Hindoes en Boeddhiste hou. In die uitgawe van 15 September 1985 word die pous soos volg aangehaal:
"Die Katolieke Kerk het sy verhoudinge met die nie-Christelike godsdienste in heroorweging geneem. Groter kennis van Islam het Christene tot 'n groeiende waardering vir Islam gelei. Die geestelike bande tussen Moslems en Christene, gegrond op hulle algemene geloof in God wat een is, genadig en almagtig, en wat Homself aan die mensdom geopenbaar het, is 'n stewige fondament vir die aankweek van wedersydse begrip en vir gesamentlike pogings tot die bewaring en bevordering van vrede, vryheid, sosiale geregtigheid en morele waardes."
Die Wêreldraad van Kerke het ook tot die gevolgtrekking gekom dat die Christendom en die Bybel nie 'n unieke openbaringskanaal van God aan die wêreld is nie. Hulle hang tans die idee van die algemene genade van 'n universele God aan wat homself deur alle kulture en godsdienste aan die mens geopenbaar het. Dit word nou aanvaar dat die openbaringskanaal van God nie:
Die Christelike kerk word na vlak drie afgedruk, as een van die baie manifestasies van God se openbaring van Homself deur alle gelowe en kulture. Die Oosterse godsdienste moet dus op 'n gelyke vlak met die Christendom erken word en nie meer as heidens bestempel word nie. Hulle kan gevolglik nou almal een word omdat die Christendom sy unieke posisie prysgegee en na die vlak van die heidendom afgedaal het. Op die Wêreldraad van Kerke se byeenkoms in Australië in Februarie 1991 is opnuut 'n godsdienstige pluralisme van hierdie aard bepleit, en is gesê dat sendingwerk onnodig is omdat God in alle godsdienste en kulture aanwesig is.
Die ekumeniese godsdiens van die verdrukking word in Openbaring 17:5 deur 'n ontugtige vrou voorgestel wat op die dier se rug ry. Dit dui op 'n antichristelike huwelik tussen godsdiens en politiek in die ryk van die dier. Volgens Openbaring 17:9-10 en 18 het dié ontugtige vrou ál die vorige wêreldryke beheer deur hulle aan 'n heidense godsdiensstelsel te verbind. Haar invloed moet dus nie onderskat word nie, want haar vermoë tot die misleiding van die nasies is geweldig. Sy sal haar miljoene volgelinge in die verdrukking oorreed om die Antichris aan te hang. Getrou aan haar ware karakter, sal sy fanaties teen evangeliese Christene gekant wees wat haar goddelooshede openbaar maak en hulle nie by haar wil skaar nie. Soos wat sy deur die eeue heen Jode en Christene vervolg het en heilige oorloë teen hulle gevoer het, sal sy in die verdrukking nog in 'n meerdere mate doen. Johannes sê:
"En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus" (Op. 17:6).
Hierdie slegte vrou se natuurlike aangetrokkenheid tot die stad Babilon waar sy haar vroegste oorsprong het, sal daartoe lei dat sy haar hoofsetel weer na Babilon sal verskuif. Volgens 'n profesie in Sagaria 5:5-11 sal sy na die land Sinear, dit is Babilonië, verskuif word wanneer die stad herbou word.
Mistieke Babilon, as die bruid van die Antichris, gaan nie 'n lang en gelukkige huwelik hê nie. Sy sal net vir 3½ jaar op die dier se rug ry, en groot voorregte en aansien in sy koninkryk geniet voordat sy afgegooi en doodgemaak sal word. Sy kan dus reg uit die staanspoor 'n min dae-kalender hou waarop die dae van haar kortstondige glorie afgemerk word – 1260 dae van haar huweliksdag af tot by haar openbare teregstelling. Wat 'n twyfelagtige voordeel is dit nie vir die groot prys wat sy moet betaal om guns in die dier se oë te vind nie! Sy moet haar gewete verkrag, haar rug op die lewende God en sy Seun, Jesus Christus, draai, bereid wees om gruwelik misbruik te word, en boonop nog 'n verbond met die dood sluit; dit alles vir 'n spreekwoordelike pot lensiesop!
Wanneer die Antichris homself in die middel van die verdrukking tot God verklaar, sal hy nie meer as universele messias vir 'n alliansie van wêreldgodsdienste beskikbaar wees nie. Alle gelowe sal dan verbied en hulle aanbiddingsplekke verwoes word: "En die tien horings wat jy op die dier gesien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur verbrand" (Op. 17:16).
As ekonomiese, politieke en vermaaklikheidsentrum sal die herboude Babilon volgens Openbaring 18 teen die einde van die groot verdrukking 'n groot rol speel. Daar kan verwag word dat wanneer die Antichris dit tot sy hoofstad verklaar, bouprojekte gelyktydig deur alle nasies daar onderneem sal word om hulle diplomatieke en ekonomiese gesantskappe te akkommodeer. Die stad sal 'n kosmopolitiese karakter aanneem, en in die kort ryk van die dier 'n samevloeiingspunt vir verskeie tale en kulture wees.
Hier het die verskillende volke met die taalverwarring uitmekaar gegaan, en dit sal nie verbasend wees as 'n poging aangewend word om hulle weer hier bymekaar te bring nie! Soos Babilon van ouds, moet hulle deur 'n gemeenskaplike visie en die najaag van gemeenskaplike ideale in 'n nuwe eenheidsverband saamgesnoer word. In die dae van antieke Babilon, 4 500 jaar gelede, is die eerste Verenigde Nasies-konferensie op rekord op die vlaktes van Sinear gehou. Die afgevaardigdes het gesê:
"Kom, laat ons vir ons 'n stad bou en 'n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons 'n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie" (Gen. 11:4).
In moderne tye sal hierdie deklerasie van voorneme moontlik só klink:
"Kom, laat ons saamwerk en vir ons tussen die Ooste en die Weste 'n stad bou wat 'n simbool van wêreldeenheid sal wees. Laat ons 'n universele godsdiens beoefen waarin die mens onbeperkte geleenthede het om op die leer van goddelikheid uit te styg. Laat ons vir onsself een monetêre stelsel, een regering en een maatskaplike orde van wêreldburgers vestig. Alleen dán sal daar harmonie en eenheid onder alle mense wees, en sal hulle nie in selfgesentreerde en onafhanklike nasionale groepe die aarde bewoon en mekaar voortdurend beveg nie."
Die ideologie van die moderne toring van Babel is wêreldwyd reeds goed gevestig. Die finale implementering daarvan sal in groot haas en te midde van koorsagtige entoesiasme geskied.
Teen die einde van die groot verdrukking sal die boosheid in Babilon geen perke ken nie en van kwaad na erger voortwoed. Openbaring 18 sê dat die sondes van Babilon, soos dié van Sodom en Gomorra, tot aan die hemel sal reik (Op. 18:5). Dit sal 'n plek van losbandigheid en sedelose partytjies wees (Op. 18:7, 9). Musiek sal 'n belangrike aspek van die sataniese vermaak van Babilon wees (Op. 18:22). Die opening van die eerste deel van die herboude stad in September 1987 is juis met 'n internasionale musiekfees gevier. Mense sal hulle liggame én siele hier aan Isjtar, die godin van wellus, verkoop (Op. 18:13).
Met die troonsaal van Belsasar wat intussen herbou is, kan daar straks weer tydens 'n swelgparty wat met oorverdowende musiek van die onderwêreld gepaard gaan, 'n hand verskyn wat die oordele van God op die muur skryf. Soos Belsasar van ouds, sal die eindtydse koning van Babel ook vreesbevange raak wanneer die ware God sy stem laat hoor om sy toorn oor Babilon aan te kondig:
"Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan" (Dan. 5:6).
Aan die einde van die groot verdrukking sal die finale ondergang van die herboude Babilon aanbreek (Op. 14:8; 16:17-19; 18:2, 10, 21). Uit die betrokke skrifgedeeltes is dit duidelik dat daar nie van 'n geleidelike verval en agteruitgang van die stad oor eeue heen gepraat word nie. Die vernietiging van Babilon sal in een uur plaasvind. Soos in die geval van Sodom en Gomorra, sal dit deur vuur verteer word (Op. 18:8-10, 18; Jes 13:19; Jer. 50:40). Dit sal met 'n groot aardbewing en aanhoudende donderslae en weerlig gepaard gaan, en dan sal die stad met 'n gedruis in 'n poel van vuur wegsink om nooit weer opgebou of bewoon te word nie (Op. 16:17-19; 18:21). Die rook van haar verbranding sal donker wolke oor die vlaktes van Sinear vorm wat selfs van skepe af op die Persiese Golf gesien sal kan word (Op. 18:17-18). Die handelaars en seevaarders sal almal die verwoesting van hierdie stad met sy rykdom, prag en praal beween.
Op die plek waar Babilon gestaan het, sal net 'n verlate krater wees. Oorblyfselfs van sy verwoeste paleise en kastele sal in die krater gesien kan word, maar dit sal net 'n skuilplek vir wilde diere en onrein voëls wees (Jes. 13:21-22; Op. 18:2). 'n Onheilspellende stilte sal gedurende die vrederyk hier heers, en niemand sal ooit weer hier woon of selfs net hier oornag nie. Die Arabiese veewagters wat in die omgewing vertoef, sal sorg dat hulle voor donker van hierdie grillerige plek af weg is (Jes. 13:19-20).
Dit is die uiteinde van 'n koninkryk, 'n ideologie én 'n gemeenskap wat die rug op God gedraai, sy gesag en genade versmaai, en in openlike rebellie teen Hom geleef het.
"Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie" (Op. 18:4).