6. Israel in die Verdrukking

Baie mense maak die fout om Israel in die Openbaringsgebeure mis te kyk. Hierdeur gaan 'n groot deel van die Bybelse perspektief op die sewe jaar lange verdrukking verlore, asook een van die belangrikste profetiese tekens van die einde van die bedeling van die kerk, nl. die herstel van Israel en hulle hoofstad, Jerusalem.

As 'n algemene stelling in verband met die wederkoms word in Openbaring 1:7 gesê dat met Christus se koms elke oog Hom sal sien, ook hulle wat Hom deursteek het. Hierdeur word duidelik geïmpliseer dat Israel terug in hulle land moet wees, omdat hulle ook as volk 'n besluit ten opsigte van die gekruisigde Jesus sal moet neem wat tydens sy eerste koms deur hulle vaders verwerp is.

Wat ons kennis oor die naderende verdrukking betref, is die status van Jerusalem die belangrikste enkele teken wat die Here Jesus oor die einde van die kerkbedeling aan ons gegee het. In Lukas 19:41-44 en 21:5-6 verwys Hy na die fisiese verwoesting van die stad Jerusalem en die internasionale verstrooiing van die Jode. Hy beklemtoon egter die feit dat Jerusalem net tot op 'n bepaalde tydstip in die toekoms aan die beheer en vertrapping van die nie-Joodse volkere onderwerp sou wees:

"...want daar sal 'n groot nood in die land wees en toorn oor hierdie (Joodse) volk. En hulle sal deur die skerpte van die swaard val en as krygsgevangenes geneem word na al die nasies, en Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is" (Luk. 21:23-24; kyk ook Rom. 11:25-26).

Die woord "totdat" dui nie alleen op die feit dat Jerusalem se vertrapping in 'n stadium beëindig sal word nie, maar ook dat dit met die einde van die tye van die nasies sal saamval. Dit is dus vir ons baie belangrik om verwikkelinge in en om Jerusalem dop te hou, sodat ons die belangrikste teken van die einde van hierdie bedeling behoorlik in ag kan neem (vgl. Luk. 12:54-56).

Die onafhanklikheid van Israel in 1948 het slegs met die beheer oor die nuwe deel van Jerusalem gepaard gegaan. Dit was egter 'n belangrike profetiese aanwyser dat die eindtyd op hande is. In 1967 het 'n verdere betekenisvolle verwikkeling gevolg toe die ou deel van Jerusalem (die stad van Dawid, wat die berg Sion en die Tempelberg insluit) in die sesdaagse oorlog van Jordanië verower is. Die fisiese herstel van die stad was toe afgehandel, en hierna sou die staatkundige herstel volg. Hou in gedagte dat Jerusalem voor die Babiloniese ballingskap in die 6de eeu v.C. laas die status van 'n onafhanklike hoofstad gehad het. In die tyd van Christus het die Romeinse vlag oor die stad gewapper.

In Augustus 1980 het die destydse eerste minister van Israel, mnr. Menachem Begin, Jerusalem tot die ewige en onverdeelbare hoofstad van Israel verklaar, en dadelik sy kantoor van Tel Aviv af daarheen verskuif. Gedurende die volgende twee jaar het sy hele kabinet en hulle personeel hul intrek in Jerusalem geneem.

Die geestelike herstel van Jerusalem en die herbouing van die tempel moet nog plaasvind, aangesien die Tempelberg steeds deur die heidene vertrap word. Hierdie terrein is onder Moslem-beheer omdat twee van hulle moskees daar staan. Israel se nasionale geestelike herstel sal eers ná die kerkbedeling in die verdrukking plaasvind, en op die laaste dag daarvan voltrek word wanneer Jesus tydens die wederkoms sy voet op die Olyfberg sit. Dan sal Hy die oorblyfsel van sy volk almal red.

Die herboude tempel sal 'n groot rol in Israel se godsdienstige ontwaking én misleiding speel. Die volgende verwysings word na die derde tempel wat deur die Antichris ontheilig sal word, gemaak:

Die herboude tempel in die openbaringsgebeure

"En 'n riet soos 'n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad 42 maande lank vertrap" (Op. 11:1-2).

Hierdie profesie is opgeteken 25 jaar nadat die tempel van Herodes (die tweede tempel) in 70 n.C. deur die Romeine verwoes is, en kan dus slegs op 'n toekomstige herboude tempel in Jerusalem betrekking hê. Die derde tempel, wat in die eerste helfte van die verdrukking voltooi en in gebruik geneem sal word, sal deur die Antichris ontheilig word.

Afskaffing van die offerdiens

"En hy [die vors van 'n volk wat sal kom] sal een week [van sewe jaar] lank met baie 'n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou" (Dan. 9:27).

In die middel van die verdrukking sal die Antichris homself tot God verklaar en nie net die Joodse offerdiens verbied nie, maar ook alle ander godsdienste waarin hyself nie regstreeks as God aanbid word nie (Op. 17:16). Ons weet dat die Antichris 'n eindtydse leier is wat as 'n lewende persoon deur Jesus aangetref sal word tydens sy wederkoms (Op. 19:19; 2 Thess. 2:8), dus sal daar beslis tydens sy bewindstermyn 'n tempel in Jerusalem wees.

Oprigting van 'n afgodsbeeld

"En deur hom [die eindtydse koning van die Noorde] sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel" (Dan. 11:31).

Die Antichris sal nie net die Joodse offerdiens verbied nie, maar in die plek daarvan 'n beeld van homself in die tempel oprig en mense dwing om dit te aanbid. Militêre geweld sal in die proses gebruik word. Volgens Openbaring 13:14-15 sal almal wat weier om dié beeld te aanbid, gedood word.

Die enigste God wat wêreldwyd aanbid mag word

Die Antichris is "die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is" (2 Thess. 2:4).

Wat hier beskryf word, is nie slegs 'n komplot teen die Joodse geloof nie, maar godsdienstige selfverheffing bo alle gelowe, sodat die Antichris universeel as die enigste God aanbid kan word.

'n Vlug vir oorlewing

"Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom... dan moet die wat in Judea is na die berge vlug... Want dan sal daar groot verdrukking wees" (Matt. 24:15-21).

Die Antichris se ontheiliging van die tempel in die middel van die verdrukking is die teken wat die Here aan die inwoners van Judea gegee het om haastig vir oorlewing na die berge te vlug. Die tempel wat hulle sal bou, waardeur hulle die offer van die Lam van God weer eens as volk sal verwerp, sal dus kort daarna vir hulle die toneel van groot ontnugtering en tragedie word.

Vir Israel wag daar nog 'n tyd van misleiding en afvalligheid voordat Daniël 9:24 se maat van die sonde vol is en ewige geregtigheid vir die volk sal aanbreek. As gevolg hiervan sal hulle deur 'n baie moeilike tyd van loutering moet gaan (Jer. 30:7; Eseg. 22:19-21; Sag. 13:8-9). Ná hierdie loutering sal 'n oorblyfsel van Israel die rus van die Messiasryk ingaan en al die beloftes van ryke seën vir hulle in vervulling sien gaan. Hoewel die nasionale bekering van die volk aan die einde van die sewe jaar plaasvind, sal daar vroeg in die verdrukking reeds 'n herlewing wees waaruit duisende Messiaanse Jode na vore sal kom om die lof van Jesus die Messias (Yeshua HaMashiach) te verkondig.

Die 144 000 verseëldes

'n Baie belangrike gebeurtenis wat aan die begin van die verdrukking sal plaasvind, is die redding van 144 000 Jode en hulle afsondering vir die diens van die Here. Dit vind baie duidelik ná die bedeling van die kerk plaas, omdat hulle godsdienstige posisie direk met hulle volks- en stamidentiteit in verband gebring word. Dit is anders as wat gedurende die volk se verstrooiing in die kerkdispensasie die geval was, waar volksverband nie 'n oorweging vir die redding van mense is nie (Gal. 3:28). Die 144 000 is die eerste groep wat deel van die geestelike herstel van die volk Israel sal uitmaak:

"En ek het die getal van die verseëldes gehoor: 144 000 verseëldes uit al die stamme van die kinders van Israel."

Daar is geen onduidelikheid omtrent hierdie stelling nie, en dit is eksegeties totaal onregverdigbaar om die 144 000 Joodse evangeliste op die kerk of enige ander groep mense buite Israel van toepassing te maak. Dit is duidelik dat die Here pas nadat Hy sy bruidsgemeente kom haal het, die geestelike potensiaal van die herstelde Israel sal begin benut om sy lig in die donker nag van die verdrukking te laat skyn. Toe Elia weggeraap is, het sy mantel en profetiese bediening op Elisa geval. Ook in die komende uur van die duisternis sal die Here Homself nie onbetuig op die aarde laat nadat sy bruid weggeraap is nie.

Openbaring 7 sluit aan by 'n lang reeks profesieë in die Bybel waarin die waarborg gegee word dat die Here sy volk Israel nie alleen fisies en staatkundig in hulle land sal herstel nie, maar dat hulle in die laaste dae ook geestelik sal herleef:

"Daarom, sê vir die huis van Israel... Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word... En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen. En julle sal woon in die land wat Ek aan jul vaders gegee het; en julle sal vir My 'n volk en Ek sal vir julle 'n God wees" (Eseg. 36:22-28).

Daar is tans baie duisende Jode wat al aan die Nuwe Testamentiese feite omtrent Jesus se Messiasskap blootgestel is, maar nog nie 'n besluit daaroor geneem het nie. Nadat die wegraping plaasgevind het en al die Messiaanse Jode (dié wat voor die tyd reeds vir Jesus as hulle Messias aangeneem het) saam met die bruidsgemeente weg is, sal 'n ernstige herwaardering van Bybelse feite onder 'n groot groep agtergeblewenes plaasvind. Die Heilige Gees sal kragtiglik onder hulle werk (Sag. 12:10), en baie van hulle sal die Here Jesus as Verlosser aanneem.

Uit hierdie herlewing sal 144 000 weergebore Jode na vore kom, wat deur die Here vir 'n wêreldwye evangelisasietaak afgesonder sal word (Matt. 24:14). Soos Daniël se drie vriende sal hulle in die uur van verdrukking bewaar word, sodat hulle hul taak as die Here se uitverkore getuies onder uiters moeilike omstandighede sal kan voortsit en uitvoer.

Die groot bedrieër slaan toe

In die proses van Israel se geestelike herstel sal die duiwel nie nalaat om die volk te bedrieg deur 'n valse messias aan hulle te bied nie. Hy weet dat Israel deur 'n oorlog in groot benoudheid gedompel kan word, en dan nog meer besonderlik sal uitkyk of die beloofde Messias nie tot hulle redding sal kom nie. Dié scenario sal geskep word wanneer die gekombineerde Russies/Arabiese invalsmag van Esegiël 38 en 39 soos 'n donker wolk van alle kante af oor hulle toesak. Die Here sal ingryp en hierdie invalsmag met vuur uit die hemel verdelg (Eseg. 39:1-6).

Op 'n baie slinkse wyse sal die krediet vir die oorwinning egter deur die valse messias opgeëis word. Met sy sataniese magte sal hy vuur uit die hemel laat neerdaal, en Israel laat dink dat hy deur God gestuur is om hulle uit te red (Op 13:12-13; 2 Thess. 2:9). Hy sal homself as Israel se Verlosser en beloofde Messias aanbied, en ná 'n kort beraadslaging sal die volksleiers hom as sodanig aanvaar. Die Here Jesus het na hierdie tragiese besluit verwys toe Hy tydens sy eerste koms en verwerping deur die volk gesê het:

"Ek het gekom in die Naam van my Vader, en julle neem My nie aan nie. As 'n ander een in sy eie naam kom, hóm sal julle aanneem" (Joh. 5:43).

Hierdie verleier wat in die Naam van Jesus kom, is die valse christus waarteen Jesus die volk uitdruklik gewaarsku het (Matt. 24:4-5). Hy is die ruiter op die wit perd wat in Openbaring 6 uitdraf as 'n oorwinnaar en om te oorwin. Hy sal geen tyd verspil om sy posisie in Israel te konsolideer nie, en groot openbare steun verwerf deur dit vir die volk moontlik te maak om die tempel te herbou. Hy sal die Messiaanse herlewing teëwerk as iets negatiefs wat in stryd met Israel se nasionale godsdiens en offerdiens is.

Om begryplike redes sal daar 'n geweldige polarisasie en stryd tussen die aanhangers van die ware Messias en die valse messias wees. Laasgenoemde groep sal oorheersend wees en onwrikbaar by hulle lank verwagte 'messias' staan. Selfs wanneer hy na ander volke en gelowe uitreik en homself ook as hulle messias aanbied en daardeur vir Israel in sy alliansie van wêreldgodsdienste intrek, sal die meeste van hulle steeds vir sy misleiding blind wees.

'n Deel van die valse messias se misleidingswerk sal wees om die Jode se lank gevestigde antagonisme teenoor die Nuwe Testament deur verdere negatiewe propaganda aan te blaas. Sy volgelinge sal dus nie van Jesus se Nuwe Testamentiese waarskuwings oor die verskyning van die valse messias kennis neem nie, en derhalwe onkundig oor sy godsdienstige bedrog wees:

"As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! – moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei. Kyk, Ek het dit vir julle vooruit gesê. As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn – moenie uitgaan nie; kyk, hy is in die binnekamer (op TV?) – moet dit nie glo nie. Want soos die weerlig uit die ooste uitslaan en tot in die weste skyn, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees" (Matt. 24:23-27).

Die valse messias sal Israel se geestelike onkunde uitbuit!

Twee getuies

In die tyd van massamisleiding sal die Here volgens Openbaring 11:3-12 twee baie besondere getuies stuur om aan Israel én die wêreld te verkondig dat hulle hul na die ware God moet bekeer. Volgens aanduidings in die Bybel sal dit Moses en Elia wees wat saam met Jesus op die berg van verheerliking verskyn het (Matt. 17:1-3). Wat Elia betref, is daar geen twyfel nie omdat die laaste twee verse van die Ou Testament die volgende oor hom sê:

"Kyk, Ek stuur julle die profeet Elia voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie" (Mal. 4:5-6).

Die vlug na die woestyn

In Openbaring 12 word die vlug van Israel voor die Antichris uit na die woestyn beskryf. Dit is pas ná die ontheiliging van die tempel en die verbreking van hulle amptelike verbond met die Antichris in die middel van die verdrukking. Die staat Israel sal feitlik oornag ophou bestaan. Die regering sal tot 'n val kom, en die politieke leiers sal saam met die godsdiensleiers en burgerlikes inderhaas na die woestyn van Judea vlug. Meelopers van die Antichris, wat ook sy nommer sal aanvaar en sy beeld aanbid, sal in hoë poste aangestel word en waardevolle geboue en grond as omkoopgeskenke van hom kry (Dan. 11:32, 39).

In die toneel in Openbaring 12 is dit baie duidelik dat die konflik tussen Israel en die Antichris nie 'n geïsoleerde gebeurtenis is nie, maar deel van die eeue oue stryd tussen die Godsryk en die Satansryk. Om hierdie rede word die agtergrondgebeure wat op dié besondere konfrontasie uitloop, ook genoem. Johannes sê:

"En 'n groot teken het in die hemel verskyn: 'n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof 'n kroon van twaalf sterre; en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood. En 'n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was 'n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het. En sy het 'n manlike kind gebaar, wat al die nasies met 'n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. En die vrou het na die woestyn gevlug waar sy 'n plek het wat deur God gereed gemaak is, dat hulle haar daar sou onderhou 1 260 dae lank" (Op. 12:1-6).

Israel word hier met 'n getroude vrou vergelyk, nie 'n verloofde maagd soos die bruidsgemeente van Christus nie (vgl. Jer. 31:1-5; Jes. 54:4-8 en Hos. 2:15 vir Israel en Matt. 25:1-13 en 2 Kor. 11:2 vir die gemeente van die Nuwe Testament). Die vrou word verder gekwalifiseer deur die 12 sterre op haar kop wat op die 12 stamme van Israel dui, asook die son en die maan wat na Jakob en Ragel as stamvader en stammoeder wys. Hierdie simboliek blyk duidelik uit 'n droom wat Josef gehad het:

“Kyk, ek het 'n droom gehad – die son en die maan en elf sterre het hulle voor my neergebuig. Toe hy dit aan sy vader en sy broers vertel, het sy vader hom hard bestraf en aan hom gesê: Wat is dit vir 'n droom wat jy gehad het? Moet ons werklik kom, ek en jou moeder en jou broers, om ons voor jou na die aarde neer te buig?" (Gen. 37:9-10; kyk ook Jer. 31:11 en 15 waarin Jakob en Ragel as die verpersoonliking van Israel beskou word).

Die vrou se swangerskap dui op die periode van Christus se geboorte. Die draak wat 'n derde van die engele in die hemel meegesleur het en op die punt gestaan het om die kind te verslind, is niemand anders as die duiwel self nie. Die handlanger wat hy toe gebruik het om sy bose werk te doen, was Herodes – hy het die kindermoord beveel in 'n poging om Jesus om die lewe te bring. Die Here Jesus het egter sy roeping vervul, en is weggeruk na God in die hemel. Die tyd dat Hy die nasies met 'n ystersepter sal regeer, sal spoedig in die vrederyk aanbreek. Sy getroue dissipels sal volgens Openbaring 2:26-27 ook hierin deel.

Totdat Christus weer kom, spits die duiwel hom in sy stryd teen die koninkryk van God op die kerk en Israel toe. Nadat die bruidsgemeente weggeraap is, sal hy weer sy volle aandag aan Israel wy om hulle óf te mislei óf dood te maak sodat die Here se plan met hulle gedwarsboom kan word. Dit is vir hierdie tyd dat Israel die opdrag kry om vir oorlewing na 'n plek in die woestyn te vlug, waarskynlik Petra suid van die Dooie See, waar die Here hulle 1 260 dae, dit is 3½ jaar lank, sal onderhou.

Christenmartelare

Die Antichris sal ewe fanaties teen ware Christene optree omdat hulle hom sal verwerp en die God van Israel deur die ware Messias, Jesus Christus, sal aanbid. In dié sin is die Christene ook nakomelinge van die vrou, Israel (Op. 12:17). Paulus sê in Romeine 11:15-20 dat Christene uit die nie-Joodse wêreld deur geloof in die olyfboom (Israel) ingeënt is en dus 'n noue assosiasie met hulle het. Hieruit spruit ons liefde vir Israel en die innige begeerte en bede dat hulle ook deur die aanvaarding van Jesus tot die nuwe verbond sal toetree (Heb. 8:8-13).

Ware Christene (dié wat in die verdrukking eers tot bekering kom) sal van die begin af weet dat die Antichris 'n valse leier is, en sal hom én die valse wêreldkerk verwerp. Vir hulle sal daar in die kortstondige ryk van die dier net een pad wees en dit is vervolging, marteling en die dood. Hoewel hulle die fisiese stryd teen die Antichris sal verloor (hy sal oorlog voer teen die heiliges en hulle oorwin – Op. 13:7), sal hulle die geestelike stryd teen hom wen en nie die knie voor hom buig nie:

"En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie" (Op. 12:11).

Hulle sal dus as oorwinnaars sterf! Die getroue getuies van Jesus sal nie ter wille van hulle tydelike belange, bv. hulle werk en die reg om te koop of te verkoop, die Antichris en sy nommer aanvaar nie. Hulle sal besef dat só 'n stap na gewisse ondergang sal lei. Wanneer hulle in die hemel aankom, sal hulle die Here vra om hulle dood op die Antichris en sy barbaarse magte te wreek:

"En toe hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van dié wat gedood is ter wille van die woord van God en die getuienis wat hulle gehad het. En hulle het met 'n groot stem uitgeroep en gesê: Hoe lank, o heilige en waaragtige Heerser, oordeel en wreek U nie ons dood op die bewoners van die aarde nie? En aan elkeen van hulle is wit klere gegee; en aan hulle is gesê dat hulle nog 'n klein tydjie moes rus totdat ook hulle medediensknegte en hulle broeders wat nog gedood sou word soos hulle, voltallig sou wees" (Op. 6:9-11).

Wanneer die martelare in die hemelse heerlikheid aankom en hulle opstandingsliggame ontvang, sal al die droefheid en ellende van hulle vervolging, hongersnood en teregstelling vergete wees:

"Dit is hulle wat uit die groot verdrukking kom, en hulle het hul klere gewas en hul klere wit gemaak in die bloed van die Lam... Hulle sal nie meer honger en nie meer dors hê nie... want die Lam wat in die middel van die troon is, sal hulle laat wei en hulle na lewende waterfonteine lei, en God sal alle trane van hulle oë afvee" (Op. 7:14-17).

Die duisternis sal finaal opklaar vir die oorwinnaars in die Here Jesus se koninkryk, maar oor die Antichris en sy volgelinge sal die ewige nag van God se oordeel oor die goddeloses aanbreek.

Ontmoeting by die Olyfberg

Die wederkoms van Christus wat in Openbaring 19:11-21 beskryf word, vind in Israel plaas. In dié dag sal Hy sy voete op die Olyfberg sit, wat oos van die ou stad in Jerusalem is. Dit is die hoogste punt op die omringende berge van Judea, en is presies dieselfde plek vanwaar Hy na die hemel opgevaar het:

"En in dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant; en die Olyfberg sal middeldeur gesplyt word van oos na wes tot 'n baie groot dal; en die een helfte van die berg sal wegwyk na die noorde en die ander helfte na die suide. En julle sal vlug in die dal van my berge... Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!" (Sag. 14:4-5).

Die Here Jesus kom saam met sy heiliges wat voor die verdrukking reeds weggeraap en met Hom verenig is: "Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word" (Kol. 3:4).

By hierdie geleentheid, wanneer die Olyfberg sal oopskeur en geweldige aardbewings oor die hele wêreld voorkom, sal daar 'n baie dramatiese versoening tussen Jesus en die oorblyfsel van Israel plaasvind. Tydens die benoudheid van die groot oorlog van Armagéddon sal hulle hul toevlug in die rotsskeure van die Olyfberg neem om die agtervolgende leërs van die Antichris te ontkom. Duisternis sal oor die aarde toesak terwyl die oordele van God oor sy vyande uitgestort word (Sag. 14:6, 12-13).

Wanneer die lig weer deurbreek, sal die Jode die spykermerke in Jesus se hande sien, en vra: "Watter wonde is daar tussen u hande?" Dan sal Hy antwoord: "So is Ek geslaan in die huis van my vriende" (Sag. 13:6). Dit sal 'n hartroerende oomblik wees wanneer Israel groot berou oor hulle sondes sal hê, en veral die feit dat hulle vaders die ware Messias tydens sy eerste koms verwerp het:

"Maar oor die huis van Dawid en oor die inwoners van Jerusalem sal Ek uitgiet die Gees van genade en smekinge; en hulle sal opsien na My vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos 'n mens rouklaag oor 'n enigste seun en bitterlik oor Hom ween soos 'n mens bitterlik ween oor 'n eersgebore kind. In dié dag sal die rouklag groot wees in Jerusalem, soos die rouklag van Hadad-Rimmon in die laagte van Megiddo. En die land sal rouklaag by geslagte" (Sag. 12: 10-12).

Jesus sal die gelouterde, voortvlugtende en treurende oorblyfsel van sy volk aanneem en troos deur te sê: "Dit is my volk!" Hulle sal in antwoord hierop uitroep: "Die Here, my God!" (Sag. 13:9). Hierna sal Hy die vervalle hut van Dawid weer oprig (Hand. 15:16).