7. Oorloë, Siektes en Natuurrampe

"En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie. Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke" (Matt. 24:6-7).

Die groot verdrukking sal 'n tyd van ongekende oorloë, pessiektes en natuurrampe wees waardeur dit wat die mens opgebou het, verwoes en in puinhope omskep sal word. 'n Hoë dodetal, verrottende lyke en die ineenstorting van mediese dienste sal pessiektes en besoedeling tot gevolg hê waardeur onhoudbare en onleefbare toestande geskep sal word. Infrastruktuurdienste wat deur oorloë en kernbestraling beskadig of onbruikbaar gemaak is, sal verder deur aardbewings geskud en tot op die grond afgebreek word.

Agter hierdie toneel van vernietiging is die duiwel wat die groot mensemoordenaar en verwoester van God se skepping is. In die kort uur van die duisternis sal hy en sy medewerkers oor die aarde losgelaat word om hulle ware karakter tot by die mees absurde en waansinnige uiterstes daarvan te openbaar. Hierdeur sal hulle die maat van hulle ongeregtighede tot oorlopens toe vol maak en die oomblik van hulle finale verdoemenis verhaas. Die groot tragedie is dat die hel met sy onuitbluslike vuur wat vir die duiwel en sy engele berei is, ook die grusame eindbestemming van 'n ontelbare skare misleide mense sal wees.

Die slagting wat die duiwel onder mense gaan aanrig, sal in die tweede helfte van die verdrukking ongekende en afskrikwekkende afmetings aanneem. Aan die begin van hierdie 3½ jaar van die groot verdrukking sal hy verdere toegang tot die troon van God waar hy dag en nag besig was om die Christene aan te kla, ontsê word (Op. 12:10). Hy sal in groot toorn ontvlam en hierna sy onverdeelde aandag op sy verwoestingswerk op aarde toespits:

"Wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het" (Op. 12:12).

In hierdie stadium verruil die Antichris die wit perd vir die rooie, en kyk hoe vinnig hy mense kan uitdelg en die ganse aarde in chaos en wanorde kan dompel. Wanneer die 42 maande van Openbaring 13:5-7 ten einde loop, sal sy spoor van verwoesting oor die hele aarde gesien kan word. Die doodsengel sal in dié tyd 'n buitengewone groot oes van mensesiele vir die doderyk insamel.

Oorloë

In die beskrywing van die groot verdrukking word daar dikwels verwys na bloedige oorloë wat gevoer sal word. Die Antichris se veldslae, asook die hongersnode en pessiektes wat daaruit voortvloei, sal 'n dodetal van 'n kwart van die wêreldbevolking eis. Dit is 1,5 miljard mense, bereken na aanleiding van die huidige (2000) wêreldbevolking van 6 miljard.

'n Groot Russies/Arabiese inval in Israel is byna 2 600 jaar gelede deur Esegiël voorspel. Besonderhede word selfs gegee van hoe Rusland met Iran, Libië, Ethiopië, Turkye, Duitsland en nog ander lande vir hierdie inval 'n verbond sal sluit (Eseg. 38 en 39). Vier van die genoemde lande is Islamities, daarom kan afgelei word dat Islam se oorheersingsdrang, asook hulle fanatieke haat vir Israel, die groot motiverende ideologie agter dié 'heilige' oorlog sal wees.

In Openbaring 9:13-19 is 'n beskrywing van hoe die konings van die Ooste, dit is Sjina en sy bondgenote, ook vir die oorloë van die groot verdrukking gemobiliseer sal word. 'n Mag van 200 miljoen Asiate sal oor die Eufraatrivier trek en die Midde-Ooste, asook die Westerse wêreld, binneval. Hulle sal 'n baie groot slagting aanrig en 'n derde van alle mense op aarde doodmaak (Op. 9:15).

'n Kwart van die totale wêreldbevolking is Sjinese. Hierdie sluimerende reus sal egter eers in die groot verdrukking wakker word en dan sy skrikwekkende vernietigingswerk aanrig. Die uiteinde van die Asiatiese opmars sal die slag van Armagéddon aan die einde van die verdrukking wees:

"En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word" (Op. 16:12; kyk ook Op. 16:13-14, 16).

Daar is verskeie aanduidings in Openbaring dat kernwapens in die oorloë van die groot verdrukking gebruik sal word. Johannes het nie oor die woordeskat beskik om gesofistikeerde, 20ste eeuse kernwapens en missiele mee te beskryf nie. Hy gee egter tóg 'n aanduiding van kernbomme wat afgegooi sal word of missiele met kernplofkoppe wat afgevuur word, wat 'n geweldige vernietigingskrag het:

"En die eerste engel het geblaas, en daar het hael en vuur gekom met bloed gemeng, en dit is op die aarde gegooi. En 'n derde van die bome het verbrand, en al die groen gras het verbrand. En die tweede engel het geblaas, en iets soos 'n groot berg wat brand met vuur, is in die see gegooi. En 'n derde van die see het bloed geword, en 'n derde van die lewende skepsele in die see het gesterwe, en 'n derde van die skepe het vergaan" (Op. 8:7-9).

Direk hierna praat hy van die vergiftiging van 'n derde van die aarde se waterbronne, en sê dat baie van die mense wat dit drink, sal sterf. Hierdie toestande sal heel moontlik die gevolg wees van radioaktiewe stof wat op die aarde neersif. Volgens Openbaring 8:12 sal die son, maan en sterre ook gedeeltelik verduister word, en dit dui op ernstige lugbesoedeling.

Wetenskaplikes het bereken wat die gevolg sal wees van 'n wêreldoorlog waarin daar ook van kernwapens gebruik gemaak word. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat sowat een miljard mense onmiddellik sal sterf, en dat nog een miljard tot 'n stadige dood gedoem sal wees. Hittegolwe sal oor die aardbol trek en alles wat brandbaar is, aan die brand steek. Die ontvlamming van opgebergte gifstowwe sal die atmosfeer met dodelike gasse soos koolstofmonoksied en sianied vul. Die nagevolge van só 'n oorlog sal ook ingrypend wees. Temperature sal ná die aanvanklike hittegolwe met tot 55 grade daal en die aarde onder 'n yslaag bedek. Hierdie toestand word as 'n kernwinter beskryf. Plantelewe sal verwoes word, terwyl waterbronne bevries en deur radioaktiewe stof besoedel sal wees. 'n Rookkombers sal oor die noordelike halfrond ontstaan waar die meeste ontploffings sal plaasvind, en die sonlig vir omtrent een maand geheel en al verduister. Dit sal ook na die suidelike halfrond uitbrei, en daarna sal die aarde vir 'n jaar in skemerte gehul wees. In dié tyd sal die maan rooi soos bloed en die son swart soos 'n harige sak wees (Op. 6:12).

Hierdie toestande sal pas voor die wederkoms van Christus in intensiteit toeneem. Wanneer die Antichris met sy wêreldwye vernietigingswerk klaar is, sal hy 'n multinasionale mag uit alle lande versamel en hulle in Israel ontplooi om sy twee laaste oorloë te voer (Op. 16:14-16). Sy een teiken sal Israel wees – dit is die oorblyfsel van die volk wat in afwagting op die ware Messias van Petra af na die Olyfberg sal optrek, saam met die Israeli's wat in daardie stadium nog in Jerusalem en omstreke sal woon (Sag. 14:2).

Sy laaste groot teiken sal Christus self en sy hemelse leërmag op die dag van sy wederkoms wees. Die Antichris sal besef dat dit die einde van sy koninkryk sal beteken, daarom sal hy alles in die stryd werp om teen die ware Messias te veg. Dit sal 'n totaal futiele poging wees, omdat Jesus die Koning van die konings is, wat alle mag in die hemel én op aarde het. Die Antichris sal deur hierdie konfrontasie sy eie ondergang sowel as dié van sy volgelinge bewerkstellig. Dit sal beslis nie 'n lang en uitgerekte stryd wees nie, maar 'n oombliklike verdelging van die vyandelike magte:

"En ek het die dier en die konings van die aarde en hulle leërs versameld gesien, om oorlog te voer teen Hom wat op die perd sit, en teen sy leër. En die dier is gevange geneem, en saam met hom die valse profeet wat die tekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle verlei het wat die merk van die dier ontvang en sy beeld aanbid het. Lewend is die twee gewerp in die vuurpoel wat met swawel brand. En die ander is gedood met die swaard wat uit die mond gaan van Hom wat op die perd sit; en al die voëls is versadig van hulle vlees" (Op. 19:19-21).

Sagaria sluit hierby aan wanneer hy sê: "En dit sal die plaag wees waarmee die Here die volke sal tref wat opgetrek het om teen Jerusalem te veg: Hy sal hulle vlees laat wegteer, terwyl hulle nog op hulle voete staan; en hulle oë sal wegteer in hulle holtes, en hulle tong wegteer in hulle mond" (Sag. 14:12).

Siektes

Dit is te begrype dat die besoedeling wat deur kernoorlogvoering, asook deur chemiese en kiemoorlogvoering veroorsaak sal word, na die ongekende voorkoms van pessiektes, vergiftiging en bestraling sal lei.

In die geval van 'n kernoorlog sal mense wat aan 'n groot vloed neutronstrale blootgestel word, onmiddellik sterf. Namate die energie van die strale afneem, kan dit steeds baie ernstige gevolge vir miljoene mense hê, afhangende van hoe intens die bestraling en hoe dig bevolk die gebied is. Hierdie strale het die vermoë om 'n mens se selstruktuur te verander, met die gevolg dat verskillende soorte kankergewasse kan ontwikkel. Dit kan van velkanker tot kwaadaardige gewasse in 'n persoon se ingewande wissel. Indien die neutronbestraling 'n redelike hoë energie het, kan dit versteurings tot diep in die weefsels veroorsaak. Dit kan ook die struktuur van vrouens se eierselle verander en na genetiese afwykings en wangeskapenheid by die geboorte van kinders lei.

Die effek op die omgewing sal enorm wees omdat natuurlike hulpbronne soos water, lug, grond en plante ook ná die ontploffings radioaktief sal raak. Plante wat bv. in radioaktiewe grond groei, neem hierdie besoedeling op, die vee wat dit vreet raak ook besmet, gevolglik is hulle vleis en melk nie vir menslike gebruik geskik nie. Selfs reënwater van wolke wat aan bestraling blootgestel is, word radioaktief. Hierbenewens vorm daar ná sulke ontploffings ook atoomwolke wat deur die wind voortgedryf word en hulle radioaktiewe stof oor groot gebiede laat neersif waar dit siekte, ellende en die dood vir mens én dier bring.

Die diereryk in die algemeen sal net so erg aan hierdie onsigbare maar dodelike aanslag op hom blootgestel wees. Dit sluit ook seediere in, wat nie die effek van die bestraling en die skokgolwe sal ontkom nie. Indien kernmissiele in die see ontplof, soos deur Openbaring 8 geïmpliseer, sal dit verwoestende gevolge vir seediere inhou. In die groot golwe en storms wat veroorsaak sal word, sal baie skepe ook sink. Openbaring 16:3 en 4 verwys selfs na 'n situasie waarin alle seelewe sal vrek en al die varswaterbronne besoedel en onbruikbaar sal wees. Die gevolge hiervan vir menslike lewe en gesondheid is onberekenbaar.

Die mens beskik oor die tegnologie om baie ander siektes en plae te veroorsaak. Verskeie Arabiese lande tref voorbereidings om aanvullend tot chemiese wapens soos mosterdgas ook 'n kiemoorlog te voer. Hulle beskik oor die vermoë om bakterië oor die leërs en stede van hulle vyande uit te strooi waardeur siektes soos disenterie (ontsteking van die ingewande en buikloop), antraks (miltsiekte), en buiktifus (ingewandskoors) veroorsaak kan word. 'n Biologiese aanleg is kleiner en minder gesofistikeerd as een vir die vervaardiging van chemiese wapens. Rusland en Amerika het gevorderde kennis op dié terrein, en verskeie Derde Wêreldlande stel in die moontlikheid van kiemoorlogvoering belang.

'n Siekte wat selektief is deurdat dit net dié mense sal tref wat die nommer van die dier aanvaar het, word in die groot verdrukking in opdrag van die Here gestuur:

"Toe gaan die eerste [engel] weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het" (Op. 16:2).

'n Eindtydse siekte wat ook tot 'n groot mate selektief is deurdat dit hoofsaaklik tot homoseksualiste en seksueel losbandige mense (veral diegene wat prostitute besoek) beperk is, asook dwelmverslaafdes wat hulleself met besoedelde naalde inspuit, is vigs – verworwe immuniteitsgebreksindroom. Die aantal onskuldige mense wat hierdie siekte deur bloedoortappings kry, is statisties onbeduidend. Aanvanklik is 'n persoon net HIV positief wanneer hy of sy met die virus besmet is en nog nie enige simptome toon nie. Die virus word dan deur seksuele kontak oorgedra. Later, wanneer die persoon die simptome van die siekte toon, is hy 'n vigslyer. Hierdie virus vernietig die mens se vermoë om teen siektes weerstand te bied, gevolglik sterf hy aan sekondêre oorsake soos longontsteking, velkanker, diarree of enige ander siekte wat hom aantas.

Die statistiek oor die omvang van hierdie siekte is uiters onvolledig en onbetroubaar. Die aantal vigsgevalle kan nog in 'n mate bepaal word, maar die aantal HIV besmette persone glad nie. Na raming is die koers van HIV besmetting in lande in Sentraal- en Oos-Afrika (in 2000) reeds sowat 40%. Kontaminasie versprei vinnig in seksueel permissiewe gemeenskappe waar daar ook baie toeriste aandoen, en het duidelik die potensiaal om in die afsienbare toekoms rampafmetings aan te neem. Die immoraliteit en losse sedes van die eindtyd is 'n gunstige teelaarde vir vigs.

Die Here verafsku homoseksualisme en hoerery, en dit kan een van die redes wees waarom daar ondanks intensiewe navorsing deur die beste mediese wetenskaplikes ter wêreld nog geen geneesmiddel daarvoor gevind is nie. Die Here gee die volgende ernstige waarskuwing aan mense wat in hierdie sondes volhard:

"Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards... sal die koninkryk van God beërwe nie" (1 Kor. 6:10).

Hoerery, wellus en sodomie kom aldrie in hierdie lys voor. Dink maar net aan die uiteinde van die stad Sodom, waaraan die woord sodomie ontleen is, waar daar 'n aggressiewe homoseksuele gemeenskap was. Sulke mense sal die vergelding vir hulle bose dade fisies in hulle liggame ontvang:

"Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike hartstogte, want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe en in hulleself die noodwendige vergelding van hulle dwaling ontvang" (Rom. 1:26-27).

In die eindtyd ontstaan daar weer, soos in die dae van Noag en Lot, 'n perverse en vervalle geslag mense wat hulle liggame onteer, deur die Antichris laat merk, en ook hulle siele vir tydelike gewin aan Satan bemaak. As gevolg van die verderflike toestand waarin hulle beland het, sal hulle te midde van die grootste benoudheid onberoulik bly. Dit is die rede waarom die sondaars in die groot verdrukking, soos die Egiptenaars tydens Israel se uittog, hulleself telkens weer sal verhard en hulle nie as gevolg van God se plae bekeer nie. Die bose swere, die skroeiende hitte, die hongersnood en al die natuurrampe sal hulle net nog meer laat laster:

"...en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie" (Op. 16:9).

In Openbaring 9 word ook bevestig dat die siekte- en rampgeteisterde oorlewendes hulle te midde van al die sterwende mense en ontbindende lyke rondom hulle, nog steeds nie van hul satanisme, hoerery en ander sondes sal bekeer nie:

"En die orige mense wat deur hierdie plae nie gedood is nie, het hulle nie bekeer van die werke van hul hande, om die duiwels te aanbid, of die afgode van goud en silwer en koper en klip en hout wat nie kan sien of hoor of loop nie. En hulle het hul nie bekeer van hul moorde en hul towerye en hul hoerery en diefstalle nie" (Op. 9:20-21).

Die vier groot sondes van die verdrukking is dus:

·        Geweldsmisdade: aanranding, moord, marteling en die mishandeling van mense en diere.

·        Okkultisme: towery, spiritisme, afgodediens en satanisme.

·        Seksuele losbandigheid: hoerery, owerspel, prostitusie, homoseksualisme en lesbinisme.

·        Ekonomiese misdade: diefstal, korrupsie, omkopery, afpersing, intimidasie en onregmatige selfverryking.

'n Mens wat reeds openlik vir Satan en sy werke kant gekies het, se sinne is so totaal verblind dat hy die leuen glo en die waarheid aanhoudend verwerp, terwyl hy volspoed en sonder nadenke na die verderf voortsnel.

Natuurrampe

Daar is verskeie tekens dat daar geweldige natuurrampe aan die kom is, soos dié wat die Bybel met die groot verdrukking in verband bring. Volgens wetenskaplikes vind daar 'n verhitting van die wêreld se klimaat plaas as gevolg van die groot hoeveelhede koolsuurgas en ander besoedelende stowwe wat in die atmosfeer vrygestel word. Ernstige skade is al aan die osoonlaag rondom die aarde aangerig, en groot gapings het daarin ontstaan. Hierdie beskermende laag is 'n skild teen ultraviolet strale, en die vertering daarvan deur skadelike gasse hou groot gesondheidsgevare in. Dit verhoog die risiko vir velkanker aansienlik.

Steeds neem die besoedelingsverskynsel groter afmetings aan. Gasse wat deur verskeie fabrieke in die lug vrygestel word, lei na suurreën. As gevolg hiervan is daar al plantasies en natuurlike woude in baie dele van die wêreld vernietig. Neem hierby ook nog die oorbenutting en verwoesting van natuurlike hulpbronne in ag, asook die enorme skaal waarop die riviere, mere en oseane deur fabrieksafval, ru-olie en gifstowwe besoedel word, en ons het die bestanddele vir 'n grootskaalse ekologiese ramp.

Klimaatsveranderinge veroorsaak ook 'n duidelike polarisasie in weersomstandighede. Dit kan in die toenemende droogtes en oorstromings, asook in uiterste hoë en lae temperature waargeneem word. Enersyds word miljoene mense deur nader kruipende woestyne bedreig, terwyl baie lande weer deur buitengewone hoë reënval, oorstromings en tifone geteister word. Dié uiterste toestande het 'n baie nadelige en selfs vernietigende effek op oeste. Vir die vinnig toenemende wêreldbevolking voorspel dit sekere hongersnood en ellende vir baie mense.

'n Natuurramp wat baie prominent in die eindtydse profesieë is, is aardbewings. Stygende spanning en onstabiliteit in die aardkors dui op die moontlikheid van 'n groot toename in aardbewings en vulkaniese uitbarstings. In digbevolkte gebiede waarin daar ook hoë geboue is, kan rampe van 'n geweldige omvang deur aardskokke veroorsaak word. Die Here Jesus het in sy profetiese rede oor hierdie tyd van groot beproewing gesê:

"En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer die see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in 'n wolk, met groot krag en heerlikheid" (Luk. 21:25-27).

Die groot rampe en plae wat veral in die tweede helfte van die verdrukking oor die aarde kom, sal duidelik as oordele van die Here erken word. Wanneer die toestand op sy haglikste is, sal Christus skielik sy verskyning op aarde maak. Die sondaars sal met groot vrees oorweldig word en paniekbevange van sy aangesig af probeer wegvlug:

"En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle versteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?" (Op. 6:12-17).

Dieselfde toneel word weer later in Openbaring beskryf:

"En die sewende engel het sy skaal uitgegooi in die lug, en 'n groot stem het uit die tempel van die hemel gekom, van die troon af, wat gesê het: Dit is verby! En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het 'n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so 'n geweldige groot aardbewing. En die groot stad is in drie dele verdeel, en die stede van die nasies het geval. En die groot Babilon is in gedagtenis gebring voor God, om haar te gee die beker met die wyn van die grimmigheid van sy toorn. En al die eilande het gevlug, en berge is daar nie gevind nie; en groot hael, omtrent 'n talent swaar (50 kg.), het uit die hemel op die mense geval; en die mense het God gelaster oor die plaag van die hael, omdat sy plaag ontsettend groot was" (Op. 16:17-21).

Vir haelstene van 50 kilogram om te val, beteken dat daar geweldige hoë temperature moet wees sodat die vog deur die stygende warm lug tot buitengewone hoë hoogtes opgevoer kan word. Die voorkoms van sulke hittegolwe word in dié hoofstuk bevestig:

"En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei... En die mense is geskroei met 'n groot hitte" (Op. 16:8-9).

Jesaja gee meer besonderhede hieroor:

"En die lig van die maan sal wees soos die lig van die son, en die lig van die son sal sewevoudig wees, soos die lig van sewe dae, op die dag as die Here die breuk van sy volk verbind en die wond gesond maak wat aan hulle geslaan is" (Jes. 30:26).

Die dag wanneer die Here kom om die oorblyfsel van sy volk te red en die nasies te oordeel, sal 'n dag van verskrikking wees wanneer die kragte van die hemel geskud sal word. Baie van die Ou Testamentiese profete het profesieë oor die dag van die Here uitgespreek. Mense sal enersyds deur skroeiende hitte en droogtes geteister word, en andersyds deur verstikkende duisternis en die gerammel van geweldige aardbewings. Die sondaars wat hulle harte verhard het, sal saam met hulle handewerk verbreek word en op die puinhoop van 'n verwoeste aarde beland:

"Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde 'n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg. Want die sterre van die hemel en sy Orions sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie. En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder. En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir. Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed" (Jes. 13:9-13).

Daar is baie meer sulke ernstige waarskuwings oor die oordele van die dag van die Here opgeteken, sodat mense nie die realiteit daarvan ligtelik opsy moet skuif nie. Die ontsettende omvang van die verwoesting, die redes daarvoor, naamlik 'n uiters sondige geslag mense soortgelyk aan dié in die tyd van Noag en Lot, asook die feit dat dit oordele van God is, word telkens beklemtoon:

"Kyk, die Here maak die aarde leeg en verwoes dit, en Hy keer sy oppervlakte om en verstrooi sy bewoners... Die aarde word heeltemal leeg gemaak en heeltemal geplunder, want die Here het hierdie woord gespreek... Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners: want hulle het die wette oortree, en die insettinge geskend, die ewige verbond verbreek. Daarom verteer die vloek die aarde en moet sy inwoners boet; daarom word die bewoners van die aarde deur 'n gloed verteer en bly daar min mense oor" (Jes. 24:1, 3, 5-6).

Die Here Jesus se Nuwe Testamentiese uitspraak oor die eindtyd sluit ten nouste hierby aan:

"Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie" (Matt. 24:21-22).

Van Christene word verwag om beslis van hierdie waarskuwings kennis te neem en, soos Noag, die nodige voorbereidings te tref om die rampe van God se oordele oor die ongelowiges te ontvlug. Hy was 'n regverdige man en het sy lewe volgens die wil van die Here ingerig. Terwyl hy aan die ark gebou het, het hy die wêreldlinge ernstig en by herhaling teen die komende oordele van die Here gewaarsku, sodat hulle bloed nie aan sy hand sou wees nie. Hulle het egter nie hierop gereageer nie en met hom die spot gedryf terwyl Hy God se woorde van waarskuwing verkondig het.

Lot moes ook geestelik waardig wees om Sodom en Gomorra se verwoesting vry te spring. Volgens die Here se wil wat aan Lot geopenbaar is, moes hy en sy gesin stappe neem om haastig uit die gedoemde stad te vlug. As hy nie regtig geglo het dat hierdie oordele voltrek sou word nie, en in sy hart nie volkome bereid was om van sy aardse besittings afskeid te neem nie, sou hy saam met dit in die vlamme omgekom het.

Ons is ook nie die voorwerp van God se toorn nie, maar dan moet ons geestelik waardig wees om pas voor hierdie donker dae in sy heerlike teenwoordigheid gestel te word:

"Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos 'n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan" (Luk. 21:34-36).

Het u al die nodige voorbereidings vir ontvlugting uit die oordele getref, soos wat Israel ook tydens hulle uittog uit Egipte moes doen deur onder die bloed van die Lam te skuil? Dubbelhartige mense wat die wêreld én die Here wil dien sal, soos Lot se vrou, vir die ontvlugting gediskwalifiseer word. Die tragedie is dat sy 'n blote meeloper in die koninkryk van die hemele was, en tot op die laaste oomblik net aangeneem het dat haar saak reg is. Ons word nie verniet herinner om aan Lot se vrou te dink nie! (Luk. 17:32).