9. Dit is Volbring!

Ons is in 'n terminale situasie baie naby aan die einde van die bedeling van die kerk. Weldra sal die basuin blaas en sal ons in 'n oomblik, in 'n oogwink met ons hemelse Bruidegom verenig wees. Kort daarna sal die Antichris geopenbaar word. Hy sal in 'n koorsagtige wedloop met die tyd gewikkel wees, omdat sy dae reg uit die staanspoor getel sal wees – 1 260 dae tot in die middel van die verdrukking, gevolg deur nóg 1 260 dae tot by sy skielike verdelging aan die einde van die sewe jaar. Die Bybel sê: "Wanneer hy kom, moet hy 'n kort tydjie bly" (Op. 17:10). Hy sal dus min dae hê om sy doel van massamisleiding, selfvergoddeliking en wraak teen sy teëstanders te verwesenlik.

Die beëindiging van hierdie bedeling het 'n regstreekse verband met die kritieke oomblik byna 2 000 jaar gelede toe Jesus aan die kruis uitgeroep het: Dit is volbring! Daar is toe aan al die eise vir die redding van sondaars voldoen, en daarna moes alle mense op aarde voor die keuse gestel word om dit óf te aanvaar óf te verwerp. Die geleentheid vir wêreldevangelisasie het egter nou min geword. Ons stuur vinnig op die tyd af wanneer die getroue diensknegte van Jesus beloon, en sy vyande onder die leierskap van die Antichris geoordeel en gestraf gaan word.

Om vír of téén Christus te wees, en weldra vir ewig op hierdie grondslag beoordeel te word, verg 'n duidelike begrip van Jesus se plaasvervangende dood aan die kruis vir ons. Wat is die volle betekenis van sy sterwenswoord toe Hy met 'n groot stem uitgeroep het: "Dit is volbring!"?

Jesus is aan 'n kruis vasgespyker om die straf vir die sonde van die ganse mensdom te betaal (Jes. 53:5-6). Omdat "die loon van die sonde die dood is" (Rom. 6:23), sou dit nie genoeg wees dat Hy slegs vir ons sondes ly nie – Hy móés ook in ons plek tereggestel word. Dit was eers toe Hy die doodstraf uitgedien het dat Hy aan die eise van God se plan vir die kwytskelding van sondaars voldoen het. In die laaste oomblikke toe Hy sy lewe afgelê het, het Hy gesê: "Vader, in u hande gee Ek my gees oor!" (Luk. 23:46). Direk daarna het Hy met sy laaste asem as 'n sterwenswoord uitgeroep: "Tetelestai!" – "Dit is volbring!" (Joh. 19:30).

Ten einde die betekenis van die woord tetelestai ten volle te kan begryp, sal ons kortliks na die verskillende gebruike daarvan in die eerste eeu moet kyk. Vir die mense van daardie tyd het dit veel meer gesê as vir ons vandag.

Ten volle betaal

In die eerste plek is die woord tetelestai volgens die Vocabulary of the Greek Testament as die sleutelwoord op 'n kwitansie gebruik. Dit het die betekenis gehad van ten volle betaal.

Het die gedagte ooit by jou opgekom dat die Here Jesus jou gekoop het toe Hy sy bloed gestort en sy lewe vir jou afgelê het? Paulus herinner ons daaraan wanneer hy sê:

"Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort" (1 Kor. 6:20).

Petrus sê:

"Julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos" (1 Pet. 1:18-19).

Die getuienis van die ouderlinge in die hemel bevestig die feit dat hulle ten volle daarvan bewus is dat hulle lewens deur die bloed van die Lam gekoop is:

"U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie" (Op. 5:9).

Geagte leser, het jy die versekering dat jou sondes betaal is? Voldoen jy aan die vereistes van bekering en die belydenis van jou sondes ten einde vergifnis daarvoor te kan verkry? Die Bybel sê:

"Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind" (Spr. 28:13; kyk ook 1 Joh. 1:8-9).

Ná ons bekering moet ons met die Here wandel en alle sondes bely waarvan die Heilige Gees ons oortuig (1 Joh. 2:1-2). Het jy vars datumstempels op jou kwitansie van kwytskelding?

Die Korinthiërs het weens hulle vleeslikheid 'n baie lakse houding in hulle geestelike lewe openbaar, en bewustelik met sekere sondes soos twis en jaloersheid volhard. Dit was 'n ernstige struikelblok in hulle ontwikkeling na geestelike volwassenheid, en hierdeur het hulle ook die Heilige Gees bedroef (1 Kor. 3: 1-3).

Moenie die nuwe lewe met 'n erfenis van vleeslike gesindhede en onbelyde sondes binnegaan nie. Dit sal jou aftrek en uiteindelik geestelik laat struikel. Die Here Jesus het die volle prys betaal om 'n volmaakte werk in jou lewe te doen. Hy wil jou red én heilig. Moet dus nie die troon van genade verlaat met verborge en onbelyde sondes in jou hart nie.

Vonnis uitgedien

Gedurende die eerste eeu was dit algemene praktyk om die klagstaat van 'n gevangene aan sy seldeur vas te spyker. Die oortredinge waarvoor hy veroordeel is, is daarop aangeteken, asook die vonnis wat hom opgelê is. Nadat hy sy tronkstraf uitgedien het, is die klagstaat van die seldeur verwyder en uitgekanselleer deur in groot letters daaroor te skryf: TETELESTAI ("Ten volle uitgedien"). Daarna is dit aan die betrokke persoon oorhandig, en niemand kon hom ooit weer vir dié oortredinge aankla nie – hy het die vonnis uitgedien en daardeur die prys vir sy misdade betaal.

In 'n geestelike sin is alle mense gevangenes van Satan, "want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God" (Rom. 3:23). Aangekla deur hulle sonde is hulle in die mag van Satan waar hulle in sy dodeselle hulle verhoor en veroordeling na die ewige dood voor die groot wit troon afwag. Die tronkbewaarder is die duiwel self, en geen persoon kan homself uit sy mag bevry en die doodstraf wat op hom wag, vryspring nie.

Om verlore sondaars te kan red, het Jesus Christus gewilliglik die doodstraf uitgedien wat in beginsel reeds oor alle sondaars uitgespreek is (Rom. 6:23). Ná sy opstanding uit die dode is Hy in 'n posisie om die klagstaat van elke verlore sondaar uit te kanselleer deur met sy bloed daaroor te skryf: Tetelestai – die vonnis is uitgedien:

"En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het, en die skuldbrief teen ons, wat met sy insettinge ons vyandig was, uitgedelg en weggeruim het deur dit aan die kruis vas te nael" (Kol. 2:13-14).

Die Verlosser is na die wêreld gestuur "om gevangenes uit die kerker uit te lei, uit die gevangenis diegene wat in die duisternis sit" (Jes. 42:7). Sy sending om diegene wat in die mag van Satan is, te bevry, word in Jesaja 61:1 herbevestig:

"Die Gees van die Here Here is op My, omdat die Here My gesalf het om 'n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om... vir die gevangenes 'n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis."

Is al die sondes waarvoor die duiwel jou by die troon van God aangekla het, uitgewis deur die bloed van die Lam? Indien wel, dan kan niemand jou ooit weer hiervoor aankla en beskuldig nie. Dit maak nie saak hoe ernstig hierdie oortredinge was nie, want die straf daarvoor is reeds ten volle betaal. Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus jou vrygekoop het (Gal. 5:1).

Die oorwinning is behaal

'n Derde gebruik vir die term tetelestai was in verband met suksesvolle militêre operasies teen die vyand. Wanneer 'n generaal van die slagveld af teruggekeer het, het hy van sy krygsgevangenes in Rome se strate geparadeer en sy oorwinning geproklameer deur uit te roep: Tetelestai... tetelestai... Deur hierdie uitroep van oorwinning is 'n duidelike stelling gemaak, nl.: sending volbring.

Hoewel dit Jesus se sterwenswoord aan die kruis was, het Hy sy oorwinning oor die vyand aangekondig deur uit te roep: Tetelestai! Om te sterwe was dus vir Hom 'n groot oorwinning, "sodat Hy deur die dood hom tot niet kon maak wat mag oor die dood het – dit is die duiwel – en almal kon bevry wat hulle hele lewe lank uit vrees vir die dood aan slawerny onderworpe was" (Heb. 2:14-15). Dit was 'n groot triomf oor die vyand van ons siele:

"Hy [het] die owerhede en magte uitgeklee en hulle in die openbaar tentoongestel en daardeur oor hulle getriomfeer" (Kol. 2:15).

Die Here Jesus het wél oor die vyand getriomfeer, maar Hy het hom nie uitgewis nie. Die duiwel is steeds baie aktief op aarde, daarom word ons opgeroep om deelgenote van die oorwinning op Golgota te word (Rom. 8:37).

'n Eindtydse strategie

Laat ons die meeste van die oorblywende tyd maak en dit uitkoop om die Here te dien en sy koninkryk op aarde uit te brei. Die skadu's is besig om lank te rek en die tyd loop vinnig uit. Soos Jesus, moet ons ook 'n dringendheid omtrent ons opdrag hê:

"Ek moet die werke doen van Hom wat My gestuur het, so lank as dit dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie" (Joh. 9:4).

Die nag van God se oordele in die groot verdrukking kom vinnig nader, en daar is nog baie onafgehandelde werk in sy koninkryk voordat die basuin blaas. Die verlorenes moet gered word en die Christene voorberei word vir die ontmoeting met die hemelse Bruidegom:

"Christus het die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees" (Ef. 5:25-27).

Jesus is nie net jou Verlosser uit die dodesel van Satan nie – Hy is ook jou Heiligmaking om jou in 'n lewe van reinheid, oorwinning en godsvrug in te lei.