Openbaring se volle titel is: “Die Openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur” (Op. 1:1). God openbaar sy toekomstige raadsplan deur Jesus Christus aan die apostel Johannes op die eiland Patmos, en deur hom aan die ganse kerk op aarde. Om die boek reg te kan verstaan, moet ons eers kyk hoedat Jesus Christus self aan ons geopenbaar word, en daarna die ander profesieë in die lig hiervan bestudeer. In Openbaring word Hy in die volgende agt hoedanighede aan ons geopenbaar:
1. Hy is die ewig bestaande Skepper van die wêreld. Die eerste én laaste hoofstukke van Openbaring beskryf die Here Jesus as die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste (Op. 1:8,11,17; 22:13). Hy is “die begin van die skepping van God” (Op. 3:14). Dit sluit aan by wat Johannes vroeër reeds in sy Evangelie oor Hom geskryf het: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Joh. 1:3). Paulus sê: “In Hom is alle dinge geskape... Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand” (Kol. 1:16-17). Aan die einde, wanneer die huidige hemel en aarde deur vuur sal vergaan, sal die Here Jesus ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep. Dit is die rede waarom Hy in Openbaring sê: “Kyk, Ek maak alles nuut” (Op. 21:5).
2. Hy is die lydende Christus wat vir ons sonde gely en gesterf het. Hy word 26 keer in Openbaring die Lam genoem, met die uitdruklike bedoeling dat ons moet besef dat Hy vir die sondes van die hele wêreld geoffer is. Die ouderlinge in die hemel sê dat Hy geslag is en ons vir God met sy bloed gekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie (Op. 5:9). Wanneer Hy weer kom, sal elke oog Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het (Op. 1:7).
3. Hy is die verrese Christus wat die dood oorwin en opgestaan het. Hy sê: “Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid” (Op. 1:18). Hy is die Hoof van die gemeente wat deur die Heilige Gees in ons midde is. Hy stel Homself aan die martelaarsgemeente in Smirna voor as die eerste en die laaste, wat dood was en lewend geword het (Op. 2:8). Ons aanbid en volg ‘n lewende Christus wat die graf en die dood oorwin het, daarom verkry almal wat in Hom glo, die ewige lewe en word opgeroep om in sy voetspore te volg (1 Pet. 2:21; 1 Joh. 2:6).
4. Hy is die verheerlikte Christus wat ‘n lang kleed met ‘n goue gordel aan het. Hierdeur word sy hoëpriesterlike en koninklike waardigheid weerspieël. Sy hare is wit soos wit wol, wat op sy wysheid dui, en sy oë soos ‘n vuurvlam wat deur alles kan sien. In Hom is alle skatte van wysheid en kennis verborge – Hy weet alles en ken selfs al ons gedagtes. Sy voete is soos gloeiende koper in ‘n oond en sy stem soos dié van baie waters. Sy aangesig blink soos die son wat skyn in sy krag (Op. 1:13-16). In sy heerlikheid is Hy ver bo sy skepping verhewe.
5. Hy is die Regter van die kerk wat nou reeds deur sy Woord die geloof en werke van alle gemeentes en individue beoordeel. Elkeen van die sewe gemeentes kry ‘n boodskap van die Here Jesus waarin Hy sê: “Ek ken jou werke.” Diegene wat op die regte pad is, word bemoedig om te volhard en as oorwinnaars uit die stryd te tree, terwyl die dwalendes ernstig gewaarsku word. Hy sê dat Hy die afvallige en vormgodsdienstige gemeentelede wat nie op sy vermanings ag slaan nie, in ‘n groot verdrukking sal werp as hulle hul nie van hul werke bekeer nie (Op. 2:22). Die finale beoordeling van die werke van gelowiges sal in die hemel voor die regterstoel van Christus plaasvind (2 Kor. 5:10). Die getroue dissipels sal genadeloon in die vorm van krone kry, daarom tref ons die ouderlinge in Openbaring 4 en 5 met goue krone op hulle hoofde aan – hulle het dan al reeds voor die Regter van die kerk verskyn.
6. Hy is die Regter van die wêreld wat in die sewe jaar lange verdrukking wat vanaf Openbaring 6 tot 19 beskryf word, groot oordele van sy troon in die hemel af oor ‘n sondige wêreld sal uitstort. Die sondaars sal vreesbevange uitroep: “Die groot dag van die Lam se toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Op. 6:17). Hulle sal weet dat al hierdie oordele oor hulle kom omdat hulle die soenoffer van die Lam op Gólgota verwerp het. Ná sy wederkoms sal Christus van sy troon van heerlikheid af die oorblyfsel van die nasies op aarde oordeel (Matt. 25:31-32). Aan die einde van die vrederyk sal Hy by die eindoordeel, van die groot wit troon af, die Regter van al die goddeloses van alle eeue wees (Op. 20:11-15; Hand. 17:30-31).
7. Hy is die hemelse Bruidegom wat ná die wegraping met sy bruidsgemeente verenig sal word sodat hulle in sy heerlikheid kan deel en saam met Hom regeer. Daar gaan dus ‘n huwelik in die hemel bevestig word, en ná die sewe jaar van verdrukking ‘n bruilofsfees op aarde gevier word. Net voor die openbaring van Jesus Christus in heerlikheid op aarde, word die volgende aankondiging gemaak: “Die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak” (Op. 19:7).
8. Hy is die Koning van die konings wat in Openbaring 19 terugkeer aarde toe om sy vyande te verdelg en, volgens Openbaring 20, sy duisendjarige vrederyk op aarde te vestig. In Handelinge 15:16-17 sê Hy dat Hy met sy wederkoms die vervalle troon van Dawid sal herstel, wat beteken dat Hy uit Jerusalem oor Israel én die hele wêreld sal regeer. Hy sal ook volgens Openbaring 21 en 22 as die Ewige Koning in die nuwe hemel en op die nuwe aarde regeer. Ewige heerlikheid sal heers en daar sal nooit weer enige ongeregtigheid, sonde of droefheid inkom wat dié heilige omgewing kan besoedel nie.
Dit is belangrik om die uitbeelding van Jesus Christus as die Hoof van die gemeente in Openbaring 1 raak te sien. Johannes het ‘n stem met hom hoor spreek: “Toe draai ek my om, om te sien watter stem met my gespreek het; en toe ek my omgedraai het, sien ek sewe goue kandelaars, en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens” (Op. 1:12-13). Johannes het eerste die kandelaars gesien, en daarna die Een wat tussen die kandelaars wandel. Jesus Christus het in daardie stadium liggaamlik reeds opgevaar hemel toe, maar Hy is deur die Heilige Gees in die midde van sy gemeente. Die Here Jesus neem in sy getroue gemeentelede se lewens gestalte aan. Hy vertrou sy woorde aan hulle toe sodat nie net die gemeentelede self nie, maar ook die hele wêreld, daardeur aangespreek kan word.
Hierdeur word ‘n belangrike beginsel vir die hele kerkdispensasie gevestig: Jesus Christus openbaar Homself deur weergebore gemeentelede wat sy liggaam op aarde is, en ook deur sy Woord wat Hy aan hulle gegee het. Aan sy getroue dissipels sal Hy sê: “Jy het my Woord bewaar en my Naam nie verloën nie” (Op. 3:8). Dit plaas ‘n groot verantwoordelikheid op die lede van sy liggaam om Hom met hulle hele hart lief te hê, waardige getuies van Hom in die wêreld te wees, asook toonbeelde van sy liefde en genade. Die wêreld moet Christus in ons kan sien.
Die eenheidsverband tussen die Here Jesus en sy liggaam op aarde beklemtoon ‘n baie belangrike feit, naamlik dat alle weergebore Christene nie net medewerkers van God is om vir Hom te werk nie (1 Kor. 3:9), maar ook as die bruidsgemeente van Christus intiem aan Hom verbonde is en in sy ewige heerlikheid sal deel. Deur briewe aan die sewe gemeentes roep die Here Jesus almal van ons op om heiligmaking en diensbaarheid na te streef terwyl ons opleef na die hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14).
Die Here Jesus werk aktief deur sy gemeente in die uitbreiding van sy koninkryk. In die huidige dispensasie evangeliseer Hy die wêreld deur toegewyde gemeentelede wat Hom volg en met sy Gees vervul is. Nadat die kerkbedeling verby is, sal Christus die ongeredde wêreld in die verdrukking oordeel, maar eers nadat sy getroue getuies in verheerlikte liggame by Hom versamel is om saam met Hom die wêreld te oordeel (1 Kor. 6:2). Dit is die rede waarom die ouderlinge, wat die verheerlikte kerk voorstel, eers rondom die troon moet wees voordat die Lam die eerste seël van sy oordele oor die wêreld in Openbaring 6 sal oopmaak. Ná die tyd van oordele sal hulle saam met Hom as konings oor die wêreld regeer (Op. 5:10; 20:4-6). Die verhewe doel wat die Here Jesus met sy kerk op aarde het, is die rede waarom Hy hoë geestelike standaarde aan sy dissipels stel. Die sewe briewe word met die oog op morele reinheid, leerstellige suiwerheid en ywer in die Here se diens aan die gemeentes gerig, maar ook as ernstige waarskuwings aan die afvalliges en kompromiemakers.
Direk ná die inleidende hoofstuk van Openbaring word die kerkbedeling beskryf, waarin Christene geroep word om onder moeilike omstandighede en te midde van groot afvalligheid getuies vir Jesus Christus in ‘n bose wêreld te wees. Hulle moet aan die dood van die lydende Messias gelykvormig word, sodat hulle in die krag van sy opstanding kan leef en eendag in heerlikheid saam met Hom geopenbaar kan word om saam met Hom te regeer.
Daar is verskeie dispensasies, of bedelings, in die menslike geskiedenis. Die dispensasie wat ná die eerste koms, die kruisiging en hemelvaart van Jesus begin het, is die bedeling van die kerk. Dit is waar die boek Openbaring begin – by die verheerlikte Christus net ná sy hemelvaart. Die Heilige Gees is uitgestort en die Here Jesus wandel deur sy Gees in die midde van sy gemeente op aarde.
Direk ná die kerkbedeling wat in Openbaring 2 en 3 beskryf word, kry ons in Openbaring 4:1 die uitdrukking: “Ná hierdie dinge…” Dit dui baie duidelik aan dat alle dinge wat van hierdie oomblik af bespreek word, ná die kerkdispensasie sal plaasvind. In die hemel sal Jesus Christus as Regter aan sy gemeente geopenbaar word, waar hulle voor sy regterstoel hulle genadeloon sal ontvang (vgl. 2 Kor. 5:10). Hierna tref ons die verheerlikte kerk in Openbaring 4-5 rondom die Here se troon aan. Op aarde sal die dispensasie van die Antichris se sewe jaar lange regering aanbreek. Gedurende die sewe jaar van die verdrukking sal die Here Jesus as Regter verskeie oordele oor die wêreld uitstort, maar onder daardie haglike omstandighede nog steeds genade aan berouvolle sondaars bied.
Dit is nie net Jesus Christus en sy hemelse koninkryk wat geopenbaar gaan word nie, maar ook die Antichris en sy koninkryk van geestelike duisternis. Die valse profeet, asook die valse, ekumeniese wêreldgodsdiens (die moeder van die hoere) is ‘n deel van die verborgenheid van die Antichris wat in die verdrukking geopenbaar gaan word. Die Antichris word as ‘n dier met sewe koppe beskryf, terwyl die valse godsdiensorganisasie as ‘n ontugtige vrou op sy rug voorgestel word. Die engel het vir Johannes gesê: “Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel, en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra” (Op. 17:7).
Ná die regering van die Antichris sal Christus terugkeer aarde toe, die Antichris en sy meelopers verdelg, en dan die bedeling van God se geopenbaarde koninkryk op aarde vestig (Op. 20:1-6). In die Onse Vader-gebed word ons geleer om te bid: “Laat u koninkryk kom…” Hierdie koninkryk wat tans verborge is, sal met die wederkoms van Christus sigbaar geopenbaar word (Op. 11:15).
Ná afloop van die duisendjarige vrederyk sal die laaste bedeling van volmaakte geluk vir die regverdiges op die nuwe aarde en in die nuwe hemel aanbreek (Op. 21:7), asook die ewige straf vir die goddeloses in die onuitbluslike poel van vuur (Op. 21:8). Hierdie bedeling sal ewigdurend wees.
Johannes gee in die eerste hoofstuk van Openbaring aan ons ‘n vaste riglyn dat ons die beskrywing chronologies en dispensasioneel moet verstaan. Hy het die duidelike opdrag gekry: “Skryf die dinge op wat jy gesien het, die dinge wat is sowel as die wat gaan gebeur” (Op. 1:19). Die dinge wat hy gesien het, is die verheerlikte Christus aan die begin van die kerkbedeling. Die dinge wat is, dui op die kerkbedeling waarin Johannes in die jaar 95 reeds was toe hy die visioene ontvang het. Hierdie bedeling sal tot met die wegvoering van die gemeente voortduur. Die dinge wat gaan gebeur, is alles wat ná die wegraping sal plaasvind. Dit sluit die verdrukking van sewe jaar, die duisendjarige vrederyk én die daaropvolgende skepping van die nuwe hemel en aarde in.
In die breë chronologiese struktuur van Openbaring volg gebeure mekaar só op:
· Die verheerlikte Christus ná sy hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees om die kerk op aarde te vestig (hfst. 1).
· Die bedeling van die kerk van Christus op aarde (hfst. 2 en 3).
· Die verheerlikte kerk in die hemel ná die wegraping (hfst. 4 en 5).
· Die bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar, dit is die verdrukking, waartydens groot oordele van God oor die aarde en sy bewoners uitgegiet sal word (hfst. 6 tot 19).
· Die sigbare koms van Jesus om die bedeling van die Antichris te beëindig en die bedeling van die koninkryk te vestig (hfst. 19).
· Die bedeling van die koninkryk [die duisendjarige vrederyk] en die eindoordeel (hfst. 20).
· Die bedeling van die ewigheid in die nuwe hemel en op die nuwe aarde (hfst. 21 en 22).
Binne hierdie vaste raamwerk, waarin die bedeling van die Antichris se regering duidelik tussen die bedeling van die kerk en die bedeling van die geopenbaarde koninkryk van Christus geplaas word, word die detail van die Antichris se regeringstyd van sewe jaar meesal nie chronologies nie, maar onderwerpsgewys, bespreek. Die sewe seëls, die sewe basuine en die sewe laaste plae identifiseer die aard van gebeurtenisse, en nie altyd die chronologiese opeenvolging daarvan nie. Soms ís daar ‘n chronologiese verband, maar dikwels vind gebeurtenisse gelyktydig plaas. Sekere gebeure strek oor 3½ jaar of langer, en vind gelyktydig met baie ander dinge plaas.
Die ses seëls van Openbaring 6 beeld gebeurtenisse oor die hele sewe jaar uit:
· Die wit perd (eerste seël) beeld die Antichris se rol as vredevors gedurende die eerste 3½ jaar uit. Dit is die tyd van valse vrede en eenheid op aarde.
· Die rooi perd (tweede seël) beeld sy rol as militêre diktator in die laaste 3½ jaar van sy bewind uit. Hierdie 3½ jaar staan as die groot verdrukking bekend.
· Die swart perd (derde seël) beeld sy rol as ekonomiese diktator en voedselrantsoeneerder in die laaste 3½ jaar uit.
· Die vaal perd (vierde seël) beeld die Antichris se rol as mensemoordenaar in die laaste 3½ jaar uit, en val saam met sy militêre, ekonomiese en godsdienstige diktatuur.
· Die vyfde seël van die martelare verwys na die tweede 3½ jaar van die Antichris se skrikbewind tydens die groot verdrukking.
· Die sesde seël beskryf apokaliptiese rampe wat aan die einde van die sewe jaar sal plaasvind.
Openbaring 7 het ook ‘n toepassing in die hele sewe jaar van die verdrukking. Die 144 000 Joodse evangeliste van Openbaring 7:1-8 word aan die begin van die sewe jaar gered en hulle tree gedurende die eerste 3½ jaar op. Die Christenmartelare van Openbaring 7:9-17 word meesal in die eerste 3½ jaar gered, maar hoofsaaklik in die laaste 3½ jaar vervolg en tereggestel. Openbaring 7:14 bevestig die feit dat hulle uit “die groot verdrukking” (m.a.w. die tweede helfte van die jaarweek) in die hemel aankom waar elkeen ‘n wit kleed sal kry.
Die gebeurtenisse van Openbaring 12 en 13 vind in die middel van die verdrukking plaas. Dit beëindig die eerste 3½ jaar van valse vrede en lui die Antichris se militêre diktatuur van 3½ jaar in.
Gedurende die laaste 3½ jaar word die rampe, pessiektes en plae progressief erger – aanvanklik ná die blaas van die basuine en daarna weens die uitgiet van die sewe skale van God se grimmigheid oor die ryk van die dier.
Hoewel Babilon eers in Openbaring 17 en 18 bespreek word, het dit op die hele sewe jaar betrekking. Verborge Babilon (die valse wêreldkerk van Op. 17) verskyn reeds aan die begin van sewe jaar, en sy word in die middel van die sewe jaar vernietig wanneer die Antichris homself tot God verklaar. Politieke en ekonomiese Babilon (die groot stad van Op. 18) bereik die toppunt van sy mag in die tweede 3½ jaar, en word aan die einde van die sewe jaar tydens die wederkoms van Christus vernietig.
In die eindtydse profesieë van Openbaring word daar soms na die historiese oorsaak van ‘n krisis of saak terugverwys as ‘n verklaring waarom die bepaalde konflik in die eindtyd verder gevoer word. In Openbaring 12:3-4 word daar na die uitwerping van Satan en sy gevalle engele uit die hemel verwys, asook na sy poging, duisende jare later, om die vrou (Israel) se manlike Kind (Jesus) kort ná sy geboorte dood te maak. Teen hierdie agtergrond is dit duidelik waarom Satan deur die eeue heen die vrou, Israel, vervolg het, asook die dissipels van haar Seun in die kerk onder alle nasies. In die verdrukking sal Satan sy eeue-oue stryd teen Israel en die gelowiges onder die nasies voortsit, en ook weer ‘n poging aanwend om Jesus dood te maak wanneer Hy vir ‘n tweede keer na die aarde toe kom. Dit sal veral by die duiwel ‘n hoë prioriteit wees om teen Christus self te veg, omdat hy weet dat Jesus sal terugkeer om die Antichris se sataniese wêreldryk te verdelg en self oor die nasies te regeer. Satan weet ook dat hy gedurende daardie tyd vir ‘n duisend jaar lank in ‘n put gebind sal wees, en hy gaan alles in die stryd werp om dit te probeer voorkom.
Die terugverwysing na vroeëre gebeurtenisse in hierdie stryd help ons dus om dit wat in die verdrukking gaan gebeur, beter te verstaan. So ook word gesê dat die valse Babiloniese godsdiens, die ontugtige vrou van Openbaring 17, met die konings van die aarde gehoereer het (Op. 17:2). Dit dui op die bose invloed wat sy deur die eeue heen oor die volke van die wêreld uitgeoefen het om hulle geestelik te mislei en ontrou aan die ware God te maak. Om hierdie rede neem sy as “die moeder van die hoere” in die eindtyd ‘n ekumeniese gestalte aan sodat sy openlik met die Antichris kan saamwerk en daarna geoordeel kan word.
Die Here Jesus wys die martelaarsgemeente ook op die historiese feit van sy lyding, sterwe en opstanding, sodat hulle in die lig daarvan moed kan skep en volhard tot die einde toe – al beteken dit ‘n marteldood ter wille van hulle geloof in Hom: “Ek was dood en kyk, Ek leef tot in alle ewigheid” (Op. 1:18; 2:8).
‘n Verdere perspektief in verband met Openbaring wat goed begryp moet word, is die rol wat Israel in hierdie gebeurtenisse vervul. Johannes sê oor die sigbare verskyning van Christus: “Kyk, Hy kom met die wolke, en elke oog sal Hom sien, ook hulle wat Hom deursteek het; en al die geslagte van die aarde sal oor Hom rou bedryf” (Op. 1:7).
Israel is die volk wat vir Jesus tydens sy eerste koms verwerp en op sy kruisiging aangedring het. Hulle sal dus in hulle land terug wees wanneer die Here Jesus terugkeer aarde toe, na dieselfde plek vanwaar Hy na die hemel opgevaar het – op die Olyfberg, net oos van die Tempelberg in Jerusalem. Die profeet Sagaria het oor die Messias se koms in mag en heerlikheid gesê: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5). Die wederkomstoneel wat in Openbaring 19 beskryf word, sal dus in en om Jerusalem afspeel.
Op daardie dag sal die oorblyfsel van al die volke rou bedryf oor die feit dat hulle Jesus verwerp het, en met smeekbede en die belydenis van hulle sonde en rebellie voor Hom neerbuig. Onder hulle sal die hele oorblyfsel van Israel wees. Sagaria sê dat die Jode sal opsien na Hom vir wie hulle deurboor het, en hulle sal oor Hom rouklaag soos ‘n mens rouklaag oor ‘n enigste seun, en bitterlik oor Hom ween soos ‘n mens bitterlik ween oor ‘n eersgebore kind (Sag. 12:10).
In Openbaring 11:1-2 word na die tempel in Jerusalem verwys wat in die verdrukking met die toestemming van die valse messias gebou sal word. In hierdie tempel sal die valse messias homself tot God verklaar (2 Thess. 2:4) en die afgodsbeeld van hom waarna Openbaring 13:14-15 verwys, daarin laat oprig.
In Openbaring 12 is ook ‘n belangrike verwysing na Israel. Die beeld van ‘n getroude vrou met ‘n kind word hier gebruik, wat sonder enige twyfel op Israel dui. Van haar manlike Kind word gesê dat Hy al die nasies met ‘n ystersepter sal regeer, en dat Hy weggeruk is na God en sy troon (Op. 12:5). Dit dui op die Here Jesus wat na die hemel opgevaar het, en aan die einde van hierdie bedeling sal terugkom om die nasies in die vrederyk te regeer. Sy moeder na die vlees is die volk Israel uit wie Hy gebore is. Christus is nie uit die kerk gebore nie, maar wél uit Israel. Romeine 9:5 bevestig die feit dat Israel ‘n volk is uit wie ‘n God gebore is. In Openbaring 12:13-14 word gesê dat die nakomelinge van hierdie vrou (die eindtydse Jode) vir 3½ jaar na die woestyn sal vlug waar die Here hulle van uitwissing sal red en tot aan die einde van die groot verdrukking sal bewaar en onderhou.
Die volgende vaste feite blyk uit Openbaring self, en moet in die bestudering en vertolking van hierdie belangrike profetiese boek in ag geneem word:
· Die kerkbedeling eindig by Openbaring 3, so ook die gebruik van die uitdrukking: “Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê” (vgl. Op. 3:22). Hierna spreek die Gees wél gelowiges in Israel én die nasies aan, maar nooit in gemeenteverband nie (vgl. Op. 14:13). Die ware kerk wat misterieus aan die einde van Openbaring 3 op aarde verdwyn, verskyn in sy verheerlikte voorkoms in Openbaring 4 in die hemel.
· Al die gebeurtenisse wat vanaf Openbaring 6 tot 19 beskryf word, gebeur streng binne ‘n tydsraamwerk van sewe jaar. Die twee helftes van hierdie jaarweek het elk 42 maande of 1260 dae (Op. 11:2-3, 13:5; vgl. ook Dan. 9:27 en 12:11). Dit is dus ‘n tydperk wat duidelik geïdentifiseer is en onder geen omstandighede simbolies verklaar en met die kerkbedeling verwar moet word nie.
· Die Antichris en valse profeet verwys nie na abstrakte, simboliese begrippe nie, maar sal lewende persone wees wat op die dag van die wederkoms in die poel van vuur gewerp sal word (Op. 19:19-20). ‘n Onpersoonlike stelsel kan nie in die hel gegooi word nie – net die mense wat uitvoering daaraan gegee het.
· In Openbaring 19, waar die wederkoms van Jesus beskryf word, maak die kerk weer sy verskyning saam met Christus op aarde (Op. 19:7-8). Dit is ‘n bevestiging van Kolossense 3:4 en Sagaria 14:5. Daar is geen sprake daarvan dat gelowiges nou soos konings saam met die Here Jesus oor die aarde regeer nie, want hulle is vreemdelinge en bywoners in ‘n bose wêreld (1 Pet. 2:11).
· Die duisendjarige vrederyk wat in Openbaring 20 beskryf word, kan eers ná die wederkoms van Christus aanbreek, want dan sal Satan vir ‘n duisend jaar in ‘n put gebind word. Op die oomblik is hy nie in ‘n put gebind nie, maar loop hy rond soos ‘n brullende leeu om te kyk wie hy kan verslind (1 Pet. 5:8).
Wanneer die struktuur en samestelling van Openbaring in ag geneem word, is die profesieë van hierdie boek verstaanbaar en logies. Dit is nie ‘n verborgenheid nie, maar ‘n openbaring. Die boek se eie uitspraak dat die getuienis van Jesus die gees van die profesie is (Op. 19:10), bevestig die sentrale rol wat Jesus Christus daarin speel. Die lotgevalle van mense, in seën én in oordeel, staan in ‘n direkte verband met hulle verhouding teenoor Christus. Dit geld vir alle mense op aarde – Hy is óf jou Redder, óf Hy sal jou Regter wees wat jou weens jou sonde en ongeloof tot die ewige poel van vuur sal veroordeel. Ons is nou nog in genadetyd en kan van die duisternis af oorkom na die Here se wonderbare lig. Dan sal Jesus Christus nie vir ons tot ‘n val wees nie, maar tot ‘n opstanding in ‘n nuwe lewe.
Die nuwe hemel en nuwe aarde wat in Openbaring 21 en 22 beskryf word, asook die ewige poel van vuur in Openbaring 21:8, dui die finale bestemmings van alle mense aan – sowel diegene wat hulle op die Here se smal weg bevind het as die miljoene mense op Satan se breë weg.
Jesus Christus is die poort na die ewige heerlikheid wat Hy gaan berei het vir dié wat Hom liefhet. Hy is die Een wat almal gaan oordeel wat sy reddende genade verwerp het omdat hulle die pad van die sonde bó Hom verkies het. Mense gaan aan die mag van die Antichris oorgegee word omdat hulle nie die gesag en koningskap van die ware Christus in hulle lewe aanvaar het nie. Die Here Jesus gaan ook terugkom om die troon van Dawid in Jerusalem te herstel en sy koningskap sigbaar op aarde te vestig. Voor Hom sal elke knie buig en elke tong bely dat Hy die Here is!
Johannes was in die Gees op die dag van die Here. Hy het met profetiese vleuels van verrukking opgestyg en oor ongebore eeue gereis om die ontvouing van God se plan in die ontsagwekkende gebeure van die groot en verskriklike dag van die Here te aanskou. Die dag van die Here is ‘n tydperk van ‘n duisend jaar waarin die Here Jesus Homself op ‘n baie besondere wyse aan die hele mensdom gaan openbaar:
· By die regterstoel van Christus gaan Hy Homself net ná die wegraping aan sy diensknegte (die ware kerk) openbaar om aan hulle hul loon te gee. Paulus het uitgesien na die krone wat die Here, die regverdige Regter, hom in “dié dag” [van die Here] sal gee (2 Tim. 4:8).
· In die sewe jaar lange verdrukking sal die Here Jesus die seëls van God se oordele oor ‘n onbekeerlike wêreld oopmaak. Die kragte van die hemele sal geskud word (Op. 6:15-17).
· By sy wederkoms ná die groot verdrukking sal Hy as Koning van die konings geopenbaar word en sy duisendjarige vrederyk op aarde vestig (Op. 19:11-15).
· Aan die einde van die vrederyk sal Hy die Regter van die goddeloses wees wat in die tweede opstanding opgewek sal word om voor die groot wit troon te verskyn (Op. 20:11-15).
· Hierna sal Hy ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde skep waarin geregtigheid woon (Op. 21:1-5).
Ongelukkig beskou baie mense Openbaring as ‘n geslote, simboliese boek en doen nie moeite om dit te bestudeer en te verstaan nie. Hulle raai ander mense selfs daarvan af om die profesieë intensief te ondersoek. Daardeur doen hulle iets waarteen die Here ons juis waarsku: “Moenie die woorde van die profesie van hierdie boek verseël nie, want die tyd is naby” (Op. 22:10).
Die Here beloof ‘n spesiale seën aan almal wat die profesieë van Openbaring bewaar (Op. 1:3; 22:7). Die beloftes en waarskuwings in die boek moet ter harte geneem word. Die vervulling van Bybelse profesieë sal aan ons insig in en die regte ingesteldheid teenoor ons tydsomstandighede gee. Ons sal kan sien hoedat strukture vir die Antichris se wêreldregering, wêreldgodsdiens en wêreldekonomie geskep word, en ook begryp dat ons as sy teëhouers alles moontlik moet doen om die goddelose hervormings en godsdienstige kompromie van ons tyd teë te staan. As ons dit nie doen nie, sal ons as oningeligte mense wat geen weerstand kan bied nie, deur die krag van die dwaling meegesleur word om saam aan die Babiloniese samelewingsorde van die eindtyd te bou. Die Here roep al sy kinders tot gereedheid op deur ‘n nuwe oorgawe aan Hom te doen (Luk. 21:36; Mark. 13:33-37), misleiding te weerstaan, die waarheid te verkondig en sy koms te verwag.