10. Bruilof van die Lam

Gebed: Ons dank U, o Here, vir die ewige heerlikheid wat U berei het vir dié wat U liefhet – daardie wonderstad met sy pêrelpoorte en goue strate, en ook die ivoorpaleis waarin die bruilof van die Lam gevier sal word. Onuitspreeklike heerlikheid wat die oog nie gesien, die oor nie gehoor en in die hart van die mens nog nie opgekom het nie, wat U vir ons gaan berei het. Die poort na hierdie heerlikheid is Golgota, waar verlore mense met God versoen kan word. Dankie, Here Jesus, dat U bereid was om Uself tot die wrede kruisdood te verneder om sondaars te red. Omdat U dit gedoen het, het die Vader U uitermate verhoog en ‘n Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elke knie sal buig en elke tong sal bely dat Hy Here is. U is ook ons Bruidegom wat spoedig sal kom om u bruidsgemeente te kom haal. Berei ons vir hierdie wonderlike geleentheid voor sodat ons onberispelik voor U kan verskyn. Ons vra dit tot die eer van u wonderlike Naam, amen.

Die ware kerk van Christus word dikwels as die bruid en die vrou van die Lam beskryf (Matt. 25:1-13; 2 Kor. 11:2; Op. 19:7-8). Wanneer ons gered word, moet ons besef dat ons nie kan terugsit omdat ons reeds ons geestelike bestemming bereik het nie. Elke Christen het ‘n hoë roeping van God in Christus Jesus (Fil. 3:14), en redding is net die begin van ‘n lang pad van heiligmaking en geestelike groei. Ons moet só in heiligmaking toeneem dat ons eendag onbevlek voor Christus kan verskyn. Ons moet verstaan dat Hy Homself oorgegee het om ons te red én te heilig:

“Christus [het] ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees” (Ef. 5:25-27).

Ná die eerste reiniging van ons sondes wil die Here Jesus ons ook volkome heilig maak sodat ons onberispelik voor Hom kan verskyn. Ons moet dus nie teen ons huidige, donker omstandighede vaskyk, en ontmoedig word deur die minagting wat in ‘n goddelose wêreld ons deel is nie. Die beloftes oor ons heerlike toekoms in die hemel moet aangegryp word terwyl ons aktief voortgaan om voorbereidings daarvoor te tref.

Tydens Jesus se eerste koms was daar groot aanvegtinge teen Hom en sy klein groepie ware dissipels. Hy het gesê dat Hy sou weggaan, en hulle was bang om alleen agter te bly. Die nag voor sy kruisiging het Hy egter die volgende gerusstellende belofte oor ‘n wonderlike herontmoeting aan hulle gemaak: “Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Joh. 14:1-3).

Hierdie belofte is na analogie van die tradisionele Joodse huweliksgebruike in Bybelse tye gemaak. Die eerste belangrike stap in die Joodse huwelik was die verlowing, wat die sluiting van ‘n huweliksverbond behels het. In die tyd van die Here Jesus was dit gebruiklik dat só ‘n verbond gesluit is op grond van die inisiatief wat deur die voornemende bruidegom geneem is. Vir hierdie doel het hy van sy vaderhuis af na die woning van sy voornemende bruid gereis. Daar het hy met haar vader oor die bruidsprys (mohar) onderhandel wat hy moes betaal. Nadat die bruidegom die koopprys betaal het, is ‘n huweliksverbond gesluit. Van daardie oomblik af is die bruid as toegewy of geheilig verklaar, en slegs vir haar bruidegom afgesonder. As simbool van die verbond wat tussen hulle gesluit is, het die bruidegom en bruid uit ‘n beker nuwe wyn gedrink waaroor die verlowingseën uitgespreek is.

In die bestudering van die analogie is die eerste stelling wat gemaak moet word, dat die geheiligde kerk van Christus sy bruidsgemeente is (Ef. 5:22-33). Net soos die Joodse bruidegom die inisiatief in die huwelik geneem het deur sy vaderhuis te verlaat en na die woning van sy voornemende bruid te reis, het Jesus tydens sy eerste koms sy vaderhuis verlaat en na die aarde gekom wat die woonplek van sy voornemende bruid is. Hier het Hy deur sy kruisdood die volle prys betaal om sy bruid los te koop sodat sy net aan Hom kan behoort. Paulus sê vir die gemeente: “Julle is duur gekoop” (1 Kor. 6:20), en Petrus bevestig ook dat ons losgekoop is deur die kosbare bloed van die Lam (1 Pet. 1:18-19). In dieselfde nag waarin Jesus die belofte aan die vroeë dissipels gemaak het dat Hy vir ons plek gaan berei, het Hy die Nagmaal ingestel. Hy het die beker met die wyn aan sy dissipels gegee met die woorde: “Hierdie beker is die nuwe testament in my bloed” (1 Kor. 11:25). Dit is ter herinnering aan die vaste en ewige verbintenis wat ons deur sy kruisdood met Hom het.

Soos wat die Joodse bruid verklaar is om heilig en slegs aan haar bruidegom toegewy te wees, moet ons ook voorberei word om vlekkeloos voor Christus te verskyn. Paulus sê ons harte moet versterk word om onberispelik in heiligheid by die wederkoms van Jesus Christus te wees (1 Thess. 3:13). Dit sluit ons hele lewenswandel in: “En mag Hy, die God van die vrede, julle volkome heilig maak, en mag julle gees en siel en liggaam geheel en al onberispelik bewaar word by die wederkoms van onse Here Jesus Christus!” (1 Thess. 5:23-24; vgl. 1 Pet. 1:15-16).

Nadat die huweliksverbond gesluit is, het die bruidegom die woning van die bruid verlaat en na sy vaderhuis teruggekeer. Daar het hy, afgesonderd van sy bruid, vir ‘n jaar lank gebly. Hierdie tydperk het aan die bruid ruim geleentheid gegee om haar bruidsuitrusting gereed te kry en haar op die getroude lewe voor te berei. Die bruidegom het homself besig gehou met die inrig van woonkwartiere in sy vader se huis, waarheen hy sy bruid kon bring.

Christus het ook ná sy eerste koms en die betaal van die koopprys vir sy bruid, na sy vaderhuis in die hemel teruggekeer om vir ons plek te gaan berei. In die huidige tyd van afsondering moet ons op die lewe in die hemel voorberei word, getrou aan die Here Jesus bly en die werk doen wat Hy aan ons gegee het. Die uitnodiging tot lidmaatskap van sy bruidsgemeente moet aan soveel as moontlik mense gerig word. Die gevaar bestaan dat ons in hierdie tyd deur Satan en die wêreld verlei kan word om ontrou aan Christus te raak en sodoende uit ons heilige verhouding met Hom te verval.

Paulus sê aan die vleeslike Korinthiërs, wat absoluut traag was om die opdrag tot heiligmaking na te streef en uit te leef (1 Kor. 3:1-3), dat hulle as gevolg van daardie houding ontrou sou raak en die wêreldse gees ten prooi sou val: “Ek is jaloers oor julle met ‘n goddelike jaloersheid, want ek het julle aan een man verbind om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel. Maar ek vrees dat, net soos die slang Eva deur sy listigheid bedrieg het, julle sinne so miskien bedorwe kan raak, vervreemd van die opregtheid teenoor Christus” (2 Kor. 11:2-3). Uit die gelykenis in Mattheus 25 is dit ook duidelik dat vyf van die maagde té min olie in hulle lampe het, wat ‘n aanduiding daarvan is dat hulle nie in die volheid van die Gees gewandel het nie en dus nie waardig is om voor die Bruidegom te verskyn en Hom na sy vaderhuis te vergesel nie. Daar is ‘n ernstige gebrek in hulle lewe.

Aan die einde van die jaar van afsondering het die Joodse bruidegom sy bruid gaan haal om by hom te kom woon. Dit het gewoonlik in die nag gebeur omdat dit ‘n geheime ontmoeting met haar was. Hy het haar buitekant op die pad ontmoet waar sy hom ingewag het, en by hierdie geleentheid het hy homself nie aan die res van haar gesinslede in die huis vertoon nie. Hy, sy strooijonker en ander manlike reisgenote het ‘n fakkeloptog na die omgewing van die bruid se huis onderneem. Hoewel die bruid hom aan die einde van die tyd van afsondering verwag het, het sy nie die presiese nag van sy aankoms geken nie. As gevolg hiervan is die bruidegom se aankoms deur ‘n geroep voorafgegaan. Hierdie geroep was ‘n blye boodskap aan die bruid dat die bruidegom gekom het om haar te kom haal (Matt. 25:6). Dan was dit té laat om eers gou voorbereidings vir die ontmoeting met die bruidegom te gaan tref.

Op ‘n soortgelyke wyse sal die hemelse Bruidegom aan die einde van die kerkdispensasie sy bruid in die geheim kom haal. Hy sal haar buitekant die aarde in die lug ontmoet, en Homself nie by hierdie geleentheid aan die res van die wêreld openbaar nie. Sy koms sal ook met ‘n geroep aangekondig word: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ‘n geroep, met die stem van ‘n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde” (1 Thess. 4:16-18).

Ná hierdie ontmoeting sal die bruid eers voor die regterstoel van Christus verskyn sodat elke lid loon volgens sy eie arbeid kan ontvang. Daarna word die huwelik in die hemel voltrek en word die bruid, geestelike gesproke, die vrou van die Lam. Die eerste taak wat die verheerlikte kerk dan sal hê, is om saam met Christus die wêreld in geregtigheid te oordeel. Paulus sê: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie?” (1 Kor. 6:2).

In ‘n regerende hoedanigheid word die kerk as 24 ouderlinge voorgestel wat rondom die troon van Christus in die hemel sal versamel. Wanneer Christus die boek van God se oordele oor ‘n bose en sondige wêreld aan die begin van die sewe jaar van verdrukking oopmaak, sal hulle Hom toesing: “U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Op. 5:9-10). Hulle sien daarna uit om ná die tyd van verdrukking saam met Christus na die aarde terug te keer en hier in sy koninkryk saam met Hom as konings te regeer.

Aan die einde van die sewe jaar lange verdrukking sal Christus met sy heiliges na die aarde terugkeer om sy koninkryk te openbaar: “In dié dag sal sy voete staan op die Olyfberg wat voor Jerusalem lê, aan die oostekant… Dan sal die Here my God kom, al die heiliges met U!” (Sag. 14:4-5). Dit sal die openbare verskyning van Jesus Christus wees, en dit word in die Bybel duidelik van die geheime ontmoeting onderskei wat Hy sewe jaar vroeër met sy bruidsgemeente gehad het. By hierdie geleentheid sal Christus in sy volle heerlikheid saam met sy liggaam, of gemeente, geopenbaar word. Paulus het aan die gemeente gesê: “Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word” (Kol. 3:4). Die Here Jesus kom terug om sy vyande by die slag van Armageddon te oordeel (Sag. 14:2-3; Op. 19:19-21), die oorblyfsel van Israel te red en ‘n regering van geregtigheid en vrede vir die hele wêreld in te stel.

Wanneer die Here Jesus in mag en majesteit na die aarde terugkeer, sal almal wat die groot verdrukking en die slag van Armageddon oorleef het, Hom erken en met Hom versoen word (Sag. 12:10; Matt. 24:29-30). Die bruilofsmaal van die Lam – dit is die onthaal ná die troue – sal deel van sy openbaringsgebeure op aarde wees, en die pas gereddes uit Israel en die nasies sal die gaste by hierdie geleentheid wees:

“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges” (Op. 19:7-8).

Die verheerlikte kerk word hier die vrou van die Lam genoem, omdat die huwelik reeds in die hemel voltrek is. Haar bruilofskleed weerspieël die mate van heiligheid wat individuele gelowiges op aarde bereik het. Hierby is werke duidelik ter sprake, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Die heiliges is dié Christene wat onder die krag en leiding van die Heilige Gees werke doen wat by die bekering pas. Dit is die goud, silwer en kosbare stene waarmee gelowiges volgens 1 Korinthiërs 3:10-12 op die fondament Jesus Christus moet bou.

Die bruilofskleed is dus soos ‘n huweliksverhouding – ons moet daaraan werk. Hierdie kleed moet nie met sonde bevlek word nie, en dit moet ook nie rimpels of kreukels hê omdat dit opgevou en iewers weggebêre is nie. Onthou net dat die werk wat jy daaraan doen, slegs deur die instaatstellende krag van die Heilige Gees kan geskied. Dit is nie dit wat jy deur die krag van die vlees vír die Here doen wat tel nie, maar dit wat Hy déúr jou doen. Dit is waarom dit aan die vrou van die Lam “gegee” is om bekleed te wees met rein en blink fyn linne. Soos die diensknegte wat die ponde ontvang het, is die bruid nie ‘n passiewe ontvanger van die krag en genade wat sy gekry het nie. Sy moet dit gebruik deur haarself aktief aan die Here diensbaar te stel.

‘n Mens kan meer of minder heilig wees, net soos wat jy ook meer of minder vrug in die koninkryk kan dra. Sommiges dra dertigvoudig vrug, ander sestigvoudig en ander honderdvouding. Die een verdien tien ponde wins met sy pond, die ander een vyf en ‘n derde een niks nie. Die vraag is: waar staan jy met betrekking tot heiligmaking? Is die eie-ek gekruisig en het die Heilige Gees volle beheer oor jou lewe? Indien wel, dan sal jy veel vrug dra en sal jou bruilofskleed ook tot eer van die Here ryklik met gouddraad geborduur wees. Maak baie seker dat jy ‘n lid van die verheerlikte bruidsgemeente is wat spoedig aan die Here Jesus se sy sal staan:

“Die koningin staan aan U regterhand in goud van Ofir… Louter heerlikheid is die Koning se dogter daarbinne; van gouddraad is haar kleding. In veelkleurige gewade word sy na die Koning gelei… Hulle word gelei met vreugde en gejuig; hulle gaan in die Koning se paleis in” (Ps. 45:10,14-16). Met die oog op die heerlike toekoms wat op ons wag, moet ons alles in die stryd werp om die Here te behaag en heilig te lewe. Moet dit nie as ‘n onbereikbare ideaal beskou nie, want Hy help jou om dit te kan verkry. Jy sal nie nou ‘n standaard van volmaaktheid kan bereik nie, maar jy moet jouself nogtans daarvoor beywer. Paulus sê: “Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is” (Fil. 3:12).

Daar moet merkbare vooruitgang in jou geestelike lewe wees. Om dit deelagtig te kan word, moet ons die pinksterbelofte van krag uit die hoogte ernstig opneem. Hierdie krag stel ons in staat om geestelik te kan groei, vir die Here te kan werk, die duiwel teë te staan en oor versoekings te oorwin, en ook om op die dag van Christus se koms met ‘n waardige bruilofskleed beklee te kan wees – daardie fyn weefstof wat die regverdige dade van die heiliges is. Die laaste opdrag van die Here Jesus in die Bybel handel oor voortgesette geestelike groei en heiligmaking. Hy koppel dit aan ‘n belofte van genadeloon tydens sy wederkoms: “…laat die regverdige nog regverdiger word, en laat die heilige nog heiliger word. En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees” (Op. 22:11-12).

Moenie by die standaard van jou geestelike lewe berus soos dit tans daar uitsien nie. Vormgodsdienstiges en ander ongereddes moet na die Here Jesus kom om weergebore te word, vleeslike Christene moet ‘n volle oorgawe maak om met die Heilige Gees vervul te word, terwyl geestelike Christene na hoër vlakke van heiligheid en diensbaarheid moet streef. Kom drink uit die fontein van die lewe en put uit die rykdomme van die Here se genade. Hy het nie net genade vir redding nie, maar ook vir godsvrug en oorwinning in jou geestelike lewe. Dit is in elk geval die groot doel waarheen sy genade jou wil lei:

“Want die reddende genade van God het aan alle mense verskyn en leer ons om die goddeloosheid en wêreldse begeerlikhede te verloën, ingetoë en regverdig en vroom in die teenwoordige wêreld te lewe, terwyl ons die salige hoop en die verskyning van die heerlikheid verwag van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus” (Titus 2:11-13).

Spoedig sal ons in heerlikheid voor Hom verskyn!

Gebed: Ons dank U, Here, vir tye van verkwikking voor u aangesig. Dankie dat U ons in hierdie tyd ontmoet en opnuut gereinig het van alle besoedeling van die gees en die vlees. Dankie ook vir ‘n nuwe toerusting met krag uit die hoogte. Wat ‘n voorreg om U op hierdie nuwe en lewende weg te volg en te ervaar hoedat U elke behoefte van ons vervul na die rykdom van u genade. Elkeen van ons het U baie nodig, Here, omdat daar ook baie aanvegtinge vanuit die koninkryk van die duisternis op ons is. Dankie vir u Heilige Gees wat ons in die hele waarheid lei en aan ons die krag gee om teen die kwaad weerstand te bied. Bewaar ons in die weke en maande wat kom, dat ons nie moedswillige sondes sal doen waardeur ons u Gees sal bedroef nie. Bewaar ons ook van die sonde van versuim, dat ons nie sal nalaat om U te dien soos wat ons moet nie. Ons wil graag met die werk van u koninkryk besig gevind word wanneer U ons kom haal. Hiervoor is ‘n daaglikse wandel met U nodig, sodat ons onafgebroke van U teenwoordigheid in ons lewens bewus sal wees. Ontvang al die dank en lof van ons harte vir dit wat U vir ons gedoen het, en vir dit wat U ook nog deur ons gaan doen. Ons bid dit in die Naam van die grote God en ons Verlosser, Jesus Christus, amen.