Gebed: Ons dank U, Here, dat ons U in hierdie Pinkstertyd vir ‘n nuwe aanraking met krag uit die hoogte kan vertrou. Hiersonder is ons weerloos in die stryd teen die Bose. Wat ‘n voorreg om deur u Heilige Gees onderrig te word in die volle waarheid van u Woord. Die lewende Woord spreek tot ons harte en stel ons in staat om daagliks in genade en kennis toe te neem. Hierdie Woord, wat die swaard van die Gees is, verleen ook aan ons geestelike weerbaarheid teen al die aanvalle van die vyand. Dit ontmasker al sy slim planne en pogings tot misleiding. Help ons om die leiding van u Heilige Gees getrou na te volg terwyl Hy deur die Woord tot ons spreek. Maak ons ook bereid om soos goeie krygsmanne van Jesus Christus verdrukking te ly wanneer dit oor ons mag kom. Dankie dat U ons onder alle omstandighede wil toerus en in staat stel om meer as oorwinnaars te wees. Wat ‘n voorreg om in die oorwinning van Golgota te leef en die lewensweg met vaste treë te kan bewandel. Ons bid dit met danksegging in die wondernaam van Jesus Christus, amen.
Wanneer ons oor die krag van die Heilige Gees praat, moet ons onthou dat dit twee verskillende toepassings in ons daaglikse lewe het. Eerstens is dit ‘n geestelike toerusting om ons in staat te stel om getuies vir Christus te wees: “Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees” (Hand. 1:8). Tweedens bekragtig die Heilige Gees ons om teen die vyand van ons siele te kan stryd voer en te oorwin. Paulus sê:
“Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel. Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Ef. 6:10-13).
Wanneer die Bybel van geestelike oorlogvoering praat, het dit ‘n persoonlike toepassing op individuele gelowiges. Elke Christen moet ‘n geestelike wapenrusting aan hê sodat hy of sy staande kan bly teen die liste van die duiwel. Dit is belangrik om hierdie basiese feit in gedagte te hou, want daar is tans verskeie onbybelse toepassings van sg. strategiese geestelike oorlogvoering waarin sekere groepe gelowiges probeer om gebiedsdemone uit hele stede en lande te verdryf en sodoende ‘n geweldige herlewing in die hand te werk. Die Bybel sê egter vir ons dat die duiwel eers sy magsposisie in die wêreld daarbuite sal verloor wanneer Christus kom. Dan sal die Antichris en die valse profeet verdelg en Satan in ‘n bodemlose put gebind word.
Tydens die kerkbedeling moet ons juis van die teenwoordigheid en die werking van Satan en sy demone kennis neem en ons daarteen verweer. Dit is hiervoor dat daar ‘n geestelike wapenrusting aan ons gebied word. Wat dit betref, is daar ook ‘n verdere waarskuwing ter sake, naamlik die onbybelse benadering wat deur baie sg. bevrydingsbedienings gevolg word. Die wapenrusting beskerm ons teen ‘n vyand van buite, omdat Christene nie demone kan hê nie. Moet dus nie toelaat dat mense enige tekens van vleeslikheid of wêreldgesindheid by jou aan demoniese besetting toeskryf nie. Probleme van dié aard word nie deur duiweluitdrywing reggestel nie, maar deur sondebelydenis en ‘n oorgawe om opnuut deur die Heilige Gees vervul te word.
Wanneer Christene sondig, is dit ook nie te sê dat die duiwel regstreeks met hulle bemoeienis gemaak het nie. Hy weet goed dat versoeking deur die wêreld en die vlees ook op Christene inwerk om hulle te laat sondig. Jakobus sê: “Elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde” (Jak. 1:14-15). Elke mens het sekere swakhede wat na sonde kan lei. Dit kan geldgierigheid, hoogmoed, humeurigheid, ernstige depressie, korrupsie of luiheid wees, of ook ‘n neiging tot leuens en buite-egtelike verhoudings. Die duiwel kan sulke begeerlikhede aanblaas, maar hy hoef hulle nie basies te skep nie – hulle is reeds daar. Ons moet weerstand bied teen elke neiging tot sonde, wat ook al die oorsprong daarvan mag wees.
Daar is wél sekere geleenthede in elke persoon se lewe wanneer die duiwel hom of haar spesifiek deur sy vernietigings- of misleidingswerk teiken. Dit is met die oog hierop dat Paulus sê: “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly” (Ef. 6:13). Die dag van onheil is wanneer daar deur die Bose ‘n groot aanslag op jou gees, siel of liggaam gemaak word, of dalk op jou huwelik, jou werk, jou geldsake of op een van jou gesinslede. Ongelukke, rampe, inbrake en aanrandings vind wél plaas, omdat ons in ‘n gebroke, onveilige wêreld leef wat in die mag van die Bose lê. Ons weet nie wanneer daar dalk ‘n dag van onheil in ons lewe aanbreek nie, daarom moet ons altyd geestelik sterk staan, ook wanneer toestande rustig is en ons geen noemenswaardige aanslae of probleme ervaar nie. Wanneer daar skielik ‘n donker tyd aanbreek, dan sal ons staande bly en die krisis deur die Here se genade sonder geestelike letsels kan oorleef.
Ek wil nie ‘n oormatige duiwelbewustheid by u inskerp, sodat u later ‘n duiwel agter elke bos sal probeer raaksien nie. Ek wil ook nie onnodige vrees en selfs paniek by u skep oor moontlike rampe, gevare of ongelukke wat u mag tref nie. Ek wil bloot hê u moet besef dat ons in ‘n donker wêreld leef waarin daar ook vir Christene baie gevare skuil. Daar is beslis ‘n stryd om te stry, maar ook oorwinning te verkry. Die duiwel is nog nie gebind nie, en hy loop rond om sy vernietigingswerk te doen. Sorg dat jy nie deur geestelike laksheid, impulsiwiteit, onkunde oor die Woord, of as gevolg van jou vleeslikheid, ‘n maklike teiken vir hom is nie. Ons moet nie deur probleme platgeslaan en tot wanhoop en dalk ongeloof gedryf word nie. Ons moet begryp dat ons deur vele verdrukkinge in die koninkryk van die Here moet ingaan, daarom is dit in ons eie belang om so gou as moontlik ons krisisbestandheid deur bedrewenheid in geestelike oorlogvoering te verhoog.
Ons moet deeglike Bybelse kennis van die aard van die kerkdispensasie hê, want dit sal voorkom dat ons die omvang van die stryd waarin ons is, sal onderskat. Die wêreld lê volgens 1 Joh. 5:19 in dié bedeling in die mag van die Bose. Die Here Jesus het in Joh. 14:30 na die duiwel as die owerste van die wêreld verwys. Paulus sê in 2 Kor. 4:4 dat Satan die god van hierdie wêreld is wat die sinne van mense verblind. Hieruit behoort dit vir elkeen duidelik te wees dat ons nie nou as konings in ‘n vrederyk regeer nie, maar soldate van die kruis is wat in ‘n stryd teen die vyand van God se koninkryk gewikkel is. Die Here wil hê dat ons van sy wapenrusting gebruik sal maak, sodat Hy ons uit “die teenwoordige bose wêreld” kan uitred (Gal. 1:4).
Elke ware Christen wat deur die wedergeboorte van die heerskappy van Satan bevry is, is in ‘n geestelike stryd teen die mag van die Bose gewikkel. Nie een Christen is van dié stryd gevrywaar nie. Om hierin te kan oorwin, moet daar doelbewus in die krag van die Here teen die Bose weerstand gebied word. Hoewel hierdie stryd op ‘n geestelike vlak gevoer word, is dit ‘n baie werklike stryd teen ‘n groot en gedugte mag van demone onder die aanvoering van Satan. ‘n Geestelike oorlog word van verskillende fronte af teen gelowiges gevoer word. Ons gaan na drie van die hoedanighede kyk waarin Satan of een van sy trawante die gelowiges aanval, asook die noodsaaklikheid daarvan om op elk van dié terreine weerbaar te wees.
Die duiwel word in ‘n oorkoepelende sin as die Christen se teëstander beskryf, wat sy ondergang of skade op verskillende lewensterreine soek: “Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof” (1 Pet. 5: 8-9).
Hierdie posisie van konfrontasie is onvermydelik, want die duiwel is ons teëstander wat ons op allerlei wyses teëstaan en struikelblokke in ons weg probeer werp. Ons opdrag is om hom in die geloof te weerstaan en dus ook sý teëstander te wees. Ons moet nie ons oë vir sulke situasies sluit deur dit weg te redeneer nie. Baie mense skryf hulle probleme aan ander faktore toe en sien nie die aandeel van die vyand van hulle siele daarin raak nie. Sulke mense soek ook nie na geestelike oplossings vir hulle probleme nie. Hulle hoop maar vir die beste, aanvaar neerlae op ‘n fatalistiese wyse en vertrou net op sielkundige berading. Hulle is by voorbaat verloorders in die stryd.
Die intensiteit van Satan se teëstand ken geen perke nie, want as mensemoordenaar streef hy daarna om mense se lewens te vernietig. Oorloë, gevegte, noodlottige ongelukke, selfmoord, bakleiery en verskeie ander metodes word deur hom gebruik om aan sy moorddadige motiewe uiting te gee. Hy het nie onbeperkte mag oor mense nie, maar binne sy beperkte beweegruimte werk hy met groot lis om sy doel te bereik. Die duiwel en sy demone het ook ‘n groot aantal stadige metodes waardeur hulle mense se lewens probeer verwoes, soos bv. drank, dwelmmiddels en tabak.
Satan se aanvalle moet in die naam van die Here weerstaan en die stryd teen hom voortgesit word. Volg die voorbeeld van die Here Jesus in hierdie opsig, en stry in sy krag teen die magte van die Bose wat ook deur ander mense werk: “Want julle moet ag gee op Hom wat so ‘n teëspraak van die sondaars teen Hom verdra het, sodat julle in jul siele nie vermoeid word en verslap nie. Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie” (Heb. 12:3-4).
Satan is aktief besig om mense op morele gebied tot sonde te verlei. Die vleeslike hartstogte en begeerlikhede van die ou natuur word vir hierdie doel uitgebuit. Deur sondige suggesties en die aanwakker van die ou, verdorwe natuur word mense tot sondige dade verlei. Die oplossing teen sondes van vleeslike verleiding is waaksaamheid, selfbeheersing en gebed: “Waak en bid, dat julle nie in versoeking kom nie. Die gees is wel gewillig, maar die vlees is swak” (Matt. 26: 41). Moenie so maklik aan versoekings toegee nie.
Ons moet met groot vrymoedigheid in gebed na die genadetroon nader, want die Here Jesus is die Oorwinnaar wat meer as bereid is om ons te help om in die stryd teen versoekings te kan oorwin. Hy weet wat versoekings is, en deur sy krag en outoriteit kán dit oorwin word: “Deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb. 2:18). “Want ons het nie ‘n Hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Heb. 4:15-16). Maak van hierdie hulp gebruik!
Ons word ook telkens vermaan om onsself te verloën en die ou natuur te kruisig, anders is ons ‘n oop teiken vir morele sondes (Luk. 9:23; Gal. 6:14). Trouens, as ons nié die ou natuur aflê en oorgee om gekruisig te word nie, sal oorwinning oor versoekings ons sekerlik ontwyk:
“Wat die vorige lewenswandel betref, [moet julle] die oue mens aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding ten gronde gaan, en vernuwe word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Ef. 4:22-24).
‘n Verdere gedaante waarin die Satan teen gelowiges veg, is dié van misleier. Dit het met godsdienstige misleiding en bedrog te doen. Hy buit mense se onkunde uit en dis allerlei godsdienstige leuens aan hulle op om hulle op ‘n dwaalspoor te bring. Geestelike verval is die noodwendige gevolg hiervan: “Maar die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang” (1 Tim. 4:1). Hulle sal in hulle onkunde dink dat hulle op die regte pad is.
Verval van hierdie aard is aan die orde van die dag in Christelike kerke (2 Tim. 4:1-4), terwyl geestelike bedrog en leuens ook die grondslag van al die nie-Christelike godsdienste in die wêreld vorm. In die eindtyd sal die gees van dwaling besonder aktief wees om die mensdom te mislei om die Antichris en sy valse profete te vereer en te aanbid. Jesus sê:
“Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matt. 24:4-5). Petrus sê:
“Daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en ‘n vinnige verderf oor hulleself bring; en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word” (2 Pet. 2:1-2).
Verderflike ketterye word in baie van die vooraanstaande universiteite se teologiese fakulteite ingevoer, en sodoende word predikante in hulle studiejare al bedrieg en mislei. Dit is vandag algemeen dat Jesus se maagdelike geboorte en godheid, sy opstanding uit die dood en die belofte van sy persoonlike wederkoms, asook die goddelike inspirasie van die Bybel, openlik en blatant deur ‘n groot aantal teoloë ontken word. ‘n Ander leuen wat toenemend gehoor word, is dat alle godsdienste dieselfde God aanbid en dus vir dieselfde wêreldmessias wag. Hierdie leuen kom ook van die vader van die leuens af en is daarop gemik om die weg vir die koms van die Antichris as die universele messias vir alle gelowe voor te berei.
‘n Gebrek aan kennis oor wat in die Skrifte staan, is die teelaarde vir godsdienstige misleiding. Dit is egter nie nodig om in onkunde voort te leef nie, omdat die volle waarheid oor geestelike sake in die Bybel opgeteken is: “Julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Joh. 8: 32). As ons Hom maar net wil toelaat, sal die Heilige Gees ons in die hele waarheid lei en ook die toekomstige dinge aan ons verkondig (Joh. 16:13).
Die eindtydse vormgodsdienstiges is deur Satan verblind en het deur hulle eie toedoen en onkunde die stryd teen godsdienstige bedrog en leuens verloor. Hulle het vir hulleself leuenpredikers versamel, die oor afgekeer van die waarheid en hulle gewend tot fabels (2 Tim. 4:3-4). Hulle voer dus nie ‘n geestelike oorlog teen die leuengees van dwaling nie, maar is reeds as buit deur die vyand weggevoer (1 Joh. 4:1-6).
Wanneer ons oor geestelike oorlogvoering praat, moet ons altyd onthou dat dit een van twee redes is waarom ons met die krag van die Heilige Gees beklee moet word. Die eerste rede is om krag te ontvang om ‘n getuie vir Christus te kan wees, en die twee rede is krag om in die stryd teen die Bose te kan triomfeer. Daar moet altyd ‘n balans tussen hierdie twee aanwendings van die Heilige Gees se krag wees: die positiewe identifikasie met Christus en sy koninkryk, en die negatiewe afwysing van Satan se pogings om ons te mislei en die spoor te laat byster raak.
Sommige mense gee nie aan hierdie twee sake die aandag wat elkeen verdien nie, en lei dan as gevolg daarvan baie skade. Sommiges wil hulleself nét met evangelisasie besig hou en gee nie genoeg aandag aan hulle geestelike weerbaarheid nie. Dit lei na gevaarlike onkunde oor die vyand se werkswyse, en dikwels kom sulke mense geestelik tot ‘n val. Die mat word onder hulle uitgetrek omdat hulle nie met die geestelike wapenrusting beklee was nie. Baie van hulle doen selfs uit onkunde aan ekumeniese pogings mee om strukture vir die Antichris se wêreldkerk te skep.
Aan die ander kant is daar weer diegene wat nét teen die duiwel, die Antichris en geestelike dwalings wil waarsku, sonder dat hulle by evangelisasie en die redding van siele betrokke is. Dan mis ons ons basiese doel as Christene in hierdie verdorwe wêreld. Ons moet ten alle tye die lig van die evangelie in ‘n donker wêreld laat skyn, sodat sondaars vir redding na die Here Jesus kan kom. Terselfdertyd moet ons besef dat ons geestelik gesproke op die terrein van die vyand is, en dus altyd daarop bedag moet wees dat daar ‘n vyand is om te weerstaan en te oorwin. Die Here wil van elkeen van ons oorwinnaars in die stryd maak. Vertrou Hom opnuut hiervoor.
Gebed: Dierbare Here Jesus, ons dank U vir die duidelike waarskuwings in u Woord dat ons by ‘n groot stryd teen ‘n geestelike vyand betrokke is. Die hele wêreld lê in die mag van die Bose en hy rig sy vurige pyle op die kinders van die Here in ‘n poging om ons te ontmoedig en geestelik te laat ontspoor. Dankie dat U die magte en owerhede oorwin het en aan ons ‘n geestelike wapenrusting bied sodat ons staande kan bly teen die liste van die duiwel. Gee dat ons nie die groot stryd waarby ons betrokke is, sal onderskat en as gevolg daarvan sal nalaat om die wêreld, die duiwel en die sonde te weerstaan nie. Morele en geestelike verval is kenmerkend van ons tyd, en as gevolg hiervan verkoel baie Christene in hulle liefde teenoor U. Help ons genadiglik om nie deel van hierdie vervalproses te word nie, maar eerder op u waarskuwing ag te slaan toe U vir die dissipels gesê het: “Waak en bid dat julle nie versoeking kom nie.” U het ook vir hulle gesê: “Pas op dat niemand julle mislei nie.” Hierdie waarskuwings geld in die besonder ook vir ons, daarom bid ons vir krag, insig en vasberadenheid om nie van die reguit weg van u Woord af te wyk en slagoffers van die vyand te word nie. Ons vra dit in die Naam van die enigste Verlosser, Jesus Christus, in wie alle skatte van kennis en wysheid verborge is, amen.