7. Die Regte Profetiese Perspektief

Gebed: Ons dank U, Here, vir die vaste wete dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie, omdat ons op pad is na ons ewige woning in die hemel. Abraham het ook hierdie verwagting gehad en homself uitgestrek na ‘n wonderlike toekoms saam met U. Hy het as ‘n vreemdeling in tente gewoon omdat hy die stad verwag het wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Gee dat ons ook hierdie profetiese vergesig oor die lewe hierna sal hê, en dat dit ons sal aanspoor om skatte in die hemel bymekaar te maak. Bewaar ons daarvan om nou, in die kerkbedeling, ‘n aardse koninkryk na te jaag waaroor die mens self heerskappy wil voer. Valse verwagtings van hierdie aard lei tot die verwerping van Bybelse profesieë oor groot afvalligheid in die laaste dae. Sulke mense verwag nie die wegraping voor die verdrukking, en die openbaring van die Antichris direk daarna nie. Gee dat ons nie hierdie profetiese waarskuwings oor ‘n donker tydperk van verdrukking sal ignoreer net omdat dit met ons visie van ‘n mensgemaakte, aardse koninkryk in botsing is nie. Help ons om in die lig van die profetiese woord te wandel totdat U ons kom haal, sodat ons teen die toenemende verval van die eindtyd sal waak en met sekerheid die komende toorn van God oor die ongelowiges sal ontvlug. Ons vra dit om Jesus ontwil, amen.

Inbegrepe by dit wat die Heilige Gees op pinksterdag vir die ganse kerk van Christus kom doen het, was om aan ons die regte toekomsverwagting te gee. Die Here Jesus het gesê: “Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei... en die toekomstige dinge aan julle verkondig” (Joh. 16:13). Die Heilige Gees het alle Bybelse profesieë geïnspireer, daarom verwag die Here van ons om daarvan kennis te neem en ons lewens daarvolgens in te rig. Paulus sê: “Blus die Gees nie uit nie. Verag die profesieë nie” (1 Thess. 5:19-20).

Petrus sê: “Ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte; terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie; want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek” (2 Pet. 1:19-21).

Ons geestelike lewe word ten nouste geraak deur gebeurtenisse wat ons in die toekoms verwag, omdat ons onsself daarop instel en voorbereid wil wees vir dit wat gaan gebeur. Ons reaksie op die tekens van die tye bepaal ook ons huidige beoordeling van wêreldgebeure en help ons om nie valse verwagtings oor die onmiddellike óf die verre toekoms te koester nie. Die volgende onderwerpe is almal ter sake wat ons toekomsverwagting betref:

Israel se herstel

Een van die belangrikste profetiese temas in die Bybel is die eindtydse herstel van die volk Israel in die land wat die Here aan hulle gegee het. Hy het vir Israel gesê: “Ek sal julle bymekaarmaak uit die volke en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, en Ek sal aan julle die land Israel gee” (Eseg. 11:17). Die Heilige Gees wil aan ons duidelike begrip vir hierdie saak gee, omdat dit een van die toekomstige dinge is wat Hy aan ons verkondig.

Ons moenie die profesieë oor Israel vergeestelik en op die kerk toepas nie. Die belofte van terugkeer na die land Israel is net aan die Jode gegee en is hoegenaamd nie op die kerk oordraagbaar nie. Die kerk is beslis nie die geestelike Israel nie. Die geestelike Israel of die Israel van God verwys na geredde Jode en onderskei hulle van die ander wat ortodoks of sekulêr is. Net die gereddes wat Jesus as Messias aanvaar, is die ware Israeliete of Jode. Hulle word Messiaanse Jode genoem. Paulus sê van geestelike Jode: “Nie hý is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie... maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God” (Rom. 2:28-29).

Diegene wat Bybelse profesieë bestudeer, het ‘n liefde vir die volk Israel, erken hulle reg op die land Israel en die stad Jerusalem en bid ook vir hulle geestelike herstel. Hulle verstaan die scenario wat besig is om in die Midde-Ooste te ontvou, en weet dat dit op die sewe jaar lange verdrukking onder die bewind van die Antichris gaan uitloop. Hulle weet ook volgens Johannes 5:43 dat dié Jode wat nie vir Jesus as Messias aanneem nie, tot hulle eie ondergang ‘n verbond met die Antichris sal sluit. Dieselfde beginsel geld vir alle nie-Jode – hulle is óf volgelinge van die ware Christus, óf wegbereiders vir die komende Antichris. Die Jode én die nasies moet oor hierdie lewensbelangrike keuse wat hulle sal moet maak, ingelig word.

‘n Baie belangrike teken wat ons oor die eindtyd het, is die herstel van Jerusalem. Die Here Jesus het gesê: “Jerusalem sal vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). Jerusalem is in ‘n gevorderde stadium van herstel. Die Here Jesus het beloof om ná die verdrukking, tydens ‘n groot militêre beleg deur die wêreldmagte van die Antichris, na Jerusalem terug te keer, sy voete op die Olyfberg te sit, sy vyande te verdelg, die oorblyfsel in Israel te red en Jerusalem die hoofstad van sy vrederyk te maak (Sag. 14:1-17; Hand. 15:16-17; Op. 19:19-21; Jer. 3:17).

‘n Misleide en moreel vervalle wêreld

Ons moet veral ook perspektief oor geestelike sake hê. Die Heilige Gees waarsku ons deur middel van die profetiese woord dat die wêreld in die eindtyd al hoe boser en slegter sal word. Die belangrikste oorsaak hiervan sal geestelike verval wees wat só erg sal wees dat leerstellings van duiwels in groot dele van die Christelike kerk aanvaar sal word: “Die Gees sê uitdruklik dat in die laaste tye sommige van die geloof afvallig sal word en verleidende geeste en leringe van duiwels sal aanhang deur die geveinsdheid van leuenaars wat gebrandmerk is in hulle gewete” (1 Tim. 4:1-2). Die valse leraars wat hierdie leuens sal verkondig, se gewete sal só toegeskroei wees dat hulle geen probleem sal hê om die ergste dwalings te verkondig nie.

Die valse leerstellings wat verkondig word, sal met opspraakwekkende tekens en wonders gepaard gaan, en om dié rede sal dit baie populêr by die misleide massas wees. Die valse profete sal hoog in aansien wees, openlik geld bedel en skatryk word. Paulus sê: “Daar sal ‘n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ‘n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:3-4). Die Here Jesus het self teen valse profete gewaarsku wat hulle groot gehore deur tekens en wonders sal mislei (Matt. 24:11,24).

Petrus het daarop gewys dat die valse leraars van die eindtyd glad nie sal skroom om die Here Jesus self te verloën nie (2 Pet. 2:1-2). Hulle doen dit deur sy maagdelike geboorte en godheid te ontken, asook sy liggaamlike opstanding uit die dood, en só van Hom net ‘n gewone mens te maak. Op hierdie manier word van Jesus ‘n ander Jesus gemaak, wat daartoe sal lei dat die Antichris in sy plek as die Christus van alle gelowe aanvaar sal word wanneer hy kom. Omdat ons teen dwalings van hierdie aard gewaarsku is, moet ons des te meer seker maak dat ons dit geheel en al verwerp.

Groot morele verval is ook kenmerkend van die eindtyd. Paulus sê: “Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars... bandeloos, wreed... verraaiers, roekeloos, verwaand... mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:1-5). Hierdie moreel erg vervalle mense van die eindtyd het nogtans ‘n gedaante van godsaligheid, wat beteken dat hulle ongeredde kerkmense is. Hulle het die wederbarende krag van die Heilige Gees verloën omdat hulle net lippediens aan die Christendom bewys.

Onder die heidene buite die kerk gaan dit nóg erger. Die Here Jesus sê dat dit in die eindtyd soos die dae van Noag en Lot sal wees (Luk. 17:26-30). In Noag se tyd was ‘n geweldskultuur in bose samelewings aan die orde van die dag (Gen. 6:5,13), en in Lot se tyd is groot stede deur aggressiewe gay-gemeenskappe gekenmerk. Ons ervaar ‘n herhaling daarvan vandag.

Indien mens van hierdie profesieë oor die eindtyd kennis neem, kan jy jouself soveel beter teen die bose tydsgees verset en seker maak dat jy nie deur die groter wordende gety van morele permissiwiteit en goddeloosheid meegesleur of ontmoedig word nie. Christene wat nie sterk staan nie, sal geestelik agteruitgaan. Die Here Jesus het gesê: “Omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel” (Matt. 24:12).

Maak ‘n studie van Bybelse profesieë en besef dat jy in die eindtyd alles in die stryd moet werp om regverdiger en heiliger te word, omdat diegene wat vuil is, nog vuiler sal word, en dié wat onreg doen, nog meer onreg sal doen (Op. 22:11). Ons leef in die tyd van die groot afval, en dit sal vir seker vasberadenheid van ons kant af verg om enduit te skyn soos ligte te midde van ‘n krom en verdraaide geslag.

Dispensasionele onderskeid

Die Heilige Gees gee aan ons verligte oë van die verstand om die verborgenhede van God se raadsplan vir die mens reg te kan verstaan. Dit is van die grootste belang dat ons duidelik tussen die bedeling van die wet (dit is Israel in die Ou Testament), die Nuwe Testamentiese bedeling van die kerk, die toekomstige bedeling van die Antichris se regering van sewe jaar, en die bedeling van Jesus Christus se duisendjarige koninkryk ná sy wederkoms, sal kan onderskei. Elk van dié bedelings het sy onderskeidende kenmerke en moet hoegenaamd nie met mekaar verwar word nie.

Die suiwerheid van die Nuwe Testamentiese bedeling van genade, asook ons profetiese verwagting van dit wat in die toekoms gaan gebeur nadat die Here sy bruidsgemeente kom haal het, is ten nouste daarvan afhanklik dat ons nie die kerkbedeling met die kenmerke van enige van die bedelings voor of ná dit sal vermeng nie. Ons moet onder die leiding van die Heilige Gees die woord van die waarheid reg sny (2 Tim. 2:15), wat beteken dat ons alle Bybelse stellings in hulle regte dispensasionele verband moet verstaan en toepas. Groot verwarring bestaan tans op hierdie terrein.

Ons moet duidelik verstaan dat die Ou Testamentiese bedeling van die wet verbygegaan het, en dat ons in die Nuwe Testament nie onder die wet is nie, maar onder die genade (Rom. 6:14). “Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). Daar moet dus geen poging hoegenaamd aangewend word om gelowiges weer in enige opsig onder die wet te plaas nie, soos bv. om sabbatsvieringe op Saterdae verpligtend te maak, want dan word daar afbreuk aan die genadewerk van Christus aan die kruis gedoen. Die Galásiërs wou die wet en genade vermeng, en Paulus het vir hulle gesê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4).

Die Nuwe Testamentiese tyd word ook die bedeling van die Heilige Gees genoem, omdat Hy ons van sonde oortuig, ons wederbaar, vervul en die liefde van God in ons harte uitstort. Iemand wat God en sy naaste waarlik liefhet, het die beginsels van die wet vervul en leef geestelik op ‘n hoër vlak as die gelowiges van die Ou Testament. Hulle het net die letter van die wet gehad, en nie die Heilige Gees om hulle in die hele waarheid te lei nie.

Ons moet net so versigtig wees om nie die kerkbedeling met enige van die toekomstige bedelings te verwar nie. Die Antichris en sy goddelose regering van sewe jaar wat ná die wegraping ‘n aanvang sal neem, moet in geen opsig as deel van die kerkbedeling beskou word nie. Daar is baie mense wat dit nogtans doen, deur profesieë oor die Antichris histories te verklaar. Hulle beweer dat die kerkbedeling en die Antichris se bedeling gelyklopend is, en dat Nero of sekere van die pouse in die Middeleeue reeds alle profesieë oor die Antichris en die groot verdrukking vervul het.

Die Bybel is egter baie duidelik daaroor dat die Antichris eers geopenbaar sal word nadat sy teëhouer – die ware kerk van Christus wat die tempel van die Heilige Gees is – van hierdie verdorwe aarde af weggeneem is. Dan sal die Antichris as valse messias en wêreldleier geopenbaar word vir die aanvang van sy relatief kort regering van sewe jaar. Aan die einde van sy skrikbewind sal hy tydens die wederkoms deur Christus verdelg word, en dit is ‘n onbetwisbare bewys dat hy ‘n eindtydse leier sal wees. Paulus sê:

“En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word. Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak, hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thess. 2:6-12).

In Openbaring 19:19-20 word dit ook bevestig dat die Antichris tydens die wederkoms van Christus op aarde aan bewind sal wees. Jesus Christus verwys ook in sy profetiese rede na hierdie vreeslike tyd wat direk voor sy wederkoms op aarde sal aanbreek:

“Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie... En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (Matt. 24:21,29-30).

Ons het die belofte om die oordele van die Antichris se skrikbewind deur middel van die wegraping te ontvlug, net so seker as wat Noag en Lot ook die goddelike oordele in hulle tyd ontvlug het: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Luk. 21:36; vgl. 1 Thess. 4:16-17). Wat ‘n motivering is dit nie vir heiligmaking en ‘n rein, vrugbare lewe om die verwagting op die ontmoeting met die hemelse Bruidegom te hê nie!

In die laaste instansie moet die kerkbedeling ook nie met die toekomstige koninkryksbedeling van Christus se vrederyk ná sy wederkoms verwar word nie. Dit word in ons tyd algemeen gedoen, en lei na die baie groot dwaling van koninkryksteologie. Hierdie mense glo nie dat ons vreemdelinge en bywoners in ‘n wêreld is wat in die mag van die Bose lê (1 Pet. 2:11; 1 Joh. 5:19), en dat ons ‘n stryd moet voer om teen die Bose staande te bly nie, maar sien hulleself as geroepe om nóú, voor Christus se wederkoms, die koninkryk van God sigbaar op aarde te laat neerdaal. Dit lei na ‘n teologie van tekens en wonders deur selfaangestelde profete en apostels wat hulleself as klein godjies beskou. Hulle bevorder kerkeenheid en uiteindelik die eenheid van alle gelowe, asook transformasie-byeenkomste, om die koninkryk met al sy voorspoed, vrede en eenheid nou te laat kom.

Ons is nie in hierdie bedeling tot sulke beskouings en aksies geroep nie. Ons leef in ‘n wêreld wat weens sy sonde en ongeloof op die oordele van God en die openbaring van die Antichris afstuur. Evangeliese Christene beleef moeilike tye omdat hulle nie met die ekumeniese beweging kompromie wil maak nie. Ongereddes moet soos brandhout uit die vuur geruk word, en besef dat hulle die verdorwenheid van die wêreld én die misleiding van ‘n valse geloof moet ontvlug. Ons moet nóú saam met Christus ly en verwerp word as ons in die toekomstige koninkryksbedeling saam met Hom wil regeer (Joh. 15:18-20; Fil. 1:28-29; 2 Tim. 2:12).

Mense wat nóú koninkrykshervormings verkondig en nalaat om die mensdom te waarsku teen die toorn van God wat aan die koms is (1 Thess 1:10), word nie deur die Heilige Gees gelei nie, maar deur verleidende geeste wat ‘n menslike agenda bevorder wat in stryd met God se raadsplan is (2 Kor. 11:4; 1 Tim. 4:1). Vertrou die Heilige Gees om die toekomstige dinge aan jou te verkondig en jou die vermoë te gee om die profesieë reg te verstaan.

Gebed: Wat ‘n wonderlike vooruitsig het ons, Here Jesus, om by die bruilofsmaal van die Lam met U verenig te word en daarna vir altyd by U te bly! Hierdie toekomsverwagting van ‘n lewe in die hemel is vir ons ‘n sterk aansporing om op die smal weg te volhard en nie deur beproewings en swaarkry ontmoedig te word nie. Wanneer ons Bybelse profesieë ernstig opneem, dan help dit ons om die regte toekomsverwagting te hê en ook voorbereid te wees vir dit wat gaan gebeur. Help ons om nie die profetiese woord te verdraai en as gevolg daarvan valse verwagtings oor die toekoms te koester nie. Dankie dat U self die môrester is wat in ons harte opgaan en vir ons die waarborg is van ‘n helder nuwe dag wat spoedig oor hierdie donker wêreld sal aanbreek. Wanneer ons laat in die nag die môrester bokant ‘n donker horison sien verskyn, dan herinner dit ons aan u geheime verskyning om u bruidsgemeente te kom haal. Dan sal ons in u heerlike teenwoordigheid wees en daardeur ook die komende verdrukking ontsnap. Wanneer ons later saam met U na die aarde terugkeer, sal die donker nag van sonde en ongeregtigheid verby wees. Gee dat ons vir hierdie groot geleentheid waardig sal wees, om Jesus ontwil, amen.