1. Inleiding

In die Nuwe Testament (NT) word dit duidelik gestel dat Christene nie vir hulle redding op die wet moet vertrou nie, en ook nie vir die voortsetting van hul geestelike lewe ná hulle redding nie. Die rede hiervoor is dat daar ‘n baie belangrike dispensasionele verandering tydens die kruisiging en opstanding van die Here Jesus, asook die uitstorting van die Heilige Gees, ingetree het. Dit was die oorgang van die bedeling van die wet na die bedeling van genade.

Hierdie oorgang behels egter nie ‘n summiere afskaffing van die beginsels en eise van die wet nie, maar eerder die vervulling daarvan in die heilsgebeure rondom die koms van die Messias. Jesus het gesê: “Moenie dink dat ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul” (Matt. 5:17). Die Here Jesus het in sy aardse lewe as Seun van die mens aan al die eise van die wet voldoen – iets wat geen ander mens ooit kon doen nie. Dit sluit nie slegs die voldoening aan die wet se morele eise in nie, maar ook die vervulling van al die skaduagtige feeste en offers wat deur die wet in die Ou Testament (OT) voorgeskryf is. Mense moes in die OT offers vir hulle sondes bring, wat alles heenwysings na die eenmalige offer van die Lam van God aan die kruis was.

Deur die Messias se lewe, asook die groot betekenis van sy dood en opstanding, het Hy die voorbereidende fase van die wet afgesluit, daarom is “Christus die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo” (Rom. 10:4). Die geregtigheid van God word deur die geloofsaanvaarding van die offer van Christus se volmaakte lewe as die vlekkelose Lam van God aan ons toegereken. Ons word uit genade gered, nie deur wetsnakoming nie. Daarna verwag die Here van ons ‘n lewe wat in ooreenstemming is met die grondbeginsels van sy liefde wat deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort word (Rom. 5:5). Sodoende groei ons in die genade en kennis van Jesus Christus, en word al hoe meer aan sy beeld gelykvormig gemaak. Die Heilige Gees oortuig ons van sonde – nie die wet nie. Hy gee ook aan ons die krag om heilig te kan leef.

Mense wat uit genade verlos is, kan nie terselfdertyd onder die wet én die genade wees nie, want diegene onder die wet is slawe van die sonde: “Want die sonde sal oor julle nie heers nie; want julle is nie onder die wet nie, maar onder die genade” (Rom. 6:14). Die Amplified Bible vertaal hierdie teks só: “Die sonde sal nie langer heerskappy oor julle voer nie, want julle is nie onder die wet [as slawe van die sonde] nie, maar onder die genade as die voorwerpe van God se guns.”

Dit is ‘n duidelik gekonstateerde feit dat ons nie gelyktydig onder die wet én die genade kan wees nie. Indien ons dit sou probeer doen, dan gee ons daardeur te kenne dat Christus se genade nie vir ons genoeg is nie. Dit beteken dat die kruisevangelie onvoldoende is en verder deur wetsnakoming aangevul moet word. Ons kan dus nie enige OT wet op gelowiges van toepassing maak en afdwing nie, ongeag of dit sabbatsonderhouding op Saterdae, die gee van tiendes of die besnydenis is. Paulus sê: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval” (Gal. 5:4).

Ons moet dus besef dat die genade van Christus ‘n progressiewe ontplooiing van God se heilsplan vir die mens ná die bedeling van die wet is. Genade wat deur die liefde werk, is iets veel groter as die letter van die wet wat in elk geval nooit deur mense nagekom kon word nie. Ons leef geestelik op ‘n hoër vlak as die mense van die OT, toe net enkele individue werklik as gesalfdes van die Here beskou kon word. Selfs hulle moes nog op die Messias wag en het nie die rykdom van sy genade geken nie. Wanneer ons ingesteldheid en dade deur God se agape liefde gekenmerk word, het ons ook die wet vervul (Rom. 13:10) en hoef dus nie deur die wet gelei te word nie. Ons word deur die Heilige Gees in die hele waarheid gelei.

In hierdie boek wil ons graag aan u insig in die aard en doelstellings van die wet én die genade gee, sodat u duidelik ‘n onderskeid tussen hulle kan tref. Christene wat dink dat ons nog onder die wet is, beperk hulle eie geestelike groei en toename in genade. Die moderne neiging tot die Judaïsering van die Christelike geloof (sg. Christelike Sionisme of Messiaanse Judaïsme) is ‘n baie gevaarlike vorm van kompromie tussen die wet en genade, en laat baie Christene in werklikheid veragter in die genade. Hulle staan nie vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygekoop het nie, maar plaas hulleself weer onder die juk van ‘n wettiese godsdiens.

Een van die baie algemene instellings in hierdie beweging is die terugkeer na ‘n OT vorm van sabbatsonderhouding. Hierdie saak word indringend ondersoek en teenoor die NT gebruik van die viering van Christus se opstandingsdag op Sondae gestel. Verder word ook ‘n oorsig oor die teologie van die Sewendedag-Adventiste aangebied, wat daarvoor bekend is dat hulle die wet en die genade vermeng.

Daarna wys ons u op die beginsels van Christelike fundamentalisme en hoe dit uitgeleef moet word. Christene wat graag nougeset volgens die Bybel wil leef, moet leer hoe om NT beginsels te identifiseer en uit te leef, asook OT beginsels wat hiermee in harmonie is. ‘n Fundamentele gelowige is glad nie ‘n wettiese gelowige nie.

In ‘n laaste hoofstuk word die nuwe lewe in Christus hoofsaaklik na aanleiding van Romeine 5 en 6 beskryf. Hieruit is dit duidelik wat die hoë roeping van God in Christus Jesus is, hoe heiligmaking as ‘n werklikheid ervaar kan word, en hoedat dit iets veel hoër is as wat deur enige vorm van uiterlike wetsnakoming bewerkstellig kan word.